27 Januarie 2013

Die HERE hou ons vas, veral wanneer ons deur ’n vuuroond moet gaan


27 Jan. 2013 (RB)
Dan. 3 Teksverse Dan. 3:17-18
Sing    Lofsang: Ps. 31 v 1 & 3        (OAB)
           Na wet:    Ps. 103 v 2             (OAB)
           Na gebed                                Ps. 33 v 5 & 6  (OAB)
           Slotsang  Sb 14-2                  (Al sou die vyeboom nie bot nie)
Inleiding
Word u ook soms moedeloos oor die uitdagings wat ons in die gesig staar? Waar die kerk op ’n stadium ’n baie belangrike deel van die samelewing uitgemaak het, word die invloed van die kerk al hoe kleiner. Verlede jaar het die NG Kerk met ongeveer 4 gemeentes gekrimp en in ons eie kerkverband gaan dit nie veel beter nie. Op die platteland sukkel gemeentes om te oorleef en word dit deesdae as ’n luuksheid beskou om twee of drie gemeentes van verskillende denominasies op die klein dorpies te hê.

Verder is daar al hoe meer onrus wat in die land aan die broei is soos die geweldadige betogings in Sasolburg en ander Vrystaatse dorpe die afgelope week. Dink maar aan die geweld wat hoogty gevier het met staking van plaasarbeiders in die onlangse verlede. Op persoonlike vlak gaan dit nie veel beter nie. Dit raak deesdae ’n stryd om te oorleef met brandstofpryse en kragtariewe wat die hoogte inskiet om van kospryse nie eens te praat nie. Dan kom daar ook nog ander probleme wat baie van ons tref soos siektes, huwelike wat verbrokkel en nog vele meer. As ons so na ons samelewing van vandag kyk, dan moet ons erken dat dit maklik is om moedeloos te raak!

Daniel se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego, was ook in ’n situasie waar hulle maklik moedeloos kon word. Hulle was van die eerste ballinge wat in 605vC uit Jerusalem deur koning Nebukadneser van Babel weggevoer is. In hierdie verhaal van Daniel se drie vriende in Daniel 3 hoor ons hoe Koning Nebukadneser ’n groot beeld gemaak het wat met goud oorgetrek was. Hy het ’n wet uitgevaardig dat almal voor die beeld moet buig en dit aanbid. Daniel en sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego weier egter om te buig en die beeld te aanbid. Sadrag, Mesag en Abednego word by die koning verkla wat daartoe lei dat hulle in ’n baie warm vuuroond gegooi word. Sadrag, Mesag en Abednego kom egter niks oor nie! Saam met hulle is ’n engel wat hulle beskerm. So word hulle gered uit die vuur, hulle klere is nie eens gebrand en een van hulle ruik na rook nie.

In hierdie verhaal waar Daniel se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego voor die keuse te staan gekom het of hulle sou buig of nie voor die goue beeld wat koning Nebukadneser opgerig het, leer ons hoe God sy kinders beskerm in tye van krisis. Al wat Hy van ons verwag is getrouheid. Die wyse waarop ons te midde van beproewings leef dra dikwels ’n boodskap uit na ander sodat dit hulle oë kan open om God raak te sien. Die twee hoofsake wat in hierdie verhaal uitstaan is:
1) Vertrou op die HERE en
2) Soms moet ons in die vuuroond beland.

Vertrou op die HERE
Hierdie drie vriende van Daniel vertrou so sterk op God dat hulle God steeds vertrou al red Hy hulle nie uit die vuuroond nie, want hulle weet dat selfs die dood hulle nie van God se troue liefde kan skei nie. Hulle bly getrou aan die HERE selfs tot in die uiterste omstandighede. Aanvanklik was dit makliker, daar waar hulle as te ware tussen al die mense weggesteek was. Die koning kon hulle nie sien nie, maar toe hulle verkla is en hulle voor die koning verskyn bly hulle steeds getrou aan die HERE. Die koning bied hulle nog ’n kans om voor die beeld te buig. Hierdie keer is daar geen uitkomkans nie. As hulle nie buig nie, gaan hulle summier in die brandende vuuroond gegooi word!

Ten spyte van die doodsgevaar waarin hulle verkeer, bly hulle egter steeds op die HERE vertrou. Wanneer die koning ewe vermakerig vra: “watter god sal julle uit my mag kan red?” antwoord hulle
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Dit is maklik om as deel van ’n massa ons vertroue op die HERE te stel. Toe Daniel se drie vriende daar met die inwyding van die beeld as te ware tussen die massa versteek was buite die sig van die koning was die kanse goed dat hulle nie tot verantwoording geroep sou word nie. Die ware toets het gekom toe hulle voor die koning gestaan het. Hulle het vertrou dat die HERE hulle kon red uit die oond en uit die mag van die koning, maar hulle het ook rekening gehou daarmee dat die HERE dit dalk anders sou beskik. Selfs as die HERE hulle nie uit die oond gered het nie, het hulle nog steeds getrou gebly aan Hom.

Die ou duiwel gebruik vandag nog die strategie wat die koning gebruik het. Hy dreig dat verskriklike gevolge ons sal tref en dan vra hy ook ewe smalend “watter god sal julle uit my mag kan red?” Sy doel hiermee is dat ons die HERE moet wantrou. Dit was sy doel toe hy vir Eva gevra het “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Dit is nog steeds sy doel wanneer hy ons omstandighede aan ons voorhou. Wanneer hy vir ons wys dat ons gemeente klein en swak geword het met min vooruitsigte dat ons weer die gloriedae van ons verlede sal beleef toe ons vorige kerkgebou te klein geword het en ons hierdie kerkgebou moes bou sodat daar plek kan wees vir almal. Wanneer hy vir ons wys hoe die wêreld aan die brand gesteek word deur geweldadige betogings. Wanneer die gedagte by ons opkom dat daar nie meer ’n toekoms vir ons in hierdie land is nie. Die gedagte dat ons gemeente sy einde nader dan is dit of ons hoor “watter god sal julle uit my mag kan red?”

Wat is ons reaksie wanneer die ou duiwel vir ons vra “watter god sal julle uit my mag kan red?” Wat sal my reaksie wees wanneer die dokter vir my moet sê “ek is jammer, maar die kanker het versprei en daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie.” Wat sal my reaksie wees wanneer die ouderdom se greep al hoe sterker word en ek al hoe swakker word? Daniel se vriende het besef dat daar ’n moontlikheid is dat die HERE hulle nie uit daardie spesifieke omstandighede sou red nie en nog steeds het hulle in vertroue aan die HERE bly vashou.
Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.

Soms moet ons in die vuuroond beland
Daniel se drie vriende het geglo dat God kon keer dat hulle in die vuuroond beland, maar hulle het ook geweet dat God anders kon besluit. Oor die algemeen glo ons ook dat God kan keer dat slegte gebeure in ons lewens plaasvind. Soms laat Hy dit egter toe omdat Hy ’n groter doel daarmee het. Die HERE het toegelaat dat Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond gegooi word. Dit beteken egter nie dat Hy hulle in die steek gelaat het nie. Hy het ’n beskermengel gestuur om hulle teen die onheil te bewaar. Wanneer God toelaat dat slegte gebeure in ons lewens plaasvind dan laat Hy ons nie in die steek nie. Die satan wil graag hê dat ons moet glo dat ons God nie kan vertrou nie en dat Hy ons in steek laat. Dit is ’n leuen net soos alles wat die satan ons van wil oortuig leuens is. Moet hom nie glo nie!

God laat ons nooit in die steek nie en wanneer Hy toelaat dat moeilike omstandighede oor ons pad kom moet ons weet dat Hy dan besondere sorg aan die dag lê om ons daardeur te dra. God laat soms toe dat ons in die vuuroond beland omdat Hy ’n groter doel daarmee het wat ons nie altyd kan raaksien nie. Sadrag, Mesag en Abednego het in die vuuroond beland sodat die HERE dit kon gebruik om die Jode wat later in ballingskap weggevoer is te bemoedig. Later toe die Jode moes toekyk hoe hulle tempel deur Antioges van IV Epifanes ontheilig is, gebruik die HERE die ballingskapverhaal van Daniel en sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego om hulle te bemoedig. Hy gebruik vandag nog hierdie gebeure om ons te bemoedig dat Hy met ons sal wees te midde van moeilike omstandighede.

Hoe weet ons dat ons net soos Daniel se vriende op die HERE kan vertrou en dat ons nie die satan se leuen moet glo dat God nie betroubaar is nie? God self oortuig ons daarvan. Hy het mens geword om ons van die sondegreep van die satan te verlos. Toe die duiwel Hom in die woestyn versoek het, het Hy nie toegegee nie. Die duiwel wou Hom oortuig Hy die maklike pad kon vat en die smarte van die kruis kon vryspring. Jesus het egter geweet dat Hy deur die vuuroond van die kruis moes gaan en daarom antwoord Hy die duiwel soos ons hoor in Mat 4:11:
“Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Toe Hy egter deur die vuuroond gegaan het was Hy alleen. Daar was niemand wat Hom kon dra nie. Hy is nie ongeskonde uit die oond gered nie. Sy liggaam is gebreek en sy bloed is uitgestort sodat ons nie die smarte van die ewige verdoemenis hoef te dra nie. Ons weet ons kan die HERE vertrou omdat die Heilige Gees ons oortuig dat Jesus ons verlos het van die ewige verdoemenis en daarom kan ons ook soos Daniel se vriende die duiwel antwoord wanneer hy ons vra “watter god sal julle uit my mag kan red?” Dan kan ons met vertroue antwoord:
Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Die wyse waarop ons te midde van beproewings leef dra dikwels ’n boodskap uit na ander sodat dit hulle oë kan open om God raak te sien. Waar koning Nebukadneser voorheen smalend gevra het “watter god sal julle uit my mag kan red?” erken hy nou “daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.”

Slot
Die ou duiwel probeer ons oortuig dat ons die HERE nie kan vertrou nie en dan wys hy ons al die slegte omstandighede wat ons in die gesig staar. Dan vra hy ewe smalend “watter god sal julle uit my mag kan red?”

Die HERE kan ons red van die vuuroonde in die lewe, maar soms is dit nodig dat ons deur ’n vuuroond van die lewe moet gaan. Wanneer dit gebeur verwag God getrouheid van ons. Dan moet ons weet dat ons die HERE kan vertrou omdat Jesus ter wille van ons alleen deur die vuuroond van die kruis gegaan het. Daarom kan ons weet dat wanneer ons in ’n vuuroond beland die Here ’n doel daarmee het en dat ons Hom kan vertrou omdat niks ons van sy liefde kan skei nie, selfs nie eens die dood nie! Daarom geliefdes, wanneer ons voor die vuuroond van die lewe staan, vertrou die HERE dat Hy ons sal vashou, selfs wanneer ons deur ’n vuuroond moet gaan. Vertrou op die HERE, selfs al moet ons in die vuuroond beland.
Amen

07 Januarie 2013

As die HERE nie saamgaan nie, durf ons nie 2013 aanpak nie!


6 Jan. 2013 (RB)
Eks. 33 Teksvers Eks. 33:15
Sing    Lofsang:  Ps. 8 v 1 & 4          (OAB)
           Na wet:     Ps. 119 v 11          (OAB)
           Na gebed Ps. 116 v 1 & 7     (OAB)
           Slotsang   Ps. 32 v 1 & 3       (OAB)

Hier aan die begin van 2013 lê die hele jaar nog voor ons uitgestrek. In ons beplanning vir die jaar wat voorlê moet ons onself afvra: “Is die teenwoordigheid van die HERE deel van ons beplanning vir die jaar wat voorlê of nie?”

Israel was ook op reis na die beloofde land en hulle het voor die harde werklikheid te staan gekom dat die HERE nie die reis sou meemaak nie as gevolg van hulle moedswillige eiewilligheid om hulle eie kop te volg soos ons hoor in Eks.33:3:
Julle is so ’n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.

In Eks 32 hoor ons hoe die volk in weerwil van die HERE se opdrag eiewillig ’n goue kalf gemaak het om te aanbid. Die HERE kan nie in ’n beeld vasgevang word nie, maar nogtans wou hulle ’n sigbare beeld hê wanneer hulle aanbid. Nou staan hulle voor die verskriklike werklikheid dat hulle sonder die HERE verder moet trek na die beloofde land toe! Selfs in hierdie aankondiging van die HERE skyn sy genade soos ’n helder lig op ’n donker aand. Die HERE wil nie saamtrek nie want die volk se sonde sal sorg dat hulle verdelg word. Hierin sien ons ook die karakter van God duidelik raak. Hy is regverdig en genadig. Hy is regverdig en daarom moet Hy die sonde straf. Hy is genadig omdat Hy sy volk verlos van hulle sondes.

Dit is juis hierdie aspek wat in vandag se tyd baie onpopulêr is. Die mensdom wil nie hoor van ’n regverdige God nie, dit wil sê hulle wil nie hoor van God se oordeel oor die sonde nie. Hulle wil net hoor van ’n liefdevolle, genadige God en maak enige sprake van God wat sonde straf as veroordelend af. Die ironie van die saak is egter dat as God nie regverdig is nie, is daar GEEN genade nie! God is heilig, dit wil sê sonder sonde en daarom moet die sonde uitgedelg word. As God sonde verdra het deur dit nie te straf nie en maar net te verskoon, dan sou ons vir ewig in sondige gebroke wêreld moes leef.

Dit is op hierdie punt waar die volk met ’n groot dilemma sit. Hulle kan nie sonder God die beloofde land intrek nie, maar as gevolg van hulle sonde staar vernietiging hulle in die gesig as God wel saamgaan. Sonde het ’n geweldige effek op ons en dit dra verskriklike gevolge. Die volk moet God se teenwoordigheid ontbeer. Sonde bring verwydering tussen die mens en God en eindig in die dood soos uitgebeeld word deur die 3000 Israeliete wat gesterf het op daardie dag (vgl. Eks. 32:28). Die straf vir sonde is die ewige dood waar die mens ewig verwyder word uit die teenwoordigheid van God.

Moses besef hierdie dilemma van die volk en daarom tree hy namens die volk in by God. Hy is selfs bereid om in hulle plek die straf vir die sonde te dra soos ons hoor in Eks. 32:31-32:
Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”
Moses pleit by God en hy rig self buite die laer ’n tent van ontmoeting op waar hy vir die volk kan intree by God. Die HERE luister na Moses daarom vra Hy vir Moses “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” soos ons hoor in Eks 33:14

Is die dilemma van die volk nie maar ook ons dilemma nie? Ons durf nie 2013 binnegaan sonder God nie, maar as gevolg van ons sonde sal die teenwoordigheid van God ons vernietig! Moses het vir die volk ingetree by God en daarmee het hy na Jesus Christus heengewys. Moses kon nie die finale prys betaal soos wat hy bereid was om te doen nie, omdat hy ook maar net ’n sondige mens was. Sy bereidwilligheid om die prys vir sonde te betaal wys heen na Christus wat die volle prys betaal het. vgl. Joh. 10:17 – 18:
“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Christus het die finale prys betaal sodat daar versoening tussen God en die Israeliete kon wees sodat hulle saam met God kon trek na die beloofde land toe en dat Hy saam met hulle in die beloofde land was. Christus het ook die prys betaal sodat ons weer met God versoen kon word.

Wat beteken dit om weer met God versoen te wees? Moses se begeerte om die heerlikheid van God te aanskou wys vir ons wat dit beteken. Hy stel nie belang in die gawes of voordele wat dit sal inhou as God saam met die volk trek nie. Sy begeerte is om in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Wanneer mens die teenwoordigheid van God geniet dan geniet mens outomaties die gawes van God, maar die gawes is nie die hoofsaak waaroor dit gaan nie.

As ons 2013 aanpak saam met God moet ons dit nie om die verkeerde redes doen nie. As ons hoofverwagting is dat ons 2013 wil deurmaak saam met God omdat ons verwag dat Hy al die struikelblokke uit die weg moet ruim en vir die voordele wat dit sal inhou doen ons dit vir die verkeerde redes! Dan wil ons God eintlik net gebruik vir ons eie selfsugtige behoeftes. Die doel moet wees om 2013 deur te gaan saam met die mees wonderlike Wese wat daar is omdat Hy ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, is!

Hoe gaan ons 2013 saam met God in? Deur in geloof vas te hou aan die soenoffer van Jesus Christus wat ons voorspraak by God is. Kom ons soek God se teenwoordigheid in alles wat ons in 2013 aanpak. Laat ons leuse vir 2013 wees “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie”, want as die HERE nie saamgaan nie, durf ons nie 2013 aanpak nie!
Amen

Geloof gee aan ons verlede betekenis en hoop vir die toekoms


30 Des. 2012 (RB)
2 Tim. 4 v 6 – 18 Teksverse 2 Tim. 4 v 7 & 8a
Sing    Lofsang:    Ps. 9 v 1 & 7          (OAB)
           Na wet:       Ps. 38 v 1               (OAB)
           Na gebed   Ps. 20 v 1               (OAB)
           Slotsang     Ps. 23 v 1 & 2        (OAB)

Inleiding
Hier teen die einde van die jaar kyk ons terug na die jaar wat verby is en ons kyk ook vorentoe na die jaar wat vir ons voorlê. In hierdie tweede brief wat Paulus aan Timoteus skryf om hom uit sy dodesel te bemoedig kyk hy ook terug oor sy lewe en kyk hy vorentoe vir dit wat vir hom voorlê. Hiermee wil Paulus dan vir Timoteus bemoedig vir die pad wat voorlê en gee die Here aan ons ook perspektief wanneer ons vorentoe kyk vir dit wat vir ons voorlê.

Uit ons teksverse is daar twee aspekte waarop ons gaan fokus, naamlik:
’n Terugblik op die verlede en ’n vorentoe blik oor hoe om die toekoms te benader.

’n Terugblik op die jaar wat verby is
In ons teksgedeelte hoor ons die afskeidsgroet van Paulus kort voor sy teregstelling. Dit is ’n aangrypende openbaring van triomf van die genade in die lewe van die kind van God. Ons kan dit inderdaad as ’n oorwinningslied uit die dodesel beskryf. Paulus is vir ’n tweede keer in die tronk en hierdie keer is daar nie hoop dat hy vrygelaat gaan word nie soos in 2 Tim 4:6 hoor:
Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.

Die beeld wat hier gebruik word is ’n beeld uit die offervoorskrifte van die Ou Testament. Die drankoffer is die laaste deel van die hele offerproses. Met hierdie beeld verduidelik Paulus dat mens se hele lewe aan die Here gewy moet word, veral die laaste deel van jou lewe. In die kerk van die Here tree mens nie af nie, maar moet jy enduit volhou soos wat ons dan ook in 2 Tim 4:7 hoor:
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

Paulus gebruik hier ’n beeld waarin hy sy lewenspad met ’n wedloop vergelyk. Uit dit wat Paulus hier sê is dit duidelik dat hierdie wedloop nie maklik was nie. As ons terugkyk na die lewenspad wat ons die afgelope jaar geloop het is ek seker dat elkeen van ons sal kan getuig dat dit beslis nie maklik was nie. Dit is veral die geloofswedloop wat soms bitter moeilik was. Hoeveel keer het ons nie geval wanneer versoekings oor ons pad gekom het nie? Elkeen van ons weet waar die swakplek in ons geloofsmondering is. Een van die groot struikelblokke is dat ons nie altyd vertrou dat God ons sal dra nie. Het dit nie ook maar telkemale die afgelope jaar gebeur nie?

Uit Paulus se getuienis is dit duidelik dat hy die wedloop nie in eie krag voltooi het nie. Hy het die wenstreep bereik omdat hy deur sy geloof gedra is. As ons so terugkyk dan kan ons ook maar net getuig dat God ons deur die genade van geloof gedra het. As ons na die laagtepunte, daardie benoude tye van die afgelope jaar kyk, dan is een ding duidelik, God het ons gedra! Daardie keer toe ek nie meer kans gesien het nie, het God my gedra. Daarom is ek nou hier.

Dit is egter ook belangrik dat ons moet raaksien hoe God ons deur die goeie tye die afgelope jaar gedra het. Ons moet sy seënende hand raaksien in ons lewens. Wanneer Paulus sê dat hy die goeie stryd gestry het en die wedloop voltooi het, bedoel hy dat hy enduit die Here se genade in sy lewe raakgesien het en dat hy enduit op die Here vertrou het om hom te dra in sy roeping waarvoor die Here hom geroep het.

Wanneer ons terugkyk oor die afgelope jaar dan sien ons hoe die Here ons deur die goeie en swaar tye gedra het.

Kyk vooruit na die toekoms
Met die nuwe jaar wat hier vlak voor ons lê kyk ons ook vooruit na die toekoms. Wanneer Paulus vorentoe kyk dan sien hy dat die oorwinnaarskroon , dit wil sê die lewe by God op hom wag. Hierdie oorwinnaarskroon is ’n uitbreiding op die wedloopbeeld wat hy gebruik. By die atletiekbyeenkomste van destyds is ’n lourierkrans aan die wenners oorhandig. Dit het dan ook die draer van die lourierkrans sekere voordele gegee soos eerbewyse, gratis etes en uitnodigings na vername persone se huise.

So word die oorwinnaarskroon hier dan ook as ’n beeld gebruik om die ewige lewe saam met God aan te dui. Die heerlikheid van die ewige lewe, waar die gelowige verlos word van die gevolge van die sondige wêreld is die finale fase hiervan. Die wonderlike troos is dat die ewige lewe nou reeds begin deurdat ons deur ons geloof kan vashou aan God se genade ook in hierdie lewe totdat ons Here Jesus Christus weer kom op die wolke soos Hy beloof het. Wanneer ons terugkyk dan sien ons dat God ons gedra het en dit is deel van die ewige lewe saam met God. Dit is wat vir ons hoop gee wanneer ons vorentoe kyk vir die jaar wat voorlê.

Die wonderlike troos is dat hierdie oorwinnaarskroon vir my ook bedoel is soos ons 2 Tim. 4:8 hoor:
Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.
Die sleutel om hierdie oorwinnaarskroon te ontvang is geloof. Paulus het gelowig end-uit volgehou om te vertrou op die Here. Dis my geloof wat vir my hoop gee vir die toekoms, my geloof in Jesus Christus, dat Hy vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy vir my die lewe gee met sy oorwinning van die dood. Geloof dat ek op grond daarvan die oorwinnaarskroon van die ewige lewe kry. Geloof dat God my sal dra deur die jaar wat voorlê.

Wat beteken die oorwinnaarskroon van die ewige lewe vir my? Paulus was in die tronk met die sekere wete dat sy dood ophande was. Die laksman kan enige oomblik kom om die doodsvonnis te voltrek. Ten spyte daarvan dat ons nie in die tronk sit met ’n doodsvonnis wat oor ons koppe hang nie is ons in ’n sekere sin in dieselfde situasie as wat Paulus was. Nie een van ons weet wat die dag van more vir ons inhou nie. Tog het Paulus nie in sak en as gesit nie. Hy het nog steeds vir die toekoms beplan sodat hy elke oomblik wat hy op aarde was voluit kon leef.

Omdat hy weet dat God met hom is en hom dra gaan hy steeds aan met die lewe. Hy hanteer die krisis van Demas se vertrek en reël dat die werk deur medewerkers voortgaan soos ons hoor in die gedeelte van vers 9 tot 18. Ten spyte daarvan dat ons nie weet wat die komende jaar vir ons inhou nie, kan ons steeds volgens die beginsels wat hier gegee word gereed maak daarvoor. Ons moet end-uit voluit werk. Ons moet sorg dat die werk van die Here, dit wil sê die uitbouing van sy Koninkryk voortgaan.

Die opmerkings wat Paulus oor sy teenstanders en diegene wat hom in die steek gelaat het maak, leer ons dat ons die vergelding aan God moet oorlaat. Daar waar mense in die jaar wat voorlê vir ons ’n struikelblok gaan wees, moet ons nie wraak neem nie, maar die oordeel aan God oorlaat. Die oorwinnaarskroon van die ewige lewe stel ons in staat om Paulus se belydenis in 2 Tim. 4:18 ons eie te maak:
Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid!
Ons moet weet dat God se beskerming baie wyer strek as net die beskerming teen fisiese gevaar. Daar waar die Here fisieke gevaar in ons lewens toelaat moet ons vertrou dat Hy steeds in beheer is met die wete dat Hy ons geestelike redding en veilige aankoms in die hemelse koninkryk verseker .Ons moet met geloof vashou aan sy belofte dat niks ons van sy ewige liefde sal skei nie. Wanneer ons aan die jaar wat voorlê dink, kan ons verseker weet dat God ons sal dra vir die jaar wat voorlê.

Slot
Deur ons geloof weet ons dat God ons in die verlede deur goeie en slegte tye gedra het. Alhoewel ons nie weet wat in die toekoms vir ons wag nie, kan ons weet dat die Here ons sal dra sodat ons end-uit kan volhou. Ons geloof gee aan ons die vaste vertroue dat God ons deur die onsekerhede van die jaar wat voorlê sal dra en dat niks ons van sy liefde sal kan skei nie.

Geliefdes kom ons pak die jaar wat voorlê in geloof aan sodat ons aan die einde daarvan ook kan sê:
Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.  Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.
Amen