Wys tans plasings met die etiket skape. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket skape. Wys alle plasings

13 Maart 2026

U is by my


 

Skrif: Psalm 23 ; Joh. 10:14-15; Open. 21:3-4

 Die tema van verlede week se preek uit Psalm 22 was: “Waar was God toe dit gebeur het?” Dis ’n vraag wat nogal dikwels by mens by mens opkom wanneer jy in die skerpkant van die lewe se seer vasloop.

En terwyl ek besig was om daardie preek te maak het ek ook gedink aan waar was God toe tannie Hester alleen daar in die hospitaal moes sterf? Die slotsom van die preek uit Psalm 22 was troos, geliefdes. Die antwoord op die vraag: “Waar was God toe dit gebeur het?” is, Hy WAS DAAR! Tannie Hester was nie alleen nie.

En dit is die troos wat Psalm 23 ook vandag vir ons bring, geliefdes. Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuis saam met God.

Psalm 23 maak gebruik van twee verskillende beelde. In vers 1 tot 4 hoor ons van die beeld van ’n herder wat sy skape oppas en vir hulle sorg en dan hoor ons in verse 5 & 6 van die beeld van ’n gasheer wat sy gas onthaal en tuis laat voel en dat die gas op die uiteinde ’n permanente inwoner word.

En dit beskryf vir ons die pad wat die Here saam met ons loop. Terwyl ons hier op aarde is, loop ons die pad saam met ons Herder wat ons lei. Hy sorg vir ons en ons kom niks kort nie. Alles wat ons het, ons kos, ons klere, ons blyplek, ons talente en vaardighede het ons net omdat die Here dit vir ons gegee het.

Hy laat ons rus in groen weivelde. Hy bring ons by waters waar daar vrede is. Wanneer ons terugkyk oor ons lewens en kyk na die mooi en goeie tye en al die vreugde wat ons in die lewe ervaar het, dan moet ons weet dat dit alleen daar was omdat die Here dit vir ons gegee het.

En die pad wat die Here vir ons uitlê is die regte pad want Hy lei ons deur sy Gees op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Verder gee Hy ook vir ons die krag daarvoor, want die lewe is nie net altyd maklik en mooi nie.

Selfs wanneer ons deur donker dieptes gaan is Hy steeds by ons en Hy beskerm ons sodat ons ten spyte van die gevare steeds veilig bly. En geliefdes, wanneer ons terugkyk na die swaar tye van ons lewens, dan kan ons maar net bely, dis die Here se genade wat ons daardeur gedra het.

En geliefdes wanneer ons so na die beeld van ’n herder kyk wat sy skape versorg en oppas en na wyding toe bring waar hulle ook by stille waters kan rus in sy teenwoordigheid en waar hy hulle veilig deur die gevare bring wanneer die pad nou en donker raak daar in die diep klowe, dan sien ons die Here se sorg vir ons raak waar ons in hierdie lewe die pad saam met Hom gestap het.

Maar geliefdes, daar kom ’n tyd in elkeen van ons lewens waar ons op die tyd wat die Here bepaal het deur die donker vallei van die dood moet loop. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 net nog meer intenser word.

Daar waar die Nuwe Testament by Psalm 23 aansluit hoor ons in Joh. 10:14-15

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

Wie is die Herder wat ons deur die donker vallei van die dood heen lei? Dis Jesus geliefdes en die geweldige troos wat ons hier vind is dat ons Hom kan vertrou om ons veilig daardeur te lei want Hy het op ’n keer alleen daardeur gegaan. Daar waar Hy aan die kruis gehang het, het Hy die woorde van Psalm 22 aangehaal toe Hy in bange God verlatenheid uitgeroep het:

My God, my God, waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

Hy was heeltemal alleen. Daar was niemand wat saam met hom deur die donker vallei van die dood gegaan het nie. Hy het die volle verskrikking van die dood, die algehele Godverlatenheid, alleen trotseer ter wille van elkeen van ons en Hy het dit oorwin! Die dood kon Hom nie vashou nie! Hy het opgestaan en daarmee gee Hy vir ons die waarborg dat elkeen wat in Hom glo NOOIT deur God verlaat sal word nie.

Geliefdes, dis die geweldige troos wat ons het. Die dood hou vir gelowiges geen verskrikking in nie. Wanneer ons deur daardie donker vallei van die dood moet gaan is ons nie alleen nie. Ons Herder loop voor ons met sy stok, d.w.s sy knuppel om ons te beskerm en Hy loop agter ons met sy staf om ons te lei op die pad.

Let op die fyn detail van Psalm 23. In verse 1 tot 3 vertel Dawid vir ons van die Here. Hy vertel hoe die Here sy Herder is en hoe die Here vir hom sorg. Maar hier in vers 4 waar hy in die noute van benoudheid is, praat hy nie meer van die Here nie. Hy praat persoonlik met die Here: “U is met my!”

Hy praat met die Here self en hy sê vir die Here: “ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” Wat sê dit vir ons geliefdes? God is naby. Hy is nie ver nie! Daar waar dit saak maak is jy nie alleen nie. Dit is daar waar God jou dra. Wanneer die donkerste oomblik kom, praat die gelowige nie meer oor God nie, dan praat jy met God.

En geliefdes as dit vandag vir jou voel dat jy nie kan sê “U is met my!”, luister na wat Jesus vir jou sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Kom na Jesus toe en ervaar die troos en liefde wat net God vir jou gee.

Die troos van Psalm 23 bereik ’n hoogtepunt in verse 5 & 6. Want hier sien ons waarheen die Herder wat die verskrikking van dood gebreek het ons lei. Die donker vallei van die dood is nie die einde nie want ons gaan saam met die Herder deur dit huis toe na ons ewige tuiste saam met God.

Hoor wat sê Dawid hier vir ons:

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

In die tyd van die Bybel was gasvryheid baie belangrik. Wanneer iemand ’n gas ontvang het, was daar sekere tekens van eer en beskerming:

     olie op die kop

     ’n maaltyd

     die gasheer wat die beker volhou

Die gasheer het letterlik die wynbeker van die gas dopgehou en wanneer die beker begin leeg raak, het hy dit weer vol gemaak en dit het vir die gas gesê: “Jy is welkom om nog te bly.”

Nou word Psalm 23 se beeld baie sterk:

“My beker loop oor.” Dit beteken nie net oorvloed nie. Dit beteken ook: Die gasheer wil nie hê die gas moet weggaan nie.

En dit is juis hiermee waarmee Psalm 23 afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Hierdie troos en versekering sluit so mooi aan by Openbaring 21:3-4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Wanneer ons as gelowiges afskeid neem van ’n geliefde dan is ons hartseer want haar plek is nou leeg. Daar is as te ware ’n gat in jou siel wat voorheen nie daar was nie, maar ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons weet dat elkeen wat in Jesus Christus glo verseker daarvan kan wees dat nadat ons deur die donker vallei van die dood saam met ons Herder gestap het, dat ons vir ewig saam met God in ons hemelse tuiste gaan woon waar ons verlos is van die trane en verdriet van hierdie lewe.

Amen

01 Augustus 2025

Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie



 

Psalm 23 (OAV) Lukas 21:17-19

Hier in Lukas 21 v 17 – 19 ontmoet ons Jesus waar Hy besig was om sy volgelinge by die tempel met gelykenisse te leer. Onder andere het Hy hulle ook vertel van wat in die toekoms gaan gebeur. In Lukas 21 wat ook as die profetiese rede bekendstaan vertel Hy hulle in vers 17 van vervolging wat op Christene wag: “En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word.”

En dit is inderdaad wat gebeur het en wat tans nog besig is om te gebeur. Kort na Jesus se Hemelvaart moes Christene uit Jerusalem vlug vir hul lewens en tans staan meer Christene onder vervolging as enige tyd in die geskiedenis.

Jesus voeg egter die troos by: “maar daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie.” Jesus beklemtoon God se sorg en beskerming vir gelowiges, selfs te midde van lyding en verdrukking.

In Luk. 21 v 16 Waarsku Jesus dat party doodgemaak sal word en hier in Luk. 21 v 18 gee Hy die versekering dat self wanneer jy sterf, dat niemand jou van die ewige lewe kan beroof nie.

Daarom moet ons volhard in geloof soos ons ook hoor in Luk. 21 v 19: “Deur julle volharding moet julle julleself red.” Bly glo in God se sorg en beskerming.

Hou in geloof vas aan die belofte dat “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here,” soos ons hoor in Rom. 8:38 & 39.

In Psalm 23 vind ons ook hierdie belofte van God se sorg en beskerming. In Psalm 23 v 1 hoor ons: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” Hier gebruik die Here die beeld van ’n herder wat vir sy skape sorg en hulle beskerm om God se sorg en beskerming vir ons te verduidelik.

Dan hoor ons in Psalm 23: 2 & 3

Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Sien in julle gedagtes hierdie prentjie wat die Here vir ons skets. Die herder saam met sy skape in ’n pragtige groen weiveld met bome en skaduwee langs ’n stil meer waar die skape kan drink. Daar waar hulle veilig is in die sorg van hul herder. Sien u die kalmte en rus raak in hierdie prentjie? In God se teenwoordigheid is daar rus vir jou siel.

Die lewe kan egter ook onstuimig wees soos Jesus vir sy dissipels gesê het daar in Luk. 21 v 18 en hier in Psalm 23 v 4 kry ons ook die versekering van God se sorg wanneer die lewe moeilik en onstuimig word.

Selfs wanneer ons deur donker dieptes gaan is die Here by ons en is ons veilig in sy hande. Die geweldige troos wat die Here vir ons hier gee is dat sy sorg verder strek as net hierdie lewe.

Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie.

Jesus gebruik ook die beeld van ’n herder wat vir sy skape sorg om te verduidelik hoe lief Hy ons het.

Ons hoor in Joh. 10 v 14 & 15:

Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

Jesus het vir ons aan ’n vervloekte kruishout gesterf om die verskrikking van die dood van ons af weg te neem.

In 1 Kor. 15 v 54 & 55 hoor ons:

En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die dood is nie die einde nie! Die angel van die dood is die sonde wat skeiding bring tussen ons en God. En dit is wat Jesus vir ons kom doen het. Hy het sy lewe vir ons afgelê sodat die angel van die dood ons nie meer kan seermaak nie.

Hy het ons sondes op Hom geneem en die prys daarvoor betaal met sy dood en met sy opstanding het Hy die mag van die dood gebreek.

Daarom hoef ons nie bang te wees vir die dood nie en kan ons saam met Paulus triomfantlik uitroep: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Vir elkeen wat in Jesus Christus glo is die dood nie die einde nie. Die dood is die begin van ’n nuwe bedeling in ons lewens waar ons ewig saam met God sal wees waar daar geen dood, hartseer, pyn of leiding meer sal wees nie.

Elkeen wat bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, kan verseker wees van die ewige lewe. Die ewige lewe begin egter nie eers daar waar ons deur die dal van doodskaduwee gaan nie.

Die ewige lewe begin nou. Elkeen wat in Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker glo kan nou reeds verseker wees dat God saam met jou sal wees. Ons kry nou reeds ’n voorsmakie van ons ewige heerlikheid saam met God.

Jesus het na sy Hemelvaart vir ons die Heilige Gees gestuur om ewig saam met ons te wees, elke oomblik van elke dag. Jy is nie alleen nie.

Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te hou aan God se troos dat Hy vir ons rus vir ons siele gee. Die geloof om vas te hou aan die troos dat daar waar ons deur donker dieptes gaan, dat God by ons is en dat ons geen onheil hoef te vrees nie.

Wanneer ons by ’n oop graf van ’n geliefde staan gee die Here vir ons die troos van die ewige lewe in al sy volmaaktheid. Ons is hartseer want ons geliefde se plekkie is nou leeg in ons lewens en daarom treur ons. Ons moet treur, maar daar is ’n verskil. Ons treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie, want God gee vir ons ’n lewende hoop van die ewige lewe.

Dit is met hartseer dat ons vandag hier afskeid neem van tannie Martie, maar ons doen dit ook met die troos dat selfs die dood ons nie van die liefde van Christus kan skei nie.

Amen


18 Julie 2013

Jesus is die enigste ware deur tot God

7 Apr. 2013 Joh. 10:1-21; Teksverse – Joh. 10:7 & 9

Lof-Psalm Ps. 100 v 1 & 4      (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 2                   (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (OAB)
Slotsang Ps. 23 v1                  (OAB)

Inleiding
Kan ons God sonder Jesus leer ken? Jesus gebruik hier in Joh. 10 die beeld van ’n skaapboerdery om hierdie vraag te beantwoord. God as Herder en sy volk as skape is ’n beeld wat baie in die Bybel gebruik word. Dink maar aan die geliefde Ps. 23. Die beeld van ’n herder en sy skape is ook die beeld wat Jesus gebruik om die groot verskil tussen Hom en die Joodse leiers te verduidelik. Hiermee verduidelik Jesus waarom dit noodsaaklik is dat ons in Hom moet glo. Verse een tot vyf is ’n storie wat Jesus vertel sodat die ons die beeld skaapboerdery sal verstaan wat Hy hier gebruik. Vanaf vers sewe pas Hy die beeld dan op Homself toe om aan ons te verduidelik dat Hy uniek is en dat daar geen ander alternatief is om weer met God versoen te word nie.

In Joh. 10:1 & 2 word twee groepe mense teenoor mekaar gestel, naamlik die rowers wat nie by die hek ingaan nie teenoor die herder wat wel daar ingaan. Die ingang tot die skaapkraal is die plek waar besluit word of iemand eg is of nie. In Joh. 10:3 vertel Jesus van die verhouding tussen die herder en sy skape is. Die skape luister net na die herder se stem en sal nie ’n vreemde volg nie. In Joh. 10:4&5 word ons vertel van die vertroue wat die skape in die herder het en die noue band wat daar tussen hulle is. In die hierdie teksgedeelte hoor ons dat Jesus die ingang en die Herder vir sy skape is. Vandag fokus ons op die ingang gedeelte waar Jesus met nog ’n “Ek is” uitspraak verduidelik wie en wat Hy werklik is. Met die volgende diens gaan ons op die Herder fokus.

Agtergrond
Om die beeld wat Jesus hier gebruik te verstaan moet ek net eers kortliks verduidelik hoe die skaapboerdery in die Bybelse tyd gewerk het. Elke trop skape het ’n spesifieke herder gehad wat hulle opgepas het. Bedags het die herder hulle na die weiveld geneem en snags het hy hulle weer terug gebring na die veiligheid van die skaapkraal. Hierdie krale het gewoonlik klipmure gehad wat hoog genoeg was sodat die skape nie oor dit kon klim nie.

Daar was net een opening wat dan as ingang tot die skaapkraal gedien het. Verder het hy ook gewoonlik doringtakke bo-op die mure gepak om die ongediertes uit te hou. Daar was dus net een manier om by die kraal in te kom, naamlik deur die opening wat as deur gedien het. In die nag het die herder dan ook binne daardie ingang geslaap. Die skape kon dus nie uitgaan sonder dat die herder dit geweet het nie en geen ongewenste persone of ongediertes kon sonder sy medewete inkom nie.

Wanneer Jesus dus sê “Ek is die ingang vir die skape” verduidelik Hy dat Hy die enigste ingang na die ewige lewe en God is. Hy is die Herder wat ingang daartoe bewaak en niemand kon sonder Hom inkom nie. In hierdie konteks het die beeld van ’n deur of ingang dan ook ’n baie spesifieke betekenis.

’n Deur bring skeiding.
In die eerste plek skei ’n deur die wat binne is af van die wat buite is. Diegene wat binne is lyk anders as hulle wat buite is. Uitverkore kinders van God leef anders as hulle wat God nie ken nie. Die wêreld se manier van doen en die wêreld se waardes lyk anders as die gelowiges se waardes en manier van doen. Gelowiges word baie maal verkleineer omdat hulle anders as die wêreld lewe. Dit moet ons weet dat ons nie gewild sal wees onder die wêreld nie en dat ons ook nie enigsins moet poog om deur die wêreld aanvaar te word nie. Wie werklik binne in Jesus se skaapkraal is moet verwag dat die wêreld hulle sal spot en verkleineer net soos Jesus ook bespot en verkleineer is.

’n Deur beteken ’n besluit om nie die waarheid vir die leuen te veruil nie
Ons leef vandag in ’n wêreld waar die leuen as waarheid voorgehou word en waarheid as leuen. Daar word verkondig dat elkeen sy eie waarheid het. Wat waar is vir een is nie noodwendig waar vir ’n ander nie. In wese kom dit daarop neer dat daar geen waarheid is nie! Hiermee word dan verkondig dat elkeen deur sy eie geloof by God uitkom. Die Christen deur sy geloof in Christus, die Hindoe deur sy geloof, die Moslem deur sy geloof in Mohammed, selfs al is al hierdie gelowe verskillend van mekaar. Jesus ontbloot die onwaarheid hiervan wanneer Hy in Joh. 10:9 sê:
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

Die onsinnigheid van die post modernistiese siening word duidelik wanneer mens logies daaroor nadink. As daar gesê word dat daar geen waarheid is nie, hoe kan ons weet of die stelling dat daar geen waarheid is nie waar is? In ons dag tot dag lewe leef ons ook nie so nie. As ek iemand R100 skuld kan ek mos nie R10 betaal deur te redeneer dat vir my is ’n Rand eintlik R10 werd en daarom kan ek met R10 my skuld van R100 afbetaal nie!

Die waarheid is dat daar net een deur is na die ewige lewe saam met God, naamlik Jesus Christus. ’n Geloof wat nie Jesus Christus as die middelpunt het nie kan mens nie by God uitbring nie.

’n Deur beteken verlossing.
Jesus Christus beteken vir ons dat ons gered word en dit beteken dat ons lewe en daarom sê Jesus vir ons:
as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry
Ons gaan by die deur in wanneer ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het en dat Hy met sy opstanding aan ons die ewige lewe gee. Verlossing beteken dat al ons sondes vergewe is en dat ons daarom kinders van God is. Verlossing gee aan ons die sekerheid dat ons gered is. Ons hoef nie daaroor te twyfel nie. As ek in Jesus Christus glo kan ek verseker weet dat ek verlos is.

Verlossing beteken dat ons vry is. Vryheid beteken nie dat ons maar kan voortgaan om te sondig nie. Dis nie vryheid nie, want dan is ons nog slawe van die sonde! Vryheid beteken dat ons die voorreg het om Jesus Christus te volg en die lewe te leef tot Gods eer wat Hy van die begin af vir ons beplan het. Dan word ons deur waarheid beheer en deur liefde aangespoor. Dan is ons los van die negatiwiteit van ons sondige lewe. Dan het ons hoop en nie meer die wanhoop van ’n troostelose bestaan waar alles tot niks kom nie.

Verlossing beteken geluk en vrede selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit beteken dat wanneer die storms van die lewe om my begin woed dat ek by God gaan skuiling soek met die wete dat Hy my deur dit sal dra.

Slot
Jesus is die deur wat vir ons toegang tot God en die ewige lewe gee. As ons deur die deur gegaan het is daar skeiding tussen ons en die wêreldse manier van doen. Ons voel anders en tree anders op. Jesus Christus as deur beteken vir ons die waarheid dat ons slegs deur sy soenverdienste met God versoen kan word. Jesus Christus as deur beteken dat ons waarlik lewe vanuit sy genade. Moenie deur ’n ander deur tot God probeer nader nie want Jesus Christus is die enigste ware deur tot God.

Amen