15 November 2026

Jy moet jou vyande liefhê!


 

Luk 6 v 27 tot 36; Mat 5 v 38 tot 48

Teksverse Luk 6 v 27 & 28

Jy moet jou vyande liefhê.

Gaan Jesus met hierdie opdrag nie so ’n bietjie te ver nie?

Is dit menslik gesproke enigsins moontlik?

Tog is dit wat Jesus van ons verwag soos Hy duidelik hier in Luk 6 v 27 vir ons sê :

vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê

Jesus het hierdie opdrag tydens sy eerste openbare toespraak of preek gegee. Dit is die geleentheid wat in Mat 5 tot 7 vir ons opgeteken is en wat ook as die Bergrede bekendstaan. (Lees dit gerus weer by die huis deur) Dit word ook dikwels die grondwet van die Koninkryk van God genoem.

Die Bergrede word dikwels verkeerd verstaan en daarom is dit nodig dat ons na die basiese opset daarvan kyk. Dit begin met ’n uitspraak van seën. Wanneer Jesus vir die eerste keer die evangelie breedvoerig verduidelik, dreig Hy nie met oordeel en verdoemenis nie, maar Hy begin met ’n geopende hemel. Hy begin nie deur te eis hoe ons moet wees nie, maar deur te sê hoe God ons maak. Hy gee eers voordat Hy vra. Hierdie is ’n evangelie van genade. Nie wat ons doen nie, maar dit wat God doen is die uitgangspunt.

Maar dan mag ons antwoord ook nie uitbly nie! God se genade moet iets in ons wakker maak. Ons moet reageer. En hoe kan mens dit anders doen as om jou hele lewe dankbaar-bly aan Hom te wy deur in alles te probeer doen wat Hy van ons vra. Dit is dan die basiese opset van die Bergrede, die lyn wat soos ’n goue draad daardeur loop. Dit begin met God se genade en seën en daarna gaan dit oor tot ons antwoord en gee dit vir ons voorbeelde van hoe diep sy gebooie in ons lewens ingryp. Dit is teen hierdie agtergrond dat ons die opdrag, “Jy moet jou vyande liefhê”, moet verstaan.

Wie is hierdie vyande wat ons moet liefhê? In hierdie sin verwys jou vyande na die mense wat jou kwaad wil aandoen of aangedoen het.
Ps. 5:9-10  verwoord dit nogal mooi wie jou vyande is:

Omdat ek vyande het, Here, leer my tog wat reg is en help my om u wil te doen.

Niks wat hulle sê, is waar nie; al waaraan hulle dink, is my ondergang;

hulle vlei my, maar hulle wil my in die graf laat beland.

Dink maar aan diegene wat Christene vervolg en selfs doodmaak omdat hulle die naam van Christus bely. Met ander woorde dit is nie eintlik mense wat mens graag wil liefhê nie.

Wat bedoel Jesus met sy opdrag: “Julle moet julle vyande liefhê”? In Luk 6:27 & 28 noem Jesus drie aksies om prakties te wys wat Hy bedoel met “jou vyande liefhê”:

        1) doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word;

        2) seën die mense deur wie julle vervloek word

        3) bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.

In Luk 6:29-31 verduidelik Jesus verder wat Hy bedoel met sy opdrag dat jy jou vyande moet liefhê:

As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

Laat hierdie opdrag u ook ongemaklik voel?

Dit behoort want dit is so radikaal anders as die normale gang van sake wat ons elke dag om ons sien gebeur.

In Mat 5:38 hoor ons wat die normale reaksie is wanneer iemand te na gekom is:

’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.

In Mat 5:39 sê Jesus egter baie duidelik dat ons nie soos wêreld moet reageer nie:

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie.

En in 1 Pet 3:9 hoor ons dit weer:

Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.

Die rede waarom Jesus dit van ons verwag, is omdat boosheid nie met boosheid beveg kan word nie soos ons hoor in Luk 6:32 - 33:

As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.

As ons maar net soos die wêreld reageer sal die spiraal van boosheid en geweld nooit gekeer word nie. Boosheid en haat kan alleen deur God se liefde oorwin word. Wat sal van my geword het as God my rebelse opstand teen sy gesag met geweld beantwoord het?

Maar God het nie. Hy het met liefde en genade beantwoord. Hy het Homself verneder deur as ’n eenvoudige mens aarde toe te kom en Hy het Homself tot die dood toe verneder sodat ons kan lewe.

Wat vra Jesus vir ons? Hy vra, dat ons die liefde wat Hy aan ons bewys het, uitdeel aan hulle wat dit so desperaat nodig het. Dit is juis diegene wat deur hul aksies wys dat hulle nie liefde en genade verdien nie, wat dit die meeste nodig het.

Dit is nodig dat ons besin oor in hoe ’n mate ons nog aan die wêreld gelykvormig is. Is ons antwoord nog om kwaad met kwaad te vergeld of belediging met belediging? Kom ons draai weer terug na God toe sodat ons ook met ’n seënwens kan antwoord. Kom ons bid dat God die harte van mense verander sodat hulle sal wegdraai van geweld. Kom ons beantwoord die slegte met die goeie. Kom ons beantwoord haat met liefde.

God se genade is so groot dat die liefde wat God vra, gee Hy eers. Kom ons laat daarom God se liefde deur ons optrede en reaksie vloei na ’n wêreld wat God nie ken nie, want dit is hoe Hy die wêreld wil verander.

Amen



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking