Wys tans plasings met die etiket Hoop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hoop. Wys alle plasings

23 Augustus 2026

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

 

Psalm 42 & 43

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

Die Psalms is een van die kosbaarste skatte wat God onder leiding van sy Gees vir ons laat neerskryf het. Deur hierdie bundel liedere raak God die hart van elke gelowige oor al die eeue aan.

Elke Psalm raak my persoonlik. Daar is tye wat ek saam met die Psalmdigter by God smeek om hulp. Ander tye wat ek voor God my skuld moet bely. Dan is daar ook tye waar ek voor God kla en worstel met die hoekoms en die waaroms van die lewe, maar daar is ook tye waar ek vir God dankie sê vir ryke seëninge wat Hy aan my gegee het en waar ek Hom groot maak in my lied. 

Die Psalmboek gaan oor al die wydtes en die dieptes van ons menswees. 

Veral ook hier in Psalm 42-43 beleef ons die verskillende uiterstes van die gelowige se gemoed. 

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  In hierdie Psalm sien ons hoe...

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Diep in ‘n gat met al my probleme en al my twyfel tot bo op ‘n berg waar my geloofsvertroue lofsing tot Gods eer. Deur hierdie hele Psalm wissel ons tussen hierdie twee uiterstes: twyfel en hoop. Wanneer ‘n mens hierdie Psalm lees vind jy jouself so maklik in die gemoed van hierdie digter. 

Hoe baie keer trek ons omstandighede ons so diep in ‘n gat van twyfel in. Net om die volgende oomblik tot die besef te kom van God se sorg, sy trou en sy liefde vir my. Moet ons elkeen nie eerlik bely dat die stryd tussen twyfel en hoop so deel van my eie lewe is nie?

Psalm 42 en 43 moet eintlik een Psalm wees. Die opbou van hierdie twee psalms vorm ‘n lied met ‘n refrein wat twee keer in Psalm 42 (6+12) en eenkeer in Psalm 43 (5) voorkom. Tog word daar reeds al in die oudste geskrifte tot ons beskikking ‘n onderskeid tussen hierdie twee psalm gemaak. 

Drie keer bevind die digter hom in die laagtes van vertwyfeling en sing Hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” En drie keer styg hy uit in geloofsvertroue en sing: “Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die eerste vers lees ons dat hierdie “’n Gedig van die Koragiete” is.  Die Koragiete was die nageslag van Korag = ‘n Leviet = wat in die woestyn teen Moses in opstand gekom het (Num. 16:1,2,35) en wat met sy lewe daarvoor betaal het.  Baie jare later sou Dawid die familie van Korag opdrag gegee het om, wanneer die tempel deur Salomo opgerig is, hulle die leiding by die tempelsang moes neem (1 Kron. 15:17; 16:41).  Hierdie diens het hulle tot lank na die ballingskap verrig (2 Kron. 35:15).

As sangleier moes die digter dus baie keer die volk na die tempel toe begelei het terwyl hy voorgegaan het in die lofprysing van God om daar in die tempel in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Dit was iets wat die digter baie goed geken het en waarin hy hom gereeld kon in verlustig.

Maar dit is nou juis hier waar die digter se groot ellende begin.  Want hy is skierlik vêr van die tempel af weg. Heel moontlik was hy een van die ballinge wat gedwing was om vêr van die tempel in die vreemde tussen heidene te gaan woon.

Dit is hier in die vreemde waar hy terugdink aan die goeie ou dae toe hy saam met ‘n skare feesgangers na God toe kon gaan.

Dit is hier in die vreemde dat sy verlange na God en sy tempel soos ‘n swaard deur sy siel steek: “2Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! 3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 4My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (OAV)

Om iets te verstaan van hierdie digter se ellende moet ons weet wat die tempel vir die Israeliete in die OT beteken het. Die tempel was die plek waar die verbondsark gestaan het = die tempel was die plek wat God self met sy heilige teenwoordigheid gevul het (vgl. 2 Kron. 5). Om in die tempel te wees was om in die teenwoordigheid van die lewende God self te wees, want by Hom is die lewe. Net soos ‘n wildsbok nie sonder water kan lewe nie, is die digter weg van God af sterwend en smag Hy na die Bron van alle lewe. 

Ken elkeen van ons nie ook maar daardie gevoel van: God is so bitter vêr. 

ð Ek lees Bybel, maar dit is asof God niks vir my te sê het nie;

ð Ek bid maar my gebede gaan nie verder as hierdie vier mure nie;

ð Ek gaan kerk toe, maar daar is net te veel ander dinge in my gedagtes en in my lewe ..... wat God so bitter vêr maak. 

En dan die verlange, die terug dink na dae toe God so naby aan my was. Dit laat ‘n mens worstelend die vraag vra: Hoekom voel God so vêr? Ek verlang daarna dat Hy weer naby my moet wees.

En asof dit nie genoeg is nie kom die sorge van die lewe en net soos golwe waar die een die ander volg, tref die terugslae die digter.  Die gevolg: al sy vyande spot hom en sê:  En waar is jou God nou?” (42:11).

Die heiden nasies van destyds wat om Israel gewoon het, was deeglik bewus van die groot dade wat God onder sy volk verrig het. Ook was dit iets waaroor die Israeliete nie stil gebly net nie. Gereeld het hulle getuig van die groot wonders wat God in hulle geskiedenis gedoen het. Met watter genoegdoening moes hulle nie die digter gespot het, toe dit lyk asof God hom nie meer help nie?

My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”

Wanneer alles begin verkeerd loop, my lewe, my huwelik, my werk, my finansies plus nog die gevoel dat God vêr van my is, dan hoor ons die spotlag van die duiwel hier agter ons: “En waar is jou God nou?” Het Hy dan nie belowe dat Hy altyd by jou sal wees nie? Het Hy jou nie dalk vergeet nie?

God is so vêr,   Hy het my vergeet..... die bitter vertwyfeling.   Wie ken dit nie? Dae en nagte se worsteling met probleme. Dae en nagte se vertwyfeling. Dit is so eg menslik en niemand van ons spring dit vry nie.

Weet u geliefdes, vir die ongelowige eindig die stryd tussen twyfel en hoop altyd weer by twyfel.

Maar vir die gelowige? 

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die moeilikste omstandighede, al is daar baie rede vir vertwyfeling en baie rede om te kerm is daar ‘n groter rede om dit NIE te doen nie, want ons het ‘n lewende hoop!

Ons teksvers stel dit: “Vertrou op God” = OF soos die OAV dit stel: “Hoop op God

Hoop op God” moet ons nie verwar met die woordjie hoop wat ons elke dag gebruik nie. As ek hoop dat my gunsteling rugbyspan môre sy wedstryd gaan wen, dan is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan gebeur nie. Ons idee van hoop hou ‘n groot mate van onsekerheid in. 

Daarteenoor beteken Bybelse hoop om oortuig te wees. Om seker te wees van die dinge waarop ek hoop (Heb. 11:1). Om seker te wees dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk”. Dat ek so seker is van God se trou dat ek selfs in die donkerste nag kan sing: Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Maar wat is dit wat hierdie Koragiet soveel sekerheid en soveel hoop vir die toekoms gegee het?

In Psalm 42 bou die digter sy geloofsverwagting op dit wat God in die verlede gedoen het. Hy dink terug aan al die goedheid van God wat hy daar by die tempel in God se teenwoordigheid beleef het (v.5) . Maar ook op dit wat God nou in die hede doen. Al slaan die storms om hom, weet Hy dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk” (v. 9) . 

As ons terugkyk op ons verlede, as ons ook nou om ons rondkyk midde watter omstandighede ek my ook al mag bevind, glo ek dat elkeen van ons genoeg rede het om dit uit te roep: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” Al was dit nie altyd maklik nie, was God nog altyd tot hiertoe by ons gewees. 

Maar in Psalm 43 kyk die digter ook die toekoms in. Hy sien dat God hom weer gaan terug lei na Hom toe.  "Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God”  (v. 3-4).  Die digter het die sekerheid gehad dat God hom weer terug sal laat gaan na Jerusalem.

Onder leiding van die Heilige Gees, sien die digter reeds die Lig wat hom gaan terug lei na God toe en hoor hy reeds die waarheid van verlossing. Hy sien ons enigste hoop, Jesus Christus raak.  Christus wat self gesê het: Ek is die Lig vir die wêreld (Joh. 8:12)

As ek glo dat Jesus Christus waarlik mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood en dat Hy nou aan die regterhand van God sit en dat ek by sy wederkoms mede erfgenaam gaan wees van ‘n ewige heerlikheid, kan ek ook nou deur sy oë na my lewe kyk.

Al die moeilikhede wat my elke dag soos groot golwe tref is niks in vergelyking met die ewige heerlikheid wat Christus aan my beloof het nie.

Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6).  Aan die kruis was Christus deur God verlaat.  Daardeur het Hy vir ons die weg gebaan na God toe sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy gee vir ons die ewige lewe en dit beteken dat ons nou reeds elke dag deur die geloof by Hom kan ingaan en in sy teenwoordigheid kan wees. ‘n Teenwoordigheid wat met Christus se wederkoms weer volmaak sal wees wanneer ek veilig tot in ewigheid in my Vader se woning sal wees

Die hoop van die Psalm digter het vir hom in die toekoms gelê. In die toekoms het hy gesien dat Hy weer by God sal wees.

Vir ons is Christus se daad van verlossing ‘n vaste sekerheid wat reeds gebeur het.

Soveel te meer kan ons die toekoms in kyk met ‘n vaste hoop op Christus se wederkoms en kan ons uitsien na die dag wanneer ons elkeen veilig by God sal wees.

Soveel te meer kan ons ons oë op Christus, op God gerig hou “...die God oor wie ek wil jubel en juig, ....dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!” (43:4)

Geliefdes, wanneer dit voel asof ek so bitter vêr van God is, as die lewens storms dreig om my te oorweldig, as my teëspoed en terugslae my laat dink dat God my vergeet het:

Kyk op, kyk na Christus ons enigste hoop

Want dan, ja dan alleen kan die stryd tussen twyfel en hoop wat ook in my binneste woed eindig in ‘n lofsang tot God

O my siel, waarom so onrustig?

       En wat buig jy jou in my?

       Vertrou op God, in Hom weer rustig!

       In sy lof sal ek my verlustig

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God! 

Amen


31 Mei 2026

Die HERE se troue verbondsliefde dra ons wanneer moedeloosheid ons oorweldig


 PSALMS 13

Hoe lank nog, Here?

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?

Vir altyd?

Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

3Hoe lank moet ek nog my eie planne maak

en my dae met kommer deurbring?

Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

4Luister tog en antwoord my, Here my God!

Gee my tog nuwe lewenskrag.

Ek wil nie sterwe nie,

5anders sê my vyand hy het my oorwin

en juig my verdrukkers oor my ondergang.

6Ek hou vas aan u troue liefde,

oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.

Ek wil sing tot eer van die Here,

omdat Hy aan my goed gedoen het.

Inleiding

Hoe lank nog HERE? Dis die noodroep van gelowiges oor al die eeue heen. Hoe lank gaan U ons vergeet Here? Hoe lank moet ons nog swaarkry in hierdie lewe? Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?

In hierdie Psalm hoor ons ’n dringende roep na verlossing en dit is iets waarmee ons kan identifiseer. In hierdie Psalm hoor ons hoe Dawid sy nood na die Here toe bring. Ons weet nie presies wat die omstandighede was waarin Dawid verkeer het toe hy hierdie Psalm gedig het nie. Uit Dawid se geskiedenis weet ons wel dat hy tye in sy lewe beleef het waar hy onder erge vervolging gely het waar sy lewe in gevaar was. Dink maar aan die tyd toe hy as jongman vir sy lewe moes vlug toe koning Saul hom wou doodmaak of die tyd toe sy eie seun Absolom hom van die troon wou afsit om in sy plek koning te word.

In die Psalm self kry ons nie ’n aanduiding in watter van hierdie omstandighede Dawid in verkeer het nie. Wat wel duidelik is, is dat Dawid in ’n erge sielewroeging was toe hy hierdie Psalm geskryf het. Daarin sien ons hoe Dawid vorder vanaf wanhopige vrae na angstige versoeke tot by lofprysing en vertroue in die Here se liefde. Dawid se pad uit wanhoop deur gebed tot vertroue in die Here se liefde gee vir ons ook troos en hoop wanneer die stampe en die stote van die lewe ons moedeloos maak. Hierin sien ons hoe die Here se troue verbondsliefde ons optel wanneer ons wanhoop verval. In hierdie Psalm sien ons dat ons, ons nood na die Here toe mag bring. Ons mag vir uitkoms vra en ons sien dat ons op die Here se troue verbondsliefde kan vertrou.

Bring jou nood na die Here toe

Hierdie Psalm begin by wanhoop. Vier keer vra Dawid die vraag “Hoe lank nog?”

s Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?

s Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

s Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?

s Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Die viervoudige herhaling van die vraag wys vir ons sy intense lyding. Hierin sien ons ook dat hierdie lyding baie meer is as die fisiese omstandighede wat daartoe aanleiding gegee het. Dit is ’n absolute sielewroeging waarin Dawid verkeer. Dit voel vir hom of die Here van hom vergeet het en dat Hy nie Dawid se ellende raaksien nie. Dit voel vir hom of hy alleen staan in hierdie stryd en dat hy absoluut op homself aangewese is. Hy is op daardie punt dat hy net nie meer weet watter kant toe.

In hierdie worstelstryd van Dawid is daar vir ons geweldig baie troos. Wanneer dit voel of die lewe vir ons te veel word, dan mag ons, ons lot teenoor die Here bekla. Hier sien ons hoe Dawid wat een van die groot geloofshelde in die Bybel is na die Here toe kom met sy nood. Hiermee sê die Here vir ons: “jy mag na My toe kom wanneer die lewe vir jou te veel word.” Ons mag na die Here toe kom en vir Hom sê: “Here ek kan nie meer nie. Ek sien nie meer kans nie!” Wanneer die lewe te veel word, bring jou nood na die Here toe.

Vra vir uitkoms

Dawid het sy nood na die Here toe gebring en daarmee saam het hy die Here gesmeek om uitkoms te gee. Hy bring ’n dringende pleidooi na die HERE toe:

Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang.

Te midde van sy diepste vertwyfeling roep Dawid angstig tot Here vir uitkoms. As sy vyand oorwin, dan oorwin die boosheid die goeie en dan is alles verlore.

Soms is dit nodig dat ons tot die besef gebring moet word dat die enigste werklike uitkoms alleen by God te vinde is. In hierdie situasie besef Dawid dat daar alleen by die Here uitkoms is en daarom sy dringende gebed dat die HERE hom moet antwoord. Hy kan nie meer nie en daarom vra hy dat die HERE vir nuwe lewenskrag gee.

Wanneer dit met ons goed gaan dan vergeet ons so maklik dat dit maar alleen die HERE se genade is wat ons staande laat bly. As dit met my goedgaan dan dink ek maklik dat ek nie die HERE nodig het nie. Soms is dit nodig dat ’n krisis in my lewe my tot die besef moet bring dat dit net God is wat my hierdeur kan dra. Wanneer dit goed gaan plaas ons so maklik ons vertroue in ander dinge en nie op die HERE nie. Daarom moet ons weet dat ons in die goeie tye en die slegte tye alleen op die HERE moet vertrou.

Die krisisse in ons lewens help ons om te besef dat ons in goeie en slegte tye alleen op Hom moet vertrou. Wanneer die lewe te veel word mag ons, ons nood na die Here toe bring en ons mag vir uitkoms vra. Dit sal ons by die punt bring waar ons die HERE kan loof en prys uit dankbaarheid vir sy troue verbondliefde.

Vertrou op die HERE se troue verbondsliefde

Die Psalm se einde verskil radikaal van sy begin. Dawid se wanhoop het verander in ’n loflied van dankbaarheid omdat hy nou God se liefde raaksien. In Ps. 13v6 hoor ons:

Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Dawid se vertroue staan op die HERE se troue verbondsliefde. Hierin sien ons die liefdevolle karakter van God raak. Hy kan ons nie laat gaan nie omdat dit teen sy natuur sou wees om dit te doen.

God het Homself voorgeneem om sy liefde aan ons te gee. Daardie liefde sien ons raak in sy handelinge deur al die eeue heen. Nadat Adam en Eva teen Hom gerebelleer het, het Hy steeds in liefde na hulle toe uitgereik. Uit sy liefde het Hy ’n ewige verbond met Abraham aangegaan. “Ek sal vir jou ’n God wees en jy en jou nageslag moet My dien.” Daardie verbond het Hy weer met Abraham se nageslag bevestig by Sinai. Hy het aan Dawid belowe dat een uit Dawid se nageslag vir ewig Koning sal wees. Dit is hierdie troue verbondsliefde wat Dawid deur sy krisis gedra het.

Die belofte van ’n ewige Koning het in Jesus Christus vir ons waar geword. In sy diepste nood het Jesus Christus in bange Godverlatenheid uitgeroep:

“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mat 15v34)

Hy het dit gedoen sodat ons kan weet dat ons selfs in ons diepste krisis en nood nooit alleen sal wees nie, omdat God daar by ons is. Deur ons diepste nood en krisisse dra God se liefde ons, daardie liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus aan die kruis bewys het. Wanneer ons na die kruis kyk, dan weet ons dat ons op die HERE se troue verbondsliefde kan vertrou.

Samevatting

Wanneer ons in nood verkeer moet ons nie die fout maak om ons blind te staar teen die omstandighede nie. Ons moet ons krisisse sien teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade teenoor ons. God se liefde wat ons so duidelik sien teen die agtergrond van die kruisgebeure beteken nie dat ons nooit in ’n krisis sal beland nie. Dit beteken wel dat wanneer ons daarin beland dat sy troue verbondsliefde ons daardeur dra.

Wanneer ons dus in ’n krisis beland moet ons weet dat ons, ons nood voor die HERE se voete mag kom neerlê. Ons mag vir Hom vra om uitkoms te gee en ons moet weet dat sy liefde ons daardeur sal dra net soos Hy ons in die verlede gedra het. Hou dus vas aan die wete dat Die HERE se troue verbondsliefde dra ons wanneer moedeloosheid ons oorweldig.

Amen

01 Mei 2026

Swaarkry en leiding het nie die laaste sê in hierdie lewe nie.


 Skrif: 2 Kor. 4:16 – 5:10 – teksvers 2 Kor. 4:17

Ons lewenspad hier op aarde is nie altyd maklik nie. Seker een van die moeilikste dinge is om te aanskou hoe ’n geliefde deur ouderdom afgetakel word. Om te sien hoe sy verstandelik en liggaamlik agteruit gaan waar die wêreld vir haar verander in ’n vreemde, onveilig plek waar niks meer bekend voel nie.

Dit kan maklik die vraag laat ontstaan: “Hoekom?” Hoekom moet die lewe soms so moeilik en moeisaam wees? Die Here gee vir ons deur sy dienaar Paulus ’n antwoord op hierdie vraag. In 2 Kor. 4:16 & 17 hoor ons:

Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Hier moet ons nie misverstaan nie. Die Here sê nie hier dat ons swaarkry sommer net niks is nie. Hy gee perspektief. In die eerste plek sê gee die Here vir ons die troos: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” Selfs wanneer dit vir jou voel of jy nie meer kan nie, het Hy jou nie vergeet nie. Wanneer ouderdom liggaam en brein begin afbreek en dit vir jou voel of jy nie meer kan vashou nie, is God daar. Die troos lê daarin dat dit nie gaan oor hoe sterk ons aan God vashou nie, maar in hoe styf God ons vashou. God gee vir ons die krag om deur dit te kom deurdat Hy ons dag vir dag vernuwe.

In die tweede plek gee die Here vir ons perspektief ten opsigte van ons lewe nou en die ewigheid wat vir ons wag. Die lewensduur van ’n mens hier op aarde is miskien sewentig of tagtig jaar, maar in vergelyking met die ewigheid is dit “maar gering”. Dink so daaraan. As ons ’n potloodstreep sou kon trek van so ver as wat mens met die sterkste teleskoop (ongeveer 93 biljoen ligjare) dan is die sewentig of tagtig jaar wat ons hier op aarde leef nie eens ’n potloodpuntjie op daardie lyn nie.

Wat ons nou hier sien is die sigbare, maar die Here sê vir ons dat ons verder moet kyk na die vir nou onsigbare ewigheid. Om dit te verduidelik gee die Here vir ons die vergelyking van om in ’n tent te bly teenoor vaste gebou. ’n Tent wat al ’n paar jaar in die wind en weer moet staan raak redelik verweer. Die seil kry gate in en die tentpale raak gebuig deur die wind en die storms. En dit is hoe dit met ons gaan. Die lewe stel sy eise en hoe ouer ons word, hoe meer verweer raak ons en dit laat mens inderdaad sug na iets beter, soos ons 2 Kor. 5:2 hoor:

Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek.

Die belofte wat die Here hier gee van ’n vaste gebou, is ’n ewige tuiste saam met Hom. In Openbaring 21:3 & 4 gee die Here vir ons net so ’n voorsmakie van hoe ons ewige tuiste saam met Hom gaan wees:

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Om dit raak te sien moet ons met ons geloofsoë verby die sigbare hier en nou, verby die verweerde tentwoning kyk. Die Here sê vir ons hier om verby die swaarkry van hierdie lewe te kyk. Kyk verby die aftakeling van ouderdom na hoe God alles nuut gaan maak. Sien die groter prentjie raak.

Die vraag is nou: “Hoe weet ons dat dit die waarheid is?” Dit is waar, want God wat die hemel en die aarde geskep het gee vir ons die waarborg deur die Heilige Gees soos ons hoor in 2 Kor. 5:5:

Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

Die Griekse woord wat in Afrikaans met “waarborg” vertaal is beteken letterlik ’n deposito, ’n deel van die volle koopsom wat vooraf reeds betaal word. Dit gee ’n vaste waarborg van God se teenwoordigheid in ons lewens. Dit is God self wat ons voorberei vir die oorgang van aardse lewe na die heerlikheid omdat Hy nou reeds nou iets van daardie toekom gee, naamlik sy Gees as die ’n deposito en waarborg.

Ons sien en ervaar so ietsie van God se teenwoordigheid, want selfs wanneer ons liggame afgebreek word deur ouderdom en siekte en swaarkry, is dit Heilige Gees wat ons dag tot dag vernuwe deur vir ons geestelike krag te gee om aan te gaan. Dit is ook die Heilige Gees wat daardie verlange in ons na die vaste ewige woning saam met God gee.

Dis die troos wat die Here vir ons gee. In hierdie lewe is ons nie alleen nie. God stap die pad saam met ons. Die Heilige Gees is saam met jou daar waar dit goed gaan met jou en die lewe vol vreugde is, maar veral daar waar die lewe moeilik raak. Daarmee saam ook die waarborg dat die gebrokenheid van hierdie lewe nie die finale werklikheid vir ons is nie. Dit is maar net ’n tydelike tentwoning totdat ons hiervandaan gaan na ons ewige woning saam met God, waar die verdriet en swaarkry van hierdie lewe nie meer deel van ons lewens sal wees nie.

Hierdie troos is egter net waar vir diegene wat glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Indien jy glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy deur sy opstanding vir jou lewe gee omdat Hy die dood oorwin het, kan jy ook vashou aan hierdie troos.

Dis die troos en lewende hoop waaraan gelowiges vashou en daarom hoef ons ook nie bang te wees vir 2 Kor. 5:10 nie.

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Dit is ’n harde werklikheid, dat almal voor die regterstoel van Christus sal staan, maar vir die wat in Christus daar verskyn is daar geen veroordeling nie soos ons Rom. 8:1 hoor omdat die oordeel reeds verby is volgens Joh. 5:24. Ons staan daar met vrymoedigheid en nie met vrees nie (1 Joh. 4:17) want Christus self staan vir ons in (1 Joh. 2:1).

Wanneer ons as gelowiges van ’n geliefde afskeid neem wat na haar ewige woning saam met God verhuis het, is ons hartseer want haar plekkie in ons lewens is nou leeg, maar wanneer ons afskeid neem, treur ons nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons kyk met geloofsoë verby die sigbare werklikheid van hierdie lewe se gebrokenheid na die onsigbare ewige heerlikheid wat vir ons wag.

Amen.

22 Maart 2026

Nader aan God 01 - Wat beteken dit om jou lewenspad saam met God te loop


 Psalm 23

1 'n PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

God het ons geskep nie vir straf en oordeel nie, maar om in ’n intieme verhouding saam met Hom te leef. Met die sondeval het die verhouding tussen God en die mens verwronge geraak, maar in sy groot troue verbondsliefde het God in Christus herstel gebring en dit is die wonderlike hoop wat God vir ons bring.

Die antwoord op wat mens te doen staan wanneer die lewe druk of daar waar jy sukkel op jou geloofspad en dit vir jou voel of God ver is en jy dalk bietjie begin wegdryf het, is nie om harder te probeer nie. Die antwoord is om nader aan God te beweeg. Ons gaan met die volgende paar preke bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg. Vandag gaan ons stilstaan by wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te loop aan die hand van Psalm 23 en die tema van vandag se preek is:

’n lewe van oorvloed saam met God

Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige saam met God loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo, is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuiste saam met God.

Psalm 23 begin met ’n belydenis: “Die Here is my Herder.” Wanneer ons hierdie belydenis saam met Joh. 10:14 & 15 lees dan sien ons hoe spesiaal dit is:

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Deur jou geloof in Jesus Christus begin jou lewe van oorvloed saam met God. Jou geloof in Jesus Christus gee vir jou die versekering dat jy nie meer alleen is nie.

In Psalm 23:2 en 3 hoor ons so ietsie van wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te stap.

Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Letterlik staan daar dat die Herder sy skape bring na ’n plek waar die weiding sag en voedsaam is. Op jou lewenspad saam met God, sorg Hy vir jou met wat die heel beste is vir jou. Verder bring Hy jou na ’n plek wat tot rus lei. Hy “verkwik jou siel” met ander woorde dit gaan oor baie meer as net rus van moegheid. Hy herstel die lewenskrag van jou siel en gemoedsrus.

Alles wat jy het, kos klere, blyplek jou vaardighede en gawes kom alles uit die hand van God. Dit wat jy het, het jy omdat God dit vir jou gegee het. En nog meer. Al die mooi en vreugde in jou lewe kom net van God af en wanneer ons terugkyk na ons lewens en ons sien die goed en mooi en voorspoed wat daar was, dan kan ons weet dit was daar omdat God dit vir ons gegee het.

En dan sien ons ook dat die pad wat ons lewens verloop het, is die “regte” pad wat God vir ons uitgelê het. Ons lewens verloop nie altyd soos wat ons beplan en dink nie, maar wanneer ons terug kyk dan sien ons dat die pad wat God vir ons uitgelê het, tog maar die beste was.

Die lewe is egter nie altyd net maklik en mooi nie. In Ps. 23:4 kry ons die wonderlike troos dat selfs daar waar die lewe donker word, dit juis daar is waar die Here ons vashou en beskerm.

Ons sien in die verskillende vertalings dat die vers effens anders vertaal word. Byvoorbeeld in die 20/20 vertaling is die vertaling: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan” teenoor die OAV 33/53 Vertaling, wat vertaal word met: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee”. Albei vertalings is reg en dit dui op die nuanse van die oorspronklike Hebreeuse teks.

Aan die een kant is die betekenis dat dit dui op donkerste, gevaarlikste deel van die pad waardeur die skape moet gaan om by weiding uit te kom. Die stok wat die herder met hom saamgedra het, was ’n stewige knuppel waarmee hy die skape teen roof en ongediertes beskerm het wat hulle bedreig het en sy staf was daar stok met sy krom punt waarmee die herder gelei en die pad aangedui het. As ’n skaap bietjie afgedwaal het, het die herder hom met daardie krom punt terug gelei op die regte pad weg van gevaar af.

Dit skep vir ons ’n mooi beeld hoe die Here saam met ons deur die donker dieptes van die lewe gaan en dat ons nooit alleen is daarin nie. Die verdere troos is die versekering dat Hy ons beskerm en lei wanneer die lewe swaar raak.

Wat ook so mooi is van Psalm 23, is hoe Dawid hier waar die lewe moeilik raak baie meer persoonlik raak. Tot hiertoe het gepraat van God en hoe God hom deur sy lewe gelei en beskerm het. Maar hier waar die lewe donker raak praat hy nie meer van God nie. Hy praat nou persoonlik met God waar hy sy vertroue teenoor God uitspreek “ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my”

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap, is die troos dat God intiem naby is, veral daar waar die pad op sy swaarste en donkerste is. Dit is waar Hy jou dra wanneer jy nie meer kan nie. En wanneer ons terug kyk dan sal elkeen van ons kan getuig hoe die Here jou gedra het daar waar die lewe donker was.

Die Hebreeuse teks in Ps. 23:4 dra ook die nuanse van die diepste donker van die dood en daarom is die 33/53 Vertaling daarvan dan ook “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie”.

Daar is een ding wat seker is in hierdie lewe en dit is dat elkeen op God se bepaalde tyd liggaamlik sterf. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 so duidelik na vore kom.

In Joh. 10:15b hoor ons Jesus sê: “en Ek lê my lewe af vir die skape.” Ter wille van ons het Jesus alleen deur die donker vallei van die dood gegaan. Hy het niemand gehad wat Hom beskerm en vertroos het nie. Hy het dit ter wille van ons gedoen op grond van God se onbeskryflike liefde vir ons. Hy het in ons plek die Godverlatenheid deurgaan wat ons sonde verdien het.

Die geweldige troos is dat Hy die mag van die dood gebreek het met sy opstanding en dit is ons waarborg dat elkeen wat in Jesus Christus glo nie alleen deur die donker vallei van die dood gaan nie. Dit gee vir ons die waarborg dat die dood nie meer die verskrikking van Godverlatenheid vir ons inhou nie.

Ps. 23:5 & 6 gee dan ook vir ons so kykie wat anderkant die dood vir ons wag. Hier verander die beeld van ’n herder wat sy skape versorg en beskerm na ’n gasheer wat sy gas in oorvloed onthaal.

In die antieke Nabye Ooste was gasvryheid 'n heilige plig. As God jou as gas aanvaar, is jy onder Sy beskerming. Om te eet "in die teenwoordigheid van vyande" beteken dat die vyande gedwing word om toe te kyk hoe God jou eer en beskerm; hulle kan niks doen nie omdat die Gasheer te magtig is.

Olie is by feeste gebruik om die droë vel te verfris en as simbool van verheffing en vreugde en dit dui daarop dat die Here sy gas met waardigheid en koninklike guns beklee. Die beker wat oorloop simboliseer dat God se genade nie bereken of suinig is nie, maar oorvloedig meer as wat nodig is.

Wanneer ’n gasheer ’n gas onthaal het, het die gasheer letterlik sy gas se beker dopgehou om seker te maak dat hy dit kon volhou en dit het vir die gas gesê dat hy welkom is. Hier hoor ons dat die beker nie volgehou word nie. Dit word tot oorlopens tóé volgehou en dit sê vir ons dat die gas nie net welkom is nie. Die Gasheer sê vir ons dat Hy nie wil hê dat ons moet weggaan nie. Ons moet permanent by Hom bly en dit is waarmee Ps. 23:6 dan ook afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Dit sluit dan ook perfek aan by die groot troos van Open. 21:3&4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hoor u die geweldige troos hier geliefdes? Die dood wat eens as opperheerser geheers het oor die lewens van mense is nou finaal oorwin en dit het nie meer ’n houvas op gelowiges nie.

Luister ook na die verdere troos wat ons hoor in Open. 21:22

'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.

Die huis wat vir ons wag anderkant die donker vallei van die dood is nie ’n gebou nie, maar die onbeskryflike heerlike teenwoordigheid van God saam met wie ons, ons lewenspad gestap het en dit is die troos wat die Here gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Elkeen wat glo, ontvang nou reeds hier op aarde die oorvloed van die ewige lewe waar ons saam met God op pad is na die ewige heerlike waar die dood finaal vernietig sal wees sonder trane hartseer of pen en lyding.

Amen