29 September 2019

Wees diensbaar – die plek van die Diaken in die gemeente


29 Sep. 2019 GKE
Skrifgedeelte: Hand. 6 v 1 – 7 & 1 Tim. 3 v 8 – 13




Hoekom het ons diakens in die gemeente? Wat doen hulle nou eintlik behalwe om met kollekte sakkies rond te loop en by die deur te staan?

Die werk van die diakens is 'n onmisbare deel in die gemeente en as hulle werk nie gedoen word nie ly die gemeente skade. In ons teksgedeelte hoor ons hoekom daar diakens in die kerk moet wees. In Hand. 3 v 7 hoor ons dat nadat die diakens begin werk het in die gemeente dat die woord van God verder versprei het en dat die getal gelowiges gegroei het.

In Hand. 6 v 1 hoor ons dat daar praktiese probleme in die gemeente ontstaan het omdat hulle al hoe meer geword het. Die Griekssprekende weduwees is afgeskeep in die daaglikse versorging.

In die tyd van daardie eerste gemeentes, is weduwees van die kerk afhanklik gewees vir hul versorging en hier het nou 'n probleem ontstaan. Tot op daardie stadium het die apostels die werk van die daaglikse versorging gedoen. Weens die feit dat die gemeente al hoe groter geword het, kon hulle nie meer by alles bykom nie. Om die versorgingstaak na behore te doen sou beteken dat die apostels hulle primêre taak, naamlik die verkondiging van die woord sou moes afskeep.

Om hierdie probleem aan te spreek het die apostels die hele gemeente bymekaar geroep sodat hulle 'n oplossing vir die probleem kon vind. Die apostel het voorgestel dat sewe manne aangestel word om die werk van die versorging oor te neem. Dit sou die apostels losmaak om te fokus op hulle primêre taak, naamlik die gebed en die bediening van die woord.

Hier is 'n paar sake wat na vore kom. Daar is verskillende fokus areas binne die gemeente. Die hoof fokus area is die geestelike versorging van die gemeente naamlik gebede en woordverkondiging. Om dit moontlik te maak is daar egter praktiese sake wat ook aandag verg.

Daarom is daar dan onderskeid tussen ouderlinge en diakens in 'n gemeente. Die ouderlinge is verantwoordelik vir die geestelike versorging van die gemeente. Hier moet ons onthou dat die predikant eintlik ook 'n ouderling is. Die diakens is die praktiese ondersteuningsnetwerk wat dit vir die ouderlinge moontlik maak om die geestelike versorging te kan doen.

Die ander gemeente lede is egter nie passief nie. Hulle het steeds 'n verantwoordelikheid en daarom het die gemeente tesame besluit oor die aanstel van diakens.

Hoe werk dit prakties in die hedendaagse kerk? Gewoonlik word daar deur die kerkraad persone aan die gemeente voorgehou. Die gemeente het ook die verantwoordelikheid om name vir ampsdraers aan die kerkraad deur te gee.

Daar is twee maniere hoe die verkiesing plaasvind. Indien daar meer name is as wat nodig is, word 'n gemeente vergadering gehou en die gemeente stem dan wie verkies word. Ongelukkig is daar nie altyd genoeg name om 'n verkiesing te hou nie en dan word die name in die gemeente afgekondig.

Die persone word dus ter approbasie aan die gemeente voorgehou en hulle name word vir drie Sondae afgekondig. Dit gee aan die gemeente geleentheid om dit onder die kerkraad se aandag te bring indien hulle bewus is van 'n rede hoekom 'n persoon nie in die amp kan dien nie.

In ons teks hoor ons ook wat die eienskappe moet wees van persone wat verkies kan word vir dienswerk. In Hand. 6 v 3 hoor ons hulle moet vol van die Heilige Gees wees en dat hulle wysheid moet hê.

In de eerste plek word genoem: “vol van die Heilige Gees.” Dit wil sê dit moet iemand wees wat 'n gelowige is, wat die evangelie glo. Dit wil sê dit moet iemand wees wat êrens maak met sy geloofslewe.

In Gal. 5 v 5 & 6 hoor ons wat dit beteken om vol van die Heilige Gees te wees:
Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
Dit is dus jou geloof wat jou tot dienswerk aanspoor.

Verder moet die persoon wysheid hê sodat hy/sy verantwoordelik kan wees in die uitvoering van die dienswerk in die Koninkryk van God. Die wysheid wat hier benodig word is wysheid wat die Heilige Gees gee en daarom is dit noodsaaklik dat persone in die uitoefening van hul dienswerk, hulle lewe steeds deur die Gees van God beheers word.

In 1 Tim. 3 v 8 tot 12 gee Paulus vir ons meer detail hieroor. Hier word vir ons beskryf hoe die karakter van beide mans en vroue moet lyk en ek is daarvan oortuig dat vroue ook as diakens in die vroeë kerk gedien het.

Hulle moet van goeie karakter wees, dit wil sê hulle moet eerlik wees en nie gierig wees om hulself deur middel van oneerlike winsbejag te verryk nie. Hulle moet verder ook nie aan drank verslaaf wees nie. Hulle moenie skinder nie en in alles nugter en betroubaar wees, dit wil sê hulle moet wysheid hê.

Hulle moet vashou aan die ware geloof en nie in dwaalleer verval nie. Verder moet hulle ook nie onkuis lewe deur ontrou aan hulle huweliksmaats te wees nie.

Die enigste manier om aan hierdie vereistes te voldoen is om in geloof vas te hou aan die evangelie. Om vas te glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding die dood oorwin het om aan jou 'n nuwe lewe te gee waar jou lewe deur die Heilige Gees beheers word. In 1 Tim. 3 v 13 hoor ons dat jou dienswerk as diaken jou laat groei in die geloof.

In ons teksgedeelte hoor ons hoe die karakter van 'n diaken moet lyk. Daar word egter bitter min gesê wat presies hulle prakties moet doen. Die werk wat hulle moet doen is liefdeswerk soos dit ook in verskeie plekke in die Skrif verduidelik word. Dit is liefdeswerk wat deur elke gelowige gedoen moet word, of jy nou in die amp van ouderling, diaken of gelowige dien.

In die bevestigingsformulier vir diakens word die liefdeswerk van die diaken dan ook soos volg uit die Skrif saamgevat. Christus roep deur middel van sy kerk mense tot besondere diens om gelowiges vir hul dienswerk toe te rus tot opbouing van die liggaam van Christus.

Dit is dus nie ’n geval dat die diakonie dienaars is wat die gemeente bedien terwyl die gemeente agteroor sit nie. Die hele gemeente moet diensbaar wees en die diakonie rus die gelowiges toe, ondersteun hulle en neem leiding daarin.

Verder moet die diakens die wat behoeftig, eensaam, oud of siek is, bemoedig. Hulle moet sorg dra dat niemand as gevolg van bogenoemde of ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.

Die verantwoordelikheid wat die gemeente teenoor die diakens het is om hulle as dienaars van God te aanvaar. Dat u hulle met u liefdesgawes in staat sal stel om hul liefdeswerk te kan doen om mense te help wat behoefte het.

In Hand. 6 v 6 hoor ons dat die gemeente vir die diakens wat gekies is, gebid het. Moenie die diakens vergeet in u gebede nie.

Geliefdes ontvang nou die broeder en susters wat nou bevestig gaan word as dienaars van God in die gemeente.

Bevestig diakens – bevestigingsformulier p. 149

Amen

22 September 2019

By die HERE skuil ek


Son 22 Sep. 2019 GKE

Skriflesing Ps. 11
Teksverse Ps. 11:1a & 7a

Ons almal kom soms in 'n situasie waar dit vir jou voel of jou omstandighede jou gaan oorweldig. Dit voel of jy in 'n storm vasgevang is wat jou gaan versmoor.

Die redes verskil vir elkeen van ons. Vir party is dit jou gesondheid, siektes soos kanker, hartprobleme en al die ander siektes wat dreig om jou lewensvreugde te steel. Vir ander is dit weer finansiële probleme, moeilike werksomstandighede. Die verlies van 'n geliefde, veral as dit heeltemal onverwags is.

Die huidige politieke situasie in die land waar dit lyk of ons vryhede al hoe meer ingeperk is en die gebrek aan werksgeleenthede en armoede wat mense tot moedeloosheid dwing.

Die vraag is wat maak jy wanneer die lewe dreig om jou te oorweldig? Watse ankers het jy om aan vas te hou wanneer jy midde in die storm is?

Dawid het ook baie lewenskrisisse beleef. Dink maar aan die keer toe hy vir sy lewe moes vlug omdat Saul hom wou doodmaak. Of die keer toe sy seun Absolom die troon met geweld by hom moes afvat.
Hy het Psalm 11 gedig na aanleiding van een van sy lewenskrisisse. Presies watter een word nie aan ons bekend gemaak nie. Wat wel seker is, is dat dit 'n situasie was wat hy nie alleen kon hanteer nie.

In verse 1 tot 3 hoor ons dat sy raadgewers nie eintlik van hulp was met hul raad nie. Dawid luister egter nie na hulle nie want in Ps. 11:1a hoor ons wat sy antwoord is op die raad wat hy ontvang:
By die Here skuil ek
Hy vind sy ankers by die Here in tye van nood.

In die Hebreeuse grammatika word die werkwoord gewoonlik eerste geplaas. Wanneer dit nie gedoen word nie, is dit om 'n saak te beklemtoon soos dit ook in Psalm 11 die geval is. In ons teksvers is die werkwoord skuil nie eerste geplaas nie
Die sin begin met “by die Here” en dan volg die werkwoord, skuil.
By die Here skuil ek.

Dit is om te beklemtoon by wie Dawid skuil in tye van nood. Hy skuil by die Here.



In die woordjie skuil lê die gedagte van eie onvermoë en dit beklemtoon die onsekerheid en hulpeloosheid van selfs die sterkste van mans. Die beklemtoning dat hy by die Here skuil bevestig sy vertroue in die Here se alvermoë. Om by die Here te skuil, beteken om op Hom alleen te vertrou vir verlossing en beskerming.

Geliefdes, dit is maklik om te sê: “Skuil by die Here.” Die vraag is egter: “Hoekom kan ons by die Here skuil? In Ps. 11 v 4 tot 7 sê Dawid waarom hy eerder by die Here skuil as om sy raadgewers se raad te volg. In Ps. 11 v 1 b gee sy raadgewers vir hom die raad:
“Vlug na die berge toe soos ’n voël!

Met ander woorde die bose het die oorhand gekry. Hulle is nou in beheer en die enigste raad is om te vlug. Geliefdes, hoe dikwels is dit nie ons reaksie wanneer die lewe moeilik raak nie? Ek wil net van alles wegkom. Ek sien nie meer kans hiervoor nie.

In Ps. 11 v 4 sê Dawid vir sy raadgewers hoekom hy nie gaan vlug nie:
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.
Met ander woorde die goddeloses is nie in beheer nie. Die Here IS in beheer. Sy oë is oop, hy sien wat gebeur. Die goddeloses gaan nie met hul boosheid wegkom nie.

Wanneer ons in 'n krisis is en die ou duiwel probeer jou oortuig dat God nie in beheer is nie, skep hy werklik 'n hopelose situasie. Die lewe is voorwaar donker as daar nie meer hoop is nie. Dit is inderwaarheid om soos op 'n vliegtuig te wees sonder 'n loods wat besig is om die vliegtuig te vlieg.

Wat die Here hier vir ons sê is: “ja die vliegtuig is besig om deur 'n storm te vlieg en die vliegtuig word deur die stormwind rond geruk, maar moenie bekommerd wees nie, want Ek is in beheer.” Die Here is aan stuur van sake en Hy SAL die vliegtuig veilig deur die storm bring.

In Ps. 11 v 2 motiveer Dawid se raadgewers waarom dit beter is om na die berge toe te vlug:
Kyk, die goddeloses span hulle boë,
en hulle lê aan met die pyl op die snaar;
hulle staan reg om uit die donker
die opregtes van hart te tref.
Met ander woorde die reg en orde het in duie gestort. Reg en geregtigheid vind nie meer plaas nie. Die goddeloses maak net wat hulle wil.

Dan antwoord Dawid in Ps. 11 v 5 & 6 dat dit nie so is nie:
Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose.
Wie geweld liefhet, haat Hy.
Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,
’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink
Die goddeloses sal nie met hulle boosheid wegkom nie. Hulle wandade sal nie ongestraf bly nie. Hulle sal nie God se oordeel vryspring nie.

Geliefdes, voel dit nie vir u ook soms asof daar geen reg en geregtigheid is nie? Voel dit nie soms so dat dit goedgaan met die goddeloses terwyl die regverdiges moet swaarkry nie?

Moenie jouself aan moedeloosheid oorgee nie. Die Here is in beheer. Ons is nie op 'n vliegtuig sonder 'n loods nie. Moenie soos Petrus teen die golwe en die wind vaskyk nie, maar sien vir Jesus raak wat veilig daar tussen die golwe is terwyl Hy sy hand na jou toe uitsteek.

In Ps. 11 v 3 motiveer Dawid se raadgewers nog verder waarom dit beter is om na die berge toe te vlug:
As die fondamente ondermyn word,
wat kan die regverdige daaraan doen?
Met ander woorde daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Hoor u die hopeloosheid en moedeloosheid wat hier na vore kom?

Die lewe is voorwaar donker wanneer daar nie meer hoop is nie. Voel dit nie soms vir u ook of daar geen hoop meer is nie? Dat die lewe net nie meer die moeite werd is nie?

Luister na Dawid se antwoord in Ps. 11 v 7 op hierdie hopelose moedeloosheid van sy raadgewers:
Die Here is regverdig.
Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel,
en Hy sal by hulle wees.
Met ander woorde op grond van die regverdigheid van die Here sal Hy die wat regverdig is verlos.

Nou mag u dalk nog steeds moedeloos voel, want wie van ons kan daarop roem dat ons geregtig is? Dis hier duidelik dat die Here se guns en liefde net vir die regverdiges bedoel is. Hoe nou want die Here sê ook vir ons in Ps. 14 v 3 en Ps. 53 v 4:
Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard,
daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie.
En in Rom. 3 v 10 & 12 word dit weer bevestig.

Geliefdes, dit gaan nie oor ons geregtighede nie, maar oor Christus se geregtighede in ons. Die Vader sien die werke (geregtigheid) van sy Seun in ons en Hy het die werke van sy Seun lief. Ja, Christus en sy werke gee ons sekerheid in die krisis: dat die HERE by ons is en ons lief het. Sy geregtighede word ons toegereken; sy geregtighede bedek al ons ongeregtighede.

As jy opreg glo dat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy die dood oorwin het en dat dit die waarborg is dat Hy jou ongeregtighede op Hom geneem het en dat Hy sy geregtigheid vir jou gegee het, kan jy vir seker weet dat God jou lief het en dat Hy saam met jou is. Hy sal jou nie alleen los in die krisis tye in jou lewe nie. Hy is daar. Hy gee om.

Geliefdes, wanneer die lewensstorms om jou woed, skuil by die Here. Hou vas aan sy beloftes dat Hy jou sal red. Vertrou dat Hy steeds in beheer is. Vertroue in sy alvermoë. Hy het immers die hemel en die aarde gemaak. Vertrou dat Hy jou ook deur jou lewenskrisis kan en sal dra. Vertrou dat Hy jou op grond van Jesus se soenverdienste aan die kruis jou liefhet en dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.
Amen

15 September 2019

03. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is 'n tempel wat deur lewende boustene gebou is


15 Sep. 2019
Skriflesing: 1 Pet. 2 v 1 - 10
Teksvers: 1 Pet. 2 v 5



Ons staan vandag stil by die beeld waar die kerk met die tempel vergelyk word. In die Ou Testament was die tempel die plek waar die volk God ontmoet het. Die priesters het namens die volk offers gebring by die altaar. Die offers en tempel het dan ook profeties heengewys na Christus se offer aan die kruis en sy kerk.

In die Nuwe Testament word die beeld van die tempel dan ook gebruik om vir ons te verduidelik wat die kerk is en hoe dit moet funksioneer. Ons fokus vandag op 1 Pet. 2 v 5 om te hoor wat die Heilige Gees vir ons ten opsigte van kerkwees wil sê.

In 1 Pet. 2 v 5 hoor ons:
Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.
Hier word die beeld van boustene wat gesamentlik 'n gebou vorm gebruik om te verduidelik hoe die lidmate gesamentlik 'n eenheid moet wees. Elke steen is noodsaaklik vir die gebou om volledig te wees. As daar te veel van die stene weggeneem word val die gebou inmekaar.

Boustene vorm net 'n gebou/tempel wanneer hulle as 'n eenheid saam gebou word. Boustene wat nie deel die groter geheel vorm nie, is nie 'n tempel nie. Christene moet deel van die plaaslike kerk wees en kan nie maar net op sy eie as Christin funksioneer nie. Die argument dat jy by die huis bid en Bybellees en daarom nie nodig het om deel van die kerk te wees nie, is onbybels en strydig met Christus se bedoeling vir sy kerk.

Die boustene wat gebruik word om mee te bou is lewende boustene. Dit wil sê elkeen van ons wat lidmaat van die kerk is, is 'n bousteen wat Jesus gebruik om sy kerk te bou. Ons is die boustene wat vorm en doel aan die Gereformeerde Kerk Empangeni gee.

Anders as die lewelose boustene wat gebruik is om die tempel in die Ou Testament te bou, is die boustene wat gebruik word om die Nuwe Testamentiese kerk te bou, lewende boustene. Met ander woorde elke bousteen moet aktief meewerk om kerk van die Here te wees. Jy kan nie maar net passief wees nie, jy moet aktief deelneem.

Die lewende boustene word gebruik om 'n geestelike huis te bou. Die Ou Testamentiese kerk was die plek waar die volk God ontmoet het. Net so is die geestelike huis, dit wil sê die kerk die plek waar God ontmoet word en ook 'n woonplek vir die Heilige Gees.

In 1 Kor. 3:16 hoor ons dat ons die tempel van God is en dat die Heilige Gees in ons woon. Dit verwys nie net na die gelowige as individu nie. Die gebruik van die beeld waar daar na gelowiges as tempel dit wil sê as kerk verwys word, dui juis aan dat die woonplek van die Heilige Gees veral is in die eenheid van gelowiges wat as kerk saamgevoeg is.

Nou is dit nie meer 'n gebou of 'n fisiese plek nie. In die gesamentlike aanbidding ontmoet ons God. Daarom is erediens bywoning so belangrik, want in die gesamentlike aanbidding ontmoet jy God.

Mense het dikwels 'n verkeerde idee oor hoekom eredienste bygewoon moet word. Die primêre doel van erediens bywoning gaan nie daaroor oor wat ek daaruit kan kry nie. Dit gaan daaroor dat ek God in die erediens en gesamentlike aanbidding gaan ontmoet.

Jou erediensbywoning is vir jou 'n belangrike barometer om te bepaal hoe belangrik dit vir jou is om God te ontmoet. As jy die geleentheid het om iemand wat vir jou belangrik behoort te wees te ontmoet, maar jy maak nie van die geleenthede gebruik nie, sê dit tog vir jou hoe belangrik daardie persoon werklik vir jou is.

Wie bepaal dat jy een van die lewende boustene gaan wees waarmee die geestelike huis gebou word? In 1 Pet. 2 v 9 hoor ons:
Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom
Wanneer 'n bouer 'n gebou bou dan kies hy die stene uit waarmee hy gaan bou. In Ef. 1 v 4 hoor ons dat God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit het wie boustene gaan wees.

Wat maak van jou 'n lewende bousteen? In 1 Pet. 2 v 4 hoor ons:
Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.
Jesus is die lewende steen wat lewe gee. Hy het die dood oorwin en daarmee lewe verwerf en Hy gee dit aan elkeen wat in geloof na Hom toe kom.

In 1 Pet. 2 v 6 & 7 is dit duidelik dat geloof in die verlossingsdaad van Jesus Christus noodsaaklik is om verlos te word, dit wil sê om een van die lewende boustene te wees. Alhoewel die mense Hom verwerp het, het God vir Jesus uitgekies om die hoekklip, die fondament te wees waar die geestelike huis gebou word.

Vir hulle wat glo is Jesus die fondament waarop jy as lewende bousteen neergelê word. Indien jy egter nie glo nie, is Jesus vir jou 'n klip waarteen jy struikel en jou stamp. Die enigste weg om deel van die geestelike huis van Jesus Christus te wees is deur geloof in die evangelie van Jesus Christus.

In ons teksvers hoor ons hoekom ons as lewende boustene gebruik word om 'n geestelike huis te wees, dit wil sê hoekom is ons deel van die kerk van die Here. Dit is sodat ons 'n heilige priesterdom kan wees wat geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God aanneemlik is.

Wat is 'n heilige priesterdom? In hierdie beeld van die tempel is die gelowiges ook 'n heilige priesterdom. In die Ou Testamentiese tempel het die priesters diens gedoen. Soos ons alreeds gehoor het, is die geestelike tempel 'n plek waar almal aktief betrokke is en hier hoor ons dat ons as gelowiges as priesters betrokke is.

Hier is nou weer 'n verskil tussen die Ou Testamentiese tempel en die geestelike huis van die Nuwe Testament. By die Ou Testamentiese tempel was daar net 'n sekere groep wat diens gedoen het as priesters. In die Nuwe Testamentiese geestelike huis doen al die gelowiges diens as priesters.

Hier word 'n verdere wanpersepsie wat by sommige mense bestaan reggestel. Dit is nie net die diakens, ouderlinge en predikant wat diens doen terwyl die res van die lidmate toeskouers is nie. Nee, elke lidmaat moet diens doen.

Wat is die diens dan wat ons in die geestelike huis moet verrig? Ons moet geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God aanneemlik is.

Hoe lyk die geestelike offers wat ons moet bring? Jou hele lewe is 'n geestelike offer aan God, dit wil sê alles wat jy doen in jou dag tot dag lewe moet tot eer van God strek.

Dit is verder jou dank en lofprysing aan God. Dit wat jy by die huis doen in terme van jou Bybellees en gebede, dit wil sê jou persoonlike geloofslewe, maar dit sluit ook in ons gesamentlike aanbidding en lofprysing hier in die erediens. Wanneer jy nalaat om eredienste by te woon laat jy dus na om jou geestelike offer aan God te bring.

Dit is ook die liefdesdade deur goed te doen aan jou naaste. Veral die liefdesdade teenoor jou broers en susters in die geestelike huis waarvan julle lewende boustene is. Daar waar jy mense help in nood. Hierdie hulp is nie net finansiële ondersteuning nie, dit sluit ook emosionele ondersteuning in. Om daar te wees vir iemand wat swaar trek. 'n Woord van bemoediging en vertroosting. Voorbidding vir mense wat deur beproewing gaan.

Hierdie geestelike offers is egter net vir God aanneemlik wanneer dit deur Jesus Christus na Hom toe gebring word. Dit beteken dat jy in jou dag tot dag, uur na uur lewe nader aan Jesus moet beweeg.

Jy moet sy liefde ervaar deur die geestelike melk van sy woord te drink. Jy moet sy beloftes, sy opdragte, sy waarskuwings in sy Woord leer ken en daaraan vashou totdat jy so gevul is daarmee dat jy dit lewe.

In 1 Pet. 2 v9 hoor ons wat die rede vir geestelike offers is:
Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
Die kerk moet met woord en daad dit wil sê met die geestelike offers wat ons bring, die evangelie uitdra om hulle wat nog in die duisternis is, na die lig van Christus se verlossing te begelei.

Geliefdes ons is lewende boustene wat Jesus gebruik om sy geestelike huis, dit wil sê sy kerk te bou om 'n heilige priesterdom te wees wat geestelike offers van dank, lofprysing, aanbidding en liefdesdade deur Jesus bring om God te eer.

Geliefdes, Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.

Amen



08 September 2019

02. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is 'n huisgesin

8 Sep. 2019
Skriflesing: Luk. 15 v 11 - 32

Teksverse: Luk. 15 v 17 & 18 



Ons is besig om weer te fokus op wat dit beteken om kerk van die Here te wees deur te kyk hoe lyk die kerk na aanleiding van die verskillende beelde oor kerkwees wat ons in die Skrif vind. Deur middel van die beelde verduidelik die Heilige Gees vir ons hoe lyk die kerk van die Here en hoe dit moet funksioneer.

Ons het verlede week begin met die beeld, “Die kerk is die bruid van Christus.” Hierdie week staan ons stil by die beeld wat die kerk van die Here voorhou as 'n huisgesin van God.

Die beeld waar gelowiges as huisgesin voorgehou word loop soos 'n goue draad deur Bybel. Vandag kyk ons na die beeld van wat kerkwees is soos 'n huisgesin soos dit in die gelykenis van die verlore seun aan ons voorgehou word. Verlede week het ons gehoor dat ons aan Jesus onderdanig moet wees. In hierdie gelykenis verduidelik dat Heilige Gees aan ons wat dit werklik beteken om aan Jesus onderdanig te wees.

Daar is drie karakters in hierdie gelykenis. Die vader en sy twee seuns. As jy hierdie gelykenis net oppervlakkig lees kom jy maklik tot die verkeerde slotsom dat dit gaan oor die ‘slegte’ seun en die ‘goeie’ seun. Die gelykenis vertel egter 'n ander storie, want daar is twee verlore seuns, nie net een nie.

Ons sien maklik die rebelse sondige optrede van die jonger seun raak. In rebelse opstand teen sy vader se gesag, eis hy voortydig sy erfdeel en dan vertrek hy om dit op in 'n uitspattige immorele lewe uit te leef terwyl sy ouer broer gehoorsaam by die huis bly. Wanneer die jonger seun deur sy omstandighede gedwing word om tot inkeer te kom en terug te keer huis toe sien ons in sy vader se optrede God se grenslose liefde en genade vir verlore sondaars raak.

In die huisgesin van die kerk is daar baie jonger seuns wat wegraak omdat hulle deur die wêreld daarbuite ingesluk raak. Hulle is op die uiteinde van die dag net name op ons lidmaatregister.

Die fokus van hierdie gelykenis is egter nie net op die jonger broer nie, want die gelykenis stop nie hier nie. Die optrede van die ouer seun leer ons wat dit beteken om werklik kerk van die Here te wees.

Anders as sy jonger broer is hy die gehoorsame een. Hy is dus die ‘goeie’ seun. As ons net op 'n moralistiese wyse na hierdie gelykenis kyk, sal ons sê: “Moenie soos die jonger seun wees nie, volg die voorbeeld van die ouer broer se gehoorsaamheid.”

Die probleem hiermee is egter dat altwee seuns van die vader vervreem is. Ten spyte van sy gehoorsaamheid en getrouheid om agter te bly om te sorg dat alles aangaan is die ouer broer net so verlore soos sy rebelse jonger broer. Die vader moet altwee innooi om saam met hom fees te vier.

Die jonger seun gaan in, maar die ouer broer weier om in te gaan na die fees wat sy vader gereël het. Hy verneder as te ware sy vader. Sy vader moet na hom toe uitkom om by hom te pleit. Dit help egter niks nie. Die disrespekvolle manier wat die oudste seun sy vader aanspreek en sy argument bring sy ware gesindheid na vore.

Hy hou sy gehoorsaamheid as rede voor en insinueer daarmee dat sy vader hom iets skuld vir sy goeie gedrag. Hy is kwaad omdat sy vader dit wat na sy mening hom toekom, op sy jonger broer uitmors.

Altwee die seuns streef op die uiteinde na dieselfde doelwit na. Hulle stel nie regtig in die pa belang nie, hulle wil net sy goed hê. Hulle metodes verskil, maar hulle streef dieselfde uitkoms na. Die jonger broer rebelleer en eis sy vader goed, terwyl die ouer broer deur sy gehoorsaamheid en goeie gedrag die vader wil dwing om sy goed vir hom te gee. Nie een van die twee broers het die vader vir homself liefgehad nie. Hulle het maar net hul vader gebruik vir dit wat hulle uit hom kon kry.

In 'n sekere mate is die ouer broer se optrede gevaarliker as die jonger broer sin. Die jonger broer kom op 'n stadium tot inkeer en kom terug na die vader toe en vier saam met hom fees. Die ouer broer gaan egter nie in na die fees toe nie. As jy meen dat daar nie fout is by jou nie, sal jy nie tot inkeer kom nie. As jy besef dat jy siek is, sal jy dokter toe gaan, maar as jy nie wil erken dat jy siek is nie sal jy nie die dokter besoek nie en die gevolge daarvan kan lewensgevaarlik wees.

In hierdie gelykenis word ons gekonfronteer met die ware karakter van sonde. Sonde is nie net 'n lys reëls wat jy oortree nie. Die ouer broer het nie die reëls oortree nie, maar hy was ook verlore. Die probleem is dat jy die regte ding kan doen, maar dan is dit nog steeds verkeerd. Die vraag is: “wat is jou motivering?” Is jy gehoorsaam aan God omdat jy vir Hom lief is, of is jy gehoorsaam bloot net vir die seëninge wat jy van God wil ontvang. Ek is mos 'n goeie Christin, daarom moet God sorg dat dit goed gaan met my.

Dis maklik om die jonger broer gesindheid by my raak te sien. Die vraag is egter: “sien ek ook die ouer broer gesindheid by myself raak?” 'n Toets is om jouself af te vra: “hoe beleef jy jou lewe in die huisgesin van God?” Is dit gevul met vreugde of is dit net 'n moeitevolle pligsbesef soos dit was in die geval met die ouer broer in die gelykenis wat met bitterheid vir sy pa sê: “Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa?” Die probleem is dat hy nie sy vader se liefde raaksien en beleef nie.

In almal van ons is daar 'n stukkie van die jonger broer, maar ook die ouer broer teenwoordig. Die vraag is: “hoe word ek daarvan bevry?”

Eerstens moet jy dus besef dat jy verlore is. Die jonger broer het tot inkeer gekom en sy sondes teenoor sy vader gaan bely. Dit moet jy doen of jy nou 'n jonger broer of 'n ouer broer is. Jy moet jouself voor God verootmoedig want voordat jy nie besef hoe verlore jy sonder God is nie, sal jy ook nie die volle diepte van sy liefde en genade verstaan nie.

Dit is egter nie al nie. Hierdie gelykenis word voorafgegaan deur die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning. Ons kan hulle inderdaad die drie gelykenisse van verlorenheid noem. In al drie word iets verloor en ook teruggevind. Daar is egter ook 'n verskil tussen die eerste twee en die laaste een. In die eerste twee het iemand uitgegaan en gesoek totdat dit wat verlore is weer teruggevind is. Met die verlore seun het dit nie gebeur nie.

Dit is wat die ouer broer moes doen, maar hy het nie. In Jesus vind ons egter die ouer broer wat uitgaan en soek. Hy is die ware ouer broer.

Daar was egter 'n koste aan verbonde om die jonger broer terug te neem wat die ouer broer nie bereid was om te betaal nie. Toe die jongste sy erfdeel geëis het, is dit wat oorgebly die ouer broer sin. Om die jonger broer terug te neem in die huishouding het, beteken dus dat die ouer broer sy erfdeel wat oorgebly het met die jonger broer sou moes deel. Dis deel van die rede hoekom die ouer broer so ongelukkig was dat die vader die jongste terug geneem het.

Om verlore sondaars terug te bring in God se huishouding vra 'n duurder prys as wat die ouer broer in die gelykenis moes betaal. Jesus moes met sy lewe boet en uit liefde het Hy dit gedoen.

Dis wat ons moet verstaan. Dit is net God se genade en liefde wat ons verlos van ons verlorenheid. Die jongste seun het sy vader se vergifnis aanvaar en ingegaan na die feesmaal toe. Die oudste seun het gedink dat hy dit kon verdien, maar dis nie sy dade wat hom gered het nie. Dis die vader se liefde.

Hy moes dit net aanvaar, maar hy wou nie. Indien jy nie God se genade en liefde aanvaar nie deel jy nie in die feesmaal nie. Die oudste seun het nie in die feesmaal gedeel nie omdat hy hardnekkig geweier het. Dit was nie die vader wat hom uitgehou het nie. Dit was sy eie hardkoppigheid. Geliefdes moenie dat jou hardkoppigheid en eie geregtigheid in die pad staan om saam met God fees te vier nie.

God wil hê dat ons, sy kinders saam met Hom kom feesvier. Dis wat ons nou reeds moet doen in ons kerkwees as huisgesin van God en waar ons, ons moet voorberei vir die groot feesmaal, die bruilof van die Lam wanneer Jesus weer kom.

Geliefdes beleef die vreugde daarvan om deel van God se huisgesin te wees in die gemeente waar Hy ons in geplaas het. Doen dit vir wie God is en nie met bybedoelings vir dit wat ons kan kry nie. Doen dit met die diepe besef wat dit ons ouer broer Jesus gekos het om ons weer met God te versoen. Dink daaraan dat Jesus sy lewe vir jou gegee het en jou met sy bloed gekoop het sodat jy saam met jou broers en susters kan deel in God se feesmaal. In ons Kerkwees is 'n huisgesin wat moet omgee vir mekaar. Leef daarom ook soos God se huisgesin in liefde saam.
Amen




01 September 2019

01. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is die bruid van Christus


1 Sep. 2019
Skriflesing: Ef. 5 v 21 tot 33
Teksverse: Ef. 5 v 31 & 32



Ons leef in 'n wêreld waar die kerk so maklik opsy geskuif word. Die kerk is vir die moderne mens net nie meer belangrik nie. Ons samelewing is so gefokus op ek en wat is vir my belangrik en al die ander goed is sekondêr. Ons is so besig dat daar nie eintlik tyd is vir die kerk nie. Daar waar ek betrokke is by die kerk, gaan dit eintlik maar oor watse voordele hou dit vir my in. Dat kerklidmate daar moet wees om te dien vorm nie eintlik deel van die moderne denkpatrone nie. Ons hanteer ons kerklidmaatskap asof ons aan 'n klub behoort. Ek besluit of en wanneer ek betrokke wil wees.

Hierdie denkwyse het 'n groot negatiewe invloed op die gesondheid van die kerk. Ons sien dit in ons kerkverband met gemeentes wat al hoe kleiner word en al hoe meer gemeentes wat deure sluit. Ons sien dit ook in ons eie gemeente. Ons sien dit in ons erediensbywoning. Ons sien dit in ons dankbaarheidslewe. Ons sien dit in ons meelewing.

Waar lê die probleem? Een van die oorsake is dat ons nie mooi verstaan wat dit beteken om kerk van die Here te wees nie. Derhalwe is dit nodig dat ons net weer terug gaan na die Bybel toe sodat die Heilige Gees ons kan leer wat beteken dit om kerk te wees.

God praat met ons deur middel van sy Lewende Woord op verskillende maniere. Een van die maniere is om van beeldspraak gebruik te maak. Dit is om iets konkreets in die alledaagse lewe as voorbeeld te gebruik om 'n abstrakte begrip wat moeilik is om te verduidelik, makliker maak om te verstaan. Byvoorbeeld’ hoe verduidelik ek vir jou intense pyn? Ek gebruik 'n voorbeeld. Almal van ons het al jouself op een of ander manier gebrand. Die seer wat jy het wanneer jy aan iets baie warm gevat het of deur 'n vlam gebrand is, is intense pyn.

So help die Heilige Gees ons deur middel van beeldspraak om die misterie van God te verstaan.

Die Bybel maak dit duidelik dat 'n Christin lid van 'n kerk moet wees. Tog is daar nie 'n spesifieke teksvers waar ons die opdrag kry, “jy moet by 'n kerk aansluit nie.” Die Bybel beveel ons nie net om by 'n kerk aan te sluit nie - dit doen iets beter. Die Heilige Gees verduidelik hoe lyk die verhouding tussen die kerk en sy lidmate met verskillende beelde. Hiermee daag die Heilige Gees ons uit om weer te kyk na ons sondige geneigdheid tot individualisme, selfvoorsiening, trots.

As die Bybel bloot sou sê: 'Sluit aan by 'n kerk', kan ons so maklik kerklidmaatskap benader asof dit net nog taak op 'n taaklys is wat ons moet afhandel. Maar deur die kerk en sy lidmate, deur die verskillende beelde soos byvoorbeeld 'n tempel, 'n kudde en 'n gesin uit te beeld, dwing die Bybel ons om nie net by 'n kerk aan te sluit nie, maar ook om te besin oor hoe goed my lewe by die Bybelse beeld pas.

Hierdie beelde dwing ons om te vra: 'Lyk my lidmaatskap van die kerk so?' Is ek regtig 'n familielid in my kerk of is ek eerder meer soos die buurman langsaan? Is ek regtig 'n hand of 'n voet in die lyf, of is ek maar net soos 'n skoen wat nie altyd nodig is nie? Om lid van die kerk te wees is meer as om bloot net my naam op die lidmaatregister te hê.

Ons gaan in die volgende paar weke stilstaan by 'n paar van die beelde sodat ons beter kan verstaan wat dit beteken om lid van die kerk te wees. Vandag staan ons stil by die beeld van die kerk as bruid van Christus.

God het die mens as 'n verhoudingswese geskape. In die eerste plek staan die mens in 'n verhouding teenoor God en dan staan die mens ook in onderlinge verhoudings teenoor ander mense. Jou verhoeding met ander mense wys hoe lyk jou verhoeding met God.

Die huwelik is die mees intiemste verhouding wat daar tussen mense kan wees en hier in ons teks gebruik God die huwelik om aan ons te verduidelik hoe die verhouding tussen Christus en sy kerk moet wees.

In ons teks beskryf Paulus dit uit twee teenoorgestelde hoekpunte. Eerstens gebruik hy die verhouding tussen Christus en sy kerk as voorbeeld vir die verhouding tussen man en vrou in die huwelik en dan ruil hy die rolle om. Dan stel hy dat God die verhouding tussen man en vrou gebruik om die geheimenis van die intieme eenheid tussen Christus en sy kerk sigbaar te maak.

Ef. 5 v 21 begin met die opdrag: “wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Die beginsel wat hier vir ons voorgehou word, is dat Christus se verhouding met ons en ons verhouding met Hom die bepalende faktor in ons verhoudings teenoor mekaar is. Ons word dus opgeroep om ons verhouding met Christus as model te gebruik vir ons onderlinge verhoudings.

In Ef. 5 v 22 – 24 gee Paulus die opdrag aan vroue en in Ef. 5 v 25 – 30 die opdrag aan mans. Ef. 5 v 22 – 24 word dikwels buite konteks gebruik om die oorheersing van die vrou te regverdig. Die opdrag kan egter net reg verstaan word wanneer dit saam met die opdrag aan die man gelees word.

In Ef. 5 v 22 hoor ons:
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
En in Ef. 5:25 hoor ons:
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.

Wanneer hierdie verse los van mekaar gelees word kan die slotsom gemaak word dat vrouens net moet onderwerp en mans moet net liefhê. Die verse hou met mekaar verband en moet saamgelees word met
Ef. 5 v 21 dat albei partye aan mekaar onderdanig moet wees. In 1 Joh. 4 v 7 kry ons ook die opdrag dat ons mekaar moet liefhê. Dit is dus duidelik dat gelowiges aan mekaar moet onderdanig wees en mekaar moet liefhê.

Binne die huwelik is daar egter 'n besondere fokus. Binne die huwelik moet die vrou uitmunt in onderdanigheid en die man in selfopofferende liefde vir sy vrou.

Die verhouding tussen Christus en sy kerk dien as voorbeeld hoe die vrou se onderdanigheid moet lyk en ook hoe die man se liefde moet lyk. Soos die kerk uit eerbied Christus se gesag respekteer en hulself daaraan onderwerp moet die vrou binne die huwelik haar man respekteer en haar aan sy gesag as hoof van die huisgesin onderwerp.

Dit beteken egter nie dat mans in tirannie oor hulle vroue moet heers nie. Christus heers nie soos 'n tiran oor sy kerk nie. Sy gesag kom in liefde en opoffering na vore. Hy het alles vir sy bruid, die kerk opgeoffer. Die grootste prys wat betaal kan word, sy lewe, het hy betaal. Die beginsel wat hier na vore kom, is dat die man alles moet gee om sy vrou se belang te bevorder. Dit wat hy doen en besluit moet tot haar voordeel strek en nie tot haar nadeel nie.

Christus het uit liefde alles vir die kerk opgeoffer om haar van sonde te reinig sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
Christus is steeds besig om die kerk te reinig deur die werk van die Heilige Gees.

In Ef. 5 v 31 – 33 word die rolle nou omgeruil. Hier gebruik God nou die verhouding tussen man en vrou om in die geheimenis van die intieme eenheid tussen man en vrou te wys hoe die intieme eenheid tussen Christus en sy kerk sigbaar moet word.

Geliefdes hierdie beeld van die kerk bruid van Christus, bring ons voor die vraag te staan. “Is ons as kerk van Christus nog onderdanig aan Hom? Aanvaar ons sy gesag oor ons? Sien ons nog raak wat Christus in liefde vir ons opgeoffer het?”

Ons gaan in die volgende paar weke stilstaan by die verskillende beelde wat die Skrif vir ons voorhou om te verduidelik hoe lyk die kerk van ons Here en hoe moet dit funksioneer. Is u bereid om uself in onderdanigheid aan Christus te onderwerp om kerk van die Here te wees?
Amen.