29 Junie 2014

Kom na God toe wanneer dit alles donker is rondom jou

Sondag  29 Jun. 2014 GKE
Skriflesing Ps. 88 tv 2
Ps. 84-1:1 & 3
Sb 9-1:1 voor die wet
Sb 9-1:11 na die wet
Ps. 86-1:1,3,6 & 9
Sb. 10-1 : 1- 4 Gebed na woordverkondiging
Sb. 17-1:1 & 6

Inleiding
Ps. 88 is ’n donker Psalm. Baie mense beskou dit as die swaarmoedigste gebed in die hele Bybel. In wanhoop roep die Psalmdigter tot God. Die Psalm wissel tussen die Psalmdigter se noodroep tot die Here en die redes vir sy nood.

Eerste noodroep:- ’n Lewe sonder lig
In Ps. 88:2-3 hoor ons sy eerste noodroep:
Here, God van my verlossing, dag en nag roep ek tot U. Luister tog nou na my gebed; hoor my hulpgeroep. Want my lewe is vol ellende, en die dood kom al nader.
Dan gee hy die redes in Ps. 88:4-10. Sy lewe is sonder lig. Sy swaarkry het vir hom te veel geword. Hy sit in ’n donker put waar dit vir hom voel of God van hom vergeet het. Hy staan met sy voet in die graf en dit voel of God hom so straf dat selfs sy vriende hom vermy. Sy oë het dof geword van smart.

Tweede noodroep: Dood sonder hoop
In Ps. 88:10b hoor ons sy tweede noodroep:
Here, elke dag roep ek U om hulp, en sprei my hande uit na U in gebed.
Sy oproep om hulp word al hoe intenser. Hy is so bedruk dat hy herhaal dat hy die hele dag lank bid sodat God sy hulpgeroep moet hoor.

In Ps. 88:11-13 gee hy weer sy redes. Hy het geglo soos die mense van sy tyd dat as jy eers dood is met God se wraak wat op jou rus, dan is jou laaste kans op ’n wonder verby. As hy eers in donkerte van die dood is, kan hy nie meer die wondermag en redding van God ervaar nie.

Derde noodroep: Vrae sonder antwoorde.
In Ps. 88:14 hoor ons sy derde noodroep:
Maar ek roep na U om hulp, Here. Elke oggend is my gebed voor U.
Ons hoor hier hoe die roepstem van die Psalmdigter nog dringender word, want hy roep al van vroeg in die more af om hulp.

In Ps. 88:15-19 hoor ons weereens die redes. Hy vra waarom God hom verstoot? Van jongs af kry hy swaar en dit voel vir hom of God se toorn hom tref. Hy kry egter nie antwoord op sy vrae nie. Dan sluit die Psalm op hierdie donker noot af:
die duisternis van die dood is my enigste geselskap
Die digter se gebed eindig soos dit begin het met ’n noodroep, maar ons hoor nie of sy gebed verhoor is nie.

Daar is tog hoop
Waarom is hierdie swaar donker Psalm vir ons opgeteken? Hoekom vind die outeur nie vrede en 'n toevlug en troos aan die einde soos in die ander Psalms nie? Daar sal waarskynlik ook oënskynlike hopelose oomblikke in jou lewe voortkom. Daar sal tye kom wanneer jy ook maar net soos die Psalmdigter tot die slotsom kom dat die duisternis van die dood my enigste geselskap is. Elkeen van ons kry ook te doen met vriende of familie wat deur donker tye in die lewe gaan. Daardie tye in jou lewe wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het. Wanneer ons pynlik bewus gemaak word van die waarheid van Rom. 8:20
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.

Ons hoor nie wat die oorsaak van die digter se swaarkry is nie. Ek glo dat die rede daarvoor is dat elke mens se omstandighede verskil. Die omstandighede in die Psalmdigter se lewe wat hom tot die dieptes van wanhoop gedryf het sal heel waarskynlik nie by ons voorkom nie. Die gevolge is egter net so sleg soos wanneer ongeluk en teenspoed ons tref. Elke mens het sy eie omstandighede wat die lewe donker maak.

Waar vind ons hoop in hierdie donker Psalm? Kom ons luister weer na vers 2:
Here my God wat my altyd help , ek roep elke dag om hulp,
elke nag bid ek tot U.
Die Griekse woord wat hier met “altyd help” vertaal is, is met heil in die OAV vertaal. Dit beteken letterlik om mens te bevry of te verlos. Om jou in ’n posisie te plaas waar geen gevaar is nie.

Wat sê hierdie eerste hulproep van die Psalmdigter vir ons? Hy is ’n man wat in die verlede al verskeie kere ervaar het hoe God hom help. Dit is dan ook die rede waarom hy in die hede met sy nood na God toe kom. Hy weet dat hierdie God wat hom in die verlede gehelp het, hom ook in die toekoms kan help. Hieruit is dit duidelik dat hy dit glo al sê hy dit nie direk in die Psalm nie.

Waar kom hierdie sekerheid van die Psalmdigter vandaan? Van God se liefde. God se liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus wys. Want Jesus het ook op ’n keer in doodsbenoudheid tot God gebid, maar sy gebed is nie verhoor nie. In bange Godsverlatenheid het Hy uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?” soos ons hoor in Mark 15:34. Hy het dit gedoen want God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Geliefdes, as jy dus vandag soos die digter voel – asof God en mens jou verstoot het. As dit vir jou voel of jy in ’n put sit waaruit jy nooit sal kom nie. Wanneer dit vir jou voel of jou lewe sonder lig is en asof net die dood vir jou oorbly. Kom met jou pyn en jou wanhoop na Hom toe wat al soveel kere in die verlede gehelp het. Luister weer na sy uitnodiging wat Hy in Mat 11:28-30 aan ons rig:
“Kom  na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee. Neem  my juk  op julle en leer  van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Bring jou pyn en hartseer na God toe wanneer dit alles donker is rondom jou.
Amen



Die hemel getuig van die mag van God en sy volmaakte woord gee lewe

22 Jun. 2014 GKE
Ps. 19 tv’e 2,8 Rom. 1:20-21
Ps. 19-2:1 & 3
Ps. 19-2:4
Ps. 19-2:5
Sb 2-2:1-3

Inleiding
Wat is dit wat ons die graagste in hierdie lewe wil hê? Is dit nie dat my lewe iets moet beteken nie? Aanvaarding is ’n diepgewortelde soeke by elke mens. My lewe moet sin maak. Ons soek dit op baie plekke. Rykdom, aansien, noem maar op. Die rede hoekom daar so ’n soeke by die mens is, is daar ’n leegheid binne in hom is. ’n Stukkie onvolmaaktheid wat veroorsaak dat ek ware vreugde en vervulling in die lewe mis.

Ondanks al die vordering en verval van die mens van ons eeu bly sy behoefte wesenlik egter dieselfde sedert Adam. Hy is soeker wat gejaag word deur 'n innerlike leegte wat uitloop op die uitsigloosheid en sinloosheid van die nihilisme — wat eintlik maar die voorportaal van die hel is — omdat hy 'n sondaar is.

ʼn Ware sinvolle lewe kan alleen in God gevind word wat ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is. Die vraag is: “hoe leer ons hierdie geestelike Wese wat ons God noem ken?”

Hier in Psalm 19 hoor ons dat daar twee maniere is waarop ons God leer ken. Deur God se skepping en deur sy volmaakte wet. As ons Ps. 19 in een sin moet opsom kan ons sê: “Die hemel getuig van die mag van God en sy volmaakte woord gee lewe.”



Die hemel getuig van die mag van God
In Rom. 1:20 hoor ons:
Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie.
Ons kan God nie fisies sien nie, maar tog sien ons Hom in sy skepping. Die Psalmdigter stel dit so treffend voor. Ons hoor hoe die ganse uitspansel die majesteit van God verkondig. Die digter stel dan die hemel, die dag en die nag as mense voor wat sonder woorde met mekaar praat. Ten spyte daarvan dat hulle nie gehoor kan word nie, word hul boodskappe tot die uithoeke van die aarde verkondig. Ten spyte daarvan dat ons God nie kan sien nie, sien sy almag raak in sy skepping. As ons in die aand na die sterrehemel kyk, kan ons nie anders as met wonder vervul te word nie. Nou onlangs het sterrekundiges ’n groep sterrestelsels gevind wat saam gegroepeer is wat 4 biljoen ligjare in deursnee is. Mens kan nie anders as om die almag van God daarin raak te sien nie.

Verder word die son as ’n mens voorgestel. Wanneer dit in die oggend verskyn lyk dit soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. En wanneer dit op die middag verskyn ontkom niks aan sy gloed nie. Hierin sien ons God se heerskappy raak. Maak nie saak hoe sterk die son ook al is nie, dit moet nog steeds die baan volg wat God daarvoor gestel het. In die eerste helfte van hierdie Psalm openbaar God sy almag en dat Hy alleen regeer.

God se volmaakte woord gee lewe
In die natuur ontmoet ons die Skepper God, maar ons kan nie daaruit bepaal presies wie God is nie. In verse 8-12 beklemtoon die Psalmdigter dat ’n mens uit God se wet kan leer wat sy wil is. Die wet van God word deur ses verskillende woorde beskryf. In vers 8 word daarna verwys as “die woord” en “die onderwysing.” Ons kan daaruit leer wat God se wil is. In vers 9 word dit “die bevele” en “die gebod” genoem. In Vers 10 word dit “eise” en “bepalings” genoem. God se wil is nie iets waaroor ek kan besluit of ek dit nou wil doen of nie. Dit is ’n opdrag wat ons moet nakom. Verder kan ons presies daaruit bepaal wat God se wil is.

Verder word agt positiewe eienskappe van God se wet beskryf: “Volmaak, betroubaar, helder, goed, reg, regverdig, kosbaarder as goud en soeter as heuning.” Daar word ook vier belonings beskryf vir elkeen wat God se wet onderhou, naamlik “lewe, wysheid, blydskap en insig.” Hierin leer ons dat ons kan weet wat God se doel met ons lewens is en dat sy wil sin en betekenis aan ons lewens gee.

In verse 13-15 hoor ons dat ons kennis van die natuur en die wet van God ons help om ons verhouding met God te versterk. Hier word twee voorbeelde gebruik om dit te illustreer. In vers 13 word aangetoon dat kennis van God se mag en majesteit vir ons leer om nie te klein van God en te veel van onsself te dink nie. In vers 14 leer ons dat as ons nie geweet het wat God se wil is nie, dat ons heelwaarskynlik sou dink dat ons maar net kan doen wat ons wil. God vra gehoorsaamheid en berou en bekering en daarom pleit die Psalmdigter by God:
Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

In vers 15 spreek die Psalmdigter die wens uit:
Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser

Uit Psalm 19 leer ons dat onkunde oor wat die natuur en die wet oor God sê verwydering bring tussen God en die mens. Kennis oor God se majesteit en sy wil verstewig die verhouding tussen God en die mens. Uit sy Woord uit leer ons God persoonlik ken.

In Joh. 1:1 leer ons dat die Woord mens geword het. Ons leer God ken uit sy Woord uit en in Jesus Christus (die Woord wat mens geword het) leer ons Hom eers werklik ken. Dis eers in Jesus Christus dat ons God werklik leer ken, want alhoewel ons leer wat God se wil is, kan ons nie daaraan gehoorsaam wees nie. Deur Jesus Christus se volkome gehoorsaamheid aan die wet kry ons ook deel aan die belonings van God se wet naamlik “lewe, wysheid, blydskap en insig.” In Joh. 1:12 hoor ons hoe ons deel kry aan Jesus se gehoorsaamheid aan die wet en die belonings wat daarmee gepaard gaan:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Samevatting
Die natuur is ’n sigbare verkondiging van God se almag en sy majesteit. Dit laat ons jubel oor die onmeetlikheid van God se mag, maar maak ons ook nederig oor ons eie swakheid en onvermoë. In God se wet hoor ons wat God se wil is en die beloftes van lewe, wysheid, blydskap en insig wat daaruit voortvloei. Ons nederigheid oor ons onvermoë om God se wil te doen laat ons saam met die Psalmdigter by God pleit vir verlossing. Deur God se Woord in sy wet en die Woord wat vlees geword het leer ons God persoonlik en intiem ken en daardeur word hierdie innerlike leegte wat in my is, deur God gevul wat sin en betekenis aan my lewe gee.

Kom ons leer God nog beter ken. Maak tyd om stil te word voor hom in sy skepping. Sien sy almag en majesteit daarin raak. Leer Hom persoonlik ken deur tyd te maak om Hom in sy Woord (Bybel en Jesus Christus) te ontmoet. Kom ons vind ons ware sin en betekenis van die lewe in God alleen. Sodra ons Hom vind, sal ons onvermydelik met liefde reageer.

Amen

God is juis daar waar ons Hom nie verwag nie

GKE 15 Jun. 2014
Skriflesing Psalm 14
Ps. 42-1:1,2 & 5
Ps. 1-1:1-4
Ps. 119-2:1,11 & 15
Ps. 14-2:1,3 & 6

Inleiding
As ons na die lewe om ons kyk dan sien ons dat verdraaide morele waardes aan die orde van die dag is. Kyk maar na die korrupsie wat besig is om al hoe erger te word op alle vlakke van die samelewing. Die gewelddadige mynstakings wat veroorsaak dat die gemeenskap in Rustenburg en omgewing in armoede gedompel word. Verder het dit daartoe bygedra dat Suid-Afrika se kredietgradering afgeskaal is wat meebring dat die ekonomie ook negatief geraak gaan word. Ons moet onself in tronke toesluit omdat misdaad besig is om ons veiligheid dag na dag te bedreig. Die haat en onmin en wantroue wat veroorsaak dat mense mekaar met woorde en dade daagliks doodslaan en so kan ons aangaan.

In Ps. 14 gee die Here vir ons hoop hiervoor. Al lyk dit of Hy nie meer daar is nie en dat die onreg besig is om te wen, moet ons nie wanhopig raak nie, want God is juis daar waar ons Hom nie verwag nie. In Ps. 14 hoor ons van die mens se opstand teen God, die gevolge van die mens se opstand en dat God redding bring.

Die mens se opstand teen God
In die tyd van Dawid is Israel bedreig deur vyande wat nie die morele waardestelsel wat God in wet voorskryf gehoorsaam het nie. Verder is hulle ook van binne bedreig deur hul eie morele verval. Met Ps. 14 het die Here Israel verseker en hoop gegee dat die bose nie sou oorwin in tye van bedreiging nie. Hierin is daar ook vir ons ’n tydlose boodskap van versekering opgesluit dat God juis daar is waar ’n mens Hom nie verwag nie en dat Hy ons daarom ook sal beskerm.

In Ps. 14:1 sê die Psalmdigter basies
Net dwase sê vir hulleself: “Daar is geen God nie.” Hulle is korrup en hulle dade is boos. Niemand doen die goeie nie!

Die normale betekenis van ’n dwaas is iemand wat dom is en geen verstand het nie. Die Hebreeuse woord, nabal wat hier met dwaas vertaal is, beteken iets meer as net sonder verstand of dom. Letterlik beteken dit iemand wie se morele waardes korrup is. Sy morele waardes is korrup omdat hy nie die regverdigheid van God se wet wil aanvaar nie. Die bose mens leef dus asof die geregtigheid van God nie bestaan nie. Met ander woorde die bose mens is in opstand teen God se gesag. Wanneer jy ontken dat God bestaan, ontken jy ook sy gesag. Wanneer God se gesag ontken word maak elkeen maar net soos hy wil.

In vers 2 hoor ons dat die Here niemand vind wat vra na sy wil nie. Hiermee sê die Here vir ons hoe belangrik regverdigheid vir Hom is en dat dit die ideaal is waarna die mens moet streef. In vers 3 hoor dat almal afgedwaal het en dat daar nie een is wat regverdig is nie daarom kan ons net by die Here regverdigheid vind. Dit is tipies nie wat die mens wat in opstand teen God se gesag is wil hê nie. Dit is die wese van die sondeval naamlik dat die mens nie wil hê dat God moet besluit wat goed en reg is nie, maar dat hyself wil besluit.

Die gevolge van die mens se opstand teen God
In vers 4 hoor ons wat die gevolge is van die mens se opstand teen God. Daar is absolute morele verval. Die beeld wat hier gebruik word is dat net soos iemand wat brood verorber, oorval die onregverdiges die mense wat volgens God se wil, wil leef. Daardeur bewys hul ook hul opstand teen God. Dit wat hulle nodig het om te oorleef verkry hulle deur oneerlike metodes. God se regverdigheid word in skrille kontras met die onregverdigheid van die bose mense voorgehou.

Dit is wat ons vandag ook sien in ons samelewing. Ons moet egter versigtig wees om net die vinger na ander te wil wys, want dan hoef ons nie na onsself te kyk nie. Dis maklik om die korrupsie by ander raak te sien, maar wat van die oneerlike gedagtes in my hart? Ons verdoem maklik die geweld en onreg by misdadigers (met reg), maar ons sien nie die geweld in ons eie lewens raak nie. Wat van die haatdraendheid en onvergewingsgesindheid in ons eie lewens?

In vers 5 hoor ons dat die mens se opstand nie sonder gevolge is nie. God is heilig (dit wil sê sonder sonde) en daarom straf Hy die sonde. God kan nie toelaat dat sonde sy heiligheid aantas en besoedel nie en daarom moet die sonde met wortel en tak uitgeroei word deur dit te straf met die dood. Die mens wat teen God in opstand kom sal nie sy oordeel vryspring nie.

Die Here bring redding
In vers 5b, 6 & 7 hoor ons dat daar hoop is. Daar waar die lewe op sy donkerste is en dit lyk of ons hulpeloos staan teen die mag van die sonde ontmoet ons God in sy genade. In vers 6 hoor ons dat die boosdoeners nie sal oorwin nie. Daar is hoop om die verwoesting wat die sonde in mense se lewens veroorsaak te oorwin. Daardie hoop word by die Here alleen gevind. Vir die regverdige wat by God skuil is daar hoop. Die volk word teen die boosheid van hul vyande beskerm deurdat hulle op God vertrou. Hulle geloof in God maak hulle regverdig.

In vers 7 hoor ons die Psalmdigter se gebed vir redding. Dis ’n baie spesifieke gebed vir redding uit Sion uit. Die verwysing na Sion dui baie spesifiek op die belofte waaraan Israel vashou, naamlik dat daar ’n Messias, dit wil sê ’n Koning deur God gestuur sal word om die volk te red.

Hoe kry ons troos en hoop uit Ps. 14?
Die mens het God se gesag verwerp. Ons is self ook skuldig. As ons in gedagte hou dat die Here dit duidelik gestel het in vers 1 dat daar nie een is wat goed nie en dan beklemtoon Hy dit weer in vers 3 met die woorde:
daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie.
Die implikasie daarvan is dat elkeen van ons onder die oordeel staan wat in vers 5 aangekondig word.

Die hartseer gevolge van die opstand teen God se gesag is dat die hele mensdom as gevolg daarvan korrup geraak het.  Dit veroorsaak lyding. Ons ly oor ons eie sondige optrede, maar ook as gevolg van die sondige optrede van ons medemens. In hierdie donker hopelose toestand gee die Here ons met Ps. 14 die versekering dat die sonde en die gevolge van die sonde nie sal oorwin nie. Al lyk dit soms of God nie daar is nie, is Hy juis daar waar ons Hom nie verwag nie.

Daarom kan ons ook saam met die Psalmdigter bid:
“Ag, mag daar tog uit Sion vir ons redding kom!”  Mag daar vir ons ’n Messias Koning kom wat ons sal red uit die doodsbestaan van hierdie sondige wêreld. In die Nuwe Testament kry ons dan ook die versekering dat daardie Koning wel gekom het soos ons hoor in:

Matt 21:5
“Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.” 
Johan 12:15
“Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom, en Hy ry op ’n donkie.” 
Romein 9:33
“Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer waaroor ’n mens struikel, ’n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.” 
Romein 11:26
en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder.
1 Petr 2:6
Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” 

Daardie Koning het gekom. Hy het die doodstraf in ons plek gedra wat vir die goddelose bestem is sodat ons kan lewe. In Ps. 14 is die troos dat elkeen wat by die Here skuiling soek gered sal word. Ons vind skuiling by die Here deur in Jesus Christus te glo. Die oproep in Ps. 14 tot Israel is dat hulle by die Here moet skuiling vind en sodoende sal hulle lewenswandel in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die Here bewaar bly. Hulle ontvang die belofte dat hul redding uit Sion sal kom.

Die oproep tot ons in Ps. 14 is dat ons by die Here in Jesus Christus moet skuiling soek teen ons doodsvyand die sonde en die gevolge daarvan. Ons vind skuiling deur in Jesus Christus te glo. Die belofte wat gemaak is van ’n Redder uit Sion is in Jesus Christus vervul en daarom kan ons ook nou ’n lewe begin leef vry van die slawebande van die sonde. Die wat nie in Jesus Christus glo nie staan egter nog steeds onder die oordeel van God.

Geliefdes kom ons skuil by God wanneer die aanslae van die sonde dreig om ons te oorweldig deur te glo in die verlossing wat Jesus Christus vir ons gebring het. Hoe meer mense dit doen hoe beter plek sal ons samelewing word. Die evangelie is die enigste antwoord vir die korrupsie, geweld en onreg in ons samelewing. Kom ons leef die evangelie en vertel almal daarvan.

Amen

Jesus lei ons op die pad van ongeloof tot geloof

Joh. 20 v 19-31; teksvers Joh. 20 v 31
04 Mei. 2014 GKE
Lof-Psalm Ps. 42 v 1 & 7(OAB)
Na Wet Ps. 103 v 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 42 v 2 & 3 & 5

Inleiding

Sien is glo. Dit was Tomas se benadering tot die lewe. Hiermee het Tomas dan ook die bynaam gekry van ongelowige Tomas. Ongeloof! Hoe dikwels sukkel ons nie ook maar self daarmee nie? Dis gewoonlik nie iets wat ons maklik openlik erken nie, maar dit is daar om ons te treiter. Daardie stemmetjie hier in die agterkop: “jy kan God nie vertrou nie!” Ons erken dit nie maklik nie, maar dit maak nie dat dit makliker is nie. Inteendeel, dit maak die hele saak net moeiliker!

Wat maak ’n mens wanneer hierdie twyfelstorms binne jou gemoed woed? In hierdie verhaal van Tomas se twyfelstorms sien ons hoe onbeholpe mense reageer wanneer die twyfelstorms van ongeloof toeslaan en aan die ander kant sien ons God se genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof. Wanneer geloofstwyfel oor ons pad kom dan lei Jesus ons op die pad van ongeloof tot geloof.

Die mens se onbeholpenheid binne die twyfelstorms van die lewe

Tomas beleef seker een van die grootste krisisse in sy lewe met Jesus se kruisdood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg. Hy was self bereid om vir Jesus te sterf soos ons in Joh. 11v16 hoor toe Jesus na Lasarus toe gegaan het en die dissipels bang was vir die Jode:
Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

En nou is Jesus dood. Al die hoop wat hulle gekoester het dat Jesus hulle sou verlos is nou daarmee heen. Tomas het sy vertroue in Jesus verloor. Hierdie teleurstelling was vir hom net een te veel. Daarom sonder hy homself ook eenkant af van die ander dissipels. Daarmee mis hy die eerste geleentheid om die opgestane Here te sien. Maak ons nie ook dikwels so nie? Een of ander gebeurtenis in ons lewens veroorsaak dat dit vir ons voel dat die Here ons in die steek gelaat het. Nou begin die twyfelstorms van ongeloof in ons binneste woed. Daardie stemmetjie wil net nie stilbly nie “Jy kan die Here nie vertrou nie!” En wat maak ons? Ons vermy ons broeders en susters in die geloof. Ek sien nie kans om kerk toe te gaan nie.

Wat doen ons wanneer ons geloofsgenote ons wel opsoek? Ek stel onredelike voorwaardes en glo nie wat hulle vir my sê nie! Ons maak maar net soos Tomas gemaak het (vgl Joh. 20v25)
Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Vol opgewondenheid kom die ander dissipels by Tomas met die goeie nuus dat Jesus opgestaan het, maar hy weier om hulle te glo. Die dissipels het ook aanvanklik gesukkel met ongeloof. Jesus het verskeie male vir hulle gesê dat Hy weer gaan opstaan uit die dood uit. Toe die vroue egter by hulle kom en hulle vertel dat Jesus opgestaan het en dat sy graf leeg is, het hulle ook nie geglo nie soos ons hoor in Luk. 24v11:
Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

Dit was dus nie net Tomas wat ongelowig was nie, maar die ander dissipels ook. Een of ander tyd beleef elkeen van ons ’n geloofskrisis. Die genade van die Here is egter dat Hy nie sy rug op ons draai nie. Kort na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels maar Tomas was nie daar nie. Wanneer ons onself afsonder van die geloofsgemeenskap dan verbeur ons die geleentheid om die Here te ontmoet.

Wat doen ons in tye van geloofskrisisse? Ons sonder ons af en ons stel onredelike verwagtings. Ons draai weg van God af en vertrou Hom nie meer nie. Ons glo nie meer nie. Daardeur mis ons die heerlike teenwoordigheid van ons Here.

Aan die ander kant betoon die Here eindelose genade en geduld met ons, want

God betoon sy genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof

Jesus verskyn aan sy dissipels en Hy herstel hul geloof. Die gevolg is dat hulle blydskap ervaar soos ons hoor in Joh. 20v20:
Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
Die Here doen nog meer. Hy stuur die Heilige Gees as Trooster om ewig by ons te bly soos Hy belowe het in Joh. 14v16-17:
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17 naamlik die Gees van die waarheid.
In Joh. 20v22 word hierdie belofte nagekom:
Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!

Hy betoon eindelose geduld. Alhoewel Tomas die eerste geleentheid gemis het, is daar tog weer nog ’n geleentheid soos ons hoor in Joh. 20v26&27:
26 Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Die Here kom nie met verwyte en beskuldigings nie. Hy kom met liefde en geduld en daardeur herstel Hy ons geloof. Tomas het ’n absolute voorwaarde gestel voordat hy sou glo (Vgl. Joh. 20v25b):
“As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die Here wys egter dat dit nie ons voorwaardes is wat geloof bring nie, maar dat dit die opgestane Jesus is soos ons hoor in Joh. 20v28:
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
Toe Tomas die Here ontmoet het, het hy dadelik geglo sonder dat hy die spykermerke gevoel het soos hy vereis het.

Ons wil ook dikwels allerlei “bewyse” hê vir God se genade. Ons stel so dikwels voorwaardes wat gerig is op ons eie selfsugtige behoeftes. Wil ons nie ook die voorreg van die dissipels hê om God te sien nie? Het u al ooit gewonder hoe dit sou wees om die Here van aangesig tot aangesig te sien? Dit is egter nie nodig nie. Die Jode het Jesus ook in lewende lywe gesien en hulle het nie geglo nie. Ons ontmoet die Here deur sy Woord en die Heilige Gees wat Hy gestuur het om ewig by ons te bly. Ons het nie nodig om die Here fisies te sien nie soos Hy ook vir sê in Joh. 20v29:
Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig  is dié wat nie gesien het nie en tog glo. ”
Wat wel nodig is, is dat ons moet glo (vgl. Joh. 20v27)
moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.

Die dissipels het Jesus gesien en geglo, maar vir ons wat na hulle kom het die Here ’n ander pad tot geloof bepaal soos hy in Rom. 10v14 vir ons sê:
Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
Die Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die Woord van die Here en die verkondiging daarvan. Wanneer die geloof in Jesus wat opgestaan in ons harte begin brand dan kom ons ook soos Tomas tot die belydenis dat Jesus ook my Here en my God is.

Wat is die inhoud van ons geloof? Die Here sê vir ons in Joh. 20v31:
Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ons moet glo dat Jesus ons Verlosser is en dat Hy die Seun van God is. Daardeur verkry ons die ewige lewe.

Slot

Geliefdes ons reaksie op die twyfelstorms van ongeloof is om van die Here weg te draai. Sy reaksie is om ons op te soek deur sy Woord en Prediking en daardeur lei Hy ons op die pad van ongeloof tot geloof. Maak dus tyd om na die Here te luister deur besig te wees met sy Woord deur Bybelstudie en deur te luister na die verkondiging daarvan.

Amen.

God gee aan ons die oorwinning oor die dood deur ons Here Jesus Christus, leef daarom elke dag uit die krag van daardie oorwinning!

Die lewe is vir my Christus en die sterwe wins
1 Kor. 15 teksverse 55-58
27 Apr. 2014 GKE
Lof-Psalm Ps. 92 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 42 v 1 (OAB)
Slotsang Sb. 1-1 v 1 & 2 (Sb 24 in ou Swart Ps. boek)

Vooraf
1 Kor. 15 is die omvattendste gedeeltes in die Bybel wat oor die opstanding handel. Ons gaan vanoggend by die slotgedeelte van hierdie hoofstuk stilstaan waar die betekenis van die opstanding vir ons lewens nou saamgevat word.

Inleiding
Daar sal ’n tyd kom wanneer ons glo dat ons nou by die einde is. Dit sal die begin wees. Daardie Vrydag toe Jesus gekruisig is het sy volgelinge gedink dit is die einde. Alles waarvoor hulle gehoop het, het tot ’n einde gekom. Dit was alles tevergeefs. Die man waarop hulle hul hoop geplaas het is nou dood. Kan u uself indink hoe verslae Jesus se volgelinge moes gewees het toe hulle Hom daar aan die kruis sien hang het? Jesus het wel vir hulle verskeie kere vertel wat die verloop van gebeure sou wees, maar hulle het nie verstaan nie. Dit het vir hulle gevoel of die magte van die bose oorwin het.

In ’n sekere sin is ons lewens ook baie soos hulle sin. Ons het gehoor van die krag van die Jesus se opstanding, maar ons verstaan dit nie eintlik nie. Ons het verlede naweek Paasfees gevier waar ons terugdink het aan die betekenis van Jesus se kruisiging en sy opstanding. En wanneer Paasfees verby is, wat dan? Hoeveel van ons leef maar net voort asof die gebeure 2000 jaar gelede tydens die Joodse Paasfees nooit plaasgevind het nie! Ons gaan maar net aan met ons lewens soos voorheen. Ek is nog steeds nie bereid om te vergewe nie. Ek wil nog steeds ten alle koste wraak neem. My eie selfsugtige belange dra nog steeds ’n groter gewig as medemenslikheid.

Lewe in die plek van dood
As dit waar is in my lewe dan besef ek nog nie watse groot verandering Christus se opstanding meegebring het nie. Jesus se opstanding is diè belangrikste aspek van ons geloofslewe soos ons ook hoor in 1 Kor. 15:14
En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.
Daarom kan ons nie maar net ongeërg voortgaan asof Jesus se opstanding maar net ’n teoretiese saak is wat geen impak op my lewe het nie.

Jesus se opstanding verander ons swakheid in krag. God bring groot dinge tot stand deur klein mense. Dit wat soos ’n neerlaag gelyk het verander God in ’n oorwinning. God gebruik alledaagse mense soos ek en jy om sy Koninkryk te bou. Die rede waarom ons dit kan doen is omdat die mag van die ewige dood gebreek is. Met sy opstanding het Jesus die angel van die sonde gebreek en daarom het dit nie meer mag oor ons nie soos ons hoor in 1 Kor. 15:54 & 55
“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”
“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die geestelike doodsheid wat maak dat die mens na binne gekeer is waar net die eie ek van belang is, is oorwin. Daarom kan ons nou die lewe leef wat God vir ons beplan het. Daarom is ons nie meer bang vir dit wat anderkant die liggaamlike dood wag nie, want ons weet dat God daar is. In die plek van die dood het God vir ons lewe gegee soos ons hoor in 1 Kor. 15:56
Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Leef die lewe wat God vir ons gegee het
1 Kor. 15 word afgesluit met ’n opdrag om die lewe te leef wat God vir ons gegee het soos ons hoor in 1 Kor. 15:58
Daarom, liewe broers, wees standvastig , onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Wees standvastig: Met ander woorde staan stewig. God is daar en daarom kan ons vas staan wanneer die lewe moeilik raak. Omdat ons nie uit eie krag werk nie, maar uit die krag van die Heilige Gees wat altyd by ons is, word ons nie vernietig deur die aanslae van die lewe nie. Dit beteken nie dat die lewe nie moeilik sal wees nie. Dit beteken wel dat God ons sterk maak om die lewe te hanteer wanneer dit moeilik raak. Dit beteken dat ons sterk staan wanneer ons teenkanting kry omdat ons die werk van die Here doen.

Wees onwankelbaar: Met ander woorde ons staan sterk in die geloof. Ons bly glo in die waarheid en ons laat nie toe dat ons geloof ondermyn word nie soos byvoorbeeld wanneer die mense met ’n sekulêre denkraamwerk sê dat wonderwerke nie kan plaasvind nie en dat Jesus nie werklik uit die dood uit opgestaan het nie, dan bly ons glo in die waarheid van God se Woord. Wanneer die sekulêre wêreld sê dat Jesus maar net ’n mitiese figuur is en dat Hy nie waarlik geleef het nie, bly ons glo dat Hy God is wat werklik mens geword het.

Ons bly glo dat die Bybel die Woord van God is en dat dit nie maar net stories is wat deur mense uitgedink is nie. Wanneer die lewe moeilik raak dan hou ons steeds moed omdat ons God vertrou. Al verstaan ons nie rede vir sekere gebeurtenisse in ons lewe nie, vertrou God nog steeds. Al sien ons nie dadelik die resultaat van ons werk in God se Koninkryk nie, vertrou ons steeds dat God weet wat Hy doen en dat Hy besig is om deur ons swakheid sy doel te bereik.

Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here: Met ander woorde, werk met ywer in God se Koninkryk. Hou aan om sy liefdesgebod teenoor alle mense uit te leef. Hou aan om vir mense van God se genade, dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus te vertel deur ons leefwyse en ook deur ons woorde. Wees betrokke in die gemeente waar God my geplaas het. Dra mekaar se laste. Wees daar vir my broers en susters in die geloof. Wees ’n steunpilaar vir hulle wat swaarkry. Deel in mekaar se vreugdes. As die Here my roep om as ampsdraer te dien, doen ek dit.

Ons kan bogenoemde opdragte uitvoer omdat ons weet dat ons inspanning nie tevergeefs is nie. Die werk wat ons vir God doen is nie sonder resultate nie en ons weet dat God sy doel bereik deur die werk wat ons doen, hoe gering dit ook al mag wees. Wanneer ons glo dat Christus deur sy dood en opstanding die mag van die sonde gebreek het, weet ons dat ons werk in God se Koninkryk is nie tevergeefs nie.

Slot
Jesus Christus se opstanding is nie net ’n storie wat ons tydens Paasfees weer onthou nie. Dit is die krag waaruit ons elke dag leef. God gee aan ons die oorwinning oor die dood deur ons Here Jesus Christus, leef daarom elke dag uit die krag van daardie oorwinning! Getuig saam met Paulus: “Die lewe is vir my Christus en die sterwe wins”
Amen


Moenie toelaat dat blokkasies jou van die krag van Jesus Christus se opstanding beroof nie want ons Here het regtig opgestaan

20 Apr. 2014 GKE

Joh. 20 v 1-18; teksvers Luk 24 v 33 (Lees ook Mat. 28; Mar 16; Luk 24 & Joh. 20-21)

Lof-Psalm Ps. 92 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 42 v 1 (OAB)
Slotsang Sb. 1-1 v 1 & 2 (Sb 24 in ou Swart Ps. boek)

Inleiding
Met Paasfees herdenk Christene wêreldwyd Jesus kruisdood en daarmee saam ook sy opstanding. Paasfees word as een van die belangrikste feeste op die Christelike kalender beskou. Die opstanding van Jesus Christus is die Christen se waarborg tot ’n nuwe lewe in God of anders gestel dit is ons waarborg van die ewige lewe wat nou reeds saam met God begin. Sonder die opstanding is ons geloof waardeloos soos die Here vir ons in 1 Kor. 15 v 17 – 19 sê:
17 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18 Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Christus se opstanding beteken vir ons die volgende:
1)    Ons Here leef! Ons aanbid nie ’n dooie God nie. Ons kyk nie terug in die verlede na God nie, maar ons kyk vorentoe na ’n lewe saam God.
2)    Ons kan dit doen want Jesus het die skeiding wat sonde tussen ons en God veroorsaak het, met sy kruisdood weggeneem. Sy opstanding is ons waarborg dat Hy die dood oorwin het. Dit gee vir ons die waarborg dat ons voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen het nie.
3)    Deur die opstanding word ons tot ’n nuwe lewe opgewek waar ons die heerlike teenwoordigheid van God ervaar.
4)    Verder is die opstanding ook vir ons ’n waarborg van ons eie salige opstanding in Christus. Die dood hou nie meer vir ons verskrikking in nie. Dit is ’n deurgang tot God waar ons vir ewig saam met God kan lewe sonder trane hartseer pyn of dood.

Hoekom ervaar ons dan nie altyd hierdie wonderlike voordele van die opstanding nie? Hoekom voel dit soms vir ons of God so ver is? Hoekom sukkel ons om hierdie nuwe lewe saam met God te leef? Hoekom kry my ou sondige natuur so dikwels die oorhand in die lewe?

Hier in ons teksgedeelte sien ons dat daar ’n paar blokkasies is wat kan keer dat ons die nut van opstanding in ons lewens kan ervaar. In die eerste plek is daar die blokkasie van vyandskap teen God. Tweedens is daar die blokkasie van woede teenoor God. Derdens die blokkasie van skuldgevoelens. Vierdens is daar die blokkasie hartseer en ’n gevoel van Godverlatenheid.

Blokkasie van Vyandskap:
Ons staan in die eerste plek stil by die blokkasie van vyandskap. In Mat 28v11-15 hoor ons:
11 Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. 12 Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ’n groot som geld gegee 13 en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’14 En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.”
15 Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.
Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.
Die wagte wat hierdie gebeure aan die Priesterhoofde vertel was daar. Hulle het presies gesien wat gebeur het soos ons hoor in Mat. 28 v 2 – 4:
2 Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit.
3 Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4 Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

Ten spyte daarvan weier die Priesterhoofde om die ware gebeure te glo en hulle dis ’n ander verduideliking daarvoor op. Net so is daar vandag ook mense wat weier om die vertelling van ooggetuies te aanvaar. Hulle glo nie die Bybel nie soos een persoon Donderdag op ’n internet besprekingsforum geskryf het in ’n bespreking oor hoe ons Goeie Vrydag moet vier:
Miskien moet julle eerste van alles uitvind of die karakter van Jesus ooit bestaan het want anders is al die menings pure verniet?
So is daar persone wat die absolute wonder en krag van Christus se kruisiging en opstanding mis omdat hulle weier om in Jesus Christus te glo. Die hartseer is dat as mens hiermee volhard, jy die moontlikheid in die gesig staar om vir ewig sonder God te wees.

Die blokkasie van woede
In die verhaal in Luk. 24v20-23 hoor ons van Kleopas wat bitter ontsteld was:
21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22 En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy liggaam nie kry nie.
Kleopas is kwaad omdat hy meen dat Jesus hulle in die steek gelaat het. Hulle het so hard gehoop dat Jesus vir Israel sou verlos van die Romeinse onderdrukking.

Hoe dikwels gebeur dit dat ons ook teleurgesteld voel? Ons het een of ander verwagting gehad wat nie uitgewerk het nie en nou is ons kwaad vir die Here. Die probleem wat Kleopas gehad het was dat hy ’n verkeerde verwagting van Christus gehad het en dat hy ook nie die groter prentjie verstaan het nie. Hy het ’n aardse verwagting van Jesus gehad en hy het nie die groter prentjie van God se koninkryk raakgesien nie. Hoe dikwels is verwagting van Jesus net maar eintlik oor materiële gewin. Ons wil hê dat dit hier en nou moet goed gaan en dit verblind ons vir die teenwoordigheid van God net soos Kleopas en sy metgesel verblind was ten opsigte van Jesus se teenwoordigheid nie. Deur die Woord het Jesus egter Kleopas se verkeerde verwagting reggestel soos ons hoor in Luk 24v27:
Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.
As ons dus kwaad is vir God omdat ons voel dat Hy ons teleurgestel het dan is dit nodig dat ons met sy Woord moet besig wees en wanneer ons dit doen dan sal God Homself aan ons bekendmaak.

Die blokkasie van skuldgevoelens
Petrus het die Here drie maal verloën. Dink net watter skuldgevoel Petrus moes gehad het. Dit is Petrus wat ewe manhaftig verklaar het soos ons in Luk. 22v33 hoor:
“Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
Daarom dat hy ook so half terughoudend is wanneer hy en Johannes gaan kyk na Jesus se leë graf soos ons hoor in Joh. 20v3-4:
3 Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4 Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom.

Dink net wat moes binne in Petrus se gemoed aangegaan het. Het Jesus regtig opgestaan? Hy moes weet en daarom het hy by die graf ingegaan waar Johannes net by die ingang bly staan het soos ons hoor in Joh. 20v6:
Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan.
In Luk. 24v12b hoor ons:
Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Hoe dikwels word ons nie ook as gevolg van skuldgevoelens afgesny van Jesus af nie. Ek het al weer in sonde geval ten spyte van my beste intensies. Ewe grootpraterig het ek net soos Petrus verklaar:
“Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
En nou staan my sonde al weer soos ’n muur tussen my en die Here. Skaam skuldig sien ek nie kans om vir Jesus in die oë te kyk nie. Genadiglik is dit die beste posisie om in te wees om die Here se genade te ontvang. Dit is eers wanneer ek besef dat ek tot die dood toe skuldig is dat ek werklik kan begryp hoe groot God se genade is. Jesus is getrou en Hy hou nie sy genade terug nie soos ons hoor in Luk. 24v34:
“Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

Geliefdes, as ons deur skuldgevoelens oorweldig word is dit net nodig dat ons weer by Jesus uitkom sodat ons weereens die heerlikheid van sy teenwoordigheid kan ervaar.

Die blokkasie van hartseer en ’n gevoel van Godverlatenheid.
Maria Magdalena se hartseer het gekeer dat sy Jesus herken soos ons hoor in Joh. 20v11:
Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil.
In Joh. 20v15 hoor ons:
Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”
Dit gebeur soms dat hartseer ons heeltemal verblind vir die liefdevolle teenwoordigheid van die Here. Dit is die tye wanneer dit vir ons voel of die lewe net te veel is. Die genade is dat die Here verstaan en daarom laat Hy ons nooit alleen nie. Jesus het bange Godverlatenheid ervaar sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Ons moet maar net luister vir sy stem. Jesus het nie vir Maria alleen gelaat nie. Hy het geduldig by haar gebly totdat sy Hom herken het soos ons hoor Joh. 20v16:
Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
Wanneer ons deur hartseer verblind word moet ons maar net besig bly met die Here se Woord en ons sal sy liefdevolle stem daar hoor.

Slot
Die blokkasies wat keer dat ons deur die krag van Jesus se opstanding die liefdevolle teenwoordigheid van die Here ervaar is vyandskap teen God, woede, skuldgevoelens en hartseer. As hierdie blokkasies in die pad staan van u verhouding met die Here, kom na Jesus toe. Moenie toelaat dat blokkasies jou van die krag van Jesus Christus se opstanding beroof nie want ons Here het regtig opgestaan !!!!!

Amen

God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming

6 Apr 2014
Skriflesing Ps. 46 teksvers fokusvers Ps. 46:2
Liturgie
Ps. 46-1:1 & 6
Sb. 9-3:1 & 2
Sb. 15-7:4 & 5
Ps. 46-2:1 – 3

Inleiding
Die lewe is vol onsekerheid en benoudheid. Ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie. Wie van ons weet of ons more nog hier gaan wees? Een van die lewensvrae wat baie onsekerheid en benoudheid by baie mense veroorsaak is: “wat wag vir my anderkant die dood?” Die hoofrede waarom mense bang is vir wat anderkant die dood lê is as gevolg van die mens se opstandigheid teen God. Die mens wat God se gesag in sy lewe verwerp en dit veroorsaak dat daar skeiding tussen mens en God is.

God se straf daarvoor is die ewige dood waar die mens vir ewig van God en sy liefde geskei sal wees. Elkeen van ons verdien daardie straf. As dit jou nie benoud maak nie, dan verstaan jy nie werklik die erns van die saak nie. Geliefdes, weet u wat wag anderkant die dood? Daar is twee alternatiewe, of ewig beskerm en getroetel in God se liefde of ewig sonder Hom in uiterste nood en ellende.

Waar kry ek sekerheid daaroor? In Ps. 46 hoor ons waar die Psalmdigter gaan troos en sekerheid soek het. Hy vertrou dat God se volk veilig en beskut is onder God se beskerming. In hierdie Psalm word God se konkrete bystand aan sy bedreigde volk in die loop van die geskiedenis besing. Dwarsdeur die Ou Testament is die verdrukking van Israel en God se verlossing ’n heenwysing na Christus wat die mensdom van die slawerny van die sonde verlos. Die uittog uit Egipte waar God sy volk verlos van die slawerny van Egipte. Die verlossing van die Jode uit die slawerny van die Ballingskap. Die doel van hierdie Psalm is om die aandag op die God van Israel wat op Sion in die tempel woon, te vestig en hoe Hy sy volk verlos van hul vyande. Ons grootste vyand is die sonde wat ons van God af wegskeur.

God beskerm ons (Ps. 46:2-4)
In Ps. 46:2-4 hoor ons hoe God sy volk beskerm teen hul vyande. In vers 2 bevestig die Psalmdigter :
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming ;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood
Die Hebreeuse woord wat met “toevlug” vertaal is, wys op die absolute vertroue wat op iets of iemand geplaas word om jou teen gevaar te beskerm. Die Hebreeuse woord wat met “beskerming” vertaal is, beteken letterlik ’n plek van veiligheid. God is vir die wat by Hom skuiling soek so ’n plek van veiligheid.

Mens kan God vertrou, want Hy is altyd te bereid om te help wanneer jy in nood verkeer. Die Hebreeuse woord wat met “nood” vertaal is, beteken ’n diepe emosionele pyn en ellende wat mens ervaar as gevolg van ’n sekere situasie of omstandigheid. Die mens se grootste nood is dat hy vanweë sy sondige opstand teen God van Hom geskei is. God het die mens gemaak om in ’n verhouding met Hom te leef. Wanneer daardie verhouding gebreek is, ervaar die mens diep emosionele pyn en ellende.

Wanneer jy so voel dan moet jy weet, jy kan God vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Al skud die berge. As daar aardbewings is wat ’n tsoenami veroorsaak kan jy God vertrou om jou te help. ’n Gevaar wat egter groter is as enige nood wat deur aardbewings, tsoenami, siekte of wat ook al hier op aarde is, is die gevaar van die ewige dood weens ons sondige opstand teen God. Wat is die ergste wat mens hier op aarde kan tref? Die liggaamlike dood. Wat is erger as die liggaamlike dood? Die ewige dood waar mens vir ewig helse smart en pyn sonder God se vertroosting ervaar.

God is nog altyd bereid om te help met die nood wat ons ervaar omdat ons sonde die verhouding tussen ons en God gebreek het.

Blydskap in die Godstad (Ps. 46:5-8)
Om te beklemtoon dat mens veilig by God is, beskryf die Psalmdigter op ’n ander manier God se sorg vir sy volk. In verse 5-8 word die volk se blydskap beskryf omdat God Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan sy volk gee. Water verteenwoordig lewe. Sonder water is daar nie lewe nie. In Open 21:6 hoor ons:
Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.
God is die lewende water wat aan sy uitverkore kinders die ewige lewe gee.

Hy is snags teenwoordig by sy volk en daarom sal die Godstad niks oorkom nie. Die volke en nasies kan maar probeer om teenoor God in opstand te kom, dit sal hulle niks baat nie want God is almagtig.

In vers 8 word God se almag vir ons beskryf met sy Hebreeuse Naam Sebaot. Dit beteken letterlik ’n Almagtige heerser wat oor die heelal heers. Alles, dit wil sê elke mag of natuurkrag en elke volk en nasie, elke mens is aan sy heerskappy onderworpe. In die 83 Vertaling is sy naam vertaal met “die Here die almagtige” en in die Ou Vertaling is dit met “die Here van die Leërskare” vertaal. Ons kan dit ook vertaal met “die Here wat oor alles regeer.”

Die klem is dus hier op die almag van God. Daarom kan ons met vertroue by Hom skuiling soek omdat daardie skuiling wat Hy gee nie deur die vyand ingeneem kan word nie. Dit is soos ’n fort wat op ’n hoë berg wat omring is deur onklimbare steil kranse met hoë mure wat die fort bo-op daardie kranse omring. Dit is dus ’n vesting wat nie deur die vyand ingeneem kan word nie. Ons kan God dus vertrou om te help wanneer ons in nood verkeer omdat Hy almagtig is en daarom vir ons ’n veilige skuilplek gee. Die situasie of omstandighede verander nie, maar daai hopelose benoudheid (verlammende vrees) wat jy ervaar neem Hy weg en Hy dra jou veilig deur die gevaar. As ons eers eenmaal deur God se genade gered is, is daar niks wat ons van sy liefde kan skei nie.

Kom kyk wat die Here gedoen het (Ps. 46:9-12)
In hierdie laaste verse val die klem nou op wat die Here vir sy volk doen. God die Almagtige laat oorloë ophou. Hy breek die opstandige nasies se spiese en verbrand hulle oorlogswaens sodat hulle kan weet en erken dat Hy alleen God is. Daarom voel sy volk veilig by Hom.

In hierdie Psalm sê die Here vir ons hoekom sy volk vir niks bang was nie. Hulle het in hul nood gedink aan God se dade in die verlede en terwyl hulle dit gedoen het, het hulle onthou wat Hy alles vir hulle beteken het. Toe het hulle geweet dat hulle Hom kan vertrou en dat hulle vir niks meer bang hoef te wees nie. Op grond van God se troue verbondsliefde kan ons ook die beloftes vertrou wat Hy in Open 21:3-5 vir ons gee.
3Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Hoe vind ons troos in hierdie Psalm?
As daar by my nog enige onsekerheid is oor wat anderkant die dood vir my wag en as dit my doodsbenoud maak kan ek my troos in Jesus Christus vind. Dan kan ons vashou aan ons belydenis in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus dat my enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Toe ons op die punt gestaan het om veroordeel te word tot die ewige dood het God sy Seun in ons plek laat sterwe. Toe Jesus so benoud was dat Hy bloed gesweet het, was daar vir Hom geen skuilplek teen gevaar gewees nie. Daar was nie vir Hom ’n toevlug en beskerming gewees nie. In helse pyn en smart het Hy in bange Godverlatenheid uitgeroep: “My God my God, waarom het U my verlaat?” Daar was vir Hom geen troos of beskerming toe Hy die dood tegemoed gegaan het nie. Hy het dit gedoen sodat daar vir ons ’n toevlug en beskerming kan wees teen die vyand van ons sondige geaardheid. Op grond van wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het kan ons ook met sekerheid sê:
Die Here, die Almagtige , is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting

God is vir ons ’n toevlug en beskerming en daarom kan ons ook daarna uitsien dat Hy Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan ons sal gee. Hy is in die persoon van die Heilige Gees altyd by ons teenwoordig en daarom kan ons veilig by Hom voel. Kom ons soek skuiling teen die vyand van die sonde by God, want Jesus is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming.

Amen