31 Mei 2020

Abba! - Vader

Datum: 31 Mei 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Rom. 8 v 14 & 15 en Ps. 40

Teksvers: Rom. 8 v 15

 Sing

 Ps. 33-1 v 11

 Ps. 86-1 v 1

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1 Volledige erediens op facebook Gereformeerde Kerk Empangeni

2 Net die preek op YouTube
 


Jesus het belowe dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat na sy hemelvaart nie en Hy het ook nie. Daarom herdenk ons vandag die gebeure wat in Handelinge 2 vir ons beskryf word waar Jesus se dissipels op 'n plek bymekaar was en hoe hulle iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het en almal met die Heilige Gees vervul is. Ons noem hierdie gebeure Pinkster of die uitstorting van die Heilige Gees.

 

Die Heilige Gees is nou by ons en dit is 'n geweldige troos vir gelowiges soos ons ook in Rom. 8 v 14 en 15 hoor:

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader

 

Elkeen wat hom of haar deur die Gees van God laat lei om te glo in Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser is 'n kind van God. Daarom het ons as kinders van God die vrymoedigheid om tot ons Vader te roep wanneer ons in nood verkeer.

 

Ons het op 19 Mei 2020 'n oproep vanaf Klassis Potchefstroom ontvang om op 31 Mei 2020 'n dag van verootmoediging en gebed te hou. Ons gee daarom ook gehoor aan hierdie oproep om vandag as 'n dag van gebed en verootmoediging te hou waarin ons na ons Vader uitroep – Abba! Help ons. Wees ons genadig.

 

Die Here help ons ook in ons gebede en daarom het Hy vir ons die Psalms gegee. Die Psalmboek in die Bybel is inderdaad 'n gebedsboek. Met die Onse Vader gebed wat Jesus vir ons gegee het, leer Hy ons wat ons moet bid en in die Psalms leer die Here ons hoe ons moet bid.

 

Ons gaan vanoggend stilstaan by die gebed van Psalm 40. Die opskrif wat die Bybelvertalers van die 1983 vertaling vir die Psalm gegee het, is “Here, red my tog!” In die HCSB word die opskrif “Thanksgiving and a Cry for Help” vir hierdie Psalm gebruik. Psalm 40 is inderdaad 'n gebed om redding in 'n tyd van nood.

 

In Ps. 40 v 2 – 5 hoor ons hoe die Psalmdigter ons vertel hoe die Here hom in die verlede verlos het toe hy in nood verkeer het. Toe hy gesmag het na die Here, het die Here sy hulpgeroep gehoor. God het, hom uit die put waarin hy beland het uitgetrek en weer op 'n rots laat staan en daarom kan hy weer 'n loflied sing.

 

Wat dit vir ons sê is dat dit goed gaan met die mens wat sy vertroue op die Here stel en nie op ander goed as die Here vertrou nie. Dit is die moeite werd om na die Here te smag.

 

Dan vertel die Psalmdigter vir ons in Ps. 40 v 6 – 11 van die Here se verlossingsdade en die verlossing wat hy ervaar het. In vers 6 bely hy dat hy eintlik nie woorde het om die grootheid van God te beskryf nie.

 

In verse 7 – 9 hoor ons dat God net een ding van sy kinders vra, naamlik gehoorsaamheid. Dit wat die Here van ons vra is dat ons mekaar moet liefhê. Hy som sy wet met liefde op: Liefde vir God en liefde vir jou naaste.

 

Die Psalmdigter se hartsbegeerte is om die wil van God te doen en as jy vandag hier as kind van God saambid moet dit ook jou hartsbegeerte wees, want dis die belydenis van iemand wat God se genade in sy lewe ontdek het.

 

In verse 10 & 11 maak die Psalmdigter dit duidelik dat hy nie oor God se genade kan stilbly nie. Daarom is dit ook so belangrik dat ons vir mekaar van God se genade in ons lewens moet vertel sodat dit ook jou medegelowiges se geloof kan versterk. Verder dien dit as getuienis vir diegene wat God nie ken nie.

 

In verse 12 -18 kom ons by die hart van hierdie Psalm uit waar die Psalmdigter bid om verlossing. Omdat hy reeds God se genade ervaar het, het hy nou die vrymoedigheid om met sy nood na God toe te gaan.

 

In verse 12 – 13 vra die Psalmdigter dat die Here hom nie moet verstoot nie. Hy bely dat ramp op ramp hom oorval het en dat hyself 'n rol daarin gespeel het. Sy ongeregtighede het hom ingehaal en daarom verootmoedig hy homself voor God.

 

Om tot God te nader en sy genade te ervaar, is dit nodig om jouself voor God te verootmoedig. Om jou sonde teenoor Hom te bely, want dit is eers wanneer jy erken dat net God jou kan help dat jy tot God kan nader in nood. Elkeen van ons moet gaan nadink tot watter mate het ons God eenkant toe gestoot in ons lewens en dat ons, ons teenoor God moet verootmoedig en erken dat dit net Hy is wat ons kan help.

 

In verse 14-16 word die Psalmdigter se gebed nog dringender in sy noodkreet tot God. Ons hoor ook hoe hy die Here smeek om hom te verlos van die wat hom spot en dat hulle, hul eie elende moet raaksien. Die mense wat Christene so spot oor ons kerkgeboue wat nou weer mag oopmaak besef nie hoe groot hulle eintlike nood is nie omdat hulle God nie ken nie. Die mens se grootste nood is om van God vervreem te wees.

 

In verse 17 – 18 hoor ons dat die Psalmdigter diep onder die indruk is dat hy hulpeloos en arm is. Hy weet dat hulp en redding net van God af kan kom. Daarom sluit hy sy gebed af met die dringende oproep: “U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie!” en daarmee erken hy, dat hy net van God afhanklik is en dat dit net God is wat hom kan red.

 

Ons hoor in hierdie Psalm die belydenis van 'n verloste mens wat 'n kind van God is en wat sy genade ervaar het.

 

Wat sê Psalm 40 vandag vir ons wat midde in hierdie pandemie en al die gepaargaande chaos rondom dit staan?

 

Die Psalm herinner ons aan die geskiedenis van ons verlossing wat ons het. Dink na aan God se genade in jou lewe. Dit is net op grond van God se genade dat jy nou is waar jy is.

 

Daarom vra die Here ook vir ons met hierdie Psalm: Is jy dankbaar? Vertel jy vir ander van God se genade in jou lewe? Vertel jy vir ander wat Jesus se verlossing vir jou beteken? Is jy 'n positiewe invloed vir jou broers en suster in die gemeente en ook op die breër gemeenskap waarin God jou geplaas het? Is jy gehoorsaam aan God se liefdesgebod?

 

Dit sou liefdeloos wees om nie die volgende te sê nie: As jy nie 'n volgeling van Jesus Christus is nie, het hierdie psalm geen hoop en troos vir jou nie! Dit beteken nie dat jy in 'n hopelose situasie nie. Jy kan die hoop en troos van Psalm 40 jou eie maak deur in Jesus te glo as jou enigste Verlosser en Saligmaker.

 

Vir diegene van ons wat reeds God se verlossing in Jesus Christus ervaar het, herinner Psalm 40 jou daaraan dat jy Hom nodig het en dat dit net Hy is wat jou in jou donker oomblikke kan help.


Moenie wag nie. Neem jou toevlug tot God.

 

Abba! – Vader.

Amen

 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking