lees Fil. 4:4-7 Teksvers Fil. 4:6 Psalm 100 en Hab. 3:17-19
Die lewe verloop nie altyd soos ons graag sou
wou hê dit moet gebeur nie. Dinge gebeur wat ons anders sou wou gehad het. Die
een oomblik is alles nog reg en goed en binne ’n oogwink gebeur daar ’n ongeluk
wat ernstige gevolge het. Of daardie pynlike boodskap wanneer die dokter vir
jou sê “jammer die diagnose is kanker.”
Die magteloosheid om te sien hoe jou geliefde
deur siekte afgetakel word en die frustrasie omdat jy dit nie kan keer nie. Die
bodemlose put van smart wat jou versmoor wanneer jy ’n kind of geliefde aan die
dood afstaan. Geliefdes, ons het elkeen ons beproewings waarmee ons worstel. U
weet wat dit is. Ons hoef nie elke voorbeeld op te noem nie.
In Rom. 8:20 beskryf Paulus vir ons dat die
skepping aan die verydeling of nietigheid onderworpe is, met ander woorde daardie
pynlike frustrasie van 'n wêreld wat gebroke is as gevolg van die sondeval.
Hoe hanteer ons dit geliefdes? Wat maak jy
wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het?
Paulus self het ook maar ’n swaar pad geloop.
In 2 Kor. 11:23-28 vertel hy hoe hy in gevangenisse opgesluit is, meer as een
maal. Hy is verskeie kere met stokke geslaan en een maal selfs gestenig en vir
dood agter gelaat. Hy het drie maal skipbreuk gely en hy moes die gevare van
riviere, rowers, volksgenote, heidene, honger, dors en koue verduur.
Na ’n lewe vol swaarkry en gevaar was Paulus nou
in die tronk toe hy hierdie brief aan die Filippense geskryf het. Hy het gewag
om te hoor wat sy vonnis sou wees en die moontlikheid van doodstraf was ’n swaar
werklikheid.
Watse raad gee Paulus wat al deur baie
swaarkry in die lewe moes gaan hier uit die tronk aan gelowiges wat in moeilike
omstandighede verkeer?
In Fil. 4:4 hoor ons:
'Wees altyd bly in
die Here! Ek herhaal: Wees bly! '
Geliefdes, hierdie is net maar net oppervlakkige
raad om te maak of jou moeilike omstandighede nie bestaan nie. Wat hy hier sê is:
“maak die keuse om jouself in die Here te anker, ongeag wat jou omstandighede
is en doen dit deurlopend, want die Here is die bron van ons vreugde.”
En dan verduidelik hy hoekom hy so sê soos
ons hoor in Fil. 4:5-6:
Die Here is naby
Met ander woorde, ons hoef nie besorg te wees
nie want die Here se teenwoordigheid is ’n feit.
Moet oor niks besorg
wees nie
Wanneer jy jou bekommer dan laat jy toe dat
angs jou gedagtes uitmekaar trek tussen die hede en jou verwagting van ’n vreesagtige
toekoms. Moenie toelaat dat jou gedagtes deur hierdie verdeeldheid verslind
word nie.
Geliefdes, dis alles goed en wel om te sê dat
ons, ons nie moet bekommer nie, maar hoe kry mens reg?
Die geheim is:
maak in alles julle
begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
Met gebed fokus ons op aanbidding en eerbied
aan God en met smeking lê ons, ons nood voor die voete van die Here neer. Praat
met die Here. Verduidelik hoe jy voel en wat jou omstandighede aan jou doen.
Stort jou hart teenoor die Here uit. Maar let op die volgorde: Begin by wie God
is en beweeg dan na jou behoefte toe.
Paulus voeg egter ’n baie belangrike
komponent by wat ons nie moet vergeet nie. Doen dit met danksegging. Wat bedoel
hy hiermee geliefdes?
Wanneer Paulus sê “verbly julle in die Here”
dan sê hy: “sien God se genade raak en wees dankbaar daaroor.”
As ons bietjie verder in die Bybel kyk na wat
die Here vir ons oor dankbaarheid sê kan ons na Psalm 100 kyk. Psalm 100 se
inleiding stel dit as ’n dank Psalm bekend. Daarin leer ons dat ons
dankbaarheid in God geanker is. Hy het ons gemaak en daarom behoort ons aan
Hom. Daarom kan ons Hom loof want die Hy is goed, aan sy liefde is daar geen
einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.
Die wese van dankbaarheid begin by wie God is
en wat ons verhouding met Hom is. God is ons Vader. Ons behoort aan Hom omdat
Jesus met sy bloed vir ons betaal het.
Dankbaarheid word in geloof geanker. Daardeur
interpreteer ons, ons omstandighede deur God se karakter. Dankbaarheid kyk na
God se belofte dat Hy ons nooit alleen sal laat nie en dit is geanker in ons
geloof dat Jesus aan die kruis deur God verlaat is sodat ons nooit weer deur
God verlaat sal word nie.
Moenie misverstaan nie geliefdes. Danksegging
beteken NIE dat ons dankbaar is oor slegte omstandighede in ons lewens
nie. Dankbaarheid is om raak te sien dat ek nie alleen staan binne my
omstandighede nie. Met dankbaarheid draai jy jou fokus van jou omstandighede af
weg sodat jy op God kan fokus deur raak te sien: God is hier, Hy het my nie
verlaat nie.
Psalm 42 gee vir ons ook perspektief hierop.
In Ps. 42:6 sing die Psalmdigter:
Waarom is ek so in
vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n
loflied sing. Hy is my helper en my God!
Dink maar aan die lied in Hab. 3:17-19
Al sou die vyeboom
nie bot nie
en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes
misluk
en die lande geen oes
lewer nie,
al sou daar geen
kleinvee
in die kampe meer
wees nie
en die beeskrale
sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die
Here jubel,
sal ek juig in God,
my Redder.
Die Here my God gee
vir my krag.
Hy maak my voete soos
dié van 'n ribbok,
op hoë plekke laat Hy
my veilig loop.
Geliefdes, wanneer jy jou fokus van jou
omstandighede wegdraai en op God begin fokus gebeur daar ’n wonderwerk! Paulus
praat uit ondervinding wanneer hy in Fil. 4:7 sê:
En die vrede van God
wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in
Christus Jesus.
Paulus verstaan dit nie en dit is so. Dit maak
nie sin nie. Hoe kan mens vrede en gemoedsrus ervaar wanneer jou lewe
onderstebo staan?
Geliefdes, God is groter as wat ons kan
verstaan en daarom , vertrou God. Wanneer jy jou fokus van jou omstandighede
wegdraai en op God jou Vader in Jesus Christus fokus sal jy vrede in jou gemoed
ervaar.
Dan kan jy sê: “ek verstaan nie, maar God
weet.” Om God te prys en dank midde in onmoontlike omstandighede is nie
ontkenning van jou pyn nie. Dit is die geloofsdaad wat jou dra omdat jy in
geloof vashou aan die enigste anker wat vir jou vastigheid en gemoedsrus kan
gee binne die storm waarin jy is.
Geliefdes, wanneer jy in die skerpkant van
die lewe se swaarkry vasloop, vind vrede midde in die storm deur gebed en
danksegging en beleef die vrede en gemoedsrus wat net God kan gee.
Vind vrede en gemoedsrus
binne swaarkry deur die Here te loof en prys met danksegging.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking