6 Okt. 2013 GKE
Skriflesing Rom. 6
teksvers Rom. 6:23
Liturgie
na Votum Ps. 111-2 v 1 & 4 (NAB)
Na Wet Ps. 1-1 v 1 & 3 (OAB)
Na gebed Ps. 119-2 v 14 , 18 & 27 (NAB)
Slotsang SB. 14-1 v 1 , 2 & 3
Inleiding
As jy voor die keuse
gestel moet word waar die een alternatief lewe is en die ander dood, wat sal jy
kies? Ek is seker dat elkeen van ons lewe sal kies. Die probleem is egter dat
die keuse van lewe ’n prys het. ’n Prys wat so duur is dat dit onmoontlik is om
daardie prys te betaal soos byvoorbeeld R100 biljoen rand. As ons nie die prys
kan betaal nie is die enigste oorblywende keuse die dood.
Genade en genade alleen
Terwyl jy oppad is om
tereggestel te word kom iemand en sê vir jou: “jy is vry want ek sal in jou
plek tereggestel word. Moenie bekommer nie, want ek neem jou identiteit aan.”
Wanneer hulle my doodmaak sal dit net so goed wees dat hulle jou doodgemaak
het. Met ander woorde die persoon wat tereggestel moet word en die Redder het
in so mate plekke omgeruil dat hulle as te ware identiteite omruil. Dit is wat
Christus vir ons kom doen het. Dit is wat die Here in Rom. 6:5 vir ons sê dat
as met Hom een geword het ons ook in sy dood met Hom een is. Christus se sterwe
aan die kruis is asof ons self aan die kruis vasgespyker was en die prys vir
die sonde betaal het soos ons ook in Rom. 6:6 hoor:
Ons weet
tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons
sondige bestaan beëindig kon word.
As iemand in bogenoemde
voorbeeld dus na die tyd sou navraag doen by daai tronk waar die teregstelling
plaasgevind het om na ons te verneem sal hulle sê: “Jammer daardie persoon is
nie meer met ons nie. Hy/sy is dood!” Iemand wat vir ’n oortreding doodgemaak
is, kan tog nie aanhou om daardie oortreding te begaan nie, soos ons hoor in
Rom. 8:7:
Iemand
wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.
Die logiese gevolg hiervan
is dat ons lewe in plaas van om dood te wees. Net soos wat ons een is met
Christus in sy dood deel ons ook in die lewe wat Hy met sy opstanding verkry
het soos wat ons hoor in Rom. 6:5:
Aangesien
ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in
sy opstanding.
Christus het die prys ten
volle betaal. Hy het die mag van die sonde gebreek daarom gee Hy aan ons die
lewe.
Om een te wees met
Christus in sy sterwe en opstanding is dat dit net so goed is asof onsself
doodgemaak is en die dood oorwin het. Hoe word ons een met Christus sodat ons
een met Hom kan wees in sy dood en opstanding? Alleen maar deur die geloof wat
die Heilige Gees verniet aan ons gee. Dit is wat God se genade is. In plaas van
die dood kry ons die lewe sonder dat ons iets hoef te doen of gee om dit te
verdien.
Wat beteken dit vir ons?
Ons staan nie meer onder die wet nie soos ons in Rom. 6:15 hoor omdat een van
die funksies van die wet is om ons te wys wat ons sonde is soos ons hoor in
Rom. 5:20
Die wet
het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword
het, hoe oorvloediger het die genade geword.
Omdat ons deel in die
genade is ons nie meer onderworpe aan die oordeel van die wet nie en daarom
staan ons nie meer onder die wet nie. Dit beteken dat dit nie meer van my
pogings om die wet te onderhou afhang of ek vir God aanvaarbaar is nie. Ek hoef
nie vir God te bewys dat ek sy liefde verdien nie. Met ander woorde, my
gehoorsaamheid aan die wet bepaal nie hoe lief God my het nie!
Maar wat van die wet?
Bogenoemde boodskap van
genade laat die vraag ontstaan: “maak dit nie van ons onverskillige en lui Christene
nie? Ek kan mos maar sonde doen, God vergewe my mos. Dit is ’n vraag wat twee
keer in ons teksgedeelte gevra word soos ons hoor in Rom. 6:1
Wat moet
ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?
En ook weer in Rom. 6:15
Wat
beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses
staan nie maar onder die genade?
Die antwoord hierop is
baie duidelik soos ons hoor in Rom. 6:2
Beslis
nie.
Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
En ook weer in Rom. 6:16
Beslis
nie.
Julle weet tog: as julle, julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te
gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit
die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is,
beteken dit vryspraak en lewe.
Die Griekse woorde wat met
“beslis nie” vertaal is, beteken letterlik dat dit nie kan gebeur nie. Daar
staan nie dat dit nie moet gebeur nie of nie behoort te gebeur nie. Dit KAN
NIE, met ander woorde dit is onmoontlik! ’n Vuur wat brand is warm. ’n Vlam kan
nie koud wees nie!
Die beeld wat hier gebruik
word om dit te verduidelik is die van ’n slaaf. ’n Slaaf kan nie anders as om
aan sy meester gehoorsaam te wees nie. Hy het geen vryheid nie en MOET doen wat
sy baas vir hom sê om te doen. As daardie slaaf dan sy vryheid ontvang is hy
nie meer gebonde aan daardie slawemeester nie. Jesus het ons juis kom verlos
van die slawerny van die sonde. Om terug te keer na ons beeld van die gevange
wat van die doodstraf bevry is. As jy bevry is van ’n lot waar jy doodgemaak
sou word gaan jy tog nie vrywillig weer terugkeer en aanmeld by daardie tronk
nie! As jy uit ’n rioolput gered is en jy is skoongewas en jou siektes wat jy
daar opgedoen is genees gaan mens tog nie weer vrywillig in daardie rioolput
terugklim nie!
Dis wat God vir ons sê in
ons teksvers Rom. 6:23:
Die loon
wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe
in Christus Jesus ons Here.
Met ander woorde: “Ek het
jou bevry van die dood en gee aan jou die lewe. Leef nou die nuwe lewe wat jy
ontvang het.” Ons roeping is om roeping is om vir God te leef, nie vir die
sonde nie.
Wat beteken dit prakties?
Beteken dit dat ons nie meer sonde doen nie? Nee, geliefdes, want die Here sê
ook baie duidelik vir ons in 1 Joh. 1:8:
As ons
beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in
ons nie.
Wat dit wel beteken is dat
ek nie meer verskoning soek vir my sonde nie. Dit beteken dat ek al hoe meer
bewus raak van my sonde omdat ek al hoe meer sensitief raak vir die Heilige
Gees wat besig is met God se heiligmakingsproses in my lewe. Dit beteken dat ek
besef dat dit God se genade is daar waar ek wel gehoorsaam word aan sy
liefdesopdrag. Dit beteken dat ek nie meer op myself nie, maar wel op God se
genade roem. Dit beteken dat ek die vreugde begin smaak om aan God gehoorsaam
te wees. Dit beteken dat ek God se teenwoordigheid in my lewe begin raak sien
en dat sonde al hoe meer afstootlik word vir my. Met ander woorde ek sien nie
sonde as iets lekkers wat ek moet prysgee nie, maar dat dit iets afstootlik is
wat ek nie meer wil doen nie.
Iemand wat nog nie rêrig
bewus is van sy eie sondegebrokenheid nie is nog ver van God se genade af.
Iemand wat die houding het van: “ag God gee mos sy genade aan my so dit maak
nie saak of ek in die sonde volhard of nie” verstaan nog niks van God se genade
nie!
Wat doen ek met die sonde
wat nog deel is van my lewe? Die Here sê vir ons in 1 Joh. 1:9:
Maar as
ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en
reinig ons van alle ongeregtigheid.
Slot
Beteken God se genade dat
ons nou maar ’n roekelose lewe kan ly want God vergewe ons mos? Nee geliefdes,
dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van sonde in my lewe en my
afhanklikheid van God om dit te oorwin. Dit beteken dat sonde nie meer vir my
iets lekker is waarvan ek my moet weerhou nie, maar wel dat sonde vir my iets
afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie. Dit beteken dat ek al hoe meer
verlang na God se teenwoordigheid in my lewe deur opnuut weer bewus te word van
sy genade in Jesus Christus. Dit beteken dat ek al hoe meer besef dat ek met
liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue
Verlosser, Jesus Christus behoort.
Geliefdes kom ons wy ons
lewens aan God want die loon wat die sonde gee, is die dood, maar die
genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking