Wys tans plasings met die etiket troos. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket troos. Wys alle plasings

01 Mei 2026

Swaarkry en leiding het nie die laaste sê in hierdie lewe nie.


 Skrif: 2 Kor. 4:16 – 5:10 – teksvers 2 Kor. 4:17

Ons lewenspad hier op aarde is nie altyd maklik nie. Seker een van die moeilikste dinge is om te aanskou hoe ’n geliefde deur ouderdom afgetakel word. Om te sien hoe sy verstandelik en liggaamlik agteruit gaan waar die wêreld vir haar verander in ’n vreemde, onveilig plek waar niks meer bekend voel nie.

Dit kan maklik die vraag laat ontstaan: “Hoekom?” Hoekom moet die lewe soms so moeilik en moeisaam wees? Die Here gee vir ons deur sy dienaar Paulus ’n antwoord op hierdie vraag. In 2 Kor. 4:16 & 17 hoor ons:

Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Hier moet ons nie misverstaan nie. Die Here sê nie hier dat ons swaarkry sommer net niks is nie. Hy gee perspektief. In die eerste plek sê gee die Here vir ons die troos: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” Selfs wanneer dit vir jou voel of jy nie meer kan nie, het Hy jou nie vergeet nie. Wanneer ouderdom liggaam en brein begin afbreek en dit vir jou voel of jy nie meer kan vashou nie, is God daar. Die troos lê daarin dat dit nie gaan oor hoe sterk ons aan God vashou nie, maar in hoe styf God ons vashou. God gee vir ons die krag om deur dit te kom deurdat Hy ons dag vir dag vernuwe.

In die tweede plek gee die Here vir ons perspektief ten opsigte van ons lewe nou en die ewigheid wat vir ons wag. Die lewensduur van ’n mens hier op aarde is miskien sewentig of tagtig jaar, maar in vergelyking met die ewigheid is dit “maar gering”. Dink so daaraan. As ons ’n potloodstreep sou kon trek van so ver as wat mens met die sterkste teleskoop (ongeveer 93 biljoen ligjare) dan is die sewentig of tagtig jaar wat ons hier op aarde leef nie eens ’n potloodpuntjie op daardie lyn nie.

Wat ons nou hier sien is die sigbare, maar die Here sê vir ons dat ons verder moet kyk na die vir nou onsigbare ewigheid. Om dit te verduidelik gee die Here vir ons die vergelyking van om in ’n tent te bly teenoor vaste gebou. ’n Tent wat al ’n paar jaar in die wind en weer moet staan raak redelik verweer. Die seil kry gate in en die tentpale raak gebuig deur die wind en die storms. En dit is hoe dit met ons gaan. Die lewe stel sy eise en hoe ouer ons word, hoe meer verweer raak ons en dit laat mens inderdaad sug na iets beter, soos ons 2 Kor. 5:2 hoor:

Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek.

Die belofte wat die Here hier gee van ’n vaste gebou, is ’n ewige tuiste saam met Hom. In Openbaring 21:3 & 4 gee die Here vir ons net so ’n voorsmakie van hoe ons ewige tuiste saam met Hom gaan wees:

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Om dit raak te sien moet ons met ons geloofsoë verby die sigbare hier en nou, verby die verweerde tentwoning kyk. Die Here sê vir ons hier om verby die swaarkry van hierdie lewe te kyk. Kyk verby die aftakeling van ouderdom na hoe God alles nuut gaan maak. Sien die groter prentjie raak.

Die vraag is nou: “Hoe weet ons dat dit die waarheid is?” Dit is waar, want God wat die hemel en die aarde geskep het gee vir ons die waarborg deur die Heilige Gees soos ons hoor in 2 Kor. 5:5:

Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

Die Griekse woord wat in Afrikaans met “waarborg” vertaal is beteken letterlik ’n deposito, ’n deel van die volle koopsom wat vooraf reeds betaal word. Dit gee ’n vaste waarborg van God se teenwoordigheid in ons lewens. Dit is God self wat ons voorberei vir die oorgang van aardse lewe na die heerlikheid omdat Hy nou reeds nou iets van daardie toekom gee, naamlik sy Gees as die ’n deposito en waarborg.

Ons sien en ervaar so ietsie van God se teenwoordigheid, want selfs wanneer ons liggame afgebreek word deur ouderdom en siekte en swaarkry, is dit Heilige Gees wat ons dag tot dag vernuwe deur vir ons geestelike krag te gee om aan te gaan. Dit is ook die Heilige Gees wat daardie verlange in ons na die vaste ewige woning saam met God gee.

Dis die troos wat die Here vir ons gee. In hierdie lewe is ons nie alleen nie. God stap die pad saam met ons. Die Heilige Gees is saam met jou daar waar dit goed gaan met jou en die lewe vol vreugde is, maar veral daar waar die lewe moeilik raak. Daarmee saam ook die waarborg dat die gebrokenheid van hierdie lewe nie die finale werklikheid vir ons is nie. Dit is maar net ’n tydelike tentwoning totdat ons hiervandaan gaan na ons ewige woning saam met God, waar die verdriet en swaarkry van hierdie lewe nie meer deel van ons lewens sal wees nie.

Hierdie troos is egter net waar vir diegene wat glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Indien jy glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy deur sy opstanding vir jou lewe gee omdat Hy die dood oorwin het, kan jy ook vashou aan hierdie troos.

Dis die troos en lewende hoop waaraan gelowiges vashou en daarom hoef ons ook nie bang te wees vir 2 Kor. 5:10 nie.

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Dit is ’n harde werklikheid, dat almal voor die regterstoel van Christus sal staan, maar vir die wat in Christus daar verskyn is daar geen veroordeling nie soos ons Rom. 8:1 hoor omdat die oordeel reeds verby is volgens Joh. 5:24. Ons staan daar met vrymoedigheid en nie met vrees nie (1 Joh. 4:17) want Christus self staan vir ons in (1 Joh. 2:1).

Wanneer ons as gelowiges van ’n geliefde afskeid neem wat na haar ewige woning saam met God verhuis het, is ons hartseer want haar plekkie in ons lewens is nou leeg, maar wanneer ons afskeid neem, treur ons nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons kyk met geloofsoë verby die sigbare werklikheid van hierdie lewe se gebrokenheid na die onsigbare ewige heerlikheid wat vir ons wag.

Amen.

21 Maart 2026

’n lewe van oorvloed saam met God

Psalm 23

1 'n PSALM van Dawid.

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4 Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige saam met God loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo, is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuiste saam met God.

Psalm 23 begin met ’n belydenis: “Die Here is my Herder.” Wanneer ons hierdie belydenis saam met Joh. 10:14 & 15 lees dan sien ons hoe spesiaal dit is:

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Deur jou geloof in Jesus Christus begin jou lewe van oorvloed saam met God. Jou geloof in Jesus Christus gee vir jou die versekering dat jy nie meer alleen is nie.

In Psalm 23:2 en 3 hoor ons so ietsie van wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te stap.

Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Letterlik staan daar dat die Herder sy skape bring na ’n plek waar die weiding sag en voedsaam is. Op jou lewenspad saam met God, sorg Hy vir jou met wat die heel beste is vir jou. Verder bring Hy jou na ’n plek wat tot rus lei. Hy “verkwik jou siel” met ander woorde dit gaan oor baie meer as net rus van moegheid. Hy herstel die lewenskrag van jou siel en gemoedsrus.

Alles wat jy het, kos klere, blyplek jou vaardighede en gawes kom alles uit die hand van God. Dit wat jy het, het jy omdat God dit vir jou gegee het. En nog meer. Al die mooi en vreugde in jou lewe kom net van God af en wanneer ons terugkyk na ons lewens en ons sien die goed en mooi en voorspoed wat daar was, dan kan ons weet dit was daar omdat God dit vir ons gegee het.

En dan sien ons ook dat die pad wat ons lewens verloop het, is die “regte” pad wat God vir ons uitgelê het. Ons lewens verloop nie altyd soos wat ons beplan en dink nie, maar wanneer ons terug kyk dan sien ons dat die pad wat God vir ons uitgelê het, tog maar die beste was.

Die lewe is egter nie altyd net maklik en mooi nie. In Ps. 23:4 kry ons die wonderlike troos dat selfs daar waar die lewe donker word, dit juis daar is waar die Here ons vashou en beskerm.

Ons sien in die verskillende vertalings dat die vers effens anders vertaal word. Byvoorbeeld in die 20/20 vertaling is die vertaling: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan” teenoor die OAV 33/53 Vertaling, wat vertaal word met: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee”. Albei vertalings is reg en dit dui op die nuanse van die oorspronklike Hebreeuse teks.

Aan die een kant is die betekenis dat dit dui op donkerste, gevaarlikste deel van die pad waardeur die skape moet gaan om by weiding uit te kom. Die stok wat die herder met hom saamgedra het, was ’n stewige knuppel waarmee hy die skape teen roof en ongediertes beskerm het wat hulle bedreig het en sy staf was daar stok met sy krom punt waarmee die herder gelei en die pad aangedui het. As ’n skaap bietjie afgedwaal het, het die herder hom met daardie krom punt terug gelei op die regte pad weg van gevaar af.

Dit skep vir ons ’n mooi beeld hoe die Here saam met ons deur die donker dieptes van die lewe gaan en dat ons nooit alleen is daarin nie. Die verdere troos is die versekering dat Hy ons beskerm en lei wanneer die lewe swaar raak.

Wat ook so mooi is van Psalm 23, is hoe Dawid hier waar die lewe moeilik raak baie meer persoonlik raak. Tot hiertoe het gepraat van God en hoe God hom deur sy lewe gelei en beskerm het. Maar hier waar die lewe donker raak praat hy nie meer van God nie. Hy praat nou persoonlik met God waar hy sy vertroue teenoor God uitspreek “ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my”

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap, is die troos dat God intiem naby is, veral daar waar die pad op sy swaarste en donkerste is. Dit is waar Hy jou dra wanneer jy nie meer kan nie. En wanneer ons terug kyk dan sal elkeen van ons kan getuig hoe die Here jou gedra het daar waar die lewe donker was.

Die Hebreeuse teks in Ps. 23:4 dra ook die nuanse van die diepste donker van die dood en daarom is die 33/53 Vertaling daarvan dan ook “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie”.

Daar is een ding wat seker is in hierdie lewe en dit is dat elkeen op God se bepaalde tyd liggaamlik sterf. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 so duidelik na vore kom.

In Joh. 10:15b hoor ons Jesus sê: “en Ek lê my lewe af vir die skape.” Ter wille van ons het Jesus alleen deur die donker vallei van die dood gegaan. Hy het niemand gehad wat Hom beskerm en vertroos het nie. Hy het dit ter wille van ons gedoen op grond van God se onbeskryflike liefde vir ons. Hy het in ons plek die Godverlatenheid deurgaan wat ons sonde verdien het.

Die geweldige troos is dat Hy die mag van die dood gebreek het met sy opstanding en dit is ons waarborg dat elkeen wat in Jesus Christus glo nie alleen deur die donker vallei van die dood gaan nie. Dit gee vir ons die waarborg dat die dood nie meer die verskrikking van Godverlatenheid vir ons inhou nie.

Ps. 23:5 & 6 gee dan ook vir ons so kykie wat anderkant die dood vir ons wag. Hier verander die beeld van ’n herder wat sy skape versorg en beskerm na ’n gasheer wat sy gas in oorvloed onthaal.

In die antieke Nabye Ooste was gasvryheid 'n heilige plig. As God jou as gas aanvaar, is jy onder Sy beskerming. Om te eet "in die teenwoordigheid van vyande" beteken dat die vyande gedwing word om toe te kyk hoe God jou eer en beskerm; hulle kan niks doen nie omdat die Gasheer te magtig is.

Olie is by feeste gebruik om die droë vel te verfris en as simbool van verheffing en vreugde en dit dui daarop dat die Here sy gas met waardigheid en koninklike guns beklee. Die beker wat oorloop simboliseer dat God se genade nie bereken of suinig is nie, maar oorvloedig meer as wat nodig is.

Wanneer ’n gasheer ’n gas onthaal het, het die gasheer letterlik sy gas se beker dopgehou om seker te maak dat hy dit kon volhou en dit het vir die gas gesê dat hy welkom is. Hier hoor ons dat die beker nie volgehou word nie. Dit word tot oorlopens tóé volgehou en dit sê vir ons dat die gas nie net welkom is nie. Die Gasheer sê vir ons dat Hy nie wil hê dat ons moet weggaan nie. Ons moet permanent by Hom bly en dit is waarmee Ps. 23:6 dan ook afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Dit sluit dan ook perfek aan by die groot troos van Open. 21:3&4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hoor u die geweldige troos hier geliefdes? Die dood wat eens as opperheerser geheers het oor die lewens van mense is nou finaal oorwin en dit het nie meer ’n houvas op gelowiges nie.

Luister ook na die verdere troos wat ons hoor in Open. 21:22

'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.

Die huis wat vir ons wag anderkant die donker vallei van die dood is nie ’n gebou nie, maar die onbeskryflike heerlike teenwoordigheid van God saam met wie ons, ons lewenspad gestap het en dit is die troos wat die Here gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Wanneer ons by die oop graf van ’n geliefde staan, is ons hartseer want haar plek in ons lewens is nou leeg, maar ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. Ons het ’n lewende hoop van God wat ons lewenspad saam met ons stap deur die goeie en donker tye in ons lewens en ook dat Hy ons dra deur die donker vallei van die dood na ’n ewige heerlikheid saam met God, daar waar daar geen trane hartseer, pyn, lyding of dood meer sal wees nie.

Amen





20 Julie 2025

In die arms van God


 Datum: 20 Jul. 2025 GK BSH & RB – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 131

Teksvers: Ps. 131 v 2

Wat maak jy wanneer die lewe jou omdop? Wat maak jy wanneer die lewe nie meer sin maak nie? Wat maak jy wanneer jy die middelpunt van ’n lewens storm word? Ons sien hoe mense deur krisisse gaan, maar dit is anders wanneer die lewenskrisisse aan jou deur klop. Wanneer die dokter vir jou sê “jammer......”. Wanneer jy die oproep kry oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie.

Dit is nie net swaarkry wat die lewe moeilik maak nie. Soms raak jy so vasgevang in die gang van die lewe, dat jy jouself verloor. Nog ’n dag, nog ’n afspraak in jou besige lewe.................

Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewens-veranderende perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is.

Die Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.

Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.

Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Dit is juis omdat jy so kosbaar vir God is dat Hy wil hê dat jy van jouself af moet wegdraai.

Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met jou.

Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee. Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.

Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe self te beheer.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.

Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie siekte gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word? Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?

Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Ons wil in beheer wees van ons lewens. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan of beheer nie.

In Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:

die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.

Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet, al lyk dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.

Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God gaan soek.

Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak

Dit is 'n aktiewe aksie waar jy die fokus van jouself af wegneem en dit op iets groters as jy plaas. Waar jy van jouself af wegkyk en kyk na God in jou lewe. Waar jy besluit om jou volle vertroue op God te plaas. Waar jy besluit om jou deur die Heilige Gees te laat lei.

Maar ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen, sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed veroorsaak, omdat jy dit nie gaan regkry nie.

Maar hoe moet jy dit dan doen?

Dawid gebruik hier die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.

Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:

soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe.

Dan gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.

’n Kind wat nog nie gespeen is nie, se fokus is om gevoed te word en die onmiddellike tevredenheid wat hy by sy moeder kan vind. Die hooffokus is om sy onmiddellike behoeftes te bevredig. Dit gaan oor dit wat die kind by sy moeder kan kry eerder as wat dit om haar as persoon gaan.

’n Kind wat gespeen is aan die ander kant, omhels sy moeder uit 'n begeerte na liefde, nabyheid en geselskap. Dit gaan hier vir die kind om die ma as persoon eerder as om dit wat hy by haar kan kry.

God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek.

Nie vir dit wat God vir jou kan gee nie, maar omdat Hy God is. Jy vind vrede en geluk by God, nie omdat Hy moeilike omstandighede wegvat nie, maar juis omdat Hy teenwoordig is in jou lewe.

In 2 Kor. 12 v 7 - 9 hoor ons hoe Paulus vir die Here vra om ’n moeilike omstandigheid uit sy lewe weg te vat, maar die Here het gesê: “Nee! My genade is vir jou genoeg.”

Dis die teenwoordigheid van God en sy genade in jou lewe wat vir jou rus en vrede gee. Ware gemoedsrus is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit is die teenwoordigheid van God!

As jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in
Joh. 1 v 12 hoor:

Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom. Om God op te soek vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy vir kan doen nie. Soek na die teenwoordigheid van God in jou lewe. Bid dat die Heilige Gees ’n werklikheid in jou lewe sal wees. Om toe te laat dat die Heilige Gees jou lei.

Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die arms van God. Dan is dit nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.

Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy by God vind:

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is. Wag op die Here beteken om te aanvaar dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie.

Wag op die Here is die vaste vertroue dat Hy jou sal dra deur die storm. Dit is om vas te glo dat Hy jou beste belange op die hart dra, self wanneer Hy nie die moeilike omstandighede wegneem nie. Wag op die Here is om steeds te vertrou dat God in beheer is, selfs wanneer dit nie vir jou lyk of die lewe sin maak nie.

Wag op die Here beteken ook dat jy vas en seker glo dat wanneer jy hierdie lewe verlaat, jy ewig saam met God sal wees waar daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.

Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan en beheer in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God.

Glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.

Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Dis net in die arms van God waar jy rus en vrede sal vind. Gaan soek na rus vrede in die arms van God.

Amen


04 Mei 2025

Psalm 23

Lees ook Joh. 10 v 1-21 hiermee saam.

       Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie Herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

       In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 sê hy wat die gevolge van die Here se sorg is.

       Hierdie Psalm was vir Dawid ’n groot vertroosting. Hoe kan jy die vertroosting van Ps. 23 ook jou eie maak? Hoe kan jy ook met sekerheid sê die Here is my Herder en ek kom niks kort nie?

       Dit is alleen maar moontlik omdat daar ’n persoon was wat alles kortgekom het. Selfs sy enigste aardse besittings naamlik die klere aan sy lyf is onder die soldate uitgeloot.

       Hy het geen rus en vrede geniet in die groen weivelde langs die stille waters nie. Al wat Hy gekry het om sy dors mee te les was ’n klein bietjie bitter asynwater.

       Daar was vir Hom geen beskerming toe Hy deur die vallei van die dood moes gaan nie en in bange Godverlatenheid moes Hy uitroep :
’My God, My God, waarom het U my verlaat?”

  In Joh. 10v10b-11 sê die Here vir ons:

10b Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

       Elkeen wat in Jesus Christus glo kan net soos Dawid ook troos vind in Ps. 23 soos die gelowiges trouens deur al die eeu al gedoen het. Hierdie troos is egter net vir diegene wat glo in Jesus Christus. As jy nie in Jesus Christus glo nie, kan jy geen aanspraak op die troos van Psalm 23 maak nie.

       In vers 1 begin Dawid met ’n persoonlike belydenis. Die Here is my Herder en daarom kom ek niks kort nie. Die enigste manier om hierdie belydenis ook op jou persoonlik van toepassing te maak is om te glo in die verlossingsdaad van Jesus Christus aan die kruis en dat Hy die dood oorwin het.

       Kan jy met volle vertroue en eerlikheid vanoggend saam met Dawid sê: Die Here is ook my Herder?

       As jy dit nie kan doen nie, dan het jy nog nie by die hek van die skaapkraal uitgekom nie. (vgl. Joh. 10v1)

Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower.

Dan is dit nodig dat jy die volle betekenis van

Joh. 10 v 7-9 moet leer ken:

7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.     

In vers 2 beskryf Dawid die absolute rustigheid wat Hy ervaar in die teenwoordigheid van die Here:

Hy laat my neerlê in groen weivelde;

na waters waar rus is, lei Hy my heen.

In die teenwoordigheid van die Here is daar rus en vrede weg van die dolle gejaag van ons daaglikse lewens.

In vers 3 hoor ons hoe die Here aan Dawid nuwe lewe gee:

Hy verkwik my siel;

Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Hierna wys die Here vir Dawid wat die regte pad is sodat hy die nuwe lewe wat die Here vir hom gegee het, ten volle kan geniet.

       Geniet jy ook die rustige teenwoordigheid van die Here in jou lewe? Of is die sorge van die lewe vir jou soos die droë Vrystaatse grasstoppels wat in ’n erge droogte vasgevang is?

       Is jou lewe soos ’n rustelose Oranje rivier wat besig is om vloed af te kom? Verlang jy ook na die vrede en gemoedsrus van groen weivelde en die waters van rus by die Here?

       As jy nog nie by hierdie groen weivelde en stil rustige waters uitgekom het nie, moet jy vir ’n slag weereens luister na Jesus se uitnodiging in Mat. 11v28:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

       In vers 4 sien ons hoe groot Dawid se vertroue in die Here werklik is. Selfs in die aangesig van uiterste lewensgevaar en selfs in die aangesig van die dood, vertrou Dawid die Here tot so ’n mate hy geen onheil vrees nie. Hy het ’n absolute vertroue daarin dat die Here hom teen elke gevaar en selfs teen die dood sal beskerm.

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

       Kan jy ook soos Dawid met sekerheid sê dat geen onheil jou sal tref wanneer jy deur donker dieptes gaan?

       Is jy ook seker van die Here se teenwoordigheid te midde van die skadu’s van die lewe wat oor ons hang?

       Volg jy die leiding van ons Herder wanneer jy in die werklikheid van siekte vaskyk, veral daardie siektes waar daar geen werklike genesing voor is nie?

       Vind jy skuiling by die Here wanneer jou huwelik deur hewige storms geteister word?

       Vind jy vertroosting by die Here wanneer jy met die dood gekonfronteer word?

       Het jy vrede met u eie sterflikheid? Verstaan jy dat jy nie meer vir die dood hoef bang te wees nie? Verstaan jy dat die dood vir die wat glo nie meer `n verskriklike einde is nie, maar dat dit `n heerlike deurgang is na die volgende fase waar jy ewig saam met God sal wees?

Indien jy nog twyfel, moet jy weer by Joh. 10v10b  uitkom:

       Ek (Jesus) het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Dan is dit nodig dat jy presies moet verstaan wat Jak. 1v2 vir jou beteken:

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom

       Dan is dit nodig dat jy verstaan dat die Here nie noodwendig die moeilike tye in die lewe van ons af weghou nie, maar dat Hy ons in alle omstandighede nooit alleen laat nie.

       Jy moet verstaan dat Jesus bange Godverlatenheid ervaar het sodat elkeen wat in Hom glo nooit deur God verlaat sal word nie.

Dan sal jy ook in vertroue die Here kan volg vgl. Joh. 10v40:

Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

In vers 5 sien ons dat Dawid nie alleen net vertrou dat die Here vir hom rus sal gee en hom sal beskerm teen gevaar nie. Hy vertrou ook dat die Here vir hom sal sorg in oorvloed.

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;

U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Beleef jy ook die oorvloed van God se genade in jou lewe?

Verstaan jy hoe groot sy genade vir ons werklik is?

Verstaan jy dat daar niks in hierdie lewe is wat ons kan doen om die Here meer van ons te laat hou nie? Of dat daar ook niks is wat ons kan doen dat Hy minder lief vir ons sal wees nie?

Besef jy dat jy met jou goeie werke niks van God se guns kan verdien nie?

       As jy nog sukkel om uit die oorvloed van God se genade te leef dan is dit nodig dat jy weer eens God se vertroosting van Ef. 2v8-10 jou eie moet maak:

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In vers 6 bely Dawid dat dit in die teenwoordigheid van die Here net goed met hom sal gaan, selfs wanneer hy in gevaar is en dat die Here op grond van sy troue verbondsliefde vir hom sal sorg.

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;

en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is jy seker van jou ewige bestemming of twyfel u soms daaroor?

Indien jy nog twyfel, is dit nodig dat jy weereens seker maak van die vaste sekerheid wat die Here vir ons in sy Woord gee vgl. byvoorbeeld Hand. 16v31:

“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

of Rom. 5 v 9-10 om maar net enkele voorbeelde te noem:

9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 

10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 

As jy aan die soenverdienste van Jesus Christus vashou met die geloof wat God gee, kan jy ook met sekerheid weet dat Open. 21v3 vir jou waar sal wees, nou in hierdie bedeling en ook in die toekomstige bedeling na die wederkoms van ons Here:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

Dan sal jy ook saam met Dawid kan bely:

ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is die HERE jou Herder?

Amen

  

09 Maart 2025

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?



Skriflesing Rom. 1 v 16 – 32 ; (TV Rom. 1 v 17) en Sondag 1 Heidelbergse Kategismus. (geplaas aan die einde van die preek. lees dit saam met die skrifgedeelte hierbo genoem)

Die lewe is nie maklik nie.

'n Druppel gal is in die soetste wyn;

'n traan is op elk' vrolik' snaar,

in elke lag 'n sug van pyn,

in elke roos 'n dowwe blaar.

Hierdie woorde van Eugene Marais is so waar! Daar is maar altyd ’n kinkel in die kabel.

 Hoekom?

 Hoekom moet die lewe so moeilik wees? Hoekom moet daar altyd iets verkeerd loop?

God sê vir ons hoekom, geliefdes. In Rom. 8 v 20 hoor ons:

Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.

Hoekom het God dit gedoen? Hy sê vir ons hoekom geliefdes. In Rom. 1 v 18 hoor ons:

God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.

Ons sonde is die oorsaak dat God die Skepping aan die verydeling onderwerp het, geliefdes.

En dit is net hier waar die probleem inkom, want dit is nie in ons aard om verantwoordelikheid te aanvaar nie. Toe God vir Adam en Eva oor hulle rebelse opstand gekonfronteer het, het beide skuld ontken. En niks het verander nie. Die mens weier nog steeds om verantwoordelikheid te aanvaar. Ons leef in ’n wêreld wat verkondig, die mens is inherent goed.

Maar dit is nie so nie geliefdes! In Rom. 1 v21 hoor ons dat alhoewel die mens weet wie God is, eer en dank hulle Hom nie as God nie.

Dit is hier waar die kern van die probleem lê, geliefdes. Die algemene opvatting is dat sonde eintlik nie so erg is nie, maar ons kyk die wortel van die probleem mis, wanneer ons so redeneer geliefdes. Ons is so geneig om die ernstigheid van sonde af te maak. Sonde is nie maar net dat ons een of ander reël oortree het nie.

In sy diepste wese, is sonde opstand teen God soos ons in Rom. 1 v 23 hoor:

In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange

Die wortel van sonde lê daarin dat die mens iets anders in die plek van God stel. Moenie julle blindstaar teen die afgode wat in die Bybel genoem word nie. Ons het ons eie afgode, rykdom, aansien eer en die grootste afgod wat daar is, is die eie ek.

Die dieptepunt van sonde is dat jy van die Bron van lewe afgesny word en die gevolge is verskriklik. Wanneer jy van die Bron van lewe, d.w.s. God afgesny word is die enigste alternatief die ewige dood. Ons leef in ’n wêreld wat die werklikheid van die hel en satan ontken. Die gevolg is dat ons ernstige gevolge van sonde miskyk.

Dit is eers wanneer jy die ernstige gevolge van jou sonde besef, dat jy verstaan dat jy Troos nodig het.

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Die wêreld vertel jou, dat jy jouself kan red. Vir elke onderwerp is daar verskeie selfhelp boeke beskikbaar. Volg net stappe een, twee en drie en siedaar, jou probleem is opgelos!

Maar die hartseer werklikheid is dat jy jouself nie kan help nie, want maak nie saak wat jy doen nie, jy bly steeds gebonde aan die vloek van die sonde. Jy kan jouself nie red nie, want jy is van nature geneig om God en jou naaste te haat.

Daar is net een uitweg. Jy moet glo in die Goeie Nuus. Jy moet die Evangelie glo dat Jesus vir jou met sy bloed d.w.s met sy lewe betaal het. Hy het met sy kosbare bloed vir al jou sondes ten volle betaal en jou uit alle heerskappy van die duiwel verlos, soos Die Here ook vir ons in Rom. 1 v 17 sê:

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Jesus het die verskriklike gevolge van die sonde oorwin. Hy het met sy lewe aan die kruis daarvoor betaal, maar Hy het ook die gevolge van sonde tot niet gemaak met sy opstanding. Hy het die vloek van die sonde dood oorwin.

Wat is jou troos geliefdes? Die troos is dat jy kan lewe, dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie, maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Beteken dit dat God nou die swaarkry in hierdie lewe gaan wegvat? Nee geliefdes. Soms neem Hy wel ’n struikelblok uit jou weg, maar nie altyd nie. In hierdie lewe bly die vloek van verydeling steeds daar. Dit is eers in die volgende bedeling, God sê ewigheid waar ons verlos word van die verydeling wat hierdie lewe kenmerk. Wat wel waar is, is dat jy nie meer alleen is nie. God is by jou en wanneer die lewe te swaar rak, dra Hy jou.

Jou troos is dat jy in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort. Die Here sê vir ons in Rom. 1 v 17 “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” En daarom bely ons ook “Hy verseker my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Wat beteken dit om vir God te lewe? Die duiwel probeer ons oortuig dat ons nou die “lekker” dinge in die lewe moet prysgee wanneer ons vir God begin lewe. MOET HOM NIE GLO NIE! Onthou, hy is ’n liegbek! Dit is sy manier van die begin af. Daar in die paradys het hy met leuens vorendag gekom en hy doen dit nog steeds! Hy het nie sy strategie verander nie, want dit werk so goed!

Kom ons kyk wat is hierdie “lekker” dinge wat jy moet prysgee. In Rom. 1 v 28 hoor ons dat dit al die dinge is wat onbetaamlik is. En in Rom. 1 v 29 hoor ons dat hierdie onbetaamlike dinge beslis nie lekker is nie.

Dit is ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Verder is dit ook skinder en kwaad praat; haat teenoor God, hooghartigheid, aanmatigendheid en verwaandheid. Dit is ook om kwaad uit te dink, ongehoorsaam aan hul ouers en om onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig te wees.

Wat gee God in die plek van die satan sê “lekker” dinge? Hy gee vir ons sy liefde soos ons hoor in 1 Joh. 4 v 19. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

In teenstelling met die onbetaamlikhede gee liefde vir ons die volgende soos ons in 1 Kor. 13 v 4 - 7 hoor:

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

 

Wanneer jy vir ander mense begin omgee, weet dit is God sê liefde wat Hy in jou ingeplant het wat in jou werk. Wanneer jy God sê liefde begin uitleef dan leef jy vir God. Dan begin jy die doel bereik wat God vir jou gegee het.

 

Slot

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Jou enigste troos is dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie, maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

 

Wat moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Drie dinge.

Ten eerste, hoe groot jou sonde en ellende is. Jy moet verstaan wat die verskriklike gevolge van die sonde is, naamlik die hel, d.w.s om ewig van God geskei te wees.

ten tweede;  hoe jy van al jou sonde en ellende verlos word. Jy moet die Evangelie glo, die Goeie Nuus dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Jy moet glo dat Hy vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy opgestaan het uit die dood en daardeur vir jou die ewige lewe gee.

en ten derde hoe jy God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees. Jy moet die liefde wat God deur die Heilige Gees in jou geplant het leef.

Amen 


Heidelbergse Kategismus - Sondag 1.

Vraag:  Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c).  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e).  Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g).  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h).  Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

(a) Rom 14:8.  (b) 1 Kor 6:19.  (c) 1 Kor 3:22;  Tit 2:14:  (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7;  2:2, 12.  (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8;  Joh 8:34-36.  (f) Joh 6:39;  10:28;  2 Tess 3:3;  1 Pet 1:5.  (g) Matt 10:30;  Luk 21:18.  (h) Rom 8:28.  (i) 2 Kor 1:22;  5:5;  Ef 1:14;  Rom 8:16.  (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:

2  Vraag:  Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord:  Drie dinge (a):  Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b);  ten tweede;  hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).

(a) Matt 11:28-30;  Ef 5:8.  (b) Joh 9:41;  Matt 9:12;  Rom 3:10;1 Joh 1:9;10.  (c) Joh 17:3;  Hand 4:12 10:43.  (d) Ef 5:10;  Ps 50:14;  Matt 5:16;  1 Pet 2:12;  Rom 6:13;  2 Tim 2:15: