Datum: 7 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds.
George van der Walt
Skriflesing: 2 Kor. 4 v 7 - 18
Teksvers: 2 Kor. 4 v 17
Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:
1) Facebook - Volledige erediens 2) YouTube - Preek alleen
Sing
Ps.
23-1 v 1 & 3
Ps.
20-1 v 1 & 4
Die lewe is vol moeilikhede. Dis een ding wat hierdie
jaar sover net weereens beklemtoon het. Iemand het nou die dag gesê: “kan ons
nie maar net 2020 se ‘reset’ knoppie druk sodat ons weer kan oor begin nie?” As
ons net teen al ons probleme bly vaskyk, kan ons maklik moed verloor. Die Here
gee vir ons vanoggend perspektief uit sy Woord om ons te help om nie moed te verloor
nie.
Paulus gebruik hier 'n beeld uit die leefwêreld van Nuwe
Testament. Die mense van destyds het kleipotte as alledaagse houers gebruik om
goed in te bêre net soos wat ons deesdae gebruik maak van blikke of plastiese en
glas houers. Net soos wat 'n glas houer sal breek as jy dit hard stamp of laat
val, was die kleipotte ook maar breekbaar. Die beeld sluit ook iets kosbaars in
wat binne in hierdie alledaagse kleipotte gebêre word.
Wat beteken hierdie beeld? Die skat is die kennis van die
heerlikheid van God. Kennis van God se verlossingsplan in Jesus Christus om
verlore mense weer met Hom te versoen. Elkeen wat glo dat Jesus vir jou sondes
gesterf het en dat jy die ewige lewe ontvang het omdat Jesus die dood oorwin
het word 'n draer van hierdie skat.
Die kleipotte waarin hierdie skat is, is dan ook die
gewone alledaagse feilbare mense wat in Jesus glo. Wanneer jy die evangelie as
skat ontvang, ontvang daarmee saam ook die opdrag om daarmee uit te gaan en dit
uit te deel. Dit is egter nie jy wat mense oortuig om in die evangelie te glo
nie. Dit is God wat mense tot bekering bring. Die fokus is dus op die krag van
die evangelie in mense se lewens.
Dan bevestig Paulus net weereens die waarheid dat die
feit dat jy 'n Christin is nie beteken dat jy nie meer moeilikhede in hierdie wêreld
gaan hê nie. Ons hoor nou wat dit beteken om 'n kleipot te wees wat die skat
van die evangelie in hom dra. 2 Kor. 4 v 8 & 9:
In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk
nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie
deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
Te midde van aanslae van die lewe sal jy deur die krag
van God staande bly.
Wanneer jy 'n draer van hierdie skat is, deel jy in die
lyding en sterwe van Jesus. En daardeur word die lewe van Jesus in jou sigbaar.
In ons teksverse gee die Here vir ons hoop sodat ons nie
moedeloos moet word nie. Ons kry hier so 'n stukkie perspektief van God se
groter ewige raadsplan. Ons kry swaar. Hierdie lewe is nie maklik nie. Ons moet
baie uitdagings in die gesig staar.
Die verwysing in vers 16 na die uiterlike wat besig is om
te vergaan is ons sterflike liggame (die kleipotte). Soos wat ons ouer word,
gaan ons liggame agteruit totdat ons uiteindelik sterf. Die lewe is egter meer
as net ons fisiese liggame. Die skat van die evangelie wat ons in ons dra gee
vir ons die krag om deur dit te kom.
Die rede vir ons hoop vind ons in ons teksvers: 2 Kor. 4
v 17:
Ons swaarkry
in hierdie lewe is maar gering
en gaan verby, maar
dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat
ewig bly.
In ons teksvers vind ons drie teenoorgesteldes wat met 'n
werkwoord aan mekaar verbind word.
Die eerste is: “Ons swaarkry in hierdie lewe.” Dit sê vir
ons dat dit alle swaarkry insluit soos byvoorbeeld wanneer jou oë swakker word,
jy sukkel om te hoor, die algemene agteruitgang wat met ouderdom gepaard gaan,
siektes soos hartprobleme, kanker. Verder is dit ook duidelik dat dit verwys na
ons totale lewensduur hier op aarde waar ons ly. Elkeen weet wat jou swaarkry
is en vir dit gee die Here vandag vir ons troos.
Teenoor hierdie swaarkry is die belofte van die
heerlikheid van God wat so mooi deur Openbaring 21 v 3 & 4 uitgespel word:
Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk,
die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy
volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van
hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn
sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
Die tweede is dat die swaarkry maar gering is. En die
derde is dat dit verby gaan. Teenoor dit is die heerlikheid wat alles verreweg
oortref en wat vir ewig bly.
Dit klink amper verkeerd! Hoe kan 'n hele lewe se
swaarkry gering wees? Binne God se ewigheids-perspektief is ons tyd op aarde
byna niks. As jy 'n lyn moes trek wat van die eenkant van die heelal na die
anderkant strek, dan is ons tyd hier op aarde kleiner as 'n potloodpunt merkie
op daardie lyn.
Die Griekse werkwoord wat hierdie groep teenoorgesteldes
aan mekaar bind, is in Afrikaans vertaal met “loop vir ons uit.” Die letterlike
betekenis van hierdie woord is, produseer, veroorsaak, berei voor. Ons sou dit dus
ook kon vertaal met voorberei.
Die tydelike swaarkry wat gering en verbygaande is, berei
ons voor vir heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Die
swaarkry berei ons voor sodat dit uitloop op die ewige heerlikheid.
In ons swaarkry deel ons in die lyding van Christus toe Hy
hier op aarde was en hierdie tydelike swaarkry berei ons voor vir 'n ewige
heerlikheid saam met God.
Wanneer jy midde in moeilike omstandighede staan, lyk die
prentjie donker. God troos ons vandag met sy Woord en Hy sê vir jou: “Moenie
moed verloor nie.” In vergelyking met die heerlikheid; waar jy ewig saam met God
sal wees; is hierdie swaarkry gering wat net vir 'n kort tydjie duur.
Die troos wat die Here ook hiermee saam gee, is dat ons
nie alleen staan in ons swaarkry in die lewe nie. Daar waar jy met soveel
moeite teen jou siekte stoei is God saam met jou. Hy hou jou vas terwyl Hy jou
voorberei vir die ewige heerlikheid wat wag. Ons het nou reeds 'n voorsmakie
van dit wat veel beter sal wees as wat ons ooit kan dink of droom.
Geliefdes, jy is nie alleen in jou swaarkry nie. God is
by jou en Hy loop die pad saam met jou.
Moenie moed verloor nie.
Amen