Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings

15 Februarie 2026

God het jou lief, Leef daarom vir Hom


Christus het ook eenmaal vir ons sondes gely om ons tot God te bring

Ons luister vanoggend na die Woord van die Here uit:

1 Tess. 5 v 12-28

Inleiding

Wat is ons reaksie op die genade wat ons van God ontvang?

Met Nagmaal sien ons op ’n sigbare wyse hoe groot God se genade in ons lewens is. In die brood en wyn sien ons hoe Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is.

Dit laat ons opnuut weer besef hoe onmoontlik dit is om onsself van die sonde slawerny te verlos. Dit versterk ons geloof sodat ons kan weet waar ons verlossing van die sonde slawerny in ons lewens kan vind en wanneer ons opreg daaroor nadink, kan ons nie anders as om vir God dankie te sê deur soos verloste kinders van God te leef nie.

Nagmaal wys vir ons: God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Rom. 12 v 1 som dit mooi op:

op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Hoe gee ons, onsself aan God as ’n heilige offer?

God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is.

Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika.

Agtergrond

In Handelinge 17 hoor ons dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingreis in Asië tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy lewe moes vlug nie.

In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die gemeente gaan.

Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het. Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het daarop om hulle baie spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.

In die tweede helfte van die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus.

In ons teks gedeelte vind ons ’n samevatting daarvan.

Daarin leer ons

(1) hoe ons optrede teenoor die ampsdraers in die gemeente behoort te wees;

(2) hoe ons onderlinge verhoudings behoort te wees en

(3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees.

Uit hierdie riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus.

Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God ontvang?

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons, onsself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Eenvoudig gestel:

God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?

Wat moet ons gesindheid wees teenoor die ouderlinge en diakens wat die Here in die gemeente daargestel het?

In 1 Tess. 5 v 12 & 13 sê die Here vir ons:

Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

Slaan ag op die onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat die bediening in julle lewens beteken.

As dit nodig is dat ons deur hulle tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat.

Wees dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente betrokke raak nie.

Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?

Omdat ons die Here se persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge verhoudings sigbaar te wees.

In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe ons teenoor mekaar moet optree.

Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

Ons moet op mekaar ag gee en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.

Verder moet ons mekaar ook ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar.

Die opdrag om met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde vir mekaar gemotiveer moet word.

Moenie ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe. Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my gemaak het nie! Vergifnis beteken ook nie dat ons die slegte gedrag van ander goedkeur of dat dit nie saak maak nie. Vergifnis beteken om nie ’n wrok in jou hart saam te dra nie. Dit beteken om die saak aan die Here op te dra en om Hom daarmee te vertrou.

Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde ons moenie ons eie belange voorop stel nie. Selfsugtigheid is een van die grootste oorsake van onmin tussen mense. Ons moet vir mekaar omgee.

Hoe moet ons verhouding met God wees?

In 1 Tess 5v16 – 22 sê die Here vir ons:

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.

Ons moet blymoedig wees. Met ander woorde moenie op die negatiewe fokus nie. Mens is so maklik net op dit wat sleg en verkeerd is gefokus dat ons naderhand dit wat goed en mooi is miskyk. Ons moet IN ALLE OMSTANDIGHEDE dankbaar wees omdat ons weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye.

Dit is inderdaad soos ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here alles ten goede laat meewerk.

Bid gedurig. Dit beteken dat ons in alle tye biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie afskeep nie. Paulus vra ook in 1 Tess. 5 v 25 dat die gemeente vir hom moet bid. Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.

’n Verhouding sonder kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook ons gesamentlike en persoonlike Bybelstudie.

Wanneer ons nie eredienste bywoon nie en ook nie Bybel lees nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en wegbly van dit wat sleg is.

In 1 Tess 5v23 & 24 bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreek Paulus dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.

Slot

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onsself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Met ander woorde, God het jou lief, Leef daarom vir Hom.

Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die woordverkondiging en persoonlike en gesamentlike Bybelstudie.

Laat ons daarom op grond van die groot ontferming van God onsself as lewende en heilige offers aan God gee wat vir Hom aanneemlik is.

God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Amen


 

25 Januarie 2026

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en toewyding aan sy wil

Op die pad van geloofsgroei

Lees:

Inleiding

Wat verwag die HERE van ons? Dit is ’n vraag waarmee ons as gelowiges dikwels stoei. Wat wil die HERE hê dat ons moet doen? Verwag Hy dat ek gereeld kerk toe moet kom? Verwag Hy dat ek ten minste 2 ure per dag Bybellees? Verwag Hy dat ek dat ek ten minste 3 ure per dag moet bid? Hierby kan ons nog ’n hele string moets en moenies byvoeg? Wat verwag die HERE van ons?

Ons kan op hierdie vraag baie maklik allerlei menslike voorskrifte voorhou, maar dan maak ons maar net soos die Fariseërs van ouds. Dit is inderdaad ook dikwels wat gebeur. Ons moenie dink dat die Fariseërs net in Jesus se tyd bestaan het nie. Hulle is nou nog steeds by ons teenwoordig. Ons hoef nie baie ver te gaan soek nie geliefdes. Ek hoef nie eers na die persoon langs my te kyk nie, want ek vind die Fariseër sommer hier in my eie hart. Ek is dikwels die persoon wat allerlei menslike voorskrifte aan die HERE se wil koppel.

Ons hoef egter nie baie te wonder oor wat die HERE van ons verwag nie, want Hy sê dit baie duidelik in sy Woord vir ons. Hier in Deut. 10 sê die HERE vir Israel wat Hy van hulle verwag wanneer hulle die beloofde land binnegaan. In Gen 12 v 3 & 4 hoor ons dat die HERE aan Abraham belowe het dat hy ’n groot nageslag gaan hê en dat hulle ’n land gaan kry om in te woon.

Dit is nou ongeveer 430 jaar later waar die nageslag van Abraham op die punt staan om die beloofde land binne te gaan. Israel is verlos van die slawerny in Egipte en nou nadat hulle 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, staan hulle gereed om die beloofde land binne te gaan. Hulle is tans aan die oostekant van die Jordaanrivier. Aan die westekant tussen die Jordaanrivier en die Middellandse see lê Kanaän, die beloofde land. Moses is besig om die volk voor te berei oor hoe hulle moet leef wanneer hulle in die beloofde land woon. Hier in Deut. 10v12 & 13 vind ons ’n samevatting van wat die HERE van Israel verwag. In hierdie samevatting sê die HERE ook vir ons wat Hy van ons verwag.

12“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer , sy wil moet gehoorsaam , Hom moet liefhê en dien met hart en siel. 13Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

Hier sê die HERE vir ons:

    i.        Wat Hy van ons verwag

   ii.        Hoe ons dit moet doen en

 iii.        Hoekom die HERE dit van ons verwag.

Wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag van ons dat ons Hom moet eer en dat ons Hom moet liefhê en dien met hart en siel. In die Ou Vertaling is die woord wat in die Nuwe vertaling met eer vertaal is met vrees vertaal. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie. Ons praat dikwels in die kerk daarvan dat ons die HERE moet vrees en dit kan maklik misverstaan word omdat die betekenis van vrees in Afrikaans verander het van eerbied na bang wees.

Die betekenis van die Hebreeuse woord dui daarop dat dit verwys na heilige eerbied vir die HERE. Met ander woorde dit beteken dat ons aan die HERE die nodige erkenning moet gee vir wie Hy is. In Deut. 10v14 hoor ons:

Die hemel, selfs, die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

Ons moet die Here erken vir wie Hy is, naamlik die enigste ware God wat die Hemel en die aarde uit niks geskep het. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie, maar dat ons aan Hom moet eer bewys en daarom is dit in die nuwe vertaling met eer vertaal.

Hoe eer ons die HERE? Ons eer die HERE wanneer ons vir Hom lief is deur Hom te dien met hart en siel. Ons die ’n die HERE wanneer Hy die no. 1 prioriteit in ons lewe is. Ons het die HERE lief vir wat Hy vir ons gedoen het en vir wie Hy is. In Deut. 10v15 sê die HERE vir ons:

En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

Die God wat hemel en die aarde geskep het buig Homself neer na ons as nietige mense. Hy het Israel uitverkies as sy volk. Uit Israel is die Messias gebore. Net soos Israel van ouds uit die slawekettings van Egipte verlos is, verlos Jesus Christus vandag nog God se uitverkore kinders uit die slawerny van die sonde. Israel het vooruit gekyk na die liefde van God se verlossing deur die voorbeeld van hul verlossing uit Egipte. Ons kyk vandag terug na God se liefde vir ons in Jesus Christus soos Hy ook so duidelik in 1 Joh. 4v9&10 vir ons sê.

9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Op grond van God se uitverkiesende liefde wat Hy in Jesus Christus se kruisoffer en oorwinning oor dood aan ons bewys het kan ons die HERE eer. Ons eer die HERE wanneer ons Hom alleen erken as die enigste God en ons is lief vir Hom en dien Hom met ons hele wese wanneer ons NIKS of NIEMAND in sy plek stel nie.

Hoe moet ons die HERE liefhê en dien met ons hele wese?

In Deut. 10v13a sê die HERE vir ons:

Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee.

Hierdie gebooie en voorskrifte is die wet van die HERE wat Moses net kort tevore vir ’n tweede keer aan die volk gegee het. Dit is dikwels op hierdie punt waar ons die gevaar loop om Fariseërs te word. Hoe word ons Fariseërs? Ons word Fariseërs wanneer ons die HERE se voorskrifte vervang met ons eie godsdienstige reëls. Wanneer ons verder hierdie reëls van ons voorhou as voorwaarde om vir die HERE aanvaarbaar te wees. As jy nie hierdie reëls nakom nie, dan kan jy nie ’n kind van die HERE wees nie en so span ons die kar voor die perde.

En tog is die wet van die HERE eintlik baie eenvoudig. Jesus som die wet op met liefde. Liefde vir God bo alles en liefde vir jou naaste soos Hy dit in Mat 22v37-40 vir ons sê:

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Dit is ook nie iets nuuts wat Jesus uit die lug gryp nie. Hy haal maar eintlik net die Ou Testament aan wanneer Hy dit sê. Liefde vir God uit Deut. 5v6 en liefde vir jou naaste uit Lev. 19v18. In wese kom hierdie selfde opsoming ook in Deut. 10 voor. In Deut. 10v16 sê die HERE vir ons:

16“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Wat is dit anders as dat jy die HERE jou God met jou hele hart en jou hele verstand bo alles moet liefhê?

In Deut. 10v18 sê Hy vir ons:

18“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. 19Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.

In wese sê die HERE hier vir ons dat ons vir mekaar moet omgee. Ons moet dus nie in selfsug net op onsself gefokus wees nie. Ons moet mekaar liefhê deur mekaar se belange op die hart te dra.

Ons dien die HERE wanneer ons Hom bo alles liefhet en wanneer ons, ons naaste net soos onsself liefhet. Die HERE sê egter nie net vir ons wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen nie. Hy sê ook vir ons hoekom ons dit moet doen.

Waarom moet ons die gebooie en voorskrifte van die HERE nakom?

Ons sê so maklik dat ons die HERE se gebooie en voorskrifte moet nakom omdat die HERE so sê. Dit sou seker genoeg motivering wees, maar die HERE verduidelik ook in sy liefde vir ons hoekom dit nodig is. Die HERE gee nie sy voorskrifte om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Hy gee dit vir ons met ’n baie spesifieke rede. Die rede wat die HERE gee is eintlik baie eenvoudig. in Deut. 10v13 sê Hy eenvoudig vir ons:

Dit sal tot jou voordeel wees.

Ons verstaan hierdie ook so dikwels verkeerd. Ons dink so maklik dat die voordeel daarin lê dat as ons God se gebooie en voorskrifte nakom dan vermy ons sy straf. Ek moet luister wat die HERE sê anders gaan Hy my straf. As dit ons siening is, dan verstaan ons egter nog bitter min van die HERE se liefde vir ons. Die HERE verwag dat ons mekaar moet liefhê omdat dit in ons eie belang is dat ons dit doen.

Die HERE weet hoe afbrekend selfsug en kritiek is. Hy weet hoe haat en bitterheid ons van ons lewensvreugde beroof. Hy weet hoe eensaam ons word wanneer ons, ons in selfsug van ons naaste afsonder. Wanneer die HERE vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê en dat ons vir mekaar moet omgee, doen Hy dit omdat Hy weet hoeveel vreugde mens ervaar wanneer jy liefde uitdeel en as gevolg daarvan weer liefde terugontvang.

Dit is die wonder van God se liefde. Hoe meer ons daarvan uitdeel, hoe meer ontvang ons terug. Dit is onmoontlik om al God se liefde uit te deel, want jy ontvang altyd meer terug as wat jy uitdeel. As jy egter in selfsug God se liefde net vir jouself wil hou, dan verdwyn God se liefde en het jy naderhand niks daarvan oor nie.

Nou kry ons ook ’n ander fokus op God en sy liefde. As God eerste in my lewe is, dan kan ek nie anders as om vir my naaste om te gee nie. Dan is dit nie vir my moeite om eredienste by te woon nie, maar eerder ’n vreugde omdat ek daar saam met my broers en susters in die geloof in die heerlike teenwoordigheid van ons Vader gaan wees. Dan lees ek Bybel omdat ek my Vader se stem wil hoor. Dan bid ek tot die HERE omdat ek graag met Hom wil praat. Dan dien ek die HERE omdat dit vir my ’n vreugde is en nie omdat dit ’n sware plig is nie.

Ons kom die HERE se gebooie en voorskrifte na omdat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed vir ons om die HERE en ons naaste lief te hê.

Samevatting

Geliefdes, wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag dat ons Hom alleen moet eer deur niks of niemand in sy plek te stel nie. Ons eer die HERE wanneer ons sy gebooie en voorskrifte nakom deur God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê. Ons doen dit in die volle wete en vertroue dat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed om die HERE en ons naaste lief te hê.

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en totale toewyding aan sy wil!

Amen

 

05 Oktober 2025

Liefde vra opoffering!

 Dit is egter die moeite werd, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as wat liefde jou kos.


Teks 1 Joh. 3 v 11 – 24

Teksverse 1 Joh. 3 v 11, 16 & 23

GK BSH & RB 5 Okt. 2025

Die Here sê vir ons dat ons mekaar moet liefhê, maar liefde is nie altyd wat ons dink dit is nie. As jy nie weet wat liefde is nie, is dit onmoontlik om God se liefdesgebod te gehoorsaam en daarom is dit belangrik dat ons seker moet maak dat ons weet wat liefde werklik is. Aangesien God liefde is, is sy lewende Woord die enigste betroubare bron om te leer wat liefde is.

In ons teks leer God ons wat liefde werklik is. Liefde is nie maar net ’n emosie wat mens lekker laat voel nie. Liefde is totaal anders as wat die wêreld as liefde voorhou. Die wêreld definieer liefde as dit wat jy ontvang en daarom moet jy seker maak dat jy soveel as moontlik moet ontvang, selfs al is dit nodig om moord te pleeg daarvoor soos wat Kain gedoen het.

Ware Godgegewe liefde is egter radikaal anders. Dit is nie wat jy ontvang nie, maar dit wat jy gee. Liefde is “doen”! Liefde vra opoffering.

Om liefde te gee gaan jou baie duur kos!

Waarom sou mens liefde wou gee as dit jou so duur gaan kos? Want om liefde te gee is om te lewe. Indien jy nie liefde gee nie bly jy in die doodsheid van die sonde. Dit is egter die moeite werd om die prys te betaal wat liefde vra, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as die prys wat liefde jou kos.

In 1 Joh. 3 v 12 tot 15 hoor ons wat liefde nie is nie. In vers 12 hoor ons hoedat Kain se afguns en jaloesie daartoe aanleiding gegee het dat hy sy broer vermoor het. Kain se afguns het tot haat oorgegaan en haat het tot moord gelei. Haat is nie die teenoorgestelde van liefde nie. Haat is gebrek aan liefde. Liefde is lewe en daarom is haat dood soos ons hoor in 1 Joh. 3 v 14&15:

Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.

In die voorafgaande verse het ons gehoor wat liefde nie is nie. Nou sê die Here vir ons 1 Joh. 3 v 16 wat liefde wel is:

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Liefde is doen. Liefde vra opoffering. Liefde vra ’n duur prys! Om lief te hê vra dat jy jouself moet prysgee.

Jesus het die absolute prys van liefde betaal. Hy het meer as net sy lewe gegee. Hy het Homself gegee. Hy het mens geword en daarmee sy Godheid prys gegee. Hy het ook die grootste prys betaal, naamlik Godverlatenheid. Hy het die prys betaal wat geen mens ooit kan betaal nie.

Die liefde wat Jesus Christus aan ons bewys is die diepste grond van Liefde. Jesus openbaar hier liefde in volmaaktheid. Dit is om alles van jouself te gee teenoor Kain wat alles vir homself opgeëis het met die moord op sy broer.

Hierdie liefde wat Jesus aan ons bewys het, het Hy gedoen omdat Hy dit wou doen. Hy is nie gedwing om dit te doen. Hiermee word ’n belangrike eienskap van liefde openbaar. Dit is iets wat jy vrywillig moet gee. Dit is nie iets wat met dwang afgedwing kan word of gevat word nie.

Verder is liefde nie goedkoop nie. As jy liefde wil gee, moet jy verstaan dit is ’n duur prys wat gevra word. Die prys van liefde kan wees dat jy met jou lewe moet betaal. Nie net in die fisiese sin nie, maar ook in ’n geestelike sin. Om lief te hê vra dat jy die lewe van jou eie ek en selfsug moet prysgee. Liefde vra dat jy eers aan die behoeftes van jou broer of suster moet dink voordat jy aan jou eie behoeftes dink. Dit is soos die ma wat honger bly omdat sy die laaste stukkie kos vir haar kind gee.

In 1 Joh. 3 v 18 volg nou ’n baie konkrete voorbeeld uit die gewone daaglikse lewe van wat liefde werklik is. Wie aardse besittings het en gerieflik lewe danksy sy rykdom, maar raaksien en tog toesien hoe sy broer gebrek ly, is sonder gevoel vir hom.

Liefde is nie maar net ’n sentiment, ’n saak van mooi woorde of lippetaal nie. Solank as wat liefde nog net ’n voorneme of sentiment is, is dit nog nie werklike liefde nie. Liefde word werklik wanneer dit in dade wat in opregtheid gedoen word oorgaan. Jy begin eers werklik die vreugde van God se liefde in jou hart ervaar wanneer jy prakties begin liefhê. As jy ongevoelig is teenoor jou broeder, beroof jy jouself van God se liefde.

Hierin lê ’n groot geheimenis opgesluit. As jy ’n som geld in jou beursie het en jy begin dit uitdeel gaan dit minder word en as jy aanhou uitdeel gaan dit naderhand klaar raak. Hoe minder jy uitdeel, hoe meer geld gaan jy in jou beurs oorhou.

Met liefde werk dit egter anders. Hoe meer jy liefde uitdeel, hoe meer word God se liefde in jou lewe. As jy egter suinig is met die uitdeel van jou liefde word God se liefde in jou lewe al hoe minder.

Die volgende geheimenis is in hoe jy liefde ontvang. God verwag nie van jou om eers liefde uit te deel voordat jy ontvang nie. In 1 Joh. 4 v 19 sê Hy vir ons:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

God gee vir jou liefde en al Hy wat Hy vra is dat jy die liefde uitdeel wat Hy reeds vir jou gegee het.

Hoe kry jy deel in die liefde van God? In 1 Joh. 3 v 22 hoor ons jy kry deel daarin wanneer jy sy gebooie gehoorsaam.

wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind

Dit is hier waar mens so maklik die spoor byster raak deurdat vers 22 gelees word sonder om vers 23 in ag te neem en waar jy dan jou eie definisie byvoeg van wat dit beteken om God se gebooie na te volg. Wanneer jy dit doen dan volg jy die wêreldse pad van oordeel en haat.

1 Joh. 23 verduidelik wat die Here bedoel wanneer Hy sê dat ons sy gebooie moet gehoorsaam.

En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.

Ons hoor in vers 23 die hart van die Evangelie. Glo in God se Seun, Jesus Christus. Glo dat Jesus sy lewe vir jou afgelê het om jou te verlos van die slawebande van jou sonde. Glo dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding en dat Hy daarmee aan jou die ewige lewe gee. Verdiep jou in die liefde van Jesus Christus. Sien raak hoe groot God se liefde vir jou werklik is.

Wanneer jy dit doen, dan sal jy beleef hoe God se liefde in jou hart brand en wanneer God se liefde in jou hart brand kan jy nie anders as om jou broers en susters lief te hê nie. Dit is soos om ’n pot water op ’n warm stoofplaat te plaas. Die water in die pot kan nie anders as om warm te word en naderhand te kook nie. Indien jy egter die pot van die plaat afhaal, dan word die water koud.

God se liefde vir jou in Jesus Christus is soos die hitte van die warm stoofplaat. Jou geloof in die evangelie van Jesus Christus is soos om die pot water op die stoof te plaas. Die uitdeel van God se liefde is soos die water wat kook.

Wanneer jy egter soos Kain die pad van vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns begin volg is dit soos om die pot van die stoof af te haal. Dan is dit nodig dat jy terugkeer na die evangelie van God se liefde vir jou.

Waar kry jy die geloofsoortuiging vandaan om in die evangelie van Jesus Christus te glo? God self gee dit vir jou deur sy Gees. Wanneer jy dus worstel om die prys te betaal om lief te hê, weet dat die Heilige Gees met jou besig is. As die Heilige Gees nie met jou besig is nie, sal jy nie omgee dat jy nie liefhet soos God van jou vra nie. God belowe ons dat Hy sy Gees gee aan elkeen wat vra. Bid dat die Heilige Gees ook in jou lewe werksaam sal wees.

Geliefdes, wat is liefde? Die bron van liefde is God, want God IS Liefde. Die wese van Liefde is Jesus Christus se liefdesdaad aan die kruis. Die opdrag van Liefde is dat ons mekaar moet liefhê.

Liefde vra opoffering! Betaal die prys van opoffering wat liefde vra, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as wat liefde jou kos. God se liefde vir jou gee vir jou die ewige lewe. Leef daardie lewe met die uitdeel van God se liefde wat Hy so oorvloedig aan jou skenk.

Amen

22 September 2025

Liefde vra opoffering


 Lees Johannes 15:1-17 Teksvers Joh. 15:12

Ons roeping is: “Stap die pad in volle vertroue saam met God.” Ons kan alleen maar die Here se roeping gehoorsaam wanneer ons weet hoe afhanklik ons van Hom is. Wat verwag die Here van ons verwag wanneer ons sy roeping opvolg om die pad saam met Hom te stap.

Julle behoort mekaar lief te hê. Dit is die Here se opdrag aan ons. In die vertaling gaan daar so ietsie van die Griekse grammatika verlore. Dis nie ’n klipharde opdrag wat ons moet doen of ons nou wil of nie. Liefde kan tog immers nie afgedwing word nie. Dit is veel eerder ’n aansporing van iets wat ons behoort te doen.

In sekere sin is die aansporing dat ons dit behoort te doen ’n baie strenger opdrag as “julle moet dit doen of julle nou wil of nie”. Die opdrag behels dat ons mekaar moet liefhê omdat ons dit vanuit ons eie wil doen en nie omdat ons dit MOET doen nie.

Ons moet wil liefhê omdat ons oortuig is dat dit die regte ding is om te doen en ons behoort dit te doen. Dit is die opdrag wat die Here aan sy kerk gee.

In hierdie teksgedeelte wys die Here ons hoe ons dit kan regkry, want om mekaar lief te hê druis in teen ons sondige natuur. Uit ons sondige natuur sal ons veel eerder haat as om lief te hê en dit kom heel dikwels in ons optrede teenoor mekaar na vore.

In hierdie teksgedeelte hoor ons hoe die Here die beeld van ’n druiwestok gebruik om aan ons te verduidelik hoe ons dit kan regkry om mekaar lief te hê. Dit is inderdaad wat die Here van ons verwag wanneer ons die nuwe lewensjaar aanpak. In
Joh. 15 v 1 hoor ons:

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.

Die Vader is die Boer en Jesus is die wingerdstok (dit wil sê die hoofstam waaruit die take dit wil sê die lote groei) wat Hy geplant het en die lote is ons die gelowiges wat moet vrugte dra soos ons hoor in Joh. 15 v 2.

Hiermee sê die Here vir ons dat God die Vader sy Seun Jesus na die mensdom gestuur het sodat hulle waarlik die lewe kan leef wat Hy vir ons beplan het. Die vrug wat ons moet dra is liefde en ons kan dit slegs doen as ons in Jesus ingeplant is.

Die Here gebruik hier ’n baie mooi beeld om vir ons te verduidelik hoe sy liefde werk. Net soos wat ’n druiweloot nie op sy eie kan vrugte dra nie, net so kan ons nie vrugte van liefde dra as ons los is van Jesus Christus se verlossing nie. As die lewegewende sap nie uit die wingerdstok (die hoofstam) vloei in die loot nie, gaan die loot dood en dit verdroog.

Die mens wat nie glo in Jesus se verlossing nie is net soos daardie verdroogde loot soos ons hoor in
Joh. 15 v 6:

As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

So verduidelik die Here vir ons dat ons op ons eie nie lief kan hê nie. As God se liefde nie in ons is nie kan ons nie liefhê nie soos Johannes ook in sy eerste brief 1 Joh. 4v19 verduidelik:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

In die eerste plek is die liefde van God dus ’n genadegawe wat ons van God ontvang. Aan die ander kant is  dit ook ’n opdrag soos ons in ons teksvers Joh. 15 v 12 hoor:

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Die genade van God is dat Hy nooit meer vra as wat Hy alreeds vir ons gegee het nie. Aan die een kant gee Hy, maar aan die ander kant vra Hy wat Hy gee. God het net een doel voor oë met dit wat Hy vir ons gee en dit wat Hy vra soos ons hoor in Joh. 15v11:

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

In dit wat God vir ons gee en wat Hy van ons vra, doen Hy sodat ons net die heel beste in die lewe kan ontvang.

Die Here verwag van ons om vrug te dra in ons lewens. Die vrug wat Hy verwag is liefde. In Gal 5v22 & 23 sê die Here vir ons waaruit die vrug van liefde bestaan. Die vrug van liefde bestaan uit : vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

As ons in Jesus, die ware wingerdstok ingeënt is, dan sal Hy vir ons hierdie vrug gee soos ons hoor in
Joh. 15v7:

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

As ons vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing van die Here vra, dan sal Hy dit vir ons gee.

Wanneer die Here sy opdrag vir ons gee om mekaar lief te hê, dan sê Hy ook hoe ons dit moet doen: “soos Ek julle liefhet”. Jesus se liefde strek so ver dat Hy sy lewe ter wille van ons geoffer het. Ware liefde beteken opoffering. Die vrug van liefde vereis opoffering van ons.

Wat se opoffering vereis die liefde wat die Here vra van ons? Dat ons nie net vir die mense sal lief wees waarvan ons hou nie, maar dat ons ook vir diegene moet lief wees waarvan ons nie hou nie!

Dit is maklik om my mede broeders en susters waarvan ek hou lief te hê. Ongelukkig is ons nog blootgestel aan die gevolge van sonde en daarom is dit so dat daar broeders en susters in die gemeente is waarvan ons minder hou. Ons moet ook vir hulle lief wees!

Die grootste aspek van opoffering wat liefde verg is dat ons ook na onself moet kyk. As daar dalk een van ons is wat voel dat my broeders en susters nie so lief is vir my soos die Here van ons vra nie, dan moet ek na myself kyk.

Die opoffering wat ons moet maak is dat ek dit vir my broers en susters in die geloof moet maklik maak om my lief te hê. Is ek heeltyd net kwaai en nors? Is ek gedurigdeur skoorsoekerig en soek ek rede om te baklei? Loop ek heeltyd rond en verwyt? Maak ek die lewe vir die mense om my moeilik? Doen ek aspris goed waarvan my broers en susters nie hou nie, sodat ek hulle kan grief?

Is ek die een wat altyd net kla en fout vind? As vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel is van my lewe, dan maak ek dit maklik vir my broers en susters om vir my lief te wees. Dit kan soms een van die grootste opofferings wees wat ek moet doen, naamlik om my eie foute raak te sien en vir die Here te bid dat Hy my help om daarvan ontslae te raak.

Nog ’n aspek van liefde is die invloed wat ek op die mense om my uitoefen. Ons het ’n spreukwoord wat sê dat maats jou kan maak of breek. As ek met die verkeerde maats deurmekaar is, dan kan hulle my lewe baie negatief beïnvloed.

Die vraag is hier of ek nie ’n verkeerde maat is vir my vriende nie? Is ek besig om my vriende saam met my in die afgrond in te ly? Is ek daardie persoon teen wie ouers hulle kinders waarsku? Is ek die persoon wat heeltyd veroorsaak dat ek en my maats in die moeilikheid beland? Hierdie geld nie net vir die kinders nie, maar ook vir die grootmense. Bou ek op of breek ek af?

Geliefdes, die Here se opdrag aan ons is:

Julle behoort mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Hierin leer die Here ons dat ware liefde opoffering vereis.

Dit vereis opoffering in die sin dat ek moet liefhê omdat ek wil en nie omdat ek dit maar net doen om dit gedoen te kry nie. Ware liefde is opreg en dit vereis opoffering in die sin dat ek ook diegene liefhet waarvan ek nie hou nie.

Ware liefde vereis opoffering deurdat ek dit vir my broers en susters moet maklik maak om my lief te hê. Ek kan dit slegs doen as ek bereid is om my eie foute raak te sien en dat ek vir die Here bid om my te help om dit reg te kry.

Ek kan slegs hierdie gebed bid as ek glo dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy die dood oorwin het deur op te staan uit die dood.

Ware liefde vereis opoffering deurdat ek moet streef om ’n positiewe invloed uit te oefen op my vriende sodat ek hulle opbou en nie afbreek nie.

Geliefdes, kom ons wees lief vir mekaar soos die Here vir ons lief is.

Amen

27 Julie 2025

Jesus is lief vir jou. Glo jy dit?

 


Markus 4 v 35 - 41

Jesus het ’n lang dag agter die rug waarin hy die skare deur gelykenisse geleer het. Aan die einde van die dag versoek Jesus sy dissipels om na die oorkant van die meer te vaar. 



Hy was heel waarskynlik moeg na die lang dag en daarom het Hy agter in die skuit aan die slaap geraak terwyl hulle na die oorkant toe gevaar het. In die ligte laatmiddag briese het hulle daar weg weggevaar. 


Toe hulle ongeveer in die middel van die meer was het daar skielik ’n storm opgesteek.

Die see van Galilea is daarvoor bekend dat storms skielik sonder waarskuwing opsteek. Die rede daarvoor is omdat dit in die skeurvallei waarin die Jordaanrivier afvloei geleë is. Die meer is ongeveer 213m onder seevlak met berge aan weerskante van die meer wat tot 600m hoog is aan die oostekant. Die koel droë lug van bo-op die bergtoppe sak dan af in die vallei waar dit met die warm vogtige lug van die meer in kontak kom. Dit veroorsaak lugdruk verskille en omdat die berge weerskante ’n tregter effek het kan daar baie vinnig ’n baie sterk windstorm oor die see opsteek. Die meer is ongeveer 21 km lank en 13 km breed. Dit is dus ’n groot wateroppervlak waar die wind groot golwe kan opwek. En dit is wat daardie dag gebeur het.

Hierdie storm gee vir die dissipels die geleentheid om toets of hulle dit wat hulle van Jesus geleer het kan toepas in hulle lewens. Die laaste gelykenis wat Jesus daardie dag vertel het was die gelykenis van die mosterdsaad. Die Koninkryk van God word in die gelykenis voorgestel as ’n klein mosterdsaadjie wat groei tot dit ’n groot boom is. Met ander woorde dit is die klein groepie dissipels wat die begin is van die koninkryk wat die magtigste op aarde gaan word. Nou kry die dissipels die geleentheid om te toets of hulle glo dat die Here hul gaan bewaar om hierdie belofte te verwesentlik, want daar is ’n storm wat sê “nee, dit is nie so nie.”

Ons hoor in die verhaal wie Jesus werklik is en wat Hy vir sy volgelinge kan doen. Die verhaal begin met ’n groot storm. Daarna volg daar ’n groot stilte en die verhaal eindig met ’n groot ontsag.

Die groot storm.

Ons hoor hoe Jesus ’n groot storm gebruik om ons geloof te toets. in Mar. 4:35 hoor ons hoe Jesus vir sy dissipels sê: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het in die storm beland omdat Jesus vir hulle gesê het om weg te vaar. As Jesus nie dit vir hulle gesê het nie, sou hulle nooit in die storm beland het nie. Die dissipels het in die storm beland omdat hulle gehoorsaam was. Hulle het nie in die storm beland omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie! Nee, hulle het daar beland juis omdat hulle iets reg gedoen het!

In Mar. 4: 37 hoor ons:

Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.

Hierdie was nie maar net ’n gewone storm nie. Die Griekse woord wat as groot vertaal word is “mega”. Dit is ’n woord wat in Afrikaans en Engels ook al gebruik word om die grootsheid van iets te beskryf. Dit beskryf iets meer as net groot. As ons storms op ’n skaal moet plaas van gewoon aan die onderkant en baie hewig aan die bokant, dan beskryf “mega” die bopunt van daardie skaal. Dit was ’n storm wat meer was as wat hulle kon hanteer. In Luk 4:23 hoor ons dat hulle lewens inderdaad in gevaar was. Toe hulle weggevaar het was daar geen teken dat daar ’n storm sou wees nie. Toe hulle in die middel van die meer kom het daar skielik ’n storm opgesteek.

In Mar 4:40 vra Jesus die vraag “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” M.a.w. hierdie storm is ’n gelooftoets vir die dissipels en in die verhaal hoor ons wat die eienskappe van so ’n gelooftoets is.

Die eerste eienskap vir so ’n geloofstoets is ’n situasie wat menslik gesproke onmoontlik is om te hanteer. ’n Megastorm. Jesus plaas jou in ’n situasie wat jy nie alleen kan hanteer nie. ’n Situasie waar jy nie uitkoms van kan sien nie. Dit is nogal iets waarmee ons, ons kan vereenselwig, want ervaring het ons geleer dat ons nie vrygeskeld word van die storms in die lewe nie. Christene beland in onmoontlike storms juis omdat hulle christene is! Jesus het sy dissipels beveel om weg te vaar en dit het hulle in die storm laat beland. Hy bring ons in die storms.

Net soos daardie storm op die see van Galilea, ontstaan ons storms net so skielik uit die bloute. Die een oomblik is alles nog reg en dan ontvang jy die oproep, daar was ’n ongeluk. Alles verloop nog glad by die werk, dan word daar afgekondig dat die maatskappy herstruktureer moet word om koste te bespaar. Die gesprek met die dokter: “die resultate van die biopsie het positief vir kanker getoets.” Die ekonomie is nog redelik en dan word daar ’n politieke aankondiging gemaak wat veroorsaak dat daar in die loop van die naweek R500 biljoen se waarde op die aandelebeurs vernietig word en dat die wisselkoers van die rand teenoor buitelandse geldeenhede met 25% verswak. Dit tesame met die voortslepende droogte raak net te veel en besighede word gedwing om deure toe te maak.

Dit is die tipe situasies waarin ons beland. Die skuit is besig om vol water te word, die wind is oorweldigend. Al wat ons sien is die golwe wat bokant die skuit uittoring. Hierdie storm is besig om die oorhand te kry en dit lyk of ons dit nie gaan maak nie.

Christene word nie vrygeskeld van die storms in die lewe nie. Die Here plaas ons in hierdie storms om ons geloof te toets. Jesus het die dissipels beveel om te gaan, maar Hy het hulle nie alleen laat gaan nie. Hy het saam gegaan. Jesus was saam met die dissipels in die skuit en net so is die Heilige Gees saam met ons, ook wanneer ons midde in die megastorms van die lewe beland.

Die eerste eienskap van ’n geloofstoets is ’n onmoontlike situasie, maar daar is ook ’n tweede eienskap, naamlik Jesus wat stilbly. Ek bevind myself in ’n onmoontlike situasie en wanneer ek omdraai is Jesus aan die slaap agter in die boot! Wat moet ek doen wanneer ek in die storm van lewe is en die Here antwoord my nie? Is dit nie hoe ons dikwels voel nie? Ek bid en daar is nie antwoorde nie. Ek bid en my geliefde word nie gesond nie. Ek bid en ek kry nie die werk nie. Ek bid en die persoon vir wie ek bid word nie gelowig nie. Dan begin mens wonder, Here waarom slaap U?

Geloof word nie getoets wanneer dit mooiweer is nie. Vertrou jy Jesus in die storm? Vertrou jy sy stilte? Vertrou jy wanneer jy nie die antwoorde ontvang wat jy verwag nie? Vertrou jy wanneer die omstandighede nie is soos wat jy dink dit behoort te wees nie? Vertrou jy wanneer jy net die oorweldigende golwe om jou sien? Vertrou jy wanneer jou boot vol water begin word en Jesus is aan die slaap agter in die boot? Vertrou jy dat die Here vir jou omgee wanneer dit lyk of alles in die lewe teen jou is?

Let op wat die dissipels gesê het. Die megastorm tesame met Jesus se stilte het die ware toestand van die dissipels se geloof blootgelê. Die dissipels gaan nie na Jesus en vra, Here doen iets nie. Nee in Mar. 4:38 hoor ons:

“Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

Die dissipels bevraagteken nie die mag van Jesus nie. Nee, hulle bevraagteken sy liefde!

Dit is die dieptepunt van ’n geloofskrisis. Ons glo dat die Here in staat is om te help, maar ons bevraagteken of Hy wil help! Gee Hy werklik om? Sien die Here ooit raak waardeur ek gaan? Ek dien die Here al solank. Ek bid gereeld. Ek probeer werklik om na die beste van my vermoë volgens die wil van God te leef. Het die Here van my vergeet?

Luister hoe beantwoord Jesus hierdie aantyging van die dissipels “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Met ander woorde “hoe is dit dat julle My nog nie vertrou nie? Hoe is dit dat julle My liefde bevraagteken? Dink julle werklik dat Ek nie omgee nie?” Geloof is die vaste vertroue dat die Here werklik vir my omgee en dat Hy my onvoorwaardelik liefhet.

Ons moet verstaan dat die Here aan geloofstoetse onderwerp omdat Hy ons liefhet. In Jak 1:2-4 hoor ons dat ons aan geloofstoetse onderwerp word sodat ons tot volle geestelike rypheid kom sonder enige tekortkominge. Net soos ’n spier sterk word wanneer jy dit oefen word ons geloof sterker deur gelooftoetse. God het ons te lief om jou met ’n twyfelende geloof te los. Hy wil hê dat jy deur jou geloof die werklike diepte van sy liefde leer ken. Hy wil hê dat ons in geloof moet groei sodat ons kan leer wie Hy werklik is.

Die groot stilte

Na die groot storm kom die groot stilte. Dieselfde woord wat gebruik word om die groot storm word in vers 39 gebruik om die groot stilte te omskryf. ’n Megastorm en nou ’n Megastilte. Dit is nie net ’n gewone stilte of kalmte nie. Dit is ’n buitengewone kalmte wat daar na die storm neerdaal.

Dit is belangrik om te verstaan dat die storm dadelik gekalmeer het. Jesus het die storm beveel “Hou op! Bedaar!” en dadelik het die wind gaan lê en die golwe kalmeer. Dit was nie ’n geleidelik afskaal van die storm nie. Dit wys vir ons op die almag van Jesus. As die storm maar net natuurlik bedaar het sou dit nog ’n lang ruk geduur het. Die golwe het egter dadelik bedaar en dit is net God wat dit kan doen. Dit bevestig absoluut dat Jesus God is.

Die groot ontsag.

En dit het sy dissipels met ’n groot ontsag vervul. Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat hierdie magsvertoon nie net is om te bewys dat Jesus God is nie. Dit is ’n magsvertoon na aanleiding van die dissipel se vraag: “Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Jesus word nie wakker en bestraf die dissipels nie. Hy bestraf die wind as ’n antwoord op hulle vraag, “ja Ek gee om vir julle.” Hy gebruik sy almag om vir sy dissipels te wys hoeveel Hy werklik vir hulle omgee om hulle te verlos. Hiermee wys Hy nie net vir sy dissipels hoe groot sy mag is nie, maar hoe groot sy liefde is. Later het Hy die grote van sy liefde aan die kruis bevestig en die grote van sy mag met sy oorwinning oor die dood. Dit is die evangelie, die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons te red uit die grootste storm wat daar in ’n mens se lewe kan wees. Die storm van God se toorn en wraak oor ons sonde.

In hierdie verhaal sê Jesus vir jou: “Ek is lief vir jou. Glo jy dit?”

Amen