26 April 2020

Jy hoef nie bang te wees nie, want God beskerm jou - Ps 91


Datum:26 Apr. 2020 GKE ds. J.G. van der Walt
Skriflesing: Ps. 91
Teksvers: Ps. 91 v 14 & 15
Sing
Ps. 91-1 v 1 & 8
Ps. 119-2 v 10 & 11

In hierdie tyd het ons hoop nodig, want sonder hoop gaan ons nie deur hierdie pandemie kom nie. Soos ons gehoor het gaan hierdie onderstebo wêreld nie op 1 Mei 2020 skielik weer reg wees nie. Die virus is nog steeds met ons en gaan nog steeds ons wêreld negatief beïnvloed.

Ons het hoop nodig. Christene soek hulle hoop by God en vind dit in sy Woord. Ps. 91 is een van die Psalms waaraan Christene vashou wanneer ons deur moeilike tye gaan. Die probleem is egter dat indien ons die Psalm nie reg verstaan nie, kan ons valse hoop daaruit haal.

Daar is drie afdelings in die Psalm: Eerstens vind ons in Ps. 91 v 1 – 4 die belofte dat God ons sal beskerm in tye van gevaar. Tweedens is daar dan in Ps. 91 v 5 – 13 'n paar voorbeelde wat verduidelik hoe die belofte werk en laastens hoor ons in Ps. 91 v 14 – 16 hoe jy die belofte moet verstaan om daarin te kan deel.

1 Belofte dat God ons sal beskerm in tye van gevaar
Die belofte behels basies dat indien jy God vertrou, sal Hy jou beskerm wanneer jy in gevaar verkeer. Die Here gebruik twee beelde om te verduidelik hoe Hy jou sal beskerm.

Die eerste is die beeld van 'n veilige vesting, 'n fort wat jou veilig bewaar wanneer jy deur 'n vyand bedreig word. Die tweede beeld is die van 'n voël wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm wanneer gevaar dreig.

Die boodskap hier is dat jy nie bang hoef te wees nie, want God beskerm jou.

2) Hoe moet ons hierdie belofte verstaan?
In Ps. 91 v 5 – 13 hoor ons nou 'n paar voorbeelde van hoe God jou beskerm. Jy sal beskerm word wanneer 'n vyand jou met geweld bedreig.

Dan is daar ook die voorbeeld wat nogal baie relevant is in ons huidige situasie. Jy hoef nie bang te wees vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Geen plaag sal naby jou woonplek kom nie.

Die Here sal sy engele opdrag gee dat jy selfs nie eers jou voet teen 'n klip stamp nie. Jy hoef nie vir wilde gediertes wat jou lewe bedreig bang te wees nie.

Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Die populêre verklaring wat so sag op die oor val en wat ons so graag aan wil vashou, is dat jy God net genoeg moet vertrou en dan sal niks slegs met jou gebeur nie.

In hierdie tyd sal ons graag aan die belofte wil vashou dat as jy God net genoeg vertrou en jou geloof sterk genoeg is, dan sal jy nie siek word van hierdie virus wat ons lewens so omver gooi nie. Ek is seker dat as ek vanoggend hierdie boodskap met oortuiging so sou oordra, dat daar baie mense sal wees wat baie daarvan sal hou! Ons wil nie siek word van hierdie virus nie en hier is nou die oplossing wat ons gaan beskerm.

Daar is egter so 'n klein probleempie met bogenoemde boodskap. Christene en nie Christene word siek van die virus. Hoe moet ons nou verklaar dat Christene ook siek word van die virus en dat daar selfs Christene is wat sterf as gevolg van die virus?

Die logiese verklaring wat uit bogenoemde boodskap voortvloei is dat die Christene wat deur die virus geïnfekteer word God nie genoeg vertrou en hul geloof nie sterk genoeg is nie. Watse troos lê daar in so 'n boodskap? Kan ons werklik sê dat die Christin wat siek word se geloof nie sterk genoeg is nie?

Die ander ding wat net so relevant is vandag, is die geweldsmisdade teen die plaasboere. Beteken dit dat daardie boere wat aangeval word se geloof nie sterk genoeg is nie? Nee ons kan nie so sê nie !!!!!!!!!!

Dit is wel waar dat God ons beskerm teen onheil en gevaar, maar dit is ook waar dat Hy soms toelaat dat onheil en gevaar oor ons pad kom. Wanneer Hy dit toelaat is dit ook nie noodwendig omdat ons iets verkeerd gedoen het nie.

Dink maar aan Job. Sy drie vriende het hom beskuldig dat hy iets verkeerd gedoen het en dat dit die oorsaak was vir die rampe wat hom getref het. Hulle verklaring was egter nie waar nie en God het hulle bestraf daaroor.

Die ou satan wil graag hê dat ons moet glo dat as jy God net genoeg vertrou en jou geloof sterk genoeg is, dat niks slegs met jou sal gebeur nie. Want hy weet dat daar êrens op jou pad 'n tyd gaan kom waar iets slegs met jou gaan gebeur en as jy bogenoemde boodskap glo gaan dit jou vertroue in God skade aandoen.

Dis dieselfde strategie wat hy gevolg het toe Jesus in die woestyn versoek is. Hy het Ps. 91 v 11 en 12 aangehaal toe hy met die derde versoeking Jesus uitgedaag het om van die tempel se dak af te spring soos ons in Luk. 4 hoor. Jesus se antwoord dat jy die Here jou God nie op die proef mag stel nie, maak dit baie duidelik dat die satan se interpretasie verkeerd is.

Die satan se strategie met die versoeking was om Jesus sover te kry om nie die pad van die kruis te loop nie, want as Jesus nie die pad van lyding deur die kruis heen gevolg het nie, sou die hele mensdom verlore gewees het.

Jesus het egter nie vir die satan se versoeking geval nie en Hy het die pad van lyding deur die kruis gevolg. Jesus het helse smart, pyn en God verlatenheid deurgemaak ter wille van jou en my. Hy weet wat dit beteken om te ly. Hy weet wat dit beteken om deur die satan versoek te word.

Jesus verstaan waardeur ons gaan wanneer ons swaarkry. Hy was daar, Hy weet want Hy was self deur nog swaarder lyding as wat enige mens op aarde ooit sal verduur.

3) Hoe moet ons dan die belofte verstaan sodat ons daarin kan deel?
In Ps. 91 v 14 hoor ons:
“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

Soos wat 'n voel haar kuikens onder haar vlerke beskerm so beskerm die Here die wat Hom liefhet. 'n Voel sal selfs haar lewe gee terwyl haar kuikens veilig onder vlerke beskerm word. Jesus het met sy lewe betaal om ons te beskerm.

Hoe kan ons die Here liefhê? In 1 Joh. 4 v 19 hoor ons dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het en in 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons dat God sy Seun gestuur het omdat Hy ons liefhet. Die bron van ons liefde vir God is Jesus wat vir ons sondes gesterf het. Jou liefde vir God kom na vore wanneer jy glo dat Hy sy Seun gestuur het om te sterf sodat jy kan lewe.

In Ps. 91 v 15 hoor ons die sleutel hoe om die belofte van Ps. 91 te verstaan.
in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red
Die Here sê nie hier dat daar nooit slegte dinge oor jou pad sal kom nie. Wat Hy wel vir ons hier sê, is dat wanneer daar slegte dinge oor jou pad kom, sal Hy daar wees vir jou. Hy sal die pad saam met jou stap.

Deur lyding word ons gevorm om al hoe meer gelykvormig aan Jesus te word. Die belofte is dat self lyding jou nie van die ewige lewe kan weerhou nie, want selfs as jy sou sterf as gevolg van jou lyding hier op aarde, sal jy steeds bly lewe. Die bose sal nie sy doel bereik om jou van God te vervreem nie.

In Ps. 91 v 16 hoor ons dat God vir die wat Hom liefhet 'n baie lang lewe sal gee. Elkeen wat in Jesus Christus glo ontvang die ewige lewe.

Weet daarom dat selfs binne in hierdie lyding wat die pandemie oor ons pad gebring het, dat jy nie alleen is nie. God stap saam met jou en Hy hou jou vas. Niks sal jou van die ewige lewe kan beroof nie.

Onthou dat ook in hierdie krisis, jy nie bang hoef te wees nie, want God beskerm jou.
Amen

22 April 2020

6 Dagstukkies - Soek jou vrede by God wanneer bekommernis, vrees en spanning jou wil oorweldig


Dag 1 Dinsdag 14 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies



Skriflesing: PSALMS 23:4
Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.

Ons is nou amper in die helfte van die verlengde inperkingstyd. Hierdie inperking bied inderdaad baie redes vir spanning, bekommernis en selfs om bang te wees.

In hierdie volgende klompie daaglikse dagstukkies gaan ons stilstaan hoe om deur die donker diepte van ons inperking te kom. Hierdie inperking hou verwoestende gevolge in waar besighede bankrot kan speel en baie mense hul werk en inkomste kan verloor.

Die moontlikheid dat dit verleng kan word, is ook nie uitgesluit nie. Derhalwe is dit belangrik dat ons geestelik sterk moet wees om nie in die greep van angs vasgevang te word nie, want dit is juis in sulke omstandighede wat ons so kwesbaar is dat die ou duiwel sy kans gebruik om jou aan te val.

In Psalm 23 v 4 hoor ons dat ons nie bang hoef te wees wanneer ons deur donker dieptes gaan nie. Die rede daarvoor is dat ons nie alleen daardeur gaan nie. Ons loop nie hierdie pad alleen nie. God loop saam met ons en Hy dra ons wanneer die pad te moeilik raak.

Ons het hierdie afgelope naweek weer die kruisiging en opstanding van Jesus Christus herdenk. Aan die kruis het Jesus die angste van die hel deurgaan en sy uitroep van bange God verlatenheid: “My God, My God, waarom het U my verlaat” gee vir ons die troos dat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

Daarom kan ons ook vir seker weet dat God ook saam met ons deur die donker vallei van hierdie inperking gaan.

In die volgende paar dagstukkies gaan ons dan ook stilstaan by praktiese maniere hoe om hierdie pad saam met God te stap sonder vrees.

Moenie dat die hierdie inperking en die gevolge daarvan jou met vrees en bekommernisse lamlê nie.
Amen
Dag 2 – Verbly jou in die Here

Dinsdag 15 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skriflesing: Fil. 3 v 1
Verder, my broers, wees bly in die Here!
Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie,
en vir julle gee dit sekerheid.
Fil. 4 v 4
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Soos wat die tyd aanstap begin hierdie inperking op jou gemoed werk. As jy nie oppas nie, kan jy maklik in donkerte vasgevang word.

Ons loop hierdie pad egter nie alleen nie. In Joh. 14 net kort voor Jesus se kruisiging belowe Hy dat die Heilige Gees in sy plek sal kom as Trooster om ewig by ons te bly. Aan die kruis net kort voor sy dood het Jesus in bange Godverlatenheid uitgeroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Dit gee vir ons die sekerheid dat ons nooit alleen is in hierdie lewe nie.

In hierdie brief aan die gemeente in Filippie sê die Here vir ons hoe om die pad saam Hom te stap, veral in tye wanneer ons onder beproewing staan.

Paulus skryf hierdie brief terwyl hy in die tronk is. Hy was baie meer ingeperk met baie minder vryhede as wat ons het, selfs te midde van ons eie inperking. Sy kern boodskap in hierdie brief is om in alle omstandighede bly te wees in die Here.

Dis maklik om bly te wees wanneer jy voorspoed in jou lewe geniet. Paulus se opdrag: “verbly jou in die Here” is nie bedoel dat jy bly moet wees omdat dit goed gaan met jou nie. Sy opdrag is juis om jou aan te moedig om te midde van aanvegtinge, verdrukking en swaarkry bly te wees. Dit gaan nie daaroor dat jy die beproewings maar net moet verduur nie, maar dat jy midde in dit blydskap vind.

Die sleutel tot hierdie blydskap is dat jy dit in die Here moet vind. “Verbly jou in die Here.” Met ander woorde draai jou fokus weg van jou omstandighede af na die Here toe.

Die bron van jou blydskap is dat God in Jesus jou so lief het dat Hy ALLES gedoen het om jou te red van die ewige dood. Jesus het vir jou gesterf en Hy het vir jou opgestaan uit die dood sodat jy kan lewe.

Die ou duiwel se doelwit is om jou fokus weg van God af te draai op jou omstandighede. Toe Petrus op die water na Jesus toe geloop het, het hy op die wind en golwe om hom begin fokus en weggekyk van Jesus af. Daarom het hy begin sink en dit is wat met sal gebeur wanneer jy op jou omstandighede fokus, eerder as op ons Here.

As hierdie inperking jou gemoed begin donker maak, draai jou aandag weg van jou omstandighede terug na die Here toe. Die Heilige Gees is by jou. Bid dat Hy al die seëninge wat God vir jou gegee het waarvoor jy dankbaar kan wees, sal wys.

Bid dat Hy jou negatiewe gedagtes oor die sleg van die inperking sal vervang met positiewe gedagtes van dankbaarheid vir al die seëninge in jou lewe. 'n Verder praktiese manier is om te gaan sit en 'n lys te maak van alles waarvoor jy dankbaar moet wees.

Moenie dat hierdie tyd van inperking jou met donkerte vul nie.

Verbly jou in die Here!
Amen

Dag 3 – Fokus op die positiewe wat is en nie op die negatiewe wat mag wees nie.
Woensdag 16 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skriflesing: Fil. 4 v 6-8 Fokusvers: 8
6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Verder, my broers, wees bly in die Here!

In ons dagstukkies het ons gehoor dat God belowe dat ons nie alleen deur Corona Covid19 krisis gaan nie. Hy stap die pad saam met ons. Die Heilige Gees is by jou elke sekonde van elke dag. Die Heilige Gees is jou Trooster in hierdie lewe. Die Heilige Gees wek in jou die behoefte op om die pad saam met God te stap.

In Fil. 4 v 6 & 7 hoor ons dat jy in met jou vrese, bekommernisse en dankbaarheid in gebed tot God moet nader met die troosvolle belofte dat sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, jou lewe sal vul. Daar is egter iets BAIE belangrik wat jy nie moet miskyk nie. Vers 7 sluit af met die woorde: “in Christus Jesus.”

Die enigste manier wat jy kan deel in die troos dat God die pad saam met stap en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie, is dat jy die evangelie moet glo. Jy moet glo dat jy 'n kind van God is omdat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf. Jy moet glo dat Jesus die dood oorwin het en dat sy opstanding die waarborg is dat jy nou 'n nuwe lewe ontvang het.

In hierdie brief aan die Filippense hoor ons hoe om prakties voete op die grond die pad saam met God te stap. Hoe jy hierdie nuwe lewe wat jy ontvang het moet leef.

In Fil. 4 v 8 hoor ons dat jy op die waarheid moet fokus. Dit is hoe jy positief gaan bly in hierdie virus storm waarin ons vasgevang is. Dis negatiewe gedagtes oor wat moontlik verkeerd kan gaan wat jou in die donkerte intrek. Dit is hierdie spiraal van negatiewe gedagtes wat jou sag maak om al die snert en fopnuus te glo wat op leuens gegrond is en dit vul jou gemoed met net nog meer donkerte. So beland jy in 'n bose spiraal wat jou net al hoe dieper in die donkerte intrek.

Moenie op die negatiewe van alles wat moontlik verkeerd kan loop fokus nie. Fokus op die positiewe wat is en nie op die negatiewe wat mag wees nie.
Amen

Dag 4: - Die Here gee vir jou die krag en genade om vandag se probleme te kan hanteer. Môre gee Hy weer krag vir môre se probleem.



Vrydag 17 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies
Skrif: Mat. 6:34; Heb. 4:16

Ons het baie bekommernisse oor wat gaan gebeur as gevolg van hierdie virus en wat die gevolge gaan wees van hierdie inperkingstyd. Dit is reeds eenkeer verleng en die moontlikheid is glad nie uitgesluit dat dit nog verder verleng kan word nie.

Daar is aanduidings dat dit nie heeltemal opgehef gaan word nie, maar dat dit op een of ander manier gaan voortduur na 30 April. Wat gaan die gevolge daarvan wees? Niemand kan verseker sê nie, maar wat almal eens is, is dat dit nie goed gaan wees nie.

Ons natuurlike reaksie is om te bid “Here asb. tog, neem net al hierdie slegte goed van ons af weg. Here laat die lewe asb. tog net weer na normaal terugkeer.”

En dit is nie net met hierdie Korona krisis die geval nie. Dit is eintlik maar met elke moeilikheid wat oor ons pad kom.

Die harde werklikheid is egter dat die Here nie noodwendig die probleme en die gevolge wat daarmee gepaard gaan, wat oor ons pad kom, wegneem nie. Hy kan en doen dit soms, maar meestal neem Hy dit nie weg nie.

Die troos wat die Here wel vir ons gee is dat selfs al word jou grootste vrese bewaarheid, dat jy nie alleen daar deur hoef te gaan nie. Dis hoekom Christus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy nooit weer deur God verlaat sal word nie. Jy is nie alleen in hierdie stryd nie en ons as Christene glo dit.

Tog word ons soms nog steeds oorweldig deur die krisisse wat oor ons pad kom. Die rede daarvoor is dat ons die hele krisis op een slag wil aanvat. Daarmee saam gaan haal ons ook die bobbejaan agter die bult uit met vrese oor goed wat moontlik mag gebeur, wat dalk tog nie sal gebeur nie.

Die Here gee vir ons krag en genade om deur die uitdagings wat Hy oor ons pad bring te oorleef. Hy gee egter net genoeg krag vir dit wat jy vandag moet hanteer. En dit is ons probleem. Ons is so geneig om te wil bekommer oor wat môre ook gaan gebeur.

Luister na wat die Here vir ons in Mat. 6 v 34 hieroor sê:
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”
Die Here gee vir ons krag en genade om vandag se probleem te hanteer.

In Heb. 4 v 16 hoor ons:
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Gaan vra vir krag en genade om die moeilikhede te hanteer en vertrou die Here dat Hy vir jou krag en genade sal gee om elke probleem op sy eie tyd te hanteer.

Hoe eet mens 'n olifant op? Stukkie vir stukkie. Die Here gee vir jou genoeg krag om vandag se stukkie olifant op te eet. Môre sal Hy weer vir jou krag gee om môre se stukkie olifant op te eet.

Moenie jou siek maak met bekommernisse oor alles wat kan gebeur nie. Fokus op vandag. Vra vir die Here krag en genade om van dag te hanteer. Môre sal Hy vir jou weer krag gee om môre se probleme te hanteer.

Amen

Dag 5: - Is jy bereid om op die Here te vertrou?

Dinsdag 21 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skrif: Gen. 12 v 1 - 4; Ps. 37 v 5

Een van die redes hoekom hierdie tyd van inperking so moeilik is, is omdat ons nie beheer het daaroor nie. 'n Mens wil in beheer van sy lewe wees. Ek wil self besluit waarheen my lewe op pad is en wat daarmee gaan gebeur.

In ons moderne samelewing word klem gelê op onafhanklikheid. Ons wil self besluit wat in ons lewens gaan gebeur en ons wil nie voorgesê word wat om te doen nie. Die probleem wat hiermee egter gepaard gaan is dat ons so onafhanklik raak dat ons dink dat ons God nie meer nodig het nie. Is dit nie dalk hoekom so baie mense wegraak uit die kerk uit nie?

In Psalm 37 v 5 hoor ons “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Tot watter mate het ons strewe na beheer ons vertroue op die Here in die wiele gery?

In hierdie tyd van inperking is dit juis hierdie strewe van ‘ek wil in beheer wees’, wat van ons af weggeneem is. Nou word ons voorgesê wat ons mag, en nie mag doen nie. Byvoorbeeld, wanneer jy in die supermark kom, is daar nou skielik sekere items wat jy nie meer mag koop nie. Dis nie dat die items nie meer beskikbaar is nie, maar omdat daar nou 'n regulasie is wat dit verbied. Jy word voorgesê waarheen jy mag gaan en nie mag gaan nie. Ons is nie meer in beheer nie.

Hierdie pandemie het dit wat bekend was in ons lewens omgekeer en die pad vorentoe lyk onbekend. Ons weet nie werklik wat wag nie en waarheen is ons op pad nie. Ons is nie in beheer nie!

In Gen. 12 v 1 hoor ons van Abraham wat ook op pad was die onbekende in.
“Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”

In Gen. 12 v 4 hoor ons dat Abraham toe weggetrek het die vreemde in. Wat het hom sover gebring om die Here te vertrou en te gehoorsaam? Hy het vertrou dat die Here sy belofte van seën sou nakom.

Abraham se vertroue in die Here het die wêreld geskiedenis verander. Uit sy nageslag is Jesus gebore wat gekom het om die wêreld van hulle sondeslawerny te verlos. Die Here het sy belofte van: “In jou sal die volke van die aarde geseën wees,” nagekom.

Is jy bereid om die Here te vertrou? As jy in Jesus glo dan moet jy weet dat die Here saam met jou die onbekende toekoms ingaan. Die sekerhede wat ons gehad het, was eintlik maar net 'n illusie, want daar is niemand wat met sekerheid kan sê wat die toekoms inhou nie. Met hierdie pandemie het die Here net weer die waarheid daarvan bevestig.

Is jy bereid om God te vertrou met die pad wat Hy vir jou uitgelê het? As jy in Jesus glo, kan jy verseker weet dat die Here net jou beste belang op die hart dra en dat Hy jou sal dra deur die onsekerhede van wat die toekoms inhou, want as jy in Jesus glo is jy 'n kind van die Here. Dit is jou geloof in Jesus, (dat Hy vir jou sondes gesterf het sodat jy weer met God versoen kan word,) wat die fondament van jou vertroue op die Here is.

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Amen

Dag 6: - Wanneer vrees en onsekerheid dreig om jou te oorweldig, onthou dat God jou liefhet en dat Hy vir jou sorg.

Woensdag 22 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skrif: Mat. 10 v 29 – 31; 1 Joh. 4 v 9

Hierdie tyd van inperking is vol onsekerhede en onsekerheid voed vrees. Dit is 'n natuurlike neiging om te verwag dat iets slegs gaan gebeur en in tye van onsekerheid kom hierdie verwagting soveel te meer na vore.

Die bron van hierdie geneigdheid lê daarin dat ons vergeet van God se goedheid en sorg. Voel jy vandag onseker en bang oor wat die toekoms gaan inhou? Kom luister dan net weer hoe kosbaar jy vir God is en hoe besorgd Hy oor jou is:
Mat. 10 v 29 - 31
“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Dit is nodig dat ons gereeld herinner word aan hoe lief God ons werklik het. Net soos wat jy gereeld vir jou geliefde sal sê en wys deur jou optrede dat jy hulle lief het, herinner God ons deur sy Woord hoe lief Hy ons het. Daarom is dit nodig dat jy elke dag tyd saam met God spandeer om uit sy Woord te hoor hoe lief Hy jou het. Luister bietjie weer na 1 Joh. 4 v 9:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Wanneer vrees en onsekerhede jou wil oorweldig, onthou dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur het om vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout te sterf sodat jy kan lewe. Met sy oorwinning oor die dood gee Jesus vir elkeen wat in Hom glo die ewige lewe. Al wat jy moet doen om die ewige lewe te ontvang is om in Jesus te glo, te glo dat Hy vir jou sondes gesterf het sodat jy weer met God versoen kan wees.

Wanneer ons van die ewige lewe hoor dan dink ons eerste daaroor dat dit beteken dat ons in die hiernamaals ewig saam met God gaan wees waar daar geen hartseer, trane, pyn of dood meer sal wees nie. Dis 'n lewende hoop waaraan ons moet vashou.

Die probleem kom dikwels in dat ons vergeet dat die ewige lewe baie meer as dit is. Die ewige lewe beteken ook dat God reeds in hierdie lewe saam met jou is en dat Hy vir jou meer nog sorg as wat Hy vir die mossies sorg. Die ewige lewe gaan nie bloot net daaroor om vas te klou aan die hoop en vrede wat ons eendag sal hê nie. Dit gaan om aanváárding van hoe geliefd ons nou is.

As die vrees en bekommernis in hierdie inperkingstyd dreig om jou te oorweldig, onthou God se liefde en sorg, want sy volmaakte liefde dryf alle vrees uit.
Amen

19 April 2020


Die Here voorsien elke dag genoeg vir dit wat jy nodig het vir vandag.
Datum:19 Apr. 2020 GKE
Skriflesing: Eks. 16 v 1 - 30
Teksvers: Eks. 16 v 4


Inleiding:
Hierdie staat van inperking en alles wat daarmee gepaard gaan kan oorweldigend wees. In die begin was dit so 'n bietjie van 'n uniekheid. Iets nuuts wat ons wou uitprobeer. Amper so 'n tipe opgewondenheid, maar soos die tyd aanstap raak dit moeiliker.

Die anderste nuutheid is nou afgeskuur. Dis nie meer interessant nie en die werklikheid van wat die gevolge kan wees dring al hoe meer tot ons deur. Die alleenheid begin mense vang, veral hulle wat op hul eie ingeperk is. Mens smag so bietjie na ander se geselskap.

Hoe hanteer mens dit?

In hierdie verhaal van Israel wat deur die woestyn op pad na die beloofde land was nadat die Here hulle van die Egiptiese slawerny bevry het, gee vir ons 'n paar antwoorde.

Die opgewondenheid om uit Egipte weg te kom het nou al bietjie afgewater geraak. Dit was nie meer vir hulle lekker nie. Boonop begin hulle kos ook minder begin raak.

In 'n sekere sin is ons situasie baie soortgelyk aan wat die Israeliete se situasie was daar in die woestyn en daarom kan ons uit hierdie verhaal 'n paar beginsels kry oor hoe om ons eie situasie te hanteer.

Daar is drie aspekte wat in hierdie verhaal na vore kom. Eerstens God sorg vir ons. Tweedens In sy sorg gee God genoeg vir elke dag en derde beginsel is dat ons ook 'n verantwoordelikheid het.

1) God sorg vir ons:
Die volk het 'n probleem gehad. Hulle kos het begin min raak. In hul reaksie op die probleem leer ons hoe ons nie moet reageer nie.

In hulle reaksie het begin kla en opstandig raak. Hulle was vol verwyte, soveel so dat hulle begin terug verlang het na Egipte waar hulle as slawe geleef het!

Ten diepste was hul opstand nie teen Moses en die ander leiers nie, dit was opstandigheid teen God en daarom het hulle besluit om sake in eie hande te neem. Hulle het as te ware hulle stemme dik gemaak teenoor God.

Dit sê vir ons hoe ons nie moet reageer oor ons huidige situasie nie. Om te kla en opstandig te wees, hoort nie by kinders van God nie. Hoe moet ons dan reageer? Israel moes vir Here gevra het met die erkenning dat hulle alleen van Hom afhanklik was vir versorging.

Dit is wat ons moet doen. Kom na God toe met jou vrese en bekommernisse, maar doen dit in die regte gesindheid. Vra vir Hom omdat jy van Hom afhanklik is met die wete dat Hy sal sorg. Moenie met 'n baklei gesindheid kom om God te probeer dwing nie.

Israel se groot probleem was dat hulle nie vertrou het dat God vir hulle sou sorg nie. Hulle moes leer dat die Here vir hulle sou sorg en daarom het Hy ook spesifieke voorskrifte gegee oor die manna waarmee Hy hulle versorg het, sodat hulle sou leer om op die Here alleen te vertrou.

In hierdie verhaal sien ons ook hoe groot God se genade is. Ten spyte van Israel se murmurering, het Hy vir hulle gesorg. Sy sorg berus op sy besluit om te sorg. Dit berus nie daarop dat jy moet bewys dat jy goed genoeg is nie. Dis wat genade is. God gee sonder dat jy verdien. Eintlik is dit dat God gee ten spyte daarvan dat jy nie verdien om te ontvang nie!

Hier sien ons ook hoe groot God se sorg werklik vir ons is. Die brood wat die Here vir Israel gegee het, wys profeties heen na Jesus Christus. In Joh. 6 v 51 hoor ons:
Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Brood is ook een van die tekens van Nagmaal. Die brood is 'n teken van Jesus se liggaam en die wyn 'n teken van sy bloed wat gestort is toe Hy sy lewe vir ons gegee het sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal ontvang.

Die ewige lewe is nou reeds jou deel. Dit is nie iets wat jy eers eendag daar ver gaan ontvang nie. Die ewige lewe is dat God nou reeds deel is van jou lewe en dat Hy die pad saam met jou stap omdat jy sy kind is. Hy los jou nie alleen nie en daarom moet jy weet dat jy ook in hierdie krisis waardeur ons nou gaan, nie alleen is nie.

God sorg vir jou. Hy sorg dat jy lewe in hierdie lewe, maar ook in die lewe wat kom na jou dood.

2) Die tweede beginsel wat ons in hierdie verhaal leer is dat God in sy sorg vir jou genoeg gee vir elke dag.

Die manna wat Israel opgetel het, was genoeg vir elkeen volgens sy behoefte vir daardie dag. Ook hierin moes die volk leer om die Here te vertrou. Hulle moes net genoeg vir elke spesifieke dag optel, want as hulle meer opgetel sodat hulle ook vir die volgende dag sou hê dan het dit daarop neergekom dat hulle nie vertrou het dat die Here môre weer sou voorsien nie.

Die Here gee vir ons genoeg om deur elke dag te kom. In Jesus het ons die ewige lewe ontvang. God is saam met jou vir elke dag. Hy gee vir jou dit wat jy nodig het om deur vandag te kom.

Ons probleem is dikwels dat ons so bekommer oor als wat gaan gebeur dat ons vergeet om vir vandag te leef. Verder bekommer ons te veel oor wat moontlik kan gebeur. In Mat. 6 v 34 sê Jesus vir ons:
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Daarom leer Jesus ons ook om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Met ander woorde gee vir ons dit wat ons vir vandag nodig het.

Elkeen wat in Jesus glo ontvang die ewige lewe. Dit beteken dat die Here reeds in hierdie lewe elke dag saam met jou gaan en dat Hy vir jou genoeg krag sal gee om deur elke dag te kom.

Daar is ook 'n uitsondering gewees op die daaglikse versameling van manna. Op die sesde dag moes hulle genoeg vir twee dae versamel sodat hulle die volgende dag kon rus.

Ook die Sabbat van die Ou Testament het profeties heengewys na die rus wat ons in Jesus Christus vind. Die Here gee vir ons geleentheid om te rus deur jouself net los te maak van jou dag tot dag doen en late en stil te word saam met Hom. Ook om deur Hom gevoed te word ook die erediens.

Hierdie tyd van inperking kan maklik te veel word wanneer jy dit alles op een slag wil hanteer. Dan kan ons gedagtes maklik met ons weghardloop om bobbejane agter die bult te gaan haal wat dalk nie eers daar gaan uitkom nie. Dikwels maak ons 'n berg van 'n molshoop deur onnodig te bekommer oor dinge wat dalk net kan gebeur.

God is daar en Hy sal jou nooit alleen laat nie. Hy sal vir jou die krag gee om deur hierdie dag te kom. Leef hierdie dag saam met Hom en moenie toelaat dat môre se bekommernisse jou van vandag se vreugdes beroof nie. Maak gebruik van die rus wat Hy in Jesus vir jou gee om ook in die eredienste deur Hom gevoed te word.

3) Die derde beginsel wat ons in hierdie verhaal leer, is dat jy ook 'n verantwoordelikheid het.
Die Israeliete moes elke dag uitgaan om manna vir die dag op te tel. As hulle nie manna gaan optel het nie, dan het hulle vir daardie dag nie kos gehad nie.

Jy het ook 'n verantwoordelik om na God te kom om gevoed te kan word met die hemelse Brood sodat jy daardeur krag kan ontvang vir die dag. Soms word ons oorweldig deur die lewe omdat ons nie ons hemelse Brood gaan haal nie. As hierdie inperking en alles wat daarmee gepaard gaan te veel word vir jou, is dit moontlik omdat jy jouself verhonger omdat jy nie elke dag die krag van die hemelse Brood gaan haal het nie.

Maak elke dag tyd om stil te word in gebed saam met God. Maak elke dag tyd om gevoed te word deur sy Woord. Luister na God se stem in die Bybel.

Samevatting:
God sorg vir jou. Hy loop elke dag die pad saam met jou. Fokus daarop om elke dag vir daardie dag te lewe met die vaste vertroue dat God vir jou genoeg krag sal gee vir daardie dag. Moenie dat bekommernisse oor môre jou van vandag se vreugdes beroof nie. Kom jou verantwoordelikheid na om elke dag na God toe te kom sodat jy met die hemelse Brood gevoed kan word.

Die Here voorsien elke dag genoeg vir dit wat jy nodig het vir vandag.
Amen