21 Januarie 2018

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei – Ondankbaarheid


Luk. 17 v 11 tot 19 teksverse Luk 17 v 17 & 19

21 Jan 2018 GKE

Wanneer dink jy aan jou noodwiel? Net wanneer jy dit nodig het. In jou dag tot dag lewe is jou noodwiel nie juis iets wat voor in jou gedagtes is nie. Jy is wel bewus dat daar een in jou motor is, maar verder dink jy nie aktief daaraan nie. Wanneer jy egter in ’n krisis is met ’n pap band wat keer dat jy verder kan ry onthou jy baie gou van jou noodwiel.

Hoe dikwels gebruik ons God nie ook maar net soos ’n noodwiel nie? Solank dit goed gaan in my lewe is ek so besig dat ek nie regtig by God uitkom nie. My lewe is so besig dat ek selfs nie eers tyd het om op ’n Sondag saam met my broers en susters na Hom kan kom luister nie.

Wanneer daar egter ’n krisis oor my pad kom, dan onthou ek baie gou van God en is ek vinnig om in gebed tot Hom te nader. Die hoofsaak van hierdie gebed is dan ook :”Here vat tog asseblief hierdie moeilikheid uit my pad uit.” Wat is my reaksie wanneer Jesus die klip uit my pad rol? Is dit dankbaarheid of is dit dat ek maar net weer my noodwiel bere tot ’n volgende krisis oor my pad kom?

In hierdie verhaal leer ons hoe dankbaarheid ons nader aan God bring. Ons leer dat dankbaarheid ons help om in geloof te groei.

Ons hoor hier die verhaal van tien mans wat melaats was. Melaatsheid was ’n verskriklike siekte wat jou vel en jou senuwee stelsel aangetas het. In die gevorderde fase van die siekte het jy van jou ledemate begin verloor en begin blind word.

Wat hierdie siekte ook baie erg gemaak het was nie net die fisiese gevolge daarvan nie, maar ook dat dit jou sosiaal geïsoleer het. Volgens Moses se wet (Num 5 v 2 – 3 ; Lev 13: 45 – 46) moes jy jouself afsonder en mag jy nie naby iemand gekom het wat gesond was nie. As iemand nader gekom het moes jy daardie persoon waarsku deur hard te skree “onrein, onrein.”

Dit was hoekom hierdie mans op ’n afstand gebly het en geroep het. Hulle was inderdaad midde in ’n groot krisis en daarom het hulle gevra dat Jesus Hom oor hulle moes ontferm.

Jesus weet wat hulle behoefte is en daarom stuur Hy hulle sonder omhaal van woorde na die priester wat volgens Moses se opdragte in Levitikus 13 en 14 die enigste instansie was wat sulke mense weer rein kon verklaar en dan hoor ons dat ’n wonder plaasgevind het deurdat hulle op pad na die priester genees is.

In hierdie verhaal is daar nie baie detail oor die wonder self nie, want die hoofsaak is nie die wondergenesing opsigself nie. Die hoofsaak is die mans se reaksie op die weldaad wat Jesus vir hulle gedoen het. Ons hoor dat daar net een van die tien mans terug gedraai het en God geloof het en vir Jesus kom dankie sê het. Bowendien was hy nie eers ’n Jood nie, maar ’n Samaritaan! Die Jode was die uitverkore volk, maar hier sien ons dat God se genade vir alle mense bedoel is.

Die feit dat hy omgedraai het om Jesus te dank wys vir ons dat Jesus se wonders tekens is dat Hy God is en dat die man dit erken het deur om te draai. Hy loof God en sê vir Jesus dankie en dit bind hom persoonlik aan Jesus. Dit is juis sy dankbaarheid wat hom nader aan Jesus bring. Hy bind homself nie net aan Jesus omdat hy gesond geword het nie, maar ook omdat hy in Jesus iemand sien wat meer as net ’n blote wonderdoener is. Hy sien Jesus nie net as ’n spaarwiel nie.

In Jesus se reaksie sien ons dat daar ’n verskil is tussen die nege ondankbares en die dankbare man se eindbestemming. Die nege wat nie omgedraai het nie is wel ook genees, maar hulle kom nie by die dieper band met Jesus uit nie. Vir hulle was Jesus maar net ’n noodwiel.

Ons hoor so ’n stukkie hartseer in Jesus se vraag: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?” Dit is hartseer wanneer mens die nabyheid van God ontbeer. Hulle ondankbaarheid was nie die oorsaak dat hulle nie ’n band met Jesus opgebou het nie. Dit was maar slegs ’n simptoom van ’n dieper liggende probleem.

Jesus se antwoord aan die een wat omgedraai het wys vir ons dat ongeloof die oorsaak van hulle ondankbaarheid was. Jesus sê nie vir hom jou geloof het jou gesond gemaak nie. Ons geloof is nie die oorsaak van God se genade nie. God gee sy genade onverdiend uit sonder dat jy iets moet doen om dit te ontvang.

Jesus se antwoord was: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.” Jesus sien die dieper nood raak wat by hierdie man teenwoordig was. Hy het nie net nodig gehad om gesond gemaak te word nie, maar ook dat hy gered moes word. Sy dankbaarheid was maar net die gevolg. Sy geloof het gemaak dat hy dankbaar was.

Geliefdes, jou dankbaarheid is een van die maatstawwe wat jy kan gebruik om te meet of jy in geloof gegroei het. Het jy sedert Januarie 2017 in jou verhouding nader aan God beweeg? Hoe lyk jou dankbaarheid teenoor God? Gee jy aan God die eer vir alles wat jy in die lewe het? Gee jy aan God die eer dat Hy jou deur daardie krisis wat oor jou pad gekom het gedra het? Of het jy God maar net as ’n noodwiel gebruik en Hom weer weggebêre totdat die volgende krisis oor jou pad kom?

Hoe lyk jou gebede? Is dit wat jy vra baie meer en meer prominent as dit waarvoor jy dankie sê? In die Onse Vader is daar maar net een sinnetjie wat vra dat God in ons daaglikse behoeftes moet voorsien. Waarvoor het jy die afgelope week vir God dankie gesê?

Wat maak jy wanneer jy agterkom dat jy God maar eintlik net vir ’n noodwiel gebruik het?

Die antwoord is nie dat jy jou dankbaarheids-sokkies moet optrek nie!

Beweeg in geloof nader aan God. Beleef die wonder van die evangelie in jou lewe en jy sal vind dat jy groei in jou dankbaarheid teenoor God. Geloof maak jou bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe en dan sal jy Hom dank vir dit wat Hy in jou lewe doen. Werk aan jou verhouding met God. Luister na sy stem in sy Woord. Spandeer tyd saam met Hom in gebed waar jy jou verwonder oor God se genade in jou lewe. Groei in geloof.

Amen










14 Januarie 2018

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei – Verkeerde verwagtings en wanvoorstelling van God se beloftes.

Jer. 29 teksvers Jer. 29 v 11
14 Jan 2018 GKE

Sing
Ps. 31-7 v 1 & 3
Ps. 103-1 v 1 & 2
Ps. 33-1 v 5 & 11
Ps. 33-1 v 1 & 2






Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!

Dit is een van die bekende Bybelverse wat mense lief is om aan te haal. Wat beteken dit vir u? Hierdie is een van daai Bybelverse waaraan mense maklik ’n verkeerde betekenis aan kan koppel deur dit buite konteks te gebruik. Buite konteks beteken om ’n vers in isolasie te sien sonder om in ag te neem wat voor of na dit geskryf is en ook om die breër konteks van die Bybel in geheel te ignoreer.

Byvoorbeeld, daar is ’n koerant plakkaat op ’n lamppaal met die woorde: “Die Haaie het die Bulle gevreet!” Wat beteken dit? As ons net na die woorde in isolasie kyk kan ons dalk aflei dat daar ’n klomp beeste in die see gaan swem het en ongelukkig het daar ’n skool haaie verbygekom. Kom ons voeg bietjie konteks by. In Suid-Afrika is daar rugbyspanne wat dierename het (Die breër konteks). Verdere konteks, die opskrif verwys na ’n berig in die sportblaaie in die koerant en daar was wedstryde waarin die verskillende rugbyspanne met dierename teen mekaar meegeding het.

As enige boodskap buite konteks gesien word, dan mis jy die ware betekenis daarvan. Net so met die Bybel. As jy Bybelversies buite konteks gebruik, vervlak jy die Bybel en mis jy die diepere betekenis daarvan. Verder mis jy ook die geleentheid om God werklik te leer ken soos Hy Homself in sy Woord aan ons openbaar. Die doel van geloofsgroei is om God al hoe beter te leer ken en daarom is dit belangrik om erns met die Bybel te maak en nie Bybelversies buite konteks te lees nie.

Wat beteken Jer 29 v 11 nie? As jy die vers buite konteks lees kan jy maklik by die verkeerde betekenis uitkom dat as ek net selfvertroue het en my hart volg sal God my uitermate seën, want Hy wil keer dat daar enige moeilikheid oor my pad kom. Hy wil hê dat ek baie ryk moet wees en dat ek daai blink nuwe sportmotor moet besit. Dit staan mos hier in die Bybel!

Nou weet elkeen van ons uit dure ondervinding dat die lewe nie net maklik is nie. Daar kom swaarkry dae. Daar kom hartseer dae. Daar is tye wanneer die lewe bitter moeilik is. Die meeste van ons word nie skatryk nie.

Kan u insien hoe ’n verkeerde lees van die Bybel u verder van God af neem eerder as nader aan God. As u die verkeerde betekenis van bv. Jer 29 v 11 glo en die werklikheid van die lewe dop jou onderstebo, dan is die logiese gevolgtrekking. God gee nie om nie. Dan begin jy God eerder wantrou as wat jy Hom vertrou. En so beweeg jy al hoe verder van God af weg.

Wat beteken Jer. 29 v 11 werklik? Wat is die konteks waarbinne hierdie vers na ons toe kom? Die boek Jeremia gaan oor hoe God mense se planne ontwrig en hulle drome omdop. Die agtergrond is dat die Jode in Ballingskap na Babel weggevoer is. Die vers kom binne die konteks van ’n skokkende boodskap van die profeet.

Die mense wat in Jerusalem na die Ballingskap agtergebly het, het gedink dat hulle huidige voorspoed ’n teken is dat God aan hulle kant is, terwyl Hy teen diegene is wat weggevoer is. Diegene wat in Ballingskap is mag dink dat God hulle eenkant toe gestoot het en dat Hy nie omgee nie.

Die boodskap wat die profeet hier stuur is nie goeie nuus vir enige van die twee groepe nie. God se oordeel word aangekondig oor diegene wat in Jerusalem agtergebly het, terwyl God sy doelwitte sal bereik deur die lewens van die mense wat in Ballingskap is. Hulle hoor egter die harde werklikheid dat hulle nie binnekort uit Ballingskap sal terugkeer nie. Die huidige generasie gaan hulle hele lewe in Ballingskap deurbring.

Hoe is Jer. 29 v 11 dan van toepassing op ons lewens? Ons moet in ag neem dat die vers binne die konteks van die boek Jeremia en die pad wat God met Israel gestap het, is. Verder ook dat dit gelees moet word binne die konteks van God se doel in Jesus Christus. All die beloftes van God vind hulle “ja” in Jesus Christus soos ons hoor in 2 Kor. 1 v 19 & 20.  As jy in Jesus Christus glo, dan het al die oordele wat die profete aangekondig het op die kruis neergekom waar jy weer met Christus versoen is. As jy met Christus verenig is, dan is al die beloftes wat God aan Abraham en sy nageslag gemaak het ook op jou van toepassing soos ons in Gal. 3 v 14 tot 29 hoor.

Deur Jeremia sê God vir die bannelinge dat hulle verstrooiing nie toevallig was nie. Dit is alles deel van God se groter raadsplan, selfs dit wat op die oogaf problematies en chaoties lyk. Hulle hoor ook dat binne die raadsplan van God dat hul ballingskap nie permanent is nie, maar dat Hy bepaal wat die tydsraamwerk daarvan is. Dit alles is gegrond op God se belofte aan Abraham wat vooruitgekyk het na die belofte van `n Seun uit sy nageslag, ons Here Jesus Christus soos ons hoor in Rom. 4. Ons kyk terug en sien hoe God getrou was in sy belofte met die koms van Jesus Christus.

God sê vir ons dat elkeen wat in Christus is, vreemdelinge en bywoners is in hierdie wêreld soos ons hoor in Heb. 11v3 en 1 Pet. 2v11. Ons kry swaar, ons bloei en gaan selfs dood en deur dit alles kan ons beproef word om te dink dat God ons eenkant toe gegooi het. Dit is nie waar nie want die Evangelie verseker jou dat God ’n plan het vir jou lewe. Dit is ’n plan van voorspoed en nie van teenspoed nie. Deur dit alles word jy gevorm na die beeld van Christus deur te deel in sy lyding. God se plan vir jou lewe is om al hoe nader aan Hom te leef. Sy plan is dat jy Hom werklik moet leer ken. Jy moet sy liefde leer ken en jy moet sy liefde uitleef. Die uiteindelike doel vir jou is om ’n oorwinnaar te wees en nie ’n slagoffer nie. God se plan vir jou is om ’n mede erfgenaam saam met die Koning te wees soos ons hoor in Rom. 8 v 12 – 39.

Hoe kan jy verseker wees van dit? Net soos die bannelinge van ouds kan jy weet, nie deur na jou huidige omstandighede te kyk nie, maar om vas te hou aan God se Woord en sy verbondsbeloftes. Dit mag wees dat jou lewe anders verloop as wat jy beplan en dat jou drome nie waar word nie. Dit mag wees dat jy ly en dat jy selfs jou lewe verloor, maar die belofte staan dat God wat Jesus uit die dood laat verrys het, jou ook saam met Hom uit die dood lewendig sal maak.

Geld Jer. 29 v 11 vir jou? As jy in Jesus Christus glo kan jy verseker weet dat die belofte ook vir jou is. Moenie die belofte van Jer. 29 v 11 vervlak tot ’n oppervlakkige hier en nou van aardse rykdom  nie. Dit mag beteken dat jy op die kort termyn moet swaarkry net soos die bannelinge vir eers in Babel moes agterbly, maar vir die lang termyn is jou toekoms verseker saam met Christus. Dit is 'n toekoms vir jou welsyn, en nie vir die kwaad nie; 'n toekoms van hoop, nie van wanhoop nie. ’n Toekoms waar jy saam met God die lewe aandurf. ’n Toekoms waar God jou vrede bepaal en nie jou omstandighede nie. Hou vas aan die ware betekenis van God se belofte in Jer. 29 v 11.

Amen








12 Januarie 2018

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei – Hoekom is daar lyding en boosheid in die wêreld?

1 Pet. 1 v 3 tot 9 teksverse 1 Pet. 1 v 6 & 7a
7 Jan 2018 GKE

Iets wat nie groei nie, is besig om dood te gaan. So is dit ook met jou verhouding met God. As daar nie geloofsgroei is nie, is jou verhouding met God besig om agteruit te gaan. Wanneer ons praat van geloofsgroei dan beteken dit eenvoudig om God beter te leer ken om sodoende nader aan God te beweeg.

Een van die struikelblokke op die pad van geloofsgroei is die moeilike vraag hoekom is daar soveel lyding en boosheid in die wêreld teenwoordig?Hoe kan ’n liefdevolle God toelaat dat daar soveel lyding in die wêreld is? Waarom laat Hy toe dat ouers ’n onskuldige driejarige kind so verwaarloos en mishandel dat sy doodgaan? Waarom laat God toe dat ’n natuurramp duisende mense se dood veroorsaak? Hoekom keer God nie daardie selfmoord bomaanvaller wat onskuldige mense met sy aanval teiken? Hoekom laat God toe dat ek deur ’n ongeneeslike siekte afgetakel word? Hoekom laat God toe dat my geliefde stelselmatig deur so ’n verskriklike Altsheimers siekte stelselmatig vernietig word?

Vir sommige mense is dit so ’n groot struikelblok dat hulle heeltemal wegdraai van God af. As God liefdevol is, sal Hy nie wil hê dat onskuldige mense ly nie. As Hy almagtig is sal Hy sy almag gebruik om lyding te keer. As daar ’n liefdevolle en almagtige God is soos die Bybel ons leer, dan behoort daar nie lyding in die wêreld te wees nie. Daar is egter lyding in hierdie wêreld en daarom kan die God wat die Bybel aan ons voorhou nie bestaan nie. So redeneer hierdie mense.

Dit is ook ’n baie moeilike vraag vir gelowiges om te beantwoord. Hoe beantwoord jy as gelowige die aanklag dat God nie omgee nie of dat Hy nie in staat is om lyding te keer nie? Die maklike manier is om ’n kop in die sand benadering te volg deur bg. vraagstuk te systap. Die probleem met hierdie benadering is dat dit die ou duiwel ’n geleentheid gee om jou geloof aan te val, veral wanneer jy op jou kwesbaarste is wanneer jy die aanslag van lyding en boosheid persoonlik aan die lyf voel. Wanneer die lewe om jou donker word en jy binne in die storm staan, tik die ou duiwel jou op die skouer en sê: “Sien jy. Kyk na die gemors waarin jy nou is. Voel jy die pyn? Ek het jou mos al gesê, jy kan God nie vertrou nie. Hy gee nie vir jou om nie. Hy kan jou nie help nie. Dit is beter om van Hom af weg te draai.”

Waar vind ons antwoorde op hierdie moeilike lewensvrae? Daar is net een plek waar jy antwoorde kan vind. By God self in sy Woord. Wat sê God vir ons oor hierdie onmoontlike vraagstuk. Hoe kan God liefdevol en almagtig wees en nie lyding dadelik tot niet maak nie? In ons teks gee God vir ons ’n antwoord op hierdie moeilike vraag. In 1 Pet 1 v 6 hoor ons:
selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings
God kan keer dat lyding plaasvind, maar Hy laat dit net vir ’n kort tydjie toe. Binne sy almag en raadsbesluit laat Hy dus lyding toe vir ’n kort tydjie. In die perspektief van God se ewigheid is lyding inderdaad net ’n kort tydjie.

Die vraag wat nog onbeantwoord is, is egter: “Gee God dan nie om nie?” Om hierdie vraag te antwoord moet ons kyk na wat God gedoen het. Hy het Homself aan die voorfront van lyding geplaas. In Jesus Christus het God die diepste diepte van pyn en lyding ervaar. Een ding is seker. God gee om. Hy gee soveel om dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Ons hoor in 1 Pet. 1 v 3 & 4 dat God se ontferming so groot is dat Hy ons ’n nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. En dit gee vir ons ’n ’n lewende hoop op onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

As ons net so bietjie terugstaan om perspektief te kry. Wat is die ergste wat met jou hier op aarde kan gebeur? Dit is dat jy jou lewe kan verloor en selfs dit kan jou nie van God se liefde skei nie. Die dood is nie meer ’n hopelose einde nie. Dit is slegs ’n deurgang na ’n ewige heerlikheid saam met God. In 1 Pet 1 v 4 is die belofte dat die gelowige se erfenis onverganklik, onbesmet en onverwelklik is. Daar is dus niks wat dit ongedaan kan maak nie. Dit is ’n vaste sekerheid wat op God se karakter gewaarborg word.

In 1 Pet 1 v 5 hoor ons dat geloof die sleutel is om hierdie erfenis wat God belowe te kry. Die wonderlike troos:
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

In 1 Pet. 1 v 7 hoor ons dat jou geloof deur middel van lyding getoets word. Omdat geloof die sleutel is ten opsigte van jou versoening en verhouding met God is dit selfs kosbaarder as goud en net soos die suiwerheid van goud met vuur getoets word, word die egtheid van jou geloof deur die vuur van lyding getoets.

Dit is hier waar die tekkie die teer slaat. Wanneer jy binne in die chaos van pyn en lyding staan moet jy bly glo dat God net jou beste belang op die hart dra. Jy moet glo en vertrou dat God in beheer is, veral wanneer dit vir jou lyk of alles buite beheer is. Jy moet God vertrou en jou ore sluit vir die aanklag van die duiwel wat jou probeer oortuig dat jy God nie kan vertrou nie. Hoe meer jy op God vertrou, hoe hegter word jou verhouding met Hom, veral wanneer jy nie die uitkoms kan sien nie.

Daar is kere waar ons kan sien hoe God se belofte dat alles ten goede meewerk waar is. Daar is egter ook baie kere waar dit nie duidelik is nie en dit is hier waar jou geloof en vertroue in God jou deurdra. Om te bly vertrou dat binne die groter prentjie van God se raadsplan dat selfs dit wat vir my sinneloos lyk steeds sin maak.

Dit is soos ’n legkaart te bou van derduisende stukkies. As ek net na die een of twee legkaart stukkies kyk wat hier voor my is, sien ek nie die geheel van die prent wat die legkaart vorm raak nie. God se legkaart is groter as die grootste legkaart waaraan ons kan dink. God se legkaart is groter as die heelal wat so groot is dat ons nie werklik die grote daarvan kan begryp nie.

Wanneer jy in geloof God vertrou, veral wanneer jy geen uitkoms kan sien nie gee God die belofte dat jy met onuitspreeklike en heerlike blydskap vervul sal word. Dit bou jou verhouding met God en jy sal ervaar hoe God ’n werklikheid binne jou lewe is.

Geliefdes, moenie dat jou geloofspad saam met God belemmer word deur die vraagstuk van lyding nie. Moenie val vir die duiwel se leuen dat jy God nie kan vertrou nie. Hou jou oë op die kruis en opstanding van Jesus Christus. Bly glo dat God in beheer is en jy sal ervaar hoe jy op jou geloofspad nader aan God beweeg.
Amen