10 Desember 2017

Jesus se menswording gee vir ons `n lewende hoop


10 Des 2017 GKE

2 Sam 7 v 1 – 16 teksverse 2 Sam 7 v11b & 16



Sing  °¯

Ps. 118-1 v 12 & 14

Ps. 130-1 v 1, 3 & 4

Ps. 119-2 v 10 & 26

Ps. 146 v 1 tot 3

 Wat is ware Bybelse hoop regtig?

Verlede week het ons gehoor hoe die mens se rebelse ongehoorsaamheid die hele mensdom se toekoms vooruitsigte in hopeloosheid gedompel het. Ons het ook gehoor van God se genade wat vir die mens hoop gee met die belofte dat daar iemand uit sy nageslag sal kom wat die bose gaan oorwin.

Hierdie belofte word dwarsdeur die Ou Testament herhaal. Abraham kry in Gen 12 v 3 die belofte dat sy nageslag ’n seën vir die wêreld sal wees. Daar is hoop. Die bose sal nie die laaste sê hê nie. Moses kry in Deut. 18 v 15 die belofte dat daar na ’n hom ’n profeet na vore sal kom wat soos die Here is. Hierdie is maar enkele voorbeelde van die belofte wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop.

In ons teks 2 Sam 7 v 11b en 16 hoor ons hoe die Here hierdie belofte van hoop ook aan Dawid maak.

Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. ....

......... Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Dit gaan nie oor wat die mens met sy godsdiens vir God wil doen nie, maar wel oor wat God vir die mens wil doen en dat die mens by God se wil moet inpas. God woon nie in ’n tempel nie, maar in die wel en wee van mense. Dawid wil vir die Here ’n huis bou, maar die Here sê vir Dawid nee. Ek het nie ’n rusplek nodig nie, maar ek gee vir jou ’n rusplek. Jy gaan nie vir my ’n huis bou nie, maar Ek gaan vir jou ’n koningshuis bou wat vir altyd gaan bestaan.

Hiermee sê die Here vir Dawid dat Hy vir hom ’n besondere nageslag gaan gee. In Hand 2:29 tot 31 hoor ons:

 “Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:

“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.”

Die belofte van koningshuis wat vir altyd sal bly bestaan wys na Jesus. Hy is die seun van Dawid, die Messias, die gesalfde van God wat vir altyd op die troon sal sit.

Hiermee herhaal die Here net weereens daardie belofte van hoop wat Hy reeds in Gen 3 gemaak het. Daar is hoop want daar sal iemand uit die nageslag kom wat die mensdom gaan verlos uit hul hopelose slawerny waarin die bose hulle vasgevang het.

Die vraag is nou: “wat presies is hierdie hoop?” Hoop is die verwagting dat die toekoms iets beters inhou. Wat is hierdie iets beters? Ons kan hier onderskei tussen wêreldse hoop en Bybelse hoop. Wêreldse hoop is die optimisme dat daar ’n kans is dat dinge vorentoe beter sal gaan. Die verwagting dat my omstandighede beter gaan word. Daar is egter nie ’n vaste basis wat kan waarborg dat dit sal gebeur of waarom dit sal gebeur nie. Daar is ’n moontlikheid dat dinge ook slegter kan word. Daar is dus geen waarborge nie.

Teenoor dit het ons die Bybelse hoop. Bybelse hoop is nie op omstandighede gebaseer nie. Die basis van Bybelse hoop is op God gebaseer. Die Hebreeuse woorde wat ons in die Ou Testament met hoop vertaal, beteken letterlik om te wag. Dit verwys na die spanning wat in ’n tou of lyn opbou wanneer jy dit trek totdat daardie spanning te veel word en die tou breek. Die afwagting in die spanning dat daar iets gaan gebeur. Hoop is dus om te wag met ’n verwagting.

Die vraag is: “waarvoor is die verwagting?” In Jesaja hoor ons hoe die volk in Ballingskap weggevoer is en hoe die profeet vir die volk sê dat die Here sy aangesig vir Israel verberg het, maar dat hulle enigste redding is om op God te hoop. Hulle omstandighede wys nie dat dit gaan beter word nie en daarom hoop hulle op God alleen want daar is niks anders waarop hulle, hul hoop kan plaas nie. Hulle wag op die Here.

Bybelse hoop is dus op God gefokus en nie op omstandighede nie. Die mense in die Bybel wat hoop, sien raak dat daar geen bewyse is dat jou omstandighede beter sal raak nie, maar hulle hoop in elk geval en daardie hoop is op God gevestig. Dit wat God in die verlede gedoen het, is die motivering vir die hoop in die toekoms. Ons kyk dus vorentoe deur terug te kyk na wat God reeds gedoen het. Bybelse hoop is net op God se karakter gevestig en op niks anders nie soos ons ook in Ps. 39:8 hoor.

Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop.

In die Nuwe Testament hoor ons ook hoe Jesus se volgelinge gehoop het. Jesus se geboorte, sy lewe, dood en opstanding is God se antwoord op ons verslawing van boosheid en dood.  
In 1 Pet 1 v 3 & 4 hoor ons:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Bybelse hoop is gefokus op die persoon van Jesus. Dis die lewende hoop dat elkeen wat die goeie nuus oor Jesus Christus glo, as nuwe mense weergebore sal word. Bybelse hoop is op God, Vader Seun en Heilige Gees gevestig. Die Vader wat die Seun gestuur het. Die Seun wat gehoorsaam was en as mens gebore is met die hulp van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat geloof gee sodat ons dit wat Jesus op aarde gedoen het, geboorte, lewe, kruisiging en opstanding ons eie kan maak.

Dit is die belofte van hoop wat reeds in Genesis gemaak is en wat dwarsdeur die Ou Testament herhaal word. Dit is die hoop op dit wat God beplan vir die heelal, naamlik dat dit losgemaak gaan word van die verydeling en sondeslawerny waarin die mens dit gedompel het. Bybelse hoop, is die hoop dat dit wat met die sondeval gebreek is, weer herstel sal word. Die verhouding met God wat gebreek is, is weer deur Jesus Christus herstel omdat Hy as mens gebore is so bietjie meer as 2000 jaar gelede en wat in sy kruisiging en opstanding geëindig het.

Bybelse hoop is nie op optimisme van ’n onsekere kans dat omstandighede sal beter word, gevestig nie. Bybelse hoop is op God wat die bepaler van ons omstandighede is, gevestig. Daarom, selfs al is ons omstandighede nou nie baie goed nie en al is daar geen bewyse dat dinge gaan beter word nie, hoop ons nog steeds, want ons hoop is op God gevestig. Daarom vertrou ons dat God in beheer is en ons vertrou op sy tydsberekening.

Bybelse hoop beteken om te wag op die Here en daarom, geliefdes, wag op die Here!

Amen



03 Desember 2017

Jesus het mens geword sodat ons in oorvloed kan lewe.



3 Des 2017 GKE



Gen 3 Teksvers Gen 3 v 20

¯ Sing ¯

Sb. 3-3 v 1 & 6
Sb. 2-4 v 1 & 3
Sb. 3-4 v 1 & 5
Sb. 1-3 v 1



Die jaar snel ten einde en ons is al weer by daardie tyd van die jaar waar ons begin regmaak vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense. Met Kersfees onthou Christene dat God mens geword het toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar gelede gebore is.



So tussen deur die regmaak en beplanning vir al die feestelikhede is dit goed dat ons net so bietjie stil word om na te dink wat Christus se geboorte vir ons beteken. Daarmee saam om ook net weer te besef wat se verskil dit aan ons lewe maak.



Om werklik die betekenis te verstaan van dit wat ons met Kersfees herdenk gaan ons vandag eers weer terug na daardie gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus mens geword het.



Wanneer ons aan Genesis 3 dink dan haak ons so maklik vas by die vrug en die slang en die gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so bietjie besin oor wat die implikasies was van daardie hap aan die vrug.



In Gen 2 v 16 & 17 hoor ons dat God die mens ’n opdrag gee en wat die gevolge sal wees indien die mens nie gehoorsaam is aan daardie opdrag nie.

16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”



Ongehoorsaamheid hou baie ernstige gevolge in. Met ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In Gen 3 hoor ons dan ook die hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe vir dood verruil het.

En die vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

God het vir hulle gesê hulle moenie, maar hulle het besluit hulle wil en toe het hulle die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet.



Die gevolge van hierdie daad het verrykende gevolge vir hulle en hul nageslag ingehou. Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie oomblik af was hulle liggame onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot liggaamlike dood lei, nie net vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.



Verder ook het hulle hele bestaan nou moeite geword soos ons hoor in Gen 3:16-19:

16Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry

met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Die leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf het, het verander in ’n omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.



Die ergste is dat daar ’n vervreemding tussen God en die mens ingetree het. Liefde in hul verhouding met God het nou plek gemaak vir vrees. Die mens het bang vir God geword en daarom het hulle probeer wegkruip toe God hoor naderkom.



As die verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n baie droewige hartseer verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad. Dood het egter nie die laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen al die hartseer gebeure, is ’n boodskap van hoop.



Ons hoor dit reeds in Gen 3 v 15 met ’n belofte van vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die vyandskap bring verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die belofte dat die bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.



In Gen 3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van hoop aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as man en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva vertaal is, beteken lewe. En dan bevestig die verteller van die verhaal dat daar inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van al die mense.”



En dan sluit die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit die tuin verban was sodat hulle nie toegang tot die boom van lewe sou verkry het nie. Op die oog af klink dit of dit deel is van hulle straf, maar dit is nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy keer hiermee dat hulle in hul sondige toestand van die boom van die lewe eet en so vir ewig in hul sondige toestand vasgevang sou word.



As hulle op daardie stadium van die boom van die lewe sou eet sou dit nie lewe gee nie, maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem sou wees vanweë hulle sonde. Deur hulle uit die tuin te verban, maak God dit moontlik dat die beloftes wat Hy gegee het dat die bose oorwin sal word, waar word.



Wat beteken hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis vir ons vandag en hoe pas dit in by Kersfees? In Joh. 10 v 10 hoor ons die volgende woorde van Jesus:

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hiermee bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds in Gen 3 gehoor het. Hy het mens geword uit die nageslag van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy gekom het om lewe te bring. Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as mens gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen 3 waar kon word. Dit is egter nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in oorvloed! Dit beteken dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met geloof omhels, deel in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.



Wat beteken Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit beteken dat die vloek van ’n doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons lewens nie. Dit is waar dat ons nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van die sonde nie. Ons lewens is nie nou van terugslae vrygeskeld nie, maar die terugslae het nie die laaste sê nie. Midde in die terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle teenwoordigheid en ons beleef hoe Hy ons daardeur dra.



Die belofte van lewe in Gen 3 wat deur Jesus waar geword het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou en God gebring het, nie meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die oorvloed van God se liefde beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie perfek is nie. Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons gedra het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die belofte dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende hoop op ’n ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.



Kersfees herinner ons net weer dat God ons ook in die toekoms sal dra deur die stampe en die stote van die lewe. Kersfees herinner ons dat die swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn. Kersfees sê vir ons dat Jesus mens geword het sodat ons in oorvloed kan lewe.

Amen








19 November 2017

Jy is duur gekoop, want die prys vir jou is met bloed betaal!


19 Nov 2017 GKE Nagmaal
1 Kor. 7 v 17 – 24
Teksvers 1 Kor. 7 v 23
Sondag 1 Heidelbergse Kategismus
Vraag 1:     Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord:   Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Vraag 2:     Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Antwoord:   Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.
Jy is duur gekoop, want die prys vir jou is met bloed betaal! Daar is geen duurder prys wat gevra kon word nie en daar was net een persoon wat daardie prys kon bekostig. Daarom het jy nou ’n nuwe eienaar. Jy behoort nie meer aan die slawedrywer wat jou deur middel van sonde vasgeketting het nie. Jy is nou vry van die troosteloosheid wat jou gevangene gehou het, want jy behoort nou aan Jesus Christus.

Twee van die groot vrae in die lewe is:
1) waarom is daar soveel onreg in die wêreld?
2) wat wag anderkant die dood vir my?
Die antwoorde wat hierdie wêreld op bg. twee vrae bied laat ons met ’n troosteloosheid waarvoor ons nie antwoorde het nie.
Ons Here troos ons met antwoorde op bg vrae wat onuitspreeklike vrede gee.
Waarom is daar soveel onreg in die wêreld?
Die kort antwoord is sonde. In die plek van God se liefde bring sonde haat, onmin, ongeregtigheid, selfsug, angstigheid, onsekerheid. Al die dinge wat ’n mens se gemoed kwel. Sonde is in sy diepste wese opstand teen God se gesag en dit het die verhouding tussen God en die mens beskadig. Dit veroorsaak ook dat die verhouding tussen mense stukkend is. Pleks daarvan om vir mekaar om te gee, soek mense nou mekaar se ondergang. Mense steel, lieg en bedrieg. Ons hoor dit daagliks oor die nuus. Nog korrupsie waar die armes uitgebuit word. Boere word op plase vermoor. Geweld teen vroue en kinders. Sonde is die oorsaak van die gebrokenheid in hierdie lewe en daarom word ons so deur siektes en rampe geteister. Sonde oorsaak dat ons in hierdie lewe ongeluk en angstigheid ervaar.

Al hierdie onreg maak dat ons troos soek en daar is net een Bron van ware troos. Jou troos vir hierdie lewe is dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit verseker jou van ’n onuitspreeklike troos want die vrede wat net God kan gee vervang nou die onrus en onsekerheid van jou daaglikse lewe. Jy behoort in hierdie lewe aan Jesus Christus. Dit beteken dat die gebrokenheid van die wêreld nie meer jou lot bepaal nie. Jou geluk in die lewe hang nie meer van die wispelturigheid van hierdie wêreld af nie. Jy het nou ’n vaste anker om aan vas te hou. Jou omstandighede bepaal nie meer of jy vrede het of nie. Jou vrede is nou aan die vaste anker van God vasgemaak, maak nie saak wat jou omstandighede is nie.

Dit is egter nie net die onsekerhede van hierdie lewe wat jou gemoed kwel nie. Die vraag: “wat wag vir ons anderkant die dood?” veroorsaak net soveel onrus in ’n mens se lewe.

Soos wat ons ouer word kom die realiteit van hierdie vraag al hoe nader. Elke keer wanneer ons vir ’n geliefde die laaste keer totsiens sê bring dit hierdie vraag net weer in fokus. In ons alledaagse lewens bêre ons hierdie vraag daar in ’n agterste laai wanneer ons besig raak met die dinge van ons dag tot dag bestaan. Ongelukkig laat hierdie vraag nie toe dat jy so maklik van hom ontslae raak nie. Wanneer jy dit die minste verwag dan spring dit uit die laai uit waarin jy dit so sorgvuldig gebêre het. Dan word jy opnuut weer gekonfronteer oor wat wag vir jou anderkant die dood?

Jou onrus oor wat wag anderkant die dood word ook beantwoord deur die wete is dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit gee vir jou gerustheid wanneer jy met die onsekerheid van die vraag oor wat anderkant die dood lê gekonfronteer word, want jy behoort aan Jesus Christus en Hy wag vir jou met ope arms wanneer jy die onsekerheid van anderkant die dood betree.

In 1 Kor. 7 v 23 hoor ons “Julle is duur gekoop.” Dit beteken jy is vrygekoop van die onreg van hierdie wêreld wat deur sonde veroorsaak word. Jy is vrygekoop van die onsekerheid van wat anderkant die dood wag. Daarom bely ons ook
Ek behoort met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.
Wanneer jy belydenis van geloof aflê is dit wat jy bely. Die Heilige Gees verseker my deur Woordbediening en deur die sakramente dat hierdie belydenis van my waar is. Kom sit nou aan by die tafel van die Here en beleef hoe die Heilige Gees deur die gebruik van Nagmaal jou verseker dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Nagmaal
Nabetragting.
Dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort, beteken dat jy binne in jou huidige omstandighede die Here moet dien. In 1 Kor. 7v17 hoor ons:
Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het.
Jou omstandighede bepaal nie of dit goed of sleg met jou gaan nie. Die Heilige Gees het nou met Nagmaal jou vaste geloof bevestig dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit is wat jou vrede in die lewe gee. Of jou omstandighede dus moeilik of maklik is, leef vanuit die troos dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Amen



12 November 2017

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan

22 Okt. 2017 (GKE)

Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33



Sing    Lofsang: Ps. 48-1  v 1 & 4
           Na wet:    Ps. 130-1 v 2
           Na gebed Ps. 86-1 v 3 & 6
           Slotsang  Ps. 18-1 v 1 & 14


Inleiding


Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33

In die wêreld sal julle dit moeilik hê.



Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.



Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.



As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.



Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan. Die vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.



Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.

Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.

Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)

26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.



Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes. Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?



Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie. Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:

“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”



As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)

maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.



Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.



Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30

28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”



Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en liefde:

Rom 8:37-39

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.



Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan.

Amen












Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?


12 Nov 2017 GKE
Rom 7:12 – 25 Teksverse Rom. 7:15, 19, 24 & 25


Die lewe is ’n stryd en dit is nie altyd maklik nie. Een van die moeilikste dinge in die lewe is wanneer die lewe my voor ’n spieël plaas waar ek myself onder die soeklig moet plaas. Dis nie ’n lekker plek om te wees nie, daarom kyk ek eerder na wat by my buurman aangaan. Dit is maklik om na iemand anders te kyk en uit te wys wat verkeerd is in sy lewe. Dit is nie so maklik om na my eie lewe te kyk en vas te stel waar ek te kort skiet nie.

In ons teks ontmoet ons Paulus waar hy voor die spieël staan en kyk na sy eie lewe. Hy deel hier met ons ’n hartsgeheim, naamlik dat hy ook stoei met sonde in sy lewe. Dit is nie maklik om te erken dat daar nog steeds sonde in jou lewe teenwoordig is nie. En tog is dit wat die Here van ons verwag.

Ons vier volgende week as die Here wil die heilige Nagmaal en Nagmaal vra van ons dat ons moet voorberei. Voorbereiding vra dat ek voor die spieël gaan staan en my lewe onder die soeklig plaas. Ek moet ’n antwoord op die vraag kry: “Is ek waardig om te kom aansit by die tafel van die Here?” Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry moet ek eerlik na myself kyk en my lewe onder die soeklig plaas.

Dit help nie dat ek oneerlik is en probeer afmaak dat daar by my nie probleme is nie, want ek kan niks vir God weggesteek nie. Verder is dit ook so dat as ek nie eerlik is met myself nie, dan hou Nagmaal ook nie werklik betekenis vir my in nie. Om werklik die diepere betekenis van Nagmaal te beleef, moet ek eerlik met myself wees in die proses van self ondersoek.

In ons teks wys die Here vir ons deur middel van die lewe van Paulus hoe om opreg en in diepte selfondersoek te doen. Ons hoor hier dat die wet heilig is en dat die wet sonde uitwys en veroordeel. Die wet is dus die maatstaf waaraan ek my lewe moet meet. Dit is wat Paulus gedoen het en hy kom tot die gevolgtrekking dat hy nie die toets geslaag het nie.

Hy vind in sy lewe hierdie geweldige tweestryd. Hy weet wat reg is. Daar is selfs by hom die begeerte om te doen wat reg is, maar...... en hier begin sy stryd, hy doen nie wat hy homself voorneem om te doen nie. Inteendeel hy doen net mooi die teenoorgestelde. Dit wat hy haat, juis dit doen hy!
Rom 7:15
Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.

Is dit nie maar ook ons probleem nie? Ek weet ek moenie kwaad word nie, maar ek doen. Ek weet ek moenie iets sê wat sal seermaak nie, maar voor ek my kan kry het ek dit gesê. Ek is seker elkeen van ons kan aan verskeie sulke voorbeelde in ons lewe dink.

Dit bring ons ook by die verdere vraag: “Ek glo dat ek verlos is, maar hoekom sukkel ek dan nog met hiermee?” Dit kan so maklik gebeur dat hierdie stryd my moedeloos maak en dit is net wat die duiwel wil hê. Hy wil hê dat jy moedeloos word en dat daar geloofstwyfel by jou moet wees. Dit is die strategie wat hy van die begin af daar in die Paradys ingespan het en hy gebruik dit nog steeds, want dit werk so goed! Sy hoofdoel is om jou te oortuig dat jy God nie kan vertrou nie! Hy wil hê dat jy moet glo jy is nie goed genoeg vir God nie.

Dit is op hierdie punt waar Paulus dan ook die noodroep uiter: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Want hy weet wat die wet bepaal, naamlik dat sonde met die dood gestraf moet word. Hy weet dit is nie die wet wat jou doodmaak nie, maar dat dit sonde is.

En dit is dan ook hierdie geweldige stryd waarmee elkeen van ons daagliks worstel. Dit is amper asof daar twee persone tegelyk hier in my liggaam teenwoordig is. My kop sê vir my wat reg is en wat ek nie moet doen nie, en dan kom hierdie ander outjie in my en hy laat my net mooi doen wat my kop vir my sê ek nie moet doen nie. En dan kom koggel die ou duiwel my. Sien jy wat jy gedoen het? Wys jou net, jy is nie goed genoeg vir God nie. En dit maak my moedeloos, want ek weet dat die straf vir sonde die ewige dood is, vir ewig sonder God. Dit is juis hierdie moedeloosheid waarna Paulus verwys wanneer hy vra “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”


Die antwoord op hierdie vraag is gebore uit hoop. Die lewende hoop wat elke Christen koester.
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Dit is die hoop wat die Nagmaal bevestig. Daar waar ons op ’n sigbare wyse deur die tekens van brood en wyn sien hoe die evangelie werk. Daar sien ons dat die moedeloosheid van dood in die sonde deur Christus Jesus gebreek is. Hy het sy lewe gegee en daarmee het hy die vloek van die sonde gebreek. Met sy opstanding het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee.

Rom. 7:25 sluit af met:
So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.
Dit is ’n opsomming van hierdie sondestryd waarmee ons daagliks sukkel. Dit sê vir ons dat die stryd nog nie klaar is nie, maar ook dat daar hoop is om te wen. Dit sê vir jou dat dit waarvan die duiwel jou probeer oortuig nie waar is nie. Jy is nie ’n hopelose sondaar wat nie goed genoeg vir God is nie. Jy is ’n Koningskind wat vir God oneindig kosbaar is. So kosbaar dat Hy sy lewe vir jou neergelê het sodat jy kan lewe.

Dit sê ook vir jou dat die stryd nie verby is nie. Solank Ons in die wêreld is, is dit ’n daaglikse stryd. Dit is egter nie die stryd van ’n verlore sondaar met geen hoop op oorwinning nie. Dit is die stryd van ’n Koningskind wat in die krag van God teen die sonde stry en wat die sonde kan oorwin.

Wat beteken dit prakties? Dit beteken dat jy jou stryd, jou twyfel, na God toe kan bring. Vir God is niks te ver, te verlore, te groot om te herstel nie. God is nie bang vir jou twyfel, jou vrae of jou woede nie. Jesus het mens geword sodat jy die versekering kan hê dat Hy weet waardeur jy gaan en waarmee jy stoei. As mens het Hy ook daarmee gestoei. Wat God nie van hou nie is wanneer jy probeer om hierdie stryd op jou eie te voer.

Dit is die duiwel se doelwit om jou van God te vervreem. Moenie in sy valstrik trap nie. Bring jou onsekerheid, jou hartseer, die struikelblokke in jou lewe, daardie onmoontlike saak na God toe. Bring jou sonde na God toe en Hy sal jou rus gee, want Hy weet waardeur jy gaan. Hy wil vir jou lewe gee i.p.v. die doodsbestaan waarin sonde jou dompel. Bring jou onsekerheid na God toe en ervaar die vrede wat net Hy kan gee.
Amen

29 Oktober 2017

Geen ander Evangelie nie!

Gal 1 v 1 -12 Teksvers Gal 1 v 8 & 9

O
p 31 Okt 1517, 500 jaar gelede weerklink die hamerhoue deur die oggendstilte van Wittenberg. Maarten Luther is besig om sy 95 stellings teen die Roomse leer aan die kerkdeur vas te spyker. Dit was een van die draaipunte in die kerkgeskiedenis wat die wêreld verander het. Daardie hamerhoue wat die Reformasie aan die gang gesit het, het as te ware dwarsdeur die hele Europa weerklink en hulle ego’s is nou nog dwarsoor die wêreld hoorbaar.

Die Protestantse Reformasie het nasies verander, politieke rigtings bepaal en oorloë aan die gang gesit. Dit het tot innovasie in die wetenskap, industrieë, ekonomie en medisyne gelei. Dit het tot eksplorasie en kolonialisasie aanleiding gegee. Die Protestantse werketiek, die opkoms van demokratiese regerings en wêreld sending was ’n direkte gevolg van die Reformasie.

Die belangrikste is egter dat dit die Bybelse waarheid oor die verlossing van die mens, aanbidding en Bybelse gesag herstel het. Dit het nuwe lewe in die kerk geblaas. Die Reformasie het so ’n groot invloed op die wêreld gehad dat ons 500 jaar later steeds daaraan dink.

Hoekom is die Reformasie so belangrik? Met die tyd saam het die kerk al hoe verder van die Woord af wegbeweeg met die gevolg dat ’n valse evangelie die ware evangelie verdring het. Die gesag van die Woord is deur Pouslike uitsprake en kerktradisies verdring. Genade het nie meer ’n plek gehad nie want dit was verdring deur die geloof dat die mens sy saligheid moet verdien. Die dwaling dat jy jou saligheid kon koop met die sogenaamde aflaatbriewe was aan die orde van die dag. Dit is teen hierdie valse evangelie wat Luther standpunt ingeneem het met sy 95 stellings.

Hoekom was hierdie saak so belangrik dat Luther bereid was om sy lewe op die spel te plaas? Want ’n Valse evangelie bring jou ewigheid in gedrang! In hierdie brief wat Paulus aan die gemeentes in Galasië geskryf het is dit duidelik hoe ernstig God is oor die dwaalleer van ’n valse evangelie.

In Gal 1:8 & 9 hoor ons:
Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref! Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: as iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het—die vloek van God sal hom tref!

In sy briewe wat Paulus aan die verskillende gemeentes geskryf het is daar altyd iets in die gemeente waaroor hy vir God dankie sê. Net na die aanhef kom hierdie dankbetuiging gewoonlik aan die woord. Selfs die gemeente in Korinte wat alom as die probleem gemeente bekend gestaan het, vind Paulus iets waaroor hy dankbaar kan wees. Ten spyte die onenigheid en die onsedelikheid in die gemeente in Korinte, vind Paulus iets om oor dankbaar te wees soos ons hoor in 1 Kor. 1:4-7:
Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus.

In hierdie brief aan Galasië begin Paulus die inhoud van sy brief egter nie met die gebruiklike lofprysing en waardering vir die getrouheid en geloof van die gemeentes in Galasië nie. Nee, hy val direk weg met ‘n brutale teregwysing:
Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie!

Daar is nie plek in die kerk vir ’n valse evangelie nie. Die valse evangelie wat daar in Galasië aan die orde van die dag was, is dat dit wat Jesus gedoen het nie genoeg was nie. Hierdie vals evangelie het die hart van die ware evangelie aangetas met die dwaalleer dat God se genade nie genoeg was nie.

Hierdie valse evangelie wat by die Galasiërs teenwoordig was, is maar in wese dieselfde valse evangelie wat in die kerk 500 jaar gelede teenwoordig was naamlik dat Christus se genade nie genoeg is nie. Dit was ’n Christus plus leer.

In Galasië was dit Christus plus al die Joodse wette soos bv dat seuns steeds besny moes word. Dat gelowiges nog steeds streng die Joodse kosjer eetgewoontes moes handhaaf. Bv dat melk en melkprodukte soos kaas nie saam met vleis geëet kon word. Dat gelowiges steeds al die honderde reëls en regulasies wat deur die Joodse rabies opgestel was moes nakom.

In die tyd van Luther was die kerk weer besig met ’n Christus plus leer. Christus plus dit wat die pous in sy pouslike uitsprake bepaal het. Die gesag van die Skrif is dus aan pouslike uitsprake onderhewig gemaak. Die valse evangelie dat die moeder Maria in plaas van Christus die tussenganger tussen God en die mens is. Christus plus die aflaatbriewe wat hulle moes koop in die plek van boetedoening vir hul sondes.

Teenoor hierdie dwaalleer dat Christus plus iets anders nodig is vir jou verlossing het Paulus in hierdie brief baie duidelik aangetoon dat dit wat Christus gedoen het genoeg was om ons te verlos uit die mag van hierdie goddelose wêreld en dat dit alles volgens die wil van God gebeur het soos ons ook in Gal. 1:3 & 4 hoor:
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.

Ons hoor hier in die inleiding tot die brief hoe absoluut belangrik Jesus se opstanding uit die dood is en dat God aan gelowiges genade en vrede in die diepste sin van die woord gee. Ons hoor dat Jesus in ons plek gesterf het en dat ons daarom nie meer aan die werksaamhede van die bose magte in die wêreld uitgelewer is nie. Ons hoor dat God sy plan uitvoer en dat niks buite God se beheer is nie. Daarom moet elke gelowige se lewe daarop gerig wees om God te loof.

Behalwe dat dit nou ’n interessante stuk geskiedenis is, watse betekenis het die Reformasie vandag vir ons? Ons moet steeds bly waak teen die valse evangelie wat die rondte doen. Bv. die valse evangelie van die voorspoed teologie. Jy moet sorg dat jy ’n goeie Christin is en dan sal God jou ryk maak. Die valse evangelie God wat met jou praat sonder die Bybel. Die valse evangelie dat jy getrou sekere gewoontes en tradisies moet nakom.

Die valse evangelie waar jy as gelowige begin dink dat jy so bietjie beter as ander mense is. Wanneer jy genade misbruik om sonde te doen want Christus het mos vir my sondes gesterf, nou kan ek maar aanhou sonde doen. Nog erger dat jy genade misbruik om sekere sondes goed te praat asof dit nie meer sondes is nie. As jy net vir jouself leef en jou begin afskei van jou broers en susters. Daardie argument van ek het die kerk nie meer nodig nie want ek bid en lees mos my Bybel. Ek hoef nie meer eredienste by te woon nie.

Die probleem met so ’n valse evangelie is dat dit ’n troostelose evangelie is, want jy gaan naderhand agterkom dat dit wat by Christus bygevoeg word vir jou saligheid onmoontlik is om na te kom. Maak nie saak hoe hard jy probeer nie, dit gaan nie goed genoeg wees nie.

Daar is geen ander evangelie nie. Enige ander evangelie bring jou ewigheid in gedrang. Die vloek van die sonde bly dan rus op jou. Daar is dan geen verlossing vir jou nie.  Want, daar is net verlossing in Christus beskikbaar.  Daar is geen ander evangelie nie.

Dit is vandag nog net so nodig dat ons moet reformeer, dat ons moet terugdraai na God weg van die dwaalleer af as wat dit 500 jaar gelede nodig was of bykans 2000 jaar gelede daar in Galasië nodig was.

Draai terug na die waarheid van die Woord dat ons bloot uit genade gered word. Hou in geloof vas aan Jesus Christus wat vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gee. Leef vanuit die genade van die ware evangelie tot eer van God.
Amen

08 Oktober 2017

Roep in gebed tot God in tye van nood

Lees: Jona 1 & 2 
Teksverse Jona 2
8 Okt 2017 GKE
Sing:
Ps. 46-1 v 1 & 6
Ps. 102-2 v 1 & 9
Ps. 130-1 v 1 - 4

Sb 14-2








Jona en die vis is seker een van die bekendste verhale in die Bybel. En tog gaan die verhaal nie eintlik oor die vis nie. Wanneer daar oor die verhaal gepraat word land die gesprek so maklik op ’n syspoor van watse tipe vis was dit nou eintlik? Was dit dalk ’n walvis, maar ’n walvis kan nie ’n mens insluk nie. Is dit ’n ware verhaal of is dit net ’n gelykenis? En met al hierdie gesprekke word die hele boodskap van hierdie verhaal gemis! Dit gaan nie hier oor die vis nie, maar wel oor hoe groot God se genade is!

Hierdie verhaal beskryf vir ons hoe God se kinders deur middel van krisisse in hul lewens op daardie punt kom waar hulle net nie meer kan aangaan nie. Dit vertel vir ons van God se liefde en sorg en dat sy verbintenis om sy beloftes na te kom groter is as die sonde van sy kinders.

Ons hoor hier die verhaal van ’n profeet wat eerder van God af wou wegvlug as om Hom te gehoorsaam. Die Here gee aan Jona die opdrag om die Assiriërs, Israel se grootse vyande, te waarsku oor God se komende oordeel. Jona wil egter nie want hy is bang dat die Assiriërs hulself gaan bekeer en dat God dan genade aan hulle gaan betoon. Daarom besluit hy om van God af weg te vlug.

Ons hoor die refrein in die verhaal, weg van die Here af wat herhaal word en dan ook hoe Jona afgaan het. Eers af na Joppe toe waar hy op ’n skip probeer wegvaar van die Here af en dan oorboord weer verder af in die vis tot op die bodem van die see, by die fondamente van die berge.

Hier waar Jona op sy laagste is beskryf vir ons die swaarkry, die pyn en lyding, die verwarring wat pyn en lyding in ’n mens se lewe verteenwoordig. Dit is wat Jona daar in die maag van die vis met die seegrasse om sy kop beleef het. In sommige gevalle, soos met Jona is dit deur jou eie toedoen, maar in ander gevalle is deur die toedoen van ander of die omstandighede in die lewe wat maak dat jy jouself onder in die vis se maag met die seegrasse om jou kop daar by die fondamente van die berge bevind.

Hierdie verhaal gee vir ons hoop want wanneer Jona daar diep in die see binne in die vis van die maag is nadat hy sover as moontlik van die Here af probeer wegvlug het vind ons dat die Here juis daar teenwoordig is! Met hierdie verhaal sê die Here vir elkeen van ons dat Hy veral in die moeilike omstandighede in ons lewens teenwoordig is.

Die gebed van Jona gee vir ons die bril waardeer ons na die donker plekke in ons lewens moet kyk. Of dit nou deur ons eie toedoen is of deur die toedoen van ander of a.g.v. omstandighede waaroor ons geen beheer het nie wys die Here vir ons met Jona hoe ons perspektief kan kry daaroor.

Deur gebed beleef jy op ’n besondere manier hoe jou verhouding met die Here jou dra in tye van swaarkry. In Jona 2 v 2 hoor ons hoe Jona in sy nood tot die Here roep toe hy nie meer geweet het waarnatoe nie. Soms raak jou lewe so buite beheer dat jy nie meer weet watter kant toe nie en al wat jy kan doen is om in jou nood uit te roep “Help my!”

En dan hoor ons die wonderlike troos “Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra,en U, Here, het my gehoor.” Die ironie, daar waar Jona veronderstel is om op sy verste van die Here te wees, is die Here intens teenwoordig. Ons dink so maklik dat God ons verlaat het wanneer ons swaarkry en dat Hy nie oor ons omgee nie. Hier bevestig God opnuut weer dat Hy jou nooit alleen laat nie. Hy luister wanneer jy in nood na Hom roep en Hy weet presies waar jy is. Jy is nie alleen nie!

In Jona 2v3 hoor ons die verbasende waarheid, ons kan amper sê die ontstellende waarheid!
U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.
Dit is deur die Here se toedoen dat Jona in die vis se maag is. Is dit God se skuld dat ons swaarkry? Straf Hy ons met swaarkry?

Nee geliefdes, God is nie besig met straf nie, dit is juis sy genade wat so helder skyn. Hier sien ons dat selfs die moeilikste en onmoontlikste omstandighede nie buite God se beheer is nie. Hy is nie afwesig nie, maar anders as wat ons sou verwag weerhou Hy nie altyd die swaarkry van ons af nie. Soms gebruik die Here swaarkry juis om ons weer by daai punt te bring sodat ons kan besef hoe afhanklik ons van Hom is en dat ons nie sonder Hom kan wees nie.

In Jona 2 v 4 hoor ons dan juis hoe Jona se swaarkry hom opnuut weer laat besef hoe nodig hy God het.
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.
Jona wou vry van God wees en hy het aanvanklik gedink dit sal baie lekker wees. Want dan kan hy doen wat hy wil en is hy nie meer gepla met al die moets en moenies wat sy pret bederf nie. Nou besef hy dat dit wat hy so graag wou gehad het baie sleg en nie lekker is nie! Hy besef nou eers hoe nodig hy God werklik het.

Is dit nie ook maar dikwels ons probleem nie? Ons wil tog maar net so bietjie vry van God se gesag wees. Moet ek al weer Sondag gaan luister na al die dinge wat ek nie mag doen nie? Ek wil tog net so bietjie wegkom van die kerk dinge. Dan kom ek op ’n stadium agter dat om sonder God te wees nie so lekker is nie! Dit is net God wat lewe gee en nie een van ons kan sonder Hom bestaan nie.

Verder in die gebed hoor ons hoe Jona besef dat dit nie net is dat hy God nodig het nie, maar dat God al is wat hy nodig het soos ons hoor in Jona 2:5&6:
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.
Hy het niks meer nodig gehad nie. Daar waar hy in die maag van die vis was het hy in homself niks gehad wat hom uit sy situasie kon red nie. Dit is net God wat hom kon red en God het ook soos Jona bevestig met die woorde “Maar U, Here my God, het my van die dood gered.”

Hier besef Jona dat dit beter is om saam met God in die vis se maag te wees as wat dit sou wees om sonder God in Tarsis te wees. Dit is beter om saam met God in die moeilikste omstandighede te wees as wat dit sonder God sal wees in die mees gunstigste omstandighede. Dit is juis deur swaarkry wat ons intens weer die liefde en trou van God ervaar en dat ons dan weereens besef dat ons niks anders as God nodig het nie.

In Jona 2 v 7 hoor ons hoe Jona onthou wat God alles in sy lewe al vir hom gedoen het. Hy het weer onthou hoe spesiaal dit is om in ’n verhouding met God te leef.

Geliefdes, onthou u wat het God al alles in u lewe beteken? Onthou u hoe spesiaal u vir Hom is? So spesiaal dat Hy bereid was om Homself so te verneder om ’n eenvoudige mens te word. Dat Hy bereid was om die vernedering van ’n vervloekte kruisdood in u plek te dra! Dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe en dat Hy dit gedoen het uit liefde sodat jy weer in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek sodat jy weer heeltemal met die volheid van God vervul kan word. Onthou dat dit nie saak maak wat met jou gebeur nie want daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

In Jona 2 v 8 hoor ons hoe Jona besef dat die afgod van die eie ek net ellende bring. Toe Jona weggevlug het van die Here af, het hy op die afgod van self staat gemaak. Nou hoor ons hoe hy tot die besef kom dat die afgod van die eie ek niks anders as ellende bring nie. En dit bring hom om in aanbidding tot die Here te nader soos ons hoor in Jona 2v9:
Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”

En in Jona 2v10 hoor ons die wonderlike belofte dat tye van swaarkry nie vir altyd aanhou nie. Dit word beter, nie net in hierdie lewe nie, maar ons sien uit na die tyd wanneer ons ewig saam met God sal wees sonder al die swaarkry van hierdie lewe.

Soms bring die lewe jou op ’n plek waar jy niks anders kan doen as om in jou nood na die Here te roep nie. Dit is dan wanneer jy besef dat die Here in die grootste swaarkry en onmoontlikste omstandighede intens teenwoordig is. Dit is dan wanneer jy besef dat niks buite God se beheer is nie. Dit is dan wanneer jy werklik begin verstaan dat jy God nodig het en dat jy niks anders as God nodig het nie. Wanneer jy in gebed in jou nood tot die Here roep onthou wat God alles vir jou gedoen het. Onthou dat Hy sy Seun gestuur het om aan ’n vervloekte kruishout vir jou sondes te sterf sodat jy in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou dat daar niks is wat jou van sy liefde kan skei nie. Onthou dat die afgod van die eie ek net ellende bring en buig in aanbidding tot God om werklik die grootheid van sy liefde in jou lewe te ervaar.

Roep in gebed tot God in tye van nood.
Amen