19 Januarie 2020

Die Koninkryk van God is 'n ewige koninkryk waar God regeer


Datum: 19 Jan. 2020 GKE
Skriflesing Open. 21 v 1 22 v 5
Teksverse   Open. 21 v3; 21 v 22 & 22 v 3


 Die jaar is vinnig besig om spoed op te tel. Alle aanduidings is dat dit 'n jaar vol uitdagings gaan wees. Dit is juis vir sulke situasies wat vol onsekerheid en kommer is dat die Here vir ons die boek Openbaring gegee het om ons te troos.


Johannes het oorspronklik hierdie brief van Openbaring aan die sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf om hulle te bemoedig. Hulle is deur die samelewing eenkant toe gestoot omdat hulle nie met die hoofstroom wou saamgaan om al die verskillende afgode en die keiser van die Romeine te aanbid nie en ook omdat hulle, hul nie met die meerderheid se waardes wou vereenselwig nie. Ironies genoeg is hulle as ateïste beskou juis omdat hulle nie in die Romeinse afgode wou glo nie.

Die boodskap in Openbaring het hulle gelei om die lewe en die onderdrukking waaraan hulle blootgestel is uit 'n ander perspektief te benader. Dit gee die versekering dat gelowiges wat getrou is aan God se tuiste by God is wat eenmaal wanneer Christus weer kom reg sal laat geskied aan gelowiges. Dit beteken egter nie dat hulle uit die huidige lewe en die wêreld moes ontvlug in die toekoms in nie. Die perspektief is dat hulle die hede vanuit die perspektief van Christus terugkeer moet beleef.

Dit is ook die boodskap wat die Here ook vir ons bring wat hier aan die begin van die jaar 2020 staan. Beywer julle vir die Koninkryk van God want dit het naby gekom. Julle is nou deel van 'n ewige koninkryk waar God regeer.

Met ander woorde Hy is in beheer selfs al lyk dit of die wêreld in chaos gedompel is. God is besig met sy ewige raadsplan en ons is deel daarvan. Hy is met ons op pad die toekoms in en daarom kan ons ook die lewe met durf en moed aanpak. Al lyk dit asof die bose besig is om die oorhand te kry, verseker God ons dat sy oordeel op pad is.

In Openbaring vind ons baie beelde en visioene. As mens nie die groter prentjie van Openbaring se boodskap volg nie kan jy maklik verstrik raak in die detail. In Openbaring hoor ons dat God in die geskiedenis met mense gemoeid is om sy Koninklike heerskappy te vestig. Hy doen dit deur verlossing of oordeel te bring.

In die aanloop tot hoofstuk 21 hoor ons van God se oordeel wat deur verskillende beelde uitgebeeld word soos die sewe seëls wat waarmee die boek van die lewe verseël is wat oopgemaak word, die trompette wat oordeel aankondig en daarna word dit beskryf as sewe bakke vol van God se toorn wat uitgegiet word. Hierdie eindgebeure word omarm deur die vertellings in Open. 17 v 1 – 19:5 oor die sedelose Babilon wat in skrille kontras met die bruid van die Lam en die nuwe Jerusalem (Open. 21 v 9 tot 22 v 5) staan.

Dit dwing jou om 'n keuse te maak. Daar is nie 'n goue middeweg tussen Babilon en die Nuwe Jerusalem nie. Geliefdes soos u reeds gehoor het, moet jy die evangelie glo om te deel in die Nuwe Jerusalem anders sal jy deel in die oordeel wat vir Babilon bestem is.

Om te deel in die Nuwe Jerusalem moet jy glo dat jy vanweë jou sondes verlore is. Jy moet glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het. Jy moet glo dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding en dat Hy vir jou daarmee verlos uit die doodsbestaan van sonde en vir jou 'n lewe saam met God in ruil gee. Jy moet die opregte begeerte hê om met jou hele lewe dank aan Hom te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met jou naaste te lewe.

Vir elkeen wat die evangelie glo is Open. 21 v 1 tot 22 v 5 'n geweldige troos. As mens luister na die oordeel van God en wat dit vir die goddeloses inhou is die Nuwe Jerusalem 'n baken van hoop wat vir jou moed gee.

In Open. 21 v 1 tot 8 vind ons 'n kort samevatting van die Nuwe Jerusalem en wat dit beteken. Open. 21 v 9 – 22 v 5 gee dan 'n uitgebreide verduideliking daarvan.

Ons teks begin met die goeie nuus dat alles nuut gemaak gaan word. Dit wat oud en gebroke was gaan nie meer bestaan nie. Die verwysing na die see wat nie meer daar gaan wees nie is 'n verwysing na die dood. Die see is 'n simbool van die dood en dit sal nie meer bestaan in die nuwe hemel en die nuwe aarde nie. Deur die sonde het die dood in die wêreld gekom en nou is die dood finaal oorwin. Dit sal nie meer bestaan nie.

Dan word die nuwe Jerusalem in Open 21 v 2 vergelyk met 'n bruid wat vir haar bruidegom versier is. In Open. 21 v 9 word hierdie beeld uitgebrei. Die gelowige word met 'n bruid vergelyk. Dit wys op die aard van die verhouding tussen God en gelowiges. 'n Absolute intieme verhouding waar niemand tussenbeide kan kom nie.

Die heilige stad word in detail deur verskillende beelde beskryf. Dit beskryf vir ons hoedat die Nuwe Jerusalem gevul word met die heerlikheid en grootsheid van God. Die edelstene en edelmetale beklemtoon God se heerlikheid wat dit uitstraal. 


Die afmetings het die simboliese betekenis om klem te lê op God se volmaakte teenwoordigheid. Daar is ook nie 'n tempel meer nie omdat die hele stad 'n tempel is op grond van God se volmaakte teenwoordigheid.

Die rivier en die boom wat elke maand vrugte dra wys simbolies dat God oorvloedig sorg om lewe te gee en in stand te hou. Daar is nie meer dood en verval nie. Daar is geen duisternis nie want God se lig verlig alles. Lig verteenwoordig lewe en dit kom van God af. Dit is net God wat lewe kan gee. Duisternis verteenwoordig die dood en wat nie meer daar is nie en daarom is daar geen duisternis meer nie.

Die poorte word nie gesluit nie, maar tog sal slegs diegene wat die reg daartoe het toegang tot die stad kry. Net die wat in die evangelie van Jesus Christus glo kry toegang tot die stad. Hulle wat nie glo nie sal nie toegang kry nie. Hulle mag nie deel in die voorreg om in God se teenwoordigheid te wees nie. Slegs diegene wie se name in die Boekrol van die Lam opgeskryf is het vrye toegang, maar hulle wat volhardend nee gesê het vir God is op pad na die poel van vuur, met ander woorde weg van God af.

Die fokus van hierdie gedeelte is om sigbaar te demonstreer dat God in sy allerheiligste teenwoordig is. In die Nuwe Jerusalem is God volmaak teenwoordig en sy heerlikheid vul alles en almal.

In die Nuwe Jerusalem is die hoogtepunt van aanbidding, naamlik om God van aangesig tot aangesig te sien. Deur Christus kry jy toegang tot God en nou kan jy Hom in die oë kyk om Hom met hemelse oorgawe te dien.

Die wonderlike troos en hoop wat die Here vir ons in Openbaring gee is dat ons nou reeds kan begin deel daarin. Nog nie in die volmaaktheid wat kom nie, maar dit is nou reeds moontlik om God te ken en om sy teenwoordigheid in jou lewe te beleef. Die Heilige Gees is elke dag by jou. Diegene wat met geloofsoë kyk sal reeds die heerlike teenwoordigheid van God in jou lewe raaksien.

Maak dit u ook opgewonde? God is nou reeds teenwoordig in jou lewe en Hy sal ewig teenwoordig wees want die Koninkryk van God is 'n ewige koninkryk. Kom na Jesus toe. Glo die evangelie en beleef vir ewig die vreugde van die Nuwe Jerusalem

Amen


12 Januarie 2020

Die Koninkryk van God het naby gekom


Datum: 12 Jan. 2020 GKE
Lees: Mat. 4 v 12 – 17; Mar. 1 v 14-15
Teksverse: Mat. 4 v 17 & Mar. 1 v 15



Ons het verlede week die jaar begin met die opdrag: “Soek eers die koninkryk van God en vra na sy wil.” Die koninkryk van God is een van die groot temas wat soos 'n goue draad dwarsdeur die Bybel loop. Hierdie week gaan ons verder met die tema en ons gaan so bietjie stilstaan by die vraag: “Wat beteken dit wanneer ons na die koninkryk van God verwys?” Die tema van hierdie week se preek is: “Die Koninkryk van God het naby gekom.”

Johannes se gevangeneming is die einde van sy bediening en dit lui die begin van Jesus se openbare optrede in. Met sy prediking het Johannes die voorbereidingswerk gedoen vir Jesus se optrede.

Beide Johannes en Jesus begin hulle prediking met die boodskap: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Wat is die koninkryk van die hemel of die koninkryk van God soos dit in die ander evangelies genoem word? Eenvoudig gestel, die Koninkryk van God is sy hele skepping waar Hy as soewereine Koning regeer. Dit sluit die fisiese sowel as die geestelike dimensie in, dit wil sê die totaliteit van alles wat bestaan. Dit begin reeds met die skepping en dit strek dwarsdeur die geskiedenis tot in die ewige toekoms in.

Kort na die skepping het daar egter 'n probleem ontstaan. Die mens het in opstand gekom teen God se gesag. Die mens het hom laat verlei deur die slang om nie God se gesag te vertrou nie. Die mens wou self die gesag hê om vir homself te besluit. Die mens wou nie gehad het dat God namens hom besluit nie. Dit is maar nog steeds die teken van ons tyd. Die mens wil outonoom wees. Niemand mag vir hom voorsê nie.

Dit het verskriklike gevolge vir die mens ingehou. Waar hy eens 'n volwaardige burger van God se koninkryk was, het hy nou 'n buitestaander geword wat nie meer toegang het tot al die voordele wat hy as burger van die koninkryk van God gehad het nie. Daar hang as te ware 'n donker wolk wat die sonskyn van die mens af wegkeer oor die koninkryk.

God as Koning laat egter nie sy koninkryk in die steek nie. Direk na die sondeval belowe Hy reeds dat daar iemand sal kom wat die vloek van die mens se opstand sal breek soos ons in Gen. 3 v 15 hoor:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

En so word hierdie belofte dwarsdeur die Ou Testament herhaal. Die Koning is op pad om die skade te herstel. Hy kom egter nie soos wat die verwagting is as 'n triomferende koning nie. Hy word as eenvoudige mens gebore en noudat Hy volwasse is bring Hy die goeie nuus: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Die son begin deurbreek deur die donker wolke wat die mens van God vervreem het. Die koninkryk waarvan die mens homself met sy rebelse opstand vervreem het is nou weer binne bereik. Die mens kan nou weer 'n volwaardige burger word en al die voordele van burgerskap geniet.

Hoe kan dit gebeur? Jesus se oproep: “bekeer julle” is die antwoord. Die woord bekeer beteken dat daar 'n radikale verandering moet plaasvind. 'n 180 grade terugdraai van die pad waarop jy is. Die metamorfose wat 'n wurm na 'n skoenlapper ondergaan.

Hoe word hierdie verandering teweeg gebring? In Mar. 1 v 15 word dit mooi verduidelik:
“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Die verandering wat jy moet ondergaan is om totaal weg te draai vanaf jou eie outonomiteit na 'n totale afhanklikheid van God se genade. Om van jouself af weg te draai na God se genade.

Om te verstaan dat dit alleen God se genade is wat jou burgerskap in ere herstel. Om te verstaan dat daar niks is wat jy kan doen om jou burgerskap te herstel nie. Dis om na God toe kom en te erken. Here ek kan nie. Ek is verlore sonder U.

Om die goeie nuus te glo dat God self gekom het om jou burgerskap vir jou terug te gee. Om die evangelie van Jesus Christus te glo. Om werklik te verstaan wat dit beteken dat Jesus gekom het om die prys te betaal. Om te verstaan dat Hy met sy lewe betaal het sodat jy weer jou burgerskap kan terugkry. Die duurste prys wat 'n mens kan betaal het Jesus betaal, naamlik met sy lewe. Om te verstaan dat hy die houvas en die mag van die dood gebreek het toe Hy die dood met sy opstanding vernietig het.

Wanneer jy dit gedoen het vind die wonder van God se genade in jou lewe plaas. Net soos die wurm in 'n skoenlapper verander, verander die Heilige Gees jou in 'n nuwe mens. 'n Nuwe mens wat nie meer sy identiteit in die dinge van hierdie wêreld soos status, rykdom soek nie. Nou bepaal wie jy is nie meer jou identiteit nie. Nee jou identiteit word nou bepaal deur wie se eiendom jy is. Jesus het jou duur gekoop deur met sy bloed vir jou te betaal en daarom is jy nou 'n Koningskind.

Geliefdes, volgens watter identiteit leef jy? Leef jy nog volgens jou ou identiteit as rebelse opstandige teen God se gesag, of leef jy volgens nuwe identiteit as 'n koningskind wat duur gekoop is deur die bloed van Jesus Christus? Hier aan die begin van die nuwe jaar is dit belangrik dat ons elkeen net so bietjie terugstaan en boeke vat van waar ek is. Wat is my antwoord op die vraag volgens wie se identiteit ek leef?

Hoe lyk my prioriteite? Is God elke dag deel van my lewe of bere ek Hom in 'n boksie en haal Hom net uit op Sondagoggende as ek lus voel? Is die kerk vir my 'n prioriteit? Is dit vir my belangrik dat die kerk sy werk doen waarvoor Christus ons geroep het? Help ek daarmee of is ek eintlik 'n struikelblok wat in die pad staan?

Is my liefde vir my broers en susters en vir my medemens tasbaar sigbaar? Lyk my lewe anders as die wêreld daar buite? As mense my van Maandag tot Saterdag dophou, sal hulle raaksien dat ek 'n Christin is?

Geliefdes die Here roep ons om eerstens te soek na die koninkryk van God en te vra na sy wil.
“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Amen. 

05 Januarie 2020

Beywer julle allereers vir die koninkryk en wil van God.


Son 5 Jan 2020 (GKE)

Skriflesing: Mat. 6 v 25 – 34
Teksvers Mat. 25 v 33




Die nuwe jaar het reeds met 'n drafstap begin. Wat gaan die jaar wat voorlê vir ons inhou? Daar is reeds uit linkse politieke groepe dreigemente dat die registrasieproses by universiteite ontwrig gaan word. Die wetgewing om onteiening sonder vergoeding te doen is reeds in 'n gevorderde stadium en sal heel waarskynlik in hierdie jaar deurgevoer word. Eskom het al weer kennis gegee dat beurtkrag moontlik weer toegepas gaan word.

Al hierdie bekommernisse het 'n negatiewe invloed op die ekonomie en dit kan bydra dat die krediet agentskappe ons land se krediet status nog verder afgradeer? Al hierdie onsekerhede laat mens wonder oor hoe dit alles ons persoonlik gaan raak? Gaan die maatskappy vir ek wie werk hierdie ekonomiese storms oorleef en gaan ek nog 'n werk hê? Hoe gaan ons oorleef in hierdie komende jaar?

Wat sê die Here vir ons oor al hierdie onsekerhede wat ons so bekommerd maak? In Mat. 6 v 25 tot 32 hoor ons:
25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?
31Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
Hierdie verse beskryf die mens se beheptheid met materiële dinge. Dit beskryf inderdaad die leefwêreld van ons tyd. Die fisiese materiële dinge kan so maklik jou fokus in die lewe word en hier sê die Here vir ons dat dit 'n verkeerde fokus is. Wanneer dit jou fokus is, word God uit die prentjie geskuif.

In ons teksvers Mat. 6 v 33 gee die Here vir die regte perspektief waarop ons moet fokus:
beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Die hele hoofstuk van Mat. 6 handel oor jou intieme verhouding met God en wat dit vir jou beteken. Hier in ons teksvers hoor ons dan dat ons, ons moet beywer vir die koninkryk en wil van God.

Dit bring die vraag na vore: “het ek deel aan die koninkryk van God?” Die enigste manier hoe jy kan deel in die koninkryk van God is om die evangelie te glo. Jy moet glo dat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou 'n nuwe lewe saam met God gee.

Hier gee die Here vir ons die perspektief van wat dit beteken om te deel te hê aan die koninkryk van God. Om deel te hê aan die koninkryk van God beteken om jou bekommernisse vir God te gee in die sekere wete dat Hy jou sal versorg.

Beywer julle allereers vir die koninkryk en wil van God. Hiermee nooi die Here ons uit om al ons bekommernisse en onsekerhede vir die jaar wat voorlê aan Hom te gee en dan gee Hy vir ons die belofte dat Hy vir ons sal sorg. Inderwaarheid kan ons sê dat God ons uitnooi om dit ons nuwejaarsvoorneme te maak. Beywer julle allereers vir die koninkryk en wil van God.

Die vraag is nou: “Hoe doen jy dit prakties? Hoe moet jy maak om jou vir die koninkryk en wil van God te beywer? In die eerste plek beteken dit dat jy jou fokus op God moet plaas deur te glo in die evangelie van Jesus Christus.

Dit beteken ook dat jy plek en tyd vir God in jou lewe moet maak. Maak tyd om na Hom te luister deur tyd saam met Hom in sy woord te spandeer. Maak tyd om eredienste by te woon. Jou erediensbywoning is vir jou 'n goeie aanduiding tot watter mate jy aan God se wil gehoorsaam wil wees. Vgl. Heb. 10:25 waar die Here vir ons sê:
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Maak tyd om met Hom te praat in gebed. Nie net 'n vinnige gebed voor jy gaan slaap nie. Die Here sê vir ons in Ef. 6:18 bid gedurig vir al die gelowiges. Bid vir mekaar. Gebed gaan nie net om vir God te vra wat ons wil hê nie. Dit gaan daar om vir God te vra wat sy wil in jou lewe is. Maak tyd om te bid.

Beywer jou vir die koninkryk en wil van God beteken om Hom te vertrou. Om te vertrou dat Hy sy woord gestand sal doen. Om te vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Om te vertrou dat Hy vir jou alles sal gee wat jy nodig het. Om te vertrou dat Hy alles wat gebeur ten goede sal laat meewerk soos Hy in Rom. 8:28 belowe. Om te glo en vertrou dat niks jou van sy liefde sal skei nie soos Hy ons in Rom. 8 v 38 & 39 belowe.

Dit beteken ook dat ons sal verstaan dat God weet wat ons nodig het en dat dit dikwels verskil van wat ons dink ons nodig het. Dit beteken dat ons, ons belydenis van Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus sal leef deur te glo dat die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Dit beteken dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar sal wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader sal stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie

Om jou te beywer vir die koninkryk en wil van God beteken dat ons gehoorsaam sal wees wanneer Hy vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê soos ons in Joh. 10 v 34 & 35 hoor.

Dit beteken die koninkryk van God sigbaar sal word in ons leefwyse. Dit beteken dat ons ligdraers in die wêreld sal wees deur ons roeping uit te leef om dissipels te gaan maak en hulle deur ons voorbeeld sal leer om alles te onderhou wat Jesus ons beveel het.

Dit beteken dat ons, ons nie sal laat oorweldig deur bekommernisse van wat moontlik in die toekoms kan gebeur nie. Dit beteken dat ons die nuwe lewe wat Christus vir ons gegee het sal leef.

Geliefdes, gaan die nuwe jaar tegemoet sonder kommer met die wete dat God vir jou sal sorg. Beywer jou vir die koninkryk van God en vra na sy wil.

Amen