Wys tans plasings met die etiket troos. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket troos. Wys alle plasings

20 Julie 2025

In die arms van God


 Datum: 20 Jul. 2025 GK BSH & RB – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 131

Teksvers: Ps. 131 v 2

Wat maak jy wanneer die lewe jou omdop? Wat maak jy wanneer die lewe nie meer sin maak nie? Wat maak jy wanneer jy die middelpunt van ’n lewens storm word? Ons sien hoe mense deur krisisse gaan, maar dit is anders wanneer die lewenskrisisse aan jou deur klop. Wanneer die dokter vir jou sê “jammer......”. Wanneer jy die oproep kry oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie.

Dit is nie net swaarkry wat die lewe moeilik maak nie. Soms raak jy so vasgevang in die gang van die lewe, dat jy jouself verloor. Nog ’n dag, nog ’n afspraak in jou besige lewe.................

Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewens-veranderende perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is.

Die Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.

Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.

Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Dit is juis omdat jy so kosbaar vir God is dat Hy wil hê dat jy van jouself af moet wegdraai.

Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met jou.

Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee. Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.

Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe self te beheer.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.

Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie siekte gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word? Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?

Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Ons wil in beheer wees van ons lewens. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan of beheer nie.

In Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:

die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.

Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet, al lyk dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.

Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God gaan soek.

Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak

Dit is 'n aktiewe aksie waar jy die fokus van jouself af wegneem en dit op iets groters as jy plaas. Waar jy van jouself af wegkyk en kyk na God in jou lewe. Waar jy besluit om jou volle vertroue op God te plaas. Waar jy besluit om jou deur die Heilige Gees te laat lei.

Maar ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen, sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed veroorsaak, omdat jy dit nie gaan regkry nie.

Maar hoe moet jy dit dan doen?

Dawid gebruik hier die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.

Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:

soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe.

Dan gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.

’n Kind wat nog nie gespeen is nie, se fokus is om gevoed te word en die onmiddellike tevredenheid wat hy by sy moeder kan vind. Die hooffokus is om sy onmiddellike behoeftes te bevredig. Dit gaan oor dit wat die kind by sy moeder kan kry eerder as wat dit om haar as persoon gaan.

’n Kind wat gespeen is aan die ander kant, omhels sy moeder uit 'n begeerte na liefde, nabyheid en geselskap. Dit gaan hier vir die kind om die ma as persoon eerder as om dit wat hy by haar kan kry.

God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek.

Nie vir dit wat God vir jou kan gee nie, maar omdat Hy God is. Jy vind vrede en geluk by God, nie omdat Hy moeilike omstandighede wegvat nie, maar juis omdat Hy teenwoordig is in jou lewe.

In 2 Kor. 12 v 7 - 9 hoor ons hoe Paulus vir die Here vra om ’n moeilike omstandigheid uit sy lewe weg te vat, maar die Here het gesê: “Nee! My genade is vir jou genoeg.”

Dis die teenwoordigheid van God en sy genade in jou lewe wat vir jou rus en vrede gee. Ware gemoedsrus is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit is die teenwoordigheid van God!

As jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in
Joh. 1 v 12 hoor:

Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom. Om God op te soek vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy vir kan doen nie. Soek na die teenwoordigheid van God in jou lewe. Bid dat die Heilige Gees ’n werklikheid in jou lewe sal wees. Om toe te laat dat die Heilige Gees jou lei.

Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die arms van God. Dan is dit nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.

Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy by God vind:

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is. Wag op die Here beteken om te aanvaar dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie.

Wag op die Here is die vaste vertroue dat Hy jou sal dra deur die storm. Dit is om vas te glo dat Hy jou beste belange op die hart dra, self wanneer Hy nie die moeilike omstandighede wegneem nie. Wag op die Here is om steeds te vertrou dat God in beheer is, selfs wanneer dit nie vir jou lyk of die lewe sin maak nie.

Wag op die Here beteken ook dat jy vas en seker glo dat wanneer jy hierdie lewe verlaat, jy ewig saam met God sal wees waar daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.

Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan en beheer in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God.

Glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.

Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Dis net in die arms van God waar jy rus en vrede sal vind. Gaan soek na rus vrede in die arms van God.

Amen


04 Mei 2025

Psalm 23

Lees ook Joh. 10 v 1-21 hiermee saam.

       Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie Herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

       In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 sê hy wat die gevolge van die Here se sorg is.

       Hierdie Psalm was vir Dawid ’n groot vertroosting. Hoe kan jy die vertroosting van Ps. 23 ook jou eie maak? Hoe kan jy ook met sekerheid sê die Here is my Herder en ek kom niks kort nie?

       Dit is alleen maar moontlik omdat daar ’n persoon was wat alles kortgekom het. Selfs sy enigste aardse besittings naamlik die klere aan sy lyf is onder die soldate uitgeloot.

       Hy het geen rus en vrede geniet in die groen weivelde langs die stille waters nie. Al wat Hy gekry het om sy dors mee te les was ’n klein bietjie bitter asynwater.

       Daar was vir Hom geen beskerming toe Hy deur die vallei van die dood moes gaan nie en in bange Godverlatenheid moes Hy uitroep :
’My God, My God, waarom het U my verlaat?”

  In Joh. 10v10b-11 sê die Here vir ons:

10b Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

       Elkeen wat in Jesus Christus glo kan net soos Dawid ook troos vind in Ps. 23 soos die gelowiges trouens deur al die eeu al gedoen het. Hierdie troos is egter net vir diegene wat glo in Jesus Christus. As jy nie in Jesus Christus glo nie, kan jy geen aanspraak op die troos van Psalm 23 maak nie.

       In vers 1 begin Dawid met ’n persoonlike belydenis. Die Here is my Herder en daarom kom ek niks kort nie. Die enigste manier om hierdie belydenis ook op jou persoonlik van toepassing te maak is om te glo in die verlossingsdaad van Jesus Christus aan die kruis en dat Hy die dood oorwin het.

       Kan jy met volle vertroue en eerlikheid vanoggend saam met Dawid sê: Die Here is ook my Herder?

       As jy dit nie kan doen nie, dan het jy nog nie by die hek van die skaapkraal uitgekom nie. (vgl. Joh. 10v1)

Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower.

Dan is dit nodig dat jy die volle betekenis van

Joh. 10 v 7-9 moet leer ken:

7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.     

In vers 2 beskryf Dawid die absolute rustigheid wat Hy ervaar in die teenwoordigheid van die Here:

Hy laat my neerlê in groen weivelde;

na waters waar rus is, lei Hy my heen.

In die teenwoordigheid van die Here is daar rus en vrede weg van die dolle gejaag van ons daaglikse lewens.

In vers 3 hoor ons hoe die Here aan Dawid nuwe lewe gee:

Hy verkwik my siel;

Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Hierna wys die Here vir Dawid wat die regte pad is sodat hy die nuwe lewe wat die Here vir hom gegee het, ten volle kan geniet.

       Geniet jy ook die rustige teenwoordigheid van die Here in jou lewe? Of is die sorge van die lewe vir jou soos die droë Vrystaatse grasstoppels wat in ’n erge droogte vasgevang is?

       Is jou lewe soos ’n rustelose Oranje rivier wat besig is om vloed af te kom? Verlang jy ook na die vrede en gemoedsrus van groen weivelde en die waters van rus by die Here?

       As jy nog nie by hierdie groen weivelde en stil rustige waters uitgekom het nie, moet jy vir ’n slag weereens luister na Jesus se uitnodiging in Mat. 11v28:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

       In vers 4 sien ons hoe groot Dawid se vertroue in die Here werklik is. Selfs in die aangesig van uiterste lewensgevaar en selfs in die aangesig van die dood, vertrou Dawid die Here tot so ’n mate hy geen onheil vrees nie. Hy het ’n absolute vertroue daarin dat die Here hom teen elke gevaar en selfs teen die dood sal beskerm.

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

       Kan jy ook soos Dawid met sekerheid sê dat geen onheil jou sal tref wanneer jy deur donker dieptes gaan?

       Is jy ook seker van die Here se teenwoordigheid te midde van die skadu’s van die lewe wat oor ons hang?

       Volg jy die leiding van ons Herder wanneer jy in die werklikheid van siekte vaskyk, veral daardie siektes waar daar geen werklike genesing voor is nie?

       Vind jy skuiling by die Here wanneer jou huwelik deur hewige storms geteister word?

       Vind jy vertroosting by die Here wanneer jy met die dood gekonfronteer word?

       Het jy vrede met u eie sterflikheid? Verstaan jy dat jy nie meer vir die dood hoef bang te wees nie? Verstaan jy dat die dood vir die wat glo nie meer `n verskriklike einde is nie, maar dat dit `n heerlike deurgang is na die volgende fase waar jy ewig saam met God sal wees?

Indien jy nog twyfel, moet jy weer by Joh. 10v10b  uitkom:

       Ek (Jesus) het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Dan is dit nodig dat jy presies moet verstaan wat Jak. 1v2 vir jou beteken:

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom

       Dan is dit nodig dat jy verstaan dat die Here nie noodwendig die moeilike tye in die lewe van ons af weghou nie, maar dat Hy ons in alle omstandighede nooit alleen laat nie.

       Jy moet verstaan dat Jesus bange Godverlatenheid ervaar het sodat elkeen wat in Hom glo nooit deur God verlaat sal word nie.

Dan sal jy ook in vertroue die Here kan volg vgl. Joh. 10v40:

Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

In vers 5 sien ons dat Dawid nie alleen net vertrou dat die Here vir hom rus sal gee en hom sal beskerm teen gevaar nie. Hy vertrou ook dat die Here vir hom sal sorg in oorvloed.

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;

U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Beleef jy ook die oorvloed van God se genade in jou lewe?

Verstaan jy hoe groot sy genade vir ons werklik is?

Verstaan jy dat daar niks in hierdie lewe is wat ons kan doen om die Here meer van ons te laat hou nie? Of dat daar ook niks is wat ons kan doen dat Hy minder lief vir ons sal wees nie?

Besef jy dat jy met jou goeie werke niks van God se guns kan verdien nie?

       As jy nog sukkel om uit die oorvloed van God se genade te leef dan is dit nodig dat jy weer eens God se vertroosting van Ef. 2v8-10 jou eie moet maak:

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In vers 6 bely Dawid dat dit in die teenwoordigheid van die Here net goed met hom sal gaan, selfs wanneer hy in gevaar is en dat die Here op grond van sy troue verbondsliefde vir hom sal sorg.

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;

en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is jy seker van jou ewige bestemming of twyfel u soms daaroor?

Indien jy nog twyfel, is dit nodig dat jy weereens seker maak van die vaste sekerheid wat die Here vir ons in sy Woord gee vgl. byvoorbeeld Hand. 16v31:

“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

of Rom. 5 v 9-10 om maar net enkele voorbeelde te noem:

9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 

10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 

As jy aan die soenverdienste van Jesus Christus vashou met die geloof wat God gee, kan jy ook met sekerheid weet dat Open. 21v3 vir jou waar sal wees, nou in hierdie bedeling en ook in die toekomstige bedeling na die wederkoms van ons Here:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

Dan sal jy ook saam met Dawid kan bely:

ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is die HERE jou Herder?

Amen

  

09 Maart 2025

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?



Skriflesing Rom. 1 v 16 – 32 ; (TV Rom. 1 v 17) en Sondag 1 Heidelbergse Kategismus. (geplaas aan die einde van die preek. lees dit saam met die skrifgedeelte hierbo genoem)

Die lewe is nie maklik nie.

'n Druppel gal is in die soetste wyn;

'n traan is op elk' vrolik' snaar,

in elke lag 'n sug van pyn,

in elke roos 'n dowwe blaar.

Hierdie woorde van Eugene Marais is so waar! Daar is maar altyd ’n kinkel in die kabel.

 Hoekom?

 Hoekom moet die lewe so moeilik wees? Hoekom moet daar altyd iets verkeerd loop?

God sê vir ons hoekom, geliefdes. In Rom. 8 v 20 hoor ons:

Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.

Hoekom het God dit gedoen? Hy sê vir ons hoekom geliefdes. In Rom. 1 v 18 hoor ons:

God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.

Ons sonde is die oorsaak dat God die Skepping aan die verydeling onderwerp het, geliefdes.

En dit is net hier waar die probleem inkom, want dit is nie in ons aard om verantwoordelikheid te aanvaar nie. Toe God vir Adam en Eva oor hulle rebelse opstand gekonfronteer het, het beide skuld ontken. En niks het verander nie. Die mens weier nog steeds om verantwoordelikheid te aanvaar. Ons leef in ’n wêreld wat verkondig, die mens is inherent goed.

Maar dit is nie so nie geliefdes! In Rom. 1 v21 hoor ons dat alhoewel die mens weet wie God is, eer en dank hulle Hom nie as God nie.

Dit is hier waar die kern van die probleem lê, geliefdes. Die algemene opvatting is dat sonde eintlik nie so erg is nie, maar ons kyk die wortel van die probleem mis, wanneer ons so redeneer geliefdes. Ons is so geneig om die ernstigheid van sonde af te maak. Sonde is nie maar net dat ons een of ander reël oortree het nie.

In sy diepste wese, is sonde opstand teen God soos ons in Rom. 1 v 23 hoor:

In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange

Die wortel van sonde lê daarin dat die mens iets anders in die plek van God stel. Moenie julle blindstaar teen die afgode wat in die Bybel genoem word nie. Ons het ons eie afgode, rykdom, aansien eer en die grootste afgod wat daar is, is die eie ek.

Die dieptepunt van sonde is dat jy van die Bron van lewe afgesny word en die gevolge is verskriklik. Wanneer jy van die Bron van lewe, d.w.s. God afgesny word is die enigste alternatief die ewige dood. Ons leef in ’n wêreld wat die werklikheid van die hel en satan ontken. Die gevolg is dat ons ernstige gevolge van sonde miskyk.

Dit is eers wanneer jy die ernstige gevolge van jou sonde besef, dat jy verstaan dat jy Troos nodig het.

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Die wêreld vertel jou, dat jy jouself kan red. Vir elke onderwerp is daar verskeie selfhelp boeke beskikbaar. Volg net stappe een, twee en drie en siedaar, jou probleem is opgelos!

Maar die hartseer werklikheid is dat jy jouself nie kan help nie, want maak nie saak wat jy doen nie, jy bly steeds gebonde aan die vloek van die sonde. Jy kan jouself nie red nie, want jy is van nature geneig om God en jou naaste te haat.

Daar is net een uitweg. Jy moet glo in die Goeie Nuus. Jy moet die Evangelie glo dat Jesus vir jou met sy bloed d.w.s met sy lewe betaal het. Hy het met sy kosbare bloed vir al jou sondes ten volle betaal en jou uit alle heerskappy van die duiwel verlos, soos Die Here ook vir ons in Rom. 1 v 17 sê:

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Jesus het die verskriklike gevolge van die sonde oorwin. Hy het met sy lewe aan die kruis daarvoor betaal, maar Hy het ook die gevolge van sonde tot niet gemaak met sy opstanding. Hy het die vloek van die sonde dood oorwin.

Wat is jou troos geliefdes? Die troos is dat jy kan lewe, dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie, maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Beteken dit dat God nou die swaarkry in hierdie lewe gaan wegvat? Nee geliefdes. Soms neem Hy wel ’n struikelblok uit jou weg, maar nie altyd nie. In hierdie lewe bly die vloek van verydeling steeds daar. Dit is eers in die volgende bedeling, God sê ewigheid waar ons verlos word van die verydeling wat hierdie lewe kenmerk. Wat wel waar is, is dat jy nie meer alleen is nie. God is by jou en wanneer die lewe te swaar rak, dra Hy jou.

Jou troos is dat jy in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort. Die Here sê vir ons in Rom. 1 v 17 “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” En daarom bely ons ook “Hy verseker my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Wat beteken dit om vir God te lewe? Die duiwel probeer ons oortuig dat ons nou die “lekker” dinge in die lewe moet prysgee wanneer ons vir God begin lewe. MOET HOM NIE GLO NIE! Onthou, hy is ’n liegbek! Dit is sy manier van die begin af. Daar in die paradys het hy met leuens vorendag gekom en hy doen dit nog steeds! Hy het nie sy strategie verander nie, want dit werk so goed!

Kom ons kyk wat is hierdie “lekker” dinge wat jy moet prysgee. In Rom. 1 v 28 hoor ons dat dit al die dinge is wat onbetaamlik is. En in Rom. 1 v 29 hoor ons dat hierdie onbetaamlike dinge beslis nie lekker is nie.

Dit is ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Verder is dit ook skinder en kwaad praat; haat teenoor God, hooghartigheid, aanmatigendheid en verwaandheid. Dit is ook om kwaad uit te dink, ongehoorsaam aan hul ouers en om onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig te wees.

Wat gee God in die plek van die satan sê “lekker” dinge? Hy gee vir ons sy liefde soos ons hoor in 1 Joh. 4 v 19. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

In teenstelling met die onbetaamlikhede gee liefde vir ons die volgende soos ons in 1 Kor. 13 v 4 - 7 hoor:

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

 

Wanneer jy vir ander mense begin omgee, weet dit is God sê liefde wat Hy in jou ingeplant het wat in jou werk. Wanneer jy God sê liefde begin uitleef dan leef jy vir God. Dan begin jy die doel bereik wat God vir jou gegee het.

 

Slot

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Jou enigste troos is dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie, maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

 

Wat moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Drie dinge.

Ten eerste, hoe groot jou sonde en ellende is. Jy moet verstaan wat die verskriklike gevolge van die sonde is, naamlik die hel, d.w.s om ewig van God geskei te wees.

ten tweede;  hoe jy van al jou sonde en ellende verlos word. Jy moet die Evangelie glo, die Goeie Nuus dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Jy moet glo dat Hy vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy opgestaan het uit die dood en daardeur vir jou die ewige lewe gee.

en ten derde hoe jy God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees. Jy moet die liefde wat God deur die Heilige Gees in jou geplant het leef.

Amen 


Heidelbergse Kategismus - Sondag 1.

Vraag:  Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c).  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e).  Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g).  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h).  Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

(a) Rom 14:8.  (b) 1 Kor 6:19.  (c) 1 Kor 3:22;  Tit 2:14:  (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7;  2:2, 12.  (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8;  Joh 8:34-36.  (f) Joh 6:39;  10:28;  2 Tess 3:3;  1 Pet 1:5.  (g) Matt 10:30;  Luk 21:18.  (h) Rom 8:28.  (i) 2 Kor 1:22;  5:5;  Ef 1:14;  Rom 8:16.  (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:

2  Vraag:  Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord:  Drie dinge (a):  Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b);  ten tweede;  hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).

(a) Matt 11:28-30;  Ef 5:8.  (b) Joh 9:41;  Matt 9:12;  Rom 3:10;1 Joh 1:9;10.  (c) Joh 17:3;  Hand 4:12 10:43.  (d) Ef 5:10;  Ps 50:14;  Matt 5:16;  1 Pet 2:12;  Rom 6:13;  2 Tim 2:15:


26 Januarie 2025

Hou moed want God is in beheer - Openbaring 7:3-13

 

Sondag 13 Jul. 2025

Tema: Hou moed want God is in beheer.

Skriflesing Open. 3 v 7 - 13 Teksverse Open. 3 v 11


Hou moed want God is in beheer.

Dit is die boodskap wat die HERE vandag vir ons uit sy Woord uit bring.

Wat is die pad vorentoe vir ons gemeente? Wanneer ons na ons situasie kyk kan ons met reg vra: “Is die kerk nog relevant in vandag se samelewing?” Gemeentes word al kleiner en al hoe meer mense maak hulself los van die kerk en die samelewing is selfs vyandig gesind teenoor die kerk.

Die norme en waardes wat die kerk voorhou word as belaglik afgemaak. Dit voel of die moderne mens die kerk ontgroei het en dit maak dat ons wat nog kerk is maklik moedeloos kan word.

Wanneer ons terugkyk na die geskiedenis van die kerk dan sien ons dat die kerk dikwels swaar gekry het. Daarom het God in sy Woord ook vir ons die boek Openbaring gegee om sy kerk te bemoedig in tye van swaarkry.

Die sewe briewe in Openbaring is in die eerste plek gerig aan die sewe gemeentes in Klein Asië, maar dit is ook gerig aan die kerk van alle eeue en daarom gaan ons vandag luister na die brief wat aan die gemeente in Filadelfia gerig is want dit spreek tot ons situasie.

Lees Open. 3 v 7 tot 13.

Die boodskap aan Filadelfia

7Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia:

So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

9Kyk, ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg—kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

 Filadelfia was ’n gemeente van gelowiges wat hulle nie van stryk laat bring deur Joodse of heidense invloede nie en daarom het hulle saam met Smirna ook nie ’n vermaning ontvang soos die ander vyf gemeentes nie.

Albei gemeentes het egter deurgeloop onder Joodse intimidasie in hul alledaagse lewe, maar dit het hulle nie van hulle belydenis laat afsien nie dat Christus die Seun van God is en dat Hy saam met die Vader en die Heilige Gees die enigste ware God is.

In die brief inleiding hoor hulle dat hierdie brief van Christus wat hulle as ware God bely, afkomstig is. Dit is vir hulle iets kosbaars waaraan hulle kon vashou.

Die gelowiges in Filadelfia was deur die Jode uitgesluit uit die sinagoge met die implikasie dat hulle uit die hemelryk ook uitgesluit is. Hier bevestig Christus dat Hy alleen toegang tot die hemelryk kan gee. Die Jode wat hulle so teenstaan kan hulle nie uit die hemelryk uit sluit nie.

In Open. 3 v 8 hoor ons:

8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

Filadelfia het aan die ware evangelie vasgehou en daarom is die hemelryk vir hulle oopgesluit.

Kan julle insien hoe belangrik dit is dat ons aan die Gereformeerde leer vashou en hoe kosbaar ons belydenis is? Dit is ons geloof dat Jesus ons enigste Verlosser en Saligmaker is wat vir ons die deur oopsluit na ewige saligheid saam met God.

Daar is soveel dwaalleer daarbuite en dit kom verskuil met slinksheid wat dit soos die waarheid laat klink. Hou vas aan die Gereformeerde leer waar ons bely:

  • Sola Scriptura –die Skrif alleen
  • Sola Gratia –Genade alleen
  • Sola Fidé –Geloof alleen
  • Solus Christus –Christus Alleen
  • Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer

Dan sê Jesus vir hulle: “Ek weet dat julle min krag het.”

Die gemeente in Filadelfia was ’n klein gemeente binne die samelewing en dink net wat dit vir hulle beteken het dat Christus dit vir hulle gesê het.

Wat sê Hy vir hulle wanneer Hy sê: “Ek weet dat julle min krag het”? Hy sê vir hulle: “Ek verstaan julle situasie. Ek weet hoe moeilik dit vir julle is. Moenie moedeloos word nie!”

Geliefdes, God praat met ons deur sy Woord en Christus sê vanoggend vir ons gemeente: “Ek weet dat julle min krag het. Ek weet hoe klein julle geword het. Ek verstaan julle situasie. Moenie moedeloos word nie! Hou aan met die werk waarvoor Ek julle geroep het. Hou aan om die Goeie Nuus van Jesus Christus aan die wêreld te verkondig.”

In Open. 3 v 9 hoor ons dat daardie Jode wat die gelowiges in Filadelfia so teengestaan het nie die volk van God is nie. Dit is net diegene wat Jesus Christus as ware God bely wat die ware volk van God is. Verder hoor ons ook dat daardie valse Jode sal bely dat God die gelowiges liefhet.

Daar is soveel mense wat Christus verloën en wat die spot met die gelowiges dryf wat in Hom glo. Jesus sê vir ons dat elke knieg voor Hom sal buig omdat Hy die Koning van die hemel en die aarde is. Soli Deo Gloria. Aan God alleen die eer.

Dis nie ons werk om mense te oortuig nie. Ons werk is om die Goeie Nuus te verkondig. Dit is die Heilige Gees wat die saad van die evangelie in mense se harte laat groei. En diegene wat hulle rug op die evangelie draai sal op die oordeelsdag rekenskap voor die Almagtige God gee oor hul rebelsheid teen Hom.

Wie gered word en wie verdoem word is God se saak, nie ons sin nie. Ons moet maar net die evangelie bly verkondig. Geliefdes, bly getrou aan julle roeping.

In Open. 3 v 10 hoor ons dat Christus diegene wat aan die boodskap van volharding in lyding vashou, sal vashou in die tyd beproewing.  Watter geweldige troos is dit nie geliefdes? Nêrens word ons beloof dat ons lyding en swaarkry sal vryspring nie. Wat Christus vir ons hier sê is dat ons nie alleen is daarin nie.

Jy staan nie alleen nie. God is by jou. Ek is seker dat elkeen van ons wat terugkyk na ons swaarkry tye sal kan bely: “Ek was nie alleen nie. God was daar. Dis Hy wat my gedra het toe ek nie meer kon nie”.

Die troos wat ons vanoggend hier uit God se Woord ontvang is dat Hy ook in die toekoms daar sal wees waar ons deur swaarkry moet gaan. Hy sal ons dra. Ons sal nie alleen wees nie.

Dan hoor ons in Open. 3 v 11:

11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

Geliefdes hou vas aan God wat jou liefhet se genade.

Hou vas aan jou geloof dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.

Hou vas aan jou burgerskap van die koninkryk van God.

Hou vas aan die belofte van Christus se wederkoms.

Hou vas aan die Goeie Nuus van Jesus se verlossing en volhard enduit daarin.

Hou vas aan die belofte wat ons in Open. 3 v 12 hoor.

Hou vas aan die belofte van jou ewige saligheid saam met God, daar waar daar geen trane, hartseer, lyding of dood sal wees nie, ewig saam met God in sy heerlikheid.

Geliefdes, Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê:
Hou moed want God is in beheer.

Amen

02 Desember 2020

Hemelse Troos

 This meditation is also available in English


Hemelse Troos

Jes. 40 v 1 & 2 – 2020 Vertaling

“Troos, troos my volk!” sê julle God. Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is! Ja, sy het uit die hand van die Here 'n dubbele straf ontvang vir al haar sondes.”

 Elke mens het troos nodig in die lewe. Troos, met die stille tevredenheid en rus wat dit bring, is die belangrikste ding in die lewe en sterwe van elke mens.

 Die vraag: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” is 'n baie persoonlike vraag wat lastig kan wees. Dit is moeilik om na binne te kyk. Dit is maklik om ander mense se probleme raak te sien, maar nie so maklik om na myself te kyk nie.

 Ware troos kan net by God gevind word, want die grootste rede vir jou ongeluk is die hartseer van sonde wat tussen jou en God staan.

 Die inhoud van die troos wat net van God af kom behels in die eerste plek dat jy van die tirannie van jou eie self verlos moet word. Dit wil sê dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort.

 Dit beteken dat ek die eiendom van God met liggaam en siel, in lewe en sterwe is, want Jesus het my met sy bloed gekoop. Hy het die volle losprys met sy lewe betaal om my van die mag van die bose te verlos. 

 Die troos wat ek hierin vind is die wete dat die Vader my onder sy heel besondere neem. Hy bewaar my op so 'n manier dat alles wat met my gebeur tot my eie beswil dien.

 Hierdie troos behels verder dat Heilige Gees op 'n besondere wyse met my besig is. Hy verseker my deur die woord en sakramente van die ewige lewe en Hy verander my sodat ek vir God wil lewe. Hy vervang die selfsug, vyandskap, haat, naywer en woede in my lewe met liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Hoe vind ek hierdie hemelse Troos?

Die weg na hierdie troos is die weg van kennis. Dit begin nie by wat ek moet doen nie, maar by wat ek moet weet. En selfs in dit is ek nie op my eie nie. Die Heilige Gees bring my tot dit wat ek moet weet.

Daar is drie dinge wat ek moet weet:

    i.      Hoe groot my sonde en ellende is.

               Net soos die verlore seun moet ek tot inkeer kom.

   ii. Hoe ek van al my sonde en ellende verlos word.

              Ek moet die evangelie glo dat Jesus Christus in my plek die straf
    van die dood gedra het daar op Golgota aan die kruis en dat Hy het
    die dood oorwin het sodat ek kan lewe.

 iii. Hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees.

              Ek moet my deur die Gees laat lei in 'n lewe wat deur liefde vir my
    naaste en God gekenmerk word.

 Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

 My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek aan Jesus Christus behoort.

 Vind jou troos by ons Here. Gee ag op Jesus se uitnodiging
(Mat. 11 v 28 – 30):

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Amen