21 Junie 2026

Jesus is die rots wat ons staande hou wanneer die lewe ons wil omdop.


 

Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33

In die wêreld sal julle dit moeilik hê.

Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. 

Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.

Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.

As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.

Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan. 

Die vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.

Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.

Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.

Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)

26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.

Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes. 

Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?

Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie. 

Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. 

Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:

“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”

As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)

maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! 

Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30

28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en liefde:

Rom. 8:37-39

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want Jesus is die rots wat ons staande hou wanneer die lewe ons wil omdop.

Amen

 

16 Junie 2026

Die boeke van die Ou Testament

 


1. Die Torah en die Pentateuch (Hulle is dieselfde ding!)

As jy na die eerste vyf boeke van die Bybel kyk (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), praat jy gelyktydig van die Torah én die Pentateuch. Die verskil lê bloot in die oorsprong van die woorde:

  • Torah: Dit is die Hebreeuse woord vir "onderrigting" of "wet". Dit is die term wat in die Joodse tradisie gebruik word vir hierdie eerste vyf boeke, wat die fondament van hul geloof en lewenswyse vorm.
  • Pentateuch: Dit is die Griekse woord wat letterlik "vyf rolle" of "vyf boeke" beteken. Toe die Hebreeuse geskrifte eeue gelede in Grieks vertaal is, het geleerdes hierdie term begin gebruik.

Kyk na die tradisionele Torah-rol hierbo — dit wys presies hoe hierdie eerste vyf boeke oorspronklik met die hand op lang rolle perkament uitgeskryf is om in die sinagoge gelees te word.

2. Die ander boeke van die Ou Testament

Die res van die Ou Testament (die ander 34 boeke in die Christelike Bybel) word gewoonlik in drie duidelike groepe opgedeel op grond van hul styl en inhoud:



Interessante brokkie: In die Joodse tradisie word hierdie selfde boeke effens anders gerangskik en gegroepeer onder die akroniem Tanakh (wat staan vir Torah [Wet], Nevi'im [Profete], en Ketuvim [Geskrifte]). Die inhoud is presies dieselfde as ons Ou Testament, die volgorde van die boeke lyk net net 'n bietjie anders aan die einde!

 Die Joodse rangskikking word die Tanakh genoem. Dit is eintlik ’n akroniem wat gevorm word deur die eerste letters van die drie hoofafdelings: Torah (Wet), Nevi'im (Profete), en Ketuvim (Geskrifte).

Hoewel die inhoud presies dieselfde is as ons 39 Ou Testamentiese boeke, tel die Jode dit as 24 boeke. Hulle kombineer bloot die dubbelboeke (soos 1 en 2 Samuel) en sit al twaalf die Klein Profete saam in een enkele "rol".

Hier is die presiese volgorde waarin hulle gerangskik is, wat jy ook pragtig op die skets hieronder kan sien:

Die struktuur en indeling van die Tanakh. Bron: Overview Bible

1. T – Torah (Die Wet / Onderrigting)

Dit is die presiese vyf boeke waarmee ons Bybel ook begin:

  • Genesis
  • Eksodus
  • Levitikus
  • Numeri
  • Deuteronomium

2. N – Nevi'im (Die Profete)

In die Joodse tradisie word boeke wat ons as "geskiedenis" sien, as deel van die profete beskou, want dit wys hoe God se woord in die geskiedenis uitgespeel het.

  • Die Vroeë Profete: Josua, Rigtors, Samuel (1 & 2 saam), Konings (1 & 2 saam).
  • Die Latere Profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël.
  • Die Twaalf: Al 12 die klein profete (van Hosea tot Maleagi) word saam as een enkele boek getel.

3. K – Ketuvim (Die Geskrifte)

Hierdie laaste afdeling is 'n versameling van wysheid, poësie en die oorblywende historiese vertellings.

  • Wysheidsboeke: Psalms, Spreuke, Job.
  • Die Vyf Rolle (Megillot): Hooglied, Rut, Klaagliedere, Prediker, Ester. (Hierdie vyf word elkeen op 'n spesifieke Joodse feesdag in die jaar gelees).
  • Geskiedenis en Profesie: Daniël, Esra-Nehemia (saam as een boek), en Kronieke (1 & 2 Kronieke saam as een boek).

Hoekom maak hierdie volgorde saak?

Die grootste verskil is die einde van die verhaal.

Ons Christelike Ou Testament eindig met Maleagi, wat profeteer oor die koms van Elia — dit skep die perfekte oorgang na die Nuwe Testament waar Johannes die Doper en Jesus verskyn.

Die Joodse Tanakh eindig egter met Kronieke. Die heel laaste verse van Kronieke (en dus van die hele Joodse Bybel) eindig met die Persiese koning Kores wat sê die ballingskap is verby en dat die Jode mag terugkeer huis toe om die tempel te herbou: "Laat hom optrek!" Vir die Joodse leser is die klimaks dus die hoop op die herstel en terugkeer na die Beloofde Land.


14 Junie 2026

Genade onbeskryflik groot - 02


 2 Kor. 12:1-10

2 Kor. 12:1-10

Teksverse 2 Kor. 12:7-9

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Inleiding

Wat is genade? Ons het verlede week gehoor dat genade nie maar net ’n geskenkpakkie is wat ons uit die hemel ontvang nie. Dit is soveel meer. Genade is God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het wat Homself aan ons gee. Ons het gehoor dat die aard en karakter van God se genade is dat Hy omgee vir ons. Hy het ’n diep, deernisvolle liefde vir ons en daarom buk Hy af na ons sonder dat ons iets hoef te doen om dit te verdien en dat ons op Hom kan reken omdat Hy betroubaar is.

Vandag gaan ons hoor wat God se genade vir ons beteken. Paulus beskryf hier in 2 Kor. 12 wat God se genade vir hom beteken het en daarmee saam ook wat dit vir ons beteken.

Agtergrond

Ons kry dikwels gedeeltes in die Skrif wat so ’n bietjie kripties is en wat nie baie detail deurgee nie. In vandag se teks vind ons twee voorbeelde daarvan. Om te verstaan moet ons kyk na die konteks van die brief wat Paulus aan die gemeente in Korinte geskryf het.

Die gemeente in Korinte was soos ’n tiener kind wat vol moeilikheid was wat vir Paulus grys hare gegee het. Tog was Paulus baie lief vir die gemeente en daarom het hy verskeie briewe aan die gemeente geskryf. Soms was hulle net so rebels soos ’n tiener in die sin dat daar sommige lidmate was wat Paulus se gesag as apostel bevraagteken het. In hierdie brief klaar hy ’n paar misverstande op en verdedig hy sy gesag as apostel.

Hy doen dit egter nie uit ’n posisie van eie gesag of dat hy so ’n wonderlike begaafde mens is nie. Paulus se gesag as apostel lê nie in sy eie krag nie, maar daarin dat hy deur God se genade die bediening ontvang het.

In 2 Kor. 12: 2 hoor ons:

Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.

Paulus beskryf hier ’n ervaring wat hy gehad het om God te ontmoet, maar hy gee nie baie detail daarvan nie en daarom moet ons versigtig wees dat ons nie meer in die Skrif in lees as wat daar staan nie want die fokus is nie daarop nie.

Daarom verwys hy ook na homself in die derde persoon omdat die fokus nie op hom is nie. Paulus gee doelbewus nie detail nie omdat die fokus op God se genade is en dat dit die basis is van sy apostelskap.

Die doring in die vlees

Die fokus is God se genade en daarom vertel Paulus ook van ’n intense pynlike persoonlike ervaring wat hy gehad het wat verduidelik wat God se genade vir hom beteken het en hier kom ons by nog ’n kriptiese beskrywing van Paulus se doring in die vlees sonder dat hy detail daaroor gee.

Weereens moet ons oppas om nie op ’n dwaalspoor te gaan nie, want dan mis ons dit waaroor dit werklik gaan. Verskillende kommentare en verklarings gee dikwels heel party moontlike verklarings van wat Paulus se doring kan wees, maar ek gaan dit nie eers noem nie, want op die uiteinde bly dit maar net bloot spekulasie.

Ons hoor nie hier wat Paulus se doring was nie, omdat Paulus se doring nie noodwendig beskrywend is van wat ons eie dorings is nie. Elke persoon se doring is uniek en wat hier belangrik is, is dat net soos wat God sy genade vir Paulus se doring gegee het, dat God se genade daar is vir elkeen om ons te dra in ons swaarkry in ons eie unieke situasie.

Ons weet nie wat Paulus se doring is nie, maar wat ons wel hoor, is dat dit nie maar net lastigheid was nie. Dit was ’n intense beproewing. Paulus gebruik die beeld van ’n boodskapper van satan wat hom met vuiste slaan om te verduidelik hoe swaar hy gekry het.

Die tweede ding is dat God dit toegelaat het. Die perspektief hierop is dat niks buite om God gebeur nie en dat Hy nie onverhoeds gevang word nie. God is in beheer en ons is nie maar bloot net aan die noodlot uitgelewer nie.

Wat was Paulus se reaksie? Sy reaksie was maar net tipes wat ons reaksie is oor die swaarkry in ons lewens. “HERE vat dit asb. Weg!” Paulus het drie maal gebid dat sy doring weggeneem moet word en hier kom ons by ’n moeilike werklikheid in die lewe. God laat swaarkry en pyn in ons lewens toe. Hier kry ons die perspektief daarop.

Die prys van God se genade

God se antwoord op Paulus se pleidooi om die doring weg te vat verduidelik vir ons wat sy genade vir ons beteken. Paulus vra: “HERE vat dit asb. Weg!” en God antwoord: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

God sê nie hier vir Paulus, “Nee, Ek gaan nie jou pyn wegvat en jy moet nou maar sien kom klaar nie.” Sy antwoord is: Hy gee Homself, die ewige God, Skepper van die hemel en aarde wat in deernis en omgee afbuk na jou pyn met die waarborg van sy onbreekbare verbondstrou om daar te wees vir jou wanneer die dorings in die lewe jou steek.

Sonde het skeiding gebring tussen ons en God en om dit moontlik te maak vir God om daar te wees midde in jou pyn moet die prys vir sonde betaal word. Die prys vir ons sonde is die dood en dit moet betaal word sodat geregtigheid kan geskied. God die Vader het sy Seun gestuur om die prys van ons sonde aan die kruis te betaal, en die Heilige Gees het Hom uit die dood opgewek sodat ons kan lewe.

Wanneer God vir Paulus sê: "My genade is vir jou genoeg," sê Hy eintlik: "Paulus, kyk na die prys wat Ek betaal het om jou in my teenwoordigheid te hê. As my genade só duur was, dink jy Ek sal jou nou alleen los met hierdie doring? As my genade genoeg was om jou ewige skuld te betaal, is dit meer as genoeg om jou daaglikse swakheid te dra."

Waarom is daar dorings in die lewe?

Ons kry hier die perspektief van hoe God se genade ons dra deur die swaarkry en pyn van die lewe. Hoogmoed is wanneer jy net op eie krag wil staatmaak en dit is die wortel van sonde wat skeiding tussen die mens en God gebring het.

Die probleem is dat ons eie krag ons nie kan dra nie. Ons is op pad na die ewige heerlikheid waar die gevolge van sonde, naamlik die pyn en swaarkry van die lewe nie meer daar gaan wees nie, maar ons is nog nie daar nie en ons het God se krag nodig om in hierdie lewe staande te kan bly.

As God vir Paulus bloot die doring weggeneem het, sou Paulus dalk 'n hoogmoedige, selfvoldane apostel geword het wat in sy eie krag probeer werk het. Deur die doring te los, moes Paulus elke oggend op sy knieë gaan en sê: "Here, ek kan nie vandag sonder U nie." En in daardie afhanklikheid het Paulus die "soveel meer" van God se genade beleef. Hy het God se eie teenwoordigheid en krag gekry.

Genade beteken soms dat God my so lief het, dat Hy my nie sal spaar van die doring as die doring die enigste manier is om my naby aan Sy hart te hou nie.

Ons hoor in Mat. 5:3:

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Ons het dikwels ons eie oplossings en dan wil ons net hê dat God daardie oplossings implementeer. Die probleem is dat daardie oplossings dikwels nie die beste oplossing is nie en dat dit die gevaar inhou om ons op die uiteinde in die verderf te stort omdat dit ons van God vervreem.

Om kommer- en sorgvry te wees ver van God is veel erger as om ’n doring te hê met God aan jou sy.

Slot

God se genade is dat Hy Homself aan ons gee en dikwels het ons die dorings in die lewe nodig om dit raak te sien sodat ons vanuit God se krag begin leef en nie op ons eie krag staatmaak nie.

Moenie in die dorings van die lewe vaskyk nie. Sien God se genade raak en leef vanuit God se krag want God se genade is al wat ons in die lewe nodig het. Sien raak dat jy sonder God nie een enkele tree kan gaan nie. Vra die HERE elke dag: "Here, gee my U genade. Moenie my vandag alleen los nie. Trek saam met my in my dag in."

Amen

07 Junie 2026

Genade onbeskryflik groot 01

Lees: Eksodus 34:1 – 10 Teksvers Eks. 34:6 & 7

Inleiding

Wat is genade? Ons haak so maklik vas by die gedagte dat genade bloot ons skuld uitvee deur sondevergifnis. Dit is soos om die sleutel vir ’n paleis te kry, maar dan bly jy net op die drumpel sit sonder om ooit binnetoe te gaan.

Sondevergifnis maak die deur van die paleis oop, maar binne in die paleis is soveel meer! As ons maar net aan genade dink as die geskenk van sondevergifnis, dan mis ons iets groots in die lewe. Wanneer ons so aan genade dink, maak dit van ons oppervlakkige Christene wat Sondae so bietjie lafenis en rus by God kom soek en dan leef ons die res van die week asof God nie bestaan nie.

Geliefdes, genade is soveel meer! Dis nie net ’n geskenk van God nie. God se genade is God self waar Hy Homself vir ons gee. En dit is juis hier in Eksodus 34:6 & 7 waar die Heilige Gees dit so duidelik vir ons uitspel wat God se genade werklik is.

Agtergrond

Om die werklike impak te verstaan van wat God hier vir ons sê moet ons net weer kyk wat voor dit gebeur het in Eksodus 32 en 33. Terwyl Moses op die berg was om die tien gebooie te ontvang, het die volk as te ware owerspel gepleeg deur ’n goue kalf afgod te maak. Dit is net so goed as ’n man wat tydens sy huweliksonthaal owerspel pleeg. Die verhouding is basies in skerwe!

Moses pleit vir die volk en vra dan vir God 'n radikale vraag soos ons in Eks. 33:18 hoor:

"Laat my tog u heerlikheid sien."

Wanneer God Sy "heerlikheid" aan Moses wys, gee Hy nie vir hom 'n indrukwekkende ligvertoning nie. Hy kondig sy Naam aan en Hy openbaar sy karakter aan Moses.

Wat is God se genade werklik?

Moses het die HERE gevra "Laat my tog u heerlikheid sien." En hier in Eks. 34:6 & 7 wys die HERE sy heerlikheid aan Moses deur sy Naam aan te kondig en om sy karakter aan Moses te openbaar.

“Die Here, die Here,

'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ”

Hy begin deur sê wie Hy is met die aankondiging van sy verbondsnaam: “Die Here, die Here”. Dit is dieselfde verbondsnaam wat God aan Moses by die brandende braambos geopenbaar het in Eksodus 3:14. Die letterlike betekenis is “Ek Is”. Met ander woorde God alleen bestaan uit Homself. Hy het geen oorsprong nie. Hy het geen Skepper nie. Hy is nie afhanklik van enigiets buite Homself nie. Hy is die Skepper van hemel en aarde.

In Hebreeuse literatuur is die herhaling van 'n woord die hoogste vorm van beklemtoning. Deur "Jahwe, Jahwe" te roep, sê God: "Ek is onveranderlik en absoluut Wie Ek is. Ek word deur niks en niemand buite Myself gedefinieer of beïnvloed nie.

Nadat God gesê het wie Hy is, beskryf Hy sy karakter. Hy begin met “barmhartig”. Letterlik beteken dit die diepe ontferming van 'n moeder teenoor die kind wat sy gedra het. Met ander woorde God se karakter is dat Hy van nature ontfermend is.

God sê vir Moses: "Die eerste ding wat jy van My heerlikheid moet weet, is dat my hart vir hierdie opstandige volk ineen trek soos 'n ma se hart vir haar siek kind." Met ander woorde dit is 'n diep, emosionele, koesterende konneksie van God met ons broosheid.

Dan volg Hy op met “genadig”. Die letterlike betekenis van hierdie woord is ’n Koning wat afbuk. Nadat Israel 'n afgod gemaak het, het hulle alle status verloor. Hulle was niks. Maar God kom buk doelbewus af om hierdie gevalle volk op te tel. God se Genade beteken God verander Sy postuur teenoor ons vanaf die verhewe Regter na 'n Vader wat laag afbuk om ons in die oë te kyk.

Die Ewige, Selfbestaande Skepper van die heelal (Jahwe / Ek is) buk af na ons as nietige mense. Dit beteken genade is nie bloot dat God van 'n afstand af vriendelik is nie. God se genade is die rangorde van die heelal wat omgedraai word: Die Een wat bo alles verhewe is, kies doelbewus die postuur van 'n Dienskneg wat afbuig om Sy stukkende, ontroue volk op te tel en aan Sy eie bors vas te druk.

En hier kry ons ’n direkte heenwysing na Jesus. In Joh. 1:14 hoor ons: "En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon..." En hoe word Jesus hier beskryf? "...vol van genade en waarheid." Johannes gebruik doelbewus die taal van Eksodus 34. Die Woord wat mens word, is God wat nie meer net van 'n berg af Sy karakter aankondig nie, maar wat Sy karakter vlees en bloed gee.

En in Fil. 2:6-8 hoor ons:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

God se genade is nie 'n pakkie wat Hy uit die hemel gooi nie. Jesus Christus is die afbukkende God. In die Menswording sien ons hoe die Ewige God die stof van ons aarde tussen Sy tone kry. Hy buk af tot in die krip, tot by dieselfde vlak van ons menswees, tot by ons siekbeddens en ons swaarkry.

En dan hoor ons in Eks. 34:6 God is “geduldig”. God se oordeel word nie haastig uitgeoefen nie. Hy gee ruimte vir bekering en dit is dit juis wat in Eksodus 32-34 gebeur ná die sonde met die goue kalf. Genade is nie net 'n eenmalige kwitansie nie; dit is die skep van tyd en ruimte waarin ons kan foute maak en herstel sonder dat God dadelik tou opgooi.

En dan voeg Hy ook by: oorvloedig in troue liefde”. Dit is God se liefde wat sê: "Ek het my aan jou verbind en daarom sal Ek jou nie los nie." God gee hier ’n waarborg dat Hy Homself daartoe verbind dat Hy môre nog daar gaan wees, selfs al het ek vandag gefaal.

En dan sluit Hy af dat Hy sonde vergewe, maar dit tog nie ongestraf laat bly nie. Hier kom ons by die dieptepunt van God se genade want Hy ignoreer nie net jou sonde nie, Hy wis dit uit deurdat sy Seun die volle skuld daarvan aan die kruis betaal het.

Genade is iets wat ons verniet ontvang maar dit is nie gratis nie. Dit kos BAIE DUUR! En dit is God wat in die persoon van sy Seun daardie prys met sy bloed betaal.

Genade is dus nie maar net die geskenkpakkie van skuldvergiffenis nie, wat sê: "Ek hou nie meer jou verlede teen jou nie." Dit is soveel meer: God se Genade sê: "Ek gee My hele self vir jou vir die toekoms. Ek gee my deernis en omgee, my guns, my geduld en my ewige lojaliteit vir jou."

Wat is jou reaksie op God se genade?

Die vraag is nou: “Wat is jou reaksie op God se genade?” Wanneer ons God se genade maar net as ’n geskenkpakkie beskou dan is ons reaksie dikwels "O, dis gaaf van God," en dan gaan ons aan met ons lewens asof niks verander het nie.

In Eks. 34:8 & 9 sien ons wat se lewensveranderende effek die genade van God op ’n mens het:

Moses het haastig op die grond gekniel en in aanbidding gebuig.

Toe Moses die volle impak van Wie God is besef, het hy nie begin argumenteer, dinge verduidelik of sy eie gedrag probeer regverdig nie. Sy eerste reaksie was liggaamlik en onmiddellik: hy val plat op sy gesig. Wanneer ons God se genade regtig begin raaksien, krimp ons behoefte om onsself te verdedig of te bewys. Dan is ons reaksie op genade nie "O, dis gaaf van God nie," maar 'n diep, oorweldigende ontwapening. Ons buig voor die grootheid van God, nie uit angs of vrees nie, maar in verwondering.

God se genade bevestig sy verbintenis en daarom het Moses die vrymoedigheid om te vra: “Al is dit 'n hardnekkige volk, moet U ons skuld en ons sonde vergewe, en ons as u eiendom aanvaar.”  Hy probeer nie vir God sê: "Here, dankie vir U genade, ons sal van nou af beter probeer en belowe om nooit weer 'n goue kalf te maak nie." Nee, hy kyk vir God reg in die oë en sê die rou waarheid: "Ons is 'n hardnekkige, opstandige volk."

Goedkoop genade maak dat mense hul sonde ligtelik opneem of wegsteek. Maar duur, eensydige genade skep 'n veilige ruimte vir absolute eerlikheid. Omdat ons weet God se verhouding met ons is reeds vasgemaak deur Sy karakter (nie ons prestasie nie), hoef ons nie meer voor te gee dat ons "alles bymekaar het" nie. Ons kan ons mislukkings en ons hardnekkigheid bely sonder die vrees dat Hy ons gaan verwerp, want dit juis wanneer jy by ’n eerlike sonde belydenis uitkom dat jy werklik besef hoe afhanklik jy van God is.

Die belangrikste reaksie van Moses is egter sy diepe besef dat hy die lewe nie durf aanpak sonder God se teenwoordigheid nie. Hy vra: “As ek wel guns gevind het in u oë, my Heer, moet my Heer asseblief in ons midde saamtrek.” 

Die regte reaksie op genade is nooit: "Dankie vir die vergifnis, nou is my lisensie hernu en kan ek aangaan met my eie lewe" nie. Die regte reaksie is 'n diepe desperaatheid na God se teenwoordigheid. Dis om te besef: sonder God wat afbuk, gaan ons dit nie maak nie. Ons het baie meer as net Sy vergifnis nodig. Ons kort God Homself as ons metgesel op ons reis deur die lewe.

Die “soveel meer” van God se genade

Wanneer jy die "soveel meer" van genade verstaan is dit onmoontlik om maar net soos voorheen onveranderd aan te gaan nie. Jy word radikaal eerlik oor jou eie swakhede en jou hardnekkigheid en dit bring jou tot die diepe besef dat Jy sonder God nie een enkele tree kan gaan nie.

Vra die HERE elke dag: "Here, gee my U genade. Moenie my vandag alleen los nie. Trek saam met my in my dag in."

Amen

 

04 Junie 2026

Op die pad van persoonlike geloofsgroei deur die vuuroond van beproewing 07

 

2 Kor. 1 v 8 - 9

Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.

 

Die Here laat soms toe dat daar dinge oor jou pad kom wat bitter swaar en moeilik is. Dan maak ons dikwels die fout om ons broers en susters wat daardeur gaan te troos met die woorde: “Staan net sterk, die Here sal nie toelaat dat jy bo jou kragte beproef word nie!”

Dis ongelukkig 'n leë troostelose boodskap waarin geen waarheid steek nie, want ons hoor juis in 2 Kor. 1 v 8 dat die Here soms toelaat dat daar swaarkry oor jou pad kom wat ver bo jou kragte gaan. Toe dit met Paulus gebeur het, was dit erg genoeg dat hulle selfs, hul hoop om te bly lewe laat vaar het.

Maar wat dan van 1 Kor. 10 v 13 waar ons hoor: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie.” Let mooi op waarvan die Here hier praat. Hy praat nie hier van tragiese omstandighede wat swaarkry, verlies, pyn en lyding meebring nie.

Dit gaan hier oor versoeking en self dissipline waar die Here jou op grond van die nuwe lewe in Christus wat jy as Christin ontvang het dit vir jou moontlik maak om teen versoeking te stry in die krag van Christus.

Wanneer dit by swaarkry kom laat die Here egter soms toe dat daar dinge oor jou pad kom wat meer is as wat jy kan hanteer soos ons ook gehoor het in 2 Kor. 1 v 8 & 9. Die troos wat die Here vir ons hier gee is dat wanneer dit gebeur, Hy jou nie alleen laat nie. Wanneer die lewe te veel raak, moenie op jou eie krag staatmaak nie, want dit sal te veel wees vir jou.

Soek jou krag by God wat dooies opwek om te lewe. Christus is eenmaal op die kruis deur God verlaat sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy het die dood oorwin sodat ons die reg het om tot God te nader wanneer die lewe te veel word.

Wanneer die lewe te veel word, kom na jou Vader toe. Hy sal jou nie alleen laat nie. Hy sal jou dra wanneer jyself nie meer kan nie.

Amen