Gen. 39; teksverse Gen. 39 v 2 ; 20 en 21
13 Okt. 2013 GKE
Lof-Psalm Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 34 v 1 , 2 & 5 (OAB)
Inleiding
Dinge werk in hierdie lewe werk
nie altyd uit soos ons wil hê dit moet nie. Soms droom ons groot drome van wat
ons in die lewe wil bereik en baie gevalle werk daardie droom nie uit nie. Hoe
bly mens staande wanneer jou drome in skerwe by jou voete lê?
Wat het van Josef se drome
geword? Hy het hierdie visie gekry dat hy ’n heerser gaan wees en waar staan hy
nou? ’n Slaaf![1]
Wat het hy nou eintlik gedoen om dit te verdien? Hy was wel bietjie
grootpraterig en ja, hy het sekerlik sy broers geïrriteer met sy klikbek, maar
is dit dan nou so erg? Elkeen van ons wat met boeties of sussies te doen het
sal weet dat dit is wat boeties of sussies doen. Op ’n stadium dra hulle
stories by ma of pa aan wat maar kon gebly het.
As ons mooi na die saak kyk
dan sal ons sien dat Josef nie so sleg was nie. Hy was ’n gehoorsame seun wat
sonder teenpraat sy pa se opdragte uitgevoer het. Verder was hy pligsgetrou
ook. Sy pa het vir hom gesê om sy broers by Sigem te besoek. Toe hy hulle nie
daar kry nie, het hy moeite gedoen om uit te vind waar hulle is. Hy het nie tou
opgegooi nie. En wat het daarvoor gekry? Hy is as ’n slaaf verkoop. Ons kan ons
maar net indink hoe bang en benoud hy moes gewees het. Dink maar net hoe dit
vir ’n sewentienjarige seun moes gevoel het om alleen daar op die slawemark as
slaaf verkoop te word. In Gen. 42 v 21 hoor ons hoe benoud hy was:
“Dit het
ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs
gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie.
Tog gaan dit nie net sleg
met Josef nie. In Gen. 39 v 2 hoor ons:
2 Die Here was by Josef en
dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die
Egiptenaar, gebly. 3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die
Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag
Dit het so goed gegaan dat
Josef die hoofslaaf geword het in Potifar se huis. Josef was in beheer van die
hele huishouding en die Here het die huishouding geseën. Ek skat as mens ’n
slaaf moet wees dan is dit nogal waar mens wil wees.
En net toe dit begin goed
gaan met Josef kom die volgende probleem. Potifar se vrou begin by hom aanlê.
Ten spyte daarvan dat hy op ’n mooi manier vir haar gesê het dat dit verkeerd
is, het sy aangehou daarmee. (Vgl. Gen. 39v10)
Sy het dag
vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.
Arme Josef. Hy is al weer
onskuldig in die moeilikheid want die uiteinde daarvan is dat Potifar se vrou
hom aangekla het. Weereens het sy kleed hom in die moeilikheid laat beland net
soos die vorige keer wat sy jas wat sy pa vir hom gegee het hom in die
moeilikheid by sy broers laat beland het, het sy jas wat Potifar se vrou gegryp
het, weereens gesorg dat hy in die moeilikheid is.
Genadiglik spring hy
weereens die dood vry, want vir so ’n oortreding het ’n slaaf in daardie tyd
die doodstraf gekry. Tog word Josef net in die tronk gegooi. Wat ’n droewige
situasie is dit nie geliefdes? Hier sit Josef in die tronk. Net toe dit lyk of
dit beter begin gaan tref die ongeluk hom ten spyte daarvan dat hy alles in sy
vermoë gedoen het om reg op te tree. Hierdie teks gedeelte word dikwels
voorgehou as ’n voorbeeld hoe om seksuele versoekings te weerstaan. Moenie
toegee nie, vlug weg daarvan. En ja, ons moenie toegee aan seksuele versoekings
nie, maar wat het dit vir Josef in die sak gebring? Tronkstraf en amper weer
doodgemaak!
Hoe dikwels gaan dit nie
maar met ons ook so nie geliefdes? Hoeveel keer het dit nie al gebeur dat ’n
persoon wat ongerymdhede aan die lig bring sy werk verloor nie. Die eerlike
persoon word gestraf en die oneerlikes leef maar net lekker voort! Ek is seker
dat elkeen van ons al ’n soortgelyke ondervinding gehad het. Ek tree reg op en
op die uiteinde word ek as die skuldige gebrandmerk. Potifar se vrou kom
skotvry daarvan af en arme Josef moet in die tronk gaan sit! Hy kon homself nie
verdedig nie. Onthou hy was ’n slaaf en slawe het geen regte gehad nie. Dit sal
nie eens gehelp dat hy sy onskuld probeer bewys nie, want wie gaan nou die
woord van ’n slaaf glo? Dit was sy woord teen die vrou van die hoof van die
koninklike lyfwag. Hy het nie eens ’n kans gekry om sy kant van die saak te
stel nie. Hy is summier net in die tronk gegooi!
En dan hoor ons die
wonderlike troos van die Here in Gen. 39 v 20 en 21:
20 ........... Terwyl Josef
daar in die tronk was, 21 was die Here by hom, en Hy het Josef sy
troue liefde laat ondervind
Toe hy ’n slaaf was het ons
ook gehoor dat die Here by Josef was (Gen. 39 v 2). Nou kom daar ’n ekstra
versekering by. “Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind.” Dit is
moeilik om die Hebreeuse woord wat met troue liefde vertaal is ten volle in een
woord in Afrikaans uit te druk. In die ou Afrikaanse vertaling is dit met
goedertierenheid vertaal. Dit kan ook met troue verbondsliefde vertaal word
omdat dit daarop dui dat dit liefde is wat die Here Homself voorgeneem het om
te betoon. Dis ’n verpligting wat Hy op homself geneem het en dat Hy vasbeslote
is om na te kom. Dit is voorwaar ’n besondere liefde en sorg wat die Here hier
aan Josef bewys.
Hier in Gen. 39 kry ons tot
vier keer die versekering dat die Here by Josef was. Dit is egter belangrik dat
ons moet let daarop dat die Here hom nie uit die omstandighede geneem het nie.
Hy was nog steeds ’n slaaf en nadat hy in die tronk gegooi was het hy steeds in
die tronk gebly. Wat God wel gedoen het was om die omstandighede draaglik te
maak. Josef het die hoofslaaf geword en in die tronk het die tronkbewaarder hom
in beheer geplaas van al die gevangenes. As ons na die uiteinde van die verhaal
kyk dan sien ons hoe God Josef se omstandighede gebruik het om Josef op te lei
vir die groot taak wat vir hom voorgelê het. As slaaf daar in Potifar se
huishouding en daar in die tronk het Josef die nodige vaardighede aangeleer
sodat hy in staat kon wees om Egipte onder die Farao te regeer.
Die Here was met Josef. Die
Here is met ons ook. In Mat. 1 v 23 sê die Here vir ons:
“Die maagd
sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel
noem.” Die naam beteken God by ons.
Jesus Christus het as mens
aarde toe gekom. Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf en bange
Godverlatenheid verduur sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Na
sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek as Trooster en Helper gestuur
sodat ons nooit weer alleen sal wees nie.
Soms beland ons ook
onverdiend in die tronke van die lewe. Ek sit in ’n doodloopstraat by my werk.
My drome lê aan skerwe en niks wil uitwerk nie. ’n Huwelik wat nie wou werk
nie. Hier sit ek eensaam en alleen op my oudag met my kinders wat ver van my af
is. Die Here is met ons geliefdes. Hy neem ons nie noodwendig uit die
omstandighede uit, maar Hy dra ons daardeur. Alhoewel Josef in beheer geplaas
is van die gevangenis, was hy nog steeds in die tronk. Hy is as sewentienjarige
seun vir ’n slaaf verkoop toe en hy het eers op dertigjarige ouderdom uit die
tronk gekom.
Die Here haal ons nie
noodwendig uit slegte omstandighede uit nie, maar Hy dra ons daardeur na iets
beter. Soms kan dit ’n lang tyd neem, maar ons weet dat God besig is om ons
voor te berei vir iets beter. In sommige gevalle is die iets beter eers in die
volgende bedeling wanneer ons ewig saam met God gaan wees sonder hartseer,
trane pyn of dood. Daarom geliefdes, hou vas aan die hoop want ons weet dat God met ons is wanneer dit goed gaan en dat Hy
ons dra wanneer ons swaarkry.
Amen
[1] (Gen. 39v1) Potifar, ’n amptenaar van die Farao en hoof van die
lyfwag, ’n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat
hom Egipte toe gevat het.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking