Wys tans plasings met die etiket vertrou. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vertrou. Wys alle plasings

22 April 2020

6 Dagstukkies - Soek jou vrede by God wanneer bekommernis, vrees en spanning jou wil oorweldig


Dag 1 Dinsdag 14 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies



Skriflesing: PSALMS 23:4
Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.

Ons is nou amper in die helfte van die verlengde inperkingstyd. Hierdie inperking bied inderdaad baie redes vir spanning, bekommernis en selfs om bang te wees.

In hierdie volgende klompie daaglikse dagstukkies gaan ons stilstaan hoe om deur die donker diepte van ons inperking te kom. Hierdie inperking hou verwoestende gevolge in waar besighede bankrot kan speel en baie mense hul werk en inkomste kan verloor.

Die moontlikheid dat dit verleng kan word, is ook nie uitgesluit nie. Derhalwe is dit belangrik dat ons geestelik sterk moet wees om nie in die greep van angs vasgevang te word nie, want dit is juis in sulke omstandighede wat ons so kwesbaar is dat die ou duiwel sy kans gebruik om jou aan te val.

In Psalm 23 v 4 hoor ons dat ons nie bang hoef te wees wanneer ons deur donker dieptes gaan nie. Die rede daarvoor is dat ons nie alleen daardeur gaan nie. Ons loop nie hierdie pad alleen nie. God loop saam met ons en Hy dra ons wanneer die pad te moeilik raak.

Ons het hierdie afgelope naweek weer die kruisiging en opstanding van Jesus Christus herdenk. Aan die kruis het Jesus die angste van die hel deurgaan en sy uitroep van bange God verlatenheid: “My God, My God, waarom het U my verlaat” gee vir ons die troos dat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

Daarom kan ons ook vir seker weet dat God ook saam met ons deur die donker vallei van hierdie inperking gaan.

In die volgende paar dagstukkies gaan ons dan ook stilstaan by praktiese maniere hoe om hierdie pad saam met God te stap sonder vrees.

Moenie dat die hierdie inperking en die gevolge daarvan jou met vrees en bekommernisse lamlê nie.
Amen
Dag 2 – Verbly jou in die Here

Dinsdag 15 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skriflesing: Fil. 3 v 1
Verder, my broers, wees bly in die Here!
Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie,
en vir julle gee dit sekerheid.
Fil. 4 v 4
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Soos wat die tyd aanstap begin hierdie inperking op jou gemoed werk. As jy nie oppas nie, kan jy maklik in donkerte vasgevang word.

Ons loop hierdie pad egter nie alleen nie. In Joh. 14 net kort voor Jesus se kruisiging belowe Hy dat die Heilige Gees in sy plek sal kom as Trooster om ewig by ons te bly. Aan die kruis net kort voor sy dood het Jesus in bange Godverlatenheid uitgeroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Dit gee vir ons die sekerheid dat ons nooit alleen is in hierdie lewe nie.

In hierdie brief aan die gemeente in Filippie sê die Here vir ons hoe om die pad saam Hom te stap, veral in tye wanneer ons onder beproewing staan.

Paulus skryf hierdie brief terwyl hy in die tronk is. Hy was baie meer ingeperk met baie minder vryhede as wat ons het, selfs te midde van ons eie inperking. Sy kern boodskap in hierdie brief is om in alle omstandighede bly te wees in die Here.

Dis maklik om bly te wees wanneer jy voorspoed in jou lewe geniet. Paulus se opdrag: “verbly jou in die Here” is nie bedoel dat jy bly moet wees omdat dit goed gaan met jou nie. Sy opdrag is juis om jou aan te moedig om te midde van aanvegtinge, verdrukking en swaarkry bly te wees. Dit gaan nie daaroor dat jy die beproewings maar net moet verduur nie, maar dat jy midde in dit blydskap vind.

Die sleutel tot hierdie blydskap is dat jy dit in die Here moet vind. “Verbly jou in die Here.” Met ander woorde draai jou fokus weg van jou omstandighede af na die Here toe.

Die bron van jou blydskap is dat God in Jesus jou so lief het dat Hy ALLES gedoen het om jou te red van die ewige dood. Jesus het vir jou gesterf en Hy het vir jou opgestaan uit die dood sodat jy kan lewe.

Die ou duiwel se doelwit is om jou fokus weg van God af te draai op jou omstandighede. Toe Petrus op die water na Jesus toe geloop het, het hy op die wind en golwe om hom begin fokus en weggekyk van Jesus af. Daarom het hy begin sink en dit is wat met sal gebeur wanneer jy op jou omstandighede fokus, eerder as op ons Here.

As hierdie inperking jou gemoed begin donker maak, draai jou aandag weg van jou omstandighede terug na die Here toe. Die Heilige Gees is by jou. Bid dat Hy al die seëninge wat God vir jou gegee het waarvoor jy dankbaar kan wees, sal wys.

Bid dat Hy jou negatiewe gedagtes oor die sleg van die inperking sal vervang met positiewe gedagtes van dankbaarheid vir al die seëninge in jou lewe. 'n Verder praktiese manier is om te gaan sit en 'n lys te maak van alles waarvoor jy dankbaar moet wees.

Moenie dat hierdie tyd van inperking jou met donkerte vul nie.

Verbly jou in die Here!
Amen

Dag 3 – Fokus op die positiewe wat is en nie op die negatiewe wat mag wees nie.
Woensdag 16 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skriflesing: Fil. 4 v 6-8 Fokusvers: 8
6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Verder, my broers, wees bly in die Here!

In ons dagstukkies het ons gehoor dat God belowe dat ons nie alleen deur Corona Covid19 krisis gaan nie. Hy stap die pad saam met ons. Die Heilige Gees is by jou elke sekonde van elke dag. Die Heilige Gees is jou Trooster in hierdie lewe. Die Heilige Gees wek in jou die behoefte op om die pad saam met God te stap.

In Fil. 4 v 6 & 7 hoor ons dat jy in met jou vrese, bekommernisse en dankbaarheid in gebed tot God moet nader met die troosvolle belofte dat sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, jou lewe sal vul. Daar is egter iets BAIE belangrik wat jy nie moet miskyk nie. Vers 7 sluit af met die woorde: “in Christus Jesus.”

Die enigste manier wat jy kan deel in die troos dat God die pad saam met stap en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie, is dat jy die evangelie moet glo. Jy moet glo dat jy 'n kind van God is omdat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf. Jy moet glo dat Jesus die dood oorwin het en dat sy opstanding die waarborg is dat jy nou 'n nuwe lewe ontvang het.

In hierdie brief aan die Filippense hoor ons hoe om prakties voete op die grond die pad saam met God te stap. Hoe jy hierdie nuwe lewe wat jy ontvang het moet leef.

In Fil. 4 v 8 hoor ons dat jy op die waarheid moet fokus. Dit is hoe jy positief gaan bly in hierdie virus storm waarin ons vasgevang is. Dis negatiewe gedagtes oor wat moontlik verkeerd kan gaan wat jou in die donkerte intrek. Dit is hierdie spiraal van negatiewe gedagtes wat jou sag maak om al die snert en fopnuus te glo wat op leuens gegrond is en dit vul jou gemoed met net nog meer donkerte. So beland jy in 'n bose spiraal wat jou net al hoe dieper in die donkerte intrek.

Moenie op die negatiewe van alles wat moontlik verkeerd kan loop fokus nie. Fokus op die positiewe wat is en nie op die negatiewe wat mag wees nie.
Amen

Dag 4: - Die Here gee vir jou die krag en genade om vandag se probleme te kan hanteer. Môre gee Hy weer krag vir môre se probleem.



Vrydag 17 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies
Skrif: Mat. 6:34; Heb. 4:16

Ons het baie bekommernisse oor wat gaan gebeur as gevolg van hierdie virus en wat die gevolge gaan wees van hierdie inperkingstyd. Dit is reeds eenkeer verleng en die moontlikheid is glad nie uitgesluit dat dit nog verder verleng kan word nie.

Daar is aanduidings dat dit nie heeltemal opgehef gaan word nie, maar dat dit op een of ander manier gaan voortduur na 30 April. Wat gaan die gevolge daarvan wees? Niemand kan verseker sê nie, maar wat almal eens is, is dat dit nie goed gaan wees nie.

Ons natuurlike reaksie is om te bid “Here asb. tog, neem net al hierdie slegte goed van ons af weg. Here laat die lewe asb. tog net weer na normaal terugkeer.”

En dit is nie net met hierdie Korona krisis die geval nie. Dit is eintlik maar met elke moeilikheid wat oor ons pad kom.

Die harde werklikheid is egter dat die Here nie noodwendig die probleme en die gevolge wat daarmee gepaard gaan, wat oor ons pad kom, wegneem nie. Hy kan en doen dit soms, maar meestal neem Hy dit nie weg nie.

Die troos wat die Here wel vir ons gee is dat selfs al word jou grootste vrese bewaarheid, dat jy nie alleen daar deur hoef te gaan nie. Dis hoekom Christus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy nooit weer deur God verlaat sal word nie. Jy is nie alleen in hierdie stryd nie en ons as Christene glo dit.

Tog word ons soms nog steeds oorweldig deur die krisisse wat oor ons pad kom. Die rede daarvoor is dat ons die hele krisis op een slag wil aanvat. Daarmee saam gaan haal ons ook die bobbejaan agter die bult uit met vrese oor goed wat moontlik mag gebeur, wat dalk tog nie sal gebeur nie.

Die Here gee vir ons krag en genade om deur die uitdagings wat Hy oor ons pad bring te oorleef. Hy gee egter net genoeg krag vir dit wat jy vandag moet hanteer. En dit is ons probleem. Ons is so geneig om te wil bekommer oor wat môre ook gaan gebeur.

Luister na wat die Here vir ons in Mat. 6 v 34 hieroor sê:
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”
Die Here gee vir ons krag en genade om vandag se probleem te hanteer.

In Heb. 4 v 16 hoor ons:
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Gaan vra vir krag en genade om die moeilikhede te hanteer en vertrou die Here dat Hy vir jou krag en genade sal gee om elke probleem op sy eie tyd te hanteer.

Hoe eet mens 'n olifant op? Stukkie vir stukkie. Die Here gee vir jou genoeg krag om vandag se stukkie olifant op te eet. Môre sal Hy weer vir jou krag gee om môre se stukkie olifant op te eet.

Moenie jou siek maak met bekommernisse oor alles wat kan gebeur nie. Fokus op vandag. Vra vir die Here krag en genade om van dag te hanteer. Môre sal Hy vir jou weer krag gee om môre se probleme te hanteer.

Amen

Dag 5: - Is jy bereid om op die Here te vertrou?

Dinsdag 21 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skrif: Gen. 12 v 1 - 4; Ps. 37 v 5

Een van die redes hoekom hierdie tyd van inperking so moeilik is, is omdat ons nie beheer het daaroor nie. 'n Mens wil in beheer van sy lewe wees. Ek wil self besluit waarheen my lewe op pad is en wat daarmee gaan gebeur.

In ons moderne samelewing word klem gelê op onafhanklikheid. Ons wil self besluit wat in ons lewens gaan gebeur en ons wil nie voorgesê word wat om te doen nie. Die probleem wat hiermee egter gepaard gaan is dat ons so onafhanklik raak dat ons dink dat ons God nie meer nodig het nie. Is dit nie dalk hoekom so baie mense wegraak uit die kerk uit nie?

In Psalm 37 v 5 hoor ons “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Tot watter mate het ons strewe na beheer ons vertroue op die Here in die wiele gery?

In hierdie tyd van inperking is dit juis hierdie strewe van ‘ek wil in beheer wees’, wat van ons af weggeneem is. Nou word ons voorgesê wat ons mag, en nie mag doen nie. Byvoorbeeld, wanneer jy in die supermark kom, is daar nou skielik sekere items wat jy nie meer mag koop nie. Dis nie dat die items nie meer beskikbaar is nie, maar omdat daar nou 'n regulasie is wat dit verbied. Jy word voorgesê waarheen jy mag gaan en nie mag gaan nie. Ons is nie meer in beheer nie.

Hierdie pandemie het dit wat bekend was in ons lewens omgekeer en die pad vorentoe lyk onbekend. Ons weet nie werklik wat wag nie en waarheen is ons op pad nie. Ons is nie in beheer nie!

In Gen. 12 v 1 hoor ons van Abraham wat ook op pad was die onbekende in.
“Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”

In Gen. 12 v 4 hoor ons dat Abraham toe weggetrek het die vreemde in. Wat het hom sover gebring om die Here te vertrou en te gehoorsaam? Hy het vertrou dat die Here sy belofte van seën sou nakom.

Abraham se vertroue in die Here het die wêreld geskiedenis verander. Uit sy nageslag is Jesus gebore wat gekom het om die wêreld van hulle sondeslawerny te verlos. Die Here het sy belofte van: “In jou sal die volke van die aarde geseën wees,” nagekom.

Is jy bereid om die Here te vertrou? As jy in Jesus glo dan moet jy weet dat die Here saam met jou die onbekende toekoms ingaan. Die sekerhede wat ons gehad het, was eintlik maar net 'n illusie, want daar is niemand wat met sekerheid kan sê wat die toekoms inhou nie. Met hierdie pandemie het die Here net weer die waarheid daarvan bevestig.

Is jy bereid om God te vertrou met die pad wat Hy vir jou uitgelê het? As jy in Jesus glo, kan jy verseker weet dat die Here net jou beste belang op die hart dra en dat Hy jou sal dra deur die onsekerhede van wat die toekoms inhou, want as jy in Jesus glo is jy 'n kind van die Here. Dit is jou geloof in Jesus, (dat Hy vir jou sondes gesterf het sodat jy weer met God versoen kan word,) wat die fondament van jou vertroue op die Here is.

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Amen

Dag 6: - Wanneer vrees en onsekerheid dreig om jou te oorweldig, onthou dat God jou liefhet en dat Hy vir jou sorg.

Woensdag 22 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skrif: Mat. 10 v 29 – 31; 1 Joh. 4 v 9

Hierdie tyd van inperking is vol onsekerhede en onsekerheid voed vrees. Dit is 'n natuurlike neiging om te verwag dat iets slegs gaan gebeur en in tye van onsekerheid kom hierdie verwagting soveel te meer na vore.

Die bron van hierdie geneigdheid lê daarin dat ons vergeet van God se goedheid en sorg. Voel jy vandag onseker en bang oor wat die toekoms gaan inhou? Kom luister dan net weer hoe kosbaar jy vir God is en hoe besorgd Hy oor jou is:
Mat. 10 v 29 - 31
“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Dit is nodig dat ons gereeld herinner word aan hoe lief God ons werklik het. Net soos wat jy gereeld vir jou geliefde sal sê en wys deur jou optrede dat jy hulle lief het, herinner God ons deur sy Woord hoe lief Hy ons het. Daarom is dit nodig dat jy elke dag tyd saam met God spandeer om uit sy Woord te hoor hoe lief Hy jou het. Luister bietjie weer na 1 Joh. 4 v 9:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Wanneer vrees en onsekerhede jou wil oorweldig, onthou dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur het om vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout te sterf sodat jy kan lewe. Met sy oorwinning oor die dood gee Jesus vir elkeen wat in Hom glo die ewige lewe. Al wat jy moet doen om die ewige lewe te ontvang is om in Jesus te glo, te glo dat Hy vir jou sondes gesterf het sodat jy weer met God versoen kan wees.

Wanneer ons van die ewige lewe hoor dan dink ons eerste daaroor dat dit beteken dat ons in die hiernamaals ewig saam met God gaan wees waar daar geen hartseer, trane, pyn of dood meer sal wees nie. Dis 'n lewende hoop waaraan ons moet vashou.

Die probleem kom dikwels in dat ons vergeet dat die ewige lewe baie meer as dit is. Die ewige lewe beteken ook dat God reeds in hierdie lewe saam met jou is en dat Hy vir jou meer nog sorg as wat Hy vir die mossies sorg. Die ewige lewe gaan nie bloot net daaroor om vas te klou aan die hoop en vrede wat ons eendag sal hê nie. Dit gaan om aanváárding van hoe geliefd ons nou is.

As die vrees en bekommernis in hierdie inperkingstyd dreig om jou te oorweldig, onthou God se liefde en sorg, want sy volmaakte liefde dryf alle vrees uit.
Amen

19 April 2020


Die Here voorsien elke dag genoeg vir dit wat jy nodig het vir vandag.
Datum:19 Apr. 2020 GKE
Skriflesing: Eks. 16 v 1 - 30
Teksvers: Eks. 16 v 4


Inleiding:
Hierdie staat van inperking en alles wat daarmee gepaard gaan kan oorweldigend wees. In die begin was dit so 'n bietjie van 'n uniekheid. Iets nuuts wat ons wou uitprobeer. Amper so 'n tipe opgewondenheid, maar soos die tyd aanstap raak dit moeiliker.

Die anderste nuutheid is nou afgeskuur. Dis nie meer interessant nie en die werklikheid van wat die gevolge kan wees dring al hoe meer tot ons deur. Die alleenheid begin mense vang, veral hulle wat op hul eie ingeperk is. Mens smag so bietjie na ander se geselskap.

Hoe hanteer mens dit?

In hierdie verhaal van Israel wat deur die woestyn op pad na die beloofde land was nadat die Here hulle van die Egiptiese slawerny bevry het, gee vir ons 'n paar antwoorde.

Die opgewondenheid om uit Egipte weg te kom het nou al bietjie afgewater geraak. Dit was nie meer vir hulle lekker nie. Boonop begin hulle kos ook minder begin raak.

In 'n sekere sin is ons situasie baie soortgelyk aan wat die Israeliete se situasie was daar in die woestyn en daarom kan ons uit hierdie verhaal 'n paar beginsels kry oor hoe om ons eie situasie te hanteer.

Daar is drie aspekte wat in hierdie verhaal na vore kom. Eerstens God sorg vir ons. Tweedens In sy sorg gee God genoeg vir elke dag en derde beginsel is dat ons ook 'n verantwoordelikheid het.

1) God sorg vir ons:
Die volk het 'n probleem gehad. Hulle kos het begin min raak. In hul reaksie op die probleem leer ons hoe ons nie moet reageer nie.

In hulle reaksie het begin kla en opstandig raak. Hulle was vol verwyte, soveel so dat hulle begin terug verlang het na Egipte waar hulle as slawe geleef het!

Ten diepste was hul opstand nie teen Moses en die ander leiers nie, dit was opstandigheid teen God en daarom het hulle besluit om sake in eie hande te neem. Hulle het as te ware hulle stemme dik gemaak teenoor God.

Dit sê vir ons hoe ons nie moet reageer oor ons huidige situasie nie. Om te kla en opstandig te wees, hoort nie by kinders van God nie. Hoe moet ons dan reageer? Israel moes vir Here gevra het met die erkenning dat hulle alleen van Hom afhanklik was vir versorging.

Dit is wat ons moet doen. Kom na God toe met jou vrese en bekommernisse, maar doen dit in die regte gesindheid. Vra vir Hom omdat jy van Hom afhanklik is met die wete dat Hy sal sorg. Moenie met 'n baklei gesindheid kom om God te probeer dwing nie.

Israel se groot probleem was dat hulle nie vertrou het dat God vir hulle sou sorg nie. Hulle moes leer dat die Here vir hulle sou sorg en daarom het Hy ook spesifieke voorskrifte gegee oor die manna waarmee Hy hulle versorg het, sodat hulle sou leer om op die Here alleen te vertrou.

In hierdie verhaal sien ons ook hoe groot God se genade is. Ten spyte van Israel se murmurering, het Hy vir hulle gesorg. Sy sorg berus op sy besluit om te sorg. Dit berus nie daarop dat jy moet bewys dat jy goed genoeg is nie. Dis wat genade is. God gee sonder dat jy verdien. Eintlik is dit dat God gee ten spyte daarvan dat jy nie verdien om te ontvang nie!

Hier sien ons ook hoe groot God se sorg werklik vir ons is. Die brood wat die Here vir Israel gegee het, wys profeties heen na Jesus Christus. In Joh. 6 v 51 hoor ons:
Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Brood is ook een van die tekens van Nagmaal. Die brood is 'n teken van Jesus se liggaam en die wyn 'n teken van sy bloed wat gestort is toe Hy sy lewe vir ons gegee het sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal ontvang.

Die ewige lewe is nou reeds jou deel. Dit is nie iets wat jy eers eendag daar ver gaan ontvang nie. Die ewige lewe is dat God nou reeds deel is van jou lewe en dat Hy die pad saam met jou stap omdat jy sy kind is. Hy los jou nie alleen nie en daarom moet jy weet dat jy ook in hierdie krisis waardeur ons nou gaan, nie alleen is nie.

God sorg vir jou. Hy sorg dat jy lewe in hierdie lewe, maar ook in die lewe wat kom na jou dood.

2) Die tweede beginsel wat ons in hierdie verhaal leer is dat God in sy sorg vir jou genoeg gee vir elke dag.

Die manna wat Israel opgetel het, was genoeg vir elkeen volgens sy behoefte vir daardie dag. Ook hierin moes die volk leer om die Here te vertrou. Hulle moes net genoeg vir elke spesifieke dag optel, want as hulle meer opgetel sodat hulle ook vir die volgende dag sou hê dan het dit daarop neergekom dat hulle nie vertrou het dat die Here môre weer sou voorsien nie.

Die Here gee vir ons genoeg om deur elke dag te kom. In Jesus het ons die ewige lewe ontvang. God is saam met jou vir elke dag. Hy gee vir jou dit wat jy nodig het om deur vandag te kom.

Ons probleem is dikwels dat ons so bekommer oor als wat gaan gebeur dat ons vergeet om vir vandag te leef. Verder bekommer ons te veel oor wat moontlik kan gebeur. In Mat. 6 v 34 sê Jesus vir ons:
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Daarom leer Jesus ons ook om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Met ander woorde gee vir ons dit wat ons vir vandag nodig het.

Elkeen wat in Jesus glo ontvang die ewige lewe. Dit beteken dat die Here reeds in hierdie lewe elke dag saam met jou gaan en dat Hy vir jou genoeg krag sal gee om deur elke dag te kom.

Daar is ook 'n uitsondering gewees op die daaglikse versameling van manna. Op die sesde dag moes hulle genoeg vir twee dae versamel sodat hulle die volgende dag kon rus.

Ook die Sabbat van die Ou Testament het profeties heengewys na die rus wat ons in Jesus Christus vind. Die Here gee vir ons geleentheid om te rus deur jouself net los te maak van jou dag tot dag doen en late en stil te word saam met Hom. Ook om deur Hom gevoed te word ook die erediens.

Hierdie tyd van inperking kan maklik te veel word wanneer jy dit alles op een slag wil hanteer. Dan kan ons gedagtes maklik met ons weghardloop om bobbejane agter die bult te gaan haal wat dalk nie eers daar gaan uitkom nie. Dikwels maak ons 'n berg van 'n molshoop deur onnodig te bekommer oor dinge wat dalk net kan gebeur.

God is daar en Hy sal jou nooit alleen laat nie. Hy sal vir jou die krag gee om deur hierdie dag te kom. Leef hierdie dag saam met Hom en moenie toelaat dat môre se bekommernisse jou van vandag se vreugdes beroof nie. Maak gebruik van die rus wat Hy in Jesus vir jou gee om ook in die eredienste deur Hom gevoed te word.

3) Die derde beginsel wat ons in hierdie verhaal leer, is dat jy ook 'n verantwoordelikheid het.
Die Israeliete moes elke dag uitgaan om manna vir die dag op te tel. As hulle nie manna gaan optel het nie, dan het hulle vir daardie dag nie kos gehad nie.

Jy het ook 'n verantwoordelik om na God te kom om gevoed te kan word met die hemelse Brood sodat jy daardeur krag kan ontvang vir die dag. Soms word ons oorweldig deur die lewe omdat ons nie ons hemelse Brood gaan haal nie. As hierdie inperking en alles wat daarmee gepaard gaan te veel word vir jou, is dit moontlik omdat jy jouself verhonger omdat jy nie elke dag die krag van die hemelse Brood gaan haal het nie.

Maak elke dag tyd om stil te word in gebed saam met God. Maak elke dag tyd om gevoed te word deur sy Woord. Luister na God se stem in die Bybel.

Samevatting:
God sorg vir jou. Hy loop elke dag die pad saam met jou. Fokus daarop om elke dag vir daardie dag te lewe met die vaste vertroue dat God vir jou genoeg krag sal gee vir daardie dag. Moenie dat bekommernisse oor môre jou van vandag se vreugdes beroof nie. Kom jou verantwoordelikheid na om elke dag na God toe te kom sodat jy met die hemelse Brood gevoed kan word.

Die Here voorsien elke dag genoeg vir dit wat jy nodig het vir vandag.
Amen

30 September 2018

Is daar hoop midde in lyding?

Job Preek 4

30 Sep. 2018 

Job 38:1-12; 39:34-38 & 42:1-6


Teksverse: Job 38:4; 42:5


Ons is vandag by ons vierde preek uit Job oor moeilike lewensvrae waarop daar nie altyd maklike antwoorde is nie. In die eerste preek het ons gehoor dat jy nie ʼn mooiweersgelowige moet wees nie. Dien God vir wie Hy is en nie vir dit wat jy van Hom ontvang nie.

In die tweede preek het ons gehoor dat ons nie altyd weet hoekom daar slegte dinge oor ons pad kom nie. Wat ons wel weet is dat God daar is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie.

In die derde preek het ons stilgestaan by wat die Here van ons verwag wanneer ons ly. God verwag dat ons Hom sal vertrou. Dat ons dankbaar moet wees in tye van voorspoed en geduldig in tye van teëspoed.

In die vierde preek staan ons stil by die vraag: 
“Is daar hoop midde in lyding?” 

Hoop is die een ding wat jou staande hou wanneer lyding oor jou pad kom. Hoop maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk en die pad enduit te stap. Job wys vir ons dat ongeag jou omstandighede daar altyd hoop is wanneer jy die pad saam met God stap.

Job is nie ʼn maklike boek om te lees nie. Hebreeuse poësie is nie maklik nie, veral nie as dit in ʼn verhaal gebruik word nie. Na die inleiding waar ons hoor van die rampe wat Job getref het, vind daar ʼn uitputtende tweegesprek tussen Job en sy vriende plaas wat vir 35 hoofstukke aanhou.

Dis ʼn gesprek wat al in die ronde gaan sonder dat daar enige antwoorde kom oor Job se rampe. Wat dit vir ons sê is dat die menslike deelnemers absoluut geen antwoorde het vir Job se probleem nie, maak nie saak hoe lank hulle daaroor praat nie.

Dit is eers wanneer God tot die gesprek toetree dat daar antwoorde kom, maar tog is dit nie die antwoorde wat ons verwag nie. Op die oog af klink dit of die vrae wat God aan Job oor sy skepping vra nie eintlik vir Job nuwe inligting gee nie.

Die gesprek bevestig wel God se onbeperkte mag en wysheid, maar dit is nie iets wat Job alreeds geweet het nie. Dieperliggend spreek God Job se twyfel dat God nie regverdig is nie aan. In Job 38:4-7 hoor ons:
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit? Wie het ’n maatlyn oor hom gespan?
Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre
saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?

Hier beskryf die Here die vestiging van die aarde op so ʼn manier wat Job se aanklag teëspreek dat die wêreld in chaos ontaard en dat die bose die oorhand gekry het.

Job is so vasgevang in sy pyn dat hy net die negatiewe raaksien. Is dit nie maar ook dikwels met ons die geval nie? Ons raak so oorweldig deur ons omstandighede dat alles net verkeerd en lelik is. Ons raak so vasgevang in die negatiewe dat ons naderhand glad nie meer raaksien wat goed en mooi is nie.

Die beskrywing van die see in Job 38:8-11 is besonders treffend.
Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak.
Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit.
Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie;
hier is die grens van jou magtige golwe.’
Die see is simbolies van chaos en boosheid. God is beheer van die see en Hy stel die perke. God het die boosheid oorwin.

Deur sy lyding het Jesus die mag van die boosheid gebreek. Hierin lê die groter hoop. Wanneer Jesus weer kom op die wolke gaan Hy die boosheid en lyding wat daarmee gepaard gaan finaal verban. In ʼn sekere sin deel ons met ons lyding in Jesus se lyding en daarom deel ons ook in sy oorwinning oor die boosheid.

Ons is nie maar net aan die noodlot uitgelewer is nie. Ons is nie op ʼn vliegtuig sonder ʼn loods nie. God is in beheer. Hy word nie onkant gevang nie. Dit is ʼn hoop waaraan ons vashou.

Die sekerheid dat God alles kan doen en dat sy raadsplan nie gekeer kan word nie is die hoop en troos wat ons nodig het midde in lyding. God laat nie maar alleen net lyding toe nie. Hy beheer dit. Hy laat nie toe dat lyding sy bose doelwitte bereik nie. Hy buig dit om sodat alles ten goede meewerk. God wat weet hoe om boosheid te gebruik om op die uiteinde sy doelwitte van goedheid te bereik, sal ook die donkerste lyding in my lewe gebruik om alles vir my ten goede te laat meewerk.

in Job 42:5 hoor ons:
Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
Job bely dat hy God op ʼn heel nuwe wyse leer ken het. Hy het in die verlede gedink hy ken God, maar toe besef hy dat hy net van God geweet het. Nou egter, het hy God persoonlik leer ken. Job bevestig dat sy verhouding met God heeltemal anders is as enige ander verhouding wat hy met mense het. Sy verhouding met God is kosbaarder as enigiets anders in sy lewe.

God gebruik lyding om jou nader aan Hom te bring. Wanneer jy ly en nie antwoorde kry oor hoekom nie, maar nogtans vashou aan jou verhouding sal jy ook God op ʼn heel nuwe manier leer ken.

Die hoop midde in lyding is dat God ʼn werklikheid word in jou lewe. Deur jou geloof in Jesus Christus leer jy om God te vertrou, selfs wanneer die lewe om jou deurmekaar is en jy nie verstaan hoekom nie. God word ʼn konkrete werklikheid en ʼn anker wat sin aan jou lewe gee.

Ons kry dikwels nie antwoorde op ons hoekom vrae nie. Job moes in die kookpot beland om getoets te word of hy opreg lewe ter wille van God. Hy moes leer om opnuut weer te sê: “Laat U wil met my geskied.”

Glo dat jou lewe in die hand van God is en berus daarin. Laat jou gebed ook wees “Laat U wil met my geskied.” Jou lewe word nie deur die noodlot bepaal nie, maar deur jou persoonlike verhouding met God.

Amen


10 Julie 2016

Moenie toelaat dat bekommernisse jou lewensvreugde steel nie




Sondag 10 Jul 2016 GKE
Mat 6:24 – 34 Teksv. Mat 6:25 Moet julle nie bekommer oor julle lewe en Mat 5:3

Sing
Ps. 46-1 v 1 & 6
Lied 292 v 1 & 2 Jou Enigste Troos
Ps. 42-1 v 1 & 7

Sb 17-1 v 1 – 6























Bekommernis. Wie van ons kan sê dat ek nog nooit bekommerd was nie? Om te bekommer is ’n eg menslike eienskap. Elkeen van ons is bekommerd tot een of ander mate oor die lewe. Oor die algemeen is ons bekommernisse nie van so aard dat dit beheer van ons lewens neem nie. Daar kom egter situasies in die lewe waar bekommernis jou hele bestaan oorheers en jy naderhand absoluut lamgelê word daardeur, want kommer is absolute negatiewe energie wat jou liggaam behoorlik afbreek.

Kommer is die vrees wat jou lamlê dat die slegste moontlike uitkoms waar gaan word. Die saak waaroor jy bekommer oorheers naderhand al jou gedagtes en dit keer dat jy op enigiets anders kan konsentreer. Kommer kan selfs ’n negatiewe uitwerking op jou verhouding met die mense om jou hê. Ten diepste beïnvloed dit jou verhouding met God negatief sodat jy naderhand nie meer op God vertrou nie.

Kommer moet egter nie met besorgdheid of voorsorg verwar word nie. Besorgdheid is positiewe energie waar jy beplan vir gebeurlikhede. Teenoor kommer wat jou lamlê spoor voorsorg of besorgdheid jou tot positiewe aksie aan. Kommer se dryfveer is vrees en angs terwyl voorsorg en besorgdheid deur vertroue gemotiveer word. Dit is goed om te beplan vir wat voorlê want dit help jou om na te dink oor jou doelwitte en die maniere waarop jy hulle kan bereik met die wete dat jy op God kan vertrou. Selfs wanneer dinge nie altyd uitwerk soos jy beplan nie vertrou jy steeds op God dat Hy vir jou sal sorg.

In ons teksgedeelte leer die Here ons om nie toe te laat dat bekommernisse ons lewensvreugde steel nie. As jy die gedeelte net oppervlakkig lees kan jy maklik tot die verkeerde gevolgtrekking kom dat jy maar net op die verhewe dinge moet konsentreer en die res sal vanself kom. Dit gebeur juis wanneer jy voorsorg met kommer verwar. Jesus sê nie hier dat ons nie voorsorg hoef te tref nie. Nee dit moet ons doen want Hy leer ons ook baie spesifiek, wie nie saai nie sal ook nie oes nie.

Wat Hy ons wel hier leer is dat ons, ons nie moet bekommer nie. Ons moenie so in die geskarrel om ’n dak oor jou kop te kry en kos op die tafel kry, vasgevang word dat ons die lewe mis nie. ’n Lewe saam met God waarin ons ook die geestelike dimensie van ons bestaan kan geniet. Dit wat eintlik sin en betekenis aan die lewe gee. Die probleem kom in wanneer daar ’n oordrewe fokus op besittings is. Wanneer mens so op die materiële aspekte van die lewe gefokus is dat jy nie by God uitkom nie.

Jesus gebruik hier twee beelde. Net soos ons hemelse Vader vir die voëls sorg, sal Hy ook vir ons sorg. Die lelies van die veld wat van verbygaande aard is, versier God met soveel prag dat dit selfs mooier is as die prag van Salomo. As God soveel sorg vir sulke tydelike goed het soos veldblomme, sal Hy sekerlik vir ons ook sorg.

Hoe kom ons vry van lewensangs en die bekommernisse van die lewe? Jesus antwoord in Mat 6:33:
beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Wat beteken dit om jouself vir die koninkryk van God te beywer? Jesus begin die bergrede waarvan hierdie gedeelte oor bekommernis deel is met (Mat 5v2)
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
 
In die Bergrede wat ons in Mat 5 tot 7 vind, hoor ons hoe volgelinge van Jesus moet leef. Die lewens van burgers van die Koninkryk van God lyk radikaal anders die lewens van ongelowiges. Hier hoor ons hoe anders dit is soos ons byvoorbeeld in Mat 6:31 - 33 hoor:
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Burgers van God se Koninkryk weet dat God vir hulle sal sorg en dat hulle daarom geen bekommernis daaroor hoef te hê nie.

Die sleutel hoe mens daarby uitkom lê daarin dat jy moet verstaan dat jy geheel en al alleen van God afhanklik is. Wanneer jy jou desperate nood vir God leer ken en jou totale gebrek aan eie geestelike gawes verstaan, dan begin jy leef uit God se genade.

In Mat 5:3 staan daar letterlik “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Dit gaan nie hier armoede in die tradisionele sin nie, nie oor ’n gebrek aan besittings en middele nie. Dit gaan oor die wete dat ek geestelik bankrot is voor God. Dat ek in myself niks het wat ek God kan bied nie. Die besef dat ek totaal van Hom afhanklik is.

Wanneer ek dit verstaan, dan sal ek ook begin om God se liefde te verstaan. Kyk wat het Jesus aan die kruis vir my gedoen. As Hy bereid was om sy lewe vir my op te offer dan moet ek tog baie kosbaar vir God wees. Wanneer ek God se liefde verstaan sal ek ook verstaan dat Hy vir my sal sorg. Sal ek verstaan dat Hy my nooit alleen sal laat nie. Sal ek verstaan dat Hy in alles by my sal bly, my fisiese versorging, in siekte, by die werk, in alles fisies en geestelik. Sal ek verstaan dat ek totaal en al van Hom afhanklik is en dat alles wat ek het uit sy liefdevolle Vaderhand kom.

Dit bring ’n dieper perspektief op God se liefde wat ons onder andere ook in Joh. 3:16 hoor:
God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Glo jy dit? 

As jy dit glo dan sal jy ook glo dat God net jou beste belange op die hart dra en dat jy Hom kan vertrou om in alles vir jou te sorg.

Moet daarom nie toelaat dat bekommernisse jou lewensvreugde steel nie. God sal in alles vir jou sorg.
Amen