Wys tans plasings met die etiket bergpredikasie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket bergpredikasie. Wys alle plasings

09 Februarie 2020

Koninkryksburgers moet ligdraers wees

09 Feb. 2020 GKE
Skriflesing:   Mat. 5 v 14 – 48
Teksverse:   Mat. 5 v 14a & 16


Die Koninkryk van God. Dit is 'n ander manier waarmee God vir ons verduidelik wat dit beteken om kerk van die Here te wees. Dit sê vir ons wat dit beteken om 'n Christin te wees en Watter invloed dit op jou lewe het wanneer jy sê dat jy 'n volgeling van Jesus Christus is.

Hiermee sê die Here vir ons dat Hy in beheer is en dat Hy heers oor alles en almal. In die preke hierdie jaar het ons al gehoor dat ons hoogste prioriteit moet wees om die Koninkryk te soek. Ons het ook gehoor dat die Koninkryk nie moeilik is om te vind nie want Jesus het met sy koms die Koninkryk naby gebring. Ons het verder gehoor dat dit 'n ewige Koninkryk is wat nou reeds bestaan en dat die burgers van hierdie Koninkryk geseën word.

Maar wat beteken die Koninkryk van God vir ons prakties in ons dag tot dag lewe? Dit is juis hier in die bergrede waarvan ons in Mat. 5 – 7 hoor wat vir ons uitspel wat die praktiese implikasies van die Koninkryk van God in ons daaglikse lewe is. Wat beteken dit vir my wanneer ek 'n weeksoggend opstaan vir werk en werk toe gaan? Wat sê dit vir ons kinders daar in die skool? Wat sê dit vir my wanneer in die winkel besig is om inkopies te doen? Wat sê dit vir ons wanneer ons saam met ons vriende om 'n braaivleisvuur ontspan?

Die Bergpreek verduidelik juis watse praktiese implikasie die Koninkryk van God vir ons dag tot dag lewe het.

Maar voordat ons daarby kom moet ons net eers weer onthou dat ons nie deur ons optrede kan verseker dat ons vir God aanvaarbaar hoef te wees nie. Met ander woorde jy hoef nie vir God te bewys dat jy goed genoeg is om sy kind te wees nie.

Jesus begin sy Berg preek met 'n uitspraak van seën. “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is” en dan voeg Hy die belofte by “want aan hulle behoort die Koninkryk van die Hemele.” Dit is God se genade wat jou sy kind maak.

Hy maak jou 'n burger van sy Koninkryk omdat Hy wil, nie omdat jy iets moet doen of gedoen het om vir Hom te bewys dat jy goed genoeg is om burgerskap te verdien nie. God neem jou net soos jy is, maar omdat Hy jou so lief het, los Hy jou nie net soos jy is nie.

Jy word 'n kind van God omdat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Hy het die dood wat die straf vir die sonde is oorwin en met sy opstanding gee Hy vir jou 'n nuwe lewe. En hier in sy Berg preek verduidelik Hy hoe jy jou nuwe lewe moet leef. Jy weet dat jy 'n kind van God in sy Koninkryk is deurdat jy die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus glo.

Kinders van God moet ligdraers wees in sy Koninkryk. Hulle moet die sout daarvan wees. Kinders van God is ligdraers wat moet stry vir reg en geregtigheid. Net soos wat sout kos preserveer moet God se kinders reg en geregtigheid in sy Koninkryk preserveer.

Net soos 'n lamp wat op 'n lampstaander staan, lig uitstraal wat die hele vertrek verlig moet God se kinders lig uitstraal in sy Koninkryk. Jy straal lig uit wanneer jy die wet van God uitleef.

Daar is egter 'n manier om God se wet uit te leef sonder om lig uit te straal. Jesus sê in Mat. 5 v 20:
Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Skrifgeleerdes en Fariseërs is die mense in die Joodse se samelewing wat die wet die getrouste na gekom het en tog sê Jesus dat dit nie goed genoeg is nie.

Die probleem is dat hulle, hul eie betekenis aan die wet toegeskryf en dit as die norm voorgehou het. Die groot probleem is dat hulle nie God se liefde in ag geneem het met hulle toepassing van die wet nie. Hulle toepassing van die wet was blote vormgodsdiens wat leeg is.

Ons hoor in 2 Tim. 3 v 5:
Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
Dit sê Paulus van mense wat selfsugtig, liefdeloos en onversoenlik is.

As jou navolging van die wet soos die Skrifgeleerdes en die Fariseërs is sonder God se liefde dan is jy soos 'n gloeilamp wat afgeskakel is wat geen lig uitstraal nie.

Dan gaan Jesus voort om te verduidelik met ses praktiese voorbeelde uit die alledaagse lewe wat Hy bedoel. Met elk van die voorbeelde hoor ons Jesus sê: “Maar Ek sê vir julle.......” Hiermee sê Jesus vir ons wat God werklik bedoel met sy wet, want Jesus IS God (1 van die persone van die 3 Eenheid naamlik Vader, Seun en Heilige Gees). God bedoel met sy wet dat jy sy liefde moet uitstraal. Die krag van God se liefde is die lig wat jy moet uitstraal.

In hierdie ses voorbeelde verduidelik Jesus hoe jy God se liefde uitstraal deur die nakoming van die wet. Die eerste voorbeeld handel oor versoening. Waar begin onmin tussen mense? Dit begin in jou denke. Wanneer jy kwade gedagtes teenoor iemand koester plant jy alreeds die saadjie van fisiese doodslag. Nie net moet jy nie iemand fisies doodmaak nie, jy moet ook nie in jou hart 'n wrok teenoor hom koester nie. As daar onmin tussen jou en jou medemens is, moet jy die saak regmaak. Jy moet dit as die hoogste prioriteit stel om vrede te maak. In Mat. 5 v 9 hoor ons:
Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.

In die tweede en derde voorbeeld handel dit oor die diepste verhouding in jou lewe. Die verhouding tussen man en vrou wat hulself in trou aan mekaar verbind het. Weereens lê die wortel van egbreuk in die mense se hart. Dit begin reeds wanneer jy met begeerlike oë kyk na iemand anders as jou huweliksmaat.

Verder behels dit dat jy jou troubelofte baie ernstig moet opneem. Jy kan nie maar net oor enige onbenulligheid van jou huweliksmaat skei nie.

Wanneer God se liefde in jou brand sal jy nie geprikkel word deur iemand anders as jou huweliksmaat nie. Wanneer God se liefde in jou brand sal jy geen rede hê om van jou huweliksmaat te wil skei nie.

Die vierde voorbeeld handel oor jou integriteit. Hoe betroubaar is jou woord? Kan jy vertrou word om te doen wat jy sê jy sal doen. Wanneer God se liefde in jou brand sal jy jou woord nakom. Dan sal jy nie 'n eed benodig om iemand te oortuig dat jy die waarheid praat nie want as jy 'n eed nodig het dan sê jy eintlik daarmee dat wanneer nie 'n eed sweer nie, dat jy nie vertrou kan word nie.

Jou optrede is die getuienis dat jy vertrou kan word. Jou lig skyn in die donker wêreld daar buite wanneer jy doen wat jy gesê het jy sal doen.

Die vyfde voorbeeld gaan oor vergelding. Wat is jou eerste reaksie wanneer iemand teenoor jou iets verkeerd gedoen het? Ek sal jou terugkry. Jy sal betaal! In die Koninkryk van God werk dit egter radikaal anders. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Die geweldspiraal moet verbreek word. Geweld moet met liefde beveg word.

Dis nie 'n maklike opdrag nie, maar dit beteken ook nie dat Christine hulself aan fisieke gevaar of mishandeling moet onderwerp nie. Dit gaan ook nie hier oor die pasifisme oorlogsdebat nie. Dit gaan ook nie daaroor dat ongeregtigheid moet seëvier nie.

Dit gaan oor wetlike verskille. Die wet het vereis dat jy jou bokleed as sekuriteit moes gee en Jesus sê hier dat jy verder moet gaan in jou geregtigheid as bloot net wat die wet vereis. Jy moet ook jou onderkleed gee. Jy moet meer doen as wat van jou verwag word.

Jy laat jou lig skyn wanneer jy gedrag verwerp wat deur weerwraak gemotiveer is. Jy moet eerder positief optree tot voordeel van jou teëstander, eerder as wat jy hom wil benadeel.

Die sesde voorbeeld handel oor liefde vir jou vyand. Wat is jou reaksie teenoor mense wat van nature geneig is om jou te haat of selfs wat jou sal mishandel en vervolg? Jou lig skyn wanneer jy radikaal anders optree deur jou vyand lief te hê. Vir hom om te gee en te werk tot sy voordeel. Maar nog meer as dit. Jy moet vir hulle bid dat God hulle harte sal verander dat hulle bekeer sal word. Wanneer dit gebeur sal daar nie meer vyandskap wees nie.

Kan ons dit volmaak regkry? Nee, geliefdes ons kan nie. Jesus is egter nie besig om ons moedeloos te maak met 'n onbereikbare ideaal nie. Hy is besig om ons uit te daag om te groei in gehoorsaamheid aan God se wil sodat ons al hoe meer soos Hy kan word. Deur die krag van die Heilige Gees en die geloof in Jesus Christus kan ons groei in geloof en gehoorsaamheid.

Is jy 'n kind van God?

Glo jy dat Jesus Christus vir jou sondes gesterf het? As jy dit glo is jy 'n ligdraer in hierdie wêreld. Laat jou lig so voor die mense skyn, dat hulle jou goeie werke kan sien en jou Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Amen

04 Maart 2014

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is

15 Feb. 2014         Mat 5:1-11 Teksvers Mat 5:3

Lof-Psalm     Sb. 11-3:1 & 3   
Na Wet         Ps. 147-1:1 & 2 
Na Gebed     Sb. 15-1:1 - 4     
Slotsang       Ps. 146-1 : 2 & 3

Inleiding
’n Mens wil nie afhanklik wees nie. Nie van jou medemens nie en veral nie van God nie want dit beteken dat jy jouself aan Hom moet onderwerp, dat jy Hom moet gehoorsaam en vertrou. My trots laat dit nie maklik toe nie! Geliefdes as u nou enigsins dink, gelukkig is ek darem nie so nie. Ek is darem nie so sleg nie dan wys hierdie gedagtes juis vir my dat daar so ’n tikkie hoogmoed by my teenwoordig.

Wat is my reaksie wanneer die ouderling met my praat oor een of ander aspek van my lewe wat nie reg is nie? Voel ek verontwaardig? Is my reaksie “Wie is die kerk om vir my te kom voorsê?” Ek besluit self en niks of niemand gaan my kom voorskryf nie! Is dit nie maar hoogmoed nie? Hoogmoed en vriendskap met die wêreld is boesemvriende. Is ek nog betrokke by wêreldse praktyke soos byvoorbeeld onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid met ander woorde owerspel (dit wil sê om in ’n seksuele verhouding buite die huwelik te wees)? Is daar nog vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap in my lewe teenwoordig?

(Ootmoed) Erken my opstand teen God se gesag in my lewe.
Solank as wat ek sonde in my lewe goedpraat met allerlei verskonings is ek nog in opstand teen God se gesag in my lewe. Dan aanvaar ek nie dat ek van God afhanklik is nie en is hoogmoed nog ’n kenmerk van my lewe.

Die hele Skrif is duidelik dat God hoogmoed verag, en tog is dit deel van ons daaglikse lewe. Dit is ’n sonde waarvan elke mens hom elke dag moet bekeer. Solank as wat ek nog die lewe in hoogmoedige onafhanklikheid benader sal ek nie God se seën in my lewe ervaar nie. Solank as wat ek nog in vriendskap met die wêreldse dinge handhaaf bedroef ek die Heilige Gees. Die Gees eis ons heeltemal vir God alleen op en word bedroef as ons vriende van die wêreld is.

Juis omdat die Gees die mens opeis vir die Here, skenk Hy meer genade, sodat die band met die Here kan groei. Die genade word nie aan die hoogmoediges gegee nie, maar aan die nederiges. Die hoogmoediges is hulle wat hulle teen God se gesag in opstand kom, wat op hulself vertrou en selfs gebed misbruik om hul eie sondige begeertes te bevredig.

As ek God se seën in my lewe wil ervaar is dit nodig dat ek vas oortuig moet wees dat ek met my hoogmoedige onafhanklikheid geen seën of vrede in die lewe kan vind nie.

(Verlossing) Waar vind ek dan seën en ware vrede?
Die nederiges aan die ander kant is hulle wat weet dat hulle alleen van God afhanklik is en voor Hom in ootmoed buig. (Ootmoed beteken om teenoor God te erken dat ek nie vir Hom luister nie en dat ek my eie kop volg.) Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Die Griekse woorde wat met “weet hoe afhanklik” vertaal is, beteken letterlik om arm van gees te wees. Dit dui op ’n totale afhanklikheid van God. Dit beteken nie om agterlik en eenvoudig te wees nie. Arm van gees staan in teenstelling met die wêreldse waardes van eie waan en hoogmoed. Dit is ’n absolute eerlikheid waarin ek erken dat ek voor God met leë hande staan en dat ek niks het om te gee nie. Om te verstaan dat daar niks is wat ek kan doen om te maak dat God my moet liefhê nie.

Dit is om voor God te staan en te erken ek is skuldig. Ek verdien die dood en niks meer nie. Om te weet dat ek geen aanspraak kan maak op goeie gesondheid, ’n goeie werk nie of van God kan eis dat dit met my moet goed gaan nie. Dat ek nie enige reg het om kwaad te word wanneer daar teenspoed oor my pad kom nie. Daar is absoluut niks waarop ek aanspraak kan maak nie. Dat ek maar alleen om genade kan pleit.

Ons kan nie werklik weet hoe afhanklik ons van God is nie as die Heilige Gees dit nie aan ons openbaar nie. In Luk 11:13 hoor ons
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.
Daarom moet ons tot die Here bid sodat die Gees ons kan laat glo dat ons geseën is wanneer ons weet hoe afhanklik ons van God se genade in Jesus Christus is.

Die Here sê vir ons dat wanneer ons by hierdie punt kom, dat ons geseën is. Om geseënd te wees beteken dat God se genade oor ons skyn. Sy genade wat Jesus Christus aan die kruis vir ons verwerf het en dat ons daarom weer in die regte verhouding tot God kan staan. Dit alleen verskaf geluk en vrede selfs te midde van beproewings soos honger en vervolging.

Om te weet hoe afhanklik ons van God is, is om vas en seker te glo dat ons alleen in Christus van ons eie selfsugtige hoogmoed gered kan word.

(Dankbaarheid) Ontvang die ewige lewe
Elkeen wat erken hoe afhanklik hulle van God is, ontvang ’n wonderlike belofte.
(Mat 5:3)
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik  hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Om die ewige lewe te ontvang beteken om in die regte verhouding met God te leef. Elkeen wat in ’n regte verhouding tot God leef is aan God gehoorsaam en aanvaar wat God sê wat reg en verkeerd is en verstaan ook hoekom God sê dat sekere praktyke wat vir die wêreld aanvaarbaar is, verkeerd is. Wanneer ek die koninkryk van God ontvang is daar ’n opregte begeerte by my om werklik los te breek van die sonde wat nog in my lewe teenwoordig is. Ek bid dat die Heilige Gees my daarmee sal help sodat ek in dankbaarheid in ware liefde en eensgesindheid met my naaste kan leef.

Slot
Geliefdes ons vier volgende week die Heilige Nagmaal. Laat ons daarom in hierdie week wat voorlê opnuut met die Heilige Gees se hulp die sondes wat nog in my lewe teenwoordig is, identifiseer sodat ek kan besef hoe afhanklik ek van God is. Kom ons hou vas aan God se belofte van genade in Jesus Christus sodat ons ook deel kan hê aan sy koninkryk waar God se liefde in plaas van die wêreld se haat en selfsug heers. Kom ons hou vas aan die belofte van God wat Hy vanoggend vir ons gegee het:
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik  hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Amen

12 Januarie 2014

Wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld



12 Jan 2014 (GKE) Skriflesing: Mat 5:1 – 6:15 Teksverse Mat 5:13-15
Sing    Lofsang: Ps. 150-1:1 – 3
           Na wet:    Ps. 1-1 v 1  & 2
           Na gebed Ps. 119-2 v 18 & 26
           Slotsang  Ps. 119-1 v 1 & 2
Inleiding
Ons het verlede week gehoor dat ons op die Here moet vertrou sodat ons ’n seën vir die wêreld kan wees. Om ’n seën vir die wêreld te wees moet ons gehoorsaam wees aan Jesus se opdrag om die evangelie/goeie nuus uit te dra.

Vandag fokus ons daarop hoe om prakties die evangelie uit te dra. Met ander woorde hoe moet ons dit doen? Om die evangelie uit te dra behels baie meer as om net vir mense te vertel dat hulle in Jesus Christus moet glo en dat dit hulle lewe sal verander. Ons moenie net vir mense van die evangelie vertel nie, ons moet die evangelie leef. Met ander woorde, mense moet God in ons lewens raaksien en hulle moet die verskil agterkom wat dit veroorsaak of anders gestel: “jou lewe as Christin moet maak dat ongelowiges hul ongeloof in God bevraagteken!”

Die bergrede
In die Bybel verduidelik die Here baie duidelik vir ons hoe ons dit behoort te doen. In die bergrede (Mat. 5-7) veral, vind ons hoe burgers van die Koninkryk van God behoort te leef. Ons kan dit inderdaad die grondwet van die Koninkryk van God noem. Hierdie is egter nie net ’n stel reëls van moet en moenies nie. Jesus wys sy volgelinge hoe ’n mens behoort te lewe—nie net volgens ’n stel reëls nie, maar deur ’n innerlike verandering van lewenshouding.

Dit is ook baie belangrik dat ons moet verstaan dat dit nie hier gaan oor ’n klomp voorwaardes oor hoe om kinders van God te word nie. Die genade van God bepaal wie sy kinders is soos ons ook hoor in Joh. 1:12 & 13:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore
Die Here sê tog baie duidelik vir ons in Rom. 10:9:
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word

Die bergrede wys vir ons prakties hoe kinders hulle innige liefdesverhouding met hul hemelse Vader moet uitleef en hoe dissipels Christus moet navolg. In Mat. 5:3-12 hoor ons die seënuitsprake wat aantoon dat mense deur God geseën word omdat hulle deel het aan sy Koninkryk en daarom kan doen wat reg is.

In Mat 5:13 – 16 gebruik die Here twee beelde om aan ons te verduidelik waarom ons as sy kinders reg moet lewe.
13“Julle is die sout  vir die aarde. Maar as sout verslaan  het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Die eerste beeld wat Hy gebruik is die van sout. Sout word gebruik om smaak aan kos te gee, maar ook om kos te preserveer. Christus se dissipels dit wil sê sy volgelinge besit die kennis, wysheid en lewenswyse om die wêreld te bewaar teen die vernietigende praktyke van die wêreld. Hiermee saam kom ook die waarskuwing teen oneffektiewe dissipelskap. Net soos sout wat nie meer krag het nie, nie meer werk as preserveer- en smaakmiddel nie, word ons ook kragteloos wanneer ons God se leefwyse afwater en aanpas by wêreldse standaarde.

Die tweede beeld wat die Here gebruik is lig. Wanneer mens ’n lig aan skakel is die doel tog sodat dit moet lig verskaf en daarom is dit onsinnig om ’n lig met iets toe te maak wat die lig sal wegsteek. Navolgers van Jesus Christus besit die lig van God se waarheid. Wanneer God se waarheid nie sigbaar is in hul lewenswandel nie, is dit soos om ’n lig onder ’n emmer weg te steek.

Jesus se opdrag aan sy kerk is: “Wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.” Hoe doen mens dit prakties? In die res van die bergrede beskryf Jesus prakties eenvoudig hoe ons dit moet doen. Dit is nie moontlik om by elkeen van die voorskrifte wat hier volg in detail te bespreek nie en daarom gaan ek dit net kortliks noem. In die loop van die jaar gaan ons weer daarna terugkom om in meer diepte daarop in te gaan.
       Mat 5:17 – 20
Die vervulling van die wet
17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle, hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.  20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
In Mat 5:17 – 20 wys die Jesus vir ons daarop dat hierdie nie maar net ’n stel reëls is nie, maar dat dit ’n innerlike lewenshouding is wat ons navolg nie omdat dit van ons verwag word nie, maar omdat ons dit wil doen uit liefde God. As dit ons gesindheid is, dan eer ons God. Dan gaan dit nie oor my en my selfsugtige begeertes nie, maar oor God en sy eer in my lewe.

       Mat 5:21 – 26
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.
25“As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”
In Mat 5:21 – 26 wys Jesus vir ons dat moord reeds in ons gedagtes en gesindheid begin. Wanneer ek kwaad word en nie bereid is om te vergewe nie is ek reeds besig om moord te pleeg.

       Mat 5:27-32
Kuisheid
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.
29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
In Mat 5:27-32 vertel Jesus vir ons dat ’n onkuise lewe reeds begin met die begeertes van ons hart en dat die nagevolge van ’n egskeiding baie hartseer meebring.

       Mat 5:33-37
Die aflê van ’n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’  34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”
In Mat 5:33-37 sê Jesus vir ons dat ons betroubaar moet wees. Dit moenie nodig wees dat ons iemand met eedswering moet oortuig dat ons betroubaar is nie. Ons lewenswyse moet mense daarvan oortuig.

       Mat 5:38-48
Vergelding
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’  39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand
43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?
48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
In Mat 5:38-48 sê Jesus vir ons dat liefde vir jou vyand baie groter waarde as vergelding het.

       Mat 6:1-4
As julle armes help
1 “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
2“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 3Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
In Mat 6:1-4 sê Jesus vir ons dat ons opreg moet wees in ons hulp aan ander mense. As ek met ’n groot gebaar mense help sodat ander kan sien hoe goed ek is, is ek skynheilig. Wanneer ek behoeftige mense help behoort dit op so ’n manier plaas te vind dat niemand behalwe ek en die Here weet wie dit is nie.

       Mat 6:5-13
As julle bid
5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.
7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
9“So moet julle bid:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
11Gee ons vandag
ons daaglikse brood;
12en vergeef ons, ons oortredings
soos ons ook dié vergewe
wat teen ons oortree;
13en laat ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons van die Bose.
Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
In Mat 6:5-13 sê Jesus vir ons hoe ons met God behoort te praat. Hier sien ons dat daar balans moet wees in ons gesprekke met God en dat my gebede nie net moet handel oor dit wat ek van God vra nie, maar dat dit in hoofsaak moet gaan om te vra na God se wil vir my lewe en dat ek nie voorskriftelik moet wees teenoor God nie.

       Mat 6:14-15
14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
In Mat 6:14-15 keer Jesus weer terug na vergifnis toe. Vergifnis is een van die sentrale temas dwarsdeur die Bybel. As ons nie wil vergewe nie, sal ons ook nie God se vergifnis aan ons verstaan nie.

Slot
Dit help nie om net vir mense vertel om in God te glo en dat dit ’n verskil in hul lewens sal maak nie. Mense moet God en die verskil wat dit maak in ons lewens raaksien. Kom ons wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Kom ons leef so dat ongelowiges hul ongeloof in God bevraagteken.

Amen