07 Junie 2020

Tema: - Moenie moed verloor nie

Datum: 7 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: 2 Kor. 4 v 7 - 18

Teksvers: 2 Kor. 4 v 17

 Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Facebook - Volledige erediens 2) YouTube - Preek alleen


Sing

Ps. 23-1 v 1 & 3

Ps. 20-1 v 1 & 4

Die lewe is vol moeilikhede. Dis een ding wat hierdie jaar sover net weereens beklemtoon het. Iemand het nou die dag gesê: “kan ons nie maar net 2020 se ‘reset’ knoppie druk sodat ons weer kan oor begin nie?” As ons net teen al ons probleme bly vaskyk, kan ons maklik moed verloor. Die Here gee vir ons vanoggend perspektief uit sy Woord om ons te help om nie moed te verloor nie.

Paulus gebruik hier 'n beeld uit die leefwêreld van Nuwe Testament. Die mense van destyds het kleipotte as alledaagse houers gebruik om goed in te bêre net soos wat ons deesdae gebruik maak van blikke of plastiese en glas houers. Net soos wat 'n glas houer sal breek as jy dit hard stamp of laat val, was die kleipotte ook maar breekbaar. Die beeld sluit ook iets kosbaars in wat binne in hierdie alledaagse kleipotte gebêre word.

Wat beteken hierdie beeld? Die skat is die kennis van die heerlikheid van God. Kennis van God se verlossingsplan in Jesus Christus om verlore mense weer met Hom te versoen. Elkeen wat glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het en dat jy die ewige lewe ontvang het omdat Jesus die dood oorwin het word 'n draer van hierdie skat.

Die kleipotte waarin hierdie skat is, is dan ook die gewone alledaagse feilbare mense wat in Jesus glo. Wanneer jy die evangelie as skat ontvang, ontvang daarmee saam ook die opdrag om daarmee uit te gaan en dit uit te deel. Dit is egter nie jy wat mense oortuig om in die evangelie te glo nie. Dit is God wat mense tot bekering bring. Die fokus is dus op die krag van die evangelie in mense se lewens.

Dan bevestig Paulus net weereens die waarheid dat die feit dat jy 'n Christin is nie beteken dat jy nie meer moeilikhede in hierdie wêreld gaan hê nie. Ons hoor nou wat dit beteken om 'n kleipot te wees wat die skat van die evangelie in hom dra. 2 Kor. 4 v 8 & 9:

In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Te midde van aanslae van die lewe sal jy deur die krag van God staande bly.

Wanneer jy 'n draer van hierdie skat is, deel jy in die lyding en sterwe van Jesus. En daardeur word die lewe van Jesus in jou sigbaar.

In ons teksverse gee die Here vir ons hoop sodat ons nie moedeloos moet word nie. Ons kry hier so 'n stukkie perspektief van God se groter ewige raadsplan. Ons kry swaar. Hierdie lewe is nie maklik nie. Ons moet baie uitdagings in die gesig staar.

Die verwysing in vers 16 na die uiterlike wat besig is om te vergaan is ons sterflike liggame (die kleipotte). Soos wat ons ouer word, gaan ons liggame agteruit totdat ons uiteindelik sterf. Die lewe is egter meer as net ons fisiese liggame. Die skat van die evangelie wat ons in ons dra gee vir ons die krag om deur dit te kom.

Die rede vir ons hoop vind ons in ons teksvers: 2 Kor. 4 v 17:

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

In ons teksvers vind ons drie teenoorgesteldes wat met 'n werkwoord aan mekaar verbind word.

Die eerste is: “Ons swaarkry in hierdie lewe.” Dit sê vir ons dat dit alle swaarkry insluit soos byvoorbeeld wanneer jou oë swakker word, jy sukkel om te hoor, die algemene agteruitgang wat met ouderdom gepaard gaan, siektes soos hartprobleme, kanker. Verder is dit ook duidelik dat dit verwys na ons totale lewensduur hier op aarde waar ons ly. Elkeen weet wat jou swaarkry is en vir dit gee die Here vandag vir ons troos.

Teenoor hierdie swaarkry is die belofte van die heerlikheid van God wat so mooi deur Openbaring 21 v 3 & 4 uitgespel word:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Die tweede is dat die swaarkry maar gering is. En die derde is dat dit verby gaan. Teenoor dit is die heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat vir ewig bly.

Dit klink amper verkeerd! Hoe kan 'n hele lewe se swaarkry gering wees? Binne God se ewigheids-perspektief is ons tyd op aarde byna niks. As jy 'n lyn moes trek wat van die eenkant van die heelal na die anderkant strek, dan is ons tyd hier op aarde kleiner as 'n potloodpunt merkie op daardie lyn.

Die Griekse werkwoord wat hierdie groep teenoorgesteldes aan mekaar bind, is in Afrikaans vertaal met “loop vir ons uit.” Die letterlike betekenis van hierdie woord is, produseer, veroorsaak, berei voor. Ons sou dit dus ook kon vertaal met voorberei.

Die tydelike swaarkry wat gering en verbygaande is, berei ons voor vir heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Die swaarkry berei ons voor sodat dit uitloop op die ewige heerlikheid.

In ons swaarkry deel ons in die lyding van Christus toe Hy hier op aarde was en hierdie tydelike swaarkry berei ons voor vir 'n ewige heerlikheid saam met God.

Wanneer jy midde in moeilike omstandighede staan, lyk die prentjie donker. God troos ons vandag met sy Woord en Hy sê vir jou: “Moenie moed verloor nie.” In vergelyking met die heerlikheid; waar jy ewig saam met God sal wees; is hierdie swaarkry gering wat net vir 'n kort tydjie duur.

Die troos wat die Here ook hiermee saam gee, is dat ons nie alleen staan in ons swaarkry in die lewe nie. Daar waar jy met soveel moeite teen jou siekte stoei is God saam met jou. Hy hou jou vas terwyl Hy jou voorberei vir die ewige heerlikheid wat wag. Ons het nou reeds 'n voorsmakie van dit wat veel beter sal wees as wat ons ooit kan dink of droom.

Geliefdes, jy is nie alleen in jou swaarkry nie. God is by jou en Hy loop die pad saam met jou.

Moenie moed verloor nie.

Amen

 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking