21 Maart 2026

’n lewe van oorvloed saam met God

Psalm 23

1 'n PSALM van Dawid.

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4 Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige saam met God loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo, is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuiste saam met God.

Psalm 23 begin met ’n belydenis: “Die Here is my Herder.” Wanneer ons hierdie belydenis saam met Joh. 10:14 & 15 lees dan sien ons hoe spesiaal dit is:

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Deur jou geloof in Jesus Christus begin jou lewe van oorvloed saam met God. Jou geloof in Jesus Christus gee vir jou die versekering dat jy nie meer alleen is nie.

In Psalm 23:2 en 3 hoor ons so ietsie van wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te stap.

Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Letterlik staan daar dat die Herder sy skape bring na ’n plek waar die weiding sag en voedsaam is. Op jou lewenspad saam met God, sorg Hy vir jou met wat die heel beste is vir jou. Verder bring Hy jou na ’n plek wat tot rus lei. Hy “verkwik jou siel” met ander woorde dit gaan oor baie meer as net rus van moegheid. Hy herstel die lewenskrag van jou siel en gemoedsrus.

Alles wat jy het, kos klere, blyplek jou vaardighede en gawes kom alles uit die hand van God. Dit wat jy het, het jy omdat God dit vir jou gegee het. En nog meer. Al die mooi en vreugde in jou lewe kom net van God af en wanneer ons terugkyk na ons lewens en ons sien die goed en mooi en voorspoed wat daar was, dan kan ons weet dit was daar omdat God dit vir ons gegee het.

En dan sien ons ook dat die pad wat ons lewens verloop het, is die “regte” pad wat God vir ons uitgelê het. Ons lewens verloop nie altyd soos wat ons beplan en dink nie, maar wanneer ons terug kyk dan sien ons dat die pad wat God vir ons uitgelê het, tog maar die beste was.

Die lewe is egter nie altyd net maklik en mooi nie. In Ps. 23:4 kry ons die wonderlike troos dat selfs daar waar die lewe donker word, dit juis daar is waar die Here ons vashou en beskerm.

Ons sien in die verskillende vertalings dat die vers effens anders vertaal word. Byvoorbeeld in die 20/20 vertaling is die vertaling: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan” teenoor die OAV 33/53 Vertaling, wat vertaal word met: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee”. Albei vertalings is reg en dit dui op die nuanse van die oorspronklike Hebreeuse teks.

Aan die een kant is die betekenis dat dit dui op donkerste, gevaarlikste deel van die pad waardeur die skape moet gaan om by weiding uit te kom. Die stok wat die herder met hom saamgedra het, was ’n stewige knuppel waarmee hy die skape teen roof en ongediertes beskerm het wat hulle bedreig het en sy staf was daar stok met sy krom punt waarmee die herder gelei en die pad aangedui het. As ’n skaap bietjie afgedwaal het, het die herder hom met daardie krom punt terug gelei op die regte pad weg van gevaar af.

Dit skep vir ons ’n mooi beeld hoe die Here saam met ons deur die donker dieptes van die lewe gaan en dat ons nooit alleen is daarin nie. Die verdere troos is die versekering dat Hy ons beskerm en lei wanneer die lewe swaar raak.

Wat ook so mooi is van Psalm 23, is hoe Dawid hier waar die lewe moeilik raak baie meer persoonlik raak. Tot hiertoe het gepraat van God en hoe God hom deur sy lewe gelei en beskerm het. Maar hier waar die lewe donker raak praat hy nie meer van God nie. Hy praat nou persoonlik met God waar hy sy vertroue teenoor God uitspreek “ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my”

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap, is die troos dat God intiem naby is, veral daar waar die pad op sy swaarste en donkerste is. Dit is waar Hy jou dra wanneer jy nie meer kan nie. En wanneer ons terug kyk dan sal elkeen van ons kan getuig hoe die Here jou gedra het daar waar die lewe donker was.

Die Hebreeuse teks in Ps. 23:4 dra ook die nuanse van die diepste donker van die dood en daarom is die 33/53 Vertaling daarvan dan ook “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie”.

Daar is een ding wat seker is in hierdie lewe en dit is dat elkeen op God se bepaalde tyd liggaamlik sterf. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 so duidelik na vore kom.

In Joh. 10:15b hoor ons Jesus sê: “en Ek lê my lewe af vir die skape.” Ter wille van ons het Jesus alleen deur die donker vallei van die dood gegaan. Hy het niemand gehad wat Hom beskerm en vertroos het nie. Hy het dit ter wille van ons gedoen op grond van God se onbeskryflike liefde vir ons. Hy het in ons plek die Godverlatenheid deurgaan wat ons sonde verdien het.

Die geweldige troos is dat Hy die mag van die dood gebreek het met sy opstanding en dit is ons waarborg dat elkeen wat in Jesus Christus glo nie alleen deur die donker vallei van die dood gaan nie. Dit gee vir ons die waarborg dat die dood nie meer die verskrikking van Godverlatenheid vir ons inhou nie.

Ps. 23:5 & 6 gee dan ook vir ons so kykie wat anderkant die dood vir ons wag. Hier verander die beeld van ’n herder wat sy skape versorg en beskerm na ’n gasheer wat sy gas in oorvloed onthaal.

In die antieke Nabye Ooste was gasvryheid 'n heilige plig. As God jou as gas aanvaar, is jy onder Sy beskerming. Om te eet "in die teenwoordigheid van vyande" beteken dat die vyande gedwing word om toe te kyk hoe God jou eer en beskerm; hulle kan niks doen nie omdat die Gasheer te magtig is.

Olie is by feeste gebruik om die droë vel te verfris en as simbool van verheffing en vreugde en dit dui daarop dat die Here sy gas met waardigheid en koninklike guns beklee. Die beker wat oorloop simboliseer dat God se genade nie bereken of suinig is nie, maar oorvloedig meer as wat nodig is.

Wanneer ’n gasheer ’n gas onthaal het, het die gasheer letterlik sy gas se beker dopgehou om seker te maak dat hy dit kon volhou en dit het vir die gas gesê dat hy welkom is. Hier hoor ons dat die beker nie volgehou word nie. Dit word tot oorlopens tóé volgehou en dit sê vir ons dat die gas nie net welkom is nie. Die Gasheer sê vir ons dat Hy nie wil hê dat ons moet weggaan nie. Ons moet permanent by Hom bly en dit is waarmee Ps. 23:6 dan ook afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Dit sluit dan ook perfek aan by die groot troos van Open. 21:3&4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hoor u die geweldige troos hier geliefdes? Die dood wat eens as opperheerser geheers het oor die lewens van mense is nou finaal oorwin en dit het nie meer ’n houvas op gelowiges nie.

Luister ook na die verdere troos wat ons hoor in Open. 21:22

'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.

Die huis wat vir ons wag anderkant die donker vallei van die dood is nie ’n gebou nie, maar die onbeskryflike heerlike teenwoordigheid van God saam met wie ons, ons lewenspad gestap het en dit is die troos wat die Here gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Wanneer ons by die oop graf van ’n geliefde staan, is ons hartseer want haar plek in ons lewens is nou leeg, maar ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. Ons het ’n lewende hoop van God wat ons lewenspad saam met ons stap deur die goeie en donker tye in ons lewens en ook dat Hy ons dra deur die donker vallei van die dood na ’n ewige heerlikheid saam met God, daar waar daar geen trane hartseer, pyn, lyding of dood meer sal wees nie.

Amen





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking