1 Joh. 4 v 7 tot 21 Teksverse 1 Joh. 4 v 9 - 10
Sing
Ps. 18-1 v 1
Sb. 9-3 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 19
Sb. 2-4 v 1 & 3
Inleiding
Wat is werklike liefde? Liefde is ʼn abstrakte
begrip en dit is nie maklik om dit te definieer nie. Die woordeboek gee ʼn
definisie maar nog steeds nie ʼn bevredigende verduideliking nie. Om werklik te
weet wat liefde beteken, is dit nodig om na die bron van liefde te gaan.
In 1 Joh. 4 v 8 hoor ons
“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want
God is liefde..”
Om dus werklik te verstaan wat liefde is, is
dit nodig om God te leer ken. Ons kan God op twee maniere leer ken. Eerstens
deur die grootsheid van die natuur is dit duidelik dat daar ʼn God is wat alles
geskep het. Tweedens leer ons God persoonlik ken deur sy Woord. Derhalwe om ʼn
antwoord te kry op ons vraag: “Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?” is dit
nodig dat ons, ons antwoorde in die Bybel soek.
Dwarsdeur die Bybel hoor ons van God en liefde. Vandag staan ons stil by 1 Joh. 4 v 7 tot 21 om ʼn beter begrip te kry van wat liefde is en hoe dit lyk.
Wat is liefde?
In 1 Joh. 4 v 10 hoor
ons wat werklike liefde is:
Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God
het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as
versoening vir ons sondes.
Weereens bevestig die Bybel dat God die Bron
van liefde is, want liefde begin nie by ons nie, dit begin by God.
En dan hoor ons wat liefde is. Ten diepste het liefde te doen met ʼn verhouding. Die verhouding tussen God en die mens en dan die onderlinge verhouding tussen mense. Ons hoor in die vers dat versoening nodig is omdat sonde ons verhouding met God gebreek het. Ten diepste is sonde die mens se rebelsheid wat weier om God se gesag te aanvaar.
In 1 Joh. 4 v 9 hoor ons:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste
Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.
Hier hoor ons dat die gevolg van die mens se
sondige rebelse opstand teenoor God, die dood is. God wys sy liefde deur sy
Seun na die wêreld toe te stuur om die straf van die dood op Hom te neem. Jesus
het die dood wat ons verdien op Homself geneem. Omdat Jesus God is, is Hy
magtiger as die dood. Jesus het die dood oorwin deurdat die Heilige Gees Hom
uit die dood uit opgewek het. Jesus het die dood gevat en in die plek daarvan
lewe gegee.
In 1 Joh. 4:16b hoor ons hoekom God die opoffering gemaak het:
God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God
bly in hom.
Omdat God die mens liefhet, het Hy van sy
kant af die gebreekte verhouding wat die sonde veroorsaak het, reggemaak.
In 1 Joh. 4 v 13 hoor ons dat die Heilige Gees vir ons God se liefde wys en in 1 Joh. 4 v 15 & 16 hoor ons dat ons deur geloof in Jesus deel het in die verhouding wat God uit liefde herstel het.
Dit is wat ware liefde is, God wat van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.
Vandag wys die Here vir ons dmv die sakrament van die Heilige Nagmaal met die tekens van brood en wyn hoe Hy van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.
Hoe lyk ware liefde?
Ons hoor in 1 Joh. 4 v 7, 11 en 21 ons
behoort mekaar lief te hê. Die liefde wat God vir ons gee behoort ook in ons
lewens sigbaar te wees. Maar hoe lyk die liefde wat in ons lewens sigbaar
behoort te wees?
In 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons, liefde is opoffering. Nie net ʼn klein opoffering nie, nee dis ʼn opoffering wat alles vra. Jesus het sy lewe geoffer. Wanneer die Here dus vir ons sê dat ons mekaar behoort lief te hê, sê Hy vir ons dat ons opofferings vir mekaar moet maak. Ons behoort mekaar se belange op die hart te dra en nie toe te laat dat ons selfsug in die omgee vir mekaar se pad staan nie.
In 1 Joh. 4 v 17 & 18 hoor ons dat vrees vir God se straf en oordeel nie deel is van God se liefde nie. God se liefde verseker jou dat jy nie meer hoef bang te wees vir die doodsheid van die sonde nie, want deur sy liefde het God vir jou lewe gegee.
Liefde vra opoffering en werklike liefde beteken dat jy daardie opoffering doen omdat jy van jou kant af dit wil doen en nie omdat jy deur vrees gedwing word nie.
Maar selfs hierin gee God vir ons die liefde wat Hy vra. Ons hoor in 1 Joh. 4 v 19:
Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad
het.
God gee vir jou sy liefde. Vat sy liefde deur geloof, maak dit deel van jou lewe en leef God se liefde deur mekaar lief te hê.
Kom ons sit nou aan by die tafel van die Here om deur die tekens van brood en wyn te sien hoe sy liefde lyk.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking