Genesis 3
Teksvers Gen. 3 v 20
Die jaar snel ten einde en ons is al weer by daardie tyd
van die jaar waar ons begin regmaak vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge
vir verskillende mense. Met Kersfees onthou Christene dat God mens geword het
toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar gelede gebore is.
So tussen deur die regmaak en beplanning vir al die
feestelikhede is dit goed dat ons net so bietjie stil word om na te dink wat
Christus se geboorte vir ons beteken. Daarmee saam om ook net weer te besef wat
se verskil dit aan ons lewe maak.
Om werklik die betekenis te verstaan van dit wat ons met
Kersfees herdenk, gaan ons vandag eers weer terug na daardie gebeurtenis in die
geskiedenis van die mensdom wat dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus
mens geword het.
Wanneer ons aan Genesis 3 dink, dan haak ons so maklik
vas by die vrug en die slang en die gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so
bietjie besin oor wat die implikasies was van daardie hap aan die vrug.
In Gen. 2 v 16 & 17 hoor ons dat God die mens ’n
opdrag gee en wat die gevolge sal wees indien die mens nie gehoorsaam is aan
daardie opdrag nie.
16Die Here God het
die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar
van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet,
sterf jy.”
Ongehoorsaamheid hou baie ernstige gevolge in. Met
ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In Gen. 3 hoor ons dan ook die
hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe vir dood verruil het.
En die
vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee,
en hy het geëet.
God het vir hulle gesê hulle moenie, maar hulle het
besluit hulle wil en toe het hulle die vrug van die boom van die kennis van
goed en kwaad geëet.
Die gevolge van hierdie daad het verrykende gevolge vir
hulle en hul nageslag ingehou. Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie
oomblik af was hulle liggame onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot
liggaamlike dood lei, nie net vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.
Verder ook het hulle hele bestaan nou moeite geword soos
ons hoor in Gen. 3:16-19:
16Vir die vrou het
die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met
pyn sal jy kinders in die wêreld bring.
Na jou
man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”
17Vir die mens het
die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die
boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek;
met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18die
aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net
deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want
daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
Die leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf
het, het verander in ’n omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.
Die ergste is dat daar ’n vervreemding tussen God en die
mens ingetree het. In die plek van liefde in hul verhouding met God is nou vrees.
Die mens het bang geword vir God en daarom het hulle probeer wegkruip toe hulle
God hoor naderkom.
As die verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n
baie droewige hartseer verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad.
Dood het egter nie die laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen
al die hartseer gebeure, is ’n boodskap van hoop.
Ons hoor dit reeds in Gen. 3 v 15 met ’n belofte van
vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die vyandskap bring
verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die belofte dat die
bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.
In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van
hoop aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as
man en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva
genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva
vertaal is, beteken lewe.
Adam verklaar: “Sy is Lewe, want God sal deur haar lewe
voortbring.” Die naam “Eva – Lewe” bevestig God se verlossingsplan. Dit is ’n boodskap
van hoop van voortgaande lewe ná die sondeval en die belofte van die uiteindelike
koms van die Messias.
En dan bevestig die verteller van die verhaal dat daar
inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van al
die mense.” Eva is die moeder van die mensdom en sy is die draer van God se
belofte van verlossing. Eva is inderdaad ’n geloofsverklaring dat God se
lewegewende belofte sal voortgaan ondanks die sondeval en dat dit uiteindelik
in Christus vervul sal word.
En dan sluit die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop
op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit die tuin verban was sodat hulle nie toegang
tot die boom van lewe sou verkry het nie. Op die oog af klink dit of dit deel
is van hulle straf, maar dit is nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy
keer hiermee dat hulle in hul sondige toestand van die boom van die lewe eet en
so vir ewig in hul sondige toestand vasgevang sou word.
As hulle op daardie stadium van die boom van die lewe sou
eet sou dit nie lewe gee nie, maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem
sou wees vanweë hulle sonde. Deur hulle uit die tuin te verban, maak God dit
moontlik dat die beloftes wat Hy gegee het dat die bose oorwin sal word, waar
word.
Wat beteken hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis
vir ons vandag en hoe pas dit in by Kersfees? In
Ek het
gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Hiermee bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds
in Gen. 3 gehoor het. Hy is die Verlosser wat mens geword het uit die nageslag
van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy gekom het om lewe te bring.
Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as mens
gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen. 3 waar kon
word. Dit is egter nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in
oorvloed! Dit beteken dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met
geloof omhels, deel in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.
Wat beteken Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit
beteken dat die vloek van ’n doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons
lewens nie. Dit is waar dat ons nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van
die sonde nie. Ons lewens is nie nou van terugslae en swaarkry vrygeskeld nie,
maar die terugslae en swaarkry het nie die laaste sê nie. Midde in die
terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle teenwoordigheid en ons
beleef hoe Hy ons daardeur dra.
Die belofte van lewe in Gen. 3 wat deur Jesus waar geword
het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou en God gebring het, nie
meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die oorvloed van God se liefde
beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie perfek is nie.
Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons
gedra het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die
belofte dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende
hoop op ’n ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.
Kersfees herinner ons net weer dat God ons ook in die
toekoms sal dra deur die stampe en die stote van die lewe. Kersfees herinner
ons dat die swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n
ewige heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn.
Kersfees sê vir ons dat Jesus mens geword het sodat ons
in oorvloed kan lewe.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking