08 Oktober 2015

Hou aan bid en hou aan glo terwyl jy geduldig wag

GKE 14 Jun. 2015
Luk 18:1-8
Ps. 34-1:1,2 & 5
Ps. 130-1:1,2 & 4
Ps. 119-2:7,11 & 18
Ps. 68-1 : 1 & 3

Hoe lank nog? Dit is ’n versugting wat die mens deur al die eeue heen teenoor God uiter. In Ps. 94:3 hoor ons hoe die Psalmdigter byna 3000 jaar van tevore teenoor God sug:
Hoe lank, Here, hoe lank sal die goddeloses hulle nog verlustig in die leed van ander mense?
As ons so na die misdaad en die onreg in die samelewing van ons tyd kyk, dan voel dit of daardie noodroep van die Psalmdigter vir ons bedoel is. Ons het twee weke gelede by Fanie van Geopende deure gehoor hoe Christene vervolg word en selfs doodgemaak word. Elke week hoor ons van al hoe meer gruweldade wat van die IS teenoor Christene pleeg.

In ons eie land lyk dit ook nie so rooskleurig nie. Daar word al hoe meer teenoor Christene gediskrimineer. Dink nou maar aan die hofsaak wat aanhandig gemaak is teen 6 skole om hulle te verbied om ’n Christelike etos in die skool uit te leef. Sou daardie hofsaak slaag sal die verbod spoedig op alle skole van toepassing gemaak word.

Die krimpende getalle in ons kerke is ’n verdere bekommernis. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente. Verder is daar nog die misdaad wat ons so teister om nie eens te praat van die korrupsie en morele verval wat so hoogty vier nie. As ons so oor dit als nadink dan kan ons maklik moedeloos word. As mens so moedeloos word kan dit maklik gebeur dat jy ophou bid. Moedeloosheid kan mens maklik by daai punt bring waar jy sê: “wat help dit tog? Dit lyk tog nie of God luister of omgee nie?” Het u nie al gewens dat die wederkoms nou maar moet gebeur sodat ons van al hierdie sonde en ellende om ons ontslae kan raak nie? Wanneer vind die wederkoms dan plaas?

Dit is ’n vraag wat die Fariseërs ook graag antwoorde op wou hê soos ons in Luk 17:20 hoor waar die hulle vir Jesus gevra het: “wanneer gaan die koninkryk van God dan kom?” Jesus verduidelik vir hulle dat die koms van die koninkryk van God nie iets is wat ’n mens kan voorspel nie. Na dit vertel Jesus vir sy dissipels ’n gelykenis om aan sy dissipels te verduidelik wat hulle moet doen om nie moedeloos te raak terwyl hulle wag nie. Hulle moet aanhou bid. Dit geld natuurlik vandag nog vir ons ook. Wanneer ons deur die moeilikhede van die lewe in die gesig gestaar word, terwyl ons op die wederkoms wag moet ons nie moedeloos word nie, maar ons moet aanhou bid terwyl ons bly glo dat God steeds in beheer is. Daarom is dit so belangrik dat ons ’n biddende kerk moet wees want gebed voed ons geloof.

Om dit te verduidelik vertel Jesus vir hulle ’n gelykenis oor ’n arm weduwee en ’n onregverdige regter . Om hierdie gelykenis behoorlik te verstaan is dit nodig dat ons kennis neem van die omstandighede van die karakters in hierdie gelykenis. Die dissipels het geweet wat dit is sonder dat dit vir hulle verduidelik moes word. Die howe van daardie tyd was nie in ’n hofgebou soos ons dit vandag ken nie. Die regter het met ’n paar handlangers rondgereis van plek tot plek en dan ’n tent opgeslaan en daar sake aangehoor. Om jou saak verhoor te kry was dit gewoonlik nodig om omkoopgeld aan een van die handlangers te betaal en dan het hy met die regter gereël om die saak aan te hoor.

Vir die weduwee aan die ander kant het alles teen haar getel. Sy het geen aansien in die samelewing gehad nie omdat sy ’n vrou was en verder was sy brandarm omdat sy nie meer ’n man gehad wat vir haar kon sorg nie. Sy kon dus nie enige omkoopgeld bekostig nie en dit sou beteken dat haar saak nie verhoor sou word nie. Die persoon wat haar verontreg het sou dus daarmee wegkom.
Die weduwee het egter een ding in haar guns gehad. Sy was knaend en het sonder ophou by die regter aangedring om haar saak te verhoor. Soveel so dat die regter naderhand ingestem het om aan haar reg te laat geskied. Sy motivering daarvoor was nie omdat hy nou skielik ’n hartsverandering ondergaan het nie. Sy motivering was eintlik baie selfsugtig. Hy wou maar net van die verpesting van die weduwee ontslae raak wat sy lewe so versuur het.

As ’n onregverdige regter tog op die uiteinde aan die weduwee vir wie hy geen agting of ontsag gehad nie, reg laat geskied hoeveel te meer sal die Regverdige God nie omsien na sy uitverkorenes vir wie Hy omgee en liefhet nie? Die weduwee word dus met die kerk vergelyk terwyl die regter met God vergelyk word. Dit is egter nie ’n vergelyking van ooreenkomste nie. Nee, dit is ’n vergelyking van teenoorgesteldes!

Die weduwee was ’n vreemdeling waarvoor niemand omgegee het nie. Teenoor dit sorg God vir sy kinders. Die weduwee het nie direkte toegang tot die regter gehad nie, terwyl die kinders van God enige tyd direk by Hom kan aanklop. Die weduwee het niemand gehad wat vir haar kon instaan nie terwyl Jesus ’n tussenganger vir die gelowiges is. Hy onderhandel nie net nie, maar Hy het ons skuld op Hom geneem. Die weduwee was die verontregte party in die saak terwyl ons die skuldiges is. Jesus neem egter ons skuld op Hom sodat ons vrygespreek kan word.

Die grootste verskil is egter dat die weduwee na ’n hof moes gaan terwyl ons voor God se genadetroon verskyn, nie as beskuldiges nie, maar as kinders van God wat ’n liefdevolle Vader het wat sy kinders beskerm en na hulle omsien. Die ander kontras is die onregverdige regter teenoor die regverdige God. Die regter tree uit selfsug op terwyl God se optrede deur sy opregte liefde en geregtigheid gedryf word.

Met hierdie gelykenis het Jesus verduidelik hoe absoluut seker dit is dat God vir sy uitverkore kinders wat in Hom glo sal sorg.
Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!
Jesus bedoel nie met hierdie gelykenis dat ons God met ons gebede moet verpes soos die weduwee die regter verpes het nie, totdat Hy naderhand nie anders kan as om ons te help nie.

Wat Jesus wel hier sê is dat gebed so natuurlik deel van ’n gelowige se lewe is soos wat asemhaal vir ’n mens is. Die mens dink nie eers daaraan dat hy moet asemhaal nie, hy doen dit outomaties. Net so moet gebed so natuurlik deel van ons lewens wees dat ons nie daaroor moet nadink om te bid nie, maar dat ons dit doen omdat dit deel van ons lewe is. As mens sou ophou asemhaal sal jy doodgaan. As jy ophou bid, gaan jy geestelik doodgaan.

Maar tog is hier ook ’n spanning teenwoordig in Jesus se uitspraak. “Hy sal hulle help, en gou ook!” Dit is hier waar die probleem inkom wat ons moedeloos maak. Vir ons voel dit nie of dit “gou” is nie omdat ons nie God se tydsraamwerk verstaan nie. Jesus het voor sy hemelvaart belowe dat Hy gou weer sou terugkom en nou is dat reeds 2000 jaar later en ons ly nog steeds as gevolg van die gevolge van sonde. Dit is hier waar geloof en vertroue in God so noodsaaklik is. Ons moet aanhou glo dat God in beheer is, veral wanneer dit nie so lyk nie.

Jesus sluit die gelykenis af deur te vra: (vgl. Luk 18:8)
“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”
Hiermee wys Jesus dat Hy weet dat ’n mens se geloof swak is en daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om ons te dra in ons gebede soos ons hoor in Rom. 8:26
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.
In Jud. 20 hoor ons
Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.

Hoe bid mens deur die krag van die Heilige Gees? Eenvoudig. Erken maar net dat jy nie in eie krag kan nie en vra vir God dat Hy jou sterk maak in jou geloofstryd. Wanneer die omstandighede jou tot moedeloosheid dryf, bid. Hou aan om te bid en hou aan om te glo terwyl jy geduldig op God wag.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking