Skriflesing: Psalm
46 – 20/20 Vertaling
Teksverse: Ps.
46:2, 11 & 12
1 Vir die musiekleier. Van
die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied.
2 God is
vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;
as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.
3 Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde
skud,
en berge wankel in die hart van die see nie.
4 Sy waters kan maar woed, kan
maar skuim,
berge kan maar bewe in sy dreuning. Sela
5 Daar is 'n rivier –
sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God,
die heiligste woonplek van die Allerhoogste.
6 God is in haar midde, sy
sal nie wankel nie.
God sal haar help wanneer die oggend aanbreek.
7 Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel,
Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.
8 Die Here, Heerser
oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Sela
9 Kom kyk na die
dade van die Here,
Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen,
10 wat oorloë laat ophou tot
aan die einde van die aarde.
Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese;
waens verbrand Hy in die vuur.
11 “Bedaar
en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”
12 Die Here, Heerser oor
alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.
Psalm 46:2
God is vir ons 'n
skuilplek en 'n bron van krag;
as hulp in benoudheid
is Hy altyd te vinde.
God is hul skuilplek wanneer die wêreld om hulle
in duie stort. Hy gebruik hier die voorbeeld van aardbewings wat die wêreld
laat skeur en berge in die see laat wegsink, want God is die Skepper en daarom
kan Hy die gelowiges beskerm teen die gevare.
In verse 5 tot 8 beskryf hy God se sorg vir
die gelowiges en dat God self teenwoordig by hulle is en daarom sal die stad
niks oorkom nie.
Selfs wanneer die nasies in opstand kom het
hulle niks te vrees nie, want die HERE, Heerser oor al die magte is saam met
die gelowiges. Hy is die veilige vesting vir gelowiges waar hulle kan skuil
wanneer die wêreld hulle wil oorweldig.
Verse 9 & 10 gee dan ook die bewyse van
wat die HERE vir sy volk gedoen het. Hy laat oorloë ophou omdat hy die mag van
vyandige nasies verbreek.
Geliefdes, is dit nie ’n mooi belydenis nie?
En dit moet mos ons belydenis ook wees, nie waar nie, geliefdes? God is mos ons
skuilplek en 'n bron van krag!
En dit is maklik om dit vir mekaar te sê
wanneer alles goed gaan. Maar staan ons werklik so sterk wanneer die aarde om
ons bewe en die berge rondom ons begin wegsink in see? Onthou ons waar ons
Anker in die lewe is wanneer die vyand se koeëls oor ons koppe vlieg en my
versugting is dat ek maar net deur hierdie dag kan kom?
Daar het die afgelope week twee geweldige
aardbewings van oor die sewe op die rigterskaal in minder as ’n minuut
uitmekaar Venezuela getref en die verwoesting daar is, is katastrofies. Die
eerste was ’n sterkte van 7.5 en in net bietjie meer as 30 sekondes later het
’n tweede met die sterkte van 7.5 plaasgevind.
Soms tref die lewe jou met so ’n dubbele
vuishou in die maag. Jy is nog besig om die eerste hou te verwerk dan tref die
volgende hou jou. En op die uiteinde is dit nie fisiese gevolge wat die ergste
is nie. Dis wat in jou kop aangaan. Hoe tel jy die stukke op na die verwoesting
van die aardbewing?
In Psalm 46 sê die HERE vir ons hoe. As mens
die Psalm net oppervlakkig lees, dan mis mens die dieper troos wat die HERE vir
ons in die Psalm gee.
In die Psalm hoor ons: God is vir ons 'n
skuilplek en 'n bron van krag. In Ps. 46:8 kry ons die sleutel:
Die Here, Heerser oor
alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is
die God van Jakob vir ons.
Hier word ons net weer herinner wie ons Anker
in die lewe is. Die Psalmdigter gebruik hier een van die Godsname wat beskryf
wie God werklik is. Die Hebreeuse titel “YHWH Tseva'ot” beteken letterlik die
opperbevelvoerder van leërmag.
En daarom is dit in die 33/53 Vertaling
letterlik vertaal met “HERE van die leërskare” In die 83 Vertaling is die Naam
vertaal met “HERE die Almagtige” wat so bietjie verduidelik wat die gevolg van
die titel is. As jy oor al hierdie weermagte heers, is jy almagtig. In die
20/20 Vertaling is dit vertaal met “HERE, Heerser oor al die magte” en dit sê
vir ons: God is die Bestuurder van absoluut alles wat krag of invloed het oor
die kosmiese, geestelike en politiese aspekte van die lewe.
Hy is die Heerser oor elke sterrestelsel in
die heelal, elke atoomsplitsing en elke natuurkrag in die kosmos. Hy bepaal die
werking van elke atoom en ook die plasing van elke ster en die beweging en
interaksie daarvan. Hy het die natuurwette gemaak en bepaal die werking
daarvan. Niks is buite sy beheer nie.
Hy is ook in beheer van die ontelbare
geestelike magte, al die engele en geestelike wesens en selfs die satan en die
gevalle engele kan niks doen as Hy dit nie goedkeur nie.
In 1 Sam. 17:45 waar Dawid vir Goliat aanvat
sê hy:
"Ek kom na jou
toe in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die gevegslinies
van Israel"
En hier in Psalm 46 sien ons dat Hy selfs die
heidense nasies se weermagte soos klei in Sy hande bestuur. Heersers dink húlle
is in beheer, maar Hy troon bo hulle uit.
En dit help ons om net weereens te verstaan
wie ons Anker in die lewe is. Die probleme van die lewe is dikwels groter as
wat ons kan hanteer. ’n Aardbewing wat veroorsaak dat die berge in die see
wegsak is nie sommer maar net ’n onbenulligheid nie en die aardbewings wat ons
lewens ontwrig word nie afgemaak as iets maar net niks is nie.
Die perspektief wat ons hier kry is dat God
groter is as die kwaaiste aardbewing en dit is wat vir ons hoop gee. Iemand het
op ’n keer gesê: “vertel vir my hoe groot jou probleem is, dan vertel ek jou
hoe GROOT God is.”
Verder is daar in Psalm 46 ’n fyn nuanse wat
ons maklik mis lees, maar wanneer mens dit raaksien, dan sien jy raak watter
diepe troos hier in hierdie Psalm vir ons opgesluit is.
Tot en met vers 10 word daar oor God gepraat
en oor wat Hy doen, maar in vers 11 kom God self aan die woord:
Ps. 46:11
“Bedaar en erken dat
Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”
Dis hier waar die sleutel lê om self ook by
die mooi belydenis uit te kom wat ons in hierdie Psalm vind:
God is vir ons 'n
skuilplek en 'n bron van krag
Weereens moet ons mooi luister na wat die
Heilige Gees hier vir ons in die Psalm sê. Dis nie maar net ’n “toemaar, moenie
bekommer, alles sal regkom nie.” Nee, dis beslis nie BAIE MEER as dit. Dit is NIE
'n sagte uitnodiging om rustig te raak nie. Dit is die koninklike bevel van God
wat sê: “Laat los! Sak jou hande!
Die Hebreeuse woord wat hier met “bedaar”
vertaal is beteken letterlik “laat los en sak jou hande.” Wat God hier sê is: “Gee
oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los jou greep op die situasie, sodat
julle kan erken dat Ek alleen God is.”
Wanneer die aarde om jou bewe en dit vir jou
lyk asof alles rondom jou besig is om in chaos te ontaard, is ons natuurlike
reaksie om paniekerig te probeer red wat te redde is. Ons gryp na allerhande
strooihalms om die situasie te probeer red en klou in krampagtige moedeloosheid
vas! Wanneer die koeëls oor jou kop vlieg is dit moeilik om nie paniekerig rond
te tas of om in moedeloosheid te verval nie.
Dis hier waar God vir ons sê: “Kry jou fokus
reg. Laat los. Bedaar!” En dan voeg God die rede by vir sy bevel: “Ek is
verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” God sê hier vir ons “weet
wie Ek is!” Dis nie net kop kennis van “kry jou feite reg nie.” Wat God hier sê
is: “kom tot die diep, lewende besef en erkenning van My absolute
oppermagtigheid, want Solank as wat jou hande toegeklem is, kan jy niks anders
vashou of raaksien nie.”
En dan sluit die Psalm af deur te herhaal wat
ons in Ps. 46:8 gehoor het:
Die Here, Heerser oor
alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is
die God van Jakob vir ons.
Hierdie verandering in die Psalm waar daar
oor God gepraat word na waar God self aan die woord kom, wys vir ons God se
genade. Die Almagtige God wat die absolute opperbevelvoerder is waar alles wat
in die heelal is aan sy gesag onderworpe is, die natuur, elke atoom in die
heelal, die ontelbare engele magte, elke menslike gesag, alles, buig Homself
neer na ons as mense.
God sê hier vir ons: “moenie net van My weet
deur wat ander oor My sê nie. Kom leer my persoonlik ken.” Weereens kry ons
hier die belofte van God wat neerbuig na ons as mense. Die Psalmdigter het
vooruitgekyk na hierdie belofte en ons kyk terug na Hoe God dit gedoen het.
God die Vader het sy Seun gestuur. Jesus wat
God is, het Homself klein gemaak vir ons deur Mens te word om die struikelblok
van ons sonde uit die weg te neem. Hy het die dood oorwin sodat ons kan lewe.
Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om hierdie groot opoffering van God in
geloof vas te gryp en ons eie te maak.
Hoe kan ons die belydenis: “God is vir ons 'n
skuilplek en 'n bron van krag” ons eie maak? In Mat. 11:28 sê Jesus vir ons:
Kom na My toe, almal
wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.
Moenie in die verwoesting van die aardbewing
vaskyk nie. Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los julle greep op die
situasie, sodat julle kan erken dat God alleen God is.” Sien raak dat God
groter is as die chaos van die lewe en maak die belydenis: “God is vir ons 'n
skuilplek en 'n bron van krag” jou eie.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking