09 Februarie 2020

Koninkryksburgers moet ligdraers wees

09 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:   Mat. 5 v 14 – 48
Teksverse:   Mat. 5 v 14a & 16


Die Koninkryk van God. Dit is 'n ander manier waarmee God vir ons verduidelik wat dit beteken om kerk van die Here te wees. Dit sê vir ons wat dit beteken om 'n Christin te wees en Watter invloed dit op jou lewe het wanneer jy sê dat jy 'n volgeling van Jesus Christus is.

Hiermee sê die Here vir ons dat Hy in beheer is en dat Hy heers oor alles en almal. In die preke hierdie jaar het ons al gehoor dat ons hoogste prioriteit moet wees om die Koninkryk te soek. Ons het ook gehoor dat die Koninkryk nie moeilik is om te vind nie want Jesus het met sy koms die Koninkryk naby gebring. Ons het verder gehoor dat dit 'n ewige Koninkryk is wat nou reeds bestaan en dat die burgers van hierdie Koninkryk geseën word.

Maar wat beteken die Koninkryk van God vir ons prakties in ons dag tot dag lewe? Dit is juis hier in die bergrede waarvan ons in Mat. 5 – 7 hoor wat vir ons uitspel wat die praktiese implikasies van die Koninkryk van God in ons daaglikse lewe is. Wat beteken dit vir my wanneer ek 'n weeksoggend opstaan vir werk en werk toe gaan? Wat sê dit vir ons kinders daar in die skool? Wat sê dit vir my wanneer in die winkel besig is om inkopies te doen? Wat sê dit vir ons wanneer ons saam met ons vriende om 'n braaivleisvuur ontspan?

Die Bergpreek verduidelik juis watse praktiese implikasie die Koninkryk van God vir ons dag tot dag lewe het.

Maar voordat ons daarby kom moet ons net eers weer onthou dat ons nie deur ons optrede kan verseker dat ons vir God aanvaarbaar hoef te wees nie. Met ander woorde jy hoef nie vir God te bewys dat jy goed genoeg is om sy kind te wees nie.

Jesus begin sy Berg preek met 'n uitspraak van seën. “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is” en dan voeg Hy die belofte by “want aan hulle behoort die Koninkryk van die Hemele.” Dit is God se genade wat jou sy kind maak.

Hy maak jou 'n burger van sy Koninkryk omdat Hy wil, nie omdat jy iets moet doen of gedoen het om vir Hom te bewys dat jy goed genoeg is om burgerskap te verdien nie. God neem jou net soos jy is, maar omdat Hy jou so lief het, los Hy jou nie net soos jy is nie.

Jy word 'n kind van God omdat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Hy het die dood wat die straf vir die sonde is oorwin en met sy opstanding gee Hy vir jou 'n nuwe lewe. En hier in sy Berg preek verduidelik Hy hoe jy jou nuwe lewe moet leef. Jy weet dat jy 'n kind van God in sy Koninkryk is deurdat jy die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus glo.

Kinders van God moet ligdraers wees in sy Koninkryk. Hulle moet die sout daarvan wees. Kinders van God is ligdraers wat moet stry vir reg en geregtigheid. Net soos wat sout kos preserveer moet God se kinders reg en geregtigheid in sy Koninkryk preserveer.

Net soos 'n lamp wat op 'n lampstaander staan, lig uitstraal wat die hele vertrek verlig moet God se kinders lig uitstraal in sy Koninkryk. Jy straal lig uit wanneer jy die wet van God uitleef.

Daar is egter 'n manier om God se wet uit te leef sonder om lig uit te straal. Jesus sê in Mat. 5 v 20:
Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Skrifgeleerdes en Fariseërs is die mense in die Joodse se samelewing wat die wet die getrouste na gekom het en tog sê Jesus dat dit nie goed genoeg is nie.

Die probleem is dat hulle, hul eie betekenis aan die wet toegeskryf en dit as die norm voorgehou het. Die groot probleem is dat hulle nie God se liefde in ag geneem het met hulle toepassing van die wet nie. Hulle toepassing van die wet was blote vormgodsdiens wat leeg is.

Ons hoor in 2 Tim. 3 v 5:
Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
Dit sê Paulus van mense wat selfsugtig, liefdeloos en onversoenlik is.

As jou navolging van die wet soos die Skrifgeleerdes en die Fariseërs is sonder God se liefde dan is jy soos 'n gloeilamp wat afgeskakel is wat geen lig uitstraal nie.

Dan gaan Jesus voort om te verduidelik met ses praktiese voorbeelde uit die alledaagse lewe wat Hy bedoel. Met elk van die voorbeelde hoor ons Jesus sê: “Maar Ek sê vir julle.......” Hiermee sê Jesus vir ons wat God werklik bedoel met sy wet, want Jesus IS God (1 van die persone van die 3 Eenheid naamlik Vader, Seun en Heilige Gees). God bedoel met sy wet dat jy sy liefde moet uitstraal. Die krag van God se liefde is die lig wat jy moet uitstraal.

In hierdie ses voorbeelde verduidelik Jesus hoe jy God se liefde uitstraal deur die nakoming van die wet. Die eerste voorbeeld handel oor versoening. Waar begin onmin tussen mense? Dit begin in jou denke. Wanneer jy kwade gedagtes teenoor iemand koester plant jy alreeds die saadjie van fisiese doodslag. Nie net moet jy nie iemand fisies doodmaak nie, jy moet ook nie in jou hart 'n wrok teenoor hom koester nie. As daar onmin tussen jou en jou medemens is, moet jy die saak regmaak. Jy moet dit as die hoogste prioriteit stel om vrede te maak. In Mat. 5 v 9 hoor ons:
Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.

In die tweede en derde voorbeeld handel dit oor die diepste verhouding in jou lewe. Die verhouding tussen man en vrou wat hulself in trou aan mekaar verbind het. Weereens lê die wortel van egbreuk in die mense se hart. Dit begin reeds wanneer jy met begeerlike oë kyk na iemand anders as jou huweliksmaat.

Verder behels dit dat jy jou troubelofte baie ernstig moet opneem. Jy kan nie maar net oor enige onbenulligheid van jou huweliksmaat skei nie.

Wanneer God se liefde in jou brand sal jy nie geprikkel word deur iemand anders as jou huweliksmaat nie. Wanneer God se liefde in jou brand sal jy geen rede hê om van jou huweliksmaat te wil skei nie.

Die vierde voorbeeld handel oor jou integriteit. Hoe betroubaar is jou woord? Kan jy vertrou word om te doen wat jy sê jy sal doen. Wanneer God se liefde in jou brand sal jy jou woord nakom. Dan sal jy nie 'n eed benodig om iemand te oortuig dat jy die waarheid praat nie want as jy 'n eed nodig het dan sê jy eintlik daarmee dat wanneer nie 'n eed sweer nie, dat jy nie vertrou kan word nie.

Jou optrede is die getuienis dat jy vertrou kan word. Jou lig skyn in die donker wêreld daar buite wanneer jy doen wat jy gesê het jy sal doen.

Die vyfde voorbeeld gaan oor vergelding. Wat is jou eerste reaksie wanneer iemand teenoor jou iets verkeerd gedoen het? Ek sal jou terugkry. Jy sal betaal! In die Koninkryk van God werk dit egter radikaal anders. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Die geweldspiraal moet verbreek word. Geweld moet met liefde beveg word.

Dis nie 'n maklike opdrag nie, maar dit beteken ook nie dat Christine hulself aan fisieke gevaar of mishandeling moet onderwerp nie. Dit gaan ook nie hier oor die pasifisme oorlogsdebat nie. Dit gaan ook nie daaroor dat ongeregtigheid moet seëvier nie.

Dit gaan oor wetlike verskille. Die wet het vereis dat jy jou bokleed as sekuriteit moes gee en Jesus sê hier dat jy verder moet gaan in jou geregtigheid as bloot net wat die wet vereis. Jy moet ook jou onderkleed gee. Jy moet meer doen as wat van jou verwag word.

Jy laat jou lig skyn wanneer jy gedrag verwerp wat deur weerwraak gemotiveer is. Jy moet eerder positief optree tot voordeel van jou teëstander, eerder as wat jy hom wil benadeel.

Die sesde voorbeeld handel oor liefde vir jou vyand. Wat is jou reaksie teenoor mense wat van nature geneig is om jou te haat of selfs wat jou sal mishandel en vervolg? Jou lig skyn wanneer jy radikaal anders optree deur jou vyand lief te hê. Vir hom om te gee en te werk tot sy voordeel. Maar nog meer as dit. Jy moet vir hulle bid dat God hulle harte sal verander dat hulle bekeer sal word. Wanneer dit gebeur sal daar nie meer vyandskap wees nie.

Kan ons dit volmaak regkry? Nee, geliefdes ons kan nie. Jesus is egter nie besig om ons moedeloos te maak met 'n onbereikbare ideaal nie. Hy is besig om ons uit te daag om te groei in gehoorsaamheid aan God se wil sodat ons al hoe meer soos Hy kan word. Deur die krag van die Heilige Gees en die geloof in Jesus Christus kan ons groei in geloof en gehoorsaamheid.

Is jy 'n kind van God?

Glo jy dat Jesus Christus vir jou sondes gesterf het? As jy dit glo is jy 'n ligdraer in hierdie wêreld. Laat jou lig so voor die mense skyn, dat hulle jou goeie werke kan sien en jou Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking