13 Maart 2026

U is by my


 

Skrif: Psalm 23 ; Joh. 10:14-15; Open. 21:3-4

 Die tema van verlede week se preek uit Psalm 22 was: “Waar was God toe dit gebeur het?” Dis ’n vraag wat nogal dikwels by mens by mens opkom wanneer jy in die skerpkant van die lewe se seer vasloop.

En terwyl ek besig was om daardie preek te maak het ek ook gedink aan waar was God toe tannie Hester alleen daar in die hospitaal moes sterf? Die slotsom van die preek uit Psalm 22 was troos, geliefdes. Die antwoord op die vraag: “Waar was God toe dit gebeur het?” is, Hy WAS DAAR! Tannie Hester was nie alleen nie.

En dit is die troos wat Psalm 23 ook vandag vir ons bring, geliefdes. Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuis saam met God.

Psalm 23 maak gebruik van twee verskillende beelde. In vers 1 tot 4 hoor ons van die beeld van ’n herder wat sy skape oppas en vir hulle sorg en dan hoor ons in verse 5 & 6 van die beeld van ’n gasheer wat sy gas onthaal en tuis laat voel en dat die gas op die uiteinde ’n permanente inwoner word.

En dit beskryf vir ons die pad wat die Here saam met ons loop. Terwyl ons hier op aarde is, loop ons die pad saam met ons Herder wat ons lei. Hy sorg vir ons en ons kom niks kort nie. Alles wat ons het, ons kos, ons klere, ons blyplek, ons talente en vaardighede het ons net omdat die Here dit vir ons gegee het.

Hy laat ons rus in groen weivelde. Hy bring ons by waters waar daar vrede is. Wanneer ons terugkyk oor ons lewens en kyk na die mooi en goeie tye en al die vreugde wat ons in die lewe ervaar het, dan moet ons weet dat dit alleen daar was omdat die Here dit vir ons gegee het.

En die pad wat die Here vir ons uitlê is die regte pad want Hy lei ons deur sy Gees op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Verder gee Hy ook vir ons die krag daarvoor, want die lewe is nie net altyd maklik en mooi nie.

Selfs wanneer ons deur donker dieptes gaan is Hy steeds by ons en Hy beskerm ons sodat ons ten spyte van die gevare steeds veilig bly. En geliefdes, wanneer ons terugkyk na die swaar tye van ons lewens, dan kan ons maar net bely, dis die Here se genade wat ons daardeur gedra het.

En geliefdes wanneer ons so na die beeld van ’n herder kyk wat sy skape versorg en oppas en na wyding toe bring waar hulle ook by stille waters kan rus in sy teenwoordigheid en waar hy hulle veilig deur die gevare bring wanneer die pad nou en donker raak daar in die diep klowe, dan sien ons die Here se sorg vir ons raak waar ons in hierdie lewe die pad saam met Hom gestap het.

Maar geliefdes, daar kom ’n tyd in elkeen van ons lewens waar ons op die tyd wat die Here bepaal het deur die donker vallei van die dood moet loop. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 net nog meer intenser word.

Daar waar die Nuwe Testament by Psalm 23 aansluit hoor ons in Joh. 10:14-15

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

Wie is die Herder wat ons deur die donker vallei van die dood heen lei? Dis Jesus geliefdes en die geweldige troos wat ons hier vind is dat ons Hom kan vertrou om ons veilig daardeur te lei want Hy het op ’n keer alleen daardeur gegaan. Daar waar Hy aan die kruis gehang het, het Hy die woorde van Psalm 22 aangehaal toe Hy in bange God verlatenheid uitgeroep het:

My God, my God, waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

Hy was heeltemal alleen. Daar was niemand wat saam met hom deur die donker vallei van die dood gegaan het nie. Hy het die volle verskrikking van die dood, die algehele Godverlatenheid, alleen trotseer ter wille van elkeen van ons en Hy het dit oorwin! Die dood kon Hom nie vashou nie! Hy het opgestaan en daarmee gee Hy vir ons die waarborg dat elkeen wat in Hom glo NOOIT deur God verlaat sal word nie.

Geliefdes, dis die geweldige troos wat ons het. Die dood hou vir gelowiges geen verskrikking in nie. Wanneer ons deur daardie donker vallei van die dood moet gaan is ons nie alleen nie. Ons Herder loop voor ons met sy stok, d.w.s sy knuppel om ons te beskerm en Hy loop agter ons met sy staf om ons te lei op die pad.

Let op die fyn detail van Psalm 23. In verse 1 tot 3 vertel Dawid vir ons van die Here. Hy vertel hoe die Here sy Herder is en hoe die Here vir hom sorg. Maar hier in vers 4 waar hy in die noute van benoudheid is, praat hy nie meer van die Here nie. Hy praat persoonlik met die Here: “U is met my!”

Hy praat met die Here self en hy sê vir die Here: “ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” Wat sê dit vir ons geliefdes? God is naby. Hy is nie ver nie! Daar waar dit saak maak is jy nie alleen nie. Dit is daar waar God jou dra. Wanneer die donkerste oomblik kom, praat die gelowige nie meer oor God nie, dan praat jy met God.

En geliefdes as dit vandag vir jou voel dat jy nie kan sê “U is met my!”, luister na wat Jesus vir jou sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Kom na Jesus toe en ervaar die troos en liefde wat net God vir jou gee.

Die troos van Psalm 23 bereik ’n hoogtepunt in verse 5 & 6. Want hier sien ons waarheen die Herder wat die verskrikking van dood gebreek het ons lei. Die donker vallei van die dood is nie die einde nie want ons gaan saam met die Herder deur dit huis toe na ons ewige tuiste saam met God.

Hoor wat sê Dawid hier vir ons:

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

In die tyd van die Bybel was gasvryheid baie belangrik. Wanneer iemand ’n gas ontvang het, was daar sekere tekens van eer en beskerming:

     olie op die kop

     ’n maaltyd

     die gasheer wat die beker volhou

Die gasheer het letterlik die wynbeker van die gas dopgehou en wanneer die beker begin leeg raak, het hy dit weer vol gemaak en dit het vir die gas gesê: “Jy is welkom om nog te bly.”

Nou word Psalm 23 se beeld baie sterk:

“My beker loop oor.” Dit beteken nie net oorvloed nie. Dit beteken ook: Die gasheer wil nie hê die gas moet weggaan nie.

En dit is juis hiermee waarmee Psalm 23 afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Hierdie troos en versekering sluit so mooi aan by Openbaring 21:3-4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Wanneer ons as gelowiges afskeid neem van ’n geliefde dan is ons hartseer want haar plek is nou leeg. Daar is as te ware ’n gat in jou siel wat voorheen nie daar was nie, maar ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons weet dat elkeen wat in Jesus Christus glo verseker daarvan kan wees dat nadat ons deur die donker vallei van die dood saam met ons Herder gestap het, dat ons vir ewig saam met God in ons hemelse tuiste gaan woon waar ons verlos is van die trane en verdriet van hierdie lewe.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking