Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket liefde. Wys alle plasings

16 Augustus 2026

Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?

 

1 Joh. 4 v 7 tot 21  Teksverse 1 Joh. 4 v 9 - 10

Inleiding

Wat is werklike liefde? Liefde is ʼn abstrakte begrip en dit is nie maklik om dit te definieer nie. Die woordeboek gee ʼn definisie maar nog steeds nie ʼn bevredigende verduideliking nie.

Om werklik te weet wat liefde beteken, is dit nodig om na die bron van liefde te gaan.

In 1 Joh. 4 v 8 hoor ons

“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde..”

Om dus werklik te verstaan wat liefde is, is dit nodig om God te leer ken. Ons kan God op twee maniere leer ken. Eerstens deur die grootsheid van die natuur is dit duidelik dat daar ʼn God is wat alles geskep het.

Tweedens leer ons God persoonlik ken deur sy Woord. Derhalwe om ʼn antwoord te kry op ons vraag: “Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?” is dit nodig dat ons, ons antwoorde in die Bybel soek.

Dwarsdeur die Bybel hoor ons van God en liefde. Vandag staan ons stil by 1 Joh. 4 v 7 tot 21 om ʼn beter begrip te kry van wat liefde is en hoe dit lyk.

Wat is liefde?

In 1 Joh. 4 v 10 hoor ons wat werklike liefde is:

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Weereens bevestig die Bybel dat God die Bron van liefde is, want liefde begin nie by ons nie, dit begin by God.

En dan hoor ons wat liefde is. Ten diepste het liefde te doen met ʼn verhouding. Die verhouding tussen God en die mens en dan die onderlinge verhouding tussen mense.

Ons hoor in die vers dat versoening nodig is omdat sonde die verhouding met God gebreek het. Ten diepste is sonde die mens se rebelsheid wat weier om God se gesag te aanvaar.

In 1 Joh. 4 v 9 hoor ons:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Hier hoor ons dat die gevolg van die mens se sondige rebelse opstand teenoor God, die dood is. God wys sy liefde deur sy Seun na die wêreld toe te stuur om die straf van die dood op Hom te neem. Jesus het die dood wat ons verdien op Homself geneem.

Omdat Jesus God is, is Hy magtiger as die dood. Jesus het die dood oorwin deurdat die Heilige Gees Hom uit die dood uit opgewek het. Jesus het die dood gevat en in die plek daarvan lewe gegee.

In 1 Joh. 4:16b hoor ons hoekom God die opoffering gemaak het:

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Omdat God die mens liefhet, het Hy van sy kant af die gebreekte verhouding wat die sonde veroorsaak het, reggemaak.

In 1 Joh. 4 v 13 hoor ons dat die Heilige Gees vir ons God se liefde wys

Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.

en in 1 Joh. 4 v 15 & 16 hoor ons dat ons deur geloof in Jesus deel het in die verhouding wat God uit liefde herstel het.

Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Dit is wat ware liefde is, God wat van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.

Hierdie waarheid word op verskillende maniere in die Bybel vir ons beskryf. In Wese kom dit van God af. God wat Homself voorgeneem het om in ’n verhouding met ons saam te leef en dat Hy dit in stand sal hou. Sy verbond wat Hy met die mens gesluit het. Hy sal vir ons ’n God wees en ons moet Hom dien as ons God.

Vandag wys die Here vir ons d.m.v. die sakrament van die Heilige Nagmaal met die tekens van brood en wyn hoe Hy van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.

Hoe lyk ware liefde?

Ons hoor in 1 Joh. 4 v 7, 11 en 21 ons behoort mekaar lief te hê.

1 Joh. 4 v 7

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.

1 Joh. 4 v 11

Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.

1 Joh. 4 v 21

En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Die liefde wat God vir ons gee behoort ook in ons lewens sigbaar te wees.

Maar hoe lyk die liefde wat in ons lewens sigbaar behoort te wees?

In 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons, liefde is opoffering. Nie net ʼn klein opoffering nie, nee dis ʼn opoffering wat alles vra. Jesus het sy lewe geoffer. Wanneer die Here dus vir ons sê dat ons mekaar behoort lief te hê, sê Hy vir ons dat ons opofferings vir mekaar moet maak.

Ons behoort mekaar se belange op die hart te dra en nie toe te laat dat ons selfsug keer dat ons vir mekaar omgee nie.

In 1 Joh. 4 v 17 & 18 hoor ons dat vrees vir God se straf en oordeel nie deel is van God se liefde nie.

Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

God se liefde verseker jou dat jy nie meer hoef bang te wees vir die doodsheid van die sonde nie, want deur sy liefde het God vir jou lewe gegee.

Liefde vra opoffering en werklike liefde beteken dat jy daardie opoffering doen omdat jy van jou kant af dit wil doen en nie omdat jy deur vrees gedwing word nie.

Geliefdes ons sien vandag in die Nagmaal hoe lyk God se liefde. Maak deur geloof sy liefde deel van jou lewe en leef God se liefde deur mekaar lief te hê.

Amen.


06 Mei 2026

Jesus verander my met liefde

 



Mat 12:9-21

Teksvers Mat 12 v 20

’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier.

Volgende week vier ons DV weer die Heilige Nagmaal waar God op ’n sigbare wyse sy liefde vir ons bevestig. In die tyd voor Nagmaal berei ons onself voor daarvoor. Daarom staan vandag se erediens dan ook as ’n voorbereidingsdiens bekend.

Wat bedoel ons wanneer ons van voorbereiding praat? Eenvoudig behels dit drie hoofpunte. Ek moet besef en erken dat ek ’n sondaar is en dat ek myself nie daarvan kan verlos nie. Ek moet glo dat dit net Jesus is wat my kan verlos en ek moet verstaan hoe God se liefde my lewe verander. Ek moet die opregte begeerte hê om die lewe te leef wat God in sy liefde vir my gegee het.

Wanneer ek nadink oor my sonde moet ek oppas dat my berou daaroor nie is omdat ek bang is vir God se straf nie. Dit is nie waaroor verootmoediging gaan nie. Dink bietjie daaroor na. As ek bang is vir straf dan is vrees die motiveerder. Waar daar vrees is, is daar nie liefde nie soos ons in 1 Joh. 4:18 hoor:

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

Liefde en vrees gaan nie saam nie. God gebruik nie vrees nie. Inteendeel, vrees is ’n kenmerk van die satan.

Die groot probleem met vrees is dat dit die klem daarop plaas dat ek moet verander, want as ek dit nie doen nie gaan ek gestraf word. Die probleem hiermee is dat dit vir my onmoontlik is om te verander. Die greep van die sonde is van so aard dat dit, dit vir my onmoontlik is om daarvan weg te breek. Hoe graag ek ook al wil, ek kan nie en so dryf ek al hoe verder van God af weg.

Een van die belangrikste aspekte van voorbereiding is dat ek tot die besef moet kom dat dit net God is wat my kan losmaak van die greep van sonde in my lewe. As ek egter vrees hiervoor gebruik, dan soek ek nie by God die oplossing nie, want God gebruik nie vrees nie. Hy gebruik liefde.

In ons teks hoor ons hoe groot God se liefde werklik is en hoe Hy sy liefde gebruik om ons los te maak van die sonde in ons lewens. In Mat 12:18 hoor ons van God se Dienaar wat Hy aangestel het. Dit verwys na ’n profesie wat reeds 700 jaar vC deur die profeet Jesaja (Jes. 42:1-4) gemaak is. Daarin word geprofeteer dat God sy Dienaar gaan stuur. Hier in Mat 12:18 hoor ons dat die Dienaar waarna die profeet Jesaja verwys het, Jesus Christus is. Met ander woorde dit is God self wat in die persoon van Jesus Christus gekom het om die sonde te oorwin.

In Mat 12:19 hoor ons dat Hy egter nie vrees en geweld gebruik om die sonde uit te roei nie.

Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

Jesus het nie met ’n weermag aarde toe gekom nie. Hy was ’n nederige mens met geen mag en aansien nie. Daarom moet ons ook nie vrees as motiveerder gebruik om van die sonde in ons lewens ontslae te raak nie. In plaas van vrees en geweld werk hy met deernis en liefde.

Die feit dat God nie vrees en geweld gebruik teen die sonde nie beteken nie dat Hy nie ernstig is oor sonde nie. Nee, geliefdes. God is heilig en Hy kan sonde nie verduur nie want Hy weet watter verwoesting sonde in die wêreld meebring. Sonde verwoes mense se lewens. Sonde veroorsaak dat ons ’n nuttelose geknakte riet in die lewe word. Net soos ’n lamppit wat te kort is sodat dit nie meer in die olie kan bykom nie en dit daarom rook en nie lig afgee nie.

God haat sonde want dit verwoes mense se lewens. God het egter die mense wie se lewens deur sonde verwoes word oneindig lief. In ons teksvers hoor ons van die deernis en sorgsaamheid waarmee God met ons wat deur sonde geknak is werk.

’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie;

God se liefde is so groot dat Hy bereid was om in die persoon van Jesus Christus mens te word. Luister maar weer na 1 Joh. 4:9-10 waar God sy liefde vir mense verklaar wat deur sonde geknak is:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes

Dit is net God se liefde wat die wurggreep van sonde in ons lewens kan breek. Liefde spoor jou tot aksie aan terwyl vrees jou verlam. God se liefde verander jou sodat jy ’n weersin in die sonde in jou lewe sal kry. Wanneer God se liefde jou verander dan wil jy nie meer die sonde in jou lewe hê nie.

As vrees egter jou aansporing is, dan wil jy eintlik nog maar die sonde in jou lewe troetel. Maar omdat jy bang is vir straf probeer jy daarvan ontslae raak, maar jy kry dit nie reg nie omdat daar nog steeds ’n begeerte daarvoor by jou teenwoordig is.

God se liefde verander jou egter. Dit wek ’n weersin vir sonde by jou op en daarom wil jy van die sonde wat nog in jou lewe teenwoordig is ontslae raak. Wanneer die liefde van God jou verander dan seëvier die wil van God omdat dit sy wil is dat ons uit liefde lewe.

In jou voorbereiding vir Nagmaal gaan dink na oor die sonde wat nog in jou lewe teenwoordig is. Vra die Heilige Gees om deur God se Woord die sondes wat nog tussen jou en God staan vir jou uit te wys. Gaan soek die liefde van God om ’n diepe berou en weersin daaroor by jou op te wek.

Begin leef vanuit die liefde en genade van God. Die liefde van die Vader wat sy Seun gestuur het sodat dié wat in Hom glo die ewige lewe sal hê. Die liefde van die Seun wat bereid was om mens te word en sy lewe vir ons af te lê. Die liefde van die Heilige Gees wat vir ons die geloof gee om die liefde van God met albei arms vas te gryp en daaraan vas te hou.

Laat God se liefde jou lewe verander.

Amen

15 Februarie 2026

God het jou lief, Leef daarom vir Hom


Christus het ook eenmaal vir ons sondes gely om ons tot God te bring

Ons luister vanoggend na die Woord van die Here uit:

1 Tess. 5 v 12-28

Inleiding

Wat is ons reaksie op die genade wat ons van God ontvang?

Met Nagmaal sien ons op ’n sigbare wyse hoe groot God se genade in ons lewens is. In die brood en wyn sien ons hoe Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is.

Dit laat ons opnuut weer besef hoe onmoontlik dit is om onsself van die sonde slawerny te verlos. Dit versterk ons geloof sodat ons kan weet waar ons verlossing van die sonde slawerny in ons lewens kan vind en wanneer ons opreg daaroor nadink, kan ons nie anders as om vir God dankie te sê deur soos verloste kinders van God te leef nie.

Nagmaal wys vir ons: God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Rom. 12 v 1 som dit mooi op:

op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Hoe gee ons, onsself aan God as ’n heilige offer?

God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is.

Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika.

Agtergrond

In Handelinge 17 hoor ons dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingreis in Asië tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy lewe moes vlug nie.

In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die gemeente gaan.

Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het. Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het daarop om hulle baie spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.

In die tweede helfte van die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus.

In ons teks gedeelte vind ons ’n samevatting daarvan.

Daarin leer ons

(1) hoe ons optrede teenoor die ampsdraers in die gemeente behoort te wees;

(2) hoe ons onderlinge verhoudings behoort te wees en

(3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees.

Uit hierdie riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus.

Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God ontvang?

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons, onsself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Eenvoudig gestel:

God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?

Wat moet ons gesindheid wees teenoor die ouderlinge en diakens wat die Here in die gemeente daargestel het?

In 1 Tess. 5 v 12 & 13 sê die Here vir ons:

Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

Slaan ag op die onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat die bediening in julle lewens beteken.

As dit nodig is dat ons deur hulle tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat.

Wees dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente betrokke raak nie.

Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?

Omdat ons die Here se persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge verhoudings sigbaar te wees.

In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe ons teenoor mekaar moet optree.

Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

Ons moet op mekaar ag gee en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.

Verder moet ons mekaar ook ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar.

Die opdrag om met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde vir mekaar gemotiveer moet word.

Moenie ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe. Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my gemaak het nie! Vergifnis beteken ook nie dat ons die slegte gedrag van ander goedkeur of dat dit nie saak maak nie. Vergifnis beteken om nie ’n wrok in jou hart saam te dra nie. Dit beteken om die saak aan die Here op te dra en om Hom daarmee te vertrou.

Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde ons moenie ons eie belange voorop stel nie. Selfsugtigheid is een van die grootste oorsake van onmin tussen mense. Ons moet vir mekaar omgee.

Hoe moet ons verhouding met God wees?

In 1 Tess 5v16 – 22 sê die Here vir ons:

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.

Ons moet blymoedig wees. Met ander woorde moenie op die negatiewe fokus nie. Mens is so maklik net op dit wat sleg en verkeerd is gefokus dat ons naderhand dit wat goed en mooi is miskyk. Ons moet IN ALLE OMSTANDIGHEDE dankbaar wees omdat ons weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye.

Dit is inderdaad soos ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here alles ten goede laat meewerk.

Bid gedurig. Dit beteken dat ons in alle tye biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie afskeep nie. Paulus vra ook in 1 Tess. 5 v 25 dat die gemeente vir hom moet bid. Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.

’n Verhouding sonder kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook ons gesamentlike en persoonlike Bybelstudie.

Wanneer ons nie eredienste bywoon nie en ook nie Bybel lees nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en wegbly van dit wat sleg is.

In 1 Tess 5v23 & 24 bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreek Paulus dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.

Slot

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onsself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Met ander woorde, God het jou lief, Leef daarom vir Hom.

Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die woordverkondiging en persoonlike en gesamentlike Bybelstudie.

Laat ons daarom op grond van die groot ontferming van God onsself as lewende en heilige offers aan God gee wat vir Hom aanneemlik is.

God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Amen


 

25 Januarie 2026

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en toewyding aan sy wil

Op die pad van geloofsgroei

Lees:

Inleiding

Wat verwag die HERE van ons? Dit is ’n vraag waarmee ons as gelowiges dikwels stoei. Wat wil die HERE hê dat ons moet doen? Verwag Hy dat ek gereeld kerk toe moet kom? Verwag Hy dat ek ten minste 2 ure per dag Bybellees? Verwag Hy dat ek dat ek ten minste 3 ure per dag moet bid? Hierby kan ons nog ’n hele string moets en moenies byvoeg? Wat verwag die HERE van ons?

Ons kan op hierdie vraag baie maklik allerlei menslike voorskrifte voorhou, maar dan maak ons maar net soos die Fariseërs van ouds. Dit is inderdaad ook dikwels wat gebeur. Ons moenie dink dat die Fariseërs net in Jesus se tyd bestaan het nie. Hulle is nou nog steeds by ons teenwoordig. Ons hoef nie baie ver te gaan soek nie geliefdes. Ek hoef nie eers na die persoon langs my te kyk nie, want ek vind die Fariseër sommer hier in my eie hart. Ek is dikwels die persoon wat allerlei menslike voorskrifte aan die HERE se wil koppel.

Ons hoef egter nie baie te wonder oor wat die HERE van ons verwag nie, want Hy sê dit baie duidelik in sy Woord vir ons. Hier in Deut. 10 sê die HERE vir Israel wat Hy van hulle verwag wanneer hulle die beloofde land binnegaan. In Gen 12 v 3 & 4 hoor ons dat die HERE aan Abraham belowe het dat hy ’n groot nageslag gaan hê en dat hulle ’n land gaan kry om in te woon.

Dit is nou ongeveer 430 jaar later waar die nageslag van Abraham op die punt staan om die beloofde land binne te gaan. Israel is verlos van die slawerny in Egipte en nou nadat hulle 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, staan hulle gereed om die beloofde land binne te gaan. Hulle is tans aan die oostekant van die Jordaanrivier. Aan die westekant tussen die Jordaanrivier en die Middellandse see lê Kanaän, die beloofde land. Moses is besig om die volk voor te berei oor hoe hulle moet leef wanneer hulle in die beloofde land woon. Hier in Deut. 10v12 & 13 vind ons ’n samevatting van wat die HERE van Israel verwag. In hierdie samevatting sê die HERE ook vir ons wat Hy van ons verwag.

12“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer , sy wil moet gehoorsaam , Hom moet liefhê en dien met hart en siel. 13Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

Hier sê die HERE vir ons:

    i.        Wat Hy van ons verwag

   ii.        Hoe ons dit moet doen en

 iii.        Hoekom die HERE dit van ons verwag.

Wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag van ons dat ons Hom moet eer en dat ons Hom moet liefhê en dien met hart en siel. In die Ou Vertaling is die woord wat in die Nuwe vertaling met eer vertaal is met vrees vertaal. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie. Ons praat dikwels in die kerk daarvan dat ons die HERE moet vrees en dit kan maklik misverstaan word omdat die betekenis van vrees in Afrikaans verander het van eerbied na bang wees.

Die betekenis van die Hebreeuse woord dui daarop dat dit verwys na heilige eerbied vir die HERE. Met ander woorde dit beteken dat ons aan die HERE die nodige erkenning moet gee vir wie Hy is. In Deut. 10v14 hoor ons:

Die hemel, selfs, die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

Ons moet die Here erken vir wie Hy is, naamlik die enigste ware God wat die Hemel en die aarde uit niks geskep het. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie, maar dat ons aan Hom moet eer bewys en daarom is dit in die nuwe vertaling met eer vertaal.

Hoe eer ons die HERE? Ons eer die HERE wanneer ons vir Hom lief is deur Hom te dien met hart en siel. Ons die ’n die HERE wanneer Hy die no. 1 prioriteit in ons lewe is. Ons het die HERE lief vir wat Hy vir ons gedoen het en vir wie Hy is. In Deut. 10v15 sê die HERE vir ons:

En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

Die God wat hemel en die aarde geskep het buig Homself neer na ons as nietige mense. Hy het Israel uitverkies as sy volk. Uit Israel is die Messias gebore. Net soos Israel van ouds uit die slawekettings van Egipte verlos is, verlos Jesus Christus vandag nog God se uitverkore kinders uit die slawerny van die sonde. Israel het vooruit gekyk na die liefde van God se verlossing deur die voorbeeld van hul verlossing uit Egipte. Ons kyk vandag terug na God se liefde vir ons in Jesus Christus soos Hy ook so duidelik in 1 Joh. 4v9&10 vir ons sê.

9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Op grond van God se uitverkiesende liefde wat Hy in Jesus Christus se kruisoffer en oorwinning oor dood aan ons bewys het kan ons die HERE eer. Ons eer die HERE wanneer ons Hom alleen erken as die enigste God en ons is lief vir Hom en dien Hom met ons hele wese wanneer ons NIKS of NIEMAND in sy plek stel nie.

Hoe moet ons die HERE liefhê en dien met ons hele wese?

In Deut. 10v13a sê die HERE vir ons:

Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee.

Hierdie gebooie en voorskrifte is die wet van die HERE wat Moses net kort tevore vir ’n tweede keer aan die volk gegee het. Dit is dikwels op hierdie punt waar ons die gevaar loop om Fariseërs te word. Hoe word ons Fariseërs? Ons word Fariseërs wanneer ons die HERE se voorskrifte vervang met ons eie godsdienstige reëls. Wanneer ons verder hierdie reëls van ons voorhou as voorwaarde om vir die HERE aanvaarbaar te wees. As jy nie hierdie reëls nakom nie, dan kan jy nie ’n kind van die HERE wees nie en so span ons die kar voor die perde.

En tog is die wet van die HERE eintlik baie eenvoudig. Jesus som die wet op met liefde. Liefde vir God bo alles en liefde vir jou naaste soos Hy dit in Mat 22v37-40 vir ons sê:

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Dit is ook nie iets nuuts wat Jesus uit die lug gryp nie. Hy haal maar eintlik net die Ou Testament aan wanneer Hy dit sê. Liefde vir God uit Deut. 5v6 en liefde vir jou naaste uit Lev. 19v18. In wese kom hierdie selfde opsoming ook in Deut. 10 voor. In Deut. 10v16 sê die HERE vir ons:

16“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Wat is dit anders as dat jy die HERE jou God met jou hele hart en jou hele verstand bo alles moet liefhê?

In Deut. 10v18 sê Hy vir ons:

18“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. 19Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.

In wese sê die HERE hier vir ons dat ons vir mekaar moet omgee. Ons moet dus nie in selfsug net op onsself gefokus wees nie. Ons moet mekaar liefhê deur mekaar se belange op die hart te dra.

Ons dien die HERE wanneer ons Hom bo alles liefhet en wanneer ons, ons naaste net soos onsself liefhet. Die HERE sê egter nie net vir ons wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen nie. Hy sê ook vir ons hoekom ons dit moet doen.

Waarom moet ons die gebooie en voorskrifte van die HERE nakom?

Ons sê so maklik dat ons die HERE se gebooie en voorskrifte moet nakom omdat die HERE so sê. Dit sou seker genoeg motivering wees, maar die HERE verduidelik ook in sy liefde vir ons hoekom dit nodig is. Die HERE gee nie sy voorskrifte om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Hy gee dit vir ons met ’n baie spesifieke rede. Die rede wat die HERE gee is eintlik baie eenvoudig. in Deut. 10v13 sê Hy eenvoudig vir ons:

Dit sal tot jou voordeel wees.

Ons verstaan hierdie ook so dikwels verkeerd. Ons dink so maklik dat die voordeel daarin lê dat as ons God se gebooie en voorskrifte nakom dan vermy ons sy straf. Ek moet luister wat die HERE sê anders gaan Hy my straf. As dit ons siening is, dan verstaan ons egter nog bitter min van die HERE se liefde vir ons. Die HERE verwag dat ons mekaar moet liefhê omdat dit in ons eie belang is dat ons dit doen.

Die HERE weet hoe afbrekend selfsug en kritiek is. Hy weet hoe haat en bitterheid ons van ons lewensvreugde beroof. Hy weet hoe eensaam ons word wanneer ons, ons in selfsug van ons naaste afsonder. Wanneer die HERE vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê en dat ons vir mekaar moet omgee, doen Hy dit omdat Hy weet hoeveel vreugde mens ervaar wanneer jy liefde uitdeel en as gevolg daarvan weer liefde terugontvang.

Dit is die wonder van God se liefde. Hoe meer ons daarvan uitdeel, hoe meer ontvang ons terug. Dit is onmoontlik om al God se liefde uit te deel, want jy ontvang altyd meer terug as wat jy uitdeel. As jy egter in selfsug God se liefde net vir jouself wil hou, dan verdwyn God se liefde en het jy naderhand niks daarvan oor nie.

Nou kry ons ook ’n ander fokus op God en sy liefde. As God eerste in my lewe is, dan kan ek nie anders as om vir my naaste om te gee nie. Dan is dit nie vir my moeite om eredienste by te woon nie, maar eerder ’n vreugde omdat ek daar saam met my broers en susters in die geloof in die heerlike teenwoordigheid van ons Vader gaan wees. Dan lees ek Bybel omdat ek my Vader se stem wil hoor. Dan bid ek tot die HERE omdat ek graag met Hom wil praat. Dan dien ek die HERE omdat dit vir my ’n vreugde is en nie omdat dit ’n sware plig is nie.

Ons kom die HERE se gebooie en voorskrifte na omdat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed vir ons om die HERE en ons naaste lief te hê.

Samevatting

Geliefdes, wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag dat ons Hom alleen moet eer deur niks of niemand in sy plek te stel nie. Ons eer die HERE wanneer ons sy gebooie en voorskrifte nakom deur God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê. Ons doen dit in die volle wete en vertroue dat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed om die HERE en ons naaste lief te hê.

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en totale toewyding aan sy wil!

Amen

 

05 Oktober 2025

Liefde vra opoffering!

 Dit is egter die moeite werd, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as wat liefde jou kos.


Teks 1 Joh. 3 v 11 – 24

Teksverse 1 Joh. 3 v 11, 16 & 23

GK BSH & RB 5 Okt. 2025

Die Here sê vir ons dat ons mekaar moet liefhê, maar liefde is nie altyd wat ons dink dit is nie. As jy nie weet wat liefde is nie, is dit onmoontlik om God se liefdesgebod te gehoorsaam en daarom is dit belangrik dat ons seker moet maak dat ons weet wat liefde werklik is. Aangesien God liefde is, is sy lewende Woord die enigste betroubare bron om te leer wat liefde is.

In ons teks leer God ons wat liefde werklik is. Liefde is nie maar net ’n emosie wat mens lekker laat voel nie. Liefde is totaal anders as wat die wêreld as liefde voorhou. Die wêreld definieer liefde as dit wat jy ontvang en daarom moet jy seker maak dat jy soveel as moontlik moet ontvang, selfs al is dit nodig om moord te pleeg daarvoor soos wat Kain gedoen het.

Ware Godgegewe liefde is egter radikaal anders. Dit is nie wat jy ontvang nie, maar dit wat jy gee. Liefde is “doen”! Liefde vra opoffering.

Om liefde te gee gaan jou baie duur kos!

Waarom sou mens liefde wou gee as dit jou so duur gaan kos? Want om liefde te gee is om te lewe. Indien jy nie liefde gee nie bly jy in die doodsheid van die sonde. Dit is egter die moeite werd om die prys te betaal wat liefde vra, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as die prys wat liefde jou kos.

In 1 Joh. 3 v 12 tot 15 hoor ons wat liefde nie is nie. In vers 12 hoor ons hoedat Kain se afguns en jaloesie daartoe aanleiding gegee het dat hy sy broer vermoor het. Kain se afguns het tot haat oorgegaan en haat het tot moord gelei. Haat is nie die teenoorgestelde van liefde nie. Haat is gebrek aan liefde. Liefde is lewe en daarom is haat dood soos ons hoor in 1 Joh. 3 v 14&15:

Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.

In die voorafgaande verse het ons gehoor wat liefde nie is nie. Nou sê die Here vir ons 1 Joh. 3 v 16 wat liefde wel is:

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Liefde is doen. Liefde vra opoffering. Liefde vra ’n duur prys! Om lief te hê vra dat jy jouself moet prysgee.

Jesus het die absolute prys van liefde betaal. Hy het meer as net sy lewe gegee. Hy het Homself gegee. Hy het mens geword en daarmee sy Godheid prys gegee. Hy het ook die grootste prys betaal, naamlik Godverlatenheid. Hy het die prys betaal wat geen mens ooit kan betaal nie.

Die liefde wat Jesus Christus aan ons bewys is die diepste grond van Liefde. Jesus openbaar hier liefde in volmaaktheid. Dit is om alles van jouself te gee teenoor Kain wat alles vir homself opgeëis het met die moord op sy broer.

Hierdie liefde wat Jesus aan ons bewys het, het Hy gedoen omdat Hy dit wou doen. Hy is nie gedwing om dit te doen. Hiermee word ’n belangrike eienskap van liefde openbaar. Dit is iets wat jy vrywillig moet gee. Dit is nie iets wat met dwang afgedwing kan word of gevat word nie.

Verder is liefde nie goedkoop nie. As jy liefde wil gee, moet jy verstaan dit is ’n duur prys wat gevra word. Die prys van liefde kan wees dat jy met jou lewe moet betaal. Nie net in die fisiese sin nie, maar ook in ’n geestelike sin. Om lief te hê vra dat jy die lewe van jou eie ek en selfsug moet prysgee. Liefde vra dat jy eers aan die behoeftes van jou broer of suster moet dink voordat jy aan jou eie behoeftes dink. Dit is soos die ma wat honger bly omdat sy die laaste stukkie kos vir haar kind gee.

In 1 Joh. 3 v 18 volg nou ’n baie konkrete voorbeeld uit die gewone daaglikse lewe van wat liefde werklik is. Wie aardse besittings het en gerieflik lewe danksy sy rykdom, maar raaksien en tog toesien hoe sy broer gebrek ly, is sonder gevoel vir hom.

Liefde is nie maar net ’n sentiment, ’n saak van mooi woorde of lippetaal nie. Solank as wat liefde nog net ’n voorneme of sentiment is, is dit nog nie werklike liefde nie. Liefde word werklik wanneer dit in dade wat in opregtheid gedoen word oorgaan. Jy begin eers werklik die vreugde van God se liefde in jou hart ervaar wanneer jy prakties begin liefhê. As jy ongevoelig is teenoor jou broeder, beroof jy jouself van God se liefde.

Hierin lê ’n groot geheimenis opgesluit. As jy ’n som geld in jou beursie het en jy begin dit uitdeel gaan dit minder word en as jy aanhou uitdeel gaan dit naderhand klaar raak. Hoe minder jy uitdeel, hoe meer geld gaan jy in jou beurs oorhou.

Met liefde werk dit egter anders. Hoe meer jy liefde uitdeel, hoe meer word God se liefde in jou lewe. As jy egter suinig is met die uitdeel van jou liefde word God se liefde in jou lewe al hoe minder.

Die volgende geheimenis is in hoe jy liefde ontvang. God verwag nie van jou om eers liefde uit te deel voordat jy ontvang nie. In 1 Joh. 4 v 19 sê Hy vir ons:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

God gee vir jou liefde en al Hy wat Hy vra is dat jy die liefde uitdeel wat Hy reeds vir jou gegee het.

Hoe kry jy deel in die liefde van God? In 1 Joh. 3 v 22 hoor ons jy kry deel daarin wanneer jy sy gebooie gehoorsaam.

wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind

Dit is hier waar mens so maklik die spoor byster raak deurdat vers 22 gelees word sonder om vers 23 in ag te neem en waar jy dan jou eie definisie byvoeg van wat dit beteken om God se gebooie na te volg. Wanneer jy dit doen dan volg jy die wêreldse pad van oordeel en haat.

1 Joh. 23 verduidelik wat die Here bedoel wanneer Hy sê dat ons sy gebooie moet gehoorsaam.

En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.

Ons hoor in vers 23 die hart van die Evangelie. Glo in God se Seun, Jesus Christus. Glo dat Jesus sy lewe vir jou afgelê het om jou te verlos van die slawebande van jou sonde. Glo dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding en dat Hy daarmee aan jou die ewige lewe gee. Verdiep jou in die liefde van Jesus Christus. Sien raak hoe groot God se liefde vir jou werklik is.

Wanneer jy dit doen, dan sal jy beleef hoe God se liefde in jou hart brand en wanneer God se liefde in jou hart brand kan jy nie anders as om jou broers en susters lief te hê nie. Dit is soos om ’n pot water op ’n warm stoofplaat te plaas. Die water in die pot kan nie anders as om warm te word en naderhand te kook nie. Indien jy egter die pot van die plaat afhaal, dan word die water koud.

God se liefde vir jou in Jesus Christus is soos die hitte van die warm stoofplaat. Jou geloof in die evangelie van Jesus Christus is soos om die pot water op die stoof te plaas. Die uitdeel van God se liefde is soos die water wat kook.

Wanneer jy egter soos Kain die pad van vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns begin volg is dit soos om die pot van die stoof af te haal. Dan is dit nodig dat jy terugkeer na die evangelie van God se liefde vir jou.

Waar kry jy die geloofsoortuiging vandaan om in die evangelie van Jesus Christus te glo? God self gee dit vir jou deur sy Gees. Wanneer jy dus worstel om die prys te betaal om lief te hê, weet dat die Heilige Gees met jou besig is. As die Heilige Gees nie met jou besig is nie, sal jy nie omgee dat jy nie liefhet soos God van jou vra nie. God belowe ons dat Hy sy Gees gee aan elkeen wat vra. Bid dat die Heilige Gees ook in jou lewe werksaam sal wees.

Geliefdes, wat is liefde? Die bron van liefde is God, want God IS Liefde. Die wese van Liefde is Jesus Christus se liefdesdaad aan die kruis. Die opdrag van Liefde is dat ons mekaar moet liefhê.

Liefde vra opoffering! Betaal die prys van opoffering wat liefde vra, want dit wat jy terug ontvang is baie meer as wat liefde jou kos. God se liefde vir jou gee vir jou die ewige lewe. Leef daardie lewe met die uitdeel van God se liefde wat Hy so oorvloedig aan jou skenk.

Amen

22 September 2025

Liefde vra opoffering


 Lees Johannes 15:1-17 Teksvers Joh. 15:12

Ons roeping is: “Stap die pad in volle vertroue saam met God.” Ons kan alleen maar die Here se roeping gehoorsaam wanneer ons weet hoe afhanklik ons van Hom is. Wat verwag die Here van ons verwag wanneer ons sy roeping opvolg om die pad saam met Hom te stap.

Julle behoort mekaar lief te hê. Dit is die Here se opdrag aan ons. In die vertaling gaan daar so ietsie van die Griekse grammatika verlore. Dis nie ’n klipharde opdrag wat ons moet doen of ons nou wil of nie. Liefde kan tog immers nie afgedwing word nie. Dit is veel eerder ’n aansporing van iets wat ons behoort te doen.

In sekere sin is die aansporing dat ons dit behoort te doen ’n baie strenger opdrag as “julle moet dit doen of julle nou wil of nie”. Die opdrag behels dat ons mekaar moet liefhê omdat ons dit vanuit ons eie wil doen en nie omdat ons dit MOET doen nie.

Ons moet wil liefhê omdat ons oortuig is dat dit die regte ding is om te doen en ons behoort dit te doen. Dit is die opdrag wat die Here aan sy kerk gee.

In hierdie teksgedeelte wys die Here ons hoe ons dit kan regkry, want om mekaar lief te hê druis in teen ons sondige natuur. Uit ons sondige natuur sal ons veel eerder haat as om lief te hê en dit kom heel dikwels in ons optrede teenoor mekaar na vore.

In hierdie teksgedeelte hoor ons hoe die Here die beeld van ’n druiwestok gebruik om aan ons te verduidelik hoe ons dit kan regkry om mekaar lief te hê. Dit is inderdaad wat die Here van ons verwag wanneer ons die nuwe lewensjaar aanpak. In
Joh. 15 v 1 hoor ons:

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.

Die Vader is die Boer en Jesus is die wingerdstok (dit wil sê die hoofstam waaruit die take dit wil sê die lote groei) wat Hy geplant het en die lote is ons die gelowiges wat moet vrugte dra soos ons hoor in Joh. 15 v 2.

Hiermee sê die Here vir ons dat God die Vader sy Seun Jesus na die mensdom gestuur het sodat hulle waarlik die lewe kan leef wat Hy vir ons beplan het. Die vrug wat ons moet dra is liefde en ons kan dit slegs doen as ons in Jesus ingeplant is.

Die Here gebruik hier ’n baie mooi beeld om vir ons te verduidelik hoe sy liefde werk. Net soos wat ’n druiweloot nie op sy eie kan vrugte dra nie, net so kan ons nie vrugte van liefde dra as ons los is van Jesus Christus se verlossing nie. As die lewegewende sap nie uit die wingerdstok (die hoofstam) vloei in die loot nie, gaan die loot dood en dit verdroog.

Die mens wat nie glo in Jesus se verlossing nie is net soos daardie verdroogde loot soos ons hoor in
Joh. 15 v 6:

As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

So verduidelik die Here vir ons dat ons op ons eie nie lief kan hê nie. As God se liefde nie in ons is nie kan ons nie liefhê nie soos Johannes ook in sy eerste brief 1 Joh. 4v19 verduidelik:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

In die eerste plek is die liefde van God dus ’n genadegawe wat ons van God ontvang. Aan die ander kant is  dit ook ’n opdrag soos ons in ons teksvers Joh. 15 v 12 hoor:

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Die genade van God is dat Hy nooit meer vra as wat Hy alreeds vir ons gegee het nie. Aan die een kant gee Hy, maar aan die ander kant vra Hy wat Hy gee. God het net een doel voor oë met dit wat Hy vir ons gee en dit wat Hy vra soos ons hoor in Joh. 15v11:

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

In dit wat God vir ons gee en wat Hy van ons vra, doen Hy sodat ons net die heel beste in die lewe kan ontvang.

Die Here verwag van ons om vrug te dra in ons lewens. Die vrug wat Hy verwag is liefde. In Gal 5v22 & 23 sê die Here vir ons waaruit die vrug van liefde bestaan. Die vrug van liefde bestaan uit : vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

As ons in Jesus, die ware wingerdstok ingeënt is, dan sal Hy vir ons hierdie vrug gee soos ons hoor in
Joh. 15v7:

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

As ons vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing van die Here vra, dan sal Hy dit vir ons gee.

Wanneer die Here sy opdrag vir ons gee om mekaar lief te hê, dan sê Hy ook hoe ons dit moet doen: “soos Ek julle liefhet”. Jesus se liefde strek so ver dat Hy sy lewe ter wille van ons geoffer het. Ware liefde beteken opoffering. Die vrug van liefde vereis opoffering van ons.

Wat se opoffering vereis die liefde wat die Here vra van ons? Dat ons nie net vir die mense sal lief wees waarvan ons hou nie, maar dat ons ook vir diegene moet lief wees waarvan ons nie hou nie!

Dit is maklik om my mede broeders en susters waarvan ek hou lief te hê. Ongelukkig is ons nog blootgestel aan die gevolge van sonde en daarom is dit so dat daar broeders en susters in die gemeente is waarvan ons minder hou. Ons moet ook vir hulle lief wees!

Die grootste aspek van opoffering wat liefde verg is dat ons ook na onself moet kyk. As daar dalk een van ons is wat voel dat my broeders en susters nie so lief is vir my soos die Here van ons vra nie, dan moet ek na myself kyk.

Die opoffering wat ons moet maak is dat ek dit vir my broers en susters in die geloof moet maklik maak om my lief te hê. Is ek heeltyd net kwaai en nors? Is ek gedurigdeur skoorsoekerig en soek ek rede om te baklei? Loop ek heeltyd rond en verwyt? Maak ek die lewe vir die mense om my moeilik? Doen ek aspris goed waarvan my broers en susters nie hou nie, sodat ek hulle kan grief?

Is ek die een wat altyd net kla en fout vind? As vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel is van my lewe, dan maak ek dit maklik vir my broers en susters om vir my lief te wees. Dit kan soms een van die grootste opofferings wees wat ek moet doen, naamlik om my eie foute raak te sien en vir die Here te bid dat Hy my help om daarvan ontslae te raak.

Nog ’n aspek van liefde is die invloed wat ek op die mense om my uitoefen. Ons het ’n spreukwoord wat sê dat maats jou kan maak of breek. As ek met die verkeerde maats deurmekaar is, dan kan hulle my lewe baie negatief beïnvloed.

Die vraag is hier of ek nie ’n verkeerde maat is vir my vriende nie? Is ek besig om my vriende saam met my in die afgrond in te ly? Is ek daardie persoon teen wie ouers hulle kinders waarsku? Is ek die persoon wat heeltyd veroorsaak dat ek en my maats in die moeilikheid beland? Hierdie geld nie net vir die kinders nie, maar ook vir die grootmense. Bou ek op of breek ek af?

Geliefdes, die Here se opdrag aan ons is:

Julle behoort mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Hierin leer die Here ons dat ware liefde opoffering vereis.

Dit vereis opoffering in die sin dat ek moet liefhê omdat ek wil en nie omdat ek dit maar net doen om dit gedoen te kry nie. Ware liefde is opreg en dit vereis opoffering in die sin dat ek ook diegene liefhet waarvan ek nie hou nie.

Ware liefde vereis opoffering deurdat ek dit vir my broers en susters moet maklik maak om my lief te hê. Ek kan dit slegs doen as ek bereid is om my eie foute raak te sien en dat ek vir die Here bid om my te help om dit reg te kry.

Ek kan slegs hierdie gebed bid as ek glo dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy die dood oorwin het deur op te staan uit die dood.

Ware liefde vereis opoffering deurdat ek moet streef om ’n positiewe invloed uit te oefen op my vriende sodat ek hulle opbou en nie afbreek nie.

Geliefdes, kom ons wees lief vir mekaar soos die Here vir ons lief is.

Amen