10 Mei 2020

Waar vind jy hoop in die dieptes van vertwyfeling?


Datum: 10 Mei 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni  Ds. George van der Walt
Skriflesing: Psalm 42 & 43


Sing
Ps. 42-1 v 1
Ps. 42-1 v 3 & 5




Psalm 42 en 43 is eintlik een psalm wat in twee dele verdeel is. Dit is 'n klaaglied van iemand wat swaarkry en ervaar dat die Here hom vergeet het. Hierdie psalm is nogal baie relevant vir ons huidige situasie, veral in die lig dat Christine daarvan weerhou word om fisies eredienste by te woon. Mense smag daarna om net weer kontak met mekaar te hê en dis veral enkellopendes wat alleen is in hierdie tyd van afsondering wat swaarkry.

In hierdie psalm praat die psalmdigter met homself. In die meeste van die psalms is die psalmdigter in gesprek met God, maar in hierdie psalm praat hy met homself. Dit beklemtoon sy gevoel van Godverlatenheid.

Die psalmdigter begin met 'n beeld van 'n bok wat smag na water. Om hierdie beeld reg te verstaan moet ons kennis neem dat hy nie net 'n bok beskryf wat dors is nie. Dis 'n bok wat desperaat smag na water. Die gevoel wat die bok sal hê tydens 'n droogte wanneer hy na 'n watergat toe gaan en die gat droog vind.

Dis hoe die psalmdigter sy geestelike dors en verlange na God beskryf. In hierdie psalm is dit nie as gevolg van 'n skuldgevoel oor sonde soos in psalm 51 nie. Dit is ook nie as gevolg van vyande wat hom bedreig soos in psalm 35 nie. Die vyande wat in hierdie psalm genoem word dryf die spot met hom omdat dit vir hom voel dat God hom verlaat het.

Hier beskryf die psalmdigter iets wat gelowiges van tyd tot tyd oorkom. Daardie gevoel dat God ver is en dat hy 'n diep geestelike dors het na die lewende God. Op hierdie stadium voel dit vir hom of God nie werklik is nie.

Die psalmdigter noem 'n paar redes waarom hy nie op hierdie stadium God se teenwoordigheid in sy lewe voel nie. In Ps. 42 v 3 vra hy: “Wanneer kan ek voor God verskyn?” In Ps. 42 v 5 hoor ons hoe hy verlang om na die woonplek van God op te gaan. Daar is dus 'n ontwrigting wat keer dat hy God in die tempel kan ontmoet.

Ons kan op hierdie stadium baie goed met die psalmdigter hieroor identifiseer. Alhoewel ons as Nuwe Testamentiese kerk nie meer na 'n tempel opgaan nie, mis ons steeds ons gesamentlike ontmoeting met God waar ons fisies bymekaar gekom het om te aanbid. Alhoewel ons die voorreg het om via sosiale media op 'n afstand saam te kom vir eredienste, bly daar 'n verlange na werklike fisiese samekomste.

Verder is dit ook dat sy omstandighede nie goed is nie. Hy is tussen heidene wat die spot met hom dryf. Sy normale roetine is ook ontwrig. Ons hoor in Ps. 42 v 4 dat hy dag en nag in trane is. Hy slaap dus nie goed nie. Dit gaan dus nie goed in sy lewe nie en dit voel vir die psalmdigter of God hom in die steek gelaat het.

Dit voel vir die psalmdigter of hy in die diepte van sy wese nie meer aan God verbind is nie. Ons hoor in Ps. 42 v 6 hoe hy sy nood bekla: “waarom is ek so in vertwyfeling?”

Ons hoor ook in hierdie psalms hoe die psalmdigter hierdie nood aanspreek en dit gee vir ons ook riglyne wat om te doen wanneer dit vir jou voel of God nie naby is nie. Wanneer dit vir jou voel of God ver is skep dit inderdaad 'n gevoel van hopeloosheid.

In Psalm 42 en 43 vind ons 'n bron van hoop wanneer jy deur hopeloosheid oorweldig word. Die troos is dat daar lig is op die pad vorentoe. Die versekering dat alhoewel dit soms vir jou kan voel of God ver is, dat Hy inderdaad nie ver is nie en dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

Hoe deel jy in hierdie troos?

Die Psalmdigter sê vir ons hoe hy troos gevind het.
In Ps. 42 v 5 hoor ons:
As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God, voor ’n skare uit na sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang— ’n skare wat feesvier.
Letterlik staan daar: “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my:”

Stort jou hart uit teenoor die Here. Praat met die Here. Veral wanneer dit vir jou voel of jou gebede teen die dak vasslaan, moenie ophou nie. Vertel vir die Here hoe jy voel. Sê vir Hom dat dit vir jou voel of Hy ver is. Praat met Hom en vertel vir Hom hoe jy na Hom verlang.

In Ps. 42 v 6, 12 en 43 v 5 hoor ons die refrein van die psalmdigter waar hy homself afvra: “waarom is ek so in vertwyfeling?” Hy herhaal dit drie keer en dit vertel vir ons van die opbouende intensiteit hiervan. Hy is besig om vir homself af te vra waarop plaas hy sy hoop?

Wanneer dit vir jou voel of God ver is, is dit 'n goeie geleentheid om introspeksie te doen en jouself eerlik af te vra waarop jy jou vertroue stel?

Deur jou hart, jou diepste wese af te vra waarop jy jou vertroue stel, sal vir jou wys of jy nie dalk jou vertroue op iets stel wat jou gaan teleurstel nie.

En dan telkemale wanneer die psalmdigter in vertwyfeling uitroep: “waarom is ek so in vertwyfeling?” volg hy dit op met: “vertrou op God!” Met ander woorde hy sê vir homself waarop hy sy vertroue moet plaas.

In Ps. 42 v 7 hoor ons:”
Uit my vertwyfeling roep ek na U hier van die Jordaangebied
In die 33/53 Bybelvertaling word dit meer letterlik gestel as: o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan
Hy dink na oor God en wat Hy in die verlede vir hom gedoen het. Wanneer jou hart in vertwyfeling is, onthou wat die Here vir jou gedoen het.

Wat die psalmdigter hier doen is om vir sy hart te preek. In plaas daarvan om na homself te luister, praat hy met homself. Hy herinner homself wat God alles vir hom gedoen het en dat hy daarom moet aanhou om op God te vertrou.

Dis 'n belangrike beginsel wat hier na vore kom. Hou op luister na die negatiewe in jou gedagtes. Hou op om om te luister na alles wat verkeerd is in jou lewe. Moenie luister na jou vrese nie. Vertel vir jouself van die positiewe. Plaas jou fokus op wie God is waarop jy jou vertroue moet stel (die Ewige Almagtige God wat die hemel en die aarde geskep het) en onthou ook wat Hy in die verlede vir jou gedoen het.

In Ps. 43 v 3 & 4 hoor ons:
Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!

In hierdie opsig het ons 'n voordeel bo die psalmdigter. Ons weet nog meer seker waarom ons na God toe kan gaan, waarom ons op Hom kan vertrou.

Die psalmdigter gebruik die beeld van 'n bok wat besig is om om te kom van dors. Jesus het aan die kruis uitgeroep “Ek is dors!” Sy vyande het Hom gespot: “As jy God is red jouself.”

Vir Jesus het dit nie net gevoel of God Hom verlaat nie. Hy was werklik deur God verlaat. Hy was werklik tot die dood toe dors. Almal het Hom in die steek gelaat. Hy het die verskriklikheid van die kruis alleen deurgemaak. Daar was niemand om Hom by te staan nie. Hy het in sy nood na God toe uitgeroep, “My God, My God, waarom het U my verlaat?” en God het Hom nie geantwoord nie.

Jesus het dit vir jou gedoen sodat jy in jou diepste vertwyfeling kan vashou aan die wete dat God jou NOOIT sal verlaat nie.

Waar vind jy hoop in die dieptes van vertwyfeling? Stort jou hart teenoor God uit want Hy luister na jou. Net soos wat Hy in die verlede saam met jou was, sal Hy ook in die toekoms saam met jou wees, nie net in die goeie tye wanneer jy intens bewus is van Hom nie, maar veral in die donkerte van vertwyfeling wanneer dit vir jou voel of Hy nie daar is nie. Dit is juis dan wanneer Hy die naaste aan jou is. Dit is juis dan wanneer Hy jou dra en jou vashou.

Geliefdes, God is te lief vir jou om jou ooit in die steek te laat en daarom kan jy verseker wees dat Hy dit nooit sal doen nie!

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking