06 Oktober 2013

Dood vir die sonde, maar lewend vir God

6 Okt. 2013 GKE
Skriflesing Rom. 6 teksvers Rom. 6:23
Liturgie
na Votum        Ps. 111-2 v 1 & 4  (NAB)
Na Wet            Ps. 1-1 v 1 & 3  (OAB)
Na gebed         Ps. 119-2 v 14 , 18 & 27  (NAB)
Slotsang          SB. 14-1 v 1 , 2 & 3
Inleiding
As jy voor die keuse gestel moet word waar die een alternatief lewe is en die ander dood, wat sal jy kies? Ek is seker dat elkeen van ons lewe sal kies. Die probleem is egter dat die keuse van lewe ’n prys het. ’n Prys wat so duur is dat dit onmoontlik is om daardie prys te betaal soos byvoorbeeld R100 biljoen rand. As ons nie die prys kan betaal nie is die enigste oorblywende keuse die dood.

Genade en genade alleen
Terwyl jy oppad is om tereggestel te word kom iemand en sê vir jou: “jy is vry want ek sal in jou plek tereggestel word. Moenie bekommer nie, want ek neem jou identiteit aan.” Wanneer hulle my doodmaak sal dit net so goed wees dat hulle jou doodgemaak het. Met ander woorde die persoon wat tereggestel moet word en die Redder het in so mate plekke omgeruil dat hulle as te ware identiteite omruil. Dit is wat Christus vir ons kom doen het. Dit is wat die Here in Rom. 6:5 vir ons sê dat as met Hom een geword het ons ook in sy dood met Hom een is. Christus se sterwe aan die kruis is asof ons self aan die kruis vasgespyker was en die prys vir die sonde betaal het soos ons ook in Rom. 6:6 hoor:
Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.

As iemand in bogenoemde voorbeeld dus na die tyd sou navraag doen by daai tronk waar die teregstelling plaasgevind het om na ons te verneem sal hulle sê: “Jammer daardie persoon is nie meer met ons nie. Hy/sy is dood!” Iemand wat vir ’n oortreding doodgemaak is, kan tog nie aanhou om daardie oortreding te begaan nie, soos ons hoor in Rom. 8:7:
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.

Die logiese gevolg hiervan is dat ons lewe in plaas van om dood te wees. Net soos wat ons een is met Christus in sy dood deel ons ook in die lewe wat Hy met sy opstanding verkry het soos wat ons hoor in Rom. 6:5:
Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.
Christus het die prys ten volle betaal. Hy het die mag van die sonde gebreek daarom gee Hy aan ons die lewe.

Om een te wees met Christus in sy sterwe en opstanding is dat dit net so goed is asof onsself doodgemaak is en die dood oorwin het. Hoe word ons een met Christus sodat ons een met Hom kan wees in sy dood en opstanding? Alleen maar deur die geloof wat die Heilige Gees verniet aan ons gee. Dit is wat God se genade is. In plaas van die dood kry ons die lewe sonder dat ons iets hoef te doen of gee om dit te verdien.

Wat beteken dit vir ons? Ons staan nie meer onder die wet nie soos ons in Rom. 6:15 hoor omdat een van die funksies van die wet is om ons te wys wat ons sonde is soos ons hoor in Rom. 5:20
Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.
Omdat ons deel in die genade is ons nie meer onderworpe aan die oordeel van die wet nie en daarom staan ons nie meer onder die wet nie. Dit beteken dat dit nie meer van my pogings om die wet te onderhou afhang of ek vir God aanvaarbaar is nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sy liefde verdien nie. Met ander woorde, my gehoorsaamheid aan die wet bepaal nie hoe lief God my het nie!

Maar wat van die wet?
Bogenoemde boodskap van genade laat die vraag ontstaan: “maak dit nie van ons onverskillige en lui Christene nie? Ek kan mos maar sonde doen, God vergewe my mos. Dit is ’n vraag wat twee keer in ons teksgedeelte gevra word soos ons hoor in Rom. 6:1
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?
En ook weer in Rom. 6:15
Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade?

Die antwoord hierop is baie duidelik soos ons hoor in Rom. 6:2
Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
En ook weer in Rom. 6:16
Beslis nie. Julle weet tog: as julle, julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.
Die Griekse woorde wat met “beslis nie” vertaal is, beteken letterlik dat dit nie kan gebeur nie. Daar staan nie dat dit nie moet gebeur nie of nie behoort te gebeur nie. Dit KAN NIE, met ander woorde dit is onmoontlik! ’n Vuur wat brand is warm. ’n Vlam kan nie koud wees nie!

Die beeld wat hier gebruik word om dit te verduidelik is die van ’n slaaf. ’n Slaaf kan nie anders as om aan sy meester gehoorsaam te wees nie. Hy het geen vryheid nie en MOET doen wat sy baas vir hom sê om te doen. As daardie slaaf dan sy vryheid ontvang is hy nie meer gebonde aan daardie slawemeester nie. Jesus het ons juis kom verlos van die slawerny van die sonde. Om terug te keer na ons beeld van die gevange wat van die doodstraf bevry is. As jy bevry is van ’n lot waar jy doodgemaak sou word gaan jy tog nie vrywillig weer terugkeer en aanmeld by daardie tronk nie! As jy uit ’n rioolput gered is en jy is skoongewas en jou siektes wat jy daar opgedoen is genees gaan mens tog nie weer vrywillig in daardie rioolput terugklim nie!

Dis wat God vir ons sê in ons teksvers Rom. 6:23:
Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Met ander woorde: “Ek het jou bevry van die dood en gee aan jou die lewe. Leef nou die nuwe lewe wat jy ontvang het.” Ons roeping is om roeping is om vir God te leef, nie vir die sonde nie.

Wat beteken dit prakties? Beteken dit dat ons nie meer sonde doen nie? Nee, geliefdes, want die Here sê ook baie duidelik vir ons in 1 Joh. 1:8:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
Wat dit wel beteken is dat ek nie meer verskoning soek vir my sonde nie. Dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van my sonde omdat ek al hoe meer sensitief raak vir die Heilige Gees wat besig is met God se heiligmakingsproses in my lewe. Dit beteken dat ek besef dat dit God se genade is daar waar ek wel gehoorsaam word aan sy liefdesopdrag. Dit beteken dat ek nie meer op myself nie, maar wel op God se genade roem. Dit beteken dat ek die vreugde begin smaak om aan God gehoorsaam te wees. Dit beteken dat ek God se teenwoordigheid in my lewe begin raak sien en dat sonde al hoe meer afstootlik word vir my. Met ander woorde ek sien nie sonde as iets lekkers wat ek moet prysgee nie, maar dat dit iets afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie.

Iemand wat nog nie rêrig bewus is van sy eie sondegebrokenheid nie is nog ver van God se genade af. Iemand wat die houding het van: “ag God gee mos sy genade aan my so dit maak nie saak of ek in die sonde volhard of nie” verstaan nog niks van God se genade nie!

Wat doen ek met die sonde wat nog deel is van my lewe? Die Here sê vir ons in 1 Joh. 1:9:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Slot
Beteken God se genade dat ons nou maar ’n roekelose lewe kan ly want God vergewe ons mos? Nee geliefdes, dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van sonde in my lewe en my afhanklikheid van God om dit te oorwin. Dit beteken dat sonde nie meer vir my iets lekker is waarvan ek my moet weerhou nie, maar wel dat sonde vir my iets afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie. Dit beteken dat ek al hoe meer verlang na God se teenwoordigheid in my lewe deur opnuut weer bewus te word van sy genade in Jesus Christus. Dit beteken dat ek al hoe meer besef dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Geliefdes kom ons wy ons lewens aan God want die loon wat die sonde gee, is die dood, maar die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Amen

God gee vir ons al die verskillende gawes om ons van sy liefde te leer

Son. 22 Sep 2013 GKE
Inleiding
Verlede week het ons gehoor dat God liefde is en daarom kan en behoort ons mekaar ook lief te hê. Omdat God ons eerste liefgehad het met Jesus Christus se soendood aan die kruis kan ons ook liefhê. Die vraag is: “hoe moet ons mekaar lief hê?” Liefde is ’n woord wat so maklik verkeerd verstaan kan word. Ons dink so maklik sentimenteel oor liefde. Liefde is egter baie meer as twee jong verliefdes wat handjies vashou en verlore in mekaar se oë staar.

In 1 Kor. 13 verduidelik die Here presies wat liefde werklik is. Wanneer ons na hierdie gedeelte luister dan is dit belangrik dat ons kennis neem van die konteks waarbinne die Here dit vir ons gee. Ons moenie die fout maak om te dink dat dit maar net ’n sentimentele liefdeslied wat losstaande binne hierdie brief voorkom nie. Paulus is eintlik besig om die gemeente uit trap! Net in die vorige hoofstuk beskryf Paulus die verskillende gawes wat die Heilige Gees aan sy kerk gee. Hierdie gawes was ook teenwoordig in die kerk in Korinte. Die probleem was egter dat hulle sommige geestesgawes belangriker as ander beskou en in hulle hoogmoed daarna gestrewe om aansien te bekom, deur die beoefening van sogenaamd belangrike gawes.

In hierdie gedeelte verduidelik Paulus vir die gemeente in Korinte dat al die geestelike gawes een doel voor oë het en dit is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef. Hiermee leer die Here ons ook wat die liefde prakties is en hoe ons dit teenoor mekaar moet uitleef.

In 1 Kor. 13 leer die Here ons drie belangrike aspekte van die liefde:
1) Die liefde is noodsaaklik
2) Wat is die aard van liefde en
3) Die liefde is vir altyd.

Die liefde is noodsaaklik
Sonder liefde is die beoefening van al die geestelike gawes nutteloos en sinneloos. Wat help dit dat ’n mens die gawe van tale het as dit nie liefde bevorder nie? Sonder liefde is die gawes van die verstand, van wonders en onthouding heeltemal nutteloos! In Hoofstuk 12 wys Paulus die Korintiërs daarop dat hulle strewe na beter of hoër gawes liefdeloos is.

Hulle het die gawe van spreek in tale gebruik om te wys hoe belangrik hulle was. As jy nie in tale gespreek het nie was jy as minderwaardig beskou. Ons vind hierdie siening vandag nog onder sommige gelowiges. Hulle heg ’n soort rangorde daaraan en die spreek in tale wys dat jy al baie gevorder het en dat dit as te ware van jou ’n “superchristen” maak.

Paulus wys ons egter dat die spreek in tale eintlik maar selfsugtige handeling is omdat dit op jouself gerig is soos ons hoor in 1 Kor. 14:4
Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op
Die geestesgawes moet dus gebruik word om mekaar op te bou. Liefde het ten doel om jou naaste se belange te bevorder en nie om jou eie belange ten koste van jou naaste te bevorder nie. As jy dit doen dan is jy soos ’n leë blik wat ’n groot geraas maak. Dit trek baie aandag, maar dit is leeg en nutteloos.

As die geestelike gawes dus op ’n liefdelose manier gebruik word om eie belange te bevorder is dit nutteloos omdat die doel van geestelike gawes is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef.

Wat is die aard van liefde?
In 1 Kor. 13:4-7 verduidelik Paulus vir die Korintiërs hoe die liefde prakties lyk. Dit is moeilik om ’n abstrakte begrip soos liefde te definieer. Dink maar bietjie na oor hoe julle dit sal doen as iemand vir jou vra: “Wat liefde nou eintlik is? Verduidelik dit asb. vir my.” Wat sal jy hom antwoord? Hiermee leer die Here ons wat ware liefde is. Hy doen dit deur aan ons te vertel wat liefde wel is en ook om aan ons uit te wys wat liefde nie is nie.

Paulus beskryf die liefde as geduld met mense wie jy sukkel om lief te hê. Bly altyd vriendelik. Vriendelikheid soek steeds die toenadering en wil verhinder dat vervreemding tussen persone of partye intree. Dit is nogal ’n uitdaging. Dit is maklik om geduldig en vriendelik te wees met mense van wie jy hou. Dit is nie so maklik met mense van wie jy nie so baie hou nie. Hoe tree ons teenoor mekaar op as ons nie heeltemal oor ’n saak saamstem nie? Is ons ’n voorbeeld vir die wêreld daarbuite wat ons mat valkoë dophou?

Dan beskryf Paulus wat liefde nie is nie. Die liefde is nie afgunstig nie. Jaloesie bly maar altyd ’n probleem by ons. Gun ons mekaar werklik die seëninge wat God aan ons uitdeel? Die liefde is nie grootpraterig nie en is nie verwaand nie. Net so ’n moeilike een. Hoe maklik dink ons nie dat ons so ’n bietjie beter as ander is nie? Dis waar die geskinder vandaan kom. Het jy gehoor so en so het al weer dit of dat gedoen? Dit word gewoonlik oorvertel met gesindheid “ek sal dit darem nie doen nie!” Ons sien so maklik ander se foute raak, maar nie ons eie foute nie en dan dink ons dat ons beter as ander mense is.

Die liefde handel nie onwelvoeglik nie. d.w.s. dit tree nie ongemanierd op nie. Dieselfde woord kom in 1 Kor. 7:36 voor, waar dit gaan om ’n oneerbare handeling teenoor die verloofde. Ons moet dus dink aan ’n optrede waardeur die gevoel van ’n ander seergemaak word. Die liefde sal altyd gevoelig genoeg wees om sulke ruwe optrede uit te skakel.

Die liefde is nie liggeraak nie. Dit lees nie kwade bedoelings in iemand se optrede of gesprek nie. Hoe maklik neem ons nie aanstoot van iets wat iemand heel onskuldig gesê of gedoen het nie?

Die Here leer ons dat die aard van liefde daaruit bestaan dat ware liefde in alle opsigte onselfsugtig is, dit vra nie: “wat kan ek kry?” nie, maar eerder: “wat kan ek gee?”

Die liefde is vir altyd
Liefde het ewigheidswaarde. In 1 Joh. 4:12 hoor ons:
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
God se doel met ons is dat sy liefde in ons volkome sal word. In hierdie lewe is ons nog onvolmaak in ons liefde, maar God gee die gawes wat Hy aan elkeen uitdeel sodat Hy daardeur ons liefde tot volmaaktheid kan slyp. Wanneer daardie doel bereik word, is die gawe van profesie en die ander geestelike gawes nie meer nodig nie. Daarom sien ons ook uit na die volmaaktheid waar ons ewig saam met God sal wees.

Wat die hede betref roep Paulus ons op om nie meer soos kinders te wees in ons geloofslewe nie. Kinders is liggeraak en tree onvolwasse op. Paulus se oproep is dat ons die kinderagtigheid agterwee moet laat en volwasse te word sodat ons die onderskeidingsvermoë kan ontwikkel en kan groei na die volmaaktheid van God se liefde.

Ware Christelike liefde is seker die omvattendste menslike eienskap wat daar is.  Dit het tot gevolg dat ’n mens onselfsugtige naastediens verrig; dit is dus die bewys dat jy opreg omgee.  “Geloof” is die vashou aan God en dit vorm die fondament en kern van ons bestaan;  “hoop” dui op die gelowige gesindheid en verwagting, en “liefde” op die daadwerklike optrede. As ’n mens geloof en hoop het, is jy ook toegerus om waarlik lief te hê, want dan verstaan jy hoe God liefgehad het.

Samevatting
Liefde is noodsaaklik. As die geestelike gawes dus op ’n liefdelose manier gebruik word om eie belange te bevorder is dit nutteloos omdat die doel van geestelike gawes is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef.

Die Here leer ons dat die aard van liefde daaruit bestaan dat ware liefde is in alle opsigte onselfsugtig is, dit vra nie: “wat kan ek kry?” nie, maar eerder: “wat kan ek gee?”

God se volmaakte Liefde is die einddoel wat God met ons wil bereik en Hy gee aan ons sy geestelike gawes sodat ons daardeur mekaar kan slyp tot volmaakte liefde.

Kom ons wees gehoorsaam aan God deur mekaar onselfsugtig lief te hê.

Amen

Genade Onbeskryflik Groot: Die Liefde van God Maak Vry!

Jes. 52:13 – 53:12 tv 5 veral “deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Ps. 84:1, 3 & 6
Ps. 103 : 1, 2 & 9
Ps. 86: 1, 3 & 6
Ps. 23:3 – Ps. 116
Sb 7-2: 1 & 2

GENADE. Dit is ’n reusewoord. Amper TE GROOT om te verstaan omdat genade ons OORMAAK. Genade is God se liefde aan die werk. Genade is dat ons nie ontvang wat ons verdien nie. Ons verdien die dood, want dit is wat die straf is omdat ons teen God gerebeleer het. Met ons sonde het ons die perfekte leefwêreld wat God vir ons gegee het verander in die stukkende wêreld waarin ons vandag leef.

Dit is een van die grootste krisisse in die geskiedenis van die wêreld, want as God nie ingryp nie dan is alle hoop verlore. Die manier waarop God besluit het om in te gryp is vir die mensdom onverstaanbaar. Iets waaraan hulle nooit eers gedink het nie soos ons hoor in Jes. 52:15 & 53:1
Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing. Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie. Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

God se manier is vir die mens onsinnig want die helde van mense werk anders. Die mens se helde is imposante figure. Iemand wat respek afdwing en wat met krag en mag oorwin. God se Dienaar wie Hy gekies het om die grootste krisis van die mensdom op te los is, nie iemand waarna jy twee so kyk as jy Hom op straat sou raakloop nie soos ons hoor in Jes. 53:2b - 3
Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

Waar het jy nou al gehoor van ’n held wat doodgemaak word. In ons verwysingsraamwerk oorwin die held altyd, maak nie saak watse gevare hy aan blootgestel word nie. By God werk sy genade egter anders soos ons hoor in Jes. 53:4 & 5
Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dit is dan ook wat ons elke keer met die Nagmaal herdenk soos ons hoor in 1 Kor. 11:26
Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
Hierdeur herinner God ons dat die wonde wat die lewe ons toegedien deur Christus se wonde genees word. Dat die gees in my wat deur die sonde gedood is weer lewend gemaak word deur Christus se dood aan die kruis. Hoe verduidelik mens iets abstraks wat jy nie kan sien nie? Jy gebruik ’n voorbeeld uit die leefwêreld wat almal ken en verstaan.

Dit is wat God met brood en die wyn doen tydens Nagmaal. Hy verduidelik twee sake naamlik hoe Christus dit gedoen het. Net soos wat die brood gebreek word, is Christus se liggaam aan die kruis gebreek en net soos die wyn uitgegooi word, is Jesus se bloed uitgestort. Verder verduidelik die brood en wyn ook hoe daar deur sý wonde vir ons genesing gekom het. Net soos wat brood en wyn die liggaam se krag hernu sodat die liggaam die wonde wat opgedoen word kan genees net so word ons geloofskrag in die verlossing wat Christus bewerk het deur die Heilige Gees hernu. Die Heilige Gees bind ons deur die geloof al hoe stywer aan Christus vas sodat daar vir ons genesing kan kom van die geestelike wonde wat ons opdoen.

Dit is hoe die liefde van God ons vrymaak. Sy genade in aksie. Dit beweeg ons vanaf ons sondige natuur na God se genadegewende liefde. Die troos wat ons ontvang is dat ons nie God se liefde hoef te verdien nie. Goddelike genade stel nie voorwaardes nie, het nie verwagtinge nie, deel nie reëls uit nie en verwyt nooit nie. Dit sê: Ek het jou lief net soos jy is. Jy hoef nie ’n eers-mens te wees nie: iemand wat eers moet doen, werk, lyk, gee en dien nie. Ek gee aan jou My vergifnis, aanvaarding en liefde terwyl jy is wat jy is. Want Ek het gekom om uitgetorringde lappiesmense se lewe aanmekaar te werk tot ’n hemelse eenheid. Hy gee dit net eenvoudig vir ons sonder dat ons iets in ruil daarvoor hoef te gee.

Genade neem die onbruikbare stukkies van ons laslappielewe en werk dit, nog voor ons vra, aanmekaar in pragtige heelwees-prentjies. Dit neem die hart wat deur die modder gesleep is na die hemelse wassery toe en hang dit weer - silwerskoon en netjies gestryk - op die hanger van die lewe. Dit maak moedeloses weer mense van hoop, verander bitterheid in vergifnis en herskep verlorenes in Ewigheidskinders. Deur genade word ’n troostelose toekoms omskep in ’n lewe wat uitsien na more.

Geliefdes kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat Hy ons geloof kan versterk waarmee ons vasgryp aan sy genade.

Amen

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

17 Aug. 2013 Jes. 42:18 – 43:28
Fokusgedeelte : Jes. 43:1
Lof-Psalm   Ps. 42:1 & 3       (OAB)
Na Wet       Ps. 38:1 & 17     (OAB)
Na Gebed   Ps. 118:1 2         (OAB)
Slotsang     Ps. 42:5 & 7       (OAB)

Inleiding
Vandag is ons voorbereidingsdiens vir Nagmaal volgende week. Die rede daarvoor vind ons 1 Kor. 11:28
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink
Dit is ’n geleentheid wat God ons gee om weer te gaan nadink oor wat die Nagmaal werklik vir ons beteken. Die vraag is nou geliefdes: “Hoe berei ons, ons voor vir die Heilige Nagmaal?”

In die Nagmaalsformulier word dit vir ons soos volg verduidelik:
Die ware selfondersoek bevat drie hoofpunte:
1) Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig. (Erken dat ek verkeerd gedoen het)
2) Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.
3) Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

In ons teksgedeelte gee die Here vir ons so ’n bietjie perspektief oor bogenoemde drie sake wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop: sonde, verlossing en dankbaarheid.

Sonde
Die boek Jesaja kan in twee hoofdele opgedeel word. Jes. 1-39 en Jes. 40-66. Die eerste deel handel oor die tyd toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Die tweede deel handel oor die tyd toe Juda in ballingskap was, ongeveer een en ’n half eeu na die tyd van die profeet Jesaja. Die gedeelte is gerig aan ’n platgeslane volk en verkondig dat die Here die Skepper en Verlosser is, die regeerder van alles. Daarom kan Hy red.

Die Here het sy volk telkemale gewaarsku om hulself te bekeer, maar hulle wou nie luister nie en daarom is hulle in ballingskap weggevoer soos ons hoor in Jes. 42:24 & 25a
Wie het van Jakob ’n gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie. Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog.

Sonde beteken om in opstand teen God te kom deur ongehoorsaam te wees aan Hom. Dit beteken om nie God se gesag in ons lewens te aanvaar nie. Om net mooi die teenoorgestelde te doen wat God vir ons sê om te doen. Dit beteken om liefde vir selfsug en haat te veruil. Sonde is om teen my beterwete van God af weg te draai en dit hou baie ernstige gevolge vir in. In Jes. 42:25b waarsku die Here sy volk hierteen:
Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie; dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.
Die gevolg vir Israel was dat hulle in ballingskap weggevoer is na ’n vreemde land weg van alles wat vir hulle kosbaar was. Hulle het nie meer grond besit nie. Hulle was weg van die tempel af waar hulle God aanbid het.

Dit is wat sonde in ons lewens ook doen. Dit bring verwydering tussen ons en God en daarom sien ons dat die gevolge van hierdie opstand teen God ook in ons lewens raak. Die vrug hiervan is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns wat in ons lewens teenwoordig is.

Die eerste aspek van my voorbereiding is dus dat ek teenoor God moet erken dat ek ’n probleem het (verootmoediging) met die verhouding tussen my en God en dat ek moet besef dat ek dit nie self kan oplos nie. Dit is seker een van die moeilikste dinge vir ’n mens om te doen. As dit nie vir die Heilige Gees was wat my daartoe lei nie sal ek dit uit my eie nooit kan doen nie.

Verlossing
Vir die Israeliete wat in sak en as in Ballingskap sit kom daar ’n wonderlike troos van verlossing soos ons hoor in Jes.43:1-3a
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Israel is as ’n klomp slawe weggevoer na ’n vreemde land toe en hulle kan absoluut niks daaraan doen nie. Vir hierdie slawevolk bring die Here die wonderlike troos: “Alhoewel julle niks kan doen nie, Ek kan alles doen!” Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Die klem val hier op die Here wat sy volk red en hulle verlos uit die slawerny waarin hulle vasgevang is. Die Here sê: “Ek verlos jou” en in Jes. 43:11 sê die Here
Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.

Dit is dikwels hier waar ons die denkfout maak oor voorbereiding. Ons kry so maklik die persepsie dat ek vir die Here moet wys dat ek eintlik nie so sleg is nie. Ja, ek het nou wel so bietjie droog gemaak, maar ek gaan van nou af harder probeer. As ons mooi luister na wat die Here hier en in die res van die Bybel vir ons sê, sal ons agterkom dat dit nie ek is wat myself moet regruk en verander nie. Ek kan nie al wil ek ook. Die Here vat my en Hy red my omdat Hy vir my lief is soos Hy vir ons sê:
Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Hy dra ons wanneer ons deur diep waters moet gaan in die lewe. Daar waar die lewe te swaar word dra Hy ons. Daar waar dit vir my voel ek kan nie meer nie, gee Hy vir ons die krag om aan te gaan. Daar waar die vuur van my opstandigheid teen die Here dreig om my heeltemal te verskroei beskerm Hy ons omdat Hyself deur die water en vuur van die kruis vir ons gegaan het. Christus het die duurste prys betaal wat ’n mens kan. Hy het met sy lewe betaal en dit is wat ons met die Heilige Nagmaal kom herdenk sodat die Heilige Gees daarmee ons geloof kan versterk. En die troos wat ons ontvang is die sekere en vaste wete dat ons met Christus verenig is deur ’n onbreekbare band van die Heilige Gees.

Dit beteken prakties dat ek verseker kan weet dat selfs in my slegste tye en diepste oomblikke van donkerte God nooit spyt was dat Hy my gered het nie. NOOIT NIE! Soos Hy in Jes. 43:4 bevestig:
Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Die tweede aspek van my voorbereiding gaan dus daaroor dat ek besef dat ek nie meer kan nie en dat die enigste uitweg by God self lê. Dat ek sal besef dat die waarborg van my verhouding met God nie in my swak hande lê nie, maar in die sterk band van geloof wat God self in persoon van die Heilige Gees aan my gee. Dis nie ek wat moet goed wees nie. Dit is God se genade wat my red.

Dankbaarheid
In Jes. 43:18 sê die Here vir die volk
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
Dit wat in die verlede is, is klaar afgehandel. Wanneer die Here sonde vergewe het dink Hy nooit weer daaraan nie soos ons hoor in Ps. 103:12
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Nou is dit vorentoe. Dit is hoe dit vir ons ook moet wees. Die sonde in my verlede is soos ’n donker gat in die diepste binneste van ’n tronk. As ek daarvan gered is en vrygemaak is, gaan ek tog nie weer vrywillig daarnatoe terugkeer nie! God het vir my ’n nuwe lewe gegee waar ek verlos is van die selfsug en haat en ongeluk. Waarom sou ek daarnatoe wou terugkeer? Uit dankbaarheid wil ek weer leef en nie vasgevang wees in die doodsheid van die sonde nie. Ek kan hierdie nuwe lewe leef omdat die Gees my dra en in staat stel om dit te doen.

Slot
Waaroor gaan voorbereiding? Drie eenvoudige sake. Sonde, verlossing en dankbaarheid. Geliefdes kom ons maak hierdie week wat voorlê erns met ons voorbereiding sodat ons die volle troos kan ontvang wat die Here vir ons met die Nagmaal gee.

Amen.