Wys tans plasings met die etiket Psalm 46. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psalm 46. Wys alle plasings

05 Julie 2026

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag

 

Skriflesing: Psalm 46 – 20/20 Vertaling

Teksverse: Ps. 46:2, 11 & 12

1    Vir die musiekleier. Van die Koragiete. Op “Jong vroue”. 'n Lied.

2  God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;
as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.

3  Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud,
en berge wankel in die hart van die see nie.

4    Sy waters kan maar woed, kan maar skuim,
berge kan maar bewe in sy dreuning. Sela

5    Daar is 'n rivier –
sy watervore verskaf vreugde aan die stad van God,
die heiligste woonplek van die Allerhoogste.

6    God is in haar midde, sy sal nie wankel nie.
God sal haar help wanneer die oggend aanbreek.

7  Nasies was onstuimig, koninkryke het gewankel,
Hy het sy stem laat hoor; die aarde sidder.

8  Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.
   Sela

9    Kom kyk na die dade van die Here,
Hy wat skrikwekkende dinge op aarde doen,

10  wat oorloë laat ophou tot aan die einde van die aarde.
Boë breek Hy stukkend en Hy verpletter spiese;
waens verbrand Hy in die vuur.

11 “Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”

12  Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,
'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

 Psalm 46 is die belydenis van gelowiges wat weet waar hul ankers in die lewe is. Wanneer die wêreld in chaos rondom hulle losbars, dan is daar net een veilige plek waar hul gaan skuiling soek. By God en dit is die Psalmdigter se belydenis:

Psalm 46:2

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag;

as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.

God is hul skuilplek wanneer die wêreld om hulle in duie stort. Hy gebruik hier die voorbeeld van aardbewings wat die wêreld laat skeur en berge in die see laat wegsink, want God is die Skepper en daarom kan Hy die gelowiges beskerm teen die gevare.

In verse 5 tot 8 beskryf hy God se sorg vir die gelowiges en dat God self teenwoordig by hulle is en daarom sal die stad niks oorkom nie.

Selfs wanneer die nasies in opstand kom het hulle niks te vrees nie, want die HERE, Heerser oor al die magte is saam met die gelowiges. Hy is die veilige vesting vir gelowiges waar hulle kan skuil wanneer die wêreld hulle wil oorweldig.

Verse 9 & 10 gee dan ook die bewyse van wat die HERE vir sy volk gedoen het. Hy laat oorloë ophou omdat hy die mag van vyandige nasies verbreek.

Geliefdes, is dit nie ’n mooi belydenis nie? En dit moet mos ons belydenis ook wees, nie waar nie, geliefdes? God is mos ons skuilplek en 'n bron van krag!

En dit is maklik om dit vir mekaar te sê wanneer alles goed gaan. Maar staan ons werklik so sterk wanneer die aarde om ons bewe en die berge rondom ons begin wegsink in see? Onthou ons waar ons Anker in die lewe is wanneer die vyand se koeëls oor ons koppe vlieg en my versugting is dat ek maar net deur hierdie dag kan kom?

Daar het die afgelope week twee geweldige aardbewings van oor die sewe op die rigterskaal in minder as ’n minuut uitmekaar Venezuela getref en die verwoesting daar is, is katastrofies. Die eerste was ’n sterkte van 7.5 en in net bietjie meer as 30 sekondes later het ’n tweede met die sterkte van 7.5 plaasgevind.

Soms tref die lewe jou met so ’n dubbele vuishou in die maag. Jy is nog besig om die eerste hou te verwerk dan tref die volgende hou jou. En op die uiteinde is dit nie fisiese gevolge wat die ergste is nie. Dis wat in jou kop aangaan. Hoe tel jy die stukke op na die verwoesting van die aardbewing?

In Psalm 46 sê die HERE vir ons hoe. As mens die Psalm net oppervlakkig lees, dan mis mens die dieper troos wat die HERE vir ons in die Psalm gee.

In die Psalm hoor ons: God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag. In Ps. 46:8 kry ons die sleutel:

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,

'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

Hier word ons net weer herinner wie ons Anker in die lewe is. Die Psalmdigter gebruik hier een van die Godsname wat beskryf wie God werklik is. Die Hebreeuse titel “YHWH Tseva'ot” beteken letterlik die opperbevelvoerder van leërmag.

En daarom is dit in die 33/53 Vertaling letterlik vertaal met “HERE van die leërskare” In die 83 Vertaling is die Naam vertaal met “HERE die Almagtige” wat so bietjie verduidelik wat die gevolg van die titel is. As jy oor al hierdie weermagte heers, is jy almagtig. In die 20/20 Vertaling is dit vertaal met “HERE, Heerser oor al die magte” en dit sê vir ons: God is die Bestuurder van absoluut alles wat krag of invloed het oor die kosmiese, geestelike en politiese aspekte van die lewe.

Hy is die Heerser oor elke sterrestelsel in die heelal, elke atoomsplitsing en elke natuurkrag in die kosmos. Hy bepaal die werking van elke atoom en ook die plasing van elke ster en die beweging en interaksie daarvan. Hy het die natuurwette gemaak en bepaal die werking daarvan. Niks is buite sy beheer nie.

Hy is ook in beheer van die ontelbare geestelike magte, al die engele en geestelike wesens en selfs die satan en die gevalle engele kan niks doen as Hy dit nie goedkeur nie.

In 1 Sam. 17:45 waar Dawid vir Goliat aanvat sê hy:

"Ek kom na jou toe in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die gevegslinies van Israel"

En hier in Psalm 46 sien ons dat Hy selfs die heidense nasies se weermagte soos klei in Sy hande bestuur. Heersers dink húlle is in beheer, maar Hy troon bo hulle uit.

En dit help ons om net weereens te verstaan wie ons Anker in die lewe is. Die probleme van die lewe is dikwels groter as wat ons kan hanteer. ’n Aardbewing wat veroorsaak dat die berge in die see wegsak is nie sommer maar net ’n onbenulligheid nie en die aardbewings wat ons lewens ontwrig word nie afgemaak as iets maar net niks is nie.

Die perspektief wat ons hier kry is dat God groter is as die kwaaiste aardbewing en dit is wat vir ons hoop gee. Iemand het op ’n keer gesê: “vertel vir my hoe groot jou probleem is, dan vertel ek jou hoe GROOT God is.”

Verder is daar in Psalm 46 ’n fyn nuanse wat ons maklik mis lees, maar wanneer mens dit raaksien, dan sien jy raak watter diepe troos hier in hierdie Psalm vir ons opgesluit is.

Tot en met vers 10 word daar oor God gepraat en oor wat Hy doen, maar in vers 11 kom God self aan die woord:

Ps. 46:11

“Bedaar en erken dat Ek God is,
Ek is verhewe bo die nasies,
Ek is verhewe bo die aarde.”

Dis hier waar die sleutel lê om self ook by die mooi belydenis uit te kom wat ons in hierdie Psalm vind:

God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag

Weereens moet ons mooi luister na wat die Heilige Gees hier vir ons in die Psalm sê. Dis nie maar net ’n “toemaar, moenie bekommer, alles sal regkom nie.” Nee, dis beslis nie BAIE MEER as dit. Dit is NIE 'n sagte uitnodiging om rustig te raak nie. Dit is die koninklike bevel van God wat sê: “Laat los! Sak jou hande!

Die Hebreeuse woord wat hier met “bedaar” vertaal is beteken letterlik “laat los en sak jou hande.” Wat God hier sê is: “Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los jou greep op die situasie, sodat julle kan erken dat Ek alleen God is.”

Wanneer die aarde om jou bewe en dit vir jou lyk asof alles rondom jou besig is om in chaos te ontaard, is ons natuurlike reaksie om paniekerig te probeer red wat te redde is. Ons gryp na allerhande strooihalms om die situasie te probeer red en klou in krampagtige moedeloosheid vas! Wanneer die koeëls oor jou kop vlieg is dit moeilik om nie paniekerig rond te tas of om in moedeloosheid te verval nie.

Dis hier waar God vir ons sê: “Kry jou fokus reg. Laat los. Bedaar!” En dan voeg God die rede by vir sy bevel: “Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.” God sê hier vir ons “weet wie Ek is!” Dis nie net kop kennis van “kry jou feite reg nie.” Wat God hier sê is: “kom tot die diep, lewende besef en erkenning van My absolute oppermagtigheid, want Solank as wat jou hande toegeklem is, kan jy niks anders vashou of raaksien nie.”

En dan sluit die Psalm af deur te herhaal wat ons in Ps. 46:8 gehoor het:

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons,

'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.

Hierdie verandering in die Psalm waar daar oor God gepraat word na waar God self aan die woord kom, wys vir ons God se genade. Die Almagtige God wat die absolute opperbevelvoerder is waar alles wat in die heelal is aan sy gesag onderworpe is, die natuur, elke atoom in die heelal, die ontelbare engele magte, elke menslike gesag, alles, buig Homself neer na ons as mense.

God sê hier vir ons: “moenie net van My weet deur wat ander oor My sê nie. Kom leer my persoonlik ken.” Weereens kry ons hier die belofte van God wat neerbuig na ons as mense. Die Psalmdigter het vooruitgekyk na hierdie belofte en ons kyk terug na Hoe God dit gedoen het.

God die Vader het sy Seun gestuur. Jesus wat God is, het Homself klein gemaak vir ons deur Mens te word om die struikelblok van ons sonde uit die weg te neem. Hy het die dood oorwin sodat ons kan lewe. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om hierdie groot opoffering van God in geloof vas te gryp en ons eie te maak.

Hoe kan ons die belydenis: “God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag” ons eie maak? In Mat. 11:28 sê Jesus vir ons:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.

Moenie in die verwoesting van die aardbewing vaskyk nie. Gee oor. Hou op om in julle eie krag te veg. Los julle greep op die situasie, sodat julle kan erken dat God alleen God is.” Sien raak dat God groter is as die chaos van die lewe en maak die belydenis: “God is vir ons 'n skuilplek en 'n bron van krag” jou eie.

Amen


13 September 2020

Op 'n pad van persoonlike geloofsgroei deur die vuur van beproewing - Psalm 46

God is vir jou ’n toevlug en ’n beskerming

 Skriflesing Ps. 46 teksvers Ps. 46:2


Die preek is ook in video formaat beskikbaar via:

1) Facebook: Gereformeerde Kerk Empangenie

2) YouTube: Gereformeerde Kerk Empangeni

Inleiding

Die lewe is vol onsekerheid en benoudheid. Wie van ons weet wat môre vir ons inhou? Sonder dat jy dit verwag maak die lewe soms 'n nare draai en pluk al jou sekerhede onder jou uit. Waar soek jy sekerheid wanneer jou hele leerwêreld net so eensklaps onderstebo gegooi word?

 In Ps. 46 hoor ons waar die Psalmdigter troos en sekerheid gesoek het. Hy vertrou dat God se volk veilig en beskut is onder God se beskerming. In hierdie Psalm word God se konkrete bystand aan sy bedreigde volk in die loop van die geskiedenis besing.

 Dwarsdeur die Ou Testament is die verdrukking van Israel en God se verlossing ’n heenwysing na Christus wat die mensdom van die slawerny van die sonde verlos. Die uittog uit Egipte waar God sy volk verlos van die slawerny van Egipte. Die verlossing van die Jode uit die slawerny van die Ballingskap.

 Die doel van hierdie Psalm is om die aandag op die God van Israel wat op Sion in die tempel woon, te vestig en hoe Hy sy volk verlos van hul vyande. Ons grootste vyand is die sonde wat ons van God af wegskeur.

 God beskerm ons (Ps. 46:2-4)

In Ps. 46:2-4 hoor ons hoe God sy volk beskerm teen hul vyande. In vers 2 bevestig die Psalmdigter :

God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming ;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood

Die Hebreeuse woord wat met “toevlug” vertaal is, wys op die absolute vertroue wat op iets of iemand geplaas word om jou teen gevaar te beskerm.

 Die Hebreeuse woord wat met “beskerming” vertaal is, beteken letterlik ’n plek van veiligheid. God is vir die wat by Hom skuiling soek so ’n plek van veiligheid.

 Mens kan God vertrou, want Hy is altyd te bereid om te help wanneer jy in nood verkeer. Die Hebreeuse woord wat met “nood” vertaal is, beteken ’n diepe emosionele pyn en ellende wat mens ervaar as gevolg van ’n sekere situasie of omstandigheid.

 Die mens se grootste nood is dat hy vanweë sy sondige opstand teen God van Hom geskei is. God het die mens gemaak om in ’n verhouding met Hom te leef. Wanneer daardie verhouding gebreek is, ervaar die mens diep emosionele pyn en ellende. Dit is ook dan wanneer jy nie weet watter kant toe nie wanneer die wêreld jou onderstebo skop.

 Wanneer dit gebeur is daar net een plek om uitkoms te soek. Jy moet na God toe terugdraai, want jy kan op Hom vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Al skud die berge. Wanneer die lewensaardbewings ’n vloedgolf oor jou laat spoel wat jou heeltemal verswelg kan jy God vertrou om jou te help.

 God is nog altyd bereid om te help in die nood wanneer gevaar jou lewe bedreig, mits jy Hom ken en jou verhouding met Hom herstel is omdat jy in Jesus Christus glo.

 Blydskap in die Godstad (Ps. 46:5-8)

Om te beklemtoon dat mens veilig by God is, beskryf die Psalmdigter op ’n ander manier God se sorg vir sy volk. In verse 5-8 word die volk se blydskap beskryf omdat God Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan sy volk gee. Water verteenwoordig lewe. Sonder water is daar nie lewe nie. In Open 21:6 hoor ons:

Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

God is die lewende water wat aan sy uitverkore kinders die ewige lewe gee.

 Hy is snags teenwoordig by sy volk en daarom sal die Godstad niks oorkom nie. Die volke en nasies kan maar probeer om teenoor God in opstand te kom, maar dit sal hulle niks baat nie omdat God almagtig is.

 In vers 8 word God se almag vir ons beskryf met sy Hebreeuse Naam Sebaot. Dit beteken letterlik ’n Almagtige heerser wat oor die heelal heers. Alles, dit wil sê elke mag of natuurkrag en elke volk en nasie, elke mens is aan sy heerskappy onderworpe. In die 83 Vertaling is sy naam vertaal met “die Here die almagtige” en in die Ou Vertaling is dit met “die Here van die Leërskare” vertaal. Ons kan dit ook vertaal met “die Here wat oor alles regeer.”

 Die klem is dus hier op die almag van God. Daarom kan ons met vertroue by Hom skuiling soek omdat daardie skuiling wat Hy gee, nie deur die vyand ingeneem kan word nie.

 Dit is soos ’n fort wat op ’n hoë berg wat omring is deur onklimbare steil kranse met hoë mure wat die fort bo-op daardie kranse omring. Dit is dus ’n vesting wat nie deur die vyand ingeneem kan word nie.

 Jy kan God vertrou om te help wanneer jy in nood verkeer omdat Hy almagtig is en daarom in staat is om vir jou ’n veilige skuilplek gee. Die situasie of omstandighede verander nie, maar daai hopelose benoudheid (verlammende vrees) wat jy ervaar, neem Hy weg en Hy dra jou veilig deur die gevaar. As jy eers eenmaal deur God se genade gered is, is daar niks wat jou van sy liefde kan skei nie.

 Kom kyk wat die Here gedoen het (Ps. 46:9-12)

In hierdie laaste verse val die klem nou op wat die Here vir sy volk doen. God die Almagtige laat oorloë ophou. Hy breek die opstandige nasies se spiese en verbrand hulle oorlogswaens sodat hulle kan weet en erken dat Hy alleen God is. Daarom voel sy volk veilig by Hom.

 In hierdie Psalm sê die Here vir ons hoekom sy volk vir niks bang was nie. Hulle het in hul nood gedink aan God se dade in die verlede gedink en terwyl hulle dit gedoen het, het hulle onthou wat Hy alles vir hulle beteken het. Dit het die volk herinner dat hulle Hom kan vertrou en dat hulle vir niks meer bang hoef te wees nie.

 Hoe vind jy troos in hierdie Psalm?

Waar gaan soek jy troos en sekerheid soek wanneer jy in diepe emosionele pyn en ellende verkeer? Het jy vrymoedigheid om in absolute vertroue by God veiligheid en beskutting te soek? Kan jy ook sê:

God is vir my ’n toevlug en ’n beskerming ;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood

 Jy kan dit doen geliefdes! In sy groot liefde het God sy enigste Seun gestuur sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal kry.

 Op grond van wat Jesus Christus aan die kruis gedoen vir jou gedoen het, kan jy ook met sekerheid sê:

Die Here, die Almagtige , is by my, die God van Jakob is vir my ’n beskutting

 Gryp met geloofshande vas aan die verlossing wat Jesus Christus vir jou uit genade gee, want in Jesus is God vir jou ’n toevlug en ’n beskerming.

Amen