19 Julie 2026

Kom vind jou rus in Jesus

Skrif: Mar. 6:30 – 44

Teksverse: Mar. 6:34, 37 & 39

Inleiding

Soms loop die lewe ’n ander draai met jou as wat jy verwag het. Jy beland soms in ’n situasie waarin jy nie graag wou wees nie en wanneer jy daar is werk jou planne nie altyd uit nie omdat jy die verkeerde oplossing soek.

Die Illusie van "Ontsnap-Rus"

Jesus se dissipels het teruggekeer na ’n uitputtende tyd nadat Jesus hulle uitgestuur het om die evangelie te verkondig en om mense van bose geeste te verlos. Nadat hulle teruggekeer het van wat ’n baie uitputtende tyd moes gewees het is hulle nog steeds omring deur mense, soveel so dat hulle selfs nie eens kans kry om iets te eet nie.

Mens kan jouself maar net indink wat hul verwagting was toe hulle in ’n boot vertrek na ’n verlate plek toe. Hulle verwagting was dat hulle op hul eie gaan wees, maar dis nie wat gebeur het nie. Toe hulle daar aankom was daar ’n groot menigte mense.

Is dit nie maar hoe dit ook met ons gaan nie geliefdes? Wil ons nie ook maar soms net ’n bietjie ontsnap uit die chaos van die lewe nie?

Maar dis nie waar ware rus gevind word nie. Dit is wat die dissipels hier moes leer en daaruit leer ons ook waar ons ook ware rus kan vind wanneer die lewe te veel word.

Ontsnap rus bied nie werklik rus nie, want toe die boot waarin die dissipels gevaar het aan die oewer land het die eise van die skare reeds daar vir hulle gewag. As ons rus slegs definieer as "die afwesigheid van probleme of werk," gaan ons nooit werklik rus vind nie, want die lewe se krisisse wag altyd op die oewer vir ons.

Die groot les wat die dissipels (en ons) in Markus 6 leer, is dat ware rus nie die afwesigheid van storms of werk is nie, maar die teenwoordigheid van Jesus midde-in dit.

Dis net die Herder wat ware rus kan gee

Ons hoor in Mar. 6:34:

Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig.

Daar waar hulle land wag ’n groot skare en hier sien ons hoeveel God werklik omgee. Die beeld wat hier gebruik word is skape wat herderloos in hul nood ronddwaal en Jesus sien dit raak as ons Herder.

Jesus kry die skare innig jammer want Hy sien nie net hul nood raak nie. Hy deel daarin. Hy voel self hul nood aan die lyf. Hy voel hul behoeftes op die diepste vlak. Hy voel hul honger asof dit homself oorkom. Hy voel die pyn van hul siektes en hul beserings. Dit gryp Hom aan die hart en dit raak hom tot in sy diepste wese. Hy voel hul vermoeidheid en hul verlorenheid weens hul sondes. Daar is diepe deernis in Jesus.

Jesus weet ook wat die grootste nood van die mensdom is. Dit is nie in die eerste plek jou fisiese nood nie. Jou diepste nood is om geestelik met God verenig te word en daarom het Hy begin om hulle uitvoerig te onderrig.

En dit is hoe ons Here ook na ons kyk geliefdes. Hy sien nie net ons nood raak nie. Hy beleef dit saam met ons. Hy is nie ’n God wat van ver af op ons neerkyk nie. Hy sien nie net jou pyn van ver af raak nie. So naby is Hy dat Hy jou pyn saam met jou beleef.

Jesus kyk vandag met presies dieselfde deernis na jou uitputting, jou finansiële bekommernis en jou brose gesondheid. Hy stuur jou nie weg na jou eie genade toe nie; Hy trek jou nader. Die enigste ware rus is net by ons Herder te vinde.

Die pad van geloof om rus in Jesus te vind.

Hoe vind jy rus in Jesus? Ons sien hoe wanneer ons kyk na die dissipels se oplossing teenoor Jesus se oplossing van die probleem om die mense kos te gee.

Die dissipels se plan is om die probleem te systap. Hulle oplossing is die skare weg te stuur om hul eie kos op te vind en dan gee Jesus vir hulle die onmoontlike opdrag: “Gee julle vir hulle iets te ete.”

Die dissipels se reaksie is dis onmoontlik en menslik gesproke, was dit. Die geld wat benodig sou word is ongeveer agt maande se salaris vir ’n gewone handearbeider en vir hierdie groepie vissers en volgelinge was dit ’n astronomiese bedrag geld wat hulle eenvoudig nie byderhand gehad het nie.

Dan sê Jesus vir hulle om te kyk wat hulle wel het. En die vyf brode en twee vissies was nie genoeg om 5000 mans tesame met die vroue en kinders te voed nie.

En dan gee Jesus vir hulle die opdrag om in groepe te gaan sit en al wat daar is, is vyf brode en twee vissies. Om daardie mense te organiseer en te sê: "Sit asseblief in rye, die kos is op pad," terwyl daar niks is nie, het radikale geloof en gehoorsaamheid van die dissipels gevra. Geloof tree hier op voordat die antwoord fisies sigbaar is.

Moenie kyk na wat jy nie het nie. Kyk na wat jy het, hoe gering dit ookal is. Die dissipels het begin by dit wat hulle nie het nie. Die dagloon van 200 handearbeiders teenoor wat hulle wel gehad het. Twee vissies en vyf brode.

Bring jou vyf garsbroodjies en twee klein soutvissies (jou bitter min krag, jou laaste bietjie geloof) na Hom toe. Rus begin waar ons ophou probeer om die "onmoontlike" in eie krag op te los, en ons tekortkominge in die hande van Jesus plaas.

Beleef die oorvloed van God se genade

In Mar. 6:39 hoor ons dat Jesus hulle opdrag gegee het om almal in groepe te gaan sit op die groen gras. Die verwysing na groen gras sê vir ons dit in die lente of vroegsomer plaasgevind het, maar daar is ’n belangriker boodskap agter die groen gras.

In Mar. 6:37 word die beeld van skape sonder ’n herder gebruik en die groen gras sluit mooi aan by Psalm 23:2

In groen weivelde laat Hy my rus;

na water waar daar rusplek is, lei Hy my.

Die skape wat sonder ’n herder was het rus gevind by Jesus as hul Herder wat hulle versorg. Dit sluit ook aan by Psalm 23:5

U dek vir my 'n tafel voor die oë van my teenstanders.

U verfris my kop met olie; my beker loop oor.

Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel.

In Joh. 6:35 sê Jesus:

“Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.

En dit sluit ook aan by die teken van brood by die Nagmaal. Jesus het Homself gegee sodat ons die oorvloed van God se genade kan beleef. Om deel te hê aan daardie genade vra geloof. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het. Glo dat Hy die dood oorwin het deur sy opstanding.

Uit die chaos van die skare se nood bring Jesus rus en Hy skep orde. Hy voed hulle geestelike nood met sy Woord en voorsien ook in hul fisiese behoeftes. Ons sien so ietsie van sy orde in die bevel dat hulle in groepe van vyftig en honderd moet gaan sit.

Uit die chaos skep Hy orde en om die ware vrede van rus in Jesus te beleef moet ons ook inskakel by sy orde. Die mense wat in groepe by mekaar gesit het, wys heen na sy kerk wat in gemeentes saamkom om mekaar te ondersteun in gemeenskap met mekaar. Daarom is dit so belangrik dat ons gesamentlik kom luister na God se Woord en dat ons verder mekaar as broers en susters moet ondersteun deur mekaar se laste te dra.

Verder moet ons ook orde in ons roetine kry. Maak tyd in jou dag om te luister na wat God in sy Woord vir ons sê en maak tyd om God te antwoord deur gebed.

Samevatting

Geliefdes, is ons nie ook maar soms soos ’n klomp skape sonder ’n Herder is nie? Die lewe bring ons by plekke waar ons nie wil wees nie en dan soek ons na rus om uit die chaos daarvan te ontsnap.

Onthou dat ware rus nie die afwesigheid van storms of werk is nie, maar die teenwoordigheid van Jesus midde-in dit.

Jesus is die Herder by wie ons rus vind. Hy kyk vandag met deernis na jou uitputting, jou finansiële bekommernis en jou brose gesondheid en Hy stuur jou nie weg na jou eie genade toe nie; Hy trek jou nader.

Geloof is nodig om jou rus in Jesus te vind. Bring jou vyf garsbroodjies en twee klein soutvissies (jou bitter min krag, jou laaste bietjie geloof) na Hom toe. Rus begin waar ons ophou probeer om die "onmoontlike" in eie krag op te los, en ons tekortkominge in die hande van Jesus plaas.

Deel in die oorvloed van God se genade deur jou geloof dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Vind jou rus in Jesus deur in te skakel in sy orde. Maak tyd om in gemeenskap met jou medegelowiges te leef in die eredienste en ook deur tyd te maak om na God te luister in sy Word en om Hom te antwoord in gebed.

Geliefdes, Kom vind jou rus in Jesus

Amen

 

12 Julie 2026

Jesus, dink ook aan my!

 

Luk. 23:26-43 & Mat. 1:21

Teks Luk. 23:43

Inleiding

Kruisig Hom! Kruisig Hom! So het die skare nog kort tevore geskreeu tydens Jesus se verhoor. En nou is Hy op pad na Golgota, die kopbeenplek toe. So uitgeput is Hy dat Hy nie in staat is om selfs die dwarsbalk van sy kruis dra nie. ’n Sekere Simon van Serena word gedwing om dit te dra. Hoe eensaam is dit nie? Niemand is bereid om Hom te help nie.

 Jesus word gekruisig

’n Groot klomp mense loop agterna om te sien wat gaan gebeur. Onder hulle is daar ook ’n groep vroue wat by voorbaat oor Hom getreur en gehuil het. Jesus se reaksie hieroor is op die oog af vreemd. Hy sê vir die vroue om nie oor Hom te huil nie, maar dat hulle oor hulself moet huil. Wat Hy hiermee bedoel is dat die oordeel van God oppad is daarom moet hulle daaroor bekommerd wees want niemand gaan dit vryspring nie. Jesus verwag nie simpatie nie. Wat Hy verwag is geloof, berou en bekering.

 Uiteindelik bereik die stoet Golgota met die skedelagtige voorkoms net buite Jerusalem langs ’n groot pad. Die Romeinse soldate het die regop paal in die grond ingeplant. Nadat hulle Jesus se klere uitgetrek het moes Hy op sy rug met sy arms oopgesper bo-op die dwarsbalk gaan lê sodat hulle Hom daarop kon vasspyker. Daarna is Hy met dwarsbalk en al aan die regop paal opgehys en daarna is die twee balke aan mekaar vasgebind. Laastens is sy voete aan die regop paal vasgespyker. Bokant sy kop is daar ’n bord wat sy sogenaamde misdaad aangedui het: “die Koning van die Jode” in drie tale sodat almal kon verstaan, maar hoeveel het werklik verstaan?

 So is daar ook twee misdadigers saam met Hom gekruisig en nou hang Hy tussen hulle, een aan sy linkerkant en een aan sy regterkant. So is die profesie van Jes. 53 en Ps. 22 vervul. Hy is as misdadiger beskou. Die soldate verdeel sy klere onder mekaar, maar loot oor wie sy onderkleed moet kry.

 Jesus se reaksie

Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar vergifnis:

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hier demonstreer Jesus sy opdrag, julle moet julle vyande liefhê (Mat 5:44)

“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg”

maar ten spyte van hierdie liefdesdaad is daar nog steeds mense wat onaangeraak is daardeur. Die raadslede lag Hom uit en spot Hom. Smalend snou hulle Hom toe (vgl. Luk. 23:25):

Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.

Die soldate neem ook deel aan hierdie gespottery. Selfs een van die misdadigers wat saam met Hom die pyn van die kruis ervaar, doen mee aan die gespottery.

Twee antwoorde op God se genade: negatief of positief:

Negatief

In hierdie misdadiger sien ons die kenmerkende reaksie van mense wat geen berou het oor hul dade nie. Hulle sien nie hul eie foute raak nie, maar die foute van ander mense sien hulle alte maklik raak. Hulle sien nie die erns van hul probleem raak nie. Mense sonder sondebesef mis die genade van God. Dis mense wat God die skuld gee vir hul eie sondige optrede. Dit is nooit hulle skuld wanneer dinge verkeerd loop nie, maar altyd iemand anders se skuld. Dis een van die belangrikste kentekens van ’n geharde sondaar en ons sien dit reeds direk na die sondeval daar in die paradys. Dis nie my skuld, maar altyd iemand anders se skuld. Eva het die slang blameer, Adam het Eva blameer en op die uiteinde het hy God blameer. Dit is wat hierdie misdadiger doen. Hy blameer God.

 Positief

Teenoor hierdie misdadiger se optrede is die ander misdadiger. Tot hier toe het hulle dieselfde lot gehad. Beide het ’n lewe van misdaad gekies. Beide ontvang nou die straf waarmee misdaad beloon word, maar op die kruis langs Christus loop hul paaie uitmekaar. Die een kies die ewige dood en die ander kies die ewige lewe. Beide het Jesus se gebed gehoor: (vgl. Luk 23:33)

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

 In hierdie gebed hoor ons die Evangelie, die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus. In dit wat Hy hier bid, vra Hy die Vader: “moet hulle nie straf nie, maar straf my!” Een misdadiger verhard sy hart en die een hoor die Evangelie, die goeie nuus dat daar deur Christus vergifnis van sonde is omdat Hyself die straf daarvoor dra. Die Evangelie van die kruis stel elke mens voor ’n besliste keuse: verharding of bekering. Die kruise aan weerskante van die Christus dui die pad na bo, maar ook die pad na onder.

 In die gebed van die tweede misdadiger (Luk. 23:42):

“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

hoor ons die onmisbare vereiste vir die gebed van iemand wat Hom voor God verootmoedig. Hy het sy skuld ontdek en besef hoe verlore hy voor die regverdige oordeel van God staan. Hy besef dat hy reeds verlore is, maar hy gryp na die reddingstou van liefde wat Jesus met die gebed van sy eerste kruiswoorde na hom toe uitgegooi het. Hy besef dat Hy in homself niks goed het wat hom kan red nie. Al waarop hy sy hoop kan plaas is God se genade.

 Die inhoud van die gebed van verootmoediging is dit wat net ’n mens wat sy eie onvermoë besef kan bid. Hy smeek nie vir ’n plek in die koninkryk nie, want hy besef dat hy geen aanspraak daarop kan maak nie. Al wat hy vra is dat Jesus maar net aan DINK. Hy smeek nie om saligheid of iets spesifiek nie, hy vra net die aandag van Jesus die Koning. Al wat hy vra is maar net ’n krummeltjie van God se genade want hy besef dat hy op niks aanspraak kan maak nie. Hy het alles prys gegee.

 Hoe is so ’n eenvoudige, maar diep opregte gebed moontlik? Dit is alleen maar net moontlik wanneer die Heilige Gees ’n mens se hart verbrysel. Dit is wanneer die Gees die eiegeregtigheid en eie belangrikheid, die eie ek in my afbreek. Dit sien ons wanneer hy die ander misdadiger met sy verharde hart bestraf (vgl. Luk. 23:40&41):

“Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

Daarom durf hy eintlik nie om iets van Jesus te vra nie. Hy smeek maar net “Jesus, dink ook aan my!” God se genade vra nie, ’n hoogdawerende gebed nie. In eenvoud kan ons ook maar net gelowig bid, “Jesus, dink ook aan my!”

 In Jesus se antwoord sien ons die grootheid van God se liefde en genade. Jesus kan en wil verlossing gee en daarom antwoord Hy hierdie misdager (vgl. Luk. 23:43):

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

In plaas van die krummeltjie wat hierdie misdadiger vra, gee Jesus alles, nie net kwytskelding van skuld nie, maar ook die heerlikheid van die Paradys. Om die Paradys te ontvang moet mens eers gelowig by Golgota verbygaan.

 In sy antwoord maak Jesus ook die belofte “....... saam met My”. Wanneer Ek gaan, gaan jy ook! Dit is die klimaks van God se genade, naamlik om gemeenskap met God te beleef. God is by my en ek is in sy teenwoordigheid. Dit is ook nie maar net ’n vae belofte nie, nee dit is vas en seker. Jesus sê: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Nie eers eendag daar ver nie, maar VANDAG nog. Die ewige lewe saam met God begin vandag nog waar ons die heerlike teenwoordigheid van God kan beleef.

 Persoonlike boodskap

Die vraag is nou geliefdes: “wat hou die kruiswoorde van Jesus vir my in?” Wanneer ons voor die kruis van Jesus Christus te staan kom, kan ons nie maar net passief daaroor wees nie. Niemand word onaangeraak agtergelaat nie! Die kruis vra van elkeen wat is jou antwoord? Is dit die onverskilligheid van die eerste misdadiger? Ten spyte van die Evangelie wat ek gehoor het, gaan ek hier weg asof niks verander het nie. Ek onthou dalk vir so ’n kort rukkie die mooi preek, maar dit verander niks aan my lewe nie. Ek gaan maar net nog steeds aan en leef my lewe asof God nie bestaan nie. Die eerste misdadiger was so naby aan God, maar tog het Hy vir ewig verlore gegaan! Hy het sy Verlosser gesien en gehoor. Hy is gewaarsku, maar het nie gehoor gegee nie.

 Of is my reaksie ook die eenvoudige gebed van die tweede misdadiger? “Jesus, dink ook aan my!” Die belofte op hierdie gebed word egter net vir my ontsluit wanneer ek dit in ware ootmoed bid. Dit tree slegs in werking wanneer ek my eie skuld ontdek en besef hoe verlore ek werklik is wanneer ek voor die regverdige oordeel van God staan. Luister ek na die stem van die Heilige Gees in my lewe? Gryp ek God se genade in geloof aan deur hulpeloos met opregte bekering uit die diepte van my elende te smeek: “Jesus, dink ook aan my!” As dit my reaksie is, dan kan ek met vaste sekerheid weet dat Jesus se antwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ook vir my bedoel is.

 Geliefdes, wat is my reaksie op die kruisboodskap van Jesus Christus? Is ek soos die eerste misdadigers wat ten spyte daarvan dat ek die Evangelie gehoor my hart verhard, of is ek soos die tweede misdadiger wat sy eie skuld ontdek het in die diepe besef van sy verlorenheid bid: “Jesus, dink ook aan my!”

Amen

05 Julie 2026

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag

 

Skriflesing: Psalm 46 – 20/20 Vertaling

Teksverse: Ps. 46:2, 11 & 12

1    Vir die musiekleier. Van die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied.

2  God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;
as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.

3  Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud,
en berge wankel in die hart van die see nie.

4    Sy waters kan maar woed, kan maar skuim,
berge kan maar bewe in sy dreuning. Sela

5    Daar is 'n rivier –
sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God,
die heiligste woonplek van die Allerhoogste.

6    God is in haar midde, sy sal nie wankel nie.
God sal haar help wanneer die oggend aanbreek.

7  Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel,
Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.

8  Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.
   Sela

9    Kom kyk na die dade van die Here,
Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen,

10  wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde.
Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese;
waens verbrand Hy in die vuur.

11 “Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”

12  Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

 Psalm 46 is die belydenis van gelowiges wat weet waar hul ankers in die lewe is. Wanneer die wêreld in chaos rondom hulle losbars, dan is daar net een veilige plek waar hul gaan skuiling soek. By God en dit is die Psalmdigter se belydenis:

Psalm 46:2

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;

as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.

God is hul skuilplek wanneer die wêreld om hulle in duie stort. Hy gebruik hier die voorbeeld van aardbewings wat die wêreld laat skeur en berge in die see laat wegsink, want God is die Skepper en daarom kan Hy die gelowiges beskerm teen die gevare.

In verse 5 tot 8 beskryf hy God se sorg vir die gelowiges en dat God self teenwoordig by hulle is en daarom sal die stad niks oorkom nie.

Selfs wanneer die nasies in opstand kom het hulle niks te vrees nie, want die HERE, Heerser oor al die magte is saam met die gelowiges. Hy is die veilige vesting vir gelowiges waar hulle kan skuil wanneer die wêreld hulle wil oorweldig.

Verse 9 & 10 gee dan ook die bewyse van wat die HERE vir sy volk gedoen het. Hy laat oorloë ophou omdat hy die mag van vyandige nasies verbreek.

Geliefdes, is dit nie ’n mooi belydenis nie? En dit moet mos ons belydenis ook wees, nie waar nie, geliefdes? God is mos ons skuilplek en 'n bron van krag!

En dit is maklik om dit vir mekaar te sê wanneer alles goed gaan. Maar staan ons werklik so sterk wanneer die aarde om ons bewe en die berge rondom ons begin wegsink in see? Onthou ons waar ons Anker in die lewe is wanneer die vyand se koeëls oor ons koppe vlieg en my versugting is dat ek maar net deur hierdie dag kan kom?

Daar het die afgelope week twee geweldige aardbewings van oor die sewe op die rigterskaal in minder as ’n minuut uitmekaar Venezuela getref en die verwoesting daar is, is katastrofies. Die eerste was ’n sterkte van 7.5 en in net bietjie meer as 30 sekondes later het ’n tweede met die sterkte van 7.5 plaasgevind.

Soms tref die lewe jou met so ’n dubbele vuishou in die maag. Jy is nog besig om die eerste hou te verwerk dan tref die volgende hou jou. En op die uiteinde is dit nie fisiese gevolge wat die ergste is nie. Dis wat in jou kop aangaan. Hoe tel jy die stukke op na die verwoesting van die aardbewing?

In Psalm 46 sê die HERE vir ons hoe. As mens die Psalm net oppervlakkig lees, dan mis mens die dieper troos wat die HERE vir ons in die Psalm gee.

In die Psalm hoor ons: God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag. In Ps. 46:8 kry ons die sleutel:

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,

'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

Hier word ons net weer herinner wie ons Anker in die lewe is. Die Psalmdigter gebruik hier een van die Godsname wat beskryf wie God werklik is. Die Hebreeuse titel “YHWH Tseva'ot” beteken letterlik die opperbevelvoerder van leërmag.

En daarom is dit in die 33/53 Vertaling letterlik vertaal met “HERE van die leërskare” In die 83 Vertaling is die Naam vertaal met “HERE die Almagtige” wat so bietjie verduidelik wat die gevolg van die titel is. As jy oor al hierdie weermagte heers, is jy almagtig. In die 20/20 Vertaling is dit vertaal met “HERE, Heerser oor al die magte” en dit sê vir ons: God is die Bestuurder van absoluut alles wat krag of invloed het oor die kosmiese, geestelike en politiese aspekte van die lewe.

Hy is die Heerser oor elke sterrestelsel in die heelal, elke atoomsplitsing en elke natuurkrag in die kosmos. Hy bepaal die werking van elke atoom en ook die plasing van elke ster en die beweging en interaksie daarvan. Hy het die natuurwette gemaak en bepaal die werking daarvan. Niks is buite sy beheer nie.

Hy is ook in beheer van die ontelbare geestelike magte, al die engele en geestelike wesens en selfs die satan en die gevalle engele kan niks doen as Hy dit nie goedkeur nie.

In 1 Sam. 17:45 waar Dawid vir Goliat aanvat sê hy:

"Ek kom na jou toe in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die gevegslinies van Israel"

En hier in Psalm 46 sien ons dat Hy selfs die heidense nasies se weermagte soos klei in Sy hande bestuur. Heersers dink húlle is in beheer, maar Hy troon bo hulle uit.

En dit help ons om net weereens te verstaan wie ons Anker in die lewe is. Die probleme van die lewe is dikwels groter as wat ons kan hanteer. ’n Aardbewing wat veroorsaak dat die berge in die see wegsak is nie sommer maar net ’n onbenulligheid nie en die aardbewings wat ons lewens ontwrig word nie afgemaak as iets maar net niks is nie.

Die perspektief wat ons hier kry is dat God groter is as die kwaaiste aardbewing en dit is wat vir ons hoop gee. Iemand het op ’n keer gesê: “vertel vir my hoe groot jou probleem is, dan vertel ek jou hoe GROOT God is.”

Verder is daar in Psalm 46 ’n fyn nuanse wat ons maklik mis lees, maar wanneer mens dit raaksien, dan sien jy raak watter diepe troos hier in hierdie Psalm vir ons opgesluit is.

Tot en met vers 10 word daar oor God gepraat en oor wat Hy doen, maar in vers 11 kom God self aan die woord:

Ps. 46:11

“Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”

Dis hier waar die sleutel lê om self ook by die mooi belydenis uit te kom wat ons in hierdie Psalm vind:

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag

Weereens moet ons mooi luister na wat die Heilige Gees hier vir ons in die Psalm sê. Dis nie maar net ’n “toemaar, moenie bekommer, alles sal regkom nie.” Nee, dis beslis nie BAIE MEER as dit. Dit is NIE 'n sagte uitnodiging om rustig te raak nie. Dit is die koninklike bevel van God wat sê: “Laat los! Sak jou hande!

Die Hebreeuse woord wat hier met “bedaar” vertaal is beteken letterlik “laat los en sak jou hande.” Wat God hier sê is: “Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los jou greep op die situasie, sodat julle kan erken dat Ek alleen God is.”

Wanneer die aarde om jou bewe en dit vir jou lyk asof alles rondom jou besig is om in chaos te ontaard, is ons natuurlike reaksie om paniekerig te probeer red wat te redde is. Ons gryp na allerhande strooihalms om die situasie te probeer red en klou in krampagtige moedeloosheid vas! Wanneer die koeëls oor jou kop vlieg is dit moeilik om nie paniekerig rond te tas of om in moedeloosheid te verval nie.

Dis hier waar God vir ons sê: “Kry jou fokus reg. Laat los. Bedaar!” En dan voeg God die rede by vir sy bevel: “Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” God sê hier vir ons “weet wie Ek is!” Dis nie net kop kennis van “kry jou feite reg nie.” Wat God hier sê is: “kom tot die diep, lewende besef en erkenning van My absolute oppermagtigheid, want Solank as wat jou hande toegeklem is, kan jy niks anders vashou of raaksien nie.”

En dan sluit die Psalm af deur te herhaal wat ons in Ps. 46:8 gehoor het:

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,

'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

Hierdie verandering in die Psalm waar daar oor God gepraat word na waar God self aan die woord kom, wys vir ons God se genade. Die Almagtige God wat die absolute opperbevelvoerder is waar alles wat in die heelal is aan sy gesag onderworpe is, die natuur, elke atoom in die heelal, die ontelbare engele magte, elke menslike gesag, alles, buig Homself neer na ons as mense.

God sê hier vir ons: “moenie net van My weet deur wat ander oor My sê nie. Kom leer my persoonlik ken.” Weereens kry ons hier die belofte van God wat neerbuig na ons as mense. Die Psalmdigter het vooruitgekyk na hierdie belofte en ons kyk terug na Hoe God dit gedoen het.

God die Vader het sy Seun gestuur. Jesus wat God is, het Homself klein gemaak vir ons deur Mens te word om die struikelblok van ons sonde uit die weg te neem. Hy het die dood oorwin sodat ons kan lewe. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om hierdie groot opoffering van God in geloof vas te gryp en ons eie te maak.

Hoe kan ons die belydenis: “God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag” ons eie maak? In Mat. 11:28 sê Jesus vir ons:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.

Moenie in die verwoesting van die aardbewing vaskyk nie. Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los julle greep op die situasie, sodat julle kan erken dat God alleen God is.” Sien raak dat God groter is as die chaos van die lewe en maak die belydenis: “God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag” jou eie.

Amen