Wys tans plasings met die etiket troue verbondsliefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket troue verbondsliefde. Wys alle plasings

07 Junie 2026

Genade onbeskryflik groot 01

Lees: Eksodus 34:1 – 10 Teksvers Eks. 34:6 & 7

Inleiding

Wat is genade? Ons haak so maklik vas by die gedagte dat genade bloot ons skuld uitvee deur sondevergifnis. Dit is soos om die sleutel vir ’n paleis te kry, maar dan bly jy net op die drumpel sit sonder om ooit binnetoe te gaan.

Sondevergifnis maak die deur van die paleis oop, maar binne in die paleis is soveel meer! As ons maar net aan genade dink as die geskenk van sondevergifnis, dan mis ons iets groots in die lewe. Wanneer ons so aan genade dink, maak dit van ons oppervlakkige Christene wat Sondae so bietjie lafenis en rus by God kom soek en dan leef ons die res van die week asof God nie bestaan nie.

Geliefdes, genade is soveel meer! Dis nie net ’n geskenk van God nie. God se genade is God self waar Hy Homself vir ons gee. En dit is juis hier in Eksodus 34:6 & 7 waar die Heilige Gees dit so duidelik vir ons uitspel wat God se genade werklik is.

Agtergrond

Om die werklike impak te verstaan van wat God hier vir ons sê moet ons net weer kyk wat voor dit gebeur het in Eksodus 32 en 33. Terwyl Moses op die berg was om die tien gebooie te ontvang, het die volk as te ware owerspel gepleeg deur ’n goue kalf afgod te maak. Dit is net so goed as ’n man wat tydens sy huweliksonthaal owerspel pleeg. Die verhouding is basies in skerwe!

Moses pleit vir die volk en vra dan vir God 'n radikale vraag soos ons in Eks. 33:18 hoor:

"Laat my tog u heerlikheid sien."

Wanneer God Sy "heerlikheid" aan Moses wys, gee Hy nie vir hom 'n indrukwekkende ligvertoning nie. Hy kondig sy Naam aan en Hy openbaar sy karakter aan Moses.

Wat is God se genade werklik?

Moses het die HERE gevra "Laat my tog u heerlikheid sien." En hier in Eks. 34:6 & 7 wys die HERE sy heerlikheid aan Moses deur sy Naam aan te kondig en om sy karakter aan Moses te openbaar.

“Die Here, die Here,

'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ”

Hy begin deur sê wie Hy is met die aankondiging van sy verbondsnaam: “Die Here, die Here”. Dit is dieselfde verbondsnaam wat God aan Moses by die brandende braambos geopenbaar het in Eksodus 3:14. Die letterlike betekenis is “Ek Is”. Met ander woorde God alleen bestaan uit Homself. Hy het geen oorsprong nie. Hy het geen Skepper nie. Hy is nie afhanklik van enigiets buite Homself nie. Hy is die Skepper van hemel en aarde.

In Hebreeuse literatuur is die herhaling van 'n woord die hoogste vorm van beklemtoning. Deur "Jahwe, Jahwe" te roep, sê God: "Ek is onveranderlik en absoluut Wie Ek is. Ek word deur niks en niemand buite Myself gedefinieer of beïnvloed nie.

Nadat God gesê het wie Hy is, beskryf Hy sy karakter. Hy begin met “barmhartig”. Letterlik beteken dit die diepe ontferming van 'n moeder teenoor die kind wat sy gedra het. Met ander woorde God se karakter is dat Hy van nature ontfermend is.

God sê vir Moses: "Die eerste ding wat jy van My heerlikheid moet weet, is dat my hart vir hierdie opstandige volk ineen trek soos 'n ma se hart vir haar siek kind." Met ander woorde dit is 'n diep, emosionele, koesterende konneksie van God met ons broosheid.

Dan volg Hy op met “genadig”. Die letterlike betekenis van hierdie woord is ’n Koning wat afbuk. Nadat Israel 'n afgod gemaak het, het hulle alle status verloor. Hulle was niks. Maar God kom buk doelbewus af om hierdie gevalle volk op te tel. God se Genade beteken God verander Sy postuur teenoor ons vanaf die verhewe Regter na 'n Vader wat laag afbuk om ons in die oë te kyk.

Die Ewige, Selfbestaande Skepper van die heelal (Jahwe / Ek is) buk af na ons as nietige mense. Dit beteken genade is nie bloot dat God van 'n afstand af vriendelik is nie. God se genade is die rangorde van die heelal wat omgedraai word: Die Een wat bo alles verhewe is, kies doelbewus die postuur van 'n Dienskneg wat afbuig om Sy stukkende, ontroue volk op te tel en aan Sy eie bors vas te druk.

En hier kry ons ’n direkte heenwysing na Jesus. In Joh. 1:14 hoor ons: "En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon..." En hoe word Jesus hier beskryf? "...vol van genade en waarheid." Johannes gebruik doelbewus die taal van Eksodus 34. Die Woord wat mens word, is God wat nie meer net van 'n berg af Sy karakter aankondig nie, maar wat Sy karakter vlees en bloed gee.

En in Fil. 2:6-8 hoor ons:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

God se genade is nie 'n pakkie wat Hy uit die hemel gooi nie. Jesus Christus is die afbukkende God. In die Menswording sien ons hoe die Ewige God die stof van ons aarde tussen Sy tone kry. Hy buk af tot in die krip, tot by dieselfde vlak van ons menswees, tot by ons siekbeddens en ons swaarkry.

En dan hoor ons in Eks. 34:6 God is “geduldig”. God se oordeel word nie haastig uitgeoefen nie. Hy gee ruimte vir bekering en dit is dit juis wat in Eksodus 32-34 gebeur ná die sonde met die goue kalf. Genade is nie net 'n eenmalige kwitansie nie; dit is die skep van tyd en ruimte waarin ons kan foute maak en herstel sonder dat God dadelik tou opgooi.

En dan voeg Hy ook by: oorvloedig in troue liefde”. Dit is God se liefde wat sê: "Ek het my aan jou verbind en daarom sal Ek jou nie los nie." God gee hier ’n waarborg dat Hy Homself daartoe verbind dat Hy môre nog daar gaan wees, selfs al het ek vandag gefaal.

En dan sluit Hy af dat Hy sonde vergewe, maar dit tog nie ongestraf laat bly nie. Hier kom ons by die dieptepunt van God se genade want Hy ignoreer nie net jou sonde nie, Hy wis dit uit deurdat sy Seun die volle skuld daarvan aan die kruis betaal het.

Genade is iets wat ons verniet ontvang maar dit is nie gratis nie. Dit kos BAIE DUUR! En dit is God wat in die persoon van sy Seun daardie prys met sy bloed betaal.

Genade is dus nie maar net die geskenkpakkie van skuldvergiffenis nie, wat sê: "Ek hou nie meer jou verlede teen jou nie." Dit is soveel meer: God se Genade sê: "Ek gee My hele self vir jou vir die toekoms. Ek gee my deernis en omgee, my guns, my geduld en my ewige lojaliteit vir jou."

Wat is jou reaksie op God se genade?

Die vraag is nou: “Wat is jou reaksie op God se genade?” Wanneer ons God se genade maar net as ’n geskenkpakkie beskou dan is ons reaksie dikwels "O, dis gaaf van God," en dan gaan ons aan met ons lewens asof niks verander het nie.

In Eks. 34:8 & 9 sien ons wat se lewensveranderende effek die genade van God op ’n mens het:

Moses het haastig op die grond gekniel en in aanbidding gebuig.

Toe Moses die volle impak van Wie God is besef, het hy nie begin argumenteer, dinge verduidelik of sy eie gedrag probeer regverdig nie. Sy eerste reaksie was liggaamlik en onmiddellik: hy val plat op sy gesig. Wanneer ons God se genade regtig begin raaksien, krimp ons behoefte om onsself te verdedig of te bewys. Dan is ons reaksie op genade nie "O, dis gaaf van God nie," maar 'n diep, oorweldigende ontwapening. Ons buig voor die grootheid van God, nie uit angs of vrees nie, maar in verwondering.

God se genade bevestig sy verbintenis en daarom het Moses die vrymoedigheid om te vra: “Al is dit 'n hardnekkige volk, moet U ons skuld en ons sonde vergewe, en ons as u eiendom aanvaar.”  Hy probeer nie vir God sê: "Here, dankie vir U genade, ons sal van nou af beter probeer en belowe om nooit weer 'n goue kalf te maak nie." Nee, hy kyk vir God reg in die oë en sê die rou waarheid: "Ons is 'n hardnekkige, opstandige volk."

Goedkoop genade maak dat mense hul sonde ligtelik opneem of wegsteek. Maar duur, eensydige genade skep 'n veilige ruimte vir absolute eerlikheid. Omdat ons weet God se verhouding met ons is reeds vasgemaak deur Sy karakter (nie ons prestasie nie), hoef ons nie meer voor te gee dat ons "alles bymekaar het" nie. Ons kan ons mislukkings en ons hardnekkigheid bely sonder die vrees dat Hy ons gaan verwerp, want dit juis wanneer jy by ’n eerlike sonde belydenis uitkom dat jy werklik besef hoe afhanklik jy van God is.

Die belangrikste reaksie van Moses is egter sy diepe besef dat hy die lewe nie durf aanpak sonder God se teenwoordigheid nie. Hy vra: “As ek wel guns gevind het in u oë, my Heer, moet my Heer asseblief in ons midde saamtrek.” 

Die regte reaksie op genade is nooit: "Dankie vir die vergifnis, nou is my lisensie hernu en kan ek aangaan met my eie lewe" nie. Die regte reaksie is 'n diepe desperaatheid na God se teenwoordigheid. Dis om te besef: sonder God wat afbuk, gaan ons dit nie maak nie. Ons het baie meer as net Sy vergifnis nodig. Ons kort God Homself as ons metgesel op ons reis deur die lewe.

Die “soveel meer” van God se genade

Wanneer jy die "soveel meer" van genade verstaan is dit onmoontlik om maar net soos voorheen onveranderd aan te gaan nie. Jy word radikaal eerlik oor jou eie swakhede en jou hardnekkigheid en dit bring jou tot die diepe besef dat Jy sonder God nie een enkele tree kan gaan nie.

Vra die HERE elke dag: "Here, gee my U genade. Moenie my vandag alleen los nie. Trek saam met my in my dag in."

Amen