18 Mei 2025

Geseënd is die armes van gees wat treur

 


Geseënd is die armes van gees wat treur

Skriflesing: Mat. 5 v 1 – 12    Teksverse: Mat. 5 v 3 & 4

In Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely ons dat daar drie dinge is wat ons moet weet om getroos te word met die wete dat ons aan Jesus Christus behoort.

1. Ons moet weet dat ons verlore sondaars is sonder God.

2. Ons moet weet hoe ons verlos kan word deur te glo dat Jesus vir jou sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding.

3. Die derde ding is dat ons moet dankie sê vir ons verlossing.

Met Nagmaal is die fokus op die eerste twee dinge wat ons moet weet. Nagmaal troos ons met die wete dat ons op grond van Jesus se kruisdood verlos word van die vloek van die sonde.

Vandag fokus ons op die derde ding, naamlik, hoe moet ons dankie sê?

Die verkeerde manier om dankie te sê, is om te dink dat ons nou vir God moet wys hoe ʼn goeie lewe ons kan leef. Hoekom is dit verkeerd? Dit is verkeerd wanneer my fokus is op hoe ʼn goeie mens ek is. Veral wanneer ek begin neersien op die “sondaars” hier om my. Ons trap so maklik in daardie slaggat van die belangrikheid van die eie ek.

Die Fariseërs het daarop geroem oor hoe pligsgetrou hulle die wet nagekom het en dit is juis hulle wat Jesus die skerpste gekritiseer het. Die rede daarvoor is dat hulle hartsgesindheid op hulself gerig was. Hulle was hoogmoedig en het hulself beter as ander mense geag.

Dit sê vir ons dat ons dankbaarheidslewe baie meer moet wees as om net nougeset wettiese reëls na te kom. Hoe moet ons dankbaarheidslewe dan lyk?

Hier in die Bergrede (Mat. 5 – 7) hoor ons hoe ons dankie moet sê vir God se genade. Die Bergrede was Jesus se eerste uitvoerige toespraak, of preek. In die Bergrede verduidelik Jesus vir ons wat die Grondwet van die Koninkryk van God is.

Hier hoor ons wat ons Here van ons verwag in ons dankbaarheidslewe. Burgers van die Koninkryk van God is nie hooghartig en dink dat hulle beter is as ander mense nie. Burgers van God se Koninkryk is nie op hulself aangewese nie en weet dat hulle van God afhanklik is. Daarom begin Jesus die Bergrede ook met: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Dit is die uitgangspunt vir jou dankbaarheidslewe –

afhanklikheid van God.

Letterlik staan daar in Mat. 5:3 “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Armes van gees verwys nie hier na mense wat nie so baie verstand het of wat verstandelik vertraag is nie. Dit verwys na mense wat hulle saligheid buite hulself in Christus soek. Mense wat besef dat hulle in alles in die lewe afhanklik van God is. Wanneer jy besef dat jy hulpeloos en bankrot sonder God is, is jy arm van gees.

Om God se seën te ontvang moet jy arm van gees wees. Jy moet weet dat jy in jouself totaal en al fisies en geestelik hulpeloos is. Jy moet besef dat dit net God se genade is wat jou staande hou. Jy moet besef dat daar waar jy ‘goed doen’ dat dit God se liefde is wat in jou werk.

Geseënd is die armes van gees wat treur. Geseënd is die mense wat treur oor hulle ontoereikendheid. Geseënd is die mense wat treur oor hulle skuld, hulle mislukkings, hulle hulpeloosheid, hulle onwaardigheid en hulle leegheid.

Geliefdes, dit is eers wanneer jy arm van gees is, dit wil sê wanneer jy werklik besef hoe afhanklik jy van God is, dat jy vanuit sy genade kan leef.

Die geweldige troos wat die Here vir ons hier gee is dat jy ʼn burger van die Koninkryk van God is, wanneer jy arm van gees is. God seën die wat arm van gees is.

Om te besef hoe afhanklik jy van God is kom nie uit jouself nie. Dit is alleen wanneer jy deur die werking van die Heilige Gees daartoe gedring word dat jy jou afhanklikheid van God erken. Dit is die Heilige Gees wat jou gewillig maak om God se wil te doen. Dus wanneer jy sien dat jy besig is om God se wil te doen, weet dit is die Heilige Gees wat in jou werk.

Dit is eers wanneer jy besef hoe afhanklik jy van God is, dat jy die saligsprekinge wat op verse 3 en 4 volg jou eie kan maak.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Wat beteken dit om sagmoedig te wees? Dit beteken NIE om swak en toegeeflik te wees nie. Dit beteken om alle hoogmoed neer te lê en om jouself gewillig en vreugdevol in die mag van God oor te gee om deur die Heilige Gees gelei te word. Dit wil sê, jy laat jou wil buig en bestuur deur die wil van God.

Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

Om afhanklik van God te wees beteken dat jy honger en dors na wat reg is. Met ander woorde, jy honger en dors na God se wet. Jy wil in liefde met jou naaste en met God saamleef.

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Om in liefde met jou naaste saam te leef beteken om barmhartig te wees. Dit wil sê jy ontferm jou oor jou naaste en jy buig neer na sy ellende toe deur emosionele ondersteuning en ook om met fisiese middele te help. Barmhartigheid is om werklik om te gee en om iemand op te help wat geval het.

Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Om rein van hart te wees beteken dat jy jou begeertes in lyn bring met God se begeertes soos Hy dit vir ons in sy ewige woord openbaar. Om rein van hart te wees beteken om God se teenwoordigheid in jou lewe te begeer.

Die belofte wat hiermee gepaard gaan is dat ons God sal sien. In hierdie lewe kan ons God nie met ons oë sien nie, maar ons kan Hom met ons geloofs-oë sien. Wanneer jy besef hoe afhanklik jy van God is, sien jy sy genade in jou lewe raak. Hiermee saam is ook die belofte dat ons God sal sien na hierdie aardse lewe. Dis die belofte dat ons ewig saam met God sal wees.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Hierdie sewende saligspreking loop hand aan hand met die vorige een want die blom van vrede bloei alleen in die gereinigde hart.

Vrede begin by jouself. Wanneer jy weet hoe afhanklik jy van God is, ervaar jy God se vrede in jou gemoed en dit is hiervandaan waar vrede voortvloei na jou medemens.

In Spreuke 15 v 18 hoor ons:

'n Opvlieënde man sit 'n stryery aan die gang,
maar 'n geduldige mens bring 'n geskil tot bedaring.

Vredemakers sal kinders van God genoem word. Moenie dit misverstaan nie, geliefdes. Dis nie die aksie van vredemaak wat jou ʼn kind van God maak nie. Dis maar alleen jou geloof in Jesus Christus wat jou ʼn kind van God maak. Een van die kenmerke van die kinders van God is dat hulle vredemakers is.

Een ding moet kinders van God egter ook weet. Christene se lewens is radikaal anders en daarom kan hulle teenstand van die wêreld verwag. Die wêreld hou nie van mense wat radikaal anders is as die wêreld se waardesisteem nie.

Christene is van die begin af vervolg vir hul geloof en dit neem net in velheid toe. Vandag word meer Christene vervolg en doodgemaak vir hul geloof as in enige ander tyd in die geskiedenis.

Dink in julle gebede aan ons broers en susters wat ter wille van hul geloof verdruk en doodgemaak word. Staan sterk waar ons geloofwaardes aangeval en belaglik gemaak word. Dit is maar alleen wanneer jy weet hoe afhanklik jy van God is dat jy kan sterk staan in die geloof.

Geliefdes, die Koninkryk van God is nie vir sussies nie. Dit kos moed om hoed in die hand voor God te staan. Dit kos moed om jou eie geregtigheid te bely. Dit kos moed om die juk van die Koninkryk op jou skouers te neem en Jesus te volg.

Geseënd is die armes van gees wat treur.

Amen

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking