12 Januarie 2020

Die Koninkryk van God het naby gekom


Datum: 12 Jan. 2020 GKE
Lees: Mat. 4 v 12 – 17; Mar. 1 v 14-15
Teksverse: Mat. 4 v 17 & Mar. 1 v 15



Ons het verlede week die jaar begin met die opdrag: “Soek eers die koninkryk van God en vra na sy wil.” Die koninkryk van God is een van die groot temas wat soos 'n goue draad dwarsdeur die Bybel loop. Hierdie week gaan ons verder met die tema en ons gaan so bietjie stilstaan by die vraag: “Wat beteken dit wanneer ons na die koninkryk van God verwys?” Die tema van hierdie week se preek is: “Die Koninkryk van God het naby gekom.”

Johannes se gevangeneming is die einde van sy bediening en dit lui die begin van Jesus se openbare optrede in. Met sy prediking het Johannes die voorbereidingswerk gedoen vir Jesus se optrede.

Beide Johannes en Jesus begin hulle prediking met die boodskap: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Wat is die koninkryk van die hemel of die koninkryk van God soos dit in die ander evangelies genoem word? Eenvoudig gestel, die Koninkryk van God is sy hele skepping waar Hy as soewereine Koning regeer. Dit sluit die fisiese sowel as die geestelike dimensie in, dit wil sê die totaliteit van alles wat bestaan. Dit begin reeds met die skepping en dit strek dwarsdeur die geskiedenis tot in die ewige toekoms in.

Kort na die skepping het daar egter 'n probleem ontstaan. Die mens het in opstand gekom teen God se gesag. Die mens het hom laat verlei deur die slang om nie God se gesag te vertrou nie. Die mens wou self die gesag hê om vir homself te besluit. Die mens wou nie gehad het dat God namens hom besluit nie. Dit is maar nog steeds die teken van ons tyd. Die mens wil outonoom wees. Niemand mag vir hom voorsê nie.

Dit het verskriklike gevolge vir die mens ingehou. Waar hy eens 'n volwaardige burger van God se koninkryk was, het hy nou 'n buitestaander geword wat nie meer toegang het tot al die voordele wat hy as burger van die koninkryk van God gehad het nie. Daar hang as te ware 'n donker wolk wat die sonskyn van die mens af wegkeer oor die koninkryk.

God as Koning laat egter nie sy koninkryk in die steek nie. Direk na die sondeval belowe Hy reeds dat daar iemand sal kom wat die vloek van die mens se opstand sal breek soos ons in Gen. 3 v 15 hoor:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

En so word hierdie belofte dwarsdeur die Ou Testament herhaal. Die Koning is op pad om die skade te herstel. Hy kom egter nie soos wat die verwagting is as 'n triomferende koning nie. Hy word as eenvoudige mens gebore en noudat Hy volwasse is bring Hy die goeie nuus: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Die son begin deurbreek deur die donker wolke wat die mens van God vervreem het. Die koninkryk waarvan die mens homself met sy rebelse opstand vervreem het is nou weer binne bereik. Die mens kan nou weer 'n volwaardige burger word en al die voordele van burgerskap geniet.

Hoe kan dit gebeur? Jesus se oproep: “bekeer julle” is die antwoord. Die woord bekeer beteken dat daar 'n radikale verandering moet plaasvind. 'n 180 grade terugdraai van die pad waarop jy is. Die metamorfose wat 'n wurm na 'n skoenlapper ondergaan.

Hoe word hierdie verandering teweeg gebring? In Mar. 1 v 15 word dit mooi verduidelik:
“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Die verandering wat jy moet ondergaan is om totaal weg te draai vanaf jou eie outonomiteit na 'n totale afhanklikheid van God se genade. Om van jouself af weg te draai na God se genade.

Om te verstaan dat dit alleen God se genade is wat jou burgerskap in ere herstel. Om te verstaan dat daar niks is wat jy kan doen om jou burgerskap te herstel nie. Dis om na God toe kom en te erken. Here ek kan nie. Ek is verlore sonder U.

Om die goeie nuus te glo dat God self gekom het om jou burgerskap vir jou terug te gee. Om die evangelie van Jesus Christus te glo. Om werklik te verstaan wat dit beteken dat Jesus gekom het om die prys te betaal. Om te verstaan dat Hy met sy lewe betaal het sodat jy weer jou burgerskap kan terugkry. Die duurste prys wat 'n mens kan betaal het Jesus betaal, naamlik met sy lewe. Om te verstaan dat hy die houvas en die mag van die dood gebreek het toe Hy die dood met sy opstanding vernietig het.

Wanneer jy dit gedoen het vind die wonder van God se genade in jou lewe plaas. Net soos die wurm in 'n skoenlapper verander, verander die Heilige Gees jou in 'n nuwe mens. 'n Nuwe mens wat nie meer sy identiteit in die dinge van hierdie wêreld soos status, rykdom soek nie. Nou bepaal wie jy is nie meer jou identiteit nie. Nee jou identiteit word nou bepaal deur wie se eiendom jy is. Jesus het jou duur gekoop deur met sy bloed vir jou te betaal en daarom is jy nou 'n Koningskind.

Geliefdes, volgens watter identiteit leef jy? Leef jy nog volgens jou ou identiteit as rebelse opstandige teen God se gesag, of leef jy volgens nuwe identiteit as 'n koningskind wat duur gekoop is deur die bloed van Jesus Christus? Hier aan die begin van die nuwe jaar is dit belangrik dat ons elkeen net so bietjie terugstaan en boeke vat van waar ek is. Wat is my antwoord op die vraag volgens wie se identiteit ek leef?

Hoe lyk my prioriteite? Is God elke dag deel van my lewe of bere ek Hom in 'n boksie en haal Hom net uit op Sondagoggende as ek lus voel? Is die kerk vir my 'n prioriteit? Is dit vir my belangrik dat die kerk sy werk doen waarvoor Christus ons geroep het? Help ek daarmee of is ek eintlik 'n struikelblok wat in die pad staan?

Is my liefde vir my broers en susters en vir my medemens tasbaar sigbaar? Lyk my lewe anders as die wêreld daar buite? As mense my van Maandag tot Saterdag dophou, sal hulle raaksien dat ek 'n Christin is?

Geliefdes die Here roep ons om eerstens te soek na die koninkryk van God en te vra na sy wil.
“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Amen. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking