14 Junie 2020

Dood waar is jou oorwinning?

Datum: 14 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: 1 Kor. 15 v 50 - 58

Teksvers: 1 Kor. 50 v 55 - 57


Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Facebook - Volle erediens

2) YouTube - net die Preek

 Die dood is een van daardie dinge waaroor ons nie graag wil praat nie, maar tog is dit iets wat ons nie kan vermy nie. Al die oorloë, siektes, virusse, ongelukke in die wêreld kon dit nog nooit regkry om die totale dodetal van die mensdom te verhoog nie, want op een of ander stadium gaan elke mens wat gebore word dood.

 Die dood skeur geliefdes van mekaar af weg. Die dood ruk liggaam en siel; wat nie veronderstel is om geskei te word nie; uitmekaar. Die dood is afskuwelik, skrikwekkend, wreed en ongewoon. Dit is nie soos wat die lewe veronderstel is om te wees nie, en in ons hartseer in die aangesig van die dood, erken ons dit. Dood is ons grootste vyand en daarom probeer ons daarvan wegskram.

 Hoe maak mens sin van die dood? Want as jou dood nie sin maak nie, het jou lewe ook geen betekenis nie.

 Byna al die godsdienste in die wêreld glo in 'n lewe na die dood en in die algemeen verkondig hulle dat jy 'n goeie lewe moet ly om daarin te kan deel.

 

Die beeld van 'n balanseerskaal met sy twee bakke weerskante van die spilpunt word dikwels gebruik om dit uit te beeld. Jou goeie dade word aan die eenkant van die skaal geplaas en jou slegte dade aan die anderkant.

 En dan hou jy duim vas dat jou goeie dade meer as jou slegte dade gaan weeg. Dit verhoog die spanning rondom die dood nog net soveel meer, want jy kan nooit vir seker weet watter kant gaan die swaarste weeg nie.

 Aan die ander kant het ons die moderne Westerse materialistiese wêreldbeskouing wat glo dat God en die geestelike wêreld nie bestaan nie, dit wil sê hierdie materialistiese wêreld, naamlik dit wat jy fisies met jou sintuie kan waarneem, al is wat daar is. Die enigste werklikheid vir jou, is die tyd wat jy hier op aarde tussen jou geboorte en dood spandeer.

 Dit skep 'n hopeloosheid by mense, want as my hele bestaan eindig met my dood, maak dit nie saak wat ek gedurende my lewe doen nie. Op die uiteinde gaan jou lewe geen betekenis hê nie. Daarom jaag mense rykdom en die genietinge van hierdie wêreld so naarstigtelik na, sodat jy die kort tydjie wat jy hier op aarde het kan geniet. Die ironie is egter dat rykdom en die genietinge van hierdie wêreld op die uiteinde hol en leeg is.

 Dit is ook waarom mense so naarstigtelik die onmoontlikheid van onsterflikheid najaag. Waarom miljoene spandeer word om mense teen alle koste aan die lewe te hou lank verby die punt wat enigsins sin maak.

 Daarom is daar ook hierdie naarstigtelike soeke om sin te maak uit die lewe, om te probeer om die dood so lank as moontlik uit te stel. Die soeke om troos te vind in die gedagte dat die dood nie onnatuurlik is nie. Die gedagte dat jy maar net weer deel word van die groter geheel. Jy bestaan maar net uit die materie wat in die sterre ontstaan het en met jou dood gee jy dit weer terug.

 Die probleem met bogenoemde verduideliking is dat jy jou individualiteit, jou menswees verloor en daarom bied geeneen van bogenoemde redenasies enige troos nie. Mense se vrees vir die dood maak op die uiteinde dat hulle gevangenisse daarvan is. Die dood is inderdaad 'n gedugte vyand wat op die uiteinde nie gewen kan word nie.

 Dit is hoekom mense wegskram van die dood af. Waar kry jy troos en hoop vandaan wanneer jy met die dood gekonfronteer word? Op die uiteinde is dit net Christus wat vir jou ware hoop en troos gee wanneer jy met hierdie gedugte vyand, die dood gekonfronteer word.

 Paulus skryf in 1 Kor. 15 v 55:

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Paulus is nie hier ongevoelig oor die pyn en hartseer wat die dood meebring nie. Hy is besig om die spot te dryf met hierdie gedugte vyand, die dood.

Maar hoe op aarde kan Paulus dit waag om die spot te dryf met die mens se gedugste vyand, daardie vyand wat niemand kan oorwin nie? Net in die volgende verse gee hy die antwoord

(1 Kor. 15 v 56 & 57):

Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God, Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

 Die angel van die dood is jou gewete wat jou op grond van die wet aankla oor jou sonde en dit is wat hierdie angel die gif gee om jou dood te maak. Die wet van God gee aan die angel die gif om dood te maak. Gemeet aan die wet van God verdien elke mens die dood as straf.

 Christus se dood en opstanding maak die dood tot niet en ontneem die wet van sy krag om mense tot die dood te veroordeel. Die straf van die wet het Christus in jou plek getref en daarom het die vrees vir die dood geen mag oor jou nie.

 Kom ek verduidelik dit so. Jy staan langs die pad en jy kyk wes in die laat middag son in. Wanneer daar 'n voertuig verby ry val daardie voertuig se skaduwee op jou. Gestel nou 'n groot trok kom verby gery en sy skaduwee tref jou as te ware, dan kom jy niks oor nie want dit is net die skaduwee en nie die trok wat jou tref nie.

 Die angel van die dood is die sonde en die gif van daardie angel wat doodmaak het in Christus in gegaan. Daarom is dit net die skaduwee van die dood wat oor 'n Christin gaan wanneer sy liggaam sterf. Jy word nie deur die volle mag van die dood getref nie. Die mag van die dood het Christus in jou plek getref.

 Daarom het elkeen wat glo dat Jesus in sy plek gesterf het die mag om oor die dood te triomfeer selfs wanneer jy liggaamlik sterf. Dit is net die skaduwee van die dood wat oor jou gaan omdat Jesus die mag van die dood met sy opstanding gebreek het. Die vrees vir die dood het nie meer mag oor 'n Christin nie.

 Jy hoef nie bang te wees wanneer dit net die skaduwee van 'n trok is wat oor jou gaan nie. Net so hoef jy nie meer vir jou liggaamlike dood bang te wees nie.

 Die troos wat die Here hier vir ons gee, is dat jy na jou dood nie in 'n betekenislose nietigheid gaan verdwyn nie. Jy gaan nog steeds jy wees. Jou opstandingsliggaam sal in 'n sekere sin nog dieselfde wees. Daar gaan egter ook 'n verskil wees. Jou opgestane liggaam sal onverganklik wees terwyl dit ook met eer en krag beklee gaan wees.

 As jy in Jesus Christus glo hoef jy nie bang te wees vir die dood nie. Ons is hartseer wanneer ons geliefdes sterf, maar ons word getroos met die wete dat die liggaamlike dood nie die einde is nie. Dit is maar net 'n oorgang na 'n volgende hoofstuk in jou ewige lewe saam met God.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking