Wys tans plasings met die etiket twyfel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket twyfel. Wys alle plasings

23 Augustus 2026

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

 

Psalm 42 & 43

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

Die Psalms is een van die kosbaarste skatte wat God onder leiding van sy Gees vir ons laat neerskryf het. Deur hierdie bundel liedere raak God die hart van elke gelowige oor al die eeue aan.

Elke Psalm raak my persoonlik. Daar is tye wat ek saam met die Psalmdigter by God smeek om hulp. Ander tye wat ek voor God my skuld moet bely. Dan is daar ook tye waar ek voor God kla en worstel met die hoekoms en die waaroms van die lewe, maar daar is ook tye waar ek vir God dankie sê vir ryke seëninge wat Hy aan my gegee het en waar ek Hom groot maak in my lied. 

Die Psalmboek gaan oor al die wydtes en die dieptes van ons menswees. 

Veral ook hier in Psalm 42-43 beleef ons die verskillende uiterstes van die gelowige se gemoed. 

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  In hierdie Psalm sien ons hoe...

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Diep in ‘n gat met al my probleme en al my twyfel tot bo op ‘n berg waar my geloofsvertroue lofsing tot Gods eer. Deur hierdie hele Psalm wissel ons tussen hierdie twee uiterstes: twyfel en hoop. Wanneer ‘n mens hierdie Psalm lees vind jy jouself so maklik in die gemoed van hierdie digter. 

Hoe baie keer trek ons omstandighede ons so diep in ‘n gat van twyfel in. Net om die volgende oomblik tot die besef te kom van God se sorg, sy trou en sy liefde vir my. Moet ons elkeen nie eerlik bely dat die stryd tussen twyfel en hoop so deel van my eie lewe is nie?

Psalm 42 en 43 moet eintlik een Psalm wees. Die opbou van hierdie twee psalms vorm ‘n lied met ‘n refrein wat twee keer in Psalm 42 (6+12) en eenkeer in Psalm 43 (5) voorkom. Tog word daar reeds al in die oudste geskrifte tot ons beskikking ‘n onderskeid tussen hierdie twee psalm gemaak. 

Drie keer bevind die digter hom in die laagtes van vertwyfeling en sing Hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” En drie keer styg hy uit in geloofsvertroue en sing: “Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die eerste vers lees ons dat hierdie “’n Gedig van die Koragiete” is.  Die Koragiete was die nageslag van Korag = ‘n Leviet = wat in die woestyn teen Moses in opstand gekom het (Num. 16:1,2,35) en wat met sy lewe daarvoor betaal het.  Baie jare later sou Dawid die familie van Korag opdrag gegee het om, wanneer die tempel deur Salomo opgerig is, hulle die leiding by die tempelsang moes neem (1 Kron. 15:17; 16:41).  Hierdie diens het hulle tot lank na die ballingskap verrig (2 Kron. 35:15).

As sangleier moes die digter dus baie keer die volk na die tempel toe begelei het terwyl hy voorgegaan het in die lofprysing van God om daar in die tempel in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Dit was iets wat die digter baie goed geken het en waarin hy hom gereeld kon in verlustig.

Maar dit is nou juis hier waar die digter se groot ellende begin.  Want hy is skierlik vêr van die tempel af weg. Heel moontlik was hy een van die ballinge wat gedwing was om vêr van die tempel in die vreemde tussen heidene te gaan woon.

Dit is hier in die vreemde waar hy terugdink aan die goeie ou dae toe hy saam met ‘n skare feesgangers na God toe kon gaan.

Dit is hier in die vreemde dat sy verlange na God en sy tempel soos ‘n swaard deur sy siel steek: “2Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! 3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 4My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (OAV)

Om iets te verstaan van hierdie digter se ellende moet ons weet wat die tempel vir die Israeliete in die OT beteken het. Die tempel was die plek waar die verbondsark gestaan het = die tempel was die plek wat God self met sy heilige teenwoordigheid gevul het (vgl. 2 Kron. 5). Om in die tempel te wees was om in die teenwoordigheid van die lewende God self te wees, want by Hom is die lewe. Net soos ‘n wildsbok nie sonder water kan lewe nie, is die digter weg van God af sterwend en smag Hy na die Bron van alle lewe. 

Ken elkeen van ons nie ook maar daardie gevoel van: God is so bitter vêr. 

ð Ek lees Bybel, maar dit is asof God niks vir my te sê het nie;

ð Ek bid maar my gebede gaan nie verder as hierdie vier mure nie;

ð Ek gaan kerk toe, maar daar is net te veel ander dinge in my gedagtes en in my lewe ..... wat God so bitter vêr maak. 

En dan die verlange, die terug dink na dae toe God so naby aan my was. Dit laat ‘n mens worstelend die vraag vra: Hoekom voel God so vêr? Ek verlang daarna dat Hy weer naby my moet wees.

En asof dit nie genoeg is nie kom die sorge van die lewe en net soos golwe waar die een die ander volg, tref die terugslae die digter.  Die gevolg: al sy vyande spot hom en sê:  En waar is jou God nou?” (42:11).

Die heiden nasies van destyds wat om Israel gewoon het, was deeglik bewus van die groot dade wat God onder sy volk verrig het. Ook was dit iets waaroor die Israeliete nie stil gebly net nie. Gereeld het hulle getuig van die groot wonders wat God in hulle geskiedenis gedoen het. Met watter genoegdoening moes hulle nie die digter gespot het, toe dit lyk asof God hom nie meer help nie?

My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”

Wanneer alles begin verkeerd loop, my lewe, my huwelik, my werk, my finansies plus nog die gevoel dat God vêr van my is, dan hoor ons die spotlag van die duiwel hier agter ons: “En waar is jou God nou?” Het Hy dan nie belowe dat Hy altyd by jou sal wees nie? Het Hy jou nie dalk vergeet nie?

God is so vêr,   Hy het my vergeet..... die bitter vertwyfeling.   Wie ken dit nie? Dae en nagte se worsteling met probleme. Dae en nagte se vertwyfeling. Dit is so eg menslik en niemand van ons spring dit vry nie.

Weet u geliefdes, vir die ongelowige eindig die stryd tussen twyfel en hoop altyd weer by twyfel.

Maar vir die gelowige? 

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die moeilikste omstandighede, al is daar baie rede vir vertwyfeling en baie rede om te kerm is daar ‘n groter rede om dit NIE te doen nie, want ons het ‘n lewende hoop!

Ons teksvers stel dit: “Vertrou op God” = OF soos die OAV dit stel: “Hoop op God

Hoop op God” moet ons nie verwar met die woordjie hoop wat ons elke dag gebruik nie. As ek hoop dat my gunsteling rugbyspan môre sy wedstryd gaan wen, dan is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan gebeur nie. Ons idee van hoop hou ‘n groot mate van onsekerheid in. 

Daarteenoor beteken Bybelse hoop om oortuig te wees. Om seker te wees van die dinge waarop ek hoop (Heb. 11:1). Om seker te wees dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk”. Dat ek so seker is van God se trou dat ek selfs in die donkerste nag kan sing: Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Maar wat is dit wat hierdie Koragiet soveel sekerheid en soveel hoop vir die toekoms gegee het?

In Psalm 42 bou die digter sy geloofsverwagting op dit wat God in die verlede gedoen het. Hy dink terug aan al die goedheid van God wat hy daar by die tempel in God se teenwoordigheid beleef het (v.5) . Maar ook op dit wat God nou in die hede doen. Al slaan die storms om hom, weet Hy dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk” (v. 9) . 

As ons terugkyk op ons verlede, as ons ook nou om ons rondkyk midde watter omstandighede ek my ook al mag bevind, glo ek dat elkeen van ons genoeg rede het om dit uit te roep: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” Al was dit nie altyd maklik nie, was God nog altyd tot hiertoe by ons gewees. 

Maar in Psalm 43 kyk die digter ook die toekoms in. Hy sien dat God hom weer gaan terug lei na Hom toe.  "Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God”  (v. 3-4).  Die digter het die sekerheid gehad dat God hom weer terug sal laat gaan na Jerusalem.

Onder leiding van die Heilige Gees, sien die digter reeds die Lig wat hom gaan terug lei na God toe en hoor hy reeds die waarheid van verlossing. Hy sien ons enigste hoop, Jesus Christus raak.  Christus wat self gesê het: Ek is die Lig vir die wêreld (Joh. 8:12)

As ek glo dat Jesus Christus waarlik mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood en dat Hy nou aan die regterhand van God sit en dat ek by sy wederkoms mede erfgenaam gaan wees van ‘n ewige heerlikheid, kan ek ook nou deur sy oë na my lewe kyk.

Al die moeilikhede wat my elke dag soos groot golwe tref is niks in vergelyking met die ewige heerlikheid wat Christus aan my beloof het nie.

Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6).  Aan die kruis was Christus deur God verlaat.  Daardeur het Hy vir ons die weg gebaan na God toe sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy gee vir ons die ewige lewe en dit beteken dat ons nou reeds elke dag deur die geloof by Hom kan ingaan en in sy teenwoordigheid kan wees. ‘n Teenwoordigheid wat met Christus se wederkoms weer volmaak sal wees wanneer ek veilig tot in ewigheid in my Vader se woning sal wees

Die hoop van die Psalm digter het vir hom in die toekoms gelê. In die toekoms het hy gesien dat Hy weer by God sal wees.

Vir ons is Christus se daad van verlossing ‘n vaste sekerheid wat reeds gebeur het.

Soveel te meer kan ons die toekoms in kyk met ‘n vaste hoop op Christus se wederkoms en kan ons uitsien na die dag wanneer ons elkeen veilig by God sal wees.

Soveel te meer kan ons ons oë op Christus, op God gerig hou “...die God oor wie ek wil jubel en juig, ....dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!” (43:4)

Geliefdes, wanneer dit voel asof ek so bitter vêr van God is, as die lewens storms dreig om my te oorweldig, as my teëspoed en terugslae my laat dink dat God my vergeet het:

Kyk op, kyk na Christus ons enigste hoop

Want dan, ja dan alleen kan die stryd tussen twyfel en hoop wat ook in my binneste woed eindig in ‘n lofsang tot God

O my siel, waarom so onrustig?

       En wat buig jy jou in my?

       Vertrou op God, in Hom weer rustig!

       In sy lof sal ek my verlustig

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God! 

Amen


10 Mei 2020

Waar vind jy hoop in die dieptes van vertwyfeling?


Datum: 10 Mei 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni  Ds. George van der Walt
Skriflesing: Psalm 42 & 43


Sing
Ps. 42-1 v 1
Ps. 42-1 v 3 & 5




Psalm 42 en 43 is eintlik een psalm wat in twee dele verdeel is. Dit is 'n klaaglied van iemand wat swaarkry en ervaar dat die Here hom vergeet het. Hierdie psalm is nogal baie relevant vir ons huidige situasie, veral in die lig dat Christine daarvan weerhou word om fisies eredienste by te woon. Mense smag daarna om net weer kontak met mekaar te hê en dis veral enkellopendes wat alleen is in hierdie tyd van afsondering wat swaarkry.

In hierdie psalm praat die psalmdigter met homself. In die meeste van die psalms is die psalmdigter in gesprek met God, maar in hierdie psalm praat hy met homself. Dit beklemtoon sy gevoel van Godverlatenheid.

Die psalmdigter begin met 'n beeld van 'n bok wat smag na water. Om hierdie beeld reg te verstaan moet ons kennis neem dat hy nie net 'n bok beskryf wat dors is nie. Dis 'n bok wat desperaat smag na water. Die gevoel wat die bok sal hê tydens 'n droogte wanneer hy na 'n watergat toe gaan en die gat droog vind.

Dis hoe die psalmdigter sy geestelike dors en verlange na God beskryf. In hierdie psalm is dit nie as gevolg van 'n skuldgevoel oor sonde soos in psalm 51 nie. Dit is ook nie as gevolg van vyande wat hom bedreig soos in psalm 35 nie. Die vyande wat in hierdie psalm genoem word dryf die spot met hom omdat dit vir hom voel dat God hom verlaat het.

Hier beskryf die psalmdigter iets wat gelowiges van tyd tot tyd oorkom. Daardie gevoel dat God ver is en dat hy 'n diep geestelike dors het na die lewende God. Op hierdie stadium voel dit vir hom of God nie werklik is nie.

Die psalmdigter noem 'n paar redes waarom hy nie op hierdie stadium God se teenwoordigheid in sy lewe voel nie. In Ps. 42 v 3 vra hy: “Wanneer kan ek voor God verskyn?” In Ps. 42 v 5 hoor ons hoe hy verlang om na die woonplek van God op te gaan. Daar is dus 'n ontwrigting wat keer dat hy God in die tempel kan ontmoet.

Ons kan op hierdie stadium baie goed met die psalmdigter hieroor identifiseer. Alhoewel ons as Nuwe Testamentiese kerk nie meer na 'n tempel opgaan nie, mis ons steeds ons gesamentlike ontmoeting met God waar ons fisies bymekaar gekom het om te aanbid. Alhoewel ons die voorreg het om via sosiale media op 'n afstand saam te kom vir eredienste, bly daar 'n verlange na werklike fisiese samekomste.

Verder is dit ook dat sy omstandighede nie goed is nie. Hy is tussen heidene wat die spot met hom dryf. Sy normale roetine is ook ontwrig. Ons hoor in Ps. 42 v 4 dat hy dag en nag in trane is. Hy slaap dus nie goed nie. Dit gaan dus nie goed in sy lewe nie en dit voel vir die psalmdigter of God hom in die steek gelaat het.

Dit voel vir die psalmdigter of hy in die diepte van sy wese nie meer aan God verbind is nie. Ons hoor in Ps. 42 v 6 hoe hy sy nood bekla: “waarom is ek so in vertwyfeling?”

Ons hoor ook in hierdie psalms hoe die psalmdigter hierdie nood aanspreek en dit gee vir ons ook riglyne wat om te doen wanneer dit vir jou voel of God nie naby is nie. Wanneer dit vir jou voel of God ver is skep dit inderdaad 'n gevoel van hopeloosheid.

In Psalm 42 en 43 vind ons 'n bron van hoop wanneer jy deur hopeloosheid oorweldig word. Die troos is dat daar lig is op die pad vorentoe. Die versekering dat alhoewel dit soms vir jou kan voel of God ver is, dat Hy inderdaad nie ver is nie en dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

Hoe deel jy in hierdie troos?

Die Psalmdigter sê vir ons hoe hy troos gevind het.
In Ps. 42 v 5 hoor ons:
As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God, voor ’n skare uit na sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang— ’n skare wat feesvier.
Letterlik staan daar: “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my:”

Stort jou hart uit teenoor die Here. Praat met die Here. Veral wanneer dit vir jou voel of jou gebede teen die dak vasslaan, moenie ophou nie. Vertel vir die Here hoe jy voel. Sê vir Hom dat dit vir jou voel of Hy ver is. Praat met Hom en vertel vir Hom hoe jy na Hom verlang.

In Ps. 42 v 6, 12 en 43 v 5 hoor ons die refrein van die psalmdigter waar hy homself afvra: “waarom is ek so in vertwyfeling?” Hy herhaal dit drie keer en dit vertel vir ons van die opbouende intensiteit hiervan. Hy is besig om vir homself af te vra waarop plaas hy sy hoop?

Wanneer dit vir jou voel of God ver is, is dit 'n goeie geleentheid om introspeksie te doen en jouself eerlik af te vra waarop jy jou vertroue stel?

Deur jou hart, jou diepste wese af te vra waarop jy jou vertroue stel, sal vir jou wys of jy nie dalk jou vertroue op iets stel wat jou gaan teleurstel nie.

En dan telkemale wanneer die psalmdigter in vertwyfeling uitroep: “waarom is ek so in vertwyfeling?” volg hy dit op met: “vertrou op God!” Met ander woorde hy sê vir homself waarop hy sy vertroue moet plaas.

In Ps. 42 v 7 hoor ons:”
Uit my vertwyfeling roep ek na U hier van die Jordaangebied
In die 33/53 Bybelvertaling word dit meer letterlik gestel as: o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan
Hy dink na oor God en wat Hy in die verlede vir hom gedoen het. Wanneer jou hart in vertwyfeling is, onthou wat die Here vir jou gedoen het.

Wat die psalmdigter hier doen is om vir sy hart te preek. In plaas daarvan om na homself te luister, praat hy met homself. Hy herinner homself wat God alles vir hom gedoen het en dat hy daarom moet aanhou om op God te vertrou.

Dis 'n belangrike beginsel wat hier na vore kom. Hou op luister na die negatiewe in jou gedagtes. Hou op om om te luister na alles wat verkeerd is in jou lewe. Moenie luister na jou vrese nie. Vertel vir jouself van die positiewe. Plaas jou fokus op wie God is waarop jy jou vertroue moet stel (die Ewige Almagtige God wat die hemel en die aarde geskep het) en onthou ook wat Hy in die verlede vir jou gedoen het.

In Ps. 43 v 3 & 4 hoor ons:
Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!

In hierdie opsig het ons 'n voordeel bo die psalmdigter. Ons weet nog meer seker waarom ons na God toe kan gaan, waarom ons op Hom kan vertrou.

Die psalmdigter gebruik die beeld van 'n bok wat besig is om om te kom van dors. Jesus het aan die kruis uitgeroep “Ek is dors!” Sy vyande het Hom gespot: “As jy God is red jouself.”

Vir Jesus het dit nie net gevoel of God Hom verlaat nie. Hy was werklik deur God verlaat. Hy was werklik tot die dood toe dors. Almal het Hom in die steek gelaat. Hy het die verskriklikheid van die kruis alleen deurgemaak. Daar was niemand om Hom by te staan nie. Hy het in sy nood na God toe uitgeroep, “My God, My God, waarom het U my verlaat?” en God het Hom nie geantwoord nie.

Jesus het dit vir jou gedoen sodat jy in jou diepste vertwyfeling kan vashou aan die wete dat God jou NOOIT sal verlaat nie.

Waar vind jy hoop in die dieptes van vertwyfeling? Stort jou hart teenoor God uit want Hy luister na jou. Net soos wat Hy in die verlede saam met jou was, sal Hy ook in die toekoms saam met jou wees, nie net in die goeie tye wanneer jy intens bewus is van Hom nie, maar veral in die donkerte van vertwyfeling wanneer dit vir jou voel of Hy nie daar is nie. Dit is juis dan wanneer Hy die naaste aan jou is. Dit is juis dan wanneer Hy jou dra en jou vashou.

Geliefdes, God is te lief vir jou om jou ooit in die steek te laat en daarom kan jy verseker wees dat Hy dit nooit sal doen nie!

Amen

12 November 2015

Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg

Habakuk  Teksverse Hab. 1v2-4; Hab. 2v5-6; Hab. 3:17-19
8 Nov. 2015 GKE

Lof-Lied - Lied 163  Soos `n wildsbok
Na Wet Sb. 9-2 v 1 & 9 (Sb 26 in ou swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 32-1 v 1 & 6
Slotsang Sb. 14-2 (Al sou die vyeboom beryming van Hab. 3v17-19)

Sondag 10

27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;  Jer 23:23, 24;  Jes 29:15, 16;  Eseg 8:12.  (b) Heb 1:3.  (c) Jer 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.
As God ons Vader is, hoekom gaan dit nie altyd goed met ons nie? Ons bely op grond van dit wat God vir ons in sy ewige Woord sê dat Hy die hemel en die aarde uit niks geskep het. Verder bely ons dat God sy skepping nog steeds versorg en in stand hou. Net soos ’n ouer vir sy kinders sorg, sorg God vir ons as sy kinders in alle omstandighede. Dit is tog immers wat ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely. Ons bely tog dat niks toevallig gebeur nie. Dit wil sê dat dit wat daagliks met ons gebeur van God af kom. Die seën van die oorvloedige reën in die vorige jare het van God af gekom, maar ook die verwoestende droogte wat ons nou beleef.

Dink maar byvoorbeeld aan iets wat baie moontlik is in die Suid-Afrika waarin ons tans woon. ’n Vrou wat van ’n Bybelstudie af teruggekom het, is deur boosdoeners oorval, beroof en verkrag. As God dan in beheer is, waar was Hy toe dit gebeur het? Elkeen van ons kan heelwaarskynlik talle soortgelyke situasies in ons eie lewens opnoem. Situasies wat aanleiding gee dat ons saam met die profeet Habakuk vra: (Vgl. Hab. 1v2-4)
2 Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3 Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4 Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.

Hoe voel u oor God se antwoord op hierdie vraag? (Vgl. Hab. 2v5-6)
5 Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. 6 Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.
En dan gaan die Here aan om te verduidelik hoe wreed en woes die Babiloniërs is wat Israel in ballingskap gaan wegvoer.

Kan u nog steeds bely: dat ek in teëspoed geduldig moet wees? U wonder dalk nou waarheen is hierdie preek op pad? Die kern van Sondag 9 is dat God, die Skepper van hemel en aarde in Christus my Vader is op wie ek kan vertrou. As ons werklik wil bely met ander woorde dit onomwonde stel dat ons vas en seker glo dat God ons Vader is wat vir ons sorg in alles wat ons nodig het, dan moet ons God kan vertrou, veral wanneer ons omstandighede duidelik vir ons sê dat ons God nie kan vertrou nie. Daardie tye wanneer die ou duiwel ons so lekker uitkoggel: “kyk hoe gaan dit in jou lewe. Jy kan God nie vertrou nie!”

Wat gebeur eintlik hier in Habakuk 1 en 2? God word in die beskuldigingsbank geplaas! Die mens neem God onder kruisverhoor en beskuldig God dat Hy nie die mens se beste belange op die hart dra nie. Presies wat in die Paradys gebeur het met die sondeval. Daarom moet ons die perspektief van God se antwoord raaksien. Israel het hardnekkig aangehou met afgodery. Dit wil sê hulle het iets of iemand anders in die plek van God geplaas. Dit is nie God wat in die beskuldigingsbank hoort nie, maar die mens self wat God beskuldig. God gebruik die Galdeërs om Israel tot inkeer te bring. Nou moet ons baie mooi verstaan. God beskik nie die kwaad nie, want selfs die boosheid van die Galdeërs gaan gestraf word soos die Here vir ons sê in Habakuk 2v5 tot 20. Telkemale hoor ons “Ellende wag vir hom wat verkeerd doen.”

Wat wel hier gebeur is dat God die kwaad wat van die sonde af kom, gebruik om iets goed te laat voortkom. Die sondigheid van mense veroorsaak baie ellende vir ander mense. Dink maar net hoeveel hartseer veroorsaak gierigheid nie. Mense wat ander mense doodmaak om hulle besittings in die hande te kry. Jaloesie, haat woede onkuisheid noem maar op. Dit veroorsaak baie ellende in hierdie lewe en nie een van ons kan werklik sê dat ons onskuldig is nie.

Nou moet u mooi verstaan. Die aard van sonde en die rimpeleffek daarvan is nie altyd reglynig nie. Met ander woorde: Ek moenie die fout maak om reglynige oorsaak en gevolg vir alle situasies in my lewe te soek nie. Reglynige oorsake is ook daar, soos byvoorbeeld as ek myself aan drank vergryp en ek hou aan daarmee dan sal ek naderhand die gevolge daarvan op my gesondheid voel. Daar is egter ook indirekte gevolge. As ek beroof en aangerand word, is dit nie noodwendig die direkte oorsaak van iets wat ek in my lewe verkeerd gedoen nie. Dit is wel die gevolg van die rimpeleffek wat sonde op die mensdom het.

’n Verdere indirekte effek van sonde is dat die Skepping as gevolg van die sondeval aan die verydeling onderwerp is soos die Here vir ons in Rom. 8v2 sê:
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
Dit is die rede hoekom daar natuurrampe en vloede en droogtes plaasvind. Dit is die rede waarom mense wat nog in die fleur van hul lewens is deur siektes geteister word en dat hulle daarvan doodgaan.

Binne die teëspoed wat deur sonde veroorsaak word kan ons net werklik bely dat ek in teenspoed geduldig sal wees as ek God vertrou. As ek vertrou dat God in beheer is en dat Hy selfs dit wat sleg is in my lewe tot my beswil kan gebruik. Dink maar net aan die verhaal van Josef. Hoe dink u het Josef gevoel toe hy daar in die put gelê het waar sy broers hom ingegooi het? Hoe het hy gevoel toe hy as slaaf was op pad na Egipte? Dit is eers baie jare later dat hy as tweede in bevel van Egipte vir sy broers wat hom verkoop het kon help uit die gevolg van die hongersnood waarin hulle beland het. Ons sien nie altyd dadelik die goeie gevolge wat uit die slegte voortspruit nie. Soms neem dit baie jare en tog is ek seker dat elkeen van ons ’n voorbeeld in ons lewens kan aanhaal waar die Here dinge in ons lewens wat aanvanklik sleg was, ten goede laat meewerk het.

Uit die nageslag van Josef se broer Juda is Jesus gebore. Dit is ’n gebeurtenis wat nie in Josef se lewe plaasgevind het nie. Dit het eers baie, baie geslagte later gebeur. Tog het Israel vasgehou aan die belofte van ’n Messias wat sou kom en die verlossing wat Hy sou bring. Dit is ’n belofte wat die Jode deur die pyn van hul Ballingskap gedra het. Dit is net die verlossingswerk van Jesus Christus wat dit moontlik maak dat ons God kan vertrou. Dat ons dankbaar is wanneer Hy ons seën en dat ons geduldig is wanneer ons beproef word.

Ons geloof in Jesus Christus maak dit moontlik dat ons God ons Vader kan vertrou. Die Heilige Gees is altyd by ons en dra ons deur die goeie en die swaar tye. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te hou in God se genade wat Jesus Christus vir ons gebring het. Daarom kan ons ook saam met Habakuk sing:
(Hab. 3:17-19)
17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Hou in geloof vas aan God se genade en vertrou dat Hy steeds in beheer is. Glo dat God jou Vader is omdat Christus vir jou sondes gesterf het. Dink daaroor na wat God al alles in jou lewe vir jou gedoen het. Dink daaroor na wat dit vir jou beteken dat Christus vir jou sondes ’n vervloekte dood aan ’n kruishout gesterf het. Glo en vertrou dat Hy net ons beste belange op die hart dra. Dan sal ons ook kan bely:
Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg.

Amen

29 Junie 2014

Jesus lei ons op die pad van ongeloof tot geloof

Joh. 20 v 19-31; teksvers Joh. 20 v 31
04 Mei. 2014 GKE
Lof-Psalm Ps. 42 v 1 & 7(OAB)
Na Wet Ps. 103 v 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
Slotsang Ps. 42 v 2 & 3 & 5

Inleiding

Sien is glo. Dit was Tomas se benadering tot die lewe. Hiermee het Tomas dan ook die bynaam gekry van ongelowige Tomas. Ongeloof! Hoe dikwels sukkel ons nie ook maar self daarmee nie? Dis gewoonlik nie iets wat ons maklik openlik erken nie, maar dit is daar om ons te treiter. Daardie stemmetjie hier in die agterkop: “jy kan God nie vertrou nie!” Ons erken dit nie maklik nie, maar dit maak nie dat dit makliker is nie. Inteendeel, dit maak die hele saak net moeiliker!

Wat maak ’n mens wanneer hierdie twyfelstorms binne jou gemoed woed? In hierdie verhaal van Tomas se twyfelstorms sien ons hoe onbeholpe mense reageer wanneer die twyfelstorms van ongeloof toeslaan en aan die ander kant sien ons God se genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof. Wanneer geloofstwyfel oor ons pad kom dan lei Jesus ons op die pad van ongeloof tot geloof.

Die mens se onbeholpenheid binne die twyfelstorms van die lewe

Tomas beleef seker een van die grootste krisisse in sy lewe met Jesus se kruisdood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg. Hy was self bereid om vir Jesus te sterf soos ons in Joh. 11v16 hoor toe Jesus na Lasarus toe gegaan het en die dissipels bang was vir die Jode:
Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

En nou is Jesus dood. Al die hoop wat hulle gekoester het dat Jesus hulle sou verlos is nou daarmee heen. Tomas het sy vertroue in Jesus verloor. Hierdie teleurstelling was vir hom net een te veel. Daarom sonder hy homself ook eenkant af van die ander dissipels. Daarmee mis hy die eerste geleentheid om die opgestane Here te sien. Maak ons nie ook dikwels so nie? Een of ander gebeurtenis in ons lewens veroorsaak dat dit vir ons voel dat die Here ons in die steek gelaat het. Nou begin die twyfelstorms van ongeloof in ons binneste woed. Daardie stemmetjie wil net nie stilbly nie “Jy kan die Here nie vertrou nie!” En wat maak ons? Ons vermy ons broeders en susters in die geloof. Ek sien nie kans om kerk toe te gaan nie.

Wat doen ons wanneer ons geloofsgenote ons wel opsoek? Ek stel onredelike voorwaardes en glo nie wat hulle vir my sê nie! Ons maak maar net soos Tomas gemaak het (vgl Joh. 20v25)
Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Vol opgewondenheid kom die ander dissipels by Tomas met die goeie nuus dat Jesus opgestaan het, maar hy weier om hulle te glo. Die dissipels het ook aanvanklik gesukkel met ongeloof. Jesus het verskeie male vir hulle gesê dat Hy weer gaan opstaan uit die dood uit. Toe die vroue egter by hulle kom en hulle vertel dat Jesus opgestaan het en dat sy graf leeg is, het hulle ook nie geglo nie soos ons hoor in Luk. 24v11:
Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

Dit was dus nie net Tomas wat ongelowig was nie, maar die ander dissipels ook. Een of ander tyd beleef elkeen van ons ’n geloofskrisis. Die genade van die Here is egter dat Hy nie sy rug op ons draai nie. Kort na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels maar Tomas was nie daar nie. Wanneer ons onself afsonder van die geloofsgemeenskap dan verbeur ons die geleentheid om die Here te ontmoet.

Wat doen ons in tye van geloofskrisisse? Ons sonder ons af en ons stel onredelike verwagtings. Ons draai weg van God af en vertrou Hom nie meer nie. Ons glo nie meer nie. Daardeur mis ons die heerlike teenwoordigheid van ons Here.

Aan die ander kant betoon die Here eindelose genade en geduld met ons, want

God betoon sy genade en liefde midde in die twyfelstorms van ongeloof

Jesus verskyn aan sy dissipels en Hy herstel hul geloof. Die gevolg is dat hulle blydskap ervaar soos ons hoor in Joh. 20v20:
Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
Die Here doen nog meer. Hy stuur die Heilige Gees as Trooster om ewig by ons te bly soos Hy belowe het in Joh. 14v16-17:
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17 naamlik die Gees van die waarheid.
In Joh. 20v22 word hierdie belofte nagekom:
Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!

Hy betoon eindelose geduld. Alhoewel Tomas die eerste geleentheid gemis het, is daar tog weer nog ’n geleentheid soos ons hoor in Joh. 20v26&27:
26 Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Die Here kom nie met verwyte en beskuldigings nie. Hy kom met liefde en geduld en daardeur herstel Hy ons geloof. Tomas het ’n absolute voorwaarde gestel voordat hy sou glo (Vgl. Joh. 20v25b):
“As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die Here wys egter dat dit nie ons voorwaardes is wat geloof bring nie, maar dat dit die opgestane Jesus is soos ons hoor in Joh. 20v28:
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
Toe Tomas die Here ontmoet het, het hy dadelik geglo sonder dat hy die spykermerke gevoel het soos hy vereis het.

Ons wil ook dikwels allerlei “bewyse” hê vir God se genade. Ons stel so dikwels voorwaardes wat gerig is op ons eie selfsugtige behoeftes. Wil ons nie ook die voorreg van die dissipels hê om God te sien nie? Het u al ooit gewonder hoe dit sou wees om die Here van aangesig tot aangesig te sien? Dit is egter nie nodig nie. Die Jode het Jesus ook in lewende lywe gesien en hulle het nie geglo nie. Ons ontmoet die Here deur sy Woord en die Heilige Gees wat Hy gestuur het om ewig by ons te bly. Ons het nie nodig om die Here fisies te sien nie soos Hy ook vir sê in Joh. 20v29:
Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig  is dié wat nie gesien het nie en tog glo. ”
Wat wel nodig is, is dat ons moet glo (vgl. Joh. 20v27)
moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.

Die dissipels het Jesus gesien en geglo, maar vir ons wat na hulle kom het die Here ’n ander pad tot geloof bepaal soos hy in Rom. 10v14 vir ons sê:
Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
Die Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die Woord van die Here en die verkondiging daarvan. Wanneer die geloof in Jesus wat opgestaan in ons harte begin brand dan kom ons ook soos Tomas tot die belydenis dat Jesus ook my Here en my God is.

Wat is die inhoud van ons geloof? Die Here sê vir ons in Joh. 20v31:
Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ons moet glo dat Jesus ons Verlosser is en dat Hy die Seun van God is. Daardeur verkry ons die ewige lewe.

Slot

Geliefdes ons reaksie op die twyfelstorms van ongeloof is om van die Here weg te draai. Sy reaksie is om ons op te soek deur sy Woord en Prediking en daardeur lei Hy ons op die pad van ongeloof tot geloof. Maak dus tyd om na die Here te luister deur besig te wees met sy Woord deur Bybelstudie en deur te luister na die verkondiging daarvan.

Amen.