24 Februarie 2013

God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk


24 Feb. 2013         Luk. 9:1 - 17 . Teksverse Luk. 9:13

Lof-Psalm Ps. 66v1                 (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2          (OAB)
Na Gebed Ps. 86 v 1 & 7                  (OAB)
Slotsang Sb 17-1 v1 & 6                   (OAB)

Sien ons kans vir die uitdagings om in God se Koninkryk te werk? Dis nie altyd maklik nie. Hosea moes met ’n prostituut trou, Paulus is gestenig en vir dood agtergelaat en Stefanus is vir sy geloof doodgemaak. As ons so na die uitdagings kyk dan voel dit dikwels vir ons dat ons nie kan nie. As ons so na die geskiedenis kyk dan sien ons dat Moses die verskoning gehad het dat hy nie goed kon praat nie, Timoteus het gevoel dat hy te jonk is en Petrus het bang geword vir die golwe en die wind en later het hy bang geword vir wat die mense sou sê en doen as hulle geweet het dat hy Jesus ken. Jesus se dissipels het net die probleem raakgesien en hulle verskoning was dat dit te duur sal kos om meer as 5 000 mense kos te gee.

Met hierdie verhaal oor die wonder van die vermeerdering van brood leer die Here ons dat ons nie nodig het om onwaardig te voel vir die koninkrykswerk waarvoor God ons roep nie, want God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk.

In ons teksgedeelte hoor ons dat Jesus en sy dissipels ’n besige tyd beleef het. Die dissipels het uitgegaan om die evangelie te verkondig en dit het so ’n groot impak gemaak dat selfs die koning daarvan gehoor het. Daarom het Jesus sy dissipels saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. Maar helaas, ’n bietjie rustigheid was hulle nie beskore nie, want die skare mense het hulle gevolg. Hier sien ons so ietsie van God se genade want Jesus het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God. In Mat 14:14 wat oor dieselfde gedeelte handel hoor ons Hy het hulle innig jammer gekry het en dat Hy die siekes onder hulle gesond gemaak.

Tog gaan hierdie verhaal nie in hoofsaak oor die skare wat Jesus geleer en kos voor gegee het nie. Dit gaan hier oor die dissipels en ons wat moes leer dat die Here in alles sal voorsien vir die Koninkrykswerk waarvoor Hy ons roep. Hierdie verhaal antwoord die vraag van Herodes oor wie Jesus is. Jesus is die Voorsiener van die mens se basiese behoeftes en dat Hy daarom ook oorvloedig sal voorsien vir die sendingtaak waarvoor Hy ons roep.

Hier teen die einde van die dag besef die dissipels dat hier ’n probleem op pad is. Waar gaan hulle kos kry vir al hierdie mense? Hulle het ’n eenvoudige oplossing vir die probleem soos ons hoor in Luk. 9:12
“Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op ’n verlate plek.”

Is dit nie maar ook hoe ons alte dikwels reageer wanneer ons met die probleme te make het wat saam met die Koninkrykswerk gepaard gaan nie? Ek sien nie kans vir die werk nie want: Ek het nie die gawes om as ouderling of diaken te dien nie. Ek is te jonk of nog net ’n kind. Ek weet nie wat om vir my medegelowige te sê in tye van nood nie. Hoe kan ek hulle dan bemoedig? Ek het nie die vrymoedigheid om met mense oor die evangelie te praat nie. Here, ek sien nie kans hiervoor nie. Laat hierdie probleem asb. tog net weggaan!

Die dissipels wil ’n eenvoudige maklike oplossing hê. Hulle wou eintlik maar net weer rustig en alleen saam met Jesus wees. Is dit nie maar ook wat ons as gemeente van die Here vra nie? Here kan ons klompie Doppers nie maar net rustig en alleen saam met U verkeer nie? Ons wil regtig nie nog gepla wees met die probleem van evangelisasie nie? Ons wil regtig waar nie verder sukkel met hierdie probleem van ons finansies nie. Laat hierdie probleme asb. tog net weggaan!

Die probleem is egter dat die eenvoudige oplossing van die dissipels nie die probleem opgelos het nie, maar dat dit maar net die probleem na ’n ander plek verskuif het. Die dorpies in daardie omgewing was maar klein en sou onmoontlik in die behoeftes van so ’n groot skare mense kon omsien. Is ons oplossing nie maar net soos die dissipels sin nie? As ons klompie Doppers maar net rustig voortgaan en hier na binne gerig mekaar warm broei, dan mis ons die hele doel waarom ons kerk van die Here is!

Jesus het die behoefte van die skare raakgesien en Hy het hulle innig jammer gekry. Ons is so dikwels op onsself ingerig dat ons nie die seer en behoeftes van die mense daar buite raaksien nie. Die grootste seer wat ’n mens kan hê is om deur sonde van God vervreem te wees. Dit veroorsaak al die seer en gebrokenheid wat ons in die lewe sien en ervaar. Daarom is die Here se opdrag aan sy kerk dat hulle die goeie nuus van Jesus se Verlossing na die wêreld toe moet bring sodat daar genesing kan kom. Wanneer mens se verhouding met God herstel is dan kan mens die uitdagings van die lewe weer in die oë kyk.

Die dissipels het ’n eenvoudige oplossing gehad en daarom moes hulle die ontnugterende antwoord hoor dat Jesus nie te vinde is daarvoor nie. Hulle wil die probleem eenkant toe skuif, maar Jesus gee dit direk terug vir hulle soos ons hoor in Luk. 9:13
“Gee julle vir hulle iets om te eet,”
Ontsteld en vol verontwaardiging antwoord hulle Jesus:
“Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie . Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

Is dit nie maar ook so dikwels ons antwoord aan die Here wanneer Hy die skynbare onmoontlike van ons verwag nie? Here ek het maar net twee visse en vyf brode en dit is heeltemal onvoldoende vir dit wat U van my vra! Waar moet ek die vermoë en middele vandaan kry vir dit wat U van my verwag? Here dit is ONMOONTLIK! En so kom ons ook maar met allerlei verskonings na vore oor waarom ons nie kan.

Die verbasendste van hierdie verhaal vir my is hoedat die dissipels so vinnig vergeet hoe die Here kort van tevore in alles wat hulle vir hul sendingtaak nodig gehad, voorsien het. Hy het hulle sonder enige iets uitgestuur en opgewonde het hulle teruggekom om te vertel van al die wonders wat gebeur het. Vergeet ons nie ook maar al te maklik hoe die Here ons deur sy genade in die verlede gedra het nie?

Weereens skyn die Here se genade soos ’n helder lig op ’n donker aand. Hy verwyt nie die dissipels nie. Met die bietjie wat hulle het (vyf brode en twee visse) verrig die Here ’n wonderwerk! Die dissipels was egter nie passief nie. Jesus het die wonder verrig, maar hulle moes die werk doen. Hulle moes die mense in groepe laat sit en die kos uitdeel. Hier is egter ’n belangrike beginsel wat na vore kom. ELKE dissipel het gewerk! Daar was nie net een of twee wat gewerk het terwyl die ander toegekyk het nie. Elkeen het gehelp. Jesus gebruik sy volgelinge om die werk te doen, maar dis Hy wat die wonders verrig.

Al wat hulle moes doen was om maar net dit wat hulle gehad het, twee visse en vyf broodjies na Hom toe te bring en Hom te vertrou. Daarmee het Hy meer as 5000 mense kos gegee op so ’n oorvloedige wyse dat daar twaalf mandjies vol oorskietkos oorgebly het. Die Here vra nie van ons wat ons nie het om te gee nie. Al wat Hy vra is bring jouself. Bring jou hande, raak betrokke. Wees beskikbaar!

Wanneer Hy van ons vra om die evangelie uit te dra dan los Hy ons nie alleen nie. Hy het ons na sy hemelvaart nie alleen agtergelaat nie. Die Heilige Gees is elke oomblik by ons en selfs dit wat ons moet sê sal Hy ons voorsê soos ons hoor in Mar. 13:11
moet julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.
Die Heilige Gees het reeds vir ons die evangelie boodskap gegee wat ons aan die wêreld moet bring soos ons byvoorbeeld in Joh. 3:16 hoor:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Nog ’n voorbeeld is Joh. 11:25-26:
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Voordat ons kan uitgaan om die evangelie te verkondig is daar ’n belangrik vraag: “Glo jy dit?” Dit is ’n belangrike vraag wat elkeen vir homself moet afvra. Glo ek dat Jesus die opstanding en die lewe is? Glo ek dat wie ook al in Jesus glo sal lewe, al sterwe hulle ook? Glo ek dat ek die ewige lewe het?

Ons kan nie die goeie nuus aan ander oordra as dit nie vir onsself ook goeie nuus is nie. Ook hierin vra die here nie van ons wat ons nie het nie. Selfs die geloof wat Hy van ons vra gee Hy vir ons. Bring jou twyfelende geloof na die Here toe en Hy sal dit so in oorvloed seën dat daar aan die einde meer sal oorbly as wat jy nodig het.

Geliefdes as ons nie brandende passie van die goeie nuus in ons het nie, dan sal ons nie in sy koninkryk kan werk nie. Elkeen moet eerlik vir homself afvra: Is ek aktief betrokke by die gemeente waarin die Here my geplaas het? Is ek ’n lewende bousteen in hierdie gemeente? Is ek nog deel van die groep wat maklik vinger wys en sê “hulle moet die werk doen,” of is ek deel van die “hulle” wat die werk doen? Ons is ’n klein gemeente en ons kan nie bekostig dat net sommiges die werk doen nie. Die dissipels het uitgegaan en die evangelie verkondig, maar hulle het ook die praktiese werk gedoen soos om die mense te organiseer en die kos uit te deel. Die vraag wat elkeen van ons vir onsself moet afvra is “waar is ek betrokke by die koninkrykswerk in hierdie gemeente? Of strek dit niks verder as dat ek so dan en wan ’n erediens op Sondag bywoon nie?” Die maklike vraag wat mense vra is “wat beteken dit vir my en wat doen hulle vir my?” Die moeilike vraag is “wat beteken ek vir die res van die gemeente?” As ek nog aan die gemeente dink as hulle en nie as ons nie, dan is dit nodig dat ek weereens by die Here se genade in Jesus Christus uitkom sodat ek weer die brandende begeerte kan kry vir die koninkrykswerk waarvoor die Here my geroep het. Om by sy genade uit te kom is eenvoudig. Ek moet glo dat die wonder van Jesus Verlossing ook vir my ’n werklikheid is.

Dan sal ek vind dat dit nie moeilik is om beskikbaar wees en aktief betrokke wees in die gemeente daar waar dit nodig is nie. Dan sal dit nie moeilik wees om uit te reik na behoeftige mense nie. Dan sal ek die seer van mense raak sien en uitreik na hulle toe. Dan sal dit ’n brandende begeerte by my wees om die goeie nuus van God se genade in Jesus Christus aan almal te verkondig.

Opsom
Wanneer ons voor probleme te staan kom is die maklike oplossing: “Here neem ons probleem weg.” Weet u wat geliefdes? Die Here gaan dit doen nie! Hoor u wat die Here vir ons sê? “gee julle vir hulle kos” Reik uit na stukkende mense en bring die evangelie aan hulle. Vertel vir hulle die goeie nuus van Jesus wat gekom het om ’n stukkende wêreld heel te maak. Mense wat die goeie nuus ontvang word soldate wat saam met ons werk om die Koninkryk van God sigbaar te maak. Dit is die taak van die kerk. Niemand kan passief wees nie!

Elkeen moet sy gawes aanbied en aktief betrokke wees in die gemeente. Wees beskikbaar vir die werk wat gedoen moet word sodat ons gemeente haar roeping kan vervul. As daar aksies is wat nodig is om fondse in te samel sodat ons gemeente die evangelie kan verkondig moet almal saamwerk met die gawes wat die Here vir ons gegee het. Al is my gawes hoe min, dit is nie ’n probleem nie, want met my bietjie verrig die Here ’n wonderwerk! Ek moet net beskikbaar wees om die wonder wat die Here verrig uit te deel.

Die Here los ons nie alleen om die onmoontlike te doen nie. Hy doen die onmoontlike vir ons. God gebruik die bietjie wat ons het tot groot seën in sy koninkryk.
Amen

Bly gefokus op Jesus, veral wanneer jy die krisis van ’n storm beleef


10 Feb. 2013         Mat. 14:22 - 36 . Teksvers Mat. 14:27

Lof-Psalm Ps. 147v1 (OAB)
Na Wet Ps. 20 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 147v3 & 2 (OAB)

Daar is een ding wat alle storms in gemeen het. Hulle krap die kalmte en rustigheid in ons lewens deurmekaar. Of dit nou ’n storm is waar die donderweer blits en die wind alles uitmekaar wil skeur en of dit nou ’n storm in jou gemoed is wat deur een of ander krisis in jou lewe veroorsaak word, die effek daarvan is dieselfde. Die rustigheid wat jy voor die storm beleef het is daarmee heen.

Uit die rustigheid waar die dissipels die wonder beleef het waar Jesus vir meer as 5 000 mense kos gegee het met net twee visse en vyf brode, bevind die dissipels hulself midde in ’n storm. Die skuit waarin hulle gevaar het was deur die golwe geteister en hulle kon beswaarlik vordering maak, want die wind was van voor. Uit hierdie gebeure waarin die dissipels in ’n storm vasgevang is, kan ons ook leer hoe om die storms in ons lewens te hanteer.

Die eerste les wat ons leer: Jesus het my tot hier gebring.
Het Jesus geweet dat daar ’n storm oppad was toe Hy sy dissipels vooruit gestuur het? Verseker! En tog het hy hulle gestuur. Dit is op hierdie punt dat ons voor een van die moeilikste lewensvrae te staan kom. As ek ’n goeie lewe ly, waarom kry ek nog swaar in die lewe? Baiemaal maak ons die fout om te glo dat as ek aan God gehoorsaam is, sal dit net goed gaan in my lewe. Daar is predikers wat ’n valse troostelose boodskap verkondig. “Glo net en dit sal goed gaan. As dit nie goed gaan nie, glo jy nie sterk genoeg nie!” Dit is nie waar nie! In Joh. 16:33 sê die Here vir ons: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê.”

Daar is twee tipes lewensstorms waarin mens kan beland. Die een tipe is wanneer mens buite God se wil beweeg. Soos byvoorbeeld die lewenskrisis wat iemand beleef wat hom aan drank en dwelms oorgee of wanneer hy/sy ontrou in hul huwelik is. Dit verstaan ons. Wat ons egter nie verstaan nie is die storms waarin ons beland ten spyte daarvan dat ons werklik probeer om binne God se wil te leef. Ons moet nooit die fout maak om te dink dat ons vrede en sekuriteit van ons omstandighede afhanklik is nie. Ons is veiliger in ’n storm terwyl ons soek na God se wil as wat ons in ’n skynbare rustigheid is buite God se wil.

Wanneer ons in ’n storm beland selfs wanneer ons binne God se wil probeer bly, moet ons weet: Hy het ons tot hier gebring en Hy sal ons nie nou alleen laat nie. Dit is ’n sekuriteit waaraan ons kan vashou al verstaan ons nie altyd God se groter doel nie. God gebruik soms krisisse in ons lewens om ons te vorm net soos die beeldhouer ’n skerp beitel en hamer gebruik om ’n beeld te vorm.

Die tweede les wat ons leer: Jesus bid vir ons
In Mar. 6:48 wat oor dieselfde verhaal gaan hoor ons dat Jesus terwyl Hy nog besig was om te bid, gesien het hoe swaar hulle roei en dat die wind teen hulle was. Jesus is nie blind vir ons probleme nie. Hy weet daarvan en Hy gee om. Ons as sy kerk is vandag nog as te ware besig om te roei op ’n stormagtige see waar ons teen die sonde van die wêreld in stryd is. In Rom. 8:34 hoor ons dat Jesus aan die regterhand van God sit en dat Hy vir ons pleit. Jesus is nie blind vir ons krisisse nie en Hy dra ons deur sy gebede.

Die derde les wat ons leer: Jesus kom na ons toe in die storm
Dit voel dikwels vir ons of die Here ons in die steek gelaat het wanneer die lewe op sy swaarste is. Dis daardie tye in mens se lewe wat dit vir my voel of ek net teen die plafon vas bid en die Here hoor nie. Die dissipels het ook alleen gevoel terwyl hulle daar teen die golwe en die wind gestoei het en toe hulle Jesus wel sien het hulle Hom nie herken nie!

In Mat 14:26 hoor ons:
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ’n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.
Hoe dikwels herken ons ook nie die hand van die Here in die krisistye in ons lewens nie? En tog, Hy is daar en dan hoor ons sy gerusstellende stem:
“Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
Ons is dikwels bang vir die moeilike tye in ons lewens en dan vind ons daarmee uit dat dit ons nader aan Jesus gebring het.

Die vierde les wat ons leer: Jesus help ons om te groei in ons geloofslewe
Die dissipels moes met hierdie storm leer dat hulle net op Jesus moes vertrou, al was Hy nie dadelik by hulle nie en al het dit gelyk of Hy nie omgee nie. Die fokus val hier op Petrus. Hy het Jesus vertrou en daarom het hy die moed gehad om uit die skuit te klim.

Een van die vrae wat my altyd oor hierdie verhaal laat wonder is waarom Petrus toe hy amper by Jesus was, so naby dat hy aan Hom kon vat, sy oë van Jesus af gehaal het en op die wind en golwe begin fokus het? Die rede vind ons in Jesus se vriendelike vermaning wat ons in Mat 14:31 hoor:
“Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Die Griekse woord wat in Afrikaans met twyfel vertaal is beteken letterlik om by ’n vurk in die pad te kom en nie te weet watter pad om te kies nie. Ons kan sê dat Petrus op pad na Jesus toe gekom waar daar ’n afdraai paadjie was. Voor hom was Jesus en langs hom was die wind en die golwe en by daardie afdraai paadjie het hy begin twyfel, soveel so dat hy nie meer vir Jesus raak gesien het nie, maar net die wind en die golwe hier om hom.

Petrus se fokus was nie meer op Jesus nie en daarom het hy begin sink. Hoe dikwels is dit nie ook maar ons probleem nie? Ons is besig om op die geloofspad in volle vertroue te stap en dan begin ons twyfel wanneer ons by ’n afdraai paadjie verbygaan. Dan kyk ons vir die golwe in plaas van om na Jesus te kyk! Dit is wanneer ons op die probleem begin fokus in plaas van op Jesus dat ons begin sink. As my fokus van Jesus af is raak die lewe te veel vir my.

Hier sien ons ook hoe groot God se genade is. Na Petrus se hulpkreet het Jesus dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp. Ons geloofspad is nie maklik nie. Dikwels moet ons tussen die golwe en die wind in geloof loop. Ek is voortdurend bewus van my twyfel en dikwels sink ek, maar die Here red my elke keer. Wanneer ons die Here se stem hoor: kom, dan moet ons weet dat Hy wil hê dat ons dit sal waag op die pad van radikale liefde en gehoorsaamheid en so ons bangheid en kleingeloof oorkom. Geloof beteken nie om te glo ten spyte van die bewyse nie, maar veel eerder om gehoorsaam te wees ten spyte van die gevolge. Te midde van die storms en krisisse in ons lewens moet ons net op Jesus vertrou en gehoorsaam wees ongeag wat die omstandighede mag wees.

Die vyfde les wat ons leer: Jesus loop al die pad saam
As Jesus sê “kom”, dan moet ons weet dat dit wat Hy begin Hy sal klaarmaak. Ons mag dalk struikel langs die pad, maar ons moet weet dat God nie gekeer sal word nie. Jesus en Petrus het saam na die skuit toe teruggestap op die water. Nadat hulle in die skuit geklim het, het die storm bedaar en die dissipels het gesien dat God groter is as enige storm.

Die dissipels was binne in ’n storm, maar hulle was nie alleen nie. Jesus was wel ook in ’n storm waar ’n vervloekte kruisdood Hom in die gesig gestaar het. Daar was egter nie vir Hom hulp nie. Hy moes daardie storm alleen trotseer. Hy het egter enduit deurgedruk ten spyte daarvan dat Hy bloed gesweet het in antisipasie daarvan en dat Hy in bange Godverlatenheid moes uitroep: “My God My God, waarom het u My verlaat?” Hy het enduit volgehou en die dood oorwin met sy opstanding sodat ons kan lewe. Jesus loop al die pad saam met ons op die geloofspad waartoe Hy ons geroep het. Die ergste wat in een van ons lewensstorms kan gebeur is dat ons liggame kan sterf en as dit gebeur dan staan Jesus aan die ander kant en wag.

Samevatting
In die storms van die lewe moet ons weet:
Jesus het ons tot hier gebring: en Hy sal ons nie nou alleen laat nie
Jesus bid vir ons: want Hy is nie blind vir ons krisisse nie en Hy dra ons deur sy gebede.
Jesus kom na ons toe in die storm: Ons is dikwels bang vir die moeilike tye in ons lewens en dan vind ons daarmee uit dat dit ons nader aan Jesus gebring het.
Jesus help ons om te groei in ons geloofslewe: Te midde van die storms en krisisse in ons lewens moet ons net op Jesus vertrou en gehoorsaam wees ongeag wat die omstandighede mag wees.
Jesus loop al die pad saam met ons op die geloofspad waartoe Hy ons geroep het: Die ergste wat in een van ons lewensstorms kan gebeur is dat ons liggame kan sterf en as dit gebeur dan staan Jesus aan die ander kant en wag.

Lewensstorms is onvermydelik. Wanneer hulle kom vertrou net op Jesus deur op Hom alleen te fokus en moenie na die stormwind en golwe om julle kyk nie.
Amen

17 Februarie 2013

Verkondig die evangelie aan die hele mensdom


Lees vooraf eers :Mar. 16:9 - 20
Fokusgedeelte : Mar. 16:15 & 16
15Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.

Wat is die doel van Jesus se kerk hier op aarde? Hoekom is ons lidmate van die Gereformeerde Kerk Reddersburg? Ons trap so maklik in die slaggat om te dink dat die kerk oor my en my behoeftes gaan. Die kerk het een belangrike doel en dit is om die koninkryk van God sigbaar te maak deur die evangelie aan die hele mensdom te verkondig. Onthou, ons wat hier binne sit is die kerk, nie die gebou waarin ons sit nie! Ons het ’n werk om te doen. Daardie werk word duidelik uitgespel in Jesus se opdrag aan sy dissipels na sy opstanding en net kort voor sy hemelvaart soos ons hoor in Mar. 16:15:
“Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Dit is dan die opdrag wat Jesus vir sy kerk gee: “verkondig die evangelie!” Wat moet ons dan nou eintlik aan die hele mensdom verkondig? Wat is die evangelie? “Evangelie” is afgelei van die Griekse woord wat iets soos “goeie nuus” beteken. Letterlik beteken dit nuus wat mens bly maak. Wanneer ons dus die evangelie verkondig, dan moet ons aan die hele mensdom die goeie nuus verkondig wat hulle sal bly maak.

Wat is die boodskap van hierdie goeie nuus dan nou eintlik dat dit so belangrik is dat ons dit aan die hele mensdom moet verkondig? Die evangelie / goeie nuus is die verhaal van God se reddende genade met die mensdom. Dit is wat God vir ons vertel in die Bybel wat sy Lewende Woord is. Die geskiedenis van die pad wat God met die mens gekom het van die begin af toe Hy alles geskep het. Eers direk met die mensdom (Genesis 1 – 11), dan deur Israel met die mensdom (Genesis 12 – Maleagi), dan deur Jesus met die mensdom, Israel ingesluit (die Nuwe Testament).

Dit is ’n geskiedenis waarin God voortdurend eerste sy hand na die rebelse mens uitsteek, waar Hy voortdurend teleurgesteld word, maar nogtans ten spyte van die teleurstellings weer na die mens toe uitreik. In hierdie geskiedenis van die pad wat God met die mens saam gekom het, is daar een ding wat soos ’n paal bo water uitstaan, God se geduld en trou.

Die klimaks van die goeie nuus is die koms van Jesus Christus. God word mens en Hy kom herstel sy heerskappy (die Koninkryk van God) nadat die bose magte die wêreld oorgeneem het. Die Koninkryk van God beteken dat God in die harte van mense regeer wat Jesus Christus in geloof aanvaar het en so word sy heerskappy sigbaar in ’n wêreld wat God nie as Koning erken nie.

Jesus het gekom om die mens met God te versoen deur Homself as offer te gee deurdat Hy ’n vervloekte kruisdood gesterf het. Daarna het Hy die dood oorwin met sy opstanding sodat die mens se aardsvyand, die dood nie meer ’n houvas op die mens het nie. Met hierdie oorwinning gee Hy aan elkeen wat voor die skepping van die wêreld verkies is, die ewige lewe.

Hy roep ons om die evangelie te glo en ons lewe aan Hom toe te wy soos ons hoor in Mar. 16:16a
       “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word.”
Hy versamel sy kinders as ’n groot familie om God Drie-Enig (Vader, Seun en Heilige Gees) te verheerlik. Hulle dra sy genade boodskap (goeie nuus / evangelie) deur die krag van die Heilige Gees met woord en daad die wêreld in om in sy Naam die nood van mense te verlig (die mens se grootste nood is sy gebroke verhouding met die enigste Lewende God).

Met Nagmaal word die goeie nuus dan ook op ’n sigbare wyse deur die tekens van brood en wyn aan ons verkondig sodat dit brandend in ons harte kan wees en dit ons dring om die goeie nuus uit te dra. Hierdie sending opdrag word uitgevoer deur alle mense wat God nie ken nie, uit te nooi om die evangelie van Jesus deur die genade van God te glo. Die uitverkore kinders van God hoor die goeie nuus / evangelie en word gered; Wie nie glo nie en in hul ongeloof volhard sal veroordeel word soos ons hoor in Mar. 16:16b:
wie nie glo nie, sal veroordeel word.
Jesus se volgelinge / dissipels / kerk wag gespanne op sy koms om die stukkende wêreld heel te maak.

Dit is die goeie nuus / evangelie wat aan die hele mensdom verkondig moet word. Die Goeie Nuus kan in die volgende drie punte opgesom word:
1) Hoe groot is my sonde en elende
2) Hoe kan ek gered word (Jesus Christus)
3) My dankbaarheid (Hoe leef ek vir Jesus Christus)
Die Goeie Nuus is Jesus Christus!

Is ons (dit wil sê die Gereformeerde kerk Reddersburg) gehoorsaam aan Jesus se opdrag aan sy kerk? Nog nader geliefdes: Glo ek die goeie nuus? Indien ek glo, aan hoeveel mense het ek al hierdie goeie nuus vertel?
Amen