1 Sep. 2019
Skriflesing: Ef. 5 v 21 tot 33
Teksverse: Ef. 5
v 31 & 32
Ons leef in 'n wêreld waar die kerk so maklik opsy geskuif word. Die kerk
is vir die moderne mens net nie meer belangrik nie. Ons samelewing is so
gefokus op ek en wat is vir my belangrik en al die ander goed is sekondêr. Ons
is so besig dat daar nie eintlik tyd is vir die kerk nie. Daar waar ek betrokke
is by die kerk, gaan dit eintlik maar oor watse voordele hou dit vir my in. Dat
kerklidmate daar moet wees om te dien vorm nie eintlik deel van die moderne
denkpatrone nie. Ons hanteer ons kerklidmaatskap asof ons aan 'n klub behoort.
Ek besluit of en wanneer ek betrokke wil wees.
Hierdie denkwyse het 'n groot negatiewe invloed op die gesondheid van die
kerk. Ons sien dit in ons kerkverband met gemeentes wat al hoe kleiner word en
al hoe meer gemeentes wat deure sluit. Ons sien dit ook in ons eie gemeente. Ons
sien dit in ons erediensbywoning. Ons sien dit in ons dankbaarheidslewe. Ons
sien dit in ons meelewing.
Waar lê die probleem? Een van die oorsake is dat ons nie mooi verstaan wat
dit beteken om kerk van die Here te wees nie. Derhalwe is dit nodig dat ons net
weer terug gaan na die Bybel toe sodat die Heilige Gees ons kan leer wat
beteken dit om kerk te wees.
God praat met ons deur middel van sy Lewende Woord op verskillende maniere.
Een van die maniere is om van beeldspraak gebruik te maak. Dit is om iets
konkreets in die alledaagse lewe as voorbeeld te gebruik om 'n abstrakte begrip
wat moeilik is om te verduidelik, makliker maak om te verstaan. Byvoorbeeld’
hoe verduidelik ek vir jou intense pyn? Ek gebruik 'n voorbeeld. Almal van ons
het al jouself op een of ander manier gebrand. Die seer wat jy het wanneer jy
aan iets baie warm gevat het of deur 'n vlam gebrand is, is intense pyn.
So help die Heilige Gees ons deur middel van beeldspraak om die misterie
van God te verstaan.
Die Bybel maak dit duidelik dat 'n Christin lid van 'n kerk moet wees. Tog
is daar nie 'n spesifieke teksvers waar ons die opdrag kry, “jy moet by 'n kerk
aansluit nie.” Die Bybel beveel ons nie net om by 'n kerk aan te sluit nie -
dit doen iets beter. Die Heilige Gees verduidelik hoe lyk die verhouding tussen
die kerk en sy lidmate met verskillende beelde. Hiermee daag die Heilige Gees ons
uit om weer te kyk na ons sondige geneigdheid tot individualisme,
selfvoorsiening, trots.
As die Bybel bloot sou sê: 'Sluit aan by 'n kerk', kan ons so maklik
kerklidmaatskap benader asof dit net nog taak op 'n taaklys is wat ons moet
afhandel. Maar deur die kerk en sy lidmate, deur die verskillende beelde soos
byvoorbeeld 'n tempel, 'n kudde en 'n gesin uit te beeld, dwing die Bybel ons
om nie net by 'n kerk aan te sluit nie, maar ook om te besin oor hoe goed my
lewe by die Bybelse beeld pas.
Hierdie beelde dwing ons om te vra: 'Lyk my lidmaatskap van die kerk so?'
Is ek regtig 'n familielid in my kerk of is ek eerder meer soos die buurman
langsaan? Is ek regtig 'n hand of 'n voet in die lyf, of is ek maar net soos 'n
skoen wat nie altyd nodig is nie? Om lid van die kerk te wees is meer as om
bloot net my naam op die lidmaatregister te hê.
Ons gaan in die volgende paar weke stilstaan by 'n paar van die beelde
sodat ons beter kan verstaan wat dit beteken om lid van die kerk te wees.
Vandag staan ons stil by die beeld van die kerk as bruid van Christus.
God het die mens as 'n verhoudingswese geskape. In die eerste plek staan
die mens in 'n verhouding teenoor God en dan staan die mens ook in onderlinge
verhoudings teenoor ander mense. Jou verhoeding met ander mense wys hoe lyk jou
verhoeding met God.
Die huwelik is die mees intiemste verhouding wat daar tussen mense kan wees
en hier in ons teks gebruik God die huwelik om aan ons te verduidelik hoe die
verhouding tussen Christus en sy kerk moet wees.
In ons teks beskryf Paulus dit uit twee teenoorgestelde hoekpunte. Eerstens
gebruik hy die verhouding tussen Christus en sy kerk as voorbeeld vir die
verhouding tussen man en vrou in die huwelik en dan ruil hy die rolle om. Dan
stel hy dat God die verhouding tussen man en vrou gebruik om die geheimenis van
die intieme eenheid tussen Christus en sy kerk sigbaar te maak.
Ef. 5 v 21 begin met die opdrag: “wees
uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Die beginsel wat hier vir
ons voorgehou word, is dat Christus se verhouding met ons en ons verhouding met
Hom die bepalende faktor in ons verhoudings teenoor mekaar is. Ons word dus
opgeroep om ons verhouding met Christus as model te gebruik vir ons onderlinge
verhoudings.
In Ef. 5 v 22 – 24 gee Paulus die opdrag aan vroue en in Ef. 5 v 25 – 30
die opdrag aan mans. Ef. 5 v 22 – 24 word dikwels buite konteks gebruik om die
oorheersing van die vrou te regverdig. Die opdrag kan egter net reg verstaan
word wanneer dit saam met die opdrag aan die man gelees word.
In Ef. 5 v 22 hoor ons:
Vrouens,
wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
En in Ef. 5:25 hoor ons:
Mans,
julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe
daarvoor afgelê het.
Wanneer hierdie verse los van mekaar gelees word kan die slotsom gemaak
word dat vrouens net moet onderwerp en mans moet net liefhê. Die verse hou met
mekaar verband en moet saamgelees word met
Ef. 5 v 21 dat albei partye aan mekaar onderdanig moet wees. In 1 Joh. 4 v 7 kry ons ook die opdrag dat ons mekaar moet liefhê. Dit is dus duidelik dat gelowiges aan mekaar moet onderdanig wees en mekaar moet liefhê.
Ef. 5 v 21 dat albei partye aan mekaar onderdanig moet wees. In 1 Joh. 4 v 7 kry ons ook die opdrag dat ons mekaar moet liefhê. Dit is dus duidelik dat gelowiges aan mekaar moet onderdanig wees en mekaar moet liefhê.
Binne die huwelik is daar egter 'n besondere fokus. Binne die huwelik moet
die vrou uitmunt in onderdanigheid en die man in selfopofferende liefde vir sy
vrou.
Die verhouding tussen Christus en sy kerk dien as voorbeeld hoe die vrou se
onderdanigheid moet lyk en ook hoe die man se liefde moet lyk. Soos die kerk
uit eerbied Christus se gesag respekteer en hulself daaraan onderwerp moet die
vrou binne die huwelik haar man respekteer en haar aan sy gesag as hoof van die
huisgesin onderwerp.
Dit beteken egter nie dat mans in tirannie oor hulle vroue moet heers nie. Christus
heers nie soos 'n tiran oor sy kerk nie. Sy gesag kom in liefde en opoffering
na vore. Hy het alles vir sy bruid, die kerk opgeoffer. Die grootste prys wat
betaal kan word, sy lewe, het hy betaal. Die beginsel wat hier na vore kom, is
dat die man alles moet gee om sy vrou se belang te bevorder. Dit wat hy doen en
besluit moet tot haar voordeel strek en nie tot haar nadeel nie.
Christus het uit liefde alles vir die kerk opgeoffer om
haar van sonde te reinig sodat Hy die
kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets
dergeliks, heilig en onberispelik.
Christus is steeds besig om die kerk te reinig deur die werk van die
Heilige Gees.
In Ef. 5 v 31 – 33 word die rolle nou omgeruil. Hier gebruik God nou die
verhouding tussen man en vrou om in die geheimenis van die intieme eenheid
tussen man en vrou te wys hoe die intieme eenheid tussen Christus en sy kerk
sigbaar moet word.
Geliefdes hierdie beeld van die kerk bruid van Christus, bring ons voor die vraag te staan. “Is ons as kerk van
Christus nog onderdanig aan Hom? Aanvaar ons sy gesag oor ons? Sien ons nog
raak wat Christus in liefde vir ons opgeoffer het?”
Ons gaan in die volgende paar weke stilstaan by die verskillende beelde wat
die Skrif vir ons voorhou om te verduidelik hoe lyk die kerk van ons Here en
hoe moet dit funksioneer. Is u bereid om uself in onderdanigheid aan Christus
te onderwerp om kerk van die Here te wees?
Amen.