Skrif: Lukas 17:11-19
Teksverse: Luk. 17:15,16 & 19
Die HERE wys weer vandag vir ons met Nagmaal
hoe lief Hy ons werklik het. Hy het ons gered van die ewige dood deurdat Hy sy
lewe in ons plek gegee het.
Die indringende vraag wat Here vandag vir ons
met sy woordverkondiging vra is: “Hoe
verander dit jou lewe?”
Verstaan ons nog die diepere betekenis van
dit wat Jesus vir ons gedoen het?
God gee sy seëninge aan alle mense, maar nie
alle mense word gered nie. Ons hoor in Mat. 7:11
“Gaan deur die nou
poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed,
en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou
en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
In hierdie verhaal wat Lukas vertel hoor ons
dat net een persoon uit tien gered was daardie dag!
Dis ’n eenvoudige verhaal. Terwyl Jesus en sy
dissipels op pad was na Jerusalem het Jesus die mense wat hulle teëgekom het
geleer van die Koninkryk van God en wat dit beteken om ware burgers van die
Koninkryk te wees.
En terwyl hulle op pad was na ’n sekere
dorpie toe het hulle tien mans teëgekom wat melaats was. Iemand wat melaats was
moes hulself afskei van die samelewing en daarom was hierdie tien buite die
dorp. Terwyl hulle nog op ’n afstand was het hulle om hulp geroep.
Jesus se reaksie wys sy deernis en dat Hy
omgee. Hy beveel hulle om hulself aan die priester te gaan wys, want dis net ’n
priester wat kon verklaar dat ’n melaatse genees is. Jesus het nie eers gevra
dat hulle een of ander voorwaarde moes nakom nie. Hy het hulle dadelik genees
en beveel dat hulle na die priester toe moes gaan sodat die priester bevestig
dat hulle genees is. En dis hoe God se genade werk. Hy gee vrylik sonder om
iets te vra.
Maar om die volle rykdom van God se genade te
ontvang vra geloof. Geloof is die hande waarmee jy die volle rykdom van God se
genade jou eie maak. Ware geloof erken God se genade en reageer met dankbare
aanbidding daarop.
Hier is tien mans wat smeek om hulp en elkeen
ontvang uiterlike genesing. Net een van die mans, ’n Samaritaan ontvang egter
iets meer.
Wat is die verskil tussen die Samaritaan en
die ander nege?
Die nege Jode ontvang God se seën en gaan aan
met hul lewens. Die Samaritaan draai terug en aanbid God in dankbaarheid. Hy
sien God se genade raak en reageer met dankbare aanbidding.
Geliefdes, hoe dikwels is ons lewens nie ook maar
net soos die nege Jode wat nie terug gedraai het nie? Wanneer daar ’n krisis
is, bid ons tot God en wanneer God ons daardeur help, gaan ons aan met ons
lewens asof God nie bestaan nie.
Dis maklik om noodwiel gebede te bid en
meeste mense doen dit dikwels, selfs ongelowiges doen dit van tyd tot tyd. Hoe
werk ’n noodwiel? Terwyl jou bande reg is en jy ry met jou motor dink jy nie
eens aan die noodwiel in jou kattebak nie.
Maar wanneer jy ’n pap band het, onthou jy
van jou noodwiel en vir die kort tydjie dat jy dit gebruik is dit baie
belangrik vir jou. Daarna gaan jy weer met jou lewe aan sonder om daaraan te
dink totdat jy dit weer nodig kry. Hoe dikwels maak ons nie ook maar so met God
nie?
Teenoor die nege is die Samaritaan egter
totaal anders. Jesus sê vir hom:
“Staan op en gaan
huis toe. Jou geloof het jou gered.”
Die Griekse woord wat ons met gered vertaal
beteken meer as die fisiese genesing wat hy ontvang het. Dit sluit ook
geestelike redding in. Met ander woorde sy verhouding met God is herstel en dit
bring hom daartoe om God in sy lewe te erken.
Hoe erken mens God in jou lewe? Jy sien raak
waar Hy in jou lewe besig is. Jy sien sy hand van genade raak en dank Hom
daarvoor. Jy gebruik Hom nie net soos ’n noodwiel om die probleme in die lewe
te systap nie.
Ons leef nie in ’n perfekte wêreld nie. Ons
voel nog elke dag die gevolge van die sonde aan die lyf. Maar dit is ook so dat
selfs te midde van dit is God se seën teenwoordig. Sê jy nog elke dag vir God
dankie vir die mooi en die goed in jou lewe?
Sê jy vir Hom dankie dat Hy daar is vir jou
wanneer die lewe jou op ’n grondpad neem? Eer en dank jy God nog as die
Almagtige Skepper wat moeite met jou maak? Is jy nog intens bewus van wat Jesus
vir jou aan die kruis gedoen het?
Hoe verander dit jou lewe? Waarvoor bid jy
wanneer jy in moeilike omstandighede beland? Bid jy net dat God dit moet wegvat
of vra jy ook dat die Heilige Gees vir jou die geduld gee om dit te hanteer?
Het jy darem nog ’n vriendelike woord vir die persoon agter die toonbank nadat
jy vir twee ure in die tou gestaan het?
Skel jy net die trokdrywer met wraakgedagtes wat
so amper in jou vasgery het of bid jy dat die Here sy gesindheid op die pad
verander? Met ander woorde dra jy hom ook aan die Here op? Vra jy die Here om
jou ook te help om te vergewe?.
Ons hoor in Luk. 17:16 dat die Samaritaan voor
die voete van Jesus neergeval het en Hom gedank het. Dan word daar baie
pertinent genoem dat hy ’n Samaritaan was. Vir die Jode wat hierdie verhaal
gehoor het was dit ’n skokkende onthulling, want hulle het neergesien op die
Samaritane.
Wat die Here hier vir ons sê is dat dit nie jou
afkoms is of wie jy is wat vir jou redding gee nie. Ons val so maklik in die
slaggat dat ons dink dat omdat ons naam op die lidmaatregister is, dat dit
genoeg is. Die Jode het gedink, ek is mos ’n Jood, ’n afstammeling van Abraham.
Ek is mos ’n Christin. Ek behoort mos aan ’n kerk, maar in my dag tot dag
bestaan lyk ek niks anders as die wêreld daarbuite nie. Die vraag is egter, is
ek net ’n inskrywing op ’n lidmaatregister, of is ek ’n aktiewe lidmaat in die
gemeente?
Die Here wys hier vir ons dat dit net geloof
is wat jou red. Geloof wat God se genade erken en met dankbare aanbidding
daarop reageer.
Ons gaan nou aansit by die tafel van die Here.
Kom ons kyk met nuwe oë na dit wat Jesus vir ons gedoen het. Kom ons sien weer
raak dat sy liggaam vir ons gebreek was en dat sy bloed vir ons uitgegiet is.
Kom ons antwoord in geloof daarop deur God se
genade te erken en met dankbare aanbidding daarop te reageer.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking