29 Junie 2014

Jesus lei ons op die pad van ongeloof tot geloof

Joh. 20 v 19-31; teksvers Joh. 20 v 31
04 Mei. 2014 GKE
Lof-Psalm Ps. 42 v 1 & 7(OAB)
Na Wet Ps. 103 v 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 42 v 2 & 3 & 5

Inleiding

Sien is glo. Dit was Tomas se benadering tot die lewe. Hiermee het Tomas dan ook die bynaam gekry van ongelowige Tomas. Ongeloof! Hoe dikwels sukkel ons nie ook maar self daarmee nie? Dis gewoonlik nie iets wat ons maklik openlik erken nie, maar dit is daar om ons te treiter. Daardie stemmetjie hier in die agterkop: “jy kan God nie vertrou nie!” Ons erken dit nie maklik nie, maar dit maak nie dat dit makliker is nie. Inteendeel, dit maak die hele saak net moeiliker!

Wat maak ’n mens wanneer hierdie twyfelstorms binne jou gemoed woed? In hierdie verhaal van Tomas se twyfelstorms sien ons hoe onbeholpe mense reageer wanneer die twyfelstorms van ongeloof toeslaan en aan die ander kant sien ons God se genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof. Wanneer geloofstwyfel oor ons pad kom dan lei Jesus ons op die pad van ongeloof tot geloof.

Die mens se onbeholpenheid binne die twyfelstorms van die lewe

Tomas beleef seker een van die grootste krisisse in sy lewe met Jesus se kruisdood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg. Hy was self bereid om vir Jesus te sterf soos ons in Joh. 11v16 hoor toe Jesus na Lasarus toe gegaan het en die dissipels bang was vir die Jode:
Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

En nou is Jesus dood. Al die hoop wat hulle gekoester het dat Jesus hulle sou verlos is nou daarmee heen. Tomas het sy vertroue in Jesus verloor. Hierdie teleurstelling was vir hom net een te veel. Daarom sonder hy homself ook eenkant af van die ander dissipels. Daarmee mis hy die eerste geleentheid om die opgestane Here te sien. Maak ons nie ook dikwels so nie? Een of ander gebeurtenis in ons lewens veroorsaak dat dit vir ons voel dat die Here ons in die steek gelaat het. Nou begin die twyfelstorms van ongeloof in ons binneste woed. Daardie stemmetjie wil net nie stilbly nie “Jy kan die Here nie vertrou nie!” En wat maak ons? Ons vermy ons broeders en susters in die geloof. Ek sien nie kans om kerk toe te gaan nie.

Wat doen ons wanneer ons geloofsgenote ons wel opsoek? Ek stel onredelike voorwaardes en glo nie wat hulle vir my sê nie! Ons maak maar net soos Tomas gemaak het (vgl Joh. 20v25)
Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Vol opgewondenheid kom die ander dissipels by Tomas met die goeie nuus dat Jesus opgestaan het, maar hy weier om hulle te glo. Die dissipels het ook aanvanklik gesukkel met ongeloof. Jesus het verskeie male vir hulle gesê dat Hy weer gaan opstaan uit die dood uit. Toe die vroue egter by hulle kom en hulle vertel dat Jesus opgestaan het en dat sy graf leeg is, het hulle ook nie geglo nie soos ons hoor in Luk. 24v11:
Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

Dit was dus nie net Tomas wat ongelowig was nie, maar die ander dissipels ook. Een of ander tyd beleef elkeen van ons ’n geloofskrisis. Die genade van die Here is egter dat Hy nie sy rug op ons draai nie. Kort na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels maar Tomas was nie daar nie. Wanneer ons onself afsonder van die geloofsgemeenskap dan verbeur ons die geleentheid om die Here te ontmoet.

Wat doen ons in tye van geloofskrisisse? Ons sonder ons af en ons stel onredelike verwagtings. Ons draai weg van God af en vertrou Hom nie meer nie. Ons glo nie meer nie. Daardeur mis ons die heerlike teenwoordigheid van ons Here.

Aan die ander kant betoon die Here eindelose genade en geduld met ons, want

God betoon sy genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof

Jesus verskyn aan sy dissipels en Hy herstel hul geloof. Die gevolg is dat hulle blydskap ervaar soos ons hoor in Joh. 20v20:
Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
Die Here doen nog meer. Hy stuur die Heilige Gees as Trooster om ewig by ons te bly soos Hy belowe het in Joh. 14v16-17:
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17 naamlik die Gees van die waarheid.
In Joh. 20v22 word hierdie belofte nagekom:
Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!

Hy betoon eindelose geduld. Alhoewel Tomas die eerste geleentheid gemis het, is daar tog weer nog ’n geleentheid soos ons hoor in Joh. 20v26&27:
26 Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Die Here kom nie met verwyte en beskuldigings nie. Hy kom met liefde en geduld en daardeur herstel Hy ons geloof. Tomas het ’n absolute voorwaarde gestel voordat hy sou glo (Vgl. Joh. 20v25b):
“As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die Here wys egter dat dit nie ons voorwaardes is wat geloof bring nie, maar dat dit die opgestane Jesus is soos ons hoor in Joh. 20v28:
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
Toe Tomas die Here ontmoet het, het hy dadelik geglo sonder dat hy die spykermerke gevoel het soos hy vereis het.

Ons wil ook dikwels allerlei “bewyse” hê vir God se genade. Ons stel so dikwels voorwaardes wat gerig is op ons eie selfsugtige behoeftes. Wil ons nie ook die voorreg van die dissipels hê om God te sien nie? Het u al ooit gewonder hoe dit sou wees om die Here van aangesig tot aangesig te sien? Dit is egter nie nodig nie. Die Jode het Jesus ook in lewende lywe gesien en hulle het nie geglo nie. Ons ontmoet die Here deur sy Woord en die Heilige Gees wat Hy gestuur het om ewig by ons te bly. Ons het nie nodig om die Here fisies te sien nie soos Hy ook vir sê in Joh. 20v29:
Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig  is dié wat nie gesien het nie en tog glo. ”
Wat wel nodig is, is dat ons moet glo (vgl. Joh. 20v27)
moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.

Die dissipels het Jesus gesien en geglo, maar vir ons wat na hulle kom het die Here ’n ander pad tot geloof bepaal soos hy in Rom. 10v14 vir ons sê:
Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
Die Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die Woord van die Here en die verkondiging daarvan. Wanneer die geloof in Jesus wat opgestaan in ons harte begin brand dan kom ons ook soos Tomas tot die belydenis dat Jesus ook my Here en my God is.

Wat is die inhoud van ons geloof? Die Here sê vir ons in Joh. 20v31:
Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ons moet glo dat Jesus ons Verlosser is en dat Hy die Seun van God is. Daardeur verkry ons die ewige lewe.

Slot

Geliefdes ons reaksie op die twyfelstorms van ongeloof is om van die Here weg te draai. Sy reaksie is om ons op te soek deur sy Woord en Prediking en daardeur lei Hy ons op die pad van ongeloof tot geloof. Maak dus tyd om na die Here te luister deur besig te wees met sy Woord deur Bybelstudie en deur te luister na die verkondiging daarvan.

Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking