04 Oktober 2020

Loof die God van die hemel! Aan sy liefde is daar geen einde nie.

 Psalm 136 ;  teksvers Ps. 136 v 26

4 Okt. 2020



Hierdie oordenking is ook op video beskikbaar by:

1) Facebook

2) YouTube

Loof die God van die hemel! Aan sy liefde is daar geen einde nie.

 Kan ons nog steeds die God van die hemel loof wanneer ons die swaarkry van 2020 om ons aanskou? Kan ek die God van die hemel loof wanneer dit vir my voel of my hele lewe besig is om uitmekaar te val? Kan ek die God van die hemel loof wanneer dit vir my voel asof ek nie eens kan asemhaal vanweë die chaos in my lewe rondom my nie?

 Eerder as om die Here te loof voel dit nie vir ons eerder of Ps. 42v4 eerder ons omstandighede beskryf nie?

Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my:

“En waar is jou God nou?”

 Wanneer moet ons die Here loof? Kan ons die Here net loof en prys en dank wanneer dit goed gaan met ons? Is die woorde van Job in Job 2v10 nie ook vir ons waar nie?

As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?

 Aan die ander kant is die vraag ook: “waarvoor moet ons die Here loof en dank?” In Psalm 136 antwoord die Here hierdie vraag.

 Psalm 136 is ’n Psalm wat in die tempel met beurtsang gesing is. Die voorganger het die eerste deel van elke versreël voorgehou waarna die volk geantwoord het met:

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

 In hierdie Psalm leer ons God ken deur wie Hy is, deur sy skeppingsdade en deur sy verlossingsdade. In die eerste plek hoor ons in verse 1 tot 3 wie God is. In vers 1 is die verwysing na sy verbondsnaam JHWH (in Hebreeus) wat ons met HERE vertaal en dit beteken Hy is ’n God wat naby is. In vers 2 hoor ons van Hom as die oppermagtige God en in vers 3 as die magtigste van alle maghebbers.

 Hierna word God se koninklike majesteit voorgehou deur middel van sy skeppingsdade soos ons hoor in verse 4 tot 9. In vers 4 word hierdie skeppingsdade as magtige dade aan ons voorgehou en dan van vers 5 tot 9 word daar in meer detail daaroor ingegaan. 

God het die hemel en die aarde geskep en hy het die son en die maan en die sterre geskep. Hierin word die grootsheid en die almag van God beskryf. Wanneer ons die grootsheid en die wonder van God se skepping aanskou dan besef ons weereens net dat God baie meer is as wat ons ooit sal kan verstaan.

 Dan word sy verlossingsdade beskryf in verse 10 tot 22. In verse 10 tot 15 hoor ons hoe die Here sy volk veilig uit Egipte uitgelei het en in verse 16 tot 22 hoor ons hoe die Here sy volk op hul pad na die beloofde land Kanaän bewaar het. 

In verse 23 tot 25 hoor ons hoe die Here vir sy volk sorg.

 Hierdie beskrywing van God word toegevou deur middel van die refrein wat dwarsdeur die Psalm loop:

Aan sy liefde is daar geen einde nie

 Hierin word beskryf wie God in Homself is, eindelose liefde wat vir ewig aanhou.

 Die Hebreeuse woord wat hier met liefde vertaal is word in die Ou Afrikaanse Vertaling met goedertierenheid vertaal. In sommige Engelse vertalings word dit met “loving-kindness” vertaal en ook met “steadfast love”.

 Die woord beteken letterlik liefde wat mens kan vertrou omdat God onderneem het om dit te gee. God verbind Homself daartoe om die liefde te gee en dat daar geen einde aan hierdie liefde sal wees nie.

 Dit is uit hierdie eindelose liefde waaruit God se majesteit in sy skeppingsdade voortspruit en ook sy genade in sy verlossingsdade. Die grondrede waarom ons God moet loof en dank is omdat Hy God is en aan sy liefde is daar geen einde nie.

 Ons kan op God se liefde vertrou omdat dit ewigdurend is en dat niks ons daarvan sal kan skei nie soos Hy in Rom. 8v38-39 vir ons sê:

38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

 Ons maak so dikwels die fout om God vir die verkeerde redes te wil loof en prys. Hoekom dien ons God? Omdat Hy God is! Ons dien Hom tog nie oor al die seëninge wat Hy vir ons gee nie. As dit die rede is hoekom ons God dien, dan dien ons Hom nie werklik nie. As ons God alleen dien vir die gawes wat Hy vir ons gee dan gebruik of sal ek eerder sê misbruik ons Hom om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig.

 Wat is die bewys dat God as die gewer van alle goeie gawes vir ons kosbaar is? Lê die bewys daarvoor nie juis in ons bereidheid om al die goeie gawes weg te laat om God te kry nie. Wil ons vir God hê of wil ons eerder net die gawes hê wat van Hom af kom? Dis eers as ons God dien om die regte rede dat ons hom kan loof in goeie en slegte tye. Dan word ons belydenis in vraag en antwoord 28 van Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus ’n werklikheid in ons lewens:

Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel.

 Dit is egter so dat ons nie altyd geduldig in teëspoed is nie. Waarom sukkel ons daarmee? Dis omdat ons as gevolg van die mag van die sonde steeds sukkel om God te vertrou. Met ander woorde ons vertrou nie gedagte: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

 Op grond van God se troue verbondsliefde en sy goedertierenheid verlos Hy ons egter nog steeds van die slawekettings van die sonde. God se liefde is die rede waarom hy sy volk uit die slawerny van Egipte verlos het. Sy liefde is die rede waarom Hy ons ook uit die sondeslawerny verlos soos Hy vir ons sê in 1 Joh. 4v9-10:

9 Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

 Deur Jesus Christus word ons weer met God versoen en daarom kan ons ook midde in ons swaarkry die God van die hemel loof want aan sy liefde is daar geen einde nie.

 Die Here is nie onsimpatiek teenoor ons wanneer ons swaarkry nie en daarom nooi hy ons ook uit in Mat. 11v28 uit:

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Dit is slegs wanneer jy, jou laste na Jesus toe bring dat jy vrede vind, want vrede is nie ’n gebrek aan teëspoed nie, maar wel die teenwoordigheid van God. Dit is slegs deur middel van Jesus wat jy in die teenwoordigheid van God kan kom.

 Kom na Jesus toe en dan sal jy ook die God van die hemel kan loof want aan sy troue verbondsliefde is daar geen einde nie!

Amen