Wys tans plasings met die etiket Die Here is my herder. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die Here is my herder. Wys alle plasings

21 Junie 2020

Die Here is my Herder

Datum: 17 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Begrafinis Magda Gerard – Pongola diens

Skriflesing: Ps. 23; Joh. 10 v 14 - 15

Teksvers: Ps. 23 v 4

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volledige preek op Facebook - Gereformeerde Kerk Empangeni

2) YouTube (preek alleen)


Die Psalms is 'n baie spesiale gedeelte in die Bybel. Dit kan beskryf word as die geestelike asemhaling van die gelowige. Die intrek van die lewendgewende asem van God se Woord en die uitblaas van jou bekommernisse, vrese en nood.

In hierdie bundel in die Bybel vind ons Psalms wat vir jou iets sê van God se liefde en goedheid vir jou. Wanneer jy Hom wil loof en dank sal jy Psalms vind wat verwoord wat in jou hart is en ook wanneer jy moedeloos, ontsteld, bang of onseker is sal jy vind dat hulle saam met jou huil of kla.

Wanneer jy nie meer woorde het om aan jou gevoelens uitdrukking te gee nie, sal jy 'n Psalm vind wat jou gedagtes in woorde stel waarmee jy in gebed na God toe kan gaan.

Psalm 23 gebruik die beeld van God as Herder om die verhouding tussen 'n gelowige en God uit te beeld. Dit is seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel en dwarsdeur die eeue het gelowiges troos en vrede daarin gevind.

Wanneer jy na hierdie Psalm luister, hoor jy as te ware Jesus se stem wanneer Hy sê: “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Wat leer ons van die Here as ons Herder in hierdie Psalm? Hy is 'n Herder wat sy skape versorg en omgee vir hulle. Hy voed en beskerm hulle. Hy werk hard om hul welsyn te verseker. In Joh. 10 Hoor ons dat Jesus die Herder is in Psalm 23 en dat Hy sy lewe vir sy skape aflê.

Wie is sy skape? Elkeen wat glo dat Jesus Christus sy lewe vir hom of haar afgelê het. Elkeen wat glo dat Jesus sy of haar Verlosser en Saligmaker is kan aan die troos wat God in hierdie Psalm gee, vashou. Is die Here jou Herder? Is jy een van sy skape? Glo jy dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is?

Psalm 23 verwoord hoe dit voel wanneer Jesus jou onder sy sorg neem. Die troos in hierdie Psalm is, dat jy nie alleen is nie, veral nie wanneer jy deur donker dieptes moet gaan nie.

Psalm 23 is 'n kort Psalm, net 6 verse lank tog is die inhoud daarvan gevul met soveel rykdom dat dit byna onmoontlik is om dit alles in een preek te verwoord. Ons fokus vandag in hierdie Psalm is vers 4.

Ps. 23 v 4 NAV

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,

want U is by my. In u hande is ek veilig.

Ps. 23 v 4 OAV

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

In vers 3 hoor ons: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.” Hierdie paaie neem sy skape na die rus van groen weivelde en die vrede van stil waters en dit gee vir hulle nuwe krag vir die pad vorentoe.

Maar dan hoor ons ook in vers 4 dat die pad ook deur die vallei van donker dieptes en doodskaduwee gaan. Dit is nie 'n fout dat ons daardeur gaan nie. Dit is deel van die regte paaie waarop ons Here ons lei. Jesus bevestig dit in Joh. 16 v 33 wanneer Hy sê: In die wêreld sal julle dit moeilik hê”

Om by die finale rusplek van groen weivelde en waters waar daar rus is te kom moet ons deur die dal van doodskaduwee gaan. Die troos wat die Here vir ons gee is dat ons nie alleen daardeur gaan nie want Hy is by ons.

Terwyl ons in hierdie wêreld is, is ons in die land van dood wat deur die sondeval en die nagevolge daarvan veroorsaak is. In hierdie lewe is daar hartseer, pyn en lyding.

Die donker vallei van doodskaduwee is egter nie iets waarvoor ons bang hoef te wees, want dit is juis die plek waar jy God se teenwoordigheid in jou lewe die beste ervaar.

Die troos wat die Psalmdigter vir ons verwoord “u stok en u staf dié vertroos my” gee vir jou die versekering dat jy veilig is in die Here se hande. Die skaapwagters van die Bybelse tyd het 'n stewige stok as wapen gehad om roofdiere mee te beveg en sy staf het hy gebruik om die skape op die veilige pad te hou.

Aan die ander kant van hierdie donker vallei is die poort na groen weivelde en waters waar rus is waar ons as eregaste gaan aansit by 'n feesmaal waar die Here ons met hartlikheid gaan oorlaai. Daar waar die goedheid en die liefde van ons Here vir altyd by ons sal wees in sy ewige tuiste.

Open. 21 v 3 en 4 gee vir ons so 'n klein kyktjie van hoe in God se ewige woning dit sal wees:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Dit is net die Here wat jou kan vergesel op hierdie pad na die deurgang van die ewige heerlikheid saam met God. Jesus het belowe dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat wanneer Hy na die hemel opgevaar het nie. Hy het die Heilige Gees in sy plek as Trooster gestuur om ons te lei op die pad.

Op die uiteinde is dit God Drie-Enig wat jou vergesel op hierdie pad deur die donker vallei van doodskaduwee. God die Vader het sy Seun gestuur as offer aan die kruis om versoening vir ons sondes te doen.

Die Heilige Gees gee vir jou geloof om vas te hou aan die soenoffer van Jesus Christus. Jy moet dit in geloof aanvaar. Glo jy in Jesus Christus? As jy glo, kan jy vir seker weet dat God saam met jou is en jou nie alleen sal laat nie.

As die Ewige Lewende God wat die hemel en die aarde geskep het saam met jou die pad stap, vir wie of wat sal jy bang wees? Jesus het belowe dat daar nie 'n haar van jou hoof af sal val as God dit nie gewil het nie. Daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

Die Here gee vandag vir ons wat nog op pad is deur die donker vallei van doodskaduwee as troos deur hierdie Psalm. Niemand weet hoe ver die pad nog is nie, maar ons weet vir seker dat ons nie alleen is op hierdie pad nie.

Geliefdes moenie bang wees vir die pad wat voorlê nie. Daar gaan tye wees waar dit moeilik gaan wees. Daar gaan dae wees wanneer dit gaan voel of jy nie kans sien om aan te gaan nie.

Jesus het ons gewaarsku dat hierdie lewe moeilik is, maar Hy gee ook die troos dat Hy hierdie wêreld klaar oorwin het. Jy is nie alleen wanneer jy deur die donker dieptes gaan nie.

Wanneer jy deur donker dieptes gaan, soek rus by die Here sodat Hy vir jou nuwe krag vir die pad vorentoe kan gee. Weet dat jy nie alleen sal wees nie. 

Die Here is jou Herder.

Amen


17 Desember 2017

Die HERE is my Herder.

Ps. 23 (OAV) en Joh. 10v1-21 (NAV) Teksverse Ps. 23 (hele Psalm)
17 Des. 2017

Inleiding

Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie Herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 meld hy wat die gevolg van die Here se sorg is.

Hierdie Psalm was vir Dawid ’n groot vertroosting. Hoe kan ek die vertroosting van Ps. 23 ook my eie maak? Hoe kan ek ook met sekerheid sê die Here is my Herder en ek kom niks kort nie? Dit is alleen maar moontlik omdat daar ’n persoon was wat alles kortgekom het. Selfs sy enigste aardse besittings naamlik die klere aan sy lyf is onder die soldate uitgeloot. Hy het geen rus en vrede geniet in die groen weivelde langs die stille waters nie. Al wat Hy gekry het om sy dors mee te les was ’n klein bietjie bitter asynwater. Daar was vir Hom geen beskerming toe Hy deur die vallei van die dood moes gaan nie en in bange Godverlatenheid moes Hy uitroep :’My God, My God, waarom het U my verlaat?”

In Joh. 10v10b-11 sê die Here vir ons:
10b Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
Elkeen wat in Jesus Christus glo kan net soos Dawid ook troos vind in Ps. 23 soos die gelowiges trouens deur al die eeu al gedoen het. Dit is egter net vir diegene wat glo in Jesus Christus. Sonder geloof in Jesus Christus kan daar geen aanspraak op die troos van Psalm 23 gemaak word nie.

In vers 1 begin Dawid met ’n persoonlike belydenis. Die Here is my Herder en daarom kom ek niks kort nie. Die enigste manier om hierdie belydenis ook op my persoonlik van toepassing te maak is om te glo in die verlossingsdaad van Jesus Christus aan die kruis en dat Hy die dood oorwin het. Kan u met volle vertroue en eerlikheid vanoggend saam met Dawid sê: Die Here is ook my Herder? As u dit nie kan doen nie, dan het u dalk nog nie by die hek van die skaapkraal uitgekom nie. (vgl. Joh. 10v1)
Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower.
Dan is dit nodig dat u die volle betekenis van Joh. 10v7-9 besef:
7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

In vers 2 beskryf Dawid die absolute rustigheid wat Hy ervaar in die teenwoordigheid van die Here:
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
  na waters waar rus is, lei Hy my heen.
In die teenwoordigheid van die Here is daar rus en vrede weg van die dolle gejaag van ons daaglikse lewens. In vers 3 hoor ons hoe die Here aan Dawid nuwe lewe gee:
Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Hierna wys die Here vir Dawid wat die regte pad is sodat hy die nuwe lewe wat die Here vir hom gegee het, ten volle kan geniet.

Geniet u ook die rustige teenwoordigheid van die Here in u lewe, geliefdes? Of is die sorge van die lewe vir u soos die droë Vrystaatse grasstoppels wat in ’n erge droogte vasgevang is? Is u lewe soos ’n rustelose rivier wat besig is om vloed af te kom? Verlang u ook na die vrede en gemoedsrus van groen weivelde en die waters van rus by die Here? As u nog nie by hierdie groen weivelde en stil rustige waters uitgekom het nie, moet vir ’n slag weereens luister na Jesus se uitnodiging in Mat. 11v28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

In vers 4 sien ons hoe groot Dawid se vertroue in die Here werklik is. Selfs in die aangesig van uiterste lewensgevaar en selfs in die aangesig van die dood, vertrou Dawid die Here tot so ’n mate hy geen onheil vrees nie. Hy het ’n absolute vertroue daarin dat die Here hom teen elke gevaar en selfs teen die dood sal beskerm.
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Geliefdes, kan u ook soos Dawid met sekerheid sê dat geen onheil u sal tref wanneer u deur donker dieptes gaan? Is u ook seker van die Here se teenwoordigheid te midde van die skadu’s van die lewe wat oor ons hang? Volg u die leiding van ons Herder wanneer u in die werklikheid van siekte vaskyk, veral daardie siektes waar daar geen werklike genesing voor is nie? Vind u skuiling by die Here wanneer u huwelik deur hewige storms geteister word? Vind u vertroosting by die Here wanneer u met die dood gekonfronteer word? Het u vrede met u eie sterflikheid?

Indien nie, moet weer uitkom by Joh. 10v10b
Ek (Jesus) het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Dan is dit nodig dat u weer verstaan wat Jak. 1v2 vir u beteken:
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom
Dan is dit nodig dat u verstaan dat die Here nie noodwendig die moeilike tye in die lewe van ons af weghou nie, maar dat Hy ons in alle omstandighede nooit alleen laat nie. Ons moet verstaan dat Jesus bange Godverlatenheid ervaar het sodat ons wat in Hom glo nooit deur God verlaat sal word nie. Dan sal ons ook in vertroue die Here volg (vgl. Joh. 10v40:
Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

In vers 5 sien ons dat Dawid nie alleen net vertrou dat die Here vir hom rus sal gee en hom sal beskerm teen gevaar nie. Hy vertrou ook dat die Here vir hom sal sorg in oorvloed.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;
U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Beleef u ook die oorvloed van God se genade in u lewe? Verstaan u hoe groot sy genade vir ons werklik is? Verstaan u dat daar niks in hierdie lewe is wat ons kan doen om die Here meer van ons te laat hou nie? Of dat ook niks wat ons kan doen dat Hy minder lief vir ons sal wees nie? Besef u dat u met u goeie werke niks van God se guns kan verdien nie? As u nog sukkel om uit die oorvloed van God se genade te leef dan is dit nodig dat u weer eens God se vertroosting van Ef. 2v8-10 u eie maak:
8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In vers 6 bely Dawid dat dit in die teenwoordigheid van die Here net goed met hom sal gaan, selfs wanneer hy in gevaar is en dat die Here op grond van sy troue verbondsliefde vir hom sal sorg.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;
en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Geliefdes, is u seker van u ewige bestemming of twyfel u soms daaroor? As dit wel so is geliefdes dan is dit nodig dat u weereens seker maak van die vaste sekerheid wat die Here vir ons in sy Woord gee (vgl. byvoorbeeld Hand. 16v31):
“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
of Rom. 5v9-10 om maar net enkele voorbeelde te noem:
9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 
10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 

Geliefdes as ons aan die soenverdienste van Jesus Christus vashou met die geloof wat God gee, kan ons ook met sekerheid weet dat Open. 21v3 vir ons waar sal wees, nou in hierdie bedeling en ook in die toekomstige bedeling na die wederkoms van ons Here:
Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.
Dan sal ons ook saam met Dawid kan bely:
ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Slot
Die HERE is my Herder.
Is dit ook u persoonlike belydenis en anker in die lewe?
Amen