04 Mei 2025

Psalm 23

Lees ook Joh. 10 v 1-21 hiermee saam.

       Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie Herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

       In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 sê hy wat die gevolge van die Here se sorg is.

       Hierdie Psalm was vir Dawid ’n groot vertroosting. Hoe kan jy die vertroosting van Ps. 23 ook jou eie maak? Hoe kan jy ook met sekerheid sê die Here is my Herder en ek kom niks kort nie?

       Dit is alleen maar moontlik omdat daar ’n persoon was wat alles kortgekom het. Selfs sy enigste aardse besittings naamlik die klere aan sy lyf is onder die soldate uitgeloot.

       Hy het geen rus en vrede geniet in die groen weivelde langs die stille waters nie. Al wat Hy gekry het om sy dors mee te les was ’n klein bietjie bitter asynwater.

       Daar was vir Hom geen beskerming toe Hy deur die vallei van die dood moes gaan nie en in bange Godverlatenheid moes Hy uitroep :
’My God, My God, waarom het U my verlaat?”

  In Joh. 10v10b-11 sê die Here vir ons:

10b Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

       Elkeen wat in Jesus Christus glo kan net soos Dawid ook troos vind in Ps. 23 soos die gelowiges trouens deur al die eeu al gedoen het. Hierdie troos is egter net vir diegene wat glo in Jesus Christus. As jy nie in Jesus Christus glo nie, kan jy geen aanspraak op die troos van Psalm 23 maak nie.

       In vers 1 begin Dawid met ’n persoonlike belydenis. Die Here is my Herder en daarom kom ek niks kort nie. Die enigste manier om hierdie belydenis ook op jou persoonlik van toepassing te maak is om te glo in die verlossingsdaad van Jesus Christus aan die kruis en dat Hy die dood oorwin het.

       Kan jy met volle vertroue en eerlikheid vanoggend saam met Dawid sê: Die Here is ook my Herder?

       As jy dit nie kan doen nie, dan het jy nog nie by die hek van die skaapkraal uitgekom nie. (vgl. Joh. 10v1)

Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower.

Dan is dit nodig dat jy die volle betekenis van

Joh. 10 v 7-9 moet leer ken:

7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.     

In vers 2 beskryf Dawid die absolute rustigheid wat Hy ervaar in die teenwoordigheid van die Here:

Hy laat my neerlê in groen weivelde;

na waters waar rus is, lei Hy my heen.

In die teenwoordigheid van die Here is daar rus en vrede weg van die dolle gejaag van ons daaglikse lewens.

In vers 3 hoor ons hoe die Here aan Dawid nuwe lewe gee:

Hy verkwik my siel;

Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Hierna wys die Here vir Dawid wat die regte pad is sodat hy die nuwe lewe wat die Here vir hom gegee het, ten volle kan geniet.

       Geniet jy ook die rustige teenwoordigheid van die Here in jou lewe? Of is die sorge van die lewe vir jou soos die droë Vrystaatse grasstoppels wat in ’n erge droogte vasgevang is?

       Is jou lewe soos ’n rustelose Oranje rivier wat besig is om vloed af te kom? Verlang jy ook na die vrede en gemoedsrus van groen weivelde en die waters van rus by die Here?

       As jy nog nie by hierdie groen weivelde en stil rustige waters uitgekom het nie, moet jy vir ’n slag weereens luister na Jesus se uitnodiging in Mat. 11v28:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

       In vers 4 sien ons hoe groot Dawid se vertroue in die Here werklik is. Selfs in die aangesig van uiterste lewensgevaar en selfs in die aangesig van die dood, vertrou Dawid die Here tot so ’n mate hy geen onheil vrees nie. Hy het ’n absolute vertroue daarin dat die Here hom teen elke gevaar en selfs teen die dood sal beskerm.

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

       Kan jy ook soos Dawid met sekerheid sê dat geen onheil jou sal tref wanneer jy deur donker dieptes gaan?

       Is jy ook seker van die Here se teenwoordigheid te midde van die skadu’s van die lewe wat oor ons hang?

       Volg jy die leiding van ons Herder wanneer jy in die werklikheid van siekte vaskyk, veral daardie siektes waar daar geen werklike genesing voor is nie?

       Vind jy skuiling by die Here wanneer jou huwelik deur hewige storms geteister word?

       Vind jy vertroosting by die Here wanneer jy met die dood gekonfronteer word?

       Het jy vrede met u eie sterflikheid? Verstaan jy dat jy nie meer vir die dood hoef bang te wees nie? Verstaan jy dat die dood vir die wat glo nie meer `n verskriklike einde is nie, maar dat dit `n heerlike deurgang is na die volgende fase waar jy ewig saam met God sal wees?

Indien jy nog twyfel, moet jy weer by Joh. 10v10b  uitkom:

       Ek (Jesus) het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Dan is dit nodig dat jy presies moet verstaan wat Jak. 1v2 vir jou beteken:

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom

       Dan is dit nodig dat jy verstaan dat die Here nie noodwendig die moeilike tye in die lewe van ons af weghou nie, maar dat Hy ons in alle omstandighede nooit alleen laat nie.

       Jy moet verstaan dat Jesus bange Godverlatenheid ervaar het sodat elkeen wat in Hom glo nooit deur God verlaat sal word nie.

Dan sal jy ook in vertroue die Here kan volg vgl. Joh. 10v40:

Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

In vers 5 sien ons dat Dawid nie alleen net vertrou dat die Here vir hom rus sal gee en hom sal beskerm teen gevaar nie. Hy vertrou ook dat die Here vir hom sal sorg in oorvloed.

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;

U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Beleef jy ook die oorvloed van God se genade in jou lewe?

Verstaan jy hoe groot sy genade vir ons werklik is?

Verstaan jy dat daar niks in hierdie lewe is wat ons kan doen om die Here meer van ons te laat hou nie? Of dat daar ook niks is wat ons kan doen dat Hy minder lief vir ons sal wees nie?

Besef jy dat jy met jou goeie werke niks van God se guns kan verdien nie?

       As jy nog sukkel om uit die oorvloed van God se genade te leef dan is dit nodig dat jy weer eens God se vertroosting van Ef. 2v8-10 jou eie moet maak:

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In vers 6 bely Dawid dat dit in die teenwoordigheid van die Here net goed met hom sal gaan, selfs wanneer hy in gevaar is en dat die Here op grond van sy troue verbondsliefde vir hom sal sorg.

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;

en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is jy seker van jou ewige bestemming of twyfel u soms daaroor?

Indien jy nog twyfel, is dit nodig dat jy weereens seker maak van die vaste sekerheid wat die Here vir ons in sy Woord gee vgl. byvoorbeeld Hand. 16v31:

“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

of Rom. 5 v 9-10 om maar net enkele voorbeelde te noem:

9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 

10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 

As jy aan die soenverdienste van Jesus Christus vashou met die geloof wat God gee, kan jy ook met sekerheid weet dat Open. 21v3 vir jou waar sal wees, nou in hierdie bedeling en ook in die toekomstige bedeling na die wederkoms van ons Here:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

Dan sal jy ook saam met Dawid kan bely:

ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is die HERE jou Herder?

Amen

  

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking