Wys tans plasings met die etiket Nagmaal. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nagmaal. Wys alle plasings

16 Februarie 2020

Bekeer julle en kom tot inkeer!


Datum: 16 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:     Luk. 13 v 1 – 5
Teksverse:     Luk. 13 v 3 & 5




In ons teksgedeelte lig Jesus 'n baie belangrike probleem uit. Dit is 'n struikelblok waaroor gelowiges baie maklik struikel. Die probleem van eie geregtigheid. Die probleem dat jy dink jy is so bietjie beter as ander mense. Ek is glad nie so sleg nie. Ek is darem nie so sondig soos die ander mense nie.


In die gedeeltes wat ons teks vooraf gaan het Jesus die mense vertel van God se oordeel en nou bring een van hulle, die gruweldaad van Pilatus op wat Galileërs laat doodmaak het terwyl hulle besig was om te offer.

Om Jesus se antwoord te verstaan moet ons in gedagte hou wat die algemene opvatting van die tyd was dat wanneer iets sleg met jou gebeur, dit is omdat jy een of ander sonde gepleeg het.

Dit is ook 'n ook 'n opvatting wat ons in die Ou Testament vind. Dink maar aan Job se vriende wat hom beskuldig het dat hy gesondig het en dat dit die rede was hoekom al die rampe hom getref het.

In Joh. 9 hoor ons dat Jesus se dissipels dieselfde siening het wanneer hulle hom vra wat die rede was hoekom die man van geboorte af blind was. Was dit sy eie sonde of was dit sy ouers se sonde?

Dit is ook 'n opvatting wat ons vandag nog in ons samelewing het. Die Sjinese dra nou die gevolge van hulle goddeloosheid en daarom word hulle gestraf met hierdie Corona virus. Dieselfde argument was ook geopper toe die tsunami Japan getref het. God straf hulle oor alles wat hulle verkeerd doen.

Jesus het gepraat oor God se oordeel en nou vra hulle Jesus om kommentaar te lewer oor hoekom God se oordeel hierdie Galileërs getref het. Jesus antwoord hulle met 'n vraag:
“Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?

En om die punt wat Hy wil maak te beklemtoon gebruik Jesus 'n ander voorbeeld van die toring van Siloam waar agtien mense dood was omdat dit inmekaar geval het.

In beide gevalle gee Hy dieselfde antwoord.
Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!
God se Woord kan soms baie ongemaklik wees. Moenie na ander mense kyk nie. Kyk na jouself!

Eie geregtigheid is een van die dinge wat die kerk lamlê. Ons begin dink dat ons so bietjie beter as ander mense is. Dan sien ons die kerk as ons elite klompie mense wat heiliger is as ander mense.

Dis wanneer die kerk na binne begin fokus. In plaas van om 'n jammerte te hê vir verlore sondaars aan wie ons die goeie nuus van Jesus moet vertel, is ons vol oordeel vir hulle en ons moet sorg dat hulle ons nie met hul sondes vuilmaak nie.

Met hierdie skrifgedeelte bring Jesus ons weer terug na die harde werklikheid soos ons ook hoor in Rom. 10 v 10 -18
Daar staan immers geskrywe:
“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie.
Daar is nie een wat verstandig is nie;
daar is nie een wat na die wil van God vra nie.
“Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.

Vandag is voorbereiding. Volgende Sondag vier ons DV weer die Heilige Nagmaal. Voorbereiding is waar jy weer voor God stil word en jouself afvra of jy met die regte gesindheid Nagmaal wil gebruik.

As jy met 'n gesindheid van eie geregtigheid kom Nagmaal gebruik dan kan jy dit maar net sowel los, want wanneer jy dink dat jy so bietjie beter as ander mense is, dan sê jy eintlik daarmee dat jy nie Nagmaal nodig het nie.

Is dit nie dalk die rede hoekom ons so maklik van die Nagmaal af wegbly nie? Is dit nie die rede waarom ons so ongeërg is om eredienste by te woon nie. Is dit nie die rede waarom ons dankbaarheidslewe ook maar afgeskeep word nie?

Hoe moet ons dan onsself vir Nagmaal voorberei? In Jesus se antwoord op sy vraag of die mense wat deur die rampe getref is dan meer sondig is as die res, gee Hy vir ons die antwoord op die vraag oor hoe ons moet voorberei.
Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.”

Jesus vra bekering en Hy voeg ook 'n waarskuwing by: “As julle, julle nie bekeer nie sal julle omkom.” Jesus bedoel nie hier maar net die fisiese dood van jou liggaam nie. Nee, geliefdes. Hy waarsku hier oor die ewige dood waar jy vir ewig van God vervreem sal wees in die ewige verdoemenis.

Wat beteken dit dat jy jou moet bekeer? Bekering behels basies drie dinge:

Ten eerste moet ek verstaan, hoe groot my sonde en ellende is. Eie geregtigheid kom juis na vore wanneer ek my sonde gering ag. God is Heilig en Hy kan nie sonde verdra nie. Daarom moet sonde gestraf word. Ek moet verstaan dat daar niks is wat ek kan doen om op te maak vir my sonde nie en daarom moet ek myself voor God verootmoedig. Ek moet my sonde teenoor God bely. Die doel hiervan is nie om my moedeloos te maak nie. Inteendeel, dit is juis sodat ek na God toe sal draai.

Daarom moet ek ten tweede verstaan hoe ek van al my sonde en ellende verlos word. Ek moet weet wat die evangelie van Jesus Christus is. Ek moet weet dat die goeie nuus van Jesus Christus daar is vir my. Dink daaraan wat Jesus vir jou gedoen het. Hy het vir jou gesterf toe jy nog 'n sondaar was!

God het jou so lief dat Hy sy Seun gestuur het om die prys van jou sonde in jou plek te betaal. Hy het sy lewe vir jou gegee. Hoe lief moet jy iemand hê om jou lewe vir hom te gee? Ons vergeet so maklik wat Jesus vir ons gedoen het!

Maar Jesus het nog meer gedoen as om net sy lewe vir jou te gee. Hy het die mag van die dood gebreek en sy opstanding is die bewys daarvan. Hy gee vir jou 'n nuwe lewe waar jy nie meer vasgebind is aan die slawekettings van die sonde nie.

God gee dit alles aan jou sonder dat jy iets hoef te doen om dit te verdien en daarom gee die Heilige Gees vir jou geloof sodat jy deur jou geloof kan vashou aan God se genade.

Dit bring ons dan ook by die derde punt, naamlik hoe ek vir God moet dankie sê omdat Hy my verlos het. Ek moet wegdraai van my ou sondige natuur af. Ek moet vra na God se wil en ek moet dit ook doen. Dit help nie net om te vra na God se wil nie, ek moet doen wat God in sy Woord vir my sê om te doen.

Ek moet met alles wat in my is stry teen my sondige natuur en vra na God se wil soos ons hoor in
Heb. 12 v 4:
Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie.

My stryd teen die sonde is 'n stryd om lewe of dood en daarom kan ek dit nie op my eie doen nie. God se genade is so groot dat Hy sy Gees gestuur het om ons te help, ons te dra. Met my eie krag is dit onmoontlik om weerstand teen sonde te bied, maar met die krag van die Heilige Gees is dit moontlik. Daarom moet ek bid vir Heilige Gees want God belowe in
Luk. 11 v 3 dat Hy sy Gees sal gee aan elkeen wat daarom bid.

Geliefdes, wat sê die Here vir ons hier in Luk. 13 v 1 – 5? Jy moet na jou eie sondes kyk en jou bekeer, want as jy dit nie doen nie, sal jy met die ewige dood gestraf word.

Daarom geliefdes, Bekeer jou en kom tot inkeer! Gaan word in hierdie week van voorbereiding weer stil voor God. Lees weer wat in die Nagmaalsformulier staan agter in die Psalmboek. Gaan lees in Artikel 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis waaroor Nagmaal gaan.

Bekeer julle en kom tot inkeer.
Amen

25 Augustus 2019

God word verheerlik deur Jesus se selfopofferende liefde en dit verander jou lewe


25 Aug. 2019 - Nagmaal
Joh. 13 v 31 – 35



Geliefdes ons het die voorreg om vandag weer saam Nagmaal te gebruik. Die gevaar is egter dat ons so maklik net by die praktyk van Nagmaal gebruik vashaak en dat ons nie die diepere betekenis daarvan raaksien nie.

In ons teksgedeelte vir vandag berei Jesus sy dissipels voor vir sy kruisdood waarheen Hy op pad is en in hierdie voorbereiding maak Hy dit duidelik wat is die praktiese implikasie van sy kruisdood wat ons met Nagmaal herdenk.

Jesus lig hier vir sy dissipels drie faktore uit oor hoe 'n Christin se lewe anders is as die wêreld daar buite:
1) Hulle sal 'n Nuwe heerlikheid aanskou v 31 & 32
2) Hulle sal 'n situasie beleef V 33
3) Hulle moet 'n nuwe opdrag leef v 34 & 35

1. 'n Nuwe heerlikheid
In 1 Joh. 13 v 31 & 32 hoor ons:
Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.

In Joh. 13 v 18 – 30 hoor ons hoe Jesus Judas as sy verraaier identifiseer. Vers 31 begin met Judas wat Jesus en die dissipels verlaat. Hier word die gebeure van Jesus se kruisiging aan die gang gesit. Judas is op pad om Jesus te verraai. Wat op die oog af na 'n nederlaag lyk, is inderwaarheid God se grootste oomblik. Judas wat die groep verlaat het sê vir ons dat die gebeure wat daartoe gaan ly dat God verheerlik gaan word is aan die gang gesit.

Die Vader word verheerlik omdat Jesus ten volle gehoorsaam is aan Hom en deur sy gehoorsaamheid word Jesus ook verheerlik. God se plan om verlore sondaars van die slawekettings van die sonde te verlos is aan die gang gesit.

Jesus het Homself verneder deur van sy Godheid afstand te doen om volledig mens te word. Hy word nou aan dieselfde versoekings as die mens onderwerp. Die enigste verskil is dat Hy sonder sonde was. Hy het die wet ten volle gehoorsaam. Hy was getrou aan die wet soos dit in die liefdes gebod opgesom word, naamlik liefde vir God en liefde vir die mens (sy naaste).

Sy liefde vir die Vader wys Hy deurdat Hy Homself ten volle aan die wil van die Vader onderwerp deurdat Hy die straf vir die sonde (die dood) ten volle op Hom geneem het toe Hy op die kruis gesterf het. Deurdat Hy bereid was om te sterf vir die sonde bewys Hy ook sy liefde vir 'n verlore mensdom.

2 'n Nuwe situasie.
In Joh. 13 v 33 hoor ons:
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
Sy dissipels moes die skokkende nuus hoor dat Jesus weggaan. Op daardie stadium het sy dissipels nog nie verstaan dat Hy moes sterf nie. Dit het vir hulle gelyk of Jesus verslaan is deur die vyand. Hulle moes leer dat dit wat vir hulle soos 'n nederlaag gelyk het, God se grootste oorwinning was.

Jesus noem sy dissipels hier “My kinders” en daarmee sê Hy vir hulle dat Hy hulle moet verlaat omdat Hy so lief is vir hulle. Hy verlaat hulle nie omdat Hy nie meer vir hulle omgee nie, nee, dit is uit liefde uit.

Hierdie boodskap aan sy dissipels is vandag nog vir ons ook relevant. Die lewe werk nie altyd uit soos ons dit wil hê nie. Ons moet God egter vertrou, al lyk dit of die lewe heeltemal in 'n verkeerde koers ingaan. God is steeds in beheer en Hy is steeds besig om sy ewige raadsplan uit te voer. Ons sien nie die einddoel, die groter prentjie waarmee Hy besig is nie, maar ons moet Hom vertrou.

Jesus sê vir sy dissipels dat Hy nog net 'n klein rukkie saam met hulle sal wees. Daarmee sê Hy: “koop die tyd uit.” Benut die tyd wat julle nou het. Hiermee sê God vir ons ook: “MOENIE UITSTEL NIE!” Ons leef so maklik met die gedagte gang dat “môre is nog 'n dag.” Nie een van ons weet of daar vir ons 'n môre gaan wees nie. Daarom, maak nou gebruik van die geleenthede om goed te doen wat God oor jou pad stuur.

Wanneer Jesus vir sy dissipels sê “julle sal my soek”, sê Hy vir hulle dat daar 'n nuwe situasie gaan wees. Jesus gaan nie meer fisies persoonlik met hulle wees nie. Hulle moet nou self aangaan om sy opdragte uit te voer. Hy laat hulle egter nie soos weeskinders alleen agter nie soos ons in Joh. 14:18 hoor. Hy stuur die Heilige Gees in sy plek.

Dit sê vir ons dat alhoewel ons Jesus nie meer persoonlik kan sien en hier fisies saam met Hom wees nie, is ons nie alleen nie. Die Heilige Gees is steeds met ons en daarmee sê Jesus dan ook dat die fisiese kameraadskap verander na 'n geestelike saamwees.

Jesus sê ook vir sy dissipels dat hulle Hom nie kan volg nie. Die pad deur die dood om sonde te oorwin is iets wat Net Hy kan doen. Niemand kan Hom daarmee help nie. Dit sê ook vir ons dat Jesus die enigste weg is na verlossing van die sonde. Dis nie iets wat ons kan doen nie. Dis net Jesus wat dit kan doen.

Jesus sê ook hiermee, dat hulle Hom nie kan volg nie, want daar is nog werk vir hulle om te doen. Die taak wat ons ook opgelê is. “Gaan dan heen en maak dissipels, (dit wil sê volgelinge van Jesus) en leer hulle om my bevele (God se liefdes gebod) te gehoorsaam.


3 Nuwe Opdrag
Noudat u geloof versterk is met die gebruik van die Nagmaal, luister nou na Jesus se nuwe opdrag.

In Joh. 13 v 34a hoor ons:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê.
Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
Hier hoor ons die nuwe opdrag wat saam met 'n ou gebod saamgaan. Ons het immers vanoggend reeds in Lev. 19 v 18 gehoor dat God ons beveel: “jy moet jou naaste soos jouself liefhê.”

Hoe is dit dan nou 'n nuwe opdrag? Jesus maak die verskil. In die opdrag van die wet word 'n maatstaf gestel waarteen jy gemeet word. Is jy gehoorsaam aan die opdrag? Die wet het egter geen mag om jou aan die opdrag gehoorsaam te maak nie.

Met Jesus se kruisdood en opstanding het daar 'n nuwe dimensie bygekom. Daardeur het Jesus die mag van die sonde gebreek. Jesus stel ons in staat om aan sy opdrag gehoorsaam te wees. Nou is dit nie meer jy in jou sondige menslike natuur wat die opdrag moet gehoorsaam nie.

Jou verlossing en die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe gee aan jou goddelike mag om teen die sonde te baklei. Daar waar jou sondige natuur nog geneig is om God en jou naaste te haat, plant God sy liefde in jou en deur die hulp van die Heilige Gees is jy nou in staat om jou naaste lief te hê.

Jesus is dan ook die voorbeeld wat ons moet navolg. Dit is wel so dat ons in hierdie bedeling nooit Jesus se perfekte voorbeeld sal kan navolg nie, maar dit is waarna ons streef. Hoe meer jy in jou geloof groei, hoe nader kom jy daaraan. Daar waar jy reeds gehoorsaam is aan die gebod, sien raak dat dit God se liefde is wat in jou werk.

In Joh. 13 v 35 hoor ons:
As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Die nuwe opdrag begin by die binnekring binne in die gesin (gemeente) waar God jou geplaas het. Die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het, is ook die voorbeeld wat ons aan die wêreld moet wys. Ons sal nie buitestaanders oortuig van God se liefde as hulle dit nie in ons verhouding met nekaar raaksien nie. Mense hoor nie wat ons sê nie. Hulle hoor dit wat hulle ons sien doen.

Geliefdes, u het nou vanoggend in die tekens van brood en wyn gesien hoe Christus ons van ons sondes bevry het en ook hoe die Heilige Gees ons geloof versterk om as dissipels van Jesus uit te gaan en vir die wêreld te wys hoe lyk God se liefde.

Wanneer u hier weggaan terug in die wêreld in, gaan leef die nuwe lewe waar die slawekettings van die sonde wat jou so vasgebind het nou gebreek is deur Christus. Wys vir die wêreld daar buite hoe lyk God se liefde.
Amen




04 Maart 2014

God maak die stukkende verhouding tussen ons en Hom weer reg

23 Feb. 2014         1 Kor. 5:17-21 teksvers 1 Kor. 5:21

Ps. 107-1:1 & 10
Ps. 119-2 v 19
Ps. 119-2 v 26 & 27
Ps. 23-1 v 3
Ps. 116-2
Sb 12-3 v 1 & 2

Inleiding / sonde
As daar nou een ding in die lewe wat skadelik vir ’n verhouding is, is dit ontrouheid. Dit is immers die enige grond wat Jesus gee om ’n egskeiding te regverdig. Om jou man of vrou jou verneuk is nie ’n goeie taktiek om ’n sterk verhouding te bou nie. Die Bybel gebruik die beeld van ’n huwelik om die verhouding tussen God en mens uit te beeld. (kerk is bruid en God bruidegom )

Die mens was ontrou in daardie verhouding. Die ontrou was nie agteraf en weggesteek nie. Nee, dit was openlik blatant. Soos ’n bruid wat na die huweliksonthaal saam met ’n ander man weggaan terwyl die bruidegom alleen agterbly. Dis wat die mens met God gedoen het. Deur ons sonde het ons van ons liefdevolle Vader weggedraai. (Vroue ruil vir hulself die rolle van bruid en bruidegom om. Bruidegom het weggeloop en bruid agtergelaat)

Nagmaal / verlossing
Wat sou u gedoen het as u die bruidegom was in so ’n situasie? Sal u haar weer gaan opsoek het nadat sy heel nag saam met ’n ander man ontrou was? Dit is presies wat God gedoen het! Deur sy groot liefde het Hy vir ons ’n manier gevind om die gebroke verhouding weer te herstel.

Ek gebruik verskillende beelde om te verduidelik omdat een enkele beeld nie ’n volledige verduideliking kan verskaf nie. Daarom gebruik ek nou ’n volgende beeld om te verduidelik. Die straf vir die ontrou is die dood. Om jouself van God los te maak is soos ’n takkie wat van ’n plant afgebreek word. Vir ’n kort rukkie bly die blare nog groen, maar nie lank nie dan begin dit verlep. Binne ’n kort tydjie is daardie takkie dood.

Die mens het homself deur sy sonde van God losgemaak en nou sit hy in ’n verskriklike dilemma. Dit is soos om in ’n diep donker put af te spring met gladde wande wat 100 meter diep is. Ongelukkig het jy jouself nog doodgeval ook. Verstaan u hoe onmoontlik dit vir so iemand is om self uit daai put te kom? Net so onmoontlik is dit vir die mens om die gebroke verhouding met God te herstel.

Dit wat die mens nie kan doen nie, doen God. Hy haal ons uit die put uit en Hy maak ons weer lewendig soos ons hoor in 2 Kor. 5:18a
Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen
Die manier waarop Hy dit gedoen het verduidelik Hy in 1 Kor. 5:21 aan ons
Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Christus wat sonder sonde was het ons sonde op Hom geneem en sy onskuld het Hy vir ons gegee. As ons terugkeer na ons eerste beeld van die bruid wat met ’n vreemde man weggeloop het. God se vergifnis werk nie maar net soos die bruidegom wat vir die bruid sê, “toemaar ek vergewe jou.” Jy kan maar weer terugkom. Nee geliefdes, daar vind ’n ruiltransaksie plaas. Dit is soos die bruidegom wat die bruid se ontrou wegneem en op homself plaas sodat dit hy was wat weggeloop het en nie sy nie.

Die bruidegom se onskuld word vir die bruid gegee en die bruid se skuld word vir die bruidegom gegee. Dit wil sê dit is nou asof die bruid nooit weggeloop het nie, maar die bruidegom. Die enigste manier wat die skuld weggeneem kan word is dat die bruidegom doodgemaak word en dit is wat Jesus doen. Hy neem ons skuld op Hom en daarvoor is Hy aan ’n vervloekte kruishout doodgemaak. Christus se geregtigheid is dus nou aan ons gegee omdat Christus ons ongeregtigheid op Hom geneem het. (Geregtigheid = sonder sonde).

Dankbaarheid
Die gevolg van God se liefde is dat die verhouding tussen die mens en God herstel is. Die mens wat van die lewe afgesny was, het nou weer die lewe soos ons hoor in 1 Kor. 5:17
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Hoe kry ek deel daaraan? Deur geloof. Ek moet glo dat Jesus my sonde op Hom geneem het en dat Hy sy geregtigheid in ruil daarvoor aan my gegee het en dat ek nou as gevolg daarvan ’n nuwe mens in Christus is. Vir diegene wat nie glo nie vind die ruiltransaksie nie plaas nie.

Wat beteken dit prakties vir my? Dit beteken dat ek nou weer God se liefde in plaas van sy wraak beleef. Dit beteken dat ek ’n lewende hoop het om ewig saam met God te wees wanneer ek die tentwoning van hierdie lewe agterlaat. Dit beteken dat my lewe weer sin het en dat ek nie maar net uitgelewer is aan toeval nie. Dit beteken dat ek ’n doel in die lewe het om God beter te leer ken en dien. Dit beteken dat ek vreugde en vrede wat in God gewortel is, deel is van my lewe.

Slot
Dis wat die Here op ’n sigbare wyse vir ons deur middel van die Nagmaal wys in die tekens van brood en wyn. Hy wys vir ons dat ons doelbewus en moedswillig ons van die lewende God losgemaak het. Hy wys vir ons dat Hy op grond van sy groot liefde die gebroke verhouding tussen ons en ons Vader herstel het in Jesus Christus en dat ons deur middel van geloof daarin kan deel. Hy wys vir ons dat ons weer lewe, liefde, hoop, betekenis, vreugde, doelgerigtheid en vrede in ons lewens saam met God kan ervaar.

Kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat ons geloof daardeur versterk kan word.

Amen