Wys tans plasings met die etiket swaarkry. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket swaarkry. Wys alle plasings

01 Mei 2026

Swaarkry en leiding het nie die laaste sê in hierdie lewe nie.


 Skrif: 2 Kor. 4:16 – 5:10 – teksvers 2 Kor. 4:17

Ons lewenspad hier op aarde is nie altyd maklik nie. Seker een van die moeilikste dinge is om te aanskou hoe ’n geliefde deur ouderdom afgetakel word. Om te sien hoe sy verstandelik en liggaamlik agteruit gaan waar die wêreld vir haar verander in ’n vreemde, onveilig plek waar niks meer bekend voel nie.

Dit kan maklik die vraag laat ontstaan: “Hoekom?” Hoekom moet die lewe soms so moeilik en moeisaam wees? Die Here gee vir ons deur sy dienaar Paulus ’n antwoord op hierdie vraag. In 2 Kor. 4:16 & 17 hoor ons:

Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Hier moet ons nie misverstaan nie. Die Here sê nie hier dat ons swaarkry sommer net niks is nie. Hy gee perspektief. In die eerste plek sê gee die Here vir ons die troos: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” Selfs wanneer dit vir jou voel of jy nie meer kan nie, het Hy jou nie vergeet nie. Wanneer ouderdom liggaam en brein begin afbreek en dit vir jou voel of jy nie meer kan vashou nie, is God daar. Die troos lê daarin dat dit nie gaan oor hoe sterk ons aan God vashou nie, maar in hoe styf God ons vashou. God gee vir ons die krag om deur dit te kom deurdat Hy ons dag vir dag vernuwe.

In die tweede plek gee die Here vir ons perspektief ten opsigte van ons lewe nou en die ewigheid wat vir ons wag. Die lewensduur van ’n mens hier op aarde is miskien sewentig of tagtig jaar, maar in vergelyking met die ewigheid is dit “maar gering”. Dink so daaraan. As ons ’n potloodstreep sou kon trek van so ver as wat mens met die sterkste teleskoop (ongeveer 93 biljoen ligjare) dan is die sewentig of tagtig jaar wat ons hier op aarde leef nie eens ’n potloodpuntjie op daardie lyn nie.

Wat ons nou hier sien is die sigbare, maar die Here sê vir ons dat ons verder moet kyk na die vir nou onsigbare ewigheid. Om dit te verduidelik gee die Here vir ons die vergelyking van om in ’n tent te bly teenoor vaste gebou. ’n Tent wat al ’n paar jaar in die wind en weer moet staan raak redelik verweer. Die seil kry gate in en die tentpale raak gebuig deur die wind en die storms. En dit is hoe dit met ons gaan. Die lewe stel sy eise en hoe ouer ons word, hoe meer verweer raak ons en dit laat mens inderdaad sug na iets beter, soos ons 2 Kor. 5:2 hoor:

Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek.

Die belofte wat die Here hier gee van ’n vaste gebou, is ’n ewige tuiste saam met Hom. In Openbaring 21:3 & 4 gee die Here vir ons net so ’n voorsmakie van hoe ons ewige tuiste saam met Hom gaan wees:

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Om dit raak te sien moet ons met ons geloofsoë verby die sigbare hier en nou, verby die verweerde tentwoning kyk. Die Here sê vir ons hier om verby die swaarkry van hierdie lewe te kyk. Kyk verby die aftakeling van ouderdom na hoe God alles nuut gaan maak. Sien die groter prentjie raak.

Die vraag is nou: “Hoe weet ons dat dit die waarheid is?” Dit is waar, want God wat die hemel en die aarde geskep het gee vir ons die waarborg deur die Heilige Gees soos ons hoor in 2 Kor. 5:5:

Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

Die Griekse woord wat in Afrikaans met “waarborg” vertaal is beteken letterlik ’n deposito, ’n deel van die volle koopsom wat vooraf reeds betaal word. Dit gee ’n vaste waarborg van God se teenwoordigheid in ons lewens. Dit is God self wat ons voorberei vir die oorgang van aardse lewe na die heerlikheid omdat Hy nou reeds nou iets van daardie toekom gee, naamlik sy Gees as die ’n deposito en waarborg.

Ons sien en ervaar so ietsie van God se teenwoordigheid, want selfs wanneer ons liggame afgebreek word deur ouderdom en siekte en swaarkry, is dit Heilige Gees wat ons dag tot dag vernuwe deur vir ons geestelike krag te gee om aan te gaan. Dit is ook die Heilige Gees wat daardie verlange in ons na die vaste ewige woning saam met God gee.

Dis die troos wat die Here vir ons gee. In hierdie lewe is ons nie alleen nie. God stap die pad saam met ons. Die Heilige Gees is saam met jou daar waar dit goed gaan met jou en die lewe vol vreugde is, maar veral daar waar die lewe moeilik raak. Daarmee saam ook die waarborg dat die gebrokenheid van hierdie lewe nie die finale werklikheid vir ons is nie. Dit is maar net ’n tydelike tentwoning totdat ons hiervandaan gaan na ons ewige woning saam met God, waar die verdriet en swaarkry van hierdie lewe nie meer deel van ons lewens sal wees nie.

Hierdie troos is egter net waar vir diegene wat glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Indien jy glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy deur sy opstanding vir jou lewe gee omdat Hy die dood oorwin het, kan jy ook vashou aan hierdie troos.

Dis die troos en lewende hoop waaraan gelowiges vashou en daarom hoef ons ook nie bang te wees vir 2 Kor. 5:10 nie.

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Dit is ’n harde werklikheid, dat almal voor die regterstoel van Christus sal staan, maar vir die wat in Christus daar verskyn is daar geen veroordeling nie soos ons Rom. 8:1 hoor omdat die oordeel reeds verby is volgens Joh. 5:24. Ons staan daar met vrymoedigheid en nie met vrees nie (1 Joh. 4:17) want Christus self staan vir ons in (1 Joh. 2:1).

Wanneer ons as gelowiges van ’n geliefde afskeid neem wat na haar ewige woning saam met God verhuis het, is ons hartseer want haar plekkie in ons lewens is nou leeg, maar wanneer ons afskeid neem, treur ons nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons kyk met geloofsoë verby die sigbare werklikheid van hierdie lewe se gebrokenheid na die onsigbare ewige heerlikheid wat vir ons wag.

Amen.

20 Julie 2025

In die arms van God


 Datum: 20 Jul. 2025 GK BSH & RB – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 131

Teksvers: Ps. 131 v 2

Wat maak jy wanneer die lewe jou omdop? Wat maak jy wanneer die lewe nie meer sin maak nie? Wat maak jy wanneer jy die middelpunt van ’n lewens storm word? Ons sien hoe mense deur krisisse gaan, maar dit is anders wanneer die lewenskrisisse aan jou deur klop. Wanneer die dokter vir jou sê “jammer......”. Wanneer jy die oproep kry oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie.

Dit is nie net swaarkry wat die lewe moeilik maak nie. Soms raak jy so vasgevang in die gang van die lewe, dat jy jouself verloor. Nog ’n dag, nog ’n afspraak in jou besige lewe.................

Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewens-veranderende perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is.

Die Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.

Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.

Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Dit is juis omdat jy so kosbaar vir God is dat Hy wil hê dat jy van jouself af moet wegdraai.

Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met jou.

Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee. Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.

Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe self te beheer.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.

Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie siekte gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word? Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?

Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Ons wil in beheer wees van ons lewens. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan of beheer nie.

In Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:

die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.

Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet, al lyk dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.

Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God gaan soek.

Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak

Dit is 'n aktiewe aksie waar jy die fokus van jouself af wegneem en dit op iets groters as jy plaas. Waar jy van jouself af wegkyk en kyk na God in jou lewe. Waar jy besluit om jou volle vertroue op God te plaas. Waar jy besluit om jou deur die Heilige Gees te laat lei.

Maar ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen, sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed veroorsaak, omdat jy dit nie gaan regkry nie.

Maar hoe moet jy dit dan doen?

Dawid gebruik hier die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.

Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:

soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe.

Dan gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.

’n Kind wat nog nie gespeen is nie, se fokus is om gevoed te word en die onmiddellike tevredenheid wat hy by sy moeder kan vind. Die hooffokus is om sy onmiddellike behoeftes te bevredig. Dit gaan oor dit wat die kind by sy moeder kan kry eerder as wat dit om haar as persoon gaan.

’n Kind wat gespeen is aan die ander kant, omhels sy moeder uit 'n begeerte na liefde, nabyheid en geselskap. Dit gaan hier vir die kind om die ma as persoon eerder as om dit wat hy by haar kan kry.

God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek.

Nie vir dit wat God vir jou kan gee nie, maar omdat Hy God is. Jy vind vrede en geluk by God, nie omdat Hy moeilike omstandighede wegvat nie, maar juis omdat Hy teenwoordig is in jou lewe.

In 2 Kor. 12 v 7 - 9 hoor ons hoe Paulus vir die Here vra om ’n moeilike omstandigheid uit sy lewe weg te vat, maar die Here het gesê: “Nee! My genade is vir jou genoeg.”

Dis die teenwoordigheid van God en sy genade in jou lewe wat vir jou rus en vrede gee. Ware gemoedsrus is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit is die teenwoordigheid van God!

As jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in
Joh. 1 v 12 hoor:

Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom. Om God op te soek vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy vir kan doen nie. Soek na die teenwoordigheid van God in jou lewe. Bid dat die Heilige Gees ’n werklikheid in jou lewe sal wees. Om toe te laat dat die Heilige Gees jou lei.

Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die arms van God. Dan is dit nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.

Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy by God vind:

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is. Wag op die Here beteken om te aanvaar dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie.

Wag op die Here is die vaste vertroue dat Hy jou sal dra deur die storm. Dit is om vas te glo dat Hy jou beste belange op die hart dra, self wanneer Hy nie die moeilike omstandighede wegneem nie. Wag op die Here is om steeds te vertrou dat God in beheer is, selfs wanneer dit nie vir jou lyk of die lewe sin maak nie.

Wag op die Here beteken ook dat jy vas en seker glo dat wanneer jy hierdie lewe verlaat, jy ewig saam met God sal wees waar daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.

Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan en beheer in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God.

Glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.

Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Dis net in die arms van God waar jy rus en vrede sal vind. Gaan soek na rus vrede in die arms van God.

Amen


08 Maart 2020

Waar vind jy skuilplek wanneer die lewensstorms dreig om jou te oorweldig?

Datum: 8 Mar. 2020 GKE
Lees:       Ps. 46
Teksvers: Ps. 46 v 11


Waar vind jy skuilplek wanneer die lewensstorms dreig om jou te oorweldig? Dwarsdeur die eeue het gelowiges hul troos in die Psalms gevind. Ons bely dat die Bybel die Woord van God is waarin Hy met ons praat. In die Psalms vind ons ook die stem gelowiges wat God antwoord by monde van die Psalmdigters.

In die Psalms word gelowiges se diepste emosies en versugtinge verwoord. Ons hoor hoe hul God loof en prys, maar ons hoor ook hoe hulle, hul diepste smart en vertwyfeling teenoor God uitstort. In die Psalms word God se Woord persoonlik, intiem, naby.

Ook hier in Psalm 46 vind ons 'n geweldige troos wat God se teenwoordigheid in jou lewe 'n werklikheid maak. Dit is een van die Sionsliedere. Psalms 46, 48, 76, 87 en 122 vorm deel van hierdie groep Psalms. Die tema van hierdie groep Psalms is die sentrale plek van Jerusalem in die volk se godsdiens en God se redding en bystand aan sy volk in hulle geskiedenis.

In Psalm 46 hoor ons dan ook hierdie lofsang wat verwoord hoe God sy volk beskerm en dat hulle veilig is by Hom. Die eerste reël van die berymde Psalm sê dit dan ook so treffend:
       God is 'n toevlug in die nood....

Hier teen die einde van die Psalm in vers 11 vind ons egter 'n reël wat so half in kontras is met die res van die lofsange in die Psalm:
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
In al die verse behalwe in vers 11 is dit die gelowige wat aan die woord is, maar hier in vers 11 praat God. Dit klink so amper asof Hy vermaan. Dit klink asof dit by 'n Psalm hoort waar die gelowige sy bekommernis en angs teenoor die Here bekla.

In hierdie antwoord van die Here spreek Hy 'n baie belangrike saak aan. Wanneer dit swaar gaan sal gelowiges dikwels bely dat God almagtig is en dat Hy in beheer is. Die probleem kom egter in by wat ek in my hart voel. Hier diep binne in my twyfel ek of God Homself regtig bemoei met my probleme. Ek is angstig en die bekommernis vreet my op.

'n Ander probleem is dat ons dikwels in ons versugtinge by die Here aandring dat Hy die moeilike tye van ons moet wegneem. Dat Hy die gesukkel met die finansies moet laat ophou. Dat Hy asseblief tog hierdie siekte moet wegneem.

Soms doen die Here dit ook inderdaad en neem Hy die oorsaak van my kommer weg en verander die situasie. Dit is egter ook so dat Hy baiekeer nie die probleem wegneem nie en dit juis dan dat die kommer ons begin opvreet.

Dink daaraan. Daar is een of ander omstandigheid in u lewe wat u bekommer en angstig maak. Elkeen van ons weet maar alte goed wat dit vir ons persoonlik is. En nou lees u Psalm 46.
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
Hoe vind u troos in die woorde?

Kan u met eerlikheid saam met die Psalmdigter sê?
Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.
Kan u met eerlikheid sê “daarom is ek nie bang nie?”

Die probleem is dat as u dit nie met eerlikheid kan sê nie, dan is daar geen troos in hierdie Psalm nie! Dan is dit eintlik maar net leë woorde.

Daarom is vers 11 so 'n belangrike deel van hierdie Psalm. Luister mooi na wat die Here antwoord op die lofsange van die Psalmdigter:
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.

Die Hebreeuse woord wat met bedaar vertaal is, beteken letterlik, “los dit, laat gaan, hou op daarmee.”

Wat sê die Here hier vir ons? Hy sê vir ons “los jou bekommernis, laat dit gaan, hou op om te bekommer, bedaar nou.” Hy sê dat Hy as almagtige ware God ook jou bekommernisse kan hanteer.

En dan voeg Hy by “erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.” Hy sê vir ons dat Hy almagtig is. Hy is die enigste ware God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het.

Daarom antwoord die Psalmdigter ook in vers 12 met:
Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Kan u saam met die Psalmdigter bely dat die Here die Almagtige by u is? Hoekom sou ons dit kon sê? Op grond waarvan sal ons so 'n aanspraak kon maak?

Jy kan so 'n aanspraak maak op grond van God se liefde want Hy sê vir ons in Joh. 3 v 16-18:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
Glo jy dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur sodat jy die ewige lewe kan hê?

Geliefdes as jy dit glo, dan is die woorde van Psalm 46 nie maar net leë woorde nie. Dan kan jy met oortuiging sê dat God vir jou ook 'n toevlug in die nood is want die verhouding tussen jou en God wat as gevolg van sonde gebreek was, is nou herstel. Jy mag nou vir God sê Vader en daarom vertrou jy Hom ook.

Jy vertrou dat selfs as Hy jou nie uit die situasie haal wat jou so bekommer nie, dat Hy jou ook nie in die steek sal laat nie. Jy vertrou dat Hy jou daardeur sal dra selfs as die aarde pad gee en die berge tot in die dieptes van die see skuif, selfs al druis en skuim die waters van die see en al skud die berge deur sy onstuimigheid.


Jy vertrou dat God jou deur die lewensstorm sal dra wat hier om jou woed. Jy vertrou dat Hy jou sal dra deur die moeilike finansies. Jy vertrou dat Hy die pad saam met jou sal stap deur die siekte heen. Jy glo dat Hy daar is vir jou.

Jy glo dat selfs die dood jou nie van die liefde van Christus sal skei nie en dat die dood daarom vir jou geen verskrikking inhou nie.

Geliefdes, weet dat God vir jou 'n toevlug in die nood is. Weet dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie. los daarom jou bekommernis, laat dit gaan, hou op om te bekommer, bedaar nou, want die Here die Almagtige is by jou. Die God van Jakob is vir jou 'n beskutting.

Amen

12 Januarie 2018

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei – Hoekom is daar lyding en boosheid in die wêreld?

1 Pet. 1 v 3 tot 9 teksverse 1 Pet. 1 v 6 & 7a
7 Jan 2018 GKE

Iets wat nie groei nie, is besig om dood te gaan. So is dit ook met jou verhouding met God. As daar nie geloofsgroei is nie, is jou verhouding met God besig om agteruit te gaan. Wanneer ons praat van geloofsgroei dan beteken dit eenvoudig om God beter te leer ken om sodoende nader aan God te beweeg.

Een van die struikelblokke op die pad van geloofsgroei is die moeilike vraag hoekom is daar soveel lyding en boosheid in die wêreld teenwoordig?Hoe kan ’n liefdevolle God toelaat dat daar soveel lyding in die wêreld is? Waarom laat Hy toe dat ouers ’n onskuldige driejarige kind so verwaarloos en mishandel dat sy doodgaan? Waarom laat God toe dat ’n natuurramp duisende mense se dood veroorsaak? Hoekom keer God nie daardie selfmoord bomaanvaller wat onskuldige mense met sy aanval teiken? Hoekom laat God toe dat ek deur ’n ongeneeslike siekte afgetakel word? Hoekom laat God toe dat my geliefde stelselmatig deur so ’n verskriklike Altsheimers siekte stelselmatig vernietig word?

Vir sommige mense is dit so ’n groot struikelblok dat hulle heeltemal wegdraai van God af. As God liefdevol is, sal Hy nie wil hê dat onskuldige mense ly nie. As Hy almagtig is sal Hy sy almag gebruik om lyding te keer. As daar ’n liefdevolle en almagtige God is soos die Bybel ons leer, dan behoort daar nie lyding in die wêreld te wees nie. Daar is egter lyding in hierdie wêreld en daarom kan die God wat die Bybel aan ons voorhou nie bestaan nie. So redeneer hierdie mense.

Dit is ook ’n baie moeilike vraag vir gelowiges om te beantwoord. Hoe beantwoord jy as gelowige die aanklag dat God nie omgee nie of dat Hy nie in staat is om lyding te keer nie? Die maklike manier is om ’n kop in die sand benadering te volg deur bg. vraagstuk te systap. Die probleem met hierdie benadering is dat dit die ou duiwel ’n geleentheid gee om jou geloof aan te val, veral wanneer jy op jou kwesbaarste is wanneer jy die aanslag van lyding en boosheid persoonlik aan die lyf voel. Wanneer die lewe om jou donker word en jy binne in die storm staan, tik die ou duiwel jou op die skouer en sê: “Sien jy. Kyk na die gemors waarin jy nou is. Voel jy die pyn? Ek het jou mos al gesê, jy kan God nie vertrou nie. Hy gee nie vir jou om nie. Hy kan jou nie help nie. Dit is beter om van Hom af weg te draai.”

Waar vind ons antwoorde op hierdie moeilike lewensvrae? Daar is net een plek waar jy antwoorde kan vind. By God self in sy Woord. Wat sê God vir ons oor hierdie onmoontlike vraagstuk. Hoe kan God liefdevol en almagtig wees en nie lyding dadelik tot niet maak nie? In ons teks gee God vir ons ’n antwoord op hierdie moeilike vraag. In 1 Pet 1 v 6 hoor ons:
selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings
God kan keer dat lyding plaasvind, maar Hy laat dit net vir ’n kort tydjie toe. Binne sy almag en raadsbesluit laat Hy dus lyding toe vir ’n kort tydjie. In die perspektief van God se ewigheid is lyding inderdaad net ’n kort tydjie.

Die vraag wat nog onbeantwoord is, is egter: “Gee God dan nie om nie?” Om hierdie vraag te antwoord moet ons kyk na wat God gedoen het. Hy het Homself aan die voorfront van lyding geplaas. In Jesus Christus het God die diepste diepte van pyn en lyding ervaar. Een ding is seker. God gee om. Hy gee soveel om dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Ons hoor in 1 Pet. 1 v 3 & 4 dat God se ontferming so groot is dat Hy ons ’n nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. En dit gee vir ons ’n ’n lewende hoop op onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

As ons net so bietjie terugstaan om perspektief te kry. Wat is die ergste wat met jou hier op aarde kan gebeur? Dit is dat jy jou lewe kan verloor en selfs dit kan jou nie van God se liefde skei nie. Die dood is nie meer ’n hopelose einde nie. Dit is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid saam met God. In 1 Pet 1 v 4 is die belofte dat die gelowige se erfenis onverganklik, onbesmet en onverwelklik is. Daar is dus niks wat dit ongedaan kan maak nie. Dit is ’n vaste sekerheid wat op God se karakter gewaarborg word.

In 1 Pet 1 v 5 hoor ons dat geloof die sleutel is om hierdie erfenis wat God belowe te kry. Die wonderlike troos:
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

In 1 Pet. 1 v 7 hoor ons dat jou geloof deur middel van lyding getoets word. Omdat geloof die sleutel is ten opsigte van jou versoening en verhouding met God is dit selfs kosbaarder as goud en net soos die suiwerheid van goud met vuur getoets word, word die egtheid van jou geloof deur die vuur van lyding getoets.

Dit is hier waar die tekkie die teer slaat. Wanneer jy binne in die chaos van pyn en lyding staan moet jy bly glo dat God net jou beste belang op die hart dra. Jy moet glo en vertrou dat God in beheer is, veral wanneer dit vir jou lyk of alles buite beheer is. Jy moet God vertrou en jou ore sluit vir die aanklag van die duiwel wat jou probeer oortuig dat jy God nie kan vertrou nie. Hoe meer jy op God vertrou, hoe hegter word jou verhouding met Hom, veral wanneer jy nie die uitkoms kan sien nie.

Daar is kere waar ons kan sien hoe God se belofte dat alles ten goede meewerk waar is. Daar is egter ook baie kere waar dit nie duidelik is nie en dit is hier waar jou geloof en vertroue in God jou deurdra. Om te bly vertrou dat binne die groter prentjie van God se raadsplan dat selfs dit wat vir my sinneloos lyk steeds sin maak.

Dit is soos ’n legkaart te bou van derduisende stukkies. As ek net na die een of twee legkaart stukkies kyk wat hier voor my is, sien ek nie die geheel van die prent wat die legkaart vorm raak nie. God se legkaart is groter as die grootste legkaart waaraan ons kan dink. God se legkaart is groter as die heelal wat so groot is dat ons nie werklik die grote daarvan kan begryp nie.

Wanneer jy in geloof God vertrou, veral wanneer jy geen uitkoms kan sien nie gee God die belofte dat jy met onuitspreeklike en heerlike blydskap vervul sal word. Dit bou jou verhouding met God en jy sal ervaar hoe God ’n werklikheid binne jou lewe is.

Geliefdes, moenie dat jou geloofspad saam met God belemmer word deur die vraagstuk van lyding nie. Moenie val vir die duiwel se leuen dat jy God nie kan vertrou nie. Hou jou oë op die kruis en opstanding van Jesus Christus. Bly glo dat God in beheer is en jy sal ervaar hoe jy op jou geloofspad nader aan God beweeg.
Amen




12 November 2017

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan

22 Okt. 2017 (GKE)

Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33



Sing    Lofsang: Ps. 48-1  v 1 & 4
           Na wet:    Ps. 130-1 v 2
           Na gebed Ps. 86-1 v 3 & 6
           Slotsang  Ps. 18-1 v 1 & 14


Inleiding


Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33

In die wêreld sal julle dit moeilik hê.



Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.



Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.



As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.



Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan. Die vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.



Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.

Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.

Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)

26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.



Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes. Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?



Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie. Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:

“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”



As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)

maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.



Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.



Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30

28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”



Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en liefde:

Rom 8:37-39

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.



Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan.

Amen












08 Oktober 2017

Roep in gebed tot God in tye van nood

Lees: Jona 1 & 2 
Teksverse Jona 2
8 Okt 2017 GKE
Sing:
Ps. 46-1 v 1 & 6
Ps. 102-2 v 1 & 9
Ps. 130-1 v 1 - 4

Sb 14-2








Jona en die vis is seker een van die bekendste verhale in die Bybel. En tog gaan die verhaal nie eintlik oor die vis nie. Wanneer daar oor die verhaal gepraat word land die gesprek so maklik op ’n syspoor van watse tipe vis was dit nou eintlik? Was dit dalk ’n walvis, maar ’n walvis kan nie ’n mens insluk nie. Is dit ’n ware verhaal of is dit net ’n gelykenis? En met al hierdie gesprekke word die hele boodskap van hierdie verhaal gemis! Dit gaan nie hier oor die vis nie, maar wel oor hoe groot God se genade is!

Hierdie verhaal beskryf vir ons hoe God se kinders deur middel van krisisse in hul lewens op daardie punt kom waar hulle net nie meer kan aangaan nie. Dit vertel vir ons van God se liefde en sorg en dat sy verbintenis om sy beloftes na te kom groter is as die sonde van sy kinders.

Ons hoor hier die verhaal van ’n profeet wat eerder van God af wou wegvlug as om Hom te gehoorsaam. Die Here gee aan Jona die opdrag om die Assiriërs, Israel se grootse vyande, te waarsku oor God se komende oordeel. Jona wil egter nie want hy is bang dat die Assiriërs hulself gaan bekeer en dat God dan genade aan hulle gaan betoon. Daarom besluit hy om van God af weg te vlug.

Ons hoor die refrein in die verhaal, weg van die Here af wat herhaal word en dan ook hoe Jona afgaan het. Eers af na Joppe toe waar hy op ’n skip probeer wegvaar van die Here af en dan oorboord weer verder af in die vis tot op die bodem van die see, by die fondamente van die berge.

Hier waar Jona op sy laagste is beskryf vir ons die swaarkry, die pyn en lyding, die verwarring wat pyn en lyding in ’n mens se lewe verteenwoordig. Dit is wat Jona daar in die maag van die vis met die seegrasse om sy kop beleef het. In sommige gevalle, soos met Jona is dit deur jou eie toedoen, maar in ander gevalle is deur die toedoen van ander of die omstandighede in die lewe wat maak dat jy jouself onder in die vis se maag met die seegrasse om jou kop daar by die fondamente van die berge bevind.

Hierdie verhaal gee vir ons hoop want wanneer Jona daar diep in die see binne in die vis van die maag is nadat hy sover as moontlik van die Here af probeer wegvlug het vind ons dat die Here juis daar teenwoordig is! Met hierdie verhaal sê die Here vir elkeen van ons dat Hy veral in die moeilike omstandighede in ons lewens teenwoordig is.

Die gebed van Jona gee vir ons die bril waardeer ons na die donker plekke in ons lewens moet kyk. Of dit nou deur ons eie toedoen is of deur die toedoen van ander of a.g.v. omstandighede waaroor ons geen beheer het nie wys die Here vir ons met Jona hoe ons perspektief kan kry daaroor.

Deur gebed beleef jy op ’n besondere manier hoe jou verhouding met die Here jou dra in tye van swaarkry. In Jona 2 v 2 hoor ons hoe Jona in sy nood tot die Here roep toe hy nie meer geweet het waarnatoe nie. Soms raak jou lewe so buite beheer dat jy nie meer weet watter kant toe nie en al wat jy kan doen is om in jou nood uit te roep “Help my!”

En dan hoor ons die wonderlike troos “Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra,en U, Here, het my gehoor.” Die ironie, daar waar Jona veronderstel is om op sy verste van die Here te wees, is die Here intens teenwoordig. Ons dink so maklik dat God ons verlaat het wanneer ons swaarkry en dat Hy nie oor ons omgee nie. Hier bevestig God opnuut weer dat Hy jou nooit alleen laat nie. Hy luister wanneer jy in nood na Hom roep en Hy weet presies waar jy is. Jy is nie alleen nie!

In Jona 2v3 hoor ons die verbasende waarheid, ons kan amper sê die ontstellende waarheid!
U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.
Dit is deur die Here se toedoen dat Jona in die vis se maag is. Is dit God se skuld dat ons swaarkry? Straf Hy ons met swaarkry?

Nee geliefdes, God is nie besig met straf nie, dit is juis sy genade wat so helder skyn. Hier sien ons dat selfs die moeilikste en onmoontlikste omstandighede nie buite God se beheer is nie. Hy is nie afwesig nie, maar anders as wat ons sou verwag weerhou Hy nie altyd die swaarkry van ons af nie. Soms gebruik die Here swaarkry juis om ons weer by daai punt te bring sodat ons kan besef hoe afhanklik ons van Hom is en dat ons nie sonder Hom kan wees nie.

In Jona 2 v 4 hoor ons dan juis hoe Jona se swaarkry hom opnuut weer laat besef hoe nodig hy God het.
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.
Jona wou vry van God wees en hy het aanvanklik gedink dit sal baie lekker wees. Want dan kan hy doen wat hy wil en is hy nie meer gepla met al die moets en moenies wat sy pret bederf nie. Nou besef hy dat dit wat hy so graag wou gehad het baie sleg en nie lekker is nie! Hy besef nou eers hoe nodig hy God werklik het.

Is dit nie ook maar dikwels ons probleem nie? Ons wil tog maar net so bietjie vry van God se gesag wees. Moet ek al weer Sondag gaan luister na al die dinge wat ek nie mag doen nie? Ek wil tog net so bietjie wegkom van die kerk dinge. Dan kom ek op ’n stadium agter dat om sonder God te wees nie so lekker is nie! Dit is net God wat lewe gee en nie een van ons kan sonder Hom bestaan nie.

Verder in die gebed hoor ons hoe Jona besef dat dit nie net is dat hy God nodig het nie, maar dat God al is wat hy nodig het soos ons hoor in Jona 2:5&6:
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered.
Hy het niks meer nodig gehad nie. Daar waar hy in die maag van die vis was het hy in homself niks gehad wat hom uit sy situasie kon red nie. Dit is net God wat hom kon red en God het ook soos Jona bevestig met die woorde “Maar U, Here my God, het my van die dood gered.”

Hier besef Jona dat dit beter is om saam met God in die vis se maag te wees as wat dit sou wees om sonder God in Tarsis te wees. Dit is beter om saam met God in die moeilikste omstandighede te wees as wat dit sonder God sal wees in die mees gunstigste omstandighede. Dit is juis deur swaarkry wat ons intens weer die liefde en trou van God ervaar en dat ons dan weereens besef dat ons niks anders as God nodig het nie.

In Jona 2 v 7 hoor ons hoe Jona onthou wat God alles in sy lewe al vir hom gedoen het. Hy het weer onthou hoe spesiaal dit is om in ’n verhouding met God te leef.

Geliefdes, onthou u wat het God al alles in u lewe beteken? Onthou u hoe spesiaal u vir Hom is? So spesiaal dat Hy bereid was om Homself so te verneder om ’n eenvoudige mens te word. Dat Hy bereid was om die vernedering van ’n vervloekte kruisdood in u plek te dra! Dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe en dat Hy dit gedoen het uit liefde sodat jy weer in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek sodat jy weer heeltemal met die volheid van God vervul kan word. Onthou dat dit nie saak maak wat met jou gebeur nie want daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

In Jona 2 v 8 hoor ons hoe Jona besef dat die afgod van die eie ek net ellende bring. Toe Jona weggevlug het van die Here af, het hy op die afgod van self staat gemaak. Nou hoor ons hoe hy tot die besef kom dat die afgod van die eie ek niks anders as ellende bring nie. En dit bring hom om in aanbidding tot die Here te nader soos ons hoor in Jona 2v9:
Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.”

En in Jona 2v10 hoor ons die wonderlike belofte dat tye van swaarkry nie vir altyd aanhou nie. Dit word beter, nie net in hierdie lewe nie, maar ons sien uit na die tyd wanneer ons ewig saam met God sal wees sonder al die swaarkry van hierdie lewe.

Soms bring die lewe jou op ’n plek waar jy niks anders kan doen as om in jou nood na die Here te roep nie. Dit is dan wanneer jy besef dat die Here in die grootste swaarkry en onmoontlikste omstandighede intens teenwoordig is. Dit is dan wanneer jy besef dat niks buite God se beheer is nie. Dit is dan wanneer jy werklik begin verstaan dat jy God nodig het en dat jy niks anders as God nodig het nie. Wanneer jy in gebed in jou nood tot die Here roep onthou wat God alles vir jou gedoen het. Onthou dat Hy sy Seun gestuur het om aan ’n vervloekte kruishout vir jou sondes te sterf sodat jy in ’n verhouding met Hom kan leef. Onthou dat daar niks is wat jou van sy liefde kan skei nie. Onthou dat die afgod van die eie ek net ellende bring en buig in aanbidding tot God om werklik die grootheid van sy liefde in jou lewe te ervaar.

Roep in gebed tot God in tye van nood.
Amen