10 Feb. 2013 Mat. 14:22 - 36 . Teksvers Mat. 14:27
Lof-Psalm Ps. 147v1
(OAB)
Na Wet Ps. 20 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 147v3
& 2 (OAB)
Daar
is een ding wat alle storms in gemeen het. Hulle krap die kalmte en rustigheid
in ons lewens deurmekaar. Of dit nou ’n storm is waar die donderweer blits en
die wind alles uitmekaar wil skeur en of dit nou ’n storm in jou gemoed is wat
deur een of ander krisis in jou lewe veroorsaak word, die effek daarvan is
dieselfde. Die rustigheid wat jy voor die storm beleef het is daarmee heen.
Uit
die rustigheid waar die dissipels die wonder beleef het waar Jesus vir meer as
5 000 mense kos gegee het met net twee visse en vyf brode, bevind die
dissipels hulself midde in ’n storm. Die skuit waarin hulle gevaar het was deur
die golwe geteister en hulle kon beswaarlik vordering maak, want die wind was
van voor. Uit hierdie gebeure waarin die dissipels in ’n storm vasgevang is,
kan ons ook leer hoe om die storms in ons lewens te hanteer.
Die
eerste les wat ons leer: Jesus het my tot hier gebring.
Het
Jesus geweet dat daar ’n storm oppad was toe Hy sy dissipels vooruit gestuur
het? Verseker! En tog het hy hulle gestuur. Dit is op hierdie punt dat ons voor
een van die moeilikste lewensvrae te staan kom. As ek ’n goeie lewe ly, waarom
kry ek nog swaar in die lewe? Baiemaal maak ons die fout om te glo dat as ek
aan God gehoorsaam is, sal dit net goed gaan in my lewe. Daar is predikers wat
’n valse troostelose boodskap verkondig. “Glo net en dit sal goed gaan. As dit
nie goed gaan nie, glo jy nie sterk genoeg nie!” Dit is nie waar nie! In Joh. 16:33 sê die Here vir ons:
“In die wêreld sal julle dit moeilik hê.”
Daar
is twee tipes lewensstorms waarin mens kan beland. Die een tipe is wanneer mens
buite God se wil beweeg. Soos byvoorbeeld die lewenskrisis wat iemand beleef
wat hom aan drank en dwelms oorgee of wanneer hy/sy ontrou in hul huwelik is.
Dit verstaan ons. Wat ons egter nie verstaan nie is die storms waarin ons
beland ten spyte daarvan dat ons werklik probeer om binne God se wil te leef.
Ons moet nooit die fout maak om te dink dat ons vrede en sekuriteit van ons
omstandighede afhanklik is nie. Ons is veiliger in ’n storm terwyl ons soek na
God se wil as wat ons in ’n skynbare rustigheid is buite God se wil.
Wanneer
ons in ’n storm beland selfs wanneer ons binne God se wil probeer bly, moet ons
weet: Hy het ons tot hier
gebring en Hy sal ons nie nou alleen laat nie. Dit is ’n sekuriteit
waaraan ons kan vashou al verstaan ons nie altyd God se groter doel nie. God
gebruik soms krisisse in ons lewens om ons te vorm net soos die beeldhouer ’n
skerp beitel en hamer gebruik om ’n beeld te vorm.
Die
tweede les wat ons leer: Jesus bid vir ons
In
Mar. 6:48 wat oor
dieselfde verhaal gaan hoor ons dat Jesus terwyl Hy nog besig was om te bid,
gesien het hoe swaar hulle roei en dat die wind teen hulle was. Jesus is nie
blind vir ons probleme nie. Hy weet daarvan en Hy gee om. Ons as sy kerk is
vandag nog as te ware besig om te roei op ’n stormagtige see waar ons teen die
sonde van die wêreld in stryd is. In Rom.
8:34 hoor ons dat Jesus aan die regterhand van God sit en dat Hy
vir ons pleit. Jesus is
nie blind vir ons krisisse nie en Hy dra ons deur sy gebede.
Die
derde les wat ons leer: Jesus kom na ons toe in die storm
Dit
voel dikwels vir ons of die Here ons in die steek gelaat het wanneer die lewe
op sy swaarste is. Dis daardie tye in mens se lewe wat dit vir my voel of ek
net teen die plafon vas bid en die Here hoor nie. Die dissipels het ook alleen
gevoel terwyl hulle daar teen die golwe en die wind gestoei het en toe hulle
Jesus wel sien het hulle Hom nie herken nie!
In
Mat 14:26 hoor ons:
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het
hulle groot geskrik en gesê: “Dis ’n spook!” Van angs het hulle hard begin
skreeu.
Hoe
dikwels herken ons ook nie die hand van die Here in die krisistye in ons lewens
nie? En tog, Hy is daar en dan hoor ons sy gerusstellende stem:
“Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
Ons is dikwels bang vir die moeilike
tye in ons lewens en dan vind ons daarmee uit dat dit ons nader aan Jesus
gebring het.
Die
vierde les wat ons leer: Jesus help ons om te groei in ons
geloofslewe
Die
dissipels moes met hierdie storm leer dat hulle net op Jesus moes vertrou, al
was Hy nie dadelik by hulle nie en al het dit gelyk of Hy nie omgee nie. Die
fokus val hier op Petrus. Hy het Jesus vertrou en daarom het hy die moed gehad
om uit die skuit te klim.
Een
van die vrae wat my altyd oor hierdie verhaal laat wonder is waarom Petrus toe
hy amper by Jesus was, so naby dat hy aan Hom kon vat, sy oë van Jesus af
gehaal het en op die wind en golwe begin fokus het? Die rede vind ons in Jesus
se vriendelike vermaning wat ons in Mat
14:31 hoor:
“Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Die
Griekse woord wat in Afrikaans met twyfel vertaal is beteken letterlik om by ’n
vurk in die pad te kom en nie te weet watter pad om te kies nie. Ons kan sê dat
Petrus op pad na Jesus toe gekom waar daar ’n afdraai paadjie was. Voor hom was
Jesus en langs hom was die wind en die golwe en by daardie afdraai paadjie het
hy begin twyfel, soveel so dat hy nie meer vir Jesus raak gesien het nie, maar
net die wind en die golwe hier om hom.
Petrus
se fokus was nie meer op Jesus nie en daarom het hy begin sink. Hoe dikwels is
dit nie ook maar ons probleem nie? Ons is besig om op die geloofspad in volle
vertroue te stap en dan begin ons twyfel wanneer ons by ’n afdraai paadjie
verbygaan. Dan kyk ons vir die golwe in plaas van om na Jesus te kyk! Dit is
wanneer ons op die probleem begin fokus in plaas van op Jesus dat ons begin
sink. As my fokus van Jesus af is raak die lewe te veel vir my.
Hier
sien ons ook hoe groot God se genade is. Na Petrus se hulpkreet het Jesus
dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp. Ons geloofspad is nie maklik nie.
Dikwels moet ons tussen die golwe en die wind in geloof loop. Ek is voortdurend
bewus van my twyfel en dikwels sink ek, maar die Here red my elke keer. Wanneer
ons die Here se stem hoor: kom, dan moet ons weet dat Hy wil hê dat ons dit sal
waag op die pad van radikale liefde en gehoorsaamheid en so ons bangheid en
kleingeloof oorkom. Geloof beteken nie om te glo ten spyte van die bewyse nie,
maar veel eerder om gehoorsaam te wees ten spyte van die gevolge. Te midde van die storms en
krisisse in ons lewens moet ons net op Jesus vertrou en gehoorsaam wees ongeag
wat die omstandighede mag wees.
Die
vyfde les wat ons leer: Jesus loop al die pad saam
As
Jesus sê “kom”, dan moet ons weet dat dit wat Hy begin Hy sal klaarmaak. Ons
mag dalk struikel langs die pad, maar ons moet weet dat God nie gekeer sal word
nie. Jesus en Petrus het saam na die skuit toe teruggestap op die water. Nadat
hulle in die skuit geklim het, het die storm bedaar en die dissipels het gesien
dat God groter is as enige storm.
Die
dissipels was binne in ’n storm, maar hulle was nie alleen nie. Jesus was wel
ook in ’n storm waar ’n vervloekte kruisdood Hom in die gesig gestaar het. Daar
was egter nie vir Hom hulp nie. Hy moes daardie storm alleen trotseer. Hy het
egter enduit deurgedruk ten spyte daarvan dat Hy bloed gesweet het in
antisipasie daarvan en dat Hy in bange Godverlatenheid moes uitroep: “My God My
God, waarom het u My verlaat?” Hy het enduit volgehou en die dood oorwin met sy
opstanding sodat ons kan lewe. Jesus loop al die pad saam met ons op die geloofspad waartoe Hy ons
geroep het. Die ergste wat in een van ons lewensstorms kan gebeur is dat
ons liggame kan sterf en as dit gebeur dan staan Jesus aan die ander kant en
wag.
Samevatting
In
die storms van die lewe moet ons weet:
Jesus
het ons tot hier gebring: en Hy sal ons nie nou alleen laat nie
Jesus
bid vir ons: want
Hy is nie blind vir ons krisisse nie en Hy dra ons deur sy gebede.
Jesus
kom na ons toe in die storm: Ons is dikwels bang vir die moeilike tye in ons lewens en
dan vind ons daarmee uit dat dit ons nader aan Jesus gebring het.
Jesus
help ons om te groei in ons geloofslewe: Te midde van die storms en
krisisse in ons lewens moet ons net op Jesus vertrou en gehoorsaam wees ongeag
wat die omstandighede mag wees.
Jesus
loop al die pad saam met ons op die geloofspad waartoe Hy ons geroep het: Die ergste wat in een van
ons lewensstorms kan gebeur is dat ons liggame kan sterf en as dit gebeur dan
staan Jesus aan die ander kant en wag.
Lewensstorms
is onvermydelik. Wanneer hulle kom vertrou net op Jesus deur op Hom alleen te
fokus en moenie na die stormwind en golwe om julle kyk nie.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking