Datum: 2 Feb. 2020 GKE
Mat. 5 v 1 – 12
Teksverse Mat. 5 v 3 & 10
Is jy 'n burger van die Koninkryk van God? Wil jy ook
deel in die seëninge wat burgers van die Koninkryk van God ontvang?
In die Bergrede hoor ons wat die sleutel is om te deel in
seëninge van die Koninkryk van God. Die Bergrede is seker een van die grootste
preke van alle tye. Jesus het sy bediening begin met die aankondiging: “Bekeer julle, want die koninkryk van die
hemel het naby gekom” soos ons in Mat. 4 v 17 hoor. In Mat. 5 tot 7 wat ook
as die Bergrede bekend staan hoor ons nou meer van hierdie Koninkryk van God. Die
Bergrede is inderdaad die grondwet van die Koninkryk van God.
Jesus begin sy preek met die woorde “Geseënd is dié wat weet hoe
afhanklik hulle van God is” Hoe kan jy ook deel hê in hierdie seën?
In Rom. 4 v 6 hoor ons:
So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:
Dit is hieruit duidelik dat jy nie God se seën kan
ontvang deur iets te doen om dit te verdien nie. God spreek jou vry. En dit is
inderdaad wat Jesus sê “...wat weet hoe
afhanklik hulle van God is....” Jy is van God afhanklik om sy seën te
ontvang. Dit is net Hy wat dit vir jou kan gee.
Die kern van die sonde is dat die mens nie van God
afhanklik wil wees nie en daarom is dit nodig dat jy jou voor God moet verootmoedig.
Met ander woorde jy moet nadink oor jou sonde en dat sonde jou van God
vervreem.
Jy moet verstaan dat jy niks kan doen om hierdie
gebreekte verhouding met God te herstel nie. Dit is net God wat dit kan herstel
deur die sonde te straf. Jesus het gekom om die straf vir die sonde te dra. Jy
moet glo dat Jesus gekom het om jou straf vir die sonde te dra deur met sy lewe
te betaal en dat Hy met sy opstanding vir jou 'n nuwe lewe saam met God verwerf
het.
Met ander woorde jy moet weet hoe afhanklik jy van God
is. Jy moet weet dat elke oomblik van jou bestaan totaal in God se hande is en
dat Hy alles onderhou. Dit is net God wat dit moontlik maak dat ons kan lewe. En
wanneer jy dit besef, dan besef jy dat jy reeds deur God geseën is.
Wat beteken dit om geseënd te wees? Wanneer Jesus sê dat
jy geseënd is voeg Hy by “want aan hulle
behoort die koninkryk van die hemel.” Jy staan in 'n nuwe verhouding tot
God en jy dra die Koninkryk van God in jou hart saam en die Heilige Gees beheer
jou lewe. Jy laat jou nie meer deur jou sondige natuur lei nie, maar jy laat jou
deur die Heilige Gees lei.
Jy is nie meer bang vir God nie en vrees nie meer vir sy
wraak nie. Jy beleef en ervaar die liefde van God in jou lewe en jy is seker
dat daar niks is wat jou van die liefde van Christus kan skei nie.
Hierdie eerste saligspreking is dan ook die kern van die
hele Bergrede. Christus se teenwoordigheid en die sy bemoeienis in jou lewe is
dan ook die agtergrond waarteen die eise in Bergrede wat volg verstaan moet
word.
God se seën sluit in dat Hy jou deur die Heilige Gees sal
troos wanneer jy treur oor jou sonde en ongeregtigheid in jou eie lewe wanneer
jy jou voor God verootmoedig, maar ook wanneer jy treur oor die ongeregtigheid
wat daar in die samelewing teenwoordig is. God se troos sluit in dat jy nie in
moedeloosheid sal verval wanneer jy die onreg in die wêreld sien nie. Jy sal
vashou aan sy hoop in die wete dat Hy steeds in beheer is.
God se seën sluit in dat jy nou anders na die lewe kyk.
Jy verruil jou hardvogtigheid vir sagmoedigheid. Jy gee om vir jou medemens.
Dit sluit in dat jy met deernis in liefde uitreik na mense en hoe meer jy dit
doen hoe warmer brand God se liefde in jou hart.
God se seën sluit in dat daar 'n begeerte in jou hart sal
wees waar jy na God se geregtigheid verlang met die wete dat God steeds in
beheer is en dat sy geregtigheid sal seëvier selfs al lyk dit soms nie so nie.
Jy sal jou vertroue in God stel en hoe meer jy dit doen hoe meer sal jy God se
teenwoordigheid in jou lewe raaksien.
God se seën behels dat daar vrede sal wees, veral in jou
hart en dat jy sy vrede sal najaag en verruil vir die twis en onmin in die wêreld.
In plaas daarvan om twis en onmin aan te blaas, span jy jou kragte in om vrede
te bewerkstellig.
Hier kry ons dan ook 'n baie groot belofte. “Die vredemakers sal kinders van God genoem
word.” Dit is hier waar ons sien hoe anders dit is in God se koninkryk. In
die wêreld het die burgers van 'n land nie 'n persoonlike verhouding met die
heerser van daardie land nie.
In God se Koninkryk staan die mense wat sy seën ontvang
in 'n direkte persoonlike verhouding met Hom wat net so persoonlik is soos wat 'n
pa se verhouding met sy kinders is. Jy het direkte toegang na God toe met die
wete dat Hy daar is vir jou en dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.
Kinders van God lyk en leef anders as wat die wêreld doen
en die wêreld hou nie van mense wat anders is nie, veral nie as hulle nie met
die verkeerde van die wêreld wil saamgaan nie. Hier hoor ons weereens die
belofte “want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.” Die belofte hier is dat jy deel van God se
kinders is wat sy seën ontvang en jy weet dit want jy wil volgens God se norme
en standaarde doen wat reg is, selfs al word jy vervolg daaroor.
Weereens ontvang ons die versekering van God se seën wanneer
mense jou beledig en slegmaak omdat jy 'n Christin is en volgens Christelike
standaarde wil leef.
Hiermee saam kom dan ook die belofte van 'n ewige
heerlikheid saam met God waar Hy al die trane sal afdroog en daar geen pyn,
leiding of dood meer sal wees nie.
God se Koninkryk sluit die hele wêreld in, die hele
heelal in waar Hy in beheer is. Binne in hierdie Koninkryk is diegene wat sy seën
ontvang. Jy kan weet of jy deel is van daardie groep mense want:
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Diegene wat egter hulle rug op God draai ontvang sy straf
en nie sy seën nie. Geliefdes, jy kan nie maar net aangaan met jou lewe asof
God nie bestaan nie en dan verwag dat Hy jou sal seën nie.
weet jy hoe afhanklik jy van God is?
Luister na Jesus se uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek
sal julle rus gee.
Kom na Jesus toe. Glo die evangelie en ontvang God se seën.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking