19 Januarie 2020

Die Koninkryk van God is 'n ewige koninkryk waar God regeer


Datum: 19 Jan. 2020 GKE
Skriflesing Open. 21 v 1 22 v 5
Teksverse   Open. 21 v3; 21 v 22 & 22 v 3


 Die jaar is vinnig besig om spoed op te tel. Alle aanduidings is dat dit 'n jaar vol uitdagings gaan wees. Dit is juis vir sulke situasies wat vol onsekerheid en kommer is dat die Here vir ons die boek Openbaring gegee het om ons te troos.


Johannes het oorspronklik hierdie brief van Openbaring aan die sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf om hulle te bemoedig. Hulle is deur die samelewing eenkant toe gestoot omdat hulle nie met die hoofstroom wou saamgaan om al die verskillende afgode en die keiser van die Romeine te aanbid nie en ook omdat hulle, hul nie met die meerderheid se waardes wou vereenselwig nie. Ironies genoeg is hulle as ateïste beskou juis omdat hulle nie in die Romeinse afgode wou glo nie.

Die boodskap in Openbaring het hulle gelei om die lewe en die onderdrukking waaraan hulle blootgestel is uit 'n ander perspektief te benader. Dit gee die versekering dat gelowiges wat getrou is aan God se tuiste by God is wat eenmaal wanneer Christus weer kom reg sal laat geskied aan gelowiges. Dit beteken egter nie dat hulle uit die huidige lewe en die wêreld moes ontvlug in die toekoms in nie. Die perspektief is dat hulle die hede vanuit die perspektief van Christus terugkeer moet beleef.

Dit is ook die boodskap wat die Here ook vir ons bring wat hier aan die begin van die jaar 2020 staan. Beywer julle vir die Koninkryk van God want dit het naby gekom. Julle is nou deel van 'n ewige koninkryk waar God regeer.

Met ander woorde Hy is in beheer selfs al lyk dit of die wêreld in chaos gedompel is. God is besig met sy ewige raadsplan en ons is deel daarvan. Hy is met ons op pad die toekoms in en daarom kan ons ook die lewe met durf en moed aanpak. Al lyk dit asof die bose besig is om die oorhand te kry, verseker God ons dat sy oordeel op pad is.

In Openbaring vind ons baie beelde en visioene. As mens nie die groter prentjie van Openbaring se boodskap volg nie kan jy maklik verstrik raak in die detail. In Openbaring hoor ons dat God in die geskiedenis met mense gemoeid is om sy Koninklike heerskappy te vestig. Hy doen dit deur verlossing of oordeel te bring.

In die aanloop tot hoofstuk 21 hoor ons van God se oordeel wat deur verskillende beelde uitgebeeld word soos die sewe seëls wat waarmee die boek van die lewe verseël is wat oopgemaak word, die trompette wat oordeel aankondig en daarna word dit beskryf as sewe bakke vol van God se toorn wat uitgegiet word. Hierdie eindgebeure word omarm deur die vertellings in Open. 17 v 1 – 19:5 oor die sedelose Babilon wat in skrille kontras met die bruid van die Lam en die nuwe Jerusalem (Open. 21 v 9 tot 22 v 5) staan.

Dit dwing jou om 'n keuse te maak. Daar is nie 'n goue middeweg tussen Babilon en die Nuwe Jerusalem nie. Geliefdes soos u reeds gehoor het, moet jy die evangelie glo om te deel in die Nuwe Jerusalem anders sal jy deel in die oordeel wat vir Babilon bestem is.

Om te deel in die Nuwe Jerusalem moet jy glo dat jy vanweë jou sondes verlore is. Jy moet glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het. Jy moet glo dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding en dat Hy vir jou daarmee verlos uit die doodsbestaan van sonde en vir jou 'n lewe saam met God in ruil gee. Jy moet die opregte begeerte hê om met jou hele lewe dank aan Hom te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met jou naaste te lewe.

Vir elkeen wat die evangelie glo is Open. 21 v 1 tot 22 v 5 'n geweldige troos. As mens luister na die oordeel van God en wat dit vir die goddeloses inhou is die Nuwe Jerusalem 'n baken van hoop wat vir jou moed gee.

In Open. 21 v 1 tot 8 vind ons 'n kort samevatting van die Nuwe Jerusalem en wat dit beteken. Open. 21 v 9 – 22 v 5 gee dan 'n uitgebreide verduideliking daarvan.

Ons teks begin met die goeie nuus dat alles nuut gemaak gaan word. Dit wat oud en gebroke was gaan nie meer bestaan nie. Die verwysing na die see wat nie meer daar gaan wees nie is 'n verwysing na die dood. Die see is 'n simbool van die dood en dit sal nie meer bestaan in die nuwe hemel en die nuwe aarde nie. Deur die sonde het die dood in die wêreld gekom en nou is die dood finaal oorwin. Dit sal nie meer bestaan nie.

Dan word die nuwe Jerusalem in Open 21 v 2 vergelyk met 'n bruid wat vir haar bruidegom versier is. In Open. 21 v 9 word hierdie beeld uitgebrei. Die gelowige word met 'n bruid vergelyk. Dit wys op die aard van die verhouding tussen God en gelowiges. 'n Absolute intieme verhouding waar niemand tussenbeide kan kom nie.

Die heilige stad word in detail deur verskillende beelde beskryf. Dit beskryf vir ons hoedat die Nuwe Jerusalem gevul word met die heerlikheid en grootsheid van God. Die edelstene en edelmetale beklemtoon God se heerlikheid wat dit uitstraal. 


Die afmetings het die simboliese betekenis om klem te lê op God se volmaakte teenwoordigheid. Daar is ook nie 'n tempel meer nie omdat die hele stad 'n tempel is op grond van God se volmaakte teenwoordigheid.

Die rivier en die boom wat elke maand vrugte dra wys simbolies dat God oorvloedig sorg om lewe te gee en in stand te hou. Daar is nie meer dood en verval nie. Daar is geen duisternis nie want God se lig verlig alles. Lig verteenwoordig lewe en dit kom van God af. Dit is net God wat lewe kan gee. Duisternis verteenwoordig die dood en wat nie meer daar is nie en daarom is daar geen duisternis meer nie.

Die poorte word nie gesluit nie, maar tog sal slegs diegene wat die reg daartoe het toegang tot die stad kry. Net die wat in die evangelie van Jesus Christus glo kry toegang tot die stad. Hulle wat nie glo nie sal nie toegang kry nie. Hulle mag nie deel in die voorreg om in God se teenwoordigheid te wees nie. Slegs diegene wie se name in die Boekrol van die Lam opgeskryf is het vrye toegang, maar hulle wat volhardend nee gesê het vir God is op pad na die poel van vuur, met ander woorde weg van God af.

Die fokus van hierdie gedeelte is om sigbaar te demonstreer dat God in sy allerheiligste teenwoordig is. In die Nuwe Jerusalem is God volmaak teenwoordig en sy heerlikheid vul alles en almal.

In die Nuwe Jerusalem is die hoogtepunt van aanbidding, naamlik om God van aangesig tot aangesig te sien. Deur Christus kry jy toegang tot God en nou kan jy Hom in die oë kyk om Hom met hemelse oorgawe te dien.

Die wonderlike troos en hoop wat die Here vir ons in Openbaring gee is dat ons nou reeds kan begin deel daarin. Nog nie in die volmaaktheid wat kom nie, maar dit is nou reeds moontlik om God te ken en om sy teenwoordigheid in jou lewe te beleef. Die Heilige Gees is elke dag by jou. Diegene wat met geloofsoë kyk sal reeds die heerlike teenwoordigheid van God in jou lewe raaksien.

Maak dit u ook opgewonde? God is nou reeds teenwoordig in jou lewe en Hy sal ewig teenwoordig wees want die Koninkryk van God is 'n ewige koninkryk. Kom na Jesus toe. Glo die evangelie en beleef vir ewig die vreugde van die Nuwe Jerusalem

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking