
Psalm 23 (OAV) Lukas 21:17-19
Hier in Lukas 21 v 17 – 19 ontmoet ons Jesus waar Hy besig was om sy volgelinge by die tempel met gelykenisse te leer. Onder andere het Hy hulle ook vertel van wat in die toekoms gaan gebeur. In Lukas 21 wat ook as die profetiese rede bekendstaan vertel Hy hulle in vers 17 van vervolging wat op Christene wag: “En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word.”En dit is inderdaad wat gebeur het en wat
tans nog besig is om te gebeur. Kort na Jesus se Hemelvaart moes Christene uit
Jerusalem vlug vir hul lewens en tans staan meer Christene onder vervolging as
enige tyd in die geskiedenis.
Jesus voeg egter die troos by: “maar daar
sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie.” Jesus beklemtoon God
se sorg en beskerming vir gelowiges, selfs te midde van lyding en verdrukking.
In Luk. 21 v 16 Waarsku Jesus dat party
doodgemaak sal word en hier in Luk. 21 v 18 gee Hy die versekering dat self
wanneer jy sterf, dat niemand jou van die ewige lewe kan beroof nie.
Daarom moet ons volhard in geloof soos ons
ook hoor in Luk. 21 v 19: “Deur julle volharding moet julle
julleself red.” Bly glo in God se sorg en beskerming.
Hou in geloof vas aan die belofte dat “geen
dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde
van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here,” soos
ons hoor in Rom. 8:38 & 39.
In Psalm 23 vind ons ook hierdie belofte van
God se sorg en beskerming. In Psalm 23 v 1 hoor ons: “Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie.” Hier gebruik die Here die beeld van ’n herder wat
vir sy skape sorg en hulle beskerm om God se sorg en beskerming vir ons te
verduidelik.
Dan hoor ons in Psalm 23: 2 & 3
Hy laat my rus in
groen weivelde.
Hy bring my by waters
waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die
regte paaie tot die eer van sy Naam.
Sien in julle gedagtes hierdie prentjie wat
die Here vir ons skets. Die herder saam met sy skape in ’n pragtige groen
weiveld met bome en skaduwee langs ’n stil meer waar die skape kan drink. Daar
waar hulle veilig is in die sorg van hul herder. Sien u die kalmte en rus raak
in hierdie prentjie? In God se teenwoordigheid is daar rus vir jou siel.
Die lewe kan egter ook onstuimig wees soos
Jesus vir sy dissipels gesê het daar in Luk. 21 v 18 en hier in Psalm 23 v 4
kry ons ook die versekering van God se sorg wanneer die lewe moeilik en
onstuimig word.
Selfs wanneer ons deur donker dieptes gaan is
die Here by ons en is ons veilig in sy hande. Die geweldige troos wat die Here
vir ons hier gee is dat sy sorg verder strek as net hierdie lewe.
Al gaan ek ook in 'n
dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en
u staf dié vertroos my.
Selfs die dood kan ons nie van die liefde van
Christus skei nie.
Jesus gebruik ook die beeld van ’n herder wat
vir sy skape sorg om te verduidelik hoe lief Hy ons het.
Ons hoor in Joh. 10 v 14 & 15:
Ek is die goeie
herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek
die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.
Jesus het vir ons aan ’n vervloekte kruishout
gesterf om die verskrikking van die dood van ons af weg te neem.
In 1 Kor. 15 v 54 & 55 hoor ons:
En wanneer hierdie
verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike
liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:
“Die dood is
vernietig, die oorwinning is behaal.”
“Dood, waar is jou
oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
Die dood is nie die einde nie! Die angel van
die dood is die sonde wat skeiding bring tussen ons en God. En dit is wat Jesus
vir ons kom doen het. Hy het sy lewe vir ons afgelê sodat die angel van die
dood ons nie meer kan seermaak nie.
Hy het ons sondes op Hom geneem en die prys
daarvoor betaal met sy dood en met sy opstanding het Hy die mag van die dood
gebreek.
Daarom hoef ons nie bang te wees vir die dood
nie en kan ons saam met Paulus triomfantlik uitroep: “Dood, waar is jou
oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
Vir elkeen wat in Jesus Christus glo is die
dood nie die einde nie. Die dood is die begin van ’n nuwe bedeling in ons lewens
waar ons ewig saam met God sal wees waar daar geen dood, hartseer, pyn of
leiding meer sal wees nie.
Elkeen wat bely dat Jesus die Here is, en met
jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, kan verseker wees van die
ewige lewe. Die ewige lewe begin egter nie eers daar waar ons deur die dal van
doodskaduwee gaan nie.
Die ewige lewe begin nou. Elkeen wat in Jesus
Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker glo kan nou reeds verseker wees
dat God saam met jou sal wees. Ons kry nou reeds ’n voorsmakie van ons ewige
heerlikheid saam met God.
Jesus het na sy Hemelvaart vir ons die
Heilige Gees gestuur om ewig saam met ons te wees, elke oomblik van elke dag.
Jy is nie alleen nie.
Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om
vas te hou aan God se troos dat Hy vir ons rus vir ons siele gee. Die geloof om
vas te hou aan die troos dat daar waar ons deur donker dieptes gaan, dat God by
ons is en dat ons geen onheil hoef te vrees nie.
Wanneer ons by ’n oop graf van ’n geliefde
staan gee die Here vir ons die troos van die ewige lewe in al sy volmaaktheid. Ons
is hartseer want ons geliefde se plekkie is nou leeg in ons lewens en daarom
treur ons. Ons moet treur, maar daar is ’n verskil. Ons treur nie, soos die
ander mense wat geen hoop het nie, want God gee vir ons ’n lewende hoop van die
ewige lewe.
Dit is met hartseer dat ons vandag hier
afskeid neem van tannie Martie, maar ons doen dit ook met die troos dat selfs
die dood ons nie van die liefde van Christus kan skei nie.
Amen